Grondwet van Namibië/Hoofstuk 2

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Grondwet van Namibië/Hoofstuk 1 Die Grondwet van Namibië, Hoofstuk 2: Burgerskap

deur onbekend
Grondwet van Namibië/Hoofstuk 3


Artikel 4 – Verkryging en verlies van burgerskap[edit]

  • (1) Die volgende persone is Namibiese burgers vanweë geboorte:
    • (a) persone wat voor die dag van onafhanklikheid in Namibië gebore is en wie se ouers reeds burgers sou wees by hul geboorte, indien hierdie Grondwet toe in werking was; en
    • (b) persone wat voor die datum van onafhanklikheid gebore is en nie Namibiese burgers is onder Sub-Artikel (a) nie en wie se vaders en moeders reeds Namibiese burgers was by geboorte van sulke persone, op voorwaarde dat hulle ouers nie:
      • (aa) enige diplomatieke immuniteit geniet het onder enige van die Namibiese wette wat betrekking het op diplomatiese voorregte nie; of
      • (bb) ’n beroepsverteenwoordiger van ’n ander land was nie; of
      • (cc) lede was van enige polisiemag, weermag of eiligheidseenheid gesekondeer vir diens binne Namibië, deur die Regering van ’n ander land nie. Verder dat hierdie Sub-Artikel nie van toepassing is op enige persone wat burgerskap verlang deur geboorte nie, indien sulke persone reeds gewone inwoners van Namibië was met Onafhanklikheid en vir n ononderbroke tydperk van minstens vyf (5) jaar in Namibië woonagtig was, of indien die vader of moeder van sulke persone reeds gewone inwoners van Namibië was by geboorte van die persoon wat burgerskap verlang en hy/sy reeds ’n inwoner van Namibië was vir ’n ononderbroke tydperk van minstens vyf (5) jaar voor sodanige datum;
    • (c) persone wat na die datum van Onafhanklikheid gebore word en wie se vader of moeder reeds burgers van Namibië is by geboorte van so persoon;
    • (d) persone gebore na Onafhanklikheid wat nie kwalifiseer vir burgerskap onder Sub-Artikel (c) nie en wie se vader of moeder reeds gewone inwoners van Namibië was by geboorte van die persone, mits die vader of moeder nie persone is wat:
      • (aa) enige diplomatieke immuniteit in Namibië geniet onder enige wet wat betrekking het op diplomatieke voorregte nie; of
      • (bb) ’n beroepsdiplomaat van ’n ander land was nie; of
      • (cc) lede van enige polisiemag, weermag of veiligheidseenheid gesekondeer vir diens binne Namibië deur die Regering van ’n ander land is nie; of
      • (dd) onwettige immigrante is nie: Verder dat Sub-Artikels (aa), (bb), (cc) en (dd) hierby nie van toepassing is op kinders wat andersins staatloos is nie.
  • (2) Die volgende persone sal burgers van Namibië wees deur herkoms.
    • (a) Persone wat nie Namibiese burgers is nie onder Sub-Artikel (1) en wie se vaders en moeders reeds gewone burgers van Namibië is by geboorte van sulke persone, of wie se vaders en moeders reeds gewone burgers van Namibie is by geboorte van sulke persone, of wie se vaders of moeders reed sou kwalifiseer vir burgerskap deur geboorte onder Artikel (1), mits hierdie Grondwet reeds daardie tyd in werking was;
    • (b) Persone wat voldoen aan die voorskrifte van registrasie van burgerskap soos voorgeskryf deur die Parlement. Niks in die Grondwet mag egter die Parlement verhoed om wetgewing voor te skryf nie, wat sal eis dat die geboorte van sulke persone binne ’n spesifieke periode in Namibie of by ’n ambassade, konsulaat of kantoor van ’n beroepsverteenwoordiger van die Regering van Namibië geregistreer moet word.
  • (3) Die volgende persone sal burgers van Namibië wees deur die huwelik.
    • (a) Persone wat nie Namibiese burgers is nie onder Artikel (1) of (2) en wat:
      • (aa) in goedertrou met ’n Namibiese burger trou of, voor die Grondwet in werking getree het, in goeie goedertroue met ’n person getrou het wat sou kwalifiseer vir Namibiese burgerskap indien die Grondwet reeds in werking was; en
      • (bb) voor die huwelik reeds normaalweg in Namibië gewoon het vir ’n periode van minstens twee (2) jaar as die eggenoot of eggenote van sodanige persoon;
      • (cc) wat aansoek doen om burgers van Namibië te word;
    • (b) vir die doeleindes van hierdie Sub-Artikel (en sonder om afbreuk te doen aan enige uitwerking wat dit mag hê op enige ander oogmerke) word ’n huwelik deur gewoontereg beskou as ’n huwelik: op voorwaarde dat niks in die Grondwet die Parlement sal verhoed om wetgewing te formuleer nie, wat die vereistes bepaal waaraan so ’n gewoonregtelike huwelik moet voldoen om erken te word vir die doeleindes van hierdie Sub-Artikel.
  • (4) Burgerskap deur registrasie mag opgeëis word deur persone wat nie Namibiese burgers in terme van Sub-Artikels (1), (2) of (3) is nie, wat reeds gewone inwoners in Namibië was ten tye van Onafhanklikheid en reeds vir ’n periode van minstens vyf (5) jaar in Namibië woonagtig was. So ’n aansoek vir burgerskap onder hierdie Sub-Artikel moet binne ’n tydperk van twaalf (12) maande vanaf die datum van Onafhanklikheid ingehandig word en die persone moet afstand doen van burgerskap van enige ander land waarvan hulle burgers is.
  • (5) Persone wat nie Namibiese burgers is nie ingevolge Artikels (1), (2), (3) of (4) mag aansoek doen vir burgerskap deur naturalisasie mits hulle:
    • (a) normaalweg in Namibië woonagtig is wanneer die aansoek vir naturalisasie ingedien word; en
    • (b) sodanig in Namibië woonagtig was vir ’n ononderbroke periode van minstens vyf (5) jaar, hetsy voor of na Onafhanklikheid; en
    • (c) voldoen aan enige ander vereiste met betrekking tot gesondheid, morele waardes, sekuriteit of wettigheid van verblyf soos voorgeskryf deur die reg.
  • (6) Geeneen van bogenoemde bepalinge sal die Parlement verhoed om by wyse van wetgewing die toekenning van Namibiese burgerskap aan enige geskikte en betaamlike persoon op grond van enige besondere bekwaamheid of ondervinding of toewyding of dienslewering aan die Namibiese volk, voor of na Onafhanklikheid toe te ken nie.
  • (7) Persone wat vrywillig afstand doen van hul Namibiese burgerskap deur ’n formele verklaring tot dien effekte te teken, sal hul burgerskap verloor.
  • (8) Geen bepalinge van die Grondwet sal die Parlement verhinder om wetgewing aan te neem om wette goed te keur nie, wat mag lei tot die verlies van enige persoon se burgerskap na die datum van Onafhanklikheid indien die persoon:
    • (a) vrywilliglik burgerskap van enige ander land aanvaar het; of
    • (b) diens gedoen het of aangebied het om diens te doen in die gewapende of veiligheidsmagte van ’n ander land sonder skriftelike toestemming van die Namibiese Regering; of
    • (c) permanente verblyf aanvaar het in enige ander land vir ’n periode van meer as twee (2) jaar en sonder die skriftelike toestemming van die Regering van Namibië uit Namibië afwesig was. Geen persoon wat ’n burger is op grond van geboorte of afkoms mag sy burgerskap ontneem word deur sodanige wetgewing nie.
  • (9) Die Parlement het die reg om verdere wetgewing te formuleer, wat nie teenstrydig is met die huidig Grondwet nie, om die verkryging of verlies van Namibiese burgerskap te reguleer.