Loeloeraai/Twee besoekers

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Voorwoord Loeloeraai
Twee besoekers
deur C. J. Langenhoven
Twee leerlinge


Twee besoekers[edit]

Ons twee oues, ek en Vroutjie – nou ja, ons een oue dan – het onder Herrie se eikeboom gesit en mekaar se handjies vasgehou. En wanneer ek dit sê dan bedoel ek natuurlik ek het háár hand vasgehou. Tussen ons twee is dit altyd ek wat die verleë aangetroude familie is.

Ons voordeur gaan sonop se kant toe oop. So behoort ’n mens ook jou huis te bou, en as hy anders gebou is, is dit raadsaam om hom te vat en om te draai. Want as jou oggend sonder sonneskyn begint, is jou hele dag droewig en benéweld. Buitendien dan verslaap jy jou. My kamer is so vroeg warm dat ek nie ’n wekker nodig het nie. Die vlieë maak my wakker. Ek moet nog eendag ’n leersame en lesenswaardige opstel oor die vlieg skryf. Nie hier nie – ek is vereers met iets anders besig.

Agter ons huis, maar weg van die agterdeur af, skuins eenkant toe, staan die groot eikeboom waar ons olifant Herrie in die eerste dae van sy diens aan twee bokwakettings vasgestaan het; en onder die boom het ek ’n lekker gemaklike en netjiese rusbank gemaak vir my en Vroutjie om in die aande op te gaan sit en mekaar se handjie vas te hou en die sonsondergang te bewonder. Díe aande, meen ek, wanneer Vroutjie in ’n digterlike en liefderyke bui is. (Ek is altyd in albei.) Want soos dit twee mense kos om te twis, al bly een ook stil, so kos dit twee mense om te vry, al bly een ook koel.

Soos ek gesê het, die eikeboom het bietjie weggestaan en Vroutjie wou koelte hê op die agterdeur teen die bloedige namiddagson. Toe het sy vir haar daar ’n peperboom geplant – een van die bome wat jy nie vir die verre nageslag hoef te plant nie. En hierdie een was gou, bo en onder. So gou dat sy wortels die derde jaar die huis begin op te lig het. Voordat die opdraand binnekant te steil geword het, het ons dan die boom afgekap. Vroutjie het gekap en ek het bygestaan en by elke hou gesê Hê! (Ons het ons werk so verdeel dat sy die buitewerk doen en ek die huiswerk – behalwe wat nou eintlik vrouelike huiswerk is.) Maar toe die boom af was, was ons opgeskeep met ’n klomp allementige lange wingerdranke. ’n Paar jaar vantevore het ek stokkies gekry om vir my ’n wingerd te plant – want wat maak ’n mens sonder ’n wingerd ? – en hulle ingelê. Planttyd was ek hier doende en daar doende en so het die stokke maar in die peperboom opgerank. Toe hy nou onder hulle uitgekap was, het ek ’n netjiese somerhuis van pale en sparre daar opgesit en sommer die ranke deurgevleg. Toe die somerhuis klaar getimmer was, was hy meteens klaar toegegroei ook. Vroutjie had haar koelte en ek sou my druiwe hê – meer as wat ek uit twee wingerde kon gekry het. Ek moet hier byvoeg, ter wille van volledigheid, dat die skema uiteindelik misluk het. (’n Mens moet ook nie ’n onderneming ’n ,,skema” noem nie, dan misluk hy vanself. Al is dit ook ’n besproeiingswerk.) Toe die eerste jaar se druiwe volgeswel was en hier en daar ’n trossie bont word – maar ek verseker jou dit was alte pragtig om te sien! – toe sak die somerhuis van die gewig van die druiwe inmekaar. My werk was deeglik genoeg gewees; die pale en sparre was te swak.

Maar die aand waar ek nou van praat, was nog vroeg in Desember toe die somerhuis op sy beste van sy dae was. Dit was sterk skemer. Herrie, die olifant, nes ’n yslike hansvark, altyd ongeërg en onverstoord, kalm en bedaard, maar altyd lomp woelig, was besig om rond te snuffel. Hier keer hy ’n kookpot om wat van die skuur nog daar bly staan het, om te sien of daar nie kos onder tussen die pote oorgebly het nie, terwyl die binnekant dan leeg was. Daar trek hy ’n potplant uit voordat hy proe dat dit nie eetbaar is nie. As ek weer sien, het hy ’n wingerdrank beet en hy ruk byna my somerhuis om; dan moet ek hom met ’n klip verwilder. Jakhals lê by my en Vroutjie op die bank – hy is mos één van ons twee – aan die slaap, met sy kop op ounooi se skoot. Engela is vlytig in die huis besig, vermoedelik met haar persoon.

Hier en daar begin van die ander sterretjies een vir een opgesteek te word. Maar vlak voor ons, nie van die dag nie en nie van die nag nie, tussen die westerglorie van die hemelkleure wat deur die ondergegane son ’n wyltjie agtergelaat is, en soos ’n vlammetjie op ’n bed van gloeiende kole, skyn die aandster goudblink met ’n vaste, troue glans wat straal sonder om te vonkel. Teen die berge in die verte wat ons gesigskring beperk en waar hy later ook sal ondergaan agter die son aan, en op die laer heuwels deeskant hulle, en oor die ghwarrievlakte aan hulle voet, en die landerye van ons plasie, sak die duisternis dikker en dikker toe en die omtrekke van boom en bos en muur en laning raak verlore. Van alle kante begin die stemme van die nag na ons toe aan te ruis. Nou en dan lig Jakhals die punt van sy los oor op en frons sy voorkop en kry amper een oog oop; een slag (dit was ’n kat) tel hy sy kop op. Maar hy gee ’n sug en hy slaap maar weer. Op ounooi se skoot is saligheid.

,,Ek wonder, Vroutjie,” sê ek, hardop mymerend, ,,of daar mense op Venus woon.”

,,Venus ?” vra sy, ingedagte.

,,Ja, Vroutjie. Op daardie heerlike aandster. Hy moet ’n bekoorlike wêreld wees. Hy’s so te sê net so groot soos die aarde, en byna ’n derde nader aan die son.”

,,Dis hier al warm genoeg,” sê Vroutjie ondigterlik.

,,Ja, Vroutjie, maar Venus het sy beskerming. Hy is met ewigdurende dikke wolke bedek. Daarom kan die sterrekykers nie uitmaak of daar aanduidings van die werke van inwoners is, soos kanale en stede nie.”

,,Waaroor maak jy jou tog oor sulke dinge moeg, Ouman ? Is daar nie na jou sin genoeg mense hier op die aarde nie ?”

,,Genoeg nie, Vroutjie ? Hier is te veel. Oorvloediglik en oorbodiglik oorgenoeg.”

,,Nou ja ?”

,,Nou ja. Te veel en te naby. As ek wis dat daar op die ander wêrelde mense woon, sou ek hulle baie liefhê. Hulle versondig my nie. Daarom sê die gebod dat ’n mens jou naaste moet liefhê. Vir díe wat op ’n afstand is, was daar geen gebod nodig nie . . . Buiten wat ’n mens se vrou en kinders betref,” val dit my betyds by om by te voeg.

,,Ouman, ons kan die aandster môre-aand weer sien en ons met bepeinsings oor sy bewoonbaarheid besighou. Kyk vereers daardie snaakse vliegtuig regoor ons kop.”

Ek en Vroutjie was eenmaal in ’n vliegtuig op. Van skone weelderigheid en net om te kon sê ons het gevlieg. Van daardie tyd af stel sy ’n persoonlike belang in die goed, asof hulle almal hare was, maar hier onder van die harde grond af. Maar dit was ’n snaakse een hierdie slag. Langwerpig-rond nes ’n reusagtige eier, geelblinkend teen die laaste skynsel van die aandrood. Maar geen vlerk of rad daaraan nie, en geen mandjie onder nie. Anders sou ek gedink het dit was ’n lugbal.

,,Engela, Engela!” roep Vroutjie. ,,Kom kyk wat kom hier aan.”

,,Ek kan nie nou uitkom nie, Mamma,” hoor ek uit die binnekamer. ’n Half-ongeduldige, half-belemmerde stem. Haarnaalde, dog ek. (Ekself sou my nie met daardie soort nimmerstakende moeilikheid vrywillig teen my sin belas nie. Maar ’n meisiemens is nou eenmaal bestem om ’n vroumens te word.)

Ondertussen kom die lugding al dalende nader.

,,Wragtig, Vroutjie, hy is van plan om op my somerhuis te kom sit.” En ek vlie weg somerhuis toe en ek swaai my arms en ek skree. Jakhals hardloop saam, blaf-blaf, meeste op sy agterpote, om die vyand halfpad te kan ontmoet. Herrie kom ook nader, slurp orent. Ek sou gedink het ons moet ’n skrikwekkende vertoning gemaak het. Maar ek kon nie merk dat die vliegman – as daar een in die dop was – hom aan ons steur nie. Ek wis ook nie hoe hy ons kon sien nie, want daar wys geen die minste venster of opening aan die onderkant van die ding nie. Hy sak stadig tot hy ’n twaalf voet van die grond af is, maar net soos ek my klaar maak om my meesterstuk te sien verongeluk, gee die ding ’n swaai; en stil en sag soos ’n veerdons kom hy op die gelyk grond vlak voor my tot rus.

Toe kom Vroutjie ook by en Engela kom by die agterdeur uitgevlieë. Sy kan haastig klaar maak wanneer sy nuuskierig is. Jakhals beruik die onbekende voorwerp rondom maar sonder blykbare bevrediging. Herrie kyk vir my met ’n hoopvolle blik aan, maar ek gee hom nog nie aanmoediging nie.

,,Nee, Herrie,” sê ek, ,,wag eers. Altemit sal ek jou ’n bietjie naderhandter nodig kry.”

Ek loop die bol om en om en ek trek vuurhoutjies, maar daar is nie die minste opening te sien nie, nie soveel as ’n naat of ’n voeg nie. Dis blykbaar één vaste stuk metaal; omtrent twintig voet hoog en twaalf of vyftien voet in die wydte; gladblink soos ’n spieël en geel soos goud.

,,En toe, Ouman,” sê Vroutjie. ,,Wees nou slim.”

,,Jy weet, Vroutjie, waar jy by is, is ek altyd slim genoeg om stil te bly.”

,,Ja,” sê sy; ,,altyd slim genoeg waar dit onnodig is. Dit lyk vir my dis van jou mense van Venus wat nie langer op ’n afstand wil bly vir jou liefde nie.”

,,How perfectly lovely!” gushes Engela.

,,Dogtermens,” sê ek, ,,hoeveel maal het ek jou gebied om jou Engels te hou vir jou Engelse jongkêrels ?”

,,Pappa, ek het g’n Engelse jongkêrels nie.” En sy skud wat haar bosgasie sou gewees het as haar ouderdom nie die haarnaalde ingehaal het nie.

,,Maar dan het húlle darem ’n Engelse nooi,” sê ek.

,,Stil, Kerneels,” order Vroutjie. ,,En toe ?”

,,En toe niks, Vroumens. Jy hou aan jou malle verstand af, en toe, en toe, en toe,’ asof ek nodig het om rekenskap te gee van hierdie vervlakste geelbras gedoente wat ek nie hierheen genooi het nie. Kiewiet!” skree ek, want ek was vererg, ,,bring vir my die voorhamer hier en sorg dat ek hom het voor ek weer moet praat. En hardloop jy, dogter, gaan haal my mauser in my kamer en maak gou en pasop hy’s gelaai.”

,,Ouman,” sê Vroutjie, en sy vat my liefies aan die arm. (As een van ons twee kwaad word, praat die ander altyd mooi. Nou en dan, by uitsondering, is sy die ander. Gewoonlik is sy die een.) ,,Ouman, moenie onverskillig word nie. Dalk is die ding vol dinamiet. Dit kan maklik nog ’n vernieltuig wees wat uit die laaste oorlog oorgebly het. Wie weet, altemit het daar iets met die masjinerie verkeerd gegaan sodat die ding nog altyd bo in die lug om die aarde rondgetrek het en nou eers afgeloop het . . . Kom, Ouman, kom ons gaan maar eers eet. Ons kan op die oomblik niks verder uitvoer nie.”

,,My skepsels, Vroutjie, nou jy van eet praat – ek het so skoon vergeet om jou te sê ek verwag oom Stoffel Gieljam vanaand. Ou Lewies Langlys het ’n boodskap van oom Stoffel gebring en dit eers vanmiddag laat afgegee.”

,,Het jy oom Stoffel se laaste rente betaal ?” vra Vroutjie.

,,Laaste rente ? Gmf. Die ou sukkel nog altyd oor die eerste.”

En met my praat kom daar ’n kar om die huis en hy hou op die agterwerf stil.