Wet op outeursreg 98 van 1978/Hoofstuk 1

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Inhoudsopgawe
en woordomskrywing
Wet op outeursreg 98 van 1978
Hoofstuk 1
Outeursreg in oorspronklike werke
deur Regering van Suid-Afrika
Hoofstuk 2


HOOFSTUK 1
OUTEURSREG IN OORSPRONKLIKE WERKE (aa 2-22)


2 Werke geskik vir outeursreg


(1) Behoudens die bepalings van hierdie Wet, kom die volgende werke, indien hulle oorspronklik is, vir outeursreg in aanmerking-


(a) letterkundige werke;


(b) musiekwerke;


(c) artistieke werke;


(d) rolprente;


[Par. (d) vervang by a. 2 (a) van Wet 125 van 1992.]


(e) klankopnames;


(f) uitsendings;


(g) programdraende seine;


(h) gepubliseerde uitgawes;


[Par. (h) bygevoeg by a. 2 van Wet 52 van 1984.]


(i) rekenaarprogramme.


[Par. (i) bygevoeg by a. 2 (b) van Wet 125 van 1992.]
[Sub-a. (1) gewysig by a. 2 (a) van Wet 56 van 1980.]


(2) 'n Werk, behalwe 'n uitsending of programdraende sein, kom nie vir outeursreg in aanmerking nie tensy die werk op skrif gestel is of opgeneem is of in digitale data of seine verteenwoordig is of andersins tot stoflike vorm herlei is.


[Sub-a. (2) vervang by a. 2 (b) van Wet 56 van 1980, by a. 2 (c) van Wet 125 van 1992 en by a. 51 van Wet 38 van 1997.]


(2A) 'n Uitsending of programdraende sein kom nie vir outeursreg in aanmerking nie totdat, in die geval van 'n uitsending, dit uitgesend is en, in die geval van 'n programdraende sein, dit deur 'n satelliet oorgesein is.


[Sub-a. (2A) ingevoeg by a. 2 (d) van Wet 125 van 1992.]


(3) 'n Werk is nie vir outeursreg ongeskik slegs uit hoofde daarvan dat die vervaardiging van die werk, of die verrigting van 'n handeling met betrekking tot die werk, 'n skending van outeursreg in 'n ander werk behels nie.


3 Outeursreg uit hoofde van nasionaliteit, domisilie of verblyf, en duur van outeursreg


(1) Outeursreg word deur hierdie artikel verleen aan elke werk wat vir outeursreg in aanmerking kom en waarvan die outeur of, in die geval van mede-outeurskap, een van die outeurs ten tyde van die vervaardiging van die werk of 'n aansienlike deel daarvan, 'n bevoegde persoon is, naamlik-


(a) in die geval van 'n individu, iemand wat 'n Suid-Afrikaanse burger is of in die Republiek gedomisilieer of woonagtig is; of


(b) in die geval van 'n regspersoon 'n liggaam wat kragtens die wette van die Republiek ingelyf is;


Met dien verstande dat 'n boukundige werk in die Republiek opgerig of 'n ander artistieke werk opgeneem in 'n gebou of enige ander permanente struktuur in die Republiek, vir outeursreg in aanmerking kom, hetsy die outeur 'n bevoegde persoon was al dan nie.


[Sub-a. (1) vervang by a. 3 (a) van Wet 125 van 1992.]


(2) Die termyn van outeursreg deur hierdie artikel verleen, is, in die geval van-


(a) letterkundige of musiekwerke of ander artistieke werke as foto's, die lewensduur van die outeur en vyftig jaar vanaf die einde van die jaar waarin die outeur sterf: Met dien verstande dat indien daar voor die dood van die outeur ten opsigte van sodanige werke of 'n aanwending daarvan geen van die volgende handelinge verrig is nie, naamlik-


(i) die publikasie daarvan;


(ii) die openbare op- of uitvoering daarvan;


(iii) die aanbied vir verkoop aan die publiek van opnames daarvan;


(iv) die uitsaai daarvan,


die termyn van die outeursreg voortduur vir 'n tydperk van vyftig jaar vanaf die einde van die jaar waarin die eerste van genoemde handelinge verrig word;


[Par. (a) gewysig by a. 3 (a) van Wet 52 van 1984.]


(b) rolprente, foto's en rekenaarprogramme, vyftig jaar vanaf die einde van die jaar waarin die werk-


(i) aan die publiek beskikbaar gestel word met die toestemming van die eienaar van die outeursreg; of


(ii) vir die eerste keer gepubliseer word,


welke termyn ook al die langste is, of by ontstentenis van so 'n gebeurtenis binne vyftig jaar vanaf die vervaardiging van die werk, vyftig jaar vanaf die einde van die jaar waarin die werk vervaardig word;


[Par. (b) vervang by a. 3 (b) van Wet 125 van 1992 en by a. 52 van Wet 38 van 1997.]


(c) klankopnames, vyftig jaar vanaf die einde van die jaar waarin die opname vir die eerste keer gepubliseer word;


(d) uitsendings, vyftig jaar vanaf die einde van die jaar waarin die uitsending die eerste keer plaasvind;


(e) programdraende seine, vyftig jaar vanaf die einde van die jaar waarin die seine aan 'n satelliet uitgesend word;


(f) gepubliseerde uitgawes, vyftig jaar vanaf die einde van die jaar waarin die uitgawe vir die eerste keer gepubliseer word.


[Par. (f) bygevoeg by a. 3 (b) van Wet 52 van 1984.]


(3) (a) In die geval van anonieme of pseudonieme werke, bly die outeursreg daarin voortbestaan vir vyftig jaar vanaf die einde van die jaar waarin die werk aan die publiek beskikbaar gestel word met die toestemming van die eienaar van die outeursreg of vanaf die einde van die jaar waarin dit redelik is om te aanvaar dat die outeur oorlede is, welke termyn ook al die kortste is.


[Par. (a) vervang by a. 3 (c) van Wet 125 van 1992.]


(b) In die geval dat die identiteit van die outeur bekend word voor die verstryking van die tydperk in paragraaf (a) bedoel, word die termyn van beskerming van die outeursreg bereken ooreenkomstig die bepalings van subartikel (2).


(4) In die geval van 'n werk deur mede-outeurs word die verwysing in die voorafgaande subartikels na die afsterwe van die outeur geag te verwys na die outeur wat laaste sterf, hetsy hy 'n bevoegde persoon is al dan nie.


4 Outeursreg deur verwysing na land van oorsprong


(1) Outeursreg word deur hierdie artikel verleen aan elke werk wat vir outeursreg in aanmerking kom en wat-


(a) 'n letterkundige, musiek- of artistieke werk of 'n klankopname is wat vir die eerste keer in die Republiek gepubliseer word;


(b) 'n uitsending is wat in die Republiek vervaardig word;


(c) 'n programdraende sein is wat aan 'n satelliet vanaf 'n plek in die Republiek uitgesend word;


(d) 'n rolprent is wat vir die eerste keer in die Republiek gepubliseer of vervaardig word;


(e) 'n gepubliseerde uitgawe is wat vir die eerste keer in die Republiek gepubliseer word;


[Par. (e) bygevoeg by a. 4 (b) van Wet 52 van 1984.]


(f) 'n rekenaarprogram is wat vir die eerste keer in die Republiek gepubliseer of vervaardig is,


[Par. (f) ingevoeg by a. 4 van Wet 125 van 1992.]


en ten opsigte waarvan outeursreg nie deur artikel 3 verleen word nie.


(2) Outeursreg deur hierdie artikel aan 'n werk verleen, is onderhewig aan dieselfde termyn van outeursreg waarvoor in artikel 3 vir 'n soortgelyke werk voorsiening gemaak word.


5 Outeursreg met betrekking tot staat en sekere internasionale organisasies


(1) Hierdie Wet bind die staat.


(2) Outeursreg word deur hierdie artikel verleen aan elke werk wat vir outeursreg in aanmerking kom en wat vervaardig word deur of onderhewig aan die voorskrif of beheer van die staat of die internasionale organisasies wat voorgeskryf word.


(3) Outeursreg deur hierdie artikel verleen aan 'n letterkundige of musiekwerk of 'n ander artistieke werk as 'n foto, bly voortbestaan vir vyftig jaar vanaf die einde van die jaar waarin die werk vir die eerste keer gepubliseer word.


(4) Outeursreg deur hierdie artikel aan 'n prent, foto, klankopname, uitsending, programdraende sein, gepubliseerde uitgawe of rekenaarprogram verleen, is onderhewig aan dieselfde termyn van outeursreg waarvoor in artikel 3 vir 'n soortgelyke werk voorsiening gemaak word.


[Sub-a. (4) vervang by a. 5 van Wet 52 van 1984 en by a. 5 van Wet 125 van 1992.]


(5) Artikels 3 en 4 verleen nie outeursreg aan werke met betrekking waartoe hierdie artikel van toepassing is nie.


(6) Outeursreg wat in die staat gevestig is, word vir administratiewe doeleindes geag gevestig te wees in die beampte in die staatsdiens wat deur die Staatspresident by proklamasie in die Staatskoerant aangewys word.


6 Aard van outeursreg in letterkundige of musiekwerke


Outeursreg in 'n letterkundige of musiekwerk verleen die uitsluitlike reg om enige van die volgende handelinge in die Republiek te verrig of die verrigting daarvan te magtig-


(a) Reproduksie van die werk op enige wyse of in enige vorm;


(b) publikasie van die werk indien dit tot nog toe ongepubliseer was;


[Par. (b) vervang by a. 6 van Wet 125 van 1992.]


(c) op- of uitvoering van die werk in die openbaar;


(d) uitsending van die werk;


(e) die werk in 'n verspreidingsdiens te laat oorsend, tensy so 'n diens 'n wettige uitsending, met inbegrip van die werk, oorsend en deur die oorspronklike uitsender bedryf word;


[Par. (e) vervang by a. 3 (b) van Wet 56 van 1980 en gewysig by a. 58 van Wet 38 van 1997.]


(f) vervaardiging van 'n aanwending van die werk;


(g) verrigting, met betrekking tot 'n aanwending van die werk, van enige van die handelinge in paragrawe (a) tot en met (e) met betrekking tot die werk vermeld.


[A. 6 gewysig by a. 3 (a) van Wet 56 van 1980.]


7 Aard van outeursreg in artistieke werke


Outeursreg in 'n artistieke werk verleen die uitsluitlike reg om enige van die volgende handelinge in die Republiek te verrig of die verrigting daarvan te magtig:


(a) Reproduksie van die werk op enige wyse of in enige vorm;


(b) publikasie van die werk;


[Par. (b) vervang by a. 7 van Wet 125 van 1992.]


(c) insluiting van die werk in 'n rolprent of 'n televisie-uitsending;


(d) 'n televisie- of ander program waarin die werk opgeneem is, in 'n verspreidingsdiens te laat oorsend, tensy so 'n diens 'n wettige televisie-uitsending, met inbegrip van die werk, oorsend en deur die oorspronklike uitsender bedryf word;


[Par. (d) vervang by a. 4 (b) van Wet 56 van 1980 en gewysig by a. 58 van Wet 38 van 1997.]


(e) vervaardiging van 'n aanwending van die werk;


(f) verrigting, met betrekking tot 'n aanwending van die werk, van enige van die handelinge in paragrawe (a) tot en met (d) met betrekking tot die werk vermeld.


[A. 7 gewysig by a. 4 (a) van Wet 56 van 1980.]


8 Aard van outeursreg in rolprente


(1) Outeursreg in 'n rolprent verleen die uitsluitlike reg om enige van die volgende handelinge in die Republiek te verrig of die verrigting daarvan te magtig-


(a) Reproduksie van die rolprent op enige wyse of in enige vorm, met inbegrip van vervaardiging van 'n stilfoto daarvan;


[Par. (a) vervang by a. 8 (a) van Wet 125 van 1992.]


(b) die rolprent, vir sover dit uit beelde bestaan, in die openbaar te laat sien, of, vir sover dit uit klanke bestaan, in die openbaar te laat hoor;


(c) uitsending van die rolprent;


(d) die rolprent in 'n verspreidingsdiens te laat oorsend, tensy so 'n diens 'n wettige televisie-uitsending, met inbegrip van die rolprent, oorsend en deur die oorspronklike uitsender bedryf word;


[Par. (d) vervang by a. 5 (b) van Wet 56 van 1980 en gewysig by a. 58 van Wet 38 van 1997.]


(e) vervaardiging van 'n aanwending van die rolprent;


(f) verrigting, met betrekking tot 'n aanwending van die rolprent, van enige van die handelinge in paragrawe (a) tot en met (d) met betrekking tot die prent vermeld;


(g) verhuur, of aanbieding of uitstalling vir verhuur by wyse van handel, regstreeks of onregstreeks, van 'n kopie van die rolprent.


[Par. (g) bygevoeg by a. 6 van Wet 52 van 1984 en vervang by a. 1 van Wet 61 van 1989 en by a. 8 (b) van Wet 125 van 1992.]
[Sub-a. (1) gewysig by a. 5 (a) van Wet 56 van 1980.]


(2) ......


[Sub-a. (2) geskrap by a. 8 (c) van Wet 125 van 1992.]


9 Aard van outeursreg in klankopnames


Outeursreg in 'n klankopname verleen die uitsluitlike reg om enige van die volgende handelinge in die Republiek te verrig of die verrigting daarvan te magtig:


(a) Vervaardiging, regstreeks of onregstreeks, van 'n opname waarin die klankopname vervat is;


(b) verhuur, of aanbieding of uitstalling vir verhuur by wyse van handel, regstreeks of onregstreeks, van 'n reproduksie van die klankopname;


(c) uitsending van die klankopname;


(d) die klankopname te laat deursend in 'n verspreidingsdiens, tensy daardie diens 'n regmatige uitsending doen wat die klankopname insluit, en deur die oorspronklike uitsender bedryf word;


(e) die opname aan die publiek oordra.


[Par. (b) vervang by a. 7 van Wet 52 van 1984 en by a. 2 van Wet 61 van 1989.]
[A. 9 vervang by a. 6 van Wet 56 van 1980, gewysig by a. 7 van Wet 52 van 1984 en by a. 2 van Wet 61 van 1989 en vervang by a. 2 van Wet 9 van 2002.]


9A Tantièmes


(1) (a) By ontstentenis van 'n andersluidende ooreenkoms, mag geen persoon 'n klankopname in artikel 9 (c), (d) of (e) beoog uitsaai, die uitsending daarvan veroorsaak of speel nie, sonder betaling van 'n tantième aan die eienaar van die toepaslike outeursreg.


(b) Die bedrag van enige tantième in paragraaf (a) beoog word bepaal deur 'n ooreenkoms tussen die gebruiker van die klankopname, die voordraer en die eienaar van die outeursreg, of tussen hulle verteenwoordigende insamelingsverenigings.


(c) By ontstentenis van 'n ooreenkoms in paragraaf (b) beoog, kan die gebruiker, voordraer of eienaar die aangeleentheid verwys na die Outeursreghof in artikel 29 (1) bedoel, of hulle kan ooreenkom om die aangeleentheid na arbitrasie ingevolge die Arbitrasiewet, 1965 (Wet 42 van 1965), te verwys.


(2) (a) Die eienaar van die outeursreg wat 'n tantième ingevolge hierdie artikel ontvang, deel sodanige tantième met enige voordraer wie se uitvoering in die betrokke klankopname voorkom en wat geregtig sou wees om 'n tantième ten opsigte daarvan te ontvang soos in artikel 5 van die Wet op die Beskerming van Voordraers, 1967 (Wet 11 van 1967), beoog.


(b) Die voordraer se deel van die tantième word bepaal deur 'n ooreenkoms tussen die voordraer en die eienaar van outeursreg, of tussen hul verteenwoordigende insamelingsverenigings.


(c) By ontstentenis van 'n ooreenkoms in paragraaf (b) beoog, kan die voordraer of eienaar die aangeleentheid verwys na die Outeursreghof in artikel 29 (1) bedoel, of hulle kan ooreenkom om die aangeleentheid na arbitrasie ingevolge die Arbitrasiewet, 1965 (Wet 42 van 1965), te verwys.


(d) Enige betaling deur die gebruiker van die klankopname ingevolge hierdie subartikel gemaak, sal geag word te voldoen het aan enige verpligting wat daardie gebruiker mag hê om enige betaling te maak ten opsigte van sy of haar gebruik van 'n ooreenstemmende vaslegging ingevolge artikel 5 van die Wet op die Beskerming van Voordraers, 1967 (Wet 11 van 1967).


(3) Wanneer enige reg tot 'n tantiéme oorgedra word aan 'n opvolger in titel, hetsy deur kontraktuele reëling, regswerking, testamentêre beskikking of andersins, sal enige opvolger in titel geregtig wees om sodanige reg tot 'n tantiéme af te dwing teen die persoon wat ingevolge hierdie artikel verplig is om te betaal of teen sy of haar opvolger in titel.


[A. 9A ingevoeg by a. 3 van Wet 9 van 2002.]


10 Aard van outeursreg in uitsendings


Outeursreg in 'n uitsending verleen die uitsluitlike reg om enige van die volgende handelinge in die Republiek te verrig of die verrigting daarvan te magtig:


(a) Reproduksie, regstreeks of onregstreeks, van die uitsending op enige wyse of in enige vorm, met inbegrip, in die geval van 'n televisie-uitsending, van die vervaardiging van 'n stilfoto daarvan;


[Par. (a) vervang by a. 9 van Wet 125 van 1992.]


(b) heruitsending van die uitsending;


(c) die uitsending in 'n verspreidingsdiens te laat oorsend, tensy so 'n diens deur die oorspronklike uitsender bedryf word.


[Par. (c) gewysig by a. 58 van Wet 38 van 1997.]

[A. 10 gewysig by a. 7 van Wet 56 van 1980.]


11 Aard van outeursreg in programdraende seine


Outeursreg in programdraende seine verleen die uitsluitlike reg om die regstreeks of onregstreekse verspreiding van sodanige seine deur 'n verspreider aan die algemene publiek of 'n gedeelte daarvan in die Republiek, of vanaf die Republiek, te onderneem of te magtig.


11A Aard van outeursreg in gepubliseerde uitgawes


Outeursreg in 'n gepubliseerde uitgawe verleen die uitsluitlike reg om 'n reproduksie van die uitgawe op enige wyse te vervaardig of die vervaardiging daarvan te magtig.


[A. 11A ingevoeg by a. 8 van Wet 52 van 1984.]


11B Aard van outeursreg in rekenaarprogramme


Outeursreg in 'n rekenaarprogram verleen die uitsluitlike reg om enige van die volgende handelinge in die Republiek te verrig of die verrigting daarvan te magtig:


(a) Reproduksie van die rekenaarprogram op enige wyse of in enige vorm;


(b) publikasie van die rekenaarprogram indien dit tot nog toe ongepubliseer was;


(c) op- of uitvoering van die rekenaarprogram in die openbaar;


(d) uitsending van die rekenaarprogram;


(e) die rekenaarprogram in 'n verspreidingsdiens te laat oorsend, tensy so 'n diens 'n wettige uitsending, met inbegrip van die rekenaarprogram, oorsend en deur die oorspronklike uitsender bedryf word;


(f) vervaardiging van 'n aanwending van die rekenaarprogram;


(g) verrigting, met betrekking tot 'n aanwending van die rekenaarprogram, van enige van die handelinge in paragrawe (a) tot en met (e) met betrekking tot die rekenaarprogram vermeld;


(h) verhuur, of aanbieding of uitstalling vir verhuur by wyse van handel, regstreeks of onregstreeks, van 'n kopie van die rekenaarprogram.


[A. 11B ingevoeg by a. 10 van Wet 125 van 1992 en vervang by a. 53 van Wet 38 van 1997.]


12 Algemene uitsonderings rakende beskerming van letterkundige en musiekwerke


(1) Outeursreg word nie geskend nie deur enige billike gebruik van 'n letterkundige of musiekwerk-


(a) vir die doeleindes van navorsing of private studie deur, of die persoonlike of private gebruik van, die persoon wat die werk gebruik;


(b) vir die doeleindes van beoordeling of resensie van die werk of 'n ander werk; of


(c) ten einde oor sake van die dag verslag te doen-


(i) in 'n koerant, tydskrif of dergelike blad; of


(ii) deur middel van uitsending of in 'n rolprent:


Met dien verstande dat, in die geval van paragrawe (b) en (c) (i), die bron vermeld moet word, asook die naam van die outeur indien dit op die werk voorkom.


[Sub-a. (1) gewysig by a. 11 (a) en (b) van Wet 125 van 1992.]


(2) Die outeursreg in 'n letterkundige of musiekwerk word nie geskend deur die werk vir die doeleindes van geregtelike verrigtinge te gebruik of deur dit vir die doeleindes van 'n verslag oor geregtelike verrigtinge te reproduseer nie.


(3) Die outeursreg in 'n letterkundige of musiekwerk wat wettig tot beskikking van die publiek is, word nie geskend deur 'n aanhaling daaruit nie, met inbegrip van 'n aanhaling uit artikels in koerante of tydskrifte wat in die vorm van opsommings van so 'n werk is: Met dien verstande dat die aanhaling met billike gebruik bestaanbaar moet wees, dat die omvang daarvan nie die omvang moet oorskry wat deur die doel geregverdig is nie en dat die bron vermeld moet word, asook die naam van die outeur indien dit op die werk voorkom.


(4) Die outeursreg in 'n letterkundige of musiekwerk word nie geskend deur die gebruik van daardie werk, in die mate deur die doel geregverdig, by wyse van toeligting in 'n publikasie, uitsending of klank- of visuele opname vir onderwys nie: Met dien verstande dat sodanige gebruik met billike gebruik bestaanbaar moet wees en dat die bron vermeld moet word, asook die naam van die outeur indien dit op die werk voorkom.


(5) (a) Die outeursreg in 'n letterkundige of musiekwerk word nie geskend deur die reproduksie van so 'n werk deur 'n uitsender deur middel van sy eie fasiliteite nie waar so 'n reproduksie of 'n kopie daarvan uitsluitlik bedoel is vir wettige uitsendings van die uitsender en vernietig word voor die verstryking van 'n tydperk van ses maande onmiddellik na die vervaardiging van die reproduksie, of die langer tydperk waartoe die eienaar van die betrokke deel van die outeursreg in die werk instem.


(b) 'n Reproduksie van 'n werk ingevolge paragraaf (a) vervaardig, kan, indien dit van 'n besondere dokumentêre aard is, in die argief van die uitsender bewaar word maar word, behoudens die bepalings van hierdie Wet, nie vir uitsending of enige ander doel gebruik sonder die toestemming van die eienaar van die betrokke deel van die outeursreg in die werk nie.


[Sub-a. (5) vervang by a. 54 van Wet 38 van 1997.]


(6) (a) Die outeursreg in 'n lesing, adres of ander werk van 'n soortgelyke aard wat in die openbaar gelewer word, word nie geskend deur dit in die pers te reproduseer of deur dit uit te saai nie, indien sodanige reproduksie of uitsending vir 'n inligtingsdoel is.


(b) Die outeur van 'n lesing, adres of ander werk in paragraaf (a) bedoel, het die uitsluitlike reg om 'n versameling daarvan te maak.


(7) Die outeursreg in 'n artikel oor 'n heersende ekonomiese, politieke of godsdienstige onderwerp in 'n koerant of tydskrif of uitsending gepubliseer, word nie geskend deur dit in die pers te reproduseer of dit uit te saai nie, indien sodanige reproduksie of uitsending nie uitdruklik voorbehou is nie en die bron duidelik vermeld word.


(8) (a) Outeursreg bestaan nie in amptelike stukke van 'n wetgewende, administratiewe of wetlike aard of in amptelike vertalings van sodanige stukke of in toesprake van 'n politieke aard of in toesprake gelewer tydens regsverrigtinge nie of in nuus van die dag wat slegs items van persinligting is nie.


(b) Die outeur van die toesprake in paragraaf (a) bedoel, het die uitsluitlike reg om 'n versameling daarvan te maak.


(9) Die bepalings van subartikels (1) tot en met (7) is van toepassing ook met betrekking tot die vervaardiging of gebruik van 'n aanwending van 'n werk.


[Sub-a. (9) vervang by a. 11 (c) van Wet 125 van 1992.]


(10) Die bepalings van subartikels (6) en (7) is van toepassing ook met betrekking tot 'n werk of 'n aanwending daarvan wat in 'n verspreidingsdiens oorgesend word.


[Sub-a. (10) vervang by a. 11 (d) van Wet 125 van 1992.]


(11) Die bepalings van subartikels (1) tot en met (4) en (6), (7) en (10) word uitgelê dat hulle die reg behels om die betrokke werk òf in sy oorspronklike taal òf in 'n ander taal te gebruik, en in laasgenoemde geval word die reg van vertaling van die outeur geag nie geskend te gewees het nie.


(12) Die outeursreg in 'n letterkundige of musiekwerk word nie geskend deur die gebruik daarvan in 'n bona fide-vertoning van radio- of televisie-ontvangtoestelle of enige tipe opneemtoerusting of terugspeeltoerusting deur 'n handelaar in sodanige toerusting aan 'n klant nie.


[Sub-a. (12) vervang by a. 11 (e) van Wet 125 van 1992.]


(13) Die magtiging om 'n letterkundige werk as grondslag vir die vervaardiging van 'n rolprent te gebruik of as 'n bydrae tot die vervaardiging te gebruik, sluit, by ontstentenis van 'n ooreenkoms tot die teendeel, die reg in om die rolprent uit te saai.


[Sub-a. (13) bygevoeg by a. 11 (f) van Wet 125 van 1992.]


13 Algemene uitsonderings ten opsigte van reproduksie van werke


Benewens reproduksies toelaatbaar ingevolge hierdie Wet, is reproduksie van 'n werk ook toelaatbaar soos by regulasie voorgeskryf, maar op so 'n wyse dat die reproduksie nie bots met 'n normale benutting van die werk en die regmatige belange van die eienaar van die outeursreg onredelik benadeel nie.


[A. 13 vervang by a. 8 van Wet 56 van 1980.]


14 Spesiale uitsondering ten opsigte van opnames van musiekwerke


(1) Die outeursreg in 'n musiekwerk word nie geskend nie deur iemand (in hierdie artikel die "vervaardiger" genoem) wat 'n opname in die Republiek vervaardig van die werk of van 'n aanwending daarvan, hetsy van 'n ingevoerde skyf, band, matrys of andersins, indien-


(a) opnames waarin die werk of 'n soortgelyke aanwending van die werk vervat is, voorheen in die Republiek vervaardig of ingevoer is vir die doeleindes van verkoop in die kleinhandel en aldus vervaardig of ingevoer is deur, of met die vergunning van, die eienaar van die outeursreg in die werk;


(b) die vervaardiger, voordat hy die opname vervaardig, die voorgeskrewe kennis aan die eienaar van die outeursreg gegee het van sy voorneme om dit te vervaardig;


(c) die vervaardiger voornemens is om die opname in die kleinhandel te verkoop of vir verkoop in die kleinhandel deur iemand anders te voorsien of om dit te gebruik om ander opnames te vervaardig om aldus verkoop of voorsien te word; en


(d) in die geval van 'n opname wat in die kleinhandel verkoop word of vir die doeleindes van verkoop in die kleinhandel voorsien word, die vervaardiger die voorgeskrewe tantième op die voorgeskrewe wyse en tyd aan die eienaar van die outeursreg betaal.


(2) Waar 'n opname met of sonder ander stof bestaan uit 'n op- of uitvoering van 'n musiekwerk of van 'n aanwending van 'n musiekwerk waarby woorde gesing of as bykomende deel van of saam met die musiek gebesig word, en daar geen outeursreg in daardie werk bestaan nie of, indien outeursreg daarin bestaan, die voorwaardes in subartikel (1) vermeld met betrekking tot sodanige outeursreg nagekom is en-


(a) die woorde bestaan uit of deel uitmaak van 'n letterkundige werk waarin outeursreg bestaan; en


(b) opnames in subartikel (1) (a) bedoel deur, of met die vergunning van, die eienaar van die outeursreg in daardie letterkundige werk, vervaardig of ingevoer is; en


(c) die voorwaardes in subartikel (1) (b) en (d) vermeld, met betrekking tot die eienaar van daardie outeursreg nagekom is,


maak die vervaardiging van die opname nie 'n skending van die outeursreg in die letterkundige werk uit nie.


(3) By die toepassing van hierdie artikel word 'n aanwending van 'n werk geag ooreen te kom met 'n aanwending daarvan wat in 'n vorige opname vervat is indien die twee aanwendings nie wesenlik verskil in hulle bewerking van die werk nie, hetsy ten opsigte van styl of, afgesien van enige verskil in getalle, ten opsigte van die deelnemers wat in die op- of uitvoering daarvan moet optree.


(4) 'n Vervaardiger kan vir die doeleindes van paragraaf (a) van subartikel (1) die voorgeskrewe navrae doen ten einde te bepaal of die vorige opnames in daardie paragraaf bedoel voorheen in die Republiek vervaardig of ingevoer is, en indien die eienaar van die outeursreg versuim om binne die voorgeskrewe tyd op sodanige navrae te antwoord, word bedoelde vorige opnames geag met die vergunning van die eienaar van die outeursreg vervaardig of, na gelang van die geval, ingevoer te gewees het.


(5) Die voorafgaande bepalings van hierdie artikel geld ook met betrekking tot opnames van 'n gedeelte van 'n werk of 'n aanwending daarvan: Met dien verstande dat die bepalings van subartikel (1) nie van toepassing is met betrekking tot-


(a) 'n opname van die hele werk of 'n aanwending daarvan nie tensy die vorige opnames in paragraaf (a) van daardie subartikel bedoel opnames van die hele werk of van 'n soortgelyke aanwending was; of


(b) 'n opname van 'n gedeelte van 'n werk of 'n aanwending daarvan nie tensy die opnames voorheen in die Republiek vervaardig of ingevoer soos beoog in paragraaf (a) van daardie subartikel van daardie gedeelte van die werk of van 'n soortgelyke aanwending was of dit ingesluit het.


[A. 14 vervang by a. 12 van Wet 125 van 1992.]


15 Algemene uitsonderings rakende beskerming van artistieke werke


(1) Die outeursreg in 'n artistieke werk word nie geskend deur die insluiting daarvan in 'n rolprent of 'n televisie-uitsending of oorsending in 'n verspreidingsdiens nie, indien sodanige insluiting slegs by wyse van agtergrond is vir, of bykomstig is tot, die hoofonderwerpe wat in die prent, uitsending of oorsending voorgestel word.


(2) Die outeursreg in 'n boukundige werk of in die betrokke planne word nie geskend deur die heropbouing van daardie werk op dieselfde terrein in dieselfde styl as die oorspronklike nie.


(3) Die outeursreg in 'n artistieke werk word nie geskend deur die reproduksie of insluiting daarvan in 'n rolprent of 'n televisie-uitsending of oorsending in 'n verspreidingsdiens nie, indien sodanige werk blywend geleë is in 'n straat, plein of 'n soortgelyke openbare plek.


(3A) (a) Die outeursreg in 'n artistieke werk waarvan driedimensionele reproduksies deur of met die toestemming van die eienaar van die outeursreg aan die publiek beskikbaar gestel is hetsy binne of buite die Republiek (hierna gemagtigde reproduksies genoem), word nie geskend nie indien iemand sonder die toestemming van die eienaar driedimensionele reproduksies of aanwendings van die gemagtigde reproduksies maak of aan die publiek beskikbaar stel, mits-


(i) ......


[Sub-par. (i) geskrap by a. 2 (1) (a) van Wet 13 van 1988.]


(ii) die gemagtigde reproduksies hoofsaaklik 'n utiliteitsdoel het en deur 'n industriële proses gemaak word.


(b) ......


[Par. (b) geskrap by a. 2 (1) (b) van Wet 13 van 1988.]
[Sub-a. (3A) ingevoeg by a. 2 van Wet 66 van 1983.]


(4) Die bepalings van artikel 12 (1), (2), (4), (5), (9), (10), (12) en (13) is mutatis mutandis, vir sover hulle toegepas kan word, met betrekking tot artistieke werke van toepassing.


[Sub-a. (4) vervang by a. 13 van Wet 125 van 1992.]


16 Algemene uitsonderings rakende beskerming van rolprente


(1) Die bepalings van artikel 12 (1) (b) en (c), (2), (3), (4), (12) en (13) is mutatis mutandis met betrekking tot rolprente van toepassing.


(2) Waar klanke wat in 'n klankbaan opgeneem is wat aan 'n rolprent verbonde is, ook opgeneem is in 'n ander opname as so 'n klankbaan of in 'n opname wat regstreeks of onregstreeks van so 'n klankbaan verkry is, word die outeursreg in die rolprent nie deur die gebruik van daardie opname geskend nie.


[A. 16 vervang by a. 14 van Wet 125 van 1992.]


17 Algemene uitsonderings rakende beskerming van klankopnames


Die bepalings van artikel 12 (1) (b) en (c), (2), (3), (4), (5), (12) en (13) is mutatis mutandis met betrekking tot klankopnames van toepassing.


[A. 17 vervang by a. 15 van Wet 125 van 1992.]


18 Algemene uitsonderings rakende beskerming van uitsendings


Die bepalings van artikel 12 (1) tot en met (5) en (12) en (13) is mutatis mutandis met betrekking tot uitsendings van toepassing.


[A. 18 vervang by a. 16 van Wet 125 van 1992.]


19 Algemene uitsonderings rakende beskerming van programdraende seine


(1) Die outeursreg in programdraende seine word nie geskend nie deur die verspreiding van kort uittreksels uit die program aldus vervoer-


(a) wat bestaan uit verslae oor sake van die dag; of


(b) wat bestaanbaar is met billike gebruik,


en in die mate wat geregverdig is deur die inligtingsdoel van die uittreksels.


(2) Die bepalings van hierdie artikel is nie van toepassing met betrekking tot 'n program vervoer deur programdraende seine wat 'n sportgebeurtenis weergee nie.


19A Algemene uitsonderings rakende beskerming van gepubliseerde uitgawes


Die bepalings van artikel 12 (1), (2), (4), (5), (8), (12) en (13) is mutatis mutandis met betrekking tot gepubliseerde uitgawes van toepassing.


[A. 19A ingevoeg by a. 9 van Wet 52 van 1984 en vervang by a. 17 van Wet 125 van 1992.]


19B Algemene uitsonderings rakende beskerming van rekenaarprogramme


(1) Behoudens die bepalings van artikel 23 (2) (d) is die bepalings van artikel 12 (1) (b) en (c), (2), (3), (4), (5), (12) en (13) vir sover hulle toegepas kan word, mutatis mutandis met betrekking tot rekenaarprogramme van toepassing.


(2) Die outeursreg in 'n rekenaarprogram word nie geskend nie deur 'n persoon wat in regmatige besit van daardie program, of 'n gemagtigde kopie daarvan, is indien-


(a) hy kopieë daarvan vervaardig in die mate wat redelikerwys noodsaaklik is vir die doeleindes van rugsteun;


(b) 'n kopie wat so vervaardig is, bedoel is uitsluitlik vir persoonlike of private doeleindes; en


(c) so 'n kopie vernietig word wanneer die besit van die betrokke rekenaarprogram, of gemagtigde kopie daarvan, ophou om regmatig te wees.


[A. 19B ingevoeg by a. 18 van Wet 125 van 1992.]


20 Morele regte


(1) Ondanks die oordrag van die outeursreg in 'n letterkundige, musiek- of artistieke werk, in 'n rolprent of in 'n rekenaarprogram het die outeur die reg, behoudens die bepalings van hierdie Wet, om aanspraak op outeurskap in die werk te maak en om teen enige verdraaiing of skending van, of ander verandering aan, die werk beswaar te maak waar sodanige optrede vir die eer of goeie naam van die outeur nadelig is of sal wees: Met dien verstande dat 'n outeur wat die gebruik van sy werk in 'n rolprent of televisie-uitsending magtig of 'n outeur van 'n rekenaarprogram of 'n werk wat verband hou met 'n rekenaarprogram nie veranderings mag verhinder of beswaar daarteen maak nie wat op tegniese gronde of vir die doel van kommersiële benutting van die werk, absoluut noodsaaklik is nie.


(2) 'n Skending van die bepalings van hierdie artikel word beskou as 'n skending van outeursreg ingevolge Hoofstuk 2, en by die toepassing van die bepalings van genoemde Hoofstuk word die outeur geag die eienaar van die betrokke outeursreg te wees.


[A. 20 vervang by a. 19 van Wet 125 van 1992.]


21 Eiendomsreg op outeursreg


(1) (a) Behoudens die bepalings van hierdie artikel berus die eiendomsreg op enige outeursreg wat by artikel 3 of 4 aan enige werk verleen word, by die outeur of, in die geval van 'n werk van mede-outeurskap, by die mede-outeurs van die werk.


(b) Indien 'n letterkundige of artistieke werk deur 'n outeur vervaardig word in die loop van sy diens by die eienaar van 'n koerant, tydskrif of dergelike blad ingevolge 'n diens- of leerlingkontrak, en aldus vervaardig word vir publikasie in 'n koerant, tydskrif of dergelike blad, is daardie eienaar die eienaar van die outeursreg in die werk vir sover die outeursreg betrekking het op publikasie van die werk in 'n koerant, tydskrif of dergelike blad of op reproduksie van die werk ten einde dit aldus te publiseer, maar in alle ander opsigte is die outeur die eienaar van enige outeursreg wat ingevolge artikel 3 of 4 in dié werk bestaan.


(c) Indien iemand 'n opdrag vir die neem van 'n foto, die skilder of teken van 'n portret, die maak van 'n gravure, die maak van 'n rolprent of die maak van 'n klankopname gee en met geld of in geldswaarde daarvoor betaal of hom daartoe verbind, en die werk ingevolge so 'n opdrag vervaardig word, is so iemand, behoudens die bepalings van paragraaf (b), die eienaar van enige outeursreg wat ingevolge artikel 3 of 4 daarin bestaan.


(d) Waar 'n werk in 'n geval wat nie deur paragraaf (b) of (c) gedek word nie, in die loop van die outeur se diens by 'n ander persoon ingevolge 'n diens- of leerlingkontrak vervaardig word, is daardie ander persoon die eienaar van enige outeursreg wat ingevolge artikel 3 of 4 in die werk bestaan.


(e) Paragrawe (b), (c) en (d) geld in elke bepaalde geval onderworpe aan enige ooreenkoms waarby die toepassing daarvan uitgesluit word en behoudens die bepalings van artikel 20.


(2) Eiendomsreg op outeursreg by artikel 5 verleen, vestig aanvanklik in die staat of die betrokke internasionale organisasie, en nie in die outeur nie.


[A. 21 vervang by a. 9 van Wet 56 van 1980.]


22 Oordragte en lisensies ten opsigte van outeursreg


(1) Behoudens die bepalings van hierdie artikel, gaan outeursreg as roerende goed oor deur oordrag, testamentêre beskikking of wetswerking.


(2) 'n Oordrag van, of testamentêre beskikking oor, outeursreg kan beperk word sodat dit geld vir slegs sommige van die handelinge wat die eienaar van die outeursreg die uitsluitlike reg het om te beheer, of vir slegs deel van die termyn van die outeursreg, of vir 'n bepaalde land of ander geografiese gebied.


(3) Geen oordrag van outeursreg en geen uitsluitende lisensie om 'n handeling te verrig wat onderhewig is aan outeursreg, is van krag nie tensy dit op skrif is en onderteken is deur of namens die oordraer, die lisensieverlener of, in die geval van 'n uitsluitende sublisensie, die uitsluitende sublisensieverlener, na gelang van die geval.


(4) 'n Nie-uitsluitende lisensie om 'n handeling te verrig wat onderhewig is aan outeursreg, kan skriftelik of mondeling wees, of kan uit optrede afgelei word, en kan te eniger tyd ingetrek word: Met dien verstande dat so 'n lisensie wat deur kontrak verleen is, nie ingetrek word nie, hetsy deur die persoon wat die lisensie verleen het of sy regsopvolger, behalwe soos deur die kontrak bepaal, of by verdere kontrak.


(5) 'n Oordrag, lisensie of testamentêre beskikking kan verleen of gedoen word ten opsigte van die outeursreg in 'n toekomstige werk, of die outeursreg in 'n bestaande werk waarin outeursreg nie bestaan nie maar in die toekoms tot stand sal kom, en die toekomstige outeursreg in so 'n werk kan as roerende goed oorgaan.


(6) 'n Testamentêre beskikking oor die stof waarop 'n werk vir die eerste keer geskryf of andersins aangeteken word, word by ontstentenis van 'n bepaling tot die teendeel, geag die beskikking van 'n outeursreg of toekomstige outeursreg in die werk in te sluit wat in die outeur ten tyde van sy dood gevestig is.


(7) 'n Lisensie ten opsigte van outeursreg verleen deur die persoon wat met betrekking tot die aangeleenthede deur die lisensie gedek, die eienaar van die outeursreg is, is bindend vir elkeen op wie sy belang in die outeursreg as regverkrygende oorgaan, behalwe iemand wat die lisensie te goeder trou en sonder kennis daarvan, hetsy werklik of konstruktief, koop of iemand wat sy reg van so 'n koper verkry, en 'n verwysing in hierdie Wet na die verrigting met betrekking tot outeursreg van enigiets met of sonder die vergunning van die eienaar van die outeursreg word dienooreenkomstig uitgelê.


(8) Waar die verrigting van 'n handeling geoorloof is vir die persoon aan wie 'n lisensie toegestaan is of iemand wat sy regte van so 'n persoon verkry het, en wat volgens die bepalings, met inbegrip van stilswyende bepalings, van die lisensie bevoeg is om sodanige regte te verleen, word die handeling by die toepassing van hierdie Wet geag met vergunning van die verlener van die lisensie en elke ander persoon, as daar is, vir wie die lisensie bindend is, te geskied.