Wet op outeursreg 98 van 1978/Hoofstuk 2
←Hoofstuk 1 | Wet op outeursreg 98 van 1978 Hoofstuk 2 Skendings van outeursreg en regsmiddels deur Regering van Suid-Afrika |
Hoofstuk 3→ |
HOOFSTUK
2
SKENDINGS VAN OUTEURSREG EN REGSMIDDELS (aa 23-28)
23 Skending
(1) Outeursreg word geskend deur iemand wat nie die eienaar van die outeursreg is nie en wat, sonder die vergunning van sodanige eienaar, 'n handeling in die Republiek verrig of laat verrig ten opsigte waarvan die eienaar die uitsluitlike reg het om dit te verrig of te magtig.
[Sub-a. (1) vervang by a. 20 (a) van Wet 125 van 1992.]
(2) Sonder om afbreuk te doen aan die algemeenheid van subartikel (1), word outeursreg geskend deur iemand wat sonder die vergunning van die eienaar van die outeursreg en op 'n tydstip wanneer outeursreg in 'n werk bestaan-
(a) 'n artikel in die Republiek invoer vir 'n ander doel as vir sy private en huishoudelike gebruik;
(b) 'n artikel in die Republiek verkoop, verhuur of by wyse van handel vir verkoop of verhuur aanbied of uitstal;
(c) 'n artikel in so 'n mate in die Republiek vir die doeleindes van handel, of vir enige ander doel, versprei dat die eienaar van die betrokke outeursreg nadelig geraak word; of
(d) 'n artikel wat op 'n rekenaarprogram betrekking het in die Republiek verkry,
[Par. (d) ingevoeg by a. 20 (b) van Wet 125 van 1992.]
indien die vervaardiging van daardie artikel na sy wete 'n skending van daardie outeursreg uitmaak of so 'n skending sou uitgemaak het as die artikel in die Republiek vervaardig was.
(3) Die outeursreg in 'n letterkundige of musiekwerk word geskend deur iemand wat toelaat dat 'n plek van openbare vermaak gebruik word vir 'n op- of uitvoering in die openbaar van die werk, waar die op- of uitvoering 'n skending van die outeursreg in die werk uitmaak: Met dien verstande dat hierdie subartikel nie van toepassing is nie in 'n geval waar die persoon wat toelaat dat die plek van openbare vermaak aldus gebruik word, nie bewus was, en nie redelike gronde gehad het om te vermoed, dat die op- of uitvoering 'n skending van die outeursreg sou wees nie.
(4) ......
[Sub-a. (4) geskrap by a. 20 (c) van Wet 125 van 1992.]
24 Aksie deur eienaar van outeursreg weens skending
(1) Die eienaar van outeursreg kan, behoudens die bepalings van hierdie Wet, weens skending van die outeursreg aksie instel, en by so 'n aksie is regshulp by wyse van skadevergoeding, interdik, lewering van skendende kopieë of plate wat dien of bestem is vir die maak van skendende kopieë of andersins vir die eiser beskikbaar op dieselfde wyse as by 'n soortgelyke geding ten opsigte van die skending van enige ander vermoënsregte.
[Sub-a. (1) vervang by a. 21 (a) van Wet 125 van 1992.]
(1A) In plaas van skadevergoeding kan die eiser na keuse 'n bedrag toegeken word wat bereken is op die basis van 'n redelike tantième wat deur 'n lisensiehouer ten opsigte van die betrokke werk of tipe werk betaalbaar sou gewees het.
[Sub-a. (1A) ingevoeg by a. 21 (b) van Wet 125 van 1992 en vervang by a. 55 van Wet 38 van 1997.]
(1B) Vir die doel van die bepaling van die bedrag van skadevergoeding of 'n redelike tantième wat kragtens hierdie artikel of artikel 25 (2) toegeken moet word, kan die hof gelas dat 'n ondersoek gehou word en die prosedures vir die hou van sodanige ondersoek voorskryf wat die hof nodig ag.
[Sub-a. (1B) ingevoeg by a. 21 (b) van Wet 125 van 1992 en vervang by a. 55 van Wet 38 van 1997.]
(1C) Voordat die eienaar van outeursreg verrigtinge kragtens hierdie artikel instel, moet hy of sy skriftelik kennis gee aan die uitsluitlike lisensiehouer of sublisensiehouer van die betrokke outeursreg van sy of haar voorneme om dit te doen, en die uitsluitlike lisensiehouer of sublisensiehouer kan tussenbeide tree in sodanige verrigtinge en skade wat hy of sy as gevolg van die betrokke inbreuk gely het of 'n redelike tantième waarop hy of sy geregtig is, verhaal.
[Sub-a. (1C) ingevoeg by a. 21 (b) van Wet 125 van 1992 en vervang by a. 55 van Wet 38 van 1997.]
(2) Wanneer daar by 'n aksie weens skending van outeursreg bewys of erken word dat 'n skending geskied het maar dat die verweerder ten tyde van die skending nie bewus was en geen redelike gronde gehad het om te vermoed dat daar outeursreg in die werk waarop die aksie betrekking het, bestaan nie, is die eiser nie ingevolge hierdie artikel geregtig om skadevergoeding ten opsigte van die skending op die verweerder te verhaal nie.
[Sub-a. (2) vervang by a. 21 (c) van Wet 125 van 1992.]
(3) Wanneer by 'n geding ingevolge hierdie artikel 'n skending van outeursreg bewys of erken word en die hof met inagneming van alle ander ter sake dienende oorwegings en van-
(a) die flagrante aard van die skending; en
(b) enige voordeel wat volgens gelewerde bewys as gevolg van die skending aan die verweerder toegeval het,
oortuig is dat die eiser anders geen doeltreffende regsmiddel tot sy beskikking sou hê nie, kan die hof by die vasstelling van skadevergoeding ten opsigte van die skending die addisionele skadevergoeding toeken wat die hof goed vind.
(4) By 'n geding weens skending van outeursreg ten opsigte van die oprigting van 'n gebou word geen interdik of ander bevel gegee-
(a) nadat die oprigting van die gebou reeds 'n aanvang geneem het, waarby die voltooiing daarvan belet word nie; of
(b) waarby die sloping van die gebou, vir sover dit reeds opgerig is, gelas word nie.
25 Reg van aksie en regsmiddels van uitsluitende lisensiehouer en uitsluitende sublisensiehouer
(1) 'n Uitsluitende lisensiehouer en 'n uitsluitende sublisensiehouer het dieselfde reg van aksie en is geregtig op dieselfde regsmiddels asof die lisensie 'n oordrag was en hierdie reg en regsmiddels is gelyklopend met die reg en regsmiddels van die eienaar van die outeursreg uit hoofde waarvan die lisensie of sublisensie toegestaan is.
(2) Voordat 'n uitsluitlike lisensiehouer of sublisensiehouer verrigtinge kragtens subartikel (1) instel, moet hy of sy skriftelik kennis gee aan die eienaar van die betrokke outeursreg van sy of haar voorneme om dit te doen, en die eienaar kan tussenbeide tree in sodanige verrigtinge en skade wat hy of sy as gevolg van die betrokke inbreuk gely het of 'n redelike tantième waarop hy of sy geregtig is, verhaal.
[Sub-a.
(2) bygevoeg by a. 22 van Wet 125 van 1992 en vervang by a. 56 van
Wet 38 van 1997.]
[A. 25 vervang by a. 1 van Wet 39 van 1986.]
26 Bewyslas in gedinge
(1) Waar daar in die geval van 'n letterkundige, musiek- of artistieke werk of rekenaarprogram, op kopieë van dié werk of program soos gepubliseer 'n naam verskyn het wat die naam van die outeur heet te wees, of, in die geval van 'n artistieke werk, so 'n naam ten tyde van die vervaardiging van die werk daarop verskyn het, word die persoon wie se naam aldus verskyn het, by 'n geding uit hoofde van hierdie Hoofstuk ingestel, indien dit sy werklike naam was of 'n naam waaronder hy algemeen bekend was, tensy die teendeel bewys word, veronderstel die outeur van die werk of program te wees.
(2) In die geval van 'n werk of program wat na bewering 'n werk of program van mede-outeurs is, geld subartikel (1) met betrekking tot elke persoon wat na bewering een van die outeurs van die werk of program is, asof verwysings in daardie subartikel na die outeur verwysings na een van die outeurs is.
(3) Indien daar by 'n geding uit hoofde van hierdie Hoofstuk ingestel ten opsigte van 'n letterkundige, musiek- of artistieke werk of 'n rekenaarprogram wat 'n anonieme of pseudonieme werk of program is, bewys word-
(a) dat die eerste publikasie van die werk of program in die Republiek geskied het en dat die werk of program aldus gepubliseer is binne die tydperk van vyftig jaar wat eindig by die aanvang van die kalenderjaar waarin die geding ingestel is; en
(b) dat 'n naam wat die naam van die uitgewer heet te wees op kopieë van die werk of program soos die eerste keer gepubliseer, verskyn het,
dan word, tensy die teendeel bewys word, vermoed dat daar outeursreg in die werk of program bestaan en dat die persoon wie se naam aldus verskyn het die eienaar van daardie outeursreg ten tyde van die publikasie was: Met dien verstande dat hierdie subartikel nie van toepassing is nie indien die werklike naam van die outeur van 'n pseudonieme werk algemeen bekend is.
(4) Indien by 'n geding uit hoofde van hierdie Hoofstuk ingestel met betrekking tot 'n letterkundige, musiek- of artistieke werk of 'n rekenaarprogram bewys of erken word dat die outeur van die werk of program oorlede is, word die werk of program by ontstentenis van bewys tot die teendeel vermoed 'n oorspronklike werk of program te wees.
(5) Subartikel (4) is ook van toepassing waar 'n werk of program gepubliseer is en-
(a) die publikasie anoniem was of plaasgevind het onder 'n naam wat volgens die eiser of die Staat se bewering 'n pseudoniem is; en
(b) daar nie bewys word dat die werk of program ooit onder die outeur se werklike naam of onder 'n naam waaronder hy algemeen bekend was, gepubliseer is nie of dat iemand sonder voorafgaande kennis van die feite die identiteit van die outeur deur redelike navraag sou kon vasstel nie.
(6) Indien by 'n geding uit hoofde van hierdie Hoofstuk ingestel met betrekking tot die beweerde skending van outeursreg in 'n rolprent bewys word dat die naam wat die naam van die outeur van daardie rolprent heet te wees, op die voorgeskrewe wyse daarop verskyn, word die persoon wie se naam aldus verskyn, vermoed die outeur van daardie rolprent te wees, tensy die teendeel bewys word.
(7) Indien by 'n geding uit hoofde van hierdie Hoofstuk ingestel met betrekking tot die beweerde skending van outeursreg in 'n klankopname bewys word dat die opnames waarin daardie klankopname of 'n deel daarvan vasgelê is aan die publiek uitgegee is en dat toe bedoelde opnames aldus uitgegee is, die volgende aansprake verskyn het op 'n etiket of ander drukwerk wat vasgeheg was aan dié opnames, of op of in iets waarin hulle verpak is, te wete-
(a) dat 'n persoon op die etiket of drukwerk genoem, die outeur van die klankopname is; of
(b) dat die klankopname die eerste keer in 'n jaar en op 'n plek op die etiket of drukwerk genoem, gepubliseer is;
is bedoelde etiket of drukwerk voldoende bewys van die aldus vermelde feite, behalwe vir sover die teendeel bewys word.
(7A) 'n Aanspraak beoog in paragraaf (a) van subartikel (7) kan gemaak word by wyse van die simbool "C" in samehang met die naam van die betrokke persoon, en 'n aanspraak beoog in paragraaf (b) van genoemde subartikel kan gemaak word by wyse van die simbool "P" in samehang met die betrokke jaar en plek.
(8) ......
(9) In enige verrigtinge uit hoofde van hierdie Hoofstuk met betrekking tot die beweerde skending van die outeursreg in 'n rolprent wat ingevolge die Wet op Registrasie van Outeursreg in Rolprente, 1977 (Wet 62 van 1977), geregistreer is, word daar vermoed-
(a) dat elke party by daardie verrigtinge kennis gehad het van die besonderhede ingeskryf in die register van outeursreg vermeld in artikel 15 van genoemde Wet vanaf die datum waarop die betrokke aansoek om aantekening van daardie besonderhede ingedien is;
(b) dat die persoon wat na bewering 'n handeling verrig het wat die betrokke outeursreg skend daardie handeling sonder die vereiste magtiging verrig het, tensy die teendeel bewys word.
(10) In enige verrigtinge uit hoofde van hierdie Hoofstuk met betrekking tot die beweerde skending van die outeursreg in 'n rolprent, 'n klankopname of 'n rekenaarprogram, word daar vermoed, totdat die teendeel bewys word, dat iemand wat handel dryf in die verkoop, verhuur of verspreiding van kopieë van die een of ander van genoemde werke en wat in besit gevind is van 'n kopie van die een of ander van genoemde werke, daardie kopie verkoop of verhuur of vir handelsdoeleindes te koop of verhuur aangebied of uitgestal het.
(11) Indien in enige verrigtinge uit hoofde van hierdie Hoofstuk met betrekking tot die beweerde skending van die outeursreg in 'n werk bewys word dat die persoon wat na bewering 'n handeling verrig het wat na bewering die betrokke outeursreg skend, sodanige handeling sonder die magtiging van die uitsluitende lisensiehouer verrig het, word, tensy die teendeel bewys word, vermoed dat die betrokke handeling ook sonder die magtiging van die eienaar van die betrokke outeursreg verrig is.
(12) (a) In enige verrigtinge uit hoofde van hierdie Hoofstuk met betrekking tot die beweerde skending van die outeursreg in 'n werk, kan getuienis om-
(i) die bestaan van outeursreg in die werk; of
(ii) die reg van 'n persoon met betrekking tot dié outeursreg, hetsy by wyse van eiendom of vergunning,
te bewys, by wyse van beëdigde verklaring voorgelê word, en die blote voorlegging van so 'n verklaring in sodanige verrigtinge is prima facie-bewys van die relevante feite.
(b) Die hof voor wie 'n beëdigde verklaring bedoel in paragraaf (a) gelê word, kan na goeddunke gelas dat die persoon wat die verklaring afgelê het, gedagvaar word om mondelinge getuienis in die betrokke verrigtinge af te lê, of kan gelas dat skriftelike vrae aan die persoon vir beantwoording voorgelê word, en enige antwoord wat 'n antwoord van dié persoon heet te wees, is insgelyks toelaatbaar as getuienis by sodanige verrigtinge.
[A. 26 gewysig by a. 3 van Wet 66 van 1983, by a. 10 van Wet 52 van 1984 en by a. 3 (1) van Wet 13 van 1988 en vervang by a. 23 van Wet 125 van 1992.]
27 Strawwe en gedinge ten opsigte van handelinge wat outeursreg skend
(1) Iemand wat terwyl outeursreg in 'n werk bestaan, sonder die magtiging van die eienaar van die outeursreg artikels wat na sy wete skendende kopieë van die werk is-
(a) vir verkoop of verhuur vervaardig;
(b) verkoop of verhuur of vir handelsdoeleindes te koop of te huur aanbied of uitstal;
(c) vir handelsdoeleindes in die openbaar ten toon stel;
(d) behalwe vir sy private of huishoudelike gebruik in die Republiek invoer;
(e) vir handelsdoeleindes versprei; of
(f) vir enige ander doel in so 'n mate versprei dat die eienaar van die outeursreg daardeur benadeel word,
is aan 'n misdryf skuldig.
[Sub-a. (1) vervang by a. 11 (a) van Wet 52 van 1984 en by a. 3 van Wet 61 van 1989.]
(2) Iemand wat terwyl outeursreg in 'n werk bestaan, 'n plaat maak of in sy besit het wat na sy wete bestem is om vir die vervaardiging van skendende kopieë van die werk gebruik te word, is aan 'n misdryf skuldig.
(3) Iemand wat 'n letterkundige of musiekwerk in die openbaar laat op- of uitvoer met die wete dat daar outeursreg in die werk bestaan en dat die op- of uitvoering 'n skending van die outeursreg uitmaak, is aan 'n misdryf skuldig.
(4) Iemand wat 'n uitsending in 'n verspreidingsdiens laat heruitsaai of oorsend met die wete dat outeursreg in die uitsending bestaan en dat bedoelde heruitsending of oorsending 'n skending van die outeursreg uitmaak, is aan 'n misdryf skuldig.
(5) Iemand wat programdraende seine laat versprei deur 'n verspreider vir wie hulle nie bestem is nie met die wete dat outeursreg in die seine bestaan en dat bedoelde verspreiding 'n skending van die outeursreg uitmaak, is aan 'n misdryf skuldig.
(6) Iemand wat weens 'n misdryf ingevolge hierdie artikel skuldig bevind word, is strafbaar-
(a) in die geval van 'n eerste skuldigbevinding, met 'n boete van hoogstens vyfduisend rand of met gevangenisstraf vir 'n tydperk van hoogstens drie jaar of met sowel daardie boete as daardie gevangenisstraf, vir elke artikel waarop die misdryf betrekking het;
(b) in enige ander geval, met 'n boete van hoogstens tienduisend rand of met gevangenisstraf vir 'n tydperk van hoogstens vyf jaar of met sowel daardie boete as daardie gevangenisstraf, vir elke artikel waarop die misdryf betrekking het.
[Sub-a. (6) vervang by a. 11 (b) van Wet 52 van 1984 en by a. 24 (a) van Wet 125 van 1992.]
(7) ......
[Sub-a. (7) geskrap by a. 24 (b) van Wet 125 van 1992.]
(8) ......
[Sub-a. (8) bygevoeg by a. 11 (c) van Wet 52 van 1984 en geskrap by a. 24 (b) van Wet 125 van 1992.]
28 Voorsiening vir beperking op invoer van kopieë
(1) Die eienaar van die outeursreg in 'n gepubliseerde werk kan aan die Kommissaris van Doeane en Aksyns (in hierdie artikel "die Kommissaris" genoem) skriftelik kennis gee-
(a) dat hy die eienaar van die outeursreg in die werk is; en
(b) dat hy die Kommissaris versoek om gedurende 'n tydperk in die kennisgewing vermeld, kopieë van die werk waarop hierdie artikel van toepassing is, as verbode goedere te behandel:
Met dien verstande dat die tydperk in 'n kennisgewing ingevolge hierdie subartikel vermeld, nie tot later strek as die einde van die tydperk waarvoor die outeursreg geld nie: Met dien verstande voorts dat die Kommissaris nie verplig is om ingevolge so 'n kennisgewing op te tree nie tensy die eienaar van die outeursreg aan hom sekuriteit verstrek in die vorm en vir die bedrag wat hy vereis om die nakoming van enige verpligting en die betaling van enige uitgawe te verseker wat hy mag oploop uit hoofde van die terughou deur hom van 'n kopie van die werk waarop die kennisgewing betrekking het, of as gevolg van enigiets deur hom gedoen met betrekking tot 'n kopie aldus teruggehou.
[Sub-a. (1) gewysig by a. 25 (a) van Wet 125 van 1992.]
(2) Hierdie artikel geld vir elke kopie van die betrokke werk wat buite die Republiek vervaardig is en wat, indien dit in die Republiek vervaardig was, 'n skendende kopie van die werk sou wees.
(3) Indien kennis ooreenkomstig hierdie artikel ten opsigte van 'n werk gegee is en nie ingetrek is nie, is dit verbode om te eniger tyd voor die einde van die tydperk in die kennisgewing vermeld, 'n kopie van die werk waarop hierdie artikel van toepassing is, in die Republiek in te voer.
(4) Ondanks die bepalings van die Doeane- en Aksynswet, 1964 (Wet 91 van 1964), is niemand aan straf ingevolge daardie Wet (behalwe verbeurdverklaring van die goedere) onderhewig uit hoofde daarvan dat goedere ingevolge hierdie artikel as verbode goedere behandel word nie.
(5) Hierdie artikel is mutatis mutandis van toepassing met betrekking tot 'n uitsluitende lisensiehouer wat die reg het om 'n werk wat elders gepubliseer is, in die Republiek in te voer.
[Sub-a.
(5) vervang by a. 25 (b) van Wet 125 van 1992.]
[A. 28
vervang by a. 12 van Wet 52 van 1984.]