Loeloeraai/Sware verantwoordelikheid
← Twee leerlinge | Loeloeraai Sware verantwoordelikheid deur C. J. Langenhoven |
Afspraak vir ’n tremreis→ |
Sware verantwoordelikheid
[edit],,Ouman,” sê Vroutjie, ,,oom Stoffel is seker moeg van die lange karreis en wie weet daardie vreemde man ook – as dit waar is wat hy sê, kom hy baie verder vandaan. Hoe sal ons maak vir slaapplek ? Sal ons vir hom en oom Stoffel saam die vrykamer gee ? – Daar is twee ledekante, Oom.”
,,Nee, Lenie,” sê die ou. ,,Daardie man . . . ek ken hom nie en hy vir my nie. Neem dit maar dat hy te fyn is vir my. Soetlief sukkel hard om van my ’n dorpenaar te maak, maar die opvoeding vorder stadig op ’n man se oudag. Gooi tog maar vir my ’n matras hier in die eetkamer oop.”
,,Vroutjie,” sê ek, ,,slaap jy by Engela. Ek en oom Stoffel sal die vrykamer kry.”
Maar toe staan Loeloeraai op en hy wys buitentoe. Hoe ons ook aanhou, op die ou end het hy in sy sfeer gaan vernag. Ek en oom Stoffel het saam met hom uitgegaan. Met dieselfde ratsigheid het hy weer by die luikgat ingespring; toe ons weer sien draai die skyf in die rondte toe en daar bly nie ’n naatjie merkbaar nie.
,,Hoe sou hy asem kry in daardie digtoeë ding ?” vra oom Stoffel. Vir my part dog ek hy kom ver genoeg sonder lug.
Maar ons ander het lank nog nie gaan slaap nie.
Tot in die oggendure het ons bly sit. En sonder om veel te gesels: wat was daar ook om te sê ? Vroutjie het weer haar naaigoed geneem; ek en oom Stoffel sit maar aan ons pype en suig, in diepe gepeins. Engela, vir wie hier die nagsittery in verband met die vreemde ontmoeting ’n ekstra-spesiale aardigheid was, had kort-kort ’n aanmerking om ons mee te bevoordeel, maar toe sy sien dat sy nie die aandag kry wat sy verdien nie, het sy naderhand maar, om haar eie taal te gebruik, rond-ge-fidget. Nou en dan, na lange tussenpose, het een of ander van ons die stilte onderbreek.
Dit was oom Stoffel wat aan ons almal se snaakse gedagtes die eerste vorm gee. ,,Kerneels, ek het hard geprobeer om daardie onaardse kêrel se maat te neem. Maar ek kry geen vattigheid aan hom nie. Weet jy hoe laat hy my voel.?”
,,Ja, Oom ?”
,,Omtrent, verbeel ek my, soos ’n hond teenoor ’n mens moet voel. Juis omdat ek nie daarop gesteld was om so te voel nie – hoe sal ek sê ? – so laag nie, het ek my teëgesit en na die ander uiterste gegaan en gesoek om my op te beur met agterdog en minagting. Maar dit wou nie help nie.”
,,Oom Stoffel,” sê ek, ,,daar gee jy nou presies aan my eie gevoel uitdrukking. Al die tyd vandat die vreemdeling uit sy voertuig uitgespring het en ek in sy gesig gekyk het, was dit vir my nes ek ’n lae soort skepsel is en hy ’n hoë ... Vroutjie, ek maak altyd staat op jou vroulike deursig wat by die antwoord kom sonder om die som uit te reken. Sê vir my, waarom was jy die hele tyd in Loeloeraai se teenwoordigheid so stil en afgetrokke ?”
,,Ouman, oom Stoffel het gelyk. Daardie man – as ek hom ’n man moet noem – is nie óns soort maaksel nie. Hy trek my nie aan nie; hy stoot my nie af nie. Ek voel soos ek – hoe sal ek sê ? – in ’n spook se geselskap sou voel. Tog, hy is vleis en bloed, soos dit lyk . . . Maar nie van óns vleis en bloed nie.”
Ja. So was die saak. Daar was geen twyfel aan nie. En dit het ons baie ver laat dink. Immers wat het so ’n gevolgtrekking beteken ?
Ek kyk ons klompie mensies so deur om die tafel. Ek kyk af na Jakhals wat voor my op die vloer lê, sy kop op my voet. Hy voel dat ek kyk, hy maak sy oë oop en glimlag terug met ’n luie swaaitjie in die punt van sy stert. My oog val op ’n fladderende mot wat nog die heel aand sukkel om uit te vind dat hy nie deur die vensterruit kan vlieë om by die lamp te kom nie.
Ons almal, peins ek, mens en dier, hoog en laag, ál wat op hierdie aarde leef, is een gemeenskaplike skeppingsontwikkeling – een bloedfamilie. Hier ná-verwant, daar vér-verwant, maar almal uit dieselfde bestanddele – uit dieselfde stof van die een aarde. Daardie hond is nader aan my – ja, daardie mot is nader aan my – as die vreemde besoeker wat hier gekom het uit die hemelruim . . . Ek kan nog ’n floue begrip vorm van hoe ’t Jakhals voel wanneer hy kwaad is, wanneer hy hartseer is, wanneer hy verdrietig is. En hy weet dit van sy oubaas ook. Hy weet goed wanneer om te soebat, wanneer om te troos, wanneer om te speel en te terg . . . Maar hierdie vreemdeling ? Ek kan hom glad nie nader nie. Ons is nie net hoog en laag nie; ons is weg van mekaar af.
Kan so ’n soort wese, dog ek, ooit ’n meegevoel met ons hê ? Miskien nie soveel as ons met ’n skaap of ’n vlieg nie. Ons sal die vlieg vernietig omdat hy ’n pes is. Ons slag die skaap omdat die voorwaarde van ons bestaan hier op die aarde nou eenmaal van die gehalte is dat die lewe van die een op die dood van die ander moet voortgesit word. Maar ons sou nie ’n skaap of ’n vlieg aan omsonse foltering oorgee nie. Ons weet hulle voel pyn; ons weet dis dieselfde soort pyn wat óns voel. Maar van die gevoelens van daardie onmens, ondier, bowemens, weet ons niks. Al sou hy hulle ook aan ons wou meedeel – ek twyfel of hy hulle sou kon uitlê. Miskien so min as wat ek die indruk van kleure aan ’n blinde kan meedeel. En kan hy ooit ons gevoelens deel ? Sou dit hom hinder om ons seer te maak meer as vir my om ’n doringtak af te kap wat in my pad is ?
Ná hierdie korte kennismaking reeds voel ons hy is hoër. Solank as hy hier op aarde is, is die mens van sy troon af. Vir al ons medeskepsels was ons tot hier toe die gode van die aarde ... Teenoor hom, waar is ons heerskappy en ons adel ? En as hy gekom het met mening . . . en waarvoor het hy gekom ? . . . wat kan ons doen om hom te keer ?
En toe maak ou Stoffel ’n aanmerking waaruit ek kon aflei dat sy gedagtes in dieselfde koers geloop het as myne. ,,Kerneels, wat sou daardie man . .. ek noem hom maar so .. . wat sou hy hier kom maak ?”
,,Oom Stoffel, ek voel onrustig . . .”
,,Pappa,” sê Engela, ,,wat sou hy daarmee voorhê om ons kwaad te doen ? Vir my aandeel, as hy regtigwaar van Venus af kom, dan dink ek word Venus deur engele bewoon.”
,,My kindjie, wat help dit vir ons om sy planne of dryfvere te raai ? Wat help dit die wurm om te raai wat ek daarmee voor het wanneer ek hom middeldeur steek met my spit in my tuin ? En as ons nog sou raai – waardeur is hierdie laaste groot oorlog veroorsaak? Die een nasie wou voor die ander die hulpbronne van die wêreld in die hande kry. Sê nou die hulpbronne van daardie wêreld, Venus, het begin kort te kom vir sy bevolking ?”
,,Ja, Neelsie,” sê oom Stoffel, ,,sê nou hy is ’n verkenner, ’n spioen ?”
,,Juistement, Oom. Hy sal sien dat ons oorlogstuie waarmee ons mekaar by miljoene uitroei, speelgoedjies is teen hulle s’n. As hy teruggaan, of wie weet as hy maar ’n draadlose berig sou terugstuur . . . honderd van sy maters sou genoeg wees om die aarde te kom verower – om met wetenskaplike middels waarvan ons geen denkbeeld kan vorm nie, die mensdom uit te delg. Ons het maar min gesien, maar ons het genoeg gesien om te verstaan dat hulle die swaartekrag oormeester het. Hulle vaar oor die afgronde van die sterreruim, deur die luglose niks van die eter.”
Daarop het ons weer ’n lange ruk stil gesit, elkeen skaam om met die gedagte uit te kom wat by almal van ons ontkiem het. Eindelik was dit Vroutjie wat praat, en soos ’n vroumens beantwoord sy ons twyfel sonder dat iemand hom uitgedruk het.
,,Ouman,” sê sy, en vat my hand, ,,die vreemdeling is ons gas. Hy het ons vertrou. Hy het met liefde gekom; ons het hom met liefde ontvang; of hy ’n engel is en of hy ’n duiwel is ...”
,,Dankie, Vroutjie,” sê ek. ,,Of daardie vreemdeling ’n mens is of nie – dankie dat jy my herinner aan óns menslikheid. Ek sal maar nie die polisie gaan aansê om te kom klaar staan om hom môreoggend te vang met sy uitkom nie . . . Verstaan oom Stoffel ?”
,,Ja, Neels. Ek verstaan. Dis ’n gewigtige verantwoordelikheid. Wie weet, ons het vanaand die redding of die ondergang van die mensheid in ons hande. Maar soos Lenie sê: die man is julle gas.”
,,Reg so!” sê Engela met die oortuigingsvastheid van die onervaring. ,,Ek sien nie kans dat ons môre die man in die oë sal kan kyk as ons vannag verraad op hom speel nie.”
,,Ja, my kind,” sê ek. ,,Hy kom van ’n ander wêreld om met hierdie te kom kennis maak. Hy sal baie dinge hier sien wat nie vir ons ’n eer is nie. Maar om mee te begin verteenwoordig hierdie vier van ons nou die menslike geslag. Die pand van die goeie naam van die aarde is in ons bewaring.”
En met daardie besluit, ten goeie of ten kwade, het ons bed toe gegaan. Oom Stoffel het sy rente so skoon vergeet. Ek ook.
Maar hoe kon ’n mens daardie nag slaap ? Om vieruur het ek opgestaan en vir my en Vroutjie gaan koffie maak. Ek kon my nie weer hou van uitkyk nie. Toe ek die agterdeur oopmaak, skyn die driekwartvolle maan helder. En skitterend blink soos geglansde goud langes die donker skaduwees van die somerhuis staan die geheimsinnige vaartuig met sy geheimsinnige reisiger.