Grondwet van Namibië/Hoofstuk 5

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Grondwet van Namibië/Hoofstuk 4 Die Grondwet van Namibië, Hoofstuk 5: Die President

deur onbekend
Grondwet van Namibië/Hoofstuk 6



Artikel 27 – Die Hoof van die Staat en die Regering[edit]

  • (1) Die President is die Hoof van die Staat en die Regering sowel as die opperbevelhebber van die Weermag.
  • (2) Die uitvoerende gesag van die Republiek van Namibië berus by die President en die Kabinet.
  • (3) Tensy andersins bepaal in die Grondwet of deur wetgewing, is die President verplig om sy/haar funksies in oorlegpleging met die Kabinet, uit te oefen.

Artikel 28 – Verkiesing[edit]

  • (1) Die President word verkies ooreenkomstig die bepalinge van die Grondwet en onderworpe daaraan.
  • (2) Die verkiesing van die President vind plaas:
    • (a) deur regstreekse, algemene en gelyke stemreg; en
    • (b) ingevolge die beginsels en prosedures wat deur Parlementêre wetgewing bepaal word. Niemand kan tot President verkies word, tensy hy/sy meer as vyftig (50) persent van die stemme wat uitgebring is, ontvang het nie en die nodige aantal verkiesings moet gehou word totdat sodanige resultaat bereik is.
  • (3) Enige Namibiese burger deur geboorte of afkoms, wat ouer as vyf-en-dertig (35) jaar is en wat kwalifiseer vir verkiesing as ’n lid van die Nasionale Vergadering, is verkiesbaar as President.
  • (4) Die prosedures wat gevolg moet word vir die nominasie van kandidate vir die verkiesing as President en alle aangeleenthede wat noodsaaklik is vir en verbonde aan ’n vrye, regverdige en doeltreffende verkiesing van ’n President, word bepaal deur Parlementêre wetgewing. Enige geregistreerde politieke party is egter geregtig om ’n kandidaat te nomineer en enige persoon wat ondersteun word deur ’n minimum aantal geregistreerde kiesers, soos deur Parlementêre wetgewing bepaal, is ook geregtig om as kandidaat genomineer te word.

Artikel 29 – Ampstermyn[edit]

  • (1)
    • (a) Die President se ampstermyn sal vyf (5) jaar wees tensy hy/sy voor die verstryking van die termyn te sterwe kom of bedank of van sy/haar amp onthef word.
    • (b) By die ontbinding van die Nasionale Vergadering onder omstandighede waarvoor in Artikel 57(1) voorsiening gemaak word, sal die President se ampstermyn ook beëindig word.
  • (2) Die President sal uit die amp onthef word indien ’n twee-derde meerderheid van alle lede van die Nasionale Vergadering, bekragtig deur ’n twee-derde meerderheid van al die lede van die Nasionale Raad, ’n resolusie aanvaar wat die President in ’n staat van beskuldiging plaas op grond daarvan dat hy/sy skuldig is aan ’n ernstige oortreding van die Grondwet, of skuldig is aan ’n ernstige oortreding van die landswette, of andersins skuldig is aan growwe wangedrag of onbekwaamheid wat hom/haar ongeskik maak om met waardigheid en eer die amp van President te beklee.
  • (3) ’n Persoon kan die amp van President vir hoogstens twee (2) termyne beklee.
  • (4) Indien ’n President sterf, bedank of uit sy amp onthef word ooreenkomstig die Grondwet, sal die vakante amp van President vir die onverstreke tydperk as volg gevul word:
    • (a) indien die vakature minder as een (1) jaar voor die datum waarop ’n Presidensiële verkiesing gehou moet word, ontstaan, sal die vakature ingevolge die bepalinge van Artikel 34 gevul word;
    • (b) indien ’n vakature meer as een (1) jaar voor die datum waarop ’n Presidensiële verkiesing gehou moet word, ontstaan, sal ’n verkiesing van die President gehou word ooreenkomstig die bepalinge van Artikel 28 binne ’n tydperk van negentig (90) dae van die datum waarop die vakature ontstaan het en afhangende van die verkiesing, sal die vakante amp ingevolge die bepalings van Artikel 34 gevul word.
  • (5) Indien die President die Nasionale Vergadering ontbind ooreenkomstig Artikel 32(3)(a) en 57(1), sal ’n nuwe verkiesing vir President ooreenkomstig die bepalinge van Artikel 28 binne negentig (90) dae gehou word en afhangende van sodanige verkiesing, sal die President in sy/haar amp aanbly en sal die bepalinge van Artikel 58 van toepassing wees.
  • (6) Indien ’n persoon President word ooreenkomstig Sub-Artikel (4) hierbo, sal die tydperk waartydens hy/sy weens sodanige verkiesing of opvolging die amp beklee, nie as ’n termyn vir die doeleindes van Sub-Artikel (3) gereken word nie.

Artikel 30 – Eed of Bevestiging[edit]

Voordat ’n verkose President die amp formeel aanvaar, moet hy/sy die volgende eed van befestiging afle wat deur die Hoofregter vir dié doel benoem is, afgeneem word:

“Ek, ........ , verklaar onder eed/verklaar hiermee plegtig dat ek sal strewe om, na die beste van my vermoë, die hoogste wet, naamlik die Grondwet van die Republiek van Namibië, te handhaaf, te beskerm en te verdedig en om die wette van die Republiek van Namibië getrou te gehoorsaam, uit te voer en te administreer; dat ek die onafhanklikheid, soewereiniteit, territoriale integriteit en die materiële en geestelike hulpbronne van die Republiek van Namibië sal verdedig; en dat ek sal strewe om, na die beste van my vermoë, geregtigheid vir al die inwoners van die Republiek van Namibië te verseker.
(in die geval van ’n eed)
So help my God.”

Artikel 31 – Immuniteit teen Siviele en Strafregtelike Verhore[edit]

  • (1) Geen persoon wat die amp van President beklee of sy funksies behartig mag in ’n siviele saak gedagvaar word nie, behalwe waar sulke prosedures betrekking het op ’n handeling gedurende sy/haar termyn as President.
  • (2) Geen persoon wat die amp van President beklee, mag tydens sy/haar termyn as President van enige strafregtelike misdaad aangekla word nie en is ook nie onderworpe aan die strafregtelike jurisdiksie van enige hof ten opsigte van enige beweerde daad of ’n versuim nie.
  • (3) Nadat die President sy/haar kantoor ontruim het:
    • (a) mag geen hof enige siviele saak teen hom/haar aanhoor ten opsigte van enige optrede wat hy/sy in sy/haar hoedanigheid as President uitgevoer het nie;
    • (b) Siviele of strafhowe het slegs jurisdiksie om gedinge teen die President aan te hoor omtrent ’n handeling of ’n versuim wat na bewering in sy/haar persoonlike hoedanigheid begaan is ten tye van sy/haar ampstermyn as President, indien die Parlement ’n resolusie aanvaar om hom/haar van sy/haar amp te onthef vir konstitusionele redes en indien ’n verdere resolusie deur die Parlement aanvaar word dat die geding in openbare belang is, ongeag die skade wat dit aan die waardigheid van die amp van die President kan aanrig.

Artikel 32 - Funksies, Bevoegdhede en Pligte[edit]

  • (1) As staatshoof moet die President die Grondwet as die hoogste wet erken, handhaaf, beskerm en verdedig en met waardige leierskap alle handelinge uitvoer wat nodig, wenslik, billik en aanverwant is tot sy/haar werksaamhede as die uitvoerende gesag van die Regering. Dit moet ooreenkomstig die bepalinge van die Grondwet en die wette van Namibië toegepas word, waartoe hy/sy konstitusioneel verbind is om te beskerm, te administreer en toe te pas.
  • (2) Die President en die Kabinet sal elke jaar tydens die oorweging van die amptelike begroting die Parlementsitting bywoon ter erkenning van die uitvoerende gesag se verantwoordelikheid teenoor die wetgewende gesag. Die President sal tydens die sitting die Parlement inlig oor die welstand van die volk en toekomstige beleidsrigtinge van die Regering en terugvoering gee oor die beleidsrigtinge van die vorige jaar. Hy moet ook beskikbaar wees om vrae te beantwoord.
  • (3) Sonder om afbreuk te doen aan die algemene werksaamhede en bevoegdhede uiteengesit in Sub-Artikel (1), is die President die voorsitter van Kabinetsvergaderings, en het hy/sy die bevoegdheid, onderworpe aan die Grondwet, om:
    • (a) die Nasionale Vergadering deur Proklamasie ooreenkomstig Artikel 57(1) te ontbind;
    • (b) die datums en tye van spesiale sittings van die Nasionale Vergadering te bepaal en om sittings te verdaag;
    • (c) ambassadeurs te akkrediteer, te ontvang en te erken en om ambassadeurs, gevolmagtigdes, diplomatieke verteenwoordigers en ander diplomatieke amptenare, konsuls en konsulêre amptenare aan te stel;
    • (d) oortreders te begenadig of hulle vonnisse op te skort, hetsy onvoorwaardelik of onderworpe aan voorwaardes soos die President goeddink;
    • (e) internasionale ooreenkomste te beding en te onderteken en om sulke magte te delegeer;
    • (f) krygswet af te kondig of, indien nodig vir die verdediging van die volk, ’n staat van nasionale verdediging te verklaar ooreenkomstig Artikel 26(7);
    • (g) staatsdepartemente en ministeries te skep en te ontbind soos wat die President van tyd tot tyd nodig ag om Namibië effektief te regeer;
    • (h) eerbewyse aan burgers, inwoners en vriende van Namibië te betoon in oorlegpleging met belanghebbendes, betrokke persone en instellings soos hy/sy dit nodig ag;
    • (i) Die volgende persone aanstel:
      • (aa) Die Eerste Minister;
      • (bb) Ministers en Adjunk-Ministers
      • (cc) Die Prokureur-Generaal
      • (dd) Die Direkteur-Generaal van Beplanning
      • (ee) enige ander persoon of persone wat ooreenkomstig die Grondwet of enige ander wet deur die President aangestel moet word.
  • (4) Die President het ook die mag ooreenkomstig die Grondwet om die volgende persone aan te stel:
    • (a) op aanbeveling van die Regsdienskommissie:
      • (aa) Hoofregter, die Regter-President van die Hoërhof en ander Regters van die Hoogste Hof en Hoërhof;
      • (bb) die Ombudsman;
      • (cc) die Aanklaer-Generaal;
    • (b) op aanbeveling van die Staatsdienskommissie:
      • (aa) die Ouditeur-Generaal;
      • (bb) die Goeweneur en Adjunk-Goeweneur van die Sentrale Bank van Namibië;
    • (c) op aanbeveling van die Veiligheidskommissie:
      • (aa) die Hoof van die Weermag;
      • (bb) die Inspekteur-Generaal van die Polisie;
      • (cc) die Kommisaris van Gevangenisse.
  • (5) Behoudens die bepalinge van die Grondwet oor die ondertekening van enige wette wat deur die Parlement aanvaar is, en die uitvaardiging en die publikasie van sulke wette in die Staatskoerant, het die President die volgende bevoegdhede:
    • (a) om enige Proklamasie te teken en uit te vaardig wat hy/sy regtens mag teken en uitvaardig;
    • (b) om enige wette aan die Nasionale Vergadering voor te lê vir goedkeuring;
    • (c) om hoogstens ses (6) persone, sonder stemreg, op grond van hulle besondere kundigheid, status, vaardighede of ondervinding aan te stel in die Nasionale Vergadering.
  • (6) Onderworpe aan die bepalinge van die Grondwet en ander toepaslike wetgewing, kan enige persoon wat deur die President in ’n amp aangestel is deur dieselfde proses uit sy/haar amp afgedank word.
  • (7) Onderworpe aan die bepalinge van die Grondwet of enige ander toepaslike wetgewing, mag die President, in oorlegpleging met die Kabinet of op aanbeveling van die Staatdienskommissie:
    • (a) enige amp in die Staatsdiens van Namibië skep, waarvoor regtens geen voorsiening gemaak is nie;
    • (b) enige persoon aanstel in so ’n amp; en
    • (c) die dienstermyn en diensvoorwaardes van so ’n persoon bepaal.
  • (8) Alle aanstellings en handelinge wat in terme van Sub-Artikels (3), (4), (5), (6) en (7) uitgevoer word, sal deur die President deur Proklamasie in die Staatskoerant gepubliseer word.
  • (9) Onderworpe aan die bepalinge van die Grondwet, kan enige handeling deur die President uitgevoer ingevolge enige bevoegdheid wat hy in terme van hierdie Artikel het, op gepaste wyse hersien, herroep of reggestel word, mits minstens een-derde van die Nasionale Vergadering ’n resolusie wat sodanige handeling afkeur en besluit om dit te hersien, herroep of reg te stel, voorstel ’n tweederde meerderheid van alle sy lede, aanvaar word, (10) Enige handeling van die President, wat uitgevoer is in die tydperk voor die hersiening, herroeping of regstelling, ingevolge Sub-Artikel (9) hierbo, sal geldig en wettig wees totdat die Parlement anders besluit.

Artikel 33 – Vergoeding[edit]

Parlementêre wetgewing sal voorsiening maak vir die vergoeding van die President uit die Staatsinkomstefonds, sowel as pensioenbetalings aan voormalige Presidente en, in die geval van hul afsterwe, aan hul oorlewende gades.

Artikel 34 – Opvolging[edit]

  • (1) Indien die amp van President vakant word, of as die President nie in staat is om sy/haar ampspligte na te kom nie, sal die volgende persone, in die volgorde wat die Sub-Artikel bepaal, vir die onverstreke gedeelte van die President se termyn of tot hy/sy in staat is om diens te hervat, wat ookal eerste mag gebeur, as President waarneem:
    • (a) die Eerste Minister;
    • (b) die Adjunk-Eerste Minister;
    • (c) ’n persoon aangestel deur die Kabinet.
  • (2) Indien dit noodsaaklik of wenslik is dat iemand namens die President waarneem ten tye van tydelike afwesigheid uit die land of as gevolg van werkdruk, kan die President enigiemand soos genoem in Sub-Artikel (1) hierbo, in oorlegpleging met die Kabinet, nomineer om namens hom/haar waar te neem tydens sodanige geleenthede of besondere omstandighede en ’n spesifieke waarnemingstydperk bepaal soos die President volgens sy/haar diskresie wys en wenslik mag beskou.