Loeloeraai/Afspraak vir ’n tremreis

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Sware verantwoordelikheid Loeloeraai
Afspraak vir ’n tremreis
deur C. J. Langenhoven
Belemmerings


Afspraak vir ’n tremreis[edit]

Teen dagbreek het ek effentjies ingesluimer. Maar ek was net mooi weggeraak toe word daar aan my deur geklop.

Natuurlik was dit ou Stoffel wat die eerste opgestaan het. Hy het nie vir Kiewiet vertrou om sy perde vroeg genoeg voer te gee nie.

,,Kerneels, Kerneels!” hoor ek die ou voor die kamerdeur sê, ,,daardie vreemde kêrel het weer vannag weggevlieë.”

,,O my magtig, Oom! Ons moes hom maar aangegee het en laat vang het.”

Ek gryp ’n jas en ek hardloop uit. Waar die sfeer die aand gestaan het, was niks. Maar aan die diep holte wat hy in die grond ingedruk het, kon ons sien hoe swaar sy gewig was.

Solank as oom Stoffel sy perde voer gee, het ek gaan koffie maak. Toe het Vroutjie en Engela ook uitgekom en ons het ál vier onder die eikeboom op die bank gaan sit. ’n Meer miesrawele klompie mense kon jy jou nie verbeel nie. Bleek en verwilderd van slaaploosheid en skaamkwaad oor ons ons op so ’n simpele manier laat doodsit het. Ons oueres was bitter onrustig. Watter ondenkbare kwaad sou ons papperige sentimenterigheid nie tot gevolg hê nie.? Hier had ons die invaller in die holte van ons hand en ons laat hom ontsnap. Dit was vir my asof ek die wêreld al op ander plekke sien aan die brand slaan, dorpe en stede verwoes deur ongehoorde orkane, golwe van die see die binnelande oorstroom, aardbewings en vuurspuwende berge losbars. As ’n man die wette van die swaartekrag kan trotseer, watter perk is daar dan aan sy vermoë te stel ?

Engela was die ontroosbaarste van almal, maar om ’n teenoorgestelde rede. Daar was alle elemente van ’n baie bekoorlike digterlike geskiedenis, en voordat die dingetjie begin te ontwikkel, loop hy op hier die prosaïese manier dood.

Maar natuurlik was sy jeugdiglik lojaal aan haar eie eerste indruk. ,,Hoe dit ook al mag wees,” sê sy, ,,ek glo nie dat hy soos ’n skelm hier weggedros het nie. Daar is iets wat ons nie verstaan nie. A, Pappa, Pappa, kyk daar!”

Op Engela se uitroep kyk ons en ons sien vir Loeloeraai tussen die perskebome deur kom, agter uit die vrugteboord uit. Tegelykertyd kom die son net op – ou Stoffel het ons baie vroeg aan die beweging gesit – en die eerste strale skyn goudblink op die glansige hare en baard van die vreemdeling en op sy kleed. In plaas van by die hek om te loop, kom hy tot by die sesvoet heining en hy spring sommer in die loop los oor nes ’n kat oor ’n slootjie sou spring. Hy stap tot by ons, nog altyd met sy vriendelike glimlag. Op my wenk gaan hy langes Vroutjie sit.

,,Engela, my kind,” sê sy, ,,gaan haal tog vir hom ’n koppie koffie.”

In die tussentyd wys ek hom na die plek toe waar die sfeer gestaan het. Hy wys op in die lug, en toe met sy hand terug; maar ons kon nie die bedoeling van sy gebaar uitmaak nie.

,,Engela,” sê ek toe sy hom die koffie gegee het – ek het gewonder hoe daardie eerste koffie vir hom sou smaak – ,,Engela, jy moet die man klaar leer praat. Hy beduie dat sy vliegtuig weg is – en dit had ek reeds self sonder hulp uitgemaak – maar sy verdere beduienis kan ek nie verstaan nie.”

Engela tel ’n stok op, wys dit vir Jakhals en gooi.

,,Jakhals gaan,” sê sy. En toe Jakhals met die stok terugkom : ,,Jakhals kom.” Toe wys sy na die plek toe waar die sfeer gestaan het, ,,Vliegtuig,” sê sy.

,,Vliegtuig gaan,” sê Loeloeraai, en toe wag hy ’n bietjie. ,,Vliegtuig kom,” sê hy.

,,Hy meen die ding sal terugkom,” sê ek.

,,Ek wonder of hy van sy maters gaan haal het,” sê ou Stoffel. ,,Maar sou die ding dan heen en weer kan vlieë en sy pad kry sonder ’n stuurman ?”

,,Oom Stoffel,” sê Vroutjie, ,,ons het nie binne-in gesien nie. Hoe weet ons dat daar net één persoon in was ?”

,,Al hierdie dinge help net niks,” vervat ou Stoffel, ,,solank as die man nog nie kan praat nie. Hy kan nog nie eens lieg nie.” (Die ou se agterdog het blykbaar weer ’n oomblikkie bo gekom.) ,,Engela, jy moet gou maak met jou skoolhou. Ons kan nie hierdie kêrel soveel lange jare aan die leer hou as wat dit gekos het om vir jou en Grietjie te leer ,yes’ en ,no’ sê nie.”

Engela skud haar bosgasie met vakkundige doeltreffendheid. Dit was nog los in die vroeë oggend. ,,Nee, oom Stoffel,” sê sy. ,,Hy sal gouer leer. Hy het nie rede om na my en Grietjie se ouers te aard nie.”

Ou Stoffel lag. ,,Jy’t gelyk, Engela. Hy sal nie eens kan ontaard nie.”

,,Oom Stoffel is altyd te slim,” sê sy. ,,Hulle moes Oom laat leer het sodat jy meer eenvoudig kon geword het. Soos Pappa, by voorbeeld.”

En daarop het sy met Loeloeraai se taalonderrig voortgegaan. Dit was ’n goeie ding, dog ek, dat dit so getref het dat hy sy eerste aanraking met die aarde in Suid-Afrika gevind het. Sê nou hy was in Holland of Duitsland of Sjina te lande gekom, hoe sou hy ooit oor die onmoontlikhede van daardie ongerymde en onleerbare tale gekom het om te kan verstaan en hom verstaanbaar te maak ? In Engeland sou dit nog op ’n manier kon gegaan het sover as die taal betref, maar natuurlik daar is die mense weer onmoontlik. Met Afrikaans en Afrikaners ondervind geen vreemdeling mos ooit moeilikheid nie. Hulle met hom altemit ja. En Loeloeraai het dadelik getoon dat hy nie aan ons menslike beperkings onderhewig is nie. Hy had ’n volmaakte beheer oor sy liggaamlike organe, sy verstandelike rede, en sy liggaamlike en verstandelike geheue – drie vermoëns wat by taalstudie te pas kom. Nooit was dit nodig om ’n woord of frase vir hom te herhaal, ’n klank oor te sê, of ’n idioom of taalreël uit te lê nie. In twee dae kon hy vlot gesels; in ’n week se tyd was hy volmaak: ja, meer volmaak as ons omdat sy stem welluidender was, sy gedagteloop suiwerder en sy begrippe omvattender. (Ongelukkig haal ek sy woorde uit my geheue aan in hierdie verhaal – daarom is hulle maar soos myne.)

Intussen, daardie oggend, onderwyl die skool eenkant aan die gang was, het ons drie oues ’n aantal sake in verband met Loeloeraai se teenwoordigheid bespreek.

,,Dit lyk of hy voorlopig van plan is om te bly,” sê Vroutjie.

,,Vir my aandeel gee ek nie om nie. Ons kry min geselskap genoeg. My ouman” (sê sy met ’n glimlag) ,,is te ongesellig.”

,,Ek het verleer om te praat, Vroutjie. Wat sê oom Stoffel ?”

,,Kerneels, as dit Lenie se werk is, wees dankbaar. Maar jy sal hierdie vreemde man meer dinge moet gee as geselligheid. Om mee te begin, sal hy gewone klere moet kry om aan te trek. Wat sal ander mense sê as hulle hier kom en ’n onaardse kuiergas loop hier met ’n blink naghemp rond ?”

,,Solank as dit hulle aandag van my sake aftrek, Oom, waar hulle mond heeldag van vol is . . .”

,,Ja, Kerneels, ja. En die polisie ?”

,,Die polisie, Oom ?”

,,Man, jy was mos vanmelewe ’n kastige wetgeleerde. Is daar nie ’n Immigrasiewet nie ?”

,,Magtig, Oom, noudat jy daarvan praat . . .”

,,Ja, jy sal skuldig gevind word dat jy ’n verbooie immigrant herberg.”

,,Ek dink nie so erg daaraan nie, Oom . . .”

,,Maar ék dink daaraan, Ouman,” sê Vroutjie.

,,Ja, Vroutjie, ek dink darem ook daaraan. Maar ons sou nie graag hierdie besoeker sien vervolg nie. Jy sou die eerste wees om hom te wil beskerm, Vroutjie.”

,,Wat sou sy posisie wees onder die wet ?” vra ou Stoffel.

,,Oom, daar gee jy my nou weer ’n gedagte. Die wet is op mense van toepassing, nie op buite-aardse wesens nie. Maar tog, as die plaaslike magistraat hom skuldig vind en las gee dat hy moet teruggestuur word . . .”

,,Hoe sal hy hom terugstuur ? Ek dink selfs Jannie Smuts sal planne kortkom om hierdie man te deporteer na waar hy vandaan kom.”

, Ja, Oom. Maar as die magistraat hom in die tronk opsluit . . . ”

,,En hy sál maar,” sê ou Stoffel.

,,Ja, oom Stoffel, hy sal maar. Net omdat hy teen my ’n wrok het, sonder oorsaak. Maar sluit hy hom op, en ek teken appél aan, dan sal die Hoë Geregshof my sê ek neem dan die standpunt in dat die wet niks met die beskuldigde te doen het nie, hoe kan ek wetsbeskerming vir hom soek ? Oom Stoffel, Loeloeraai is voëlvry, net soos enige ongedierte. Meer nog, want die wet verbied wreedheid teen gevange wilde diere. Die wet praat van mense en van diere, nie van sterbewoners nie.”

,,Ek verstaan, Neels. Hierdie kêrel kan doen wat hy wil, en elkeen kan aan hom doen wat hy wil. Sovér as wat jy nie vir hom kan keer nie sal hy vir homself moet keer.”

,,En dit lyk vir my hy sal dit kan doen ook, Oom. Ek verbeel my hy het soorte van verdedigingsmiddels wat vir ons konstabels en al was dit ons troepemag, snaaks sal verras. . . . My magtig, Vroutjie, kyk hoe breek Herrie al weer daar mielies. Kiewiet! Kiewiet!” skree ek.

Kiewiet steek sy kop by die staldeur uit. ,,Ja, baas ?”

,,Hardloop, Kiewiet, loop haal die olifant daar uit die mielieland uit.”

,,Baas, die olifant het my gister uit die mielies uitgedra en op die plat van die afdak kom gooi en toe weer land toe geloop. En nou kom hier nog ’n spookmens in die donkeraand uit die lug uit aangevlieë. Hier is onraad op hierdie werf. Ek gee huur op, Baas.”

,,Nou ja, Kiewiet, maar dan moet jy darem jou maand uitdien.”

,,Nee, Baas. Baas en nooi mishandel my goed genoeg, maar hier is te veel toorgeite. Ek loop, Baas. Baas moet my dan maar in die tronk laat sit.”

,,Kiewiet, maar dit lyk vir my baie dit sal jou niks help nie,” sê ou Stoffel. ,,Dit lyk vir my nes hierdie spookbaas wat gisteraand hier gekom het ook sal moet tronk toe gaan.”

,,O land, Oubaas, dan breek al die volk uit.”

,,Kiewiet,” sê Vroutjie, ,,ek hoor vir Kato ook daar in die kombuis brom. Wees tog maar gerus, julle twee. Ons sal geen kwaad oor julle laat kom nie. En wag maar, ek sal self die olifant uit die mielies gaan uithaal.” En toe is sy weg daarheen. Herrie maak nooit met een van ons speletjies nie – buiten die natspuit, díe kan ons hom nie afleer nie. Hy’s nes ’n hond; hy ken sy baasgoed.

,,Neels,” sê ou Stoffel, ,,ek moet ná brekfis maar weer begin. Ons kan ander dag oor die rentetjies verder gesels. Of het jy dit in die huis ?”

,,Nee, Oom, as ek moet sê dat ek dit in die huis het dan moet ek lieg. Maar ek sal ’n plan maak. Maar waarvoor is Oom so haastig om weer te vertrek ?”

,,Ek is nie so haastig nie, Neels. Maar ek het maar hier aangekom – ek is op weg na my plaas toe. Ek sal daar ’n drie weke moet bly – ek is al weer béwerig en waggelrig van die dorpse kos. Soetlief maak klaar om by haar familie te gaan kuier.”

,,Oom Stoffel, maar Vroutjie kook mos ook boerekos. En ons het al gepraat om weer ons vakansietog te maak. Engela gee ons geen rus nie, en ek en Vroutjie verlang self om ’n bietjie los te kom.”

,,Hoe gaan julle ?” vra ou Stoffel.

,,A, Oom, natuurlik met Herrie en die trem . . . Ek wonder of die vreemde man sal wil saamgaan. Dit sal hom ’n uitstekende geleentheid verskaf om met allerhande stoffasie van aardse mense kennis te maak.”

,,Wragtig, Neels, ek gaan saam. Ek sal my kar en perde op die plaas laat bly. Wanneer sal ons vertrek ?”

Toe kom Vroutjie met Herrie terug, en nadat ons die ding met haar bepraat het, het ons die reis vasgestel vir die Donderdag oor veertien dae.

Die klaarmakery vir die tremtog het dadelik ’n aanvang geneem. Onder ander het Engela haar klere bestel.