Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika/Bylae 2

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika  (1996) 
Bylae 2: Ampsede en Plegtige Verklarings

[Bylae 2 gewysig by a. 2 van die Eerste Wysigingswet op die Grondwet van 1997 en vervang by a. 18 van die Sesde Wysigingswet op die Grondwet van 2001.]'

1. Ampseed of plegtige verklaring van President en Waarnemende President
Die President of Waarnemende President moet voor die Hoofregter of ʼn ander regter deur die Hoofregter aangewys, ʼn eed aflê/plegtig verklaar, soos volg:

In die teenwoordigheid van almal hier vergader en in die volle besef van die hoë roeping wat ek as President/Waarnemende President van die Republiek van Suid-Afrika aanvaar, sweer ek, A.B./verklaar ek, A.B., plegtig trou aan die Republiek van Suid-Afrika, en dat ek die Grondwet en die ander reg van die Republiek sal gehoorsaam, eerbiedig, onderhou en handhaaf; en belowe ek plegtig en opreg dat ek te alle tye–

  • sal bevorder wat tot die voordeel van die Republiek is en sal afweer wat die Republiek kan skaad;
  • die regte van alle Suid-Afrikaners sal beskerm en bevorder;
  • my pligte met al my kragte en talente na my beste kennis en vermoë en getrou aan die stem van my gewete sal verrig;
  • aan almal reg sal laat geskied; en
  • my aan die welsyn van die Republiek en al sy mense sal wy.


(In die geval van ‘n eed: So help my God.)

2. Ampseed of plegtige verklaring van Adjunkpresident
Die Adjunkpresident moet voor die Hoofregter of ʼn ander regter deur die Hoofregter aangewys, ʼn eed aflê/plegtig verklaar, soos volg:

In die teenwoordigheid van almal hier vergader en in die volle besef van die hoë roeping wat ek as Adjunkpresident van die Republiek van Suid-Afrika aanvaar, sweer ek, A.B./ verklaar ek, A.B., plegtig trou aan die Republiek van Suid-Afrika, en dat ek die Grondwet en die ander reg van die Republiek sal gehoorsaam, eerbiedig, onderhou en handhaaf; en belowe ek plegtig en opreg dat ek te alle tye–

  • sal bevorder wat tot die voordeel van die Republiek is en sal afweer wat die Republiek kan skaad;
  • ‘n opregte en getroue raadgewer sal wees;
  • my pligte met al my kragte en talente na my beste kennis en vermoë en getrou aan die stem van my gewete sal verrig;

aan almal reg sal laat geskied; en

  • my aan die welsyn van die Republiek en al sy mense sal wy.


(In die geval van ‘n eed: So help my God.)

3. Ampseed of plegtige verklaring van Ministers en Adjunkministers
Elke Minister en Adjunkminister moet voor die Hoofregter of ʼn ander regter deur die Hoofregter aangewys, ʼn eed aflê/plegtig verklaar, soos volg:

Ek, A.B., sweer/verklaar plegtig trou aan die Republiek van Suid-Afrika en dat ek die Grondwet en die ander reg van die Republiek sal gehoorsaam, eerbiedig en onderhou; en ek belowe om my amp as Minister/Adjunkminister met eer en waardigheid te beklee; ʼn opregte en getroue raadgewer te wees; geen sake wat aan my vir geheimhouding toevertrou word, regstreeks of onregstreeks te openbaar nie; en die funksies van my amp met nougesetheid en na my beste vermoë uit te voer.

(In die geval van ʼn eed: So help my God.)

4. Ampseed of plegtige verklaring van lede van die Nasionale Vergadering, vaste afgevaardigdes na die Nasionale Raad van Provinsies en lede van die provinsiale wetgewers
1. Lede van die Nasionale Vergadering, vaste afgevaardigdes na die Nasionale Raad van Provinsies en lede van provinsiale wetgewers moet voor die Hoofregter of ʼn regter deur die Hoofregter aangewys, ʼn eed aflê/plegtig verklaar, soos volg:

Ek, A.B., sweer/verklaar plegtig trou aan die Republiek van Suid-Afrika en dat ek die Grondwet en die ander reg van die Republiek sal gehoorsaam, eerbiedig en onderhou; en ek belowe plegtig om my funksies as lid van die Nasionale Vergadering/vaste afgevaardigde na die Nasionale Raad van Provinsies/lid van die wetgewer van die provinsie C.D. na my beste vermoë uit te voer.

(In die geval van ʼn eed: So help my God.)

2. Persone wat ʼn vakature in die Nasionale Vergadering, ʼn vaste afvaardiging na die Nasionale Raad van Provinsies of ʼn provinsiale wetgewer vul, kan ingevolge subitem (1) voor die voorsittende beampte van die Vergadering, Raad of wetgewer, na gelang van die geval, ʼn eed of plegtige verklaring aflê.

5. Ampseed of plegtige verklaring van Premiers, Waarnemende Premiers en lede van provinsiale Uitvoerende Rade
Die Premier of Waarnemende Premier van ʼn provinsie, en elke lid van die Uitvoerende Raad van ʼn provinsie, moet voor die Hoofregter of ʼn regter deur die Hoofregter aangewys, ʼn eed aflê/plegtig verklaar, soos volg:

Ek, A.B., sweer/verklaar plegtig trou aan die Republiek van Suid-Afrika en dat ek die Grondwet en die ander reg van die Republiek sal gehoorsaam, eerbiedig en onderhou; en ek belowe om my amp as Premier/ Waarnemende Premier/lid van die Uitvoerende Raad van die provinsie C.D. met eer en waardigheid te beklee; ʼn opregte en getroue raadgewer te wees; geen sake wat aan my vir geheimhouding toevertrou word, regstreeks of onregstreeks te openbaar nie; en die funksies van my amp met nougesetheid en na my beste vermoë uit te voer.

(In die geval van ‘n eed: So help my God.)

6. Ampseed of plegtige verklaring van Regterlike Beamptes
1. Elke regter of waarnemende regter moet voor die Hoofregter of ʼn ander regter deur die Hoofregter aangewys, ʼn eed aflê/plegtig verklaar, soos volg:

Ek, A.B., sweer/verklaar plegtig trou, as ʼn Regter van die Konstitusionele Hof/ Hoogste Hof van Appèl/Hoë Hof/E.F.-hof, aan die Republiek van Suid-Afrika, en dat ek die Grondwet en die menseregte wat daarin verskans is, sal handhaaf en beskerm; en aan alle persone op gelyke voet reg sal laat geskied sonder vrees, begunstiging of vooroordeel, ooreenkomstig die Grondwet en die reg.

(In die geval van ‘n eed: So help my God.)

2. Iemand wat in die amp van Hoofregter aangestel is en wat ten tyde van daardie aanstelling nie reeds ʼn regter is nie, moet voor die Adjunkhoofregter of, in die plek van daardie regter, voor die volgende mees senior beskikbare regter van die Konstitusionele Hof, ʼn eed of plegtige verklaring aflê.
3. Regterlike beamptes en waarnemende regterlike beamptes, buiten regters, moet ingevolge nasionale wetgewing ʼn eed/plegtige verklaring aflê.