Grondwet van Namibië/Hoofstuk 6

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Grondwet van Namibië/Hoofstuk 5 Die Grondwet van Namibië, Hoofstuk 6: Die Kabinet

deur onbekend
Grondwet van Namibië/Hoofstuk 7


Artikel 35 – Samestelling[edit]

  • (1) Die Kabinet sal bestaan uit die President, Eerste Minister en ander Ministers wat aangestel is deur die President uit die geledere van die Nasionale Vergadering, insluitende die genomineerde lede ingevolge Artikel 46(1)(b), om die werksaamhede van die Regering te administreer en uit te voer.
  • (2) Die President mag ook ’n Adjunk-Eerste Minister aanstel om funksies wat deur die President of die Eerste Minsiter aan hom/haar opgedra is, te verrig.
  • (3) Die President, of in sy/haar afwesigheid, die Eerste Minister of enige ander Minister wat deur die President genomineer is, sal voorsit tydens Kabinetsvergaderings.

Artikel 36 - Werksaamhede van die Eerste Minister[edit]

Die Eerste Minister dien as die leier van staatsaangeleenthede in die Parlement, koördineer die werksaamhede van die Kabinet en bedien die President met raad en bystand in die uitvoering van die Regeringspligte.

Artikel 37 - Adjunk-Ministers[edit]

Die President kan uit die lede van die Nasionale Vergadering, insluitend genomineerde lede ooreenkomstig Artikel 46(1)(b), en die Nasionale Raad, Adjunk-Ministers aanstel na eie goeddunke. Hulle mag namens Ministers enige bevoegdhede, werksaamhede en pligte wat aan die Ministers opgedra word, verrig.

Artikel 38 - Eed of Bevestiging[edit]

Alvorens ’n Minister of Adjunk-Minister sy/haar amp aanvaar, moet hy/sy ’n eed of plegtige verklaring afle en onderteken, in die teenwoordigheid van die President of ’n persoon wat deur die President aangewys is vir hierdie doel, volgens die bewoording soos uiteengesit in Skedule 2.

Artikel 39 - Mosie van Wantroue[edit]

Die President is verplig om die aanstelling van enige lid van die Kabinet te beëindig indien die Nasionale Vergadering, by wyse van ’n meerderheid van al sy lede, besluit dat hy geen vertroue in die lid meer het nie.

Artikel 40 - Pligte en Werksaamhede[edit]

Die Kabinetslede sal die volgende funksies uitoefen, naamlik

  • (a) om die aktiwiteite van die ministeries en staatsdepartemente, insluitend ondernemings onder beheer van die Staat, te bestuur, te koördineer en daaroor toesig te hou en om die wenslikheid en wysheid van enige bestaande ondergeskikte wetgewing, regulasies of riglyne met betrekking tot ondernemings onder beheer van die Staat, te hersien en die President en die Nasionale Vergadering daaroor te adviseer, met behoorlike inagneming van openbare belang;
  • (b) om wetsontwerpe vir voorlegging aan die Nasionale Vergadering in te lei;
  • (c) om die begroting van die Staat en sy ekonomiese ontwikkelingsplanne vir die Nasionale Vergadering uiteen te sit, te verduidelik en te evalueer en om daaroor verslag te doen aan die Nasionale Vergadering;
  • (d) om bepaalde werksaamhede uit te voer wat deur wetgewing aan die lede gegee is of wat bygevoeg is by bepaalde funksies;
  • (e) om vergaderings van die Nasionale Vergadering by te woon en om beskikbaar te wees vir enige navrae en debatte insake die wettigheid, wysheid, doeltreffendheid en rigting van regeringsbeleid;
  • (f) om stappe te neem soos deur wetgewing toegelaat en voorgeskryf, om ekonomiese organisasies, inrigtings en ondernemings onder beheer van die Staat, namens die Staat in te stel;
  • (g) om die doelstellings van Namibië se buitelandse beleid en sy verhoudinge met ander State vir die lede van die Nasionale Vergadering te bepaal, aan hulle te verduidelik en uiteen te sit en om daaroor aan die Nasionale Vergadering verslag te doen;
  • (h) om die rigting en inhoud van die buitelandse handelsbeleid vir die lede van die Nasionale Vergadering te formuleer, te verduidelik en uiteen te sit en om aan die Nasionale Vergadering daaroor verslag te doen;
  • (i) om die President by te staan om te bepaal welke internasionale ooreenkomste gesluit, aanvaar of opgevolg moet word en om aan die Nasionale Vergadering daaroor verslag te doen;
  • (j) om die President oor die staat van nasionale verdediging en die handhawing van wet en orde te adviseer en om die Nasionale Vergadering daaroor in te lig;
  • (k) om met inagneming van die bepalinge van die Grondwet of enige ander wetgewing, kennisgewings, opdragte en riglyne uit te reik om die mobilisasie en toepassing van wette wat deur die uitvoerende gesag geadministreer word, te vergemaklik;
  • (l) om oplettend en ferm te bly om te verseker dat die teistering van apartheid, die onderlinge diskriminasie van stamme en kolonialisme, nie weer in enige gedaante in ’n vry en onafhanklike Namibië voorkom nie en om benadeelde burgers van Namibië, wat histories die slagoffers van hierdie sieklike stelsels was, te beskerm en by te staan;

Artikel 41 - Ministeriële Aanspreeklikheid[edit]

Alle Ministers moet indiwidueel verantwoordelik wees vir die administrasie van hul eie Ministeries, en gesamentlik vir die administrasie van die werk van die Kabinet, asook hul verantwoordelikhede teenoor die President en die Parlement.

Artikel 42 - Werk buite die Staat[edit]

  • (1) Kabinetslede mag tydens hulle ampstermyn geen betaalde beroep bedryf nie, of hulle inlaat by aktiwiteite wat met hul posisies as Ministers bots nie, of hulleself blootstel aan enige situasie waar hulle private bedrywighede kan inmeng met hulle pligte as Ministers nie.
  • (2) Geen lid van die Kabinet mag sy/haar posisie, of inligting wat vertroulik aan hom/haar as lid van die Kabinet gegee is, gebruik om homself/haarself direk of indirek te verryk nie.

Artikel 43 - Sekretaris van die Kabinet[edit]

  • (1) Die President sal ’n Sekretaris van die Kabinet aanstel wat bepaalde funksies moet uitvoer soos deur wetgewing bepaal en sekere pligte wat van tyd tot tyd deur die President of die Eerste Minister aan hom/haar gegee word. Die Sekretaris word, op aanbeveling van die Staatsdienskommissie, aangestel.
  • (2) Die Sekretaris van die Kabinet dien ook as bewaarder van die rekords, notules en ander noodsaaklike dokumente van die Kabinet.