Grondwet van Namibië/Hoofstuk 8

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Grondwet van Namibië/Hoofstuk 7 Die Grondwet van Namibië, Hoofstuk 8: Die Nasionale Raad

deur onbekend
Grondwet van Namibië/Hoofstuk 9


Artikel 68 - Instelling[edit]

Daar sal’n Nasionale Raad wees wat die bevoegdhede en werksaamhede het soos in hierdie Grondwet uiteengesit is.

Artikel 69 - Samestelling[edit]

  • (1) Die Nasionale Raad bestaan uit twee (2) lede van elke streek, soos in Artikel 102 bepaal, wat deur die Streeksraad van so ’n streek uit die geledere van sy lede verkies word.
  • (2) Die verkiesing van lede van die Nasionale Raad word gehou in terme van prosedures wat deur ’n wet van die Parlement voorgeskryf word.

Artikel 70 - Ampstermyn van lede[edit]

  • (1) Lede van die Nasionale Raad behou hul setels vir ses (6) jaar van die datum van hul verkiesing en kan vir herverkiesing oorweeg word.
  • (2) Wanneer ’n setel van die Nasionale Raad vakant raak as gevolg van die afsterwe, bedanking of onbekwaamheid van ’n lid, moet ’n verkiesing vir ’n opvolger gehou word om die vakante setel tot die verstryking van die ampstermyn van die voorganger, te vul, behalwe as sodanige vakature minder as ses (6) maande voor die verstryking van die termyn van die Nasionale Raad ontstaan. In so geval hoef die vakature nie gevul te word nie. Sodanige verkiesing moet gehou word ooreenkomstig die prosedures voorgeskryf deur Parlementêre wetgewing waarna verwys word in Artikel 69(2) hierbo.

Artikel 71 - Eed of Bevestiging[edit]

Elke lid van die Nasionale Raad moet ’n eed of plegtige bevestiging voor die Hoofregter of ’n Regter, wat deur die Hoofregter vir die doel aangewys is, afle en onderteken, volgens die bewoording uiteengesit in Skedule 3.

Artikel 72 - Kwalifikasies van Lede[edit]

Niemand is bevoeg om ’n lid van die Nasionale Raad te wees indien hy/sy ’n verkose lid van ’n Plaaslike Owerheid is nie en tensy hy/sy ooreenkomstig Artikel 47 (1)(a) tot (e) kwalifiseer om ’n lid van die Nasionale Vergadering te wees nie.

Artikel 73 - Voorsitter en Ondervoorsitter[edit]

Die Nasionale Raad moet, voordat hy enige ander sake hanteer, ’n Voorsitter en ’n Ondervoorsitter uit sy lede kies. Die Voorsitter, of in sy/haar afwesigheid die Ondervoorsitter, dien by alle sittings van die Nasionale Raad as Voorsitter. Indien die Voorsitter en die Ondervoorsitter by ’n sitting afwesig is, moet die Nasionale Raad ’n ander lid kies om as Voorsitter waar te neem.

Artikel 74 - Bevoegdhede en Werksaamhede[edit]

  • (1) Die Nasionale Raad het die mag om:
    • (a) alle wetsontwerpe wat deur die Nasionale Vergadering aanvaar is, ingevolge Artikel 75 te oorweeg;
    • (b) enige ondergeskikte wetgewing, verslae en dokumente wat regtens aan die Nasionale Vergadering voorgelê moet word en wat vir advies deur die Nasionale Vergadering na die Raad verwys is, te ondersoek en daaroor aan die Nasionale Vergadering verslag te doen;
    • (c) wetgewing oor aangeleenthede, in die belang van streke, vir voorlegging aan en oorweging deur die Nasionale Vergadering aan te beveel;
    • (d) enige ander werksaamhede wat deur die Nasionale Vergadering of deur Parlementêre wetgewing aan die Raad opgedra word, uit te voer.
  • (2) Die Nasionale Raad het die gesag om komitees te stig en sy eie reëls en prosedures vir die uitoefening van sy pligte en die uitvoer van sy funksies te aanvaar. ’n Komitee van die Nasionale Raad het die reg om alle verhore te hou en bewyse te versamel wat nodig is vir die uitvoering van die Nasionale Raad se pligte van hersiening en ondersoeke, soos vir dié doel aangehaal in Artikel 59(3).
  • (3) Die Nasionale Raad moet in sy reëls en prosedures voorsiening maak vir die openbaarmaking van besonderhede wat betrekking het op die 􀁈􀁏􀁄􀁑􀁊􀁈􀀃􀁙􀁄􀁑􀀃􀁖􀁜 mag vind.
  • (4) Die pligte van die lede van die Nasionale Raad is as volg:
    • (a) dat alle lede van die Nasionale Raad die waardigheid en beeld van die Nasionale Raad moet handhaaf, gedurende die sittings van die Nasionale Raad en in hul optrede en werksaamhede buite die Nasionale Raad;
    • (b) dat alle lede van die Nasionale Raad hulself moet sien as dienaars van die mense van Namibië en hulle moet weerhou van enige onbehoorlik optredes soos deur hulself te verryk of om hulle van die mense te vervreem.
  • (5) Reëls wat voorsiening maak vir die voorregte en onaantasbaarheid van lede van die Nasionale Raad, moet deur Parlementêre wetgewing gemaak word en alle lede moet geregtig wees op die beskerming van dié bepaalde reëls.

Artikel 75 - Hersiening van Wetgewing[edit]

  • (1) Alle wetsontwerpe wat deur die Nasionale Vergadering aanvaar is, moet deur die Speaker na die Nasionale Raad verwys word.
  • (2) Die Nasionale Raad moet wetsontwerpe, wat ooreenkomstig Subartikel (1) na die Raad verwys is, oorweeg en moet verslae met aanbevelings aan die Speaker voorlê.
  • (3) Indien die Nasionale Raad in sy verslag aan die Speaker ’n wetsontwerp bevestig, moet die Speaker dit na die President verwys om hom in staat te stel om daarmee te handel ooreenkomstig Artikels 56 en 64.
  • (4)
    • (a) Indien die Nasionale Raad in sy verslag aan die Speaker aanbeveel dat die Wetsontwerp aanvaar word, met die veranderinge wat die Raad voorstel, moet die wetsontwerp deur die Speaker na die Nasionale Vergadering terugverwys word.
    • (b) As ’n wetsontwerp terugverwys word na die Nasionale Vergadering ooreenkomstig Sub-Artikel (a), kan die Nasionale Vergadering die Wetsontwerp heroorweeg en enige veranderinge aangebring, ongeag of dit deur die Nasionale Raad voorgestel is, al dan nie. Indien die wetsontwerp weer deur die Nasionale Vergadering aanvaar word, ongeag of dit in die vorm is soos dit oorspronklik aanvaar is of in ’n gewysigde vorm, moet die Wetsontwerp nie weer na die Nasionale Raad terugverwys word nie, maar die Speaker moet dit na die President verwys sodat dit ooreenkomstig Artikels 56 en 64 afgehandel kan word.
  • (5)
    • (a) Indien ’n twee-derde meerderheid van al die lede van die Nasionale Raad beswaar maak teen die beginsel van ’n wetsontwerp, moet dit in die verslag aan die Speaker genoem word. In dié geval moet die verslag ook aandui of die Nasionale Raad aanbeveel dat veranderinge aan die wetsontwerp aangebring word of nie. Indien die beginsel van die wetsontwerp deur die Nasionale Vergadering bevestig word ooreenkomstig SubArtikel (b) hieronder, en indien veranderinge voorgestel word, moet die besonderhede daarvan in die verslag uiteengesit word.
    • (b) Indien die Nasionale Raad in sy verslag teen die beginsel van die wetsontwerp beswaar maak, moet die Nasionale Vergadering die beginsel heroorweeg, indien dit heroorweeg word moet die Nasionale Vergadering die beginsel van die wetsontwerp met ’n twee-derde meerderheid van al sy lede herbevestig. Dan is die beginsel van die wetsontwerp nie meer ’n geskilpunt nie. Indien ’n twee-derde meerderheid nie in die Nasionale Vergadering verkry word nie, verval die wetsontwerp.
  • (6)
    • (a) Indien die Nasionale Vergadering die beginsel van die wetsontwerp ooreenkomstig Sub-Artikel 5(b) met ’n tweederde meerderheid van al sy lede herbevestig, en die verslag van die Nasionale Raad voorgestel het dat bepaalde wysigings aan die wetsontwerp aangebring behoort te word, moet die Nasionale Vergadering aandag aan die veranderinge gee wat deur die Nasionale Raad voorgestel is. In daardie geval is die bepalinge van Subartikel 4(b) mutatis mutandis van toepassing.
    • (b) Indien die Nasionale Vergadering die beginsel van die wetsontwerp, ooreenkomstig Subartikel 5(b) by wyse van ’n twee-derde meerderheid van al die lede herbevestig en die verslag van die Nasionale Raad nie aanbeveel dat in so ’n geval veranderinge aan die wetsontwerp gemaak moet word nie, word die wetsontwerp geag as deur die Nasionale Raad bevestig en die Speaker moet dit na die President verwys om daarmee te handel ooreenkomstig Artikels 56 en 64.
  • (7) Sub-Artikels (5) en (6) is nie van toepassing op wetsontwerpe wat 􀁉􀃀􀁑􀁊􀀃􀁙􀁄􀁑􀀃􀁅􀁈􀁏􀁄􀁖􀁗 openbare fondse nie.
  • (8) Die Nasionale Raad moet binne dertig (30) dae van datum waarop ’n 􀁌􀁈􀀃􀁋􀁈􀁉􀃀􀁑􀁊􀀃􀁙􀁄􀁑􀀃 gebruik van openbare fondse, deur die Speaker na die Raad verwys is, aan die Speaker verslag doen. Vir alle ander wetsontwerpe, moet terugvoering geskied binne drie (3) maande van datum van verwysing deur die Speaker. Indien die Nasionale Raad nalaat om terugvoering te gee, sal die bepaalde wetsontwerpe as bevestig beskou word, en die Speaker moet dit dan so gou as moontlik na die President verwys om hom in staat te stel om ooreenkomstig Artikels 56 en 64 met die wetsontwerpe te handel.
  • (9) Indien die President sy/haar toestemming tot enige wetsontwerp ooreenkomstig Artikel 56 weerhou en daar word met die wetsontwerp ingevolge dié artikel gehandel, en dit word weer deur die Nasionale Vergadering goedgekeur in die vorm waarin dit oorspronklik aanvaar is, of in ’n gewysigde vorm, word die bepaalde wetsontwerp nie weer na die Nasionale Raad verwys nie. Die Speaker verwys dit direk na die President sodat hy daarmee kan handel ooreenkomstig Artikels 56 en 64.

Artikel 76 - Kworum[edit]

Die teenwoordigheid van ’n meerderheid van die lede van die Nasionale Raad is nodig om ’n vergadering van die Nasionale Raad saam te stel vir die uitvoering van sy funksies en werksaamhede.

Artikel 77 - Stemming[edit]

Behalwe indien anders in die Grondwet bepaal, word alle vraagstukke in die Nasionale Raad beslis deur ’n meerderheid van stemme uitgebring deur lede teenwoordig, met die uitsondering van die Voositter of in sy/haar afwesigheid, die Ondervoorsitter of die lid wat by daardie sitting voorsit. By ’n staking van stemme het die voorsitter van die vergadering egter ’n beslissende stem.