Grondwet van Namibië/Hoofstuk 9

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Grondwet van Namibië/Hoofstuk 8 Die Grondwet van Namibië, Hoofstuk 9: Regspleging

deur onbekend
Grondwet van Namibië/Hoofstuk 10


Artikel 78 - Die Regbank[edit]

  • (1) Die regterlike gesag berus by die howe van Namibië wat bestaan uit:
    • (a) ’n Hoogste Hof van Namibië
    • (b) ’n Hoërhof van Namibië
    • (c) Laerhowe van Namibië
  • (2) Die howe is onafhanklik en is slegs aan die Grondwet en die reg gebonde.
  • (3) Geen lid van die Kabinet of die wetgewer of enige ander persoon mag inmeng met die regters of regterlike amptenare in die uitvoering van hulle regterlike werksaamhede nie. Alle afdelings van die Staat moet bystand aan die howe verleen soos wat die howe dit mag vereis om hul onafhanklikheid, waardigheid en doeltreffendheid te beskerm, met inagneming van die bepalinge van die Grondwet of enige ander wet.
  • (4) Die Hoogste Hof en die Hoërhof het die inherente jurisdiksie wat gevestig was in die Hooggeregshof van Suidwes-Afrika onmiddelik voor die datum van Onafhanklikheid, insluitend die mag om hulle eie prosedures te reguleer en om hofreëls vir dié doel te skep.

Artikel 79 - Die Hoogste Hof[edit]

  • (1) Die Hoogste Hof bestaan uit ’n Hoofregter en bykomende Regters soos deur die President, op aanbeveling van die Regsdienskommissie, bepaal word.
  • (2) Die Hoofregter is die voorsitter van die Hoogste Hof en moet appèlle wat van die Hoërhof kom, aanhoor en uitspraak daaroor lewer, insluitend appèlle wat die vertolking, implementering en handhawing van hierdie Grondwet en die fundamentele regte en vryhede wat daaronder gewaarborg word, behels. Die Hoogste Hof moet ook sake hanteer wat die Prokureur-Generaal ooreenkomstig die Grondwet na hom verwys vir beslissing en ander sake wat deur Parlementêre wetgewing gemagtig kan word.
  • (3) Drie (3) Regters vorm ’n kworum van die Hoogste Hof wanneer hy appèlle aanhoor of sake wat deur die Prokureur-Generaal ooreenkomstig die Grondwet na hom verwys word: met dien verstande dat die Parlement deur wetgewing voorsiening kan maak vir ’n kleiner kworum in omstandighede, waar ’n Regter wat in ’n appèlsaak sit, ter eniger tyd voor die uitspraak te sterwe kom of onbekwaam raak om voort te gaan.
  • (4) Die jurisdiksie van die Hoogste Hof met betrekking tot appèlle sal deur Parlementêre wetgewing bepaal word.

Artikel 80 - Die Hoërhof[edit]

  • (1) Die Hoërhof bestaan uit ’n Regter-President en soveel addisionele regters as wat die President, op die aanbeveling van die Regsdienskommissie, mag bepaal.
  • (2) Die Hoërhof het oorspronklike regsbevoegdheid om alle siviele dispute en strafregtelike vervolgings, te verhoor, ’n bevinding te maak en uitspraak daaroor te lewer, insluitend sake wat die uitleg, toepassing en handhawing van die Grondwet en die fundamentele regte en vryhede wat daaronder gewaarborg word, behels. Die Hoërhof het ook die jurisdiksie om alle appèlle van die laer howe aan te hoor en beslissings te maak.
  • (3) Die jurisdiksie van die Hoërhof met betrekking tot appèlle, sal deur Parlementêre wetgewing bepaal word

Artikel 81 - Bindende Aard van Beslissings van die Hoogste Hof[edit]

’n Beslissing van die Hoogste Hof sal bindend wees op alle ander howe en alle persone in Namibië, tensy dit deur die Hoogste Hof self herroep word of weerspreek word deur ’n wet van die Parlement wat regtens aanvaar is.

Artikel 82 - Aanstelling van Regters[edit]

  • (1) Alle aanstellings van regters tot die Hoogste Hof en die Hoërhof word deur die President op aanbeveling van die egsdienskommissie gemaak en regters lê by aanstelling ’n eed of ’n bevestiging van amp af ooreenkomstig die bewoording van Skedule 1 van die Grondwet.
  • (2) Die President kan, op versoek van die Hoofregter, waarnemende regters van die Hoogste Hof aanstel om van tyd tot tyd toevallige vakatures in die hof te vul of om as ad hoc aanstellings sake te verhoor wat betrekking het op grondwetlike geskilpunte of die waarborg van fundamentele regte en vryhede, indien die Hoofregter van mening is dat sodanige aanstelling wenslik is vir die verhoor van gemelde sake, weens die regters se besondere kennis of kundigheid van gemelde sake.
  • (3) Die President kan op versoek van die Regter-President waarnemende regters van die Hoërhof aanstel om toevallige vakatures in die hof te vul of om die hof in staat te stel om sy werk vinnig en vlot af te handel.
  • (4) Alle Regters, behalwe waarnemende Regters, wat ingevolge hierdie Grondwet aangestel is, sal in hul amp aanbly tot op die onderdom van vyf-en-sestig (65) jaar, maar die President kan die aftree-ouderdom van enige Regter tot die ouderdom van sewentig (70) jaar verleng. ’n Wet van die Parlement kan ook voorsiening maak vir aftrede op hoër ouderdomme as wat in hierdie Artikel bepaal word.

Artikel 83 - Laer Howe[edit]

  • (1) Laer howe word deur Parlementêre wetgewing ingestel en het jurisdiksie en neem prosedures aan ingevolge sodanige wet en die regulasies wat onder die wet geproklameer word.
  • (2) Landdroste of ander regterlike amptenare moet in laer howe voorsit en moet ingevolge die voorgeskrewe prosedures van Parlementêre wetgewing aangestel word.

Artikel 84 - Ontslag van Regters uit die Amp[edit]

  • (1) ’n Regter kan net deur die President, op aanbeveling van die Regsdienskommissie, van sy/haar amp onthef word voor die verstryking van sy/haar ampstermyn.
  • (2) Regters kan slegs op grond van geestelike ongesteldheid of growwe wangedrag en ooreenkomstig die bepalinge van Subartikel (3), van sy/haar amp onthef word.
  • (3) Die Regsdienskommissie moet ondersoek instel of ’n Regter onthef behoort te word op sodanige gronde. Indien die Kommissie besluit die Regter behoort onthef te word, moet die President van hul aanbeveling in kennis gestel te word.
  • (4) As die oorweging van die Regsdienskommissie ingevolge hierdie Artikel betrekking het op die gedrag van ’n lid van die Regsdienskommissie, mag sodanige Regter nie aan die oorlegpleging deelneem nie en die President moet ’n ander Regter aanstel om die vakature te vul.
  • (5) Ten tye van ondersoeke na die noodsaaklikheid vir die ontslag van ’n Regter ingevolge hierdie Artikel, kan die President, op aanbeveling van die Regsdienskommissie, die Regter uit sy amp skors, hangende die uitslag van die ondersoeke en aanbeveling.

Artikel 85 - Die Regsdienskommissie[edit]

  • (1) Daar sal’n Regsdienskommissie wees bestaande uit die Hoofregter, ’n Regter wat deur die President aangestel word, die Prokureur-Generaal en twee lede van die regsberoep, soos genomineer deur die beroepsorganisasie of organisasies wat die regsberoep in Namibië verteenwoordig en ooreenkomstig die bepalinge van Parlementêre wetgewing.
  • (2) Die Regsdienskommissie moet sodanige werksaamhede verrig soos wat deur hierdie Grondwet of enige ander wet voorgeskryf word.
  • (3) Die Regsdienskommissie het die bevoegdheid om sodanige toepaslike reëls en regulasies te maak ter uitvoering van sy procedures en werksaamhede, maar nie strydig met hierdie Grondwet of enige ander wet nie.
  • (4) Die Hoofregter of, in sy/haar afwesigheid, die Regter wat deur die President aangestel is, kan enige toevallige vakature in die Regsdienskommissie vul.

Artikel 86 - Die Prokureur-Generaal[edit]

  • Die President sal ’n Prokureur-Generaal aanstel ooreenkomstig die bepalinge van Artikel 32(3)(1)(cc).

Artikel 87 - Bevoegdhede en Werksaamhede van die Prokureur-Generaal[edit]

Die bevoegdhede en werksaamhede van die Prokureur-Generaal is as volg:

  • (a) om die finale verantwoordeligheid vir die kantoor van die Aanklaer-Generaal te neem;
  • (b) om die hoofregsadviseur van die President en die Regering te wees;
  • (c) om nodige stappe te neem ter beskerming en handhawing van die Grondwet;
  • (d) om alle werksaamhede en pligte wat deur Parlementêre wetgewing aan die Prokureur-Generaal opgedra word, uit te voer.

Artikel 88 - Die Aanklaer-Generaal[edit]

  • (1) Die President sal ’n Aanklaer-Generaal op aanbeveling van die Regsdienskommissie aanstel. Niemand is geskik om as Aanklaer-Generaal aangestel te word nie, tensy hy/sy:
    • (a) oor regskwalifikasies beskik wat hom/haar regents toelaat om in alle Namibiese howe te praktiseer;
    • (b) op grond van sy/haar ondervinding, eerbaarheid en integriteit ’n bekwame en geskikte persoon is, om met die verantwoordelikhede van die amp van Aanklaer-Generaal toevertrou te word.
  • (2) Die bevoegdhede en werksaamhede van die Aanklaer-Generaal is as volg:
    • (a) om ooreenkomstig die bepalinge van die Grondwet, in die naam van die Republiek van Namibië in strafregtelike verrigtinge aan te kla;
    • (b) om appèlle in strafregtelike verrigtinge in die Hoërhof en Hoogste Hof aan te kla;
    • (c) om alle werksaamhede te verrig wat verband hou met sy/haar magte;
    • (d) om ander amptenare af te vaardig en te delegeer om, onder sy/haar beheer en leiding, strafregtelike verrigtinge in enige hof aan te voer;
    • (e) om alle ander werksaamhede wat deur enige ander wet aan hom/haar opgedra word, uit te voer.