Loeloeraai/Twee leerlinge

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Twee besoekers Loeloeraai
Twee leerlinge
deur C. J. Langenhoven
Sware verantwoordelikheid


Twee leerlinge[edit]

Met die stilhou van die kar hoor ek ou Stoffel se stem.

,,Kerneels, roep weg hierdie lowwes van ’n slurpvark van jou. Hy maak my vosperde senuweeagtig.”

,,Herrie,” skree ek, ,,gee pad daar by die oubaas se kar. Hy het nie kos saam gebring nie. Naand, oom Stoffel.”

,,Naand, Neels. Ek het jou laat weet ek kom. Jy ’t seker die geldjies reg, nè ?”

,,Wag, Oom; ons sal daaroor gesels. Ek het ’n baie wonderlike ding hier om vir Oom te wys ... Kiewiet, sit maar vereers die voorhamer daar langes die agterdeur neer, en span uit die oubaas se perde en besorg hulle.”

Toe kom Vroutjie nader.

,,Naand, oom Stoffel.”

,,Naand, Lenie. Alla wêreld, niggie, jy word by die dag jonger en mooier, sou ek gesê het as dit nie te donker was om te sien nie. Maar wat, ek weet sommer sonder om te sien. Groetnis van Soetlief.”

,,Dankie, Oom. Is sy fris ? En Maakrit ?”

,,Grietjie is op Stellenbosch. Sy’s fris. Fris en duur. Soetlief is nog maar altyd aan’t oefen. Maar sy vorder. By die skoene is sy al ’n nommer onder en by die lyfgoed twee. Probeer glo om my goedkoper uit te kom met vermindering van stoffasie. Maar dit lyk my hoe minder hoe duurder. Daarom is ek besig om geldjies in te vorder. Ek is mos ook op my ou dag ’n dorpse man. Dit lyk my ek sal nog moet leer steel ook om by te hou.”

Engela kom by die agterdeur uit met die mauser en ’n lantern.

,,Naand, oom Stoffel,” sê sy en sy draai die lantern so dat die lig in die ou se gesig val terwyl sy self in die donker bly.

,,Naand, Engela. Waarom soen jy my nie ? Of is jy al te groot ? Of is jy bang die kleur sal afgee ?”

,,Ek smeer maar olie aan my kin, Oom, om te sien of daar nie wil ’n bokbaardjie opkom nie. Ons kry mos vroue-stemreg. En ek wil aan die ou kant staan waar Oom is. Maakrit met haar nuwe Stellenbosse modes sal seker met Pappa saamgaan.”

,,Engela,” sê die ou, ,,moenie te ver agteruitgaan nie, my kind. Jy kom naderhand by Eva se vyeblare uit. En by die slang. As jy klaar het met toor in my oë, draai tog die lig na jou kant toe om dat ek kan sien watter soort ontdeksel ’n mens nog hier op Oudtshoorn op skuld kry.”

,,Dit lyk of dit meer bekommernis kos om skuldeiser te wees as skuldenaar, nè oom Stoffel ?”

,,’n Vroumens is darem fyn, Engela. Ek het gedog jy ken maar net jou pa. Nou sien ek jy ken my ook. Waarvoor het jy dan nog ’n lantern nodig ? En wat help dit om vir my met ’n geweer te ontvang? Het jou pa patrone genoeg vir al sy krediteure ?”

,,Oom Stoffel dink net aan die geld en jy verwaarloos jou onsterflike siel.”

,,Ek sien, my kind. Jy wil jou pa die geld laat behou en vir my die siel, nè ?”

Ek en Vroutjie bars van die lag uit. Ou Stoffel is die enigste mens in die wye wêreld wat vir Engela nou en dan kan doodsit.

,,Oom Stoffel,” sê ek, ,,jy en Engela kan julle interessante gesprek vanaand vervat. As daar nie jongkêrels kom nie. Kom kyk nou eers wat het hier uit die lug op ons afgekom.”

Ons loop nader. Ou Stoffel vat die lantern by Engela en belig en bekyk die sfeer rondom.

,,Magtig, Neelsie,” sê die ou, ,,jy sal regkom nou. Dit lyk vir my die ding is van loutere agtienkaraatgoud. En hy moet omtrent honderd ton weeg.” Die ou sit sy skouer teë en hy lê weg maar die sfeer roer nie. ,,Roep jou olifant. Kerneels. Laat ons sien of hy die ding kan omrol.”

,,Nee, oom Stoffel, alla goeie!” sê Vroutjie. ,,Straks ontplof die ding. Wie weet is dit nog ’n verdwaalde oorlogstuig van die Duitsers. Sal ons hom nie maar so laat staan tot môre toe nie?”

,,Nee a, Mamma,” val Engela in. ,,Sê nou hy vlieg weer in die nag weg, waar kry Pappa die geld om oom Stoffel te betaal?”

,,En aan te hou met klere koop,” sê ek.

,,Ja, en dis nodig, Pappa,” sê Engela.

,,Wag,” sê oom Stoffel. ,,So danig maklik kan die ding nie ontplof nie – dan kon hy nie so lank gehou het nie.” En die ou klop met sy kneukels. ,,Die dop moet vervlaks dik wees,” sê die ou. ,,Maar hy klink darem vir my half nes hy hol is.”

En toe kom daar van binne af, byna onhoorbaar dof, asof uit die verte, ’n herhaling van die klop: dieselfde getal slae. ,,Een – twee – drie – vier – vyf –”

,,Sou dit toeval wees,” vra ou Stoffel, ,,of is dit ’n mens ? Wag, ons sal dit gou bepaal.”

Toe klop hy met ’n plan. ,,Een – twee . . . een – twee – drie . . . een.”

Oor ’n rukkie kom die antwoord, weer net so dof: ,,Een – twee . . . een – twee – drie . . . een.”

,,Kerneels, die ding sal nie ontplof nie. Daar’s ’n mens in.”

,,Ja, wragtig, Oom; dis ’n mens.”

,,Pappa, Pappa!” skree Engela, ,,kyk daar wil ’n luikgat oopgaan.”

,,Ja, regtig,” sê ek. ,,Hoe op aarde het hulle die deksel gekry om so vas te pas dat jy geen lyntjie van ’n naatjie kon sien by die voeg nie ?”

Ou Stoffel hou die lig op die plek. Vlak voor ons draai ’n deksel, so groot soos ’n wa se voorwiel, stadig in die rondte na binne toe. Ek vat die mauser en ek hou reg, met die korrel in die middel van die draaiende skyf. En toe val díe skielik in, maar daar hang nog ’n gordyn binne voor die opening.

,,Moenie sommer skiet nie, Ouman,” sê Vroutjie.

,,Nee, Vroutjie, maar ek wil darem klaar wees vir hom. Met sulke soorte besoekers moet ’n mens op jou hoede wees.”

’n Hand skuif die gordyn opsy en ’n man se kop en skouers kom by die luikgat uit. Lange golwende hare en ’n fyn gekartelde baard, geel en glansend soos goud; ’n gewelf van ’n voorkop met ’n netwerk van fyne plooilyntjies wat kom en gaan soos op stille waters; en daaronder ’n paar grote bloue oë, diepblou soos viooltjies, skitterend, vonkelend, stralend.

’n Gesig van onaardse skoonheid, maar sterk, sterk in sy uitdrukking van wilskrag en vernuf. En daarby soet, van liefde glimmend. So was die indruk.

Ons tree almal agteruit, oorstelp. Die geweer voel na ’n verraderlike moordtuig in my hande; ek skaam my asof ek op ’n lae daad betrap was.

Die figuur druk op die onderrand van die ronde opening. Met ’n beweging so rats dat ons dit nie kan volg nie is hy soos ’n blits uitgespring en hy staan voor ons. Hy het ’n losse sleepgewaad aan van ’n stof wat iets na groen satyn lyk. Aan sy voete het hy sandale. Van die knieë af is sy bene kaal.

Met ’n paar onverstaanbare woorde in ’n soetmusikale stem maak hy ’n vriendelike buiging voor ons. Toe strek hy sy hand uit en hy wys na die aandster wat net oor die donker rand van die berge wil ondergaan. Vervolgens wys hy na die sfeer waar hy net uitgeklim het, en weer na die ster.

,,Wat sou hy met die ster wil maak ?” vra oom Stoffel. Van almal van ons was hy die minste verslae.

,,Dit lyk vir my, oom Stoffel,” antwoord ek, ,,hy wil ons beduie dat dit daarvandaan is wat hy kom.”

Ou Stoffel lag. ,,Ek het baie vreemde besoekers raakgeloop, elkeen met ’n ander soort hoë aanspraak. Maar hierdie een is dan die eerste wat voorgee dat hy uit die hemel kom.”

,,Nee, oom Stoffel, dit volg nie,” sê ek. ,,Dis nie ’n brandende ster of son daardie nie. Dis ’n planeet – net so ’n wêreld soos ons s’n. En ons naaste buurman, buiten die maan wat maar ’n onvrugbare dogter van ons is, woes en dor en onbewoonbaar, sonder lug of water, klein en niksbeduidend. Maar ook daardie aandster kry maar sy lig van die son. Ons lyk vir hom ook na ’n hemelliggaam, en baie groter en skitterender as hy vir ons. Want hy sien ons partykeer vol, en ons sien maar sy kwartiere. Buiten wanneer hy ver weg is aan die oorkant van sy baan, vertoon hy altyd maar ’n sekel, soos Oom deur ’n behoorlike vérkyker kan sien.”

,,Ja, Kerneels, ja, ja,” sê oom Stoffel, nes iemand wat ’n kindjie of ’n malman paai. ,,Ja, Kerneels, ek weet. Die aarde draai om ’n as en die son staan stil. Ek word ook al daar in die dorp geleerd. As ek so vorder sal jy jou verwonder wat ek naderhand alles sal glo.”

,,Oom Stoffel,” kom Vroutjie tussenin, meer prakties, ,,kom ons gaan almal eers eet. Ons kan altyd nog later die sterrekundige bespreking vervat. Ouman, bring jou besoeker.” (Natuurlik was dit my besoeker. ’n Mens wis mos nog nie.)
Ek het dan die vreemdeling se arm geneem. Hy het sommer verstaan hy word verwag om saam te gaan. Vroutjie en ou Stoffel loop voor. Engela vat my ander arm.

,,Pappa, kan dit waar wees wat die man beduie dat hy daar van Venus af kom.?”

,,My kindjie, die jongste ontwikkelinge van die wetenskap moet ons laat besef dat ons geen perke kan stel aan wat moontlik is vir ons mensevernuf op hierdie wêreld nie. Hoe sal ons vir ander wêrelde waar ons niks van weet nie ’n streep trek ?”

Die vreemdeling het ewe lekker saam geëet. Hy het noukeurig opgelet hoe ons met die tafelgereedskap te werk gaan en voor ons klaar was, kon ’n mens nouliks aan sy maniere bespeur dat hy dit alte swaar kry om hom by die onbekende omgewing aan te pas.

Ná die ete kom Engela op ’n blink gedagte. Sy gaan ’n papierblok en ’n potlood haal en sy sit dit voor die vreemdeling neer. Hy bedank haar met ’n vriendelike glimlag, neem dadelik die potlood en trek ’n paar vlugge lyne op die papier, terwyl ons oor sy skouer kyk. ,,Vroutjie, dis die sonnestelsel wat hy afteken. Kyk, hy het die son in die middel en die planete rondom, elk in sy kring om sy loopbaan aan te dui.”

Die vreemdeling kyk op om te sien of ons verstaan. Ek neem die potlood by hom en merk met stippies die mane wat bekend is; een by die Aarde, twee by Mars, agt by Jupiter, tien by Saturnus, vier by Uranus, en een by Neptunus. Verder trek ek ’n paar ringe om Saturnus.

Die vreemdeling se oë skitter van opgenomenheid. Die bewoners op wat vir húlle, daar van sy wêreld af, die blinkste ster is, is darem nie totaal barbaarsonkundig nie! Hy sit eers ’n paar mane by wat ons nog nie ontdek het nie, en toe trek hy van Venus af na die Aarde toe ’n tittel-streep, en hy wys weer na homself.

,,Ja, oom Stoffel,” sê ek, ,,hy kom van die aandstér af.”

,,Nie altemit van die môrester af nie ?” vra die ou.

,,Ja, Oom. Die twee is een en dieselfde, afwisselend, soos Oom sal sien as jy hierdie kaartjie van die sonnestelsel wil bestudeer wat die man hier afgetrek het.”

,,Ja, Kerneels. Ja, ja. Ek glo hom. Hy’s dan ’n onbekende vreemdeling. Ek sou gewillig gewees het om hom vir borg aan te neem as ek jou verder uitstel kon gee, Kerneels.”

,,Pappa,” sê Engela, ,,oom Stoffel moet nog eers slaap oor die ding.”

,,Ja, my kind,” sê die ou. ,,Ek droom nie solank as ek nog wakker is nie. Waarom praat julle nie met die man Engels nie?”

,,Omdat hy te gaaf lyk vir ’n Sap,” sê Engela, bitsig.

,,Engela, Engela!” vermaan Vroutjie.

,,Kom ons probeer om sy naam agter te kom om mee te begin, Pappa,” sê Engela om die vorige draaitjie verby te kom. Sy wys na my: ,,Kerneels!” sê sy; en so op die ry af. ,,Lenie, Stoffel, Engela. Waar is Jakhals ?” Jakhals hoor sy naam en steek sy kop oor die tafel se rand uit. ,,Jakhals!” sê sy.

Die vreemdeling wag nie. Hy dui een vir een aan en noem sy naam: ,,Kerneels, Lenie, Stoffel, Engela, Jakhals.” Toe wys hy na homself toe. ,,Loeloeraai!” sê hy.

,,Pappa, ons sal hom baie gou Afrikaans leer.” En sy wys na een vir een voorwerp in die kamer en noem die naam. ,,Tafel, stoel, deur, muur, skildery, rak, boek” . . . en so voorts. Een maal is genoeg. Toe begin sy met werkwoorde. ,,Engela fluit, Engela slaan op die tafel, pappa rook.” (Sy knyp Jakhals se oor.) ,,Jakhals huil, Jakhals knor, Jakhals hap.” Elke woord hoef sy maar een maal te sê. Oor ’n halfuur begin Loeloeraai kort sinnetjies te praat.

Ou Stoffel word meer en meer ongeduldig. ,,Kan julle nie sien dis bedrog nie.?” vra hy. ,,Die kêrel ken al die tyd net so goed Afrikaans as ek. Daarom leer hy so maklik.”

Loeloeraai kyk vir oom Stoffel. (Hy het lange tyd al uit die ou se houding sy agterdog opgemerk.) Maar sy uitdrukking wys geen ongeduld nie.

,,Loeloeraai leer maklik,” sê hy met ’n glimlag. ,,Stoffel leer maklik.” Hy steek sy hand in sy bors en haal ’n ovaalronde voorwerp uit, so groot soos ’n duifeier, goudgeel, ’n komplete modelletjie van die sfeer wat hy mee gekom het. Hy hou dit op sy plat hand en roer sy hand op en af soos iemand wat die gewig wil skat. Toe gee hy dit vir die ou aan.

,,Weeg omtrent ’n kwart pond,” sê Oom Stoffel.

Loeloeraai neem dit terug en sit dit op die tafel neer. Die ou vat die dingetjie, en toe die ander van ons, één vir één, maar ons kan dit nie roer nie. Loeloeraai raak dit met sy vinger aan; die ding rys van die tafel af op, ’n voet of drie, en bly in die lug hang, los. Toe vat hy dit en hy steek dit weer in sy bors.

,,Sien oom Stoffel?” sê Engela. ,,So het hy gekom met daardie goue vaartuig daarbuite. Pappa en Mamma het hom uit die lug uit sien neerdaal.”

,,My kind,” sê die ou, ,,wees verdraagsaam met jou ou oom. Daar is baie dinge wat ek nie verstaan nie. Jy weet, Engela, ou Oom het nooit die voorreg gehad om een dag skool te gaan nie.”

,,Nou ja, en ek het Oom net so lief daarsonder.” En sy gryp die ou man om sy nek en sy gee hom ’n soen. Ek ken vir Engela. Sy was te hoogmoedig om meteens reguit ekskuus te vra; sy ’t gewag vir die eerste ekskuus vir die ekskuus.

,,En ek moet die vreemdeling om verskoning vra,” gaan ou Stoffel voort. ,,Ek weet nog nie of ek hom moet glo nie. Ons is maar alte maklik die prooi van skoonskynende vreemde skelms. Maar ek sien nou darem dat ek my oordeel moet terughou. Hoe sal hy my verstaan ?”

,,Ek dink hy verstaan nou al,” sê Engela.

Loeloeraai kyk op na haar toe en glimlag. Toe glimlag hy vir oom Stoffel en die ou glimlag terug – die eerste vriendelike blik wat hy die vreemdeling gee.