Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika/Bylae 3

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika  (1996) 
Bylae 3: Verkiesingsprosedures

[Bylae 3 gewysig by a. 2 van die Vierde Wysigingswet op die Grondwet van 1999, by a. 19 van die Sesde Wysigingswet op die Grondwet van 2001, by artikel 3 van die Negende Wysigingswet op die Grondwet van 2002 en by a. 5 van die Veertiende Wysigingswet op die Grondwet van 2008.]

Deel A: Verkiesingsprosedures vir Grondwetlike Ampsdraers

1. Toepassing
1. Die prosedure in hierdie Bylae uiteengesit, is van toepassing wanneer ook al–
a. die Nasionale Vergadering vergader om die President, of die Speaker of Adjunkspeaker van die Vergadering, te verkies;
b. die Nasionale Raad van Provinsies vergader om sy Voorsitter of ʼn Adjunkvoorsitter te verkies; of
c. ʼn provinsiale wetgewer vergader om die Premier van die provinsie of die Speaker of Adjunkspeaker van die wetgewer te verkies.

2. Nominasies
Die persoon wat voorsit op ʼn vergadering waarop hierdie Bylae van toepassing is, moet op die vergadering vir die nominasie van kandidate vra.

3. Formele vereistes
1. ‘n Nominasie moet voorgelê word op die vorm wat voorgeskryf word deur die reëls in item 9 vermeld.
2. Die vorm waarop ʼn nominasie voorgelê word, moet geteken wees–
a. deur twee lede van die Nasionale Vergadering, indien die President of die Speaker of Adjunkspeaker van die Vergadering verkies moet word;
b. namens twee provinsiale afvaardigings, indien die Voorsitter of ʼn Adjunkvoorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies verkies moet word; of
c. deur twee lede van die betrokke provinsiale wetgewer, indien die Premier van die provinsie of die Speaker of Adjunkspeaker van die wetgewer verkies moet word.
3. ‘n Persoon wat genomineer word, moet aanname van die nominasie te kenne gee deur óf die nominasievorm óf enige ander vorm van skriftelike bevestiging te teken.

4. Aankondiging van name van kandidate
Op ʼn vergadering waarop hierdie Bylae van toepassing is, moet die voorsittende persoon die name aankondig van die persone wat as kandidate genomineer is, maar mag die voorsittende persoon geen debat toelaat nie.

5. Enkele kandidaat
Indien slegs een kandidaat genomineer word, moet die voorsittende persoon verklaar dat daardie kandidaat verkies is.

6. Verkiesingsprosedure
1. Indien meer as een kandidaat genomineer word–
a. moet daar by wyse van geheime stemming op die vergadering gestem word;
b. mag elke lid wat op die vergadering teenwoordig is, of indien dit ʼn vergadering van die Nasionale Raad van Provinsies is, elke provinsie wat op die vergadering verteenwoordig is, een stem uitbring; en
c. moet die voorsittende persoon die kandidaat wat ʼn meerderheid van die stemme kry, verkies verklaar.

7. Uitskakelingsprosedure
1. Indien geen kandidaat ʼn meerderheid van die stemme kry nie, word die kandidaat wat die laagste getal stemme gekry het uitgeskakel en moet ʼn verdere stemming oor die oorblywende kandidate ooreenkomstig item 6 plaasvind. Hierdie prosedure moet herhaal word totdat ʼn kandidaat ʼn meerderheid van die stemme kry.
2. Indien, by die toepassing van subitem (1), twee of meer kandidate die laagste getal stemme kry, moet ʼn afsonderlike stemming oor daardie kandidate gehou word, en so dikwels nodig herhaal word, om te bepaal watter kandidaat uitgeskakel moet word.

8. Verdere vergaderings
1. Indien slegs twee kandidate genomineer word, of indien slegs twee kandidate oorbly nadat ʼn uitskakelingsprosedure toegepas is en daardie twee kandidate dieselfde getal stemme kry, moet ʼn verdere vergadering binne sewe dae gehou word op ʼn tyd wat deur die voorsittende persoon bepaal word.
2. Indien ʼn verdere vergadering ingevolge subitem (1) gehou word, moet die prosedure in hierdie Bylae voorgeskryf by daardie vergadering toegepas word asof dit die eerste vergadering vir die betrokke verkiesing is.

9. Reëls
1. Die Hoofregter moet reëls maak waardeur voorgeskryf word–
a. die prosedure vir vergaderings waarop hierdie Bylae van toepassing is;
b. die pligte van ʼn persoon wat op ʼn vergadering voorsit, en van enige persoon wat die voorsittende persoon bystaan;
c. die vorm waarop nominasies voorgelê moet word; en
d. die wyse waarop die stemming moet geskied.
2. Hierdie reëls moet bekend gemaak word op die wyse wat die Hoofregter bepaal.

Deel B: Formule om Partydeelname aan Provinsiale Afvaardigings na die Nasionale Raad van Provinsies te Bepaal
1. Die getal afgevaardigdes in ʼn provinsiale afvaardiging na die Nasionale Raad van Provinsies waarop ʼn party geregtig is, moet bepaal word deur die getal setels wat die party in die provinsiale wetgewer het met tien te vermenigvuldig en die resultaat te deel deur die getal setels in die wetgewer, plus een.
2. Indien ʼn berekening ingevolge item 1 ʼn surplus oplewer wat nie opgeneem word deur die afgevaardigdes wat ingevolge daardie item aan ʼn party toegewys word nie, moet die surplus meeding met soortgelyke surplusse wat enige ander party of partye toekom, en enige afgevaardigdes in die afvaardiging wat nie toegeken is nie, moet aan die party of partye in volgorde van die hoogste surplus toegeken word.
3. Indien die mededingende surplusse in item 2 beoog gelyk is, word die onverdeelde afgevaardigdes in die afvaardiging toegeken aan die party of partye met dieselfde surplus in die volgorde van die hoogste tot die laagste getal stemme wat vir daardie partye aangeteken is tydens die vorige verkiesing van die betrokke provinsiale wetgewer.

[Item 3 bygevoeg by a. 2 van die Vierde Wysigingswet op die Grondwet van 1999 en vervang by a. 3 van die Negende Wysigingswet op die Grondwet van 2002 en by a. 5(a) van die Veertiende Wysigingswet op die Grondwet van 2008.]

4. Indien meer as een party met dieselfde surplus dieselfde getal stemme gedurende die vorige verkiesing van die betrokke provinsiale wetgewer aangeteken het, moet die betrokke wetgewer die onverdeelde afgevaardigdes in die afvaardiging toeken aan die party of partye met dieselfde surplus op ʼn wyse wat met demokrasie bestaanbaar is.

[Item 4 bygevoeg by a. 5(b) van die Veertiende Wysigingswet op die Grondwet van 2008.]