Wet op outeursreg 98 van 1978

Vanaf Wikisource
Gaan na navigasie Gaan na soektog
Wet op outeursreg 98 van 1978
Inligting, inhoudsopgawe en woordomskrywing
Hoofstuk 1




WET OP OUTEURSREG 98 VAN 1978


(GOEDGEKEUR OP 20 JUNIE 1978) (DATUM VAN INWERKINGTREDING: 1 JANUARIE 1979)
(Tensy anders vermeld)


(Afrikaanse teks deur die Staatspresident geteken)


soos gewysig by


Wysigingswet op Outeursreg 56 van 1980
Wysigingswet op Outeursreg 66 van 1983
Wysigingswet op Outeursreg 52 van 1984
Wysigingswet op Outeursreg 39 van 1986
Wysigingswet op Outeursreg 13 van 1988
Wysigingswet op Outeursreg 61 van 1989
Wysigingswet op Outeursreg 125 van 1992
Wysigingswet op Intellektuele Goederewette 38 van 1997

Wysigingswet op Outeursreg 9 van 2002


WET


Om outeursreg te reël en om vir bykomstige aangeleenthede voorsiening te maak.


INDELING VAN ARTIKELS


Artikels


1 Woordomskrywing


HOOFSTUK 1


2-22 Outeursreg in oorspronklike werke


HOOFSTUK 2


23-28 Skendings van outeursreg en regsmiddels


HOOFSTUK 3


29-36 Outeursregshof


HOOFSTUK 4


37-38 Uitbreiding of beperking van toepassing van Wet


HOOFSTUK 5


39-47 Gemengde bepalings


Bylae


1 Woordomskrywing


(1) In hierdie Wet, tensy uit die samehang anders blyk, beteken-


"aanwending", met betrekking tot-


(a) 'n letterkundige werk, ook-


(i) in die geval van 'n nie-dramatiese werk, 'n verwerking van die werk waarin dit tot 'n dramatiese werk omgeskep word;


(ii) in die geval van 'n dramatiese werk, 'n verwerking van die werk waarin dit tot 'n nie-dramatiese werk omgeskep word;


(iii) 'n vertaling van die werk; of


(iv) 'n verwerking van die werk waarin die verhaal of handelinge geheel en al of hoofsaaklik deur middel van prente in 'n vorm geskik vir reproduksie in 'n boek of in 'n nuusblad, tydskrif of dergelike blad weergegee word;


(b) 'n musiekwerk, ook 'n bewerking of oorskrywing van die werk, indien so 'n bewerking of oorskrywing van 'n oorspronklike skeppingsaard is;


(c) 'n artistieke werk, ook die omskepping van die werk op so 'n wyse dat die oorspronklike of wesenlike kenmerke daarvan herkenbaar bly;


(d) 'n rekenaarprogram, ook-


(i) 'n verwerking van die program in 'n programmeertaal, -kode of -notasie wat verskil van dié van die program; of


(ii) 'n vaslegging van die program in of op 'n middel wat verskil van die middel van vaslegging van die program;


[Par. (d) bygevoeg by a. 1 (a) van Wet 125 van 1992.]


"afgeleide sein" 'n sein verkry deur die tegniese hoedanighede van die uitgesende sein te verander, hetsy daar een of meer tussenkomende vasleggings was of nie;


"arbitrasie" arbitrasie ooreenkomstig die bepalings van die Wet op Arbitrasie, 1965 (Wet 42 van 1965);


"artistieke werk", ongeag die kunsgehalte daarvan-


(a) skilderye, beeldhouwerk, tekeninge, gravures en foto's;


(b) boukundige werke wat òf geboue òf modelle van geboue is; of


(c) handwerke wat nie onder paragraaf (a) of (b) val nie;


[Par. (c) vervang by a. 1 (a) van Wet 66 van 1983 en by a. 1 (b) van Wet 125 van 1992.]


"beeldhouwerk" ook 'n afgietsel of model wat vir beeldhoudoeleindes gemaak is;


"bevoegde persoon" 'n bevoegde persoon volgens die bedoeling van artikel 3 (1);


"dramatiese werk" ook 'n choreografiese werk of vermaaklikheid in die vorm van gebarespel, indien dit in die stoflike vorm daargestel is waarin die werk of vermaaklikheid voorgestel staan te word, maar nie ook 'n rolprent in teenstelling met 'n draaiboek of teks vir 'n rolprent nie;


"foto" enige produk van fotografie of van 'n proses gelyksoortig aan fotografie, maar nie ook 'n deel van 'n rolprent nie;


"gebou" ook 'n bouwerk;


"gepubliseerde uitgawe" die eerste druk deur watter proses ook al van 'n besondere tipografiese ordening van 'n letterkundige werk of musiekwerk;


[Omskrywing van "gepubliseerde uitgawe" ingevoeg by a. 1 (a) van Wet 52 van 1984.]


"geregtelike verrigtinge" verrigtinge voor 'n geregshof, tribunaal of persoon wat regtens bevoeg is om getuienis onder eed aan te hoor, te ontvang en te ondersoek;


"gravure" ook enige etswerk, litografie, houtsneewerk, afdruk of dergelike werk, maar nie ook 'n foto nie;


"heruitsending" die gelyktydige of latere uitsending deur 'n uitsender van die uitsending van 'n ander uitsender;


[Omskrywing van "heruitsending" vervang by a. 50 (a) van Wet 38 van 1997.]


"hierdie Wet" ook die regulasies;


"insamelingsvereniging" 'n insamelingsvereniging kragtens hierdie Wet ingestel;


[Omskrywing van "insamelingsvereniging" ingevoeg by a. 1 (a) van Wet 9 van 2002.]


"klankopname" enige vaslegging of berging van klanke, of data of seine wat klanke verteenwoordig, wat gereproduseer kan word, maar nie ook 'n klankbaan verbonde aan 'n rolprent nie;


[Omskrywing van "klankopname" vervang by a. 1 (c) van Wet 125 van 1992 en by a. 50 (b) van Wet 38 van 1997.]


"kopie" 'n reproduksie van 'n werk, en, in die geval van 'n letterkundige, musiek- of artistieke werk, 'n rolprent of 'n rekenaarprogram, ook 'n aanwending daarvan: Met dien verstande dat 'n voorwerp nie as 'n kopie van 'n boukundige werk gereken word nie tensy die voorwerp 'n gebou of 'n model van 'n gebou is;


[Omskrywing van "kopie" vervang by a. 1 (d) van Wet 125 van 1992.]


"Korporasie" ......


[Omskrywing van "Korporasie" geskrap by a. 50 (c) van Wet 38 van 1997.]


"land" ook 'n kolonie, protektoraat of gebied onder die gesag of susereiniteit van 'n ander land, en 'n gebied waaroor voogdyskap uitgeoefen word;


"letterkundige werk", ongeag letterkundige gehalte, en op watter wyse of in watter vorm ook al uitgedruk, ook-


(a) romans, verhale en digwerke;


(b) dramatiese werke, verhoogaanwysigings, rolprentdraaiboeke en uitsaaitekste;


(c) handboeke, verhandelings, historiese werke, biografieë, essays en artikels;


(d) ensiklopedieë en woordeboeke;


(e) briewe, verslae en memoranda;


(f) lesings, toesprake en preke; en


(g) tabelle en samestellings, met inbegrip van tabelle en samestellings van data wat in 'n rekenaar of 'n medium wat tesame met 'n rekenaar gebruik word, geberg of vasgelê word,


[Par. (g) vervang by a. 50 (e) van Wet 38 van 1997.]


maar nie ook 'n rekenaarprogram nie;


[Omskrywing van "letterkundige werk" vervang by a. 1 (e) van Wet 125 van 1992.]


"lisensie" ......


[Omskrywing van "lisensie" geskrap by a. 1 (f) van Wet 125 van 1992.]


"lisensiegewende gesag" ......


[Omskrywing van "lisensiegewende gesag" geskrap by a. 1 (f) van Wet 125 van 1992.]


"lisensieskema", by die toepassing van Hoofstuk 3, met betrekking tot lisensies van enige aard, 'n skema deur een of meer lisensiegewende liggame opgestel waarin die klasse van gevalle ten opsigte waarvan hulle of die persoon namens wie hulle optree, bereid is om lisensies van daardie aard te verleen, asook die gelde (as daar is) waarteen, en die bedinge en voorwaardes onderworpe waaraan, lisensies in daardie klasse van gevalle verleen kan word, en ook enigiets in die aard van so 'n skema, hetsy dit as 'n skema of as 'n tarief of as iets anders beskryf word;


[Omskrywing van "lisensieskema" vervang by a. 1 (g) van Wet 125 van 1992.]


"Minister" die Minister van Handel en Nywerheid;


[Omskrywing van "Minister" vervang by a. 1 (b) van Wet 66 van 1983, by a. 1 van Wet 13 van 1988 en by a. 1 (b) van Wet 9 van 2002.]


"musiekwerk" 'n werk wat bestaan uit musiek, met uitsluiting van enige woorde of handeling wat daarop bereken is om saam met die musiek gesing, uitgespreek of opgevoer te word;


[Omskrywing van "musiekwerk" ingevoeg by a. 1 (h) van Wet 125 van 1992.]


"opname" 'n skyf, band, geperforeerde rol of ander toestel waarin of waarop klanke, of data of seine wat klanke verteenwoordig, op so 'n wyse vasgelê of verteenwoordig is dat dit outomaties daarvan voortgebring of opgevoer of uitgevoer kan word;


[Omskrywing van "opname" vervang by a. 50 (d) van Wet 38 van 1997.]


"opvoering" of "uitvoering" ook enige vorm van visuele of akoestiese voordrag van 'n werk, met inbegrip van so 'n voordrag deur middel van 'n luidspreker, 'n radio- televisie- of verspreidingsontvangtoestel of deur middel van die vertoning van 'n rolprent of deur die gebruik van 'n opname of deur enige ander middele, en met betrekking tot lesings, toesprake en preke, ook die lewering daarvan; en word verwysings na "opvoer" of "uitvoer" met betrekking tot 'n werk dienooreenkomstig uitgelê: Met dien verstande dat "opvoering" of "uitvoering" nie ook uitsending of heruitsending of oorsending van 'n werk in 'n verspreidingsdiens beteken nie;


[Omskrywing van "opvoering" of "uitvoering" vervang by a. 1 (i) van Wet 125 van 1992.]


"outeur", met betrekking tot-


(a) 'n letterkundige, musiek- of artistieke werk, die persoon wat die werk eerste vervaardig of skep;


(b) 'n foto, die persoon wat vir die samestelling van die foto verantwoordelik is;


(c) 'n klankopname, die persoon deur wie die reëlings vir die vervaardiging van die klankopname getref is;


[Par. (c) vervang by a. 1 (j) van Wet 125 van 1992.]


(d) 'n rolprent, die persoon deur wie die reëlings vir die vervaardiging van die rolprent getref is;


(e) 'n uitsending, die eerste uitsender;


[Par. (e) vervang by a. 1 (j) van Wet 125 van 1992.]


(f) 'n programdraende sein, die eerste persoon wat die sein na 'n satelliet uitsaai;


[Par. (f) vervang by a. 1 (j) van Wet 125 van 1992.]


(g) 'n gepubliseerde uitgawe, die uitgewer van die uitgawe;


[Par. (g) bygevoeg by a. 1 (b) van Wet 52 van 1984.]


(h) 'n letterkundige, dramatiese, musiek- of artistieke werk of rekenaarprogram wat deur 'n rekenaar gegenereer is, die persoon deur wie die reëlings getref is wat noodsaaklik is vir die skepping van die werk;


[Par. (h) bygevoeg by a. 1 (k) van Wet 125 van 1992.]


(i) 'n rekenaarprogram, die persoon wat beheer oor die vervaardiging van die rekenaarprogram uitgeoefen het;


[Par. (i) bygevoeg by a. 1 (k) van Wet 125 van 1992.]


"outeursreg" outeursreg ingevolge hierdie Wet;


"plaat" ook 'n stereotiepplaat, steen, blok, gietvorm, matrys, oordruk, negatief, opname, skyf, bewaringsmedium of enige weergawe van 'n werk van watter aard ook al wat gebruik word om kopieë te maak;


[Omskrywing van "plaat" vervang by a. 1 (l) van Wet 125 van 1992.]


"program", met betrekking tot 'n programdraende sein, stof, hetsy lewendig of opgeneem, wat bestaan uit beelde of klanke of albei, in 'n sein vasgelê;


[Omskrywing van "program" vervang by a. 1 (m) van Wet 125 van 1992.]


"programdraende sein" 'n sein wat 'n program bevat wat uitgesend word en deur 'n satelliet gaan;


[Omskrywing van "programdraende sein" ingevoeg by a. 1 (n) van Wet 125 van 1992.]


"Registrateur" die Registrateur van Outeursreg, wat die persoon is wat as Registrateur van Patente ingevolge artikel 7 van die Wet op Patente, 1978, aangestel is;


"regulasie" 'n regulasie ingevolge hierdie Wet uitgevaardig;


"rekenaarprogram" 'n stel voorskrifte wat op enige wyse vasgelê of geberg word en wat, indien dit regstreeks of onregstreeks in 'n rekenaar gebruik word, die werking daarvan rig om 'n resultaat teweeg te bring;


[Omskrywing van "rekenaarprogram" ingevoeg by a. 1 (o) van Wet 125 van 1992.]


"reproduksie", met betrekking tot-


(a) 'n letterkundige of musiekwerk of 'n uitsending, ook 'n reproduksie in die vorm van 'n opname of 'n rolprent;


(b) 'n artistieke werk, ook 'n weergawe voortgebring deur die werk in driedimensionele vorm of, indien dit in drie dimensies is, in tweedimensionele vorm te omskep;


(c) enige werk, sluit 'n reproduksie in wat van 'n reproduksie van daardie werk gemaak is;


[Par. (c) bygevoeg by a. 1 (c) van Wet 66 van 1983.]


en word verwysings na "reprodusering" en "reproduseer" dienooreenkomstig uitgelê;


"rolprent" 'n vaslegging of berging op enige wyse hoegenaamd op film of enige ander stof van data, seine of 'n reeks beelde wat, as dit saam met 'n meganiese, elektroniese of ander toestel gebruik word, as 'n bewegende prent gesien kan word en gereproduseer kan word, en ook die klanke in 'n klankbaan aan die rolprent verbonde, maar nie ook 'n rekenaarprogram nie;


[Omskrywing van "rolprent" vervang by a. 1 (p) van Wet 125 van 1992 en by a. 50 (f) van Wet 38 van 1997.]


"satelliet" 'n voorwerp in die buite-aardse lugruim wat seine kan oorsend;


"sein" 'n elektronies-verwerkte draer wat programme kan oorsend;


"skendende kopie", met betrekking tot-


(a) 'n letterkundige, musiek- of artistieke werk of 'n gepubliseerde uitgawe, 'n kopie daarvan;


(b) 'n klankopname, 'n opname wat daardie klankopname bevat;


(c) 'n rolprent, 'n kopie van die rolprent of 'n stilfoto wat daarvan gemaak is;


(d) 'n uitsending, 'n rolprent daarvan of 'n kopie van 'n rolprent daarvan of 'n klankopname daarvan of 'n opname wat 'n klankopname daarvan bevat of 'n stilfoto wat daarvan vervaardig is; en


(e) 'n rekenaarprogram, 'n kopie van dié rekenaarprogram,


mits dit in enige van gemelde gevalle 'n artikel is waarvan die vervaardiging 'n skending van die outeursreg in die werk, opname, rolprent, uitsending of rekenaarprogram was of, in die geval van 'n ingevoerde artikel, 'n skending van bedoelde outeursreg sou gewees het indien die artikel in die Republiek vervaardig was;


[Omskrywing van "skendende kopie" gewysig by a. 1 (c) van Wet 52 van 1984 en vervang by a. 1 (q) van Wet 125 van 1992.]


"skrif" of "geskrif" ook enige vorm van optekening, hetsy per hand of by wyse van drukwerk, tikskrif of 'n dergelike proses;


"tekening" ook 'n tekening van 'n tegniese aard of 'n diagram, kaart of plan;


[Omskrywing van "tekening" vervang by a. 1 (d) van Wet 66 van 1983.]


"toekomstige eienaar", met betrekking tot outeursreg, iemand wat geregtig sal word op die outeursreg, geheel en al of gedeeltelik, in 'n werk waarin outeursreg nog nie bestaan nie of wie se aanspraak op die outeursreg wat bestaan van krag sal word na aanleiding van 'n toekomstige gebeurtenis;


"uitgesende sein" 'n sein wat na 'n satelliet gaan;


[Omskrywing van "uitgesende sein" vervang by a. 1 (r) van Wet 125 van 1992.]


"uitsender" iemand wat 'n uitsending onderneem;


[Omskrywing van "uitsender" vervang by a. 50 (g) van Wet 38 van 1997.]


"uitsending" 'n telekommunikasiediens van oorsending wat uit klanke, beelde, tekens of seine bestaan en wat-


(a) deur middel van elektromagnetiese golwe van laer as 3 000 GHz wat in die ruimte oorgesend word sonder 'n kunsmatige geleier; en


(b) bedoel is vir ontvangs deur die publiek of gedeeltes van die publiek,


en ook die uitsending van programdraende seine na 'n satelliet, en het "uitsaai" 'n dienooreenkomstige betekenis;


[Omskrywing van "uitsending", voorheen omskrywing van "uitsaai", vervang by a. 1 (s) van Wet 125 van 1992 en by a. 50 (h) van Wet 38 van 1997.]


"uitsluitende lisensie" 'n lisensie wat die lisensiehouer magtig om tot uitsluiting van alle ander persone, met inbegrip van die verlener van die lisensie, 'n reg uit te oefen wat uit hoofde van hierdie Wet, afgesien van die lisensie, uitsluitlik deur die eienaar van die outeursreg uitgeoefen kan word; en word "uitsluitende lisensiehouer" dienooreenkomstig uitgelê;


"verspreider", met betrekking tot 'n programdraende sein, die persoon wat besluit dat die oorsending van die afgeleide sein aan die algemene publiek of 'n deel daarvan moet plaasvind;


[Omskrywing van "verspreider" vervang by a. 1 (t) van Wet 125 van 1992.]


"verspreiding" met betrekking tot 'n programdraende sein, enige handeling waardeur 'n verspreider 'n afgeleide sein aan die algemene publiek of 'n deel daarvan oorsend;


[Omskrywing van "verspreiding" vervang by a. 1 (u) van Wet 125 van 1992.]


"verspreidingsdiens" 'n telekommunikasiediens van oorsendings bestaande uit klanke, beelde, tekens of seine, wat geskied oor drade of ander bane deur vaste stof voorsien en bestem is vir ontvangs deur bepaalde lede van die publiek; en word verspreiding nie geag 'n op- of uitvoering of 'n uitsending uit te maak nie of dat dit veroorsaak dat klanke, beelde, tekens of seine gesien of gehoor word nie; en waar klanke, beelde, tekens of seine vertoon of uitgesend word deur 'n ontvangsapparaat waarheen hulle deur verspreiding oorgedra word op so 'n wyse dat 'n op- of uitvoering of 'n veroorsaking dat klanke, beelde, tekens of seine in die openbaar gesien of gehoor word, daargestel word, word dit geag bewerkstellig te word deur die werking van die ontvangsapparaat;


"voorgeskryf" deur of kragtens hierdie Wet voorgeskryf;


"werk" 'n werk beoog in artikel 2;


[Omskrywing van "werk" ingevoeg by a. 1 (v) van Wet 125 van 1992.]


"werk van mede-outeurskap" 'n werk tot stand gebring deur die samewerking van twee of meer outeurs waarin die bydrae van elke outeur nie van die bydrae van die ander outeur of outeurs geskei kan word nie.


(2) 'n Verwysing in hierdie Wet na 'n klankbaan wat aan 'n rolprent verbonde is, word uitgelê as 'n verwysing na enige opname van klanke wat vasgelê is in 'n afdruk, negatief, band of ander artikel waarop die rolprent of deel daarvan opgeneem is of wat deur die outeur van die rolprent vir gebruik in verband met so 'n artikel uitgegee word.


(2A) 'n Verwysing in hierdie Wet na die verrigting van 'n handeling met betrekking tot 'n werk word, tensy die samehang anders aandui, uitgelê as 'n verwysing ook na die verrigting van dié handeling met betrekking tot 'n wesenlike gedeelte van daardie werk.


[Sub-a. (2A) ingevoeg by a. 1 van Wet 56 van 1980.]


(3) Die bepalings van hierdie Wet is met betrekking tot enige handeling of versuim buite die gebiedsgrense van die Republiek deur of op 'n skip of vliegtuig wat ingevolge 'n wetsbepaling in die Republiek geregistreer is van toepassing op dieselfde wyse as wat dit van toepassing is met betrekking tot 'n handeling of versuim binne die gebiedsgrense van die Republiek.


(4) Ondanks die bepalings van paragraaf (i) van die omskrywing van "outeur" in subartikel (1) word die outeur van 'n rekenaarprogram wat voor die datum van inwerkingtreding van die Wysigingswet op Outeursreg, 1992, vervaardig is, geag die persoon te wees wat die rekenaarprogram eerste vervaardig of geskep het, maar indien so 'n rekenaarprogram oorspronklik is en deur 'n bevoegde persoon gepubliseer is, word daardie persoon vermoed die eienaar van die outeursreg te wees wat in die betrokke rekenaarprogram bestaan, tensy die teendeel bewys word.


[Sub-a. (4) bygevoeg by a. 1 (u) [sic] van Wet 125 van 1992.]


(5) By die toepassing van hierdie Wet geld die volgende bepalings in verband met die publikasie van 'n werk:


(a) Behoudens paragraaf (e) word 'n werk geag gepubliseer te wees indien kopieë van dié werk met die toestemming van die eienaar van die outeursreg in die werk in voldoende hoeveelhede aan die publiek uitgereik is om, met inagneming van die aard van die werk, redelikerwys in die behoeftes van die publiek te voorsien.


(b) Publikasie van 'n rolprent of klankopname beteken die verkoop, verhuur, huur, of aanbieding vir verkoop of huur, van kopieë daarvan.


(c) 'n Publikasie word nie as iets anders as die eerste publikasie behandel nie slegs vanweë 'n vroeër publikasie elders binne 'n tydperk van 30 dae.


(d) Publikasie beteken nie ook nie-


(i) 'n opvoering of uitvoering van 'n musiek- of dramatiese werk, rolprent of klankopname;


(ii) 'n openbare lewering van 'n letterkundige werk;


(iii) 'n oorsending in 'n verspreidingsdiens;


(iv) 'n uitsending van 'n werk;


(v) 'n uitstalling van 'n kunswerk;


(vi) 'n konstruksie van 'n argitektoniese werk.


(e) By die toepassing van artikels 6, 7 en 11 (b) [sic] word 'n werk geag gepubliseer te wees indien kopieë daarvan aan die publiek uitgereik is.


[Sub-a. (5) bygevoeg by a. 1 (u) [sic] van Wet 125 van 1992.]
[Datum van inwerkingtreding: 30 Junie 1978.]