Die Kortverhaal van die Grieke en Romeine II/Die kortverhaal in die geskiedenis

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Die kortverhaal in die mitologie Die Kortverhaal van die Grieke en Romeine II
Die kortverhaal in die geskiedenis
deur T.J. Haarhoff
Die kortverhaal in die filosofie


Die kortverhaal in die geskiedenis.

Die vindingryke dief[edit]

(Herodotus II, 121.)

Herodotus, „die Vader van die geskiedskrywing" soos Cicero hom noem, was 'n Griek, wat omstreeks die jaar 484 voor Christus gebore is in Klein-Asië. Dit was sy bedoeling om die geskiedenis van die oorlog tussen die Perse en die Grieke te beskrywe - 'n oorlog wat beslissend was in die lotgevalle van die Wes-Europese kultuur. Om dit te kan doen, beskrywe hy eers die agtergrond en die groei van die Persiese Ryk.

Hy het sy leeftog verdien deur stukke uit sy werk aan die publiek voor te lees. Hy het sy geskrifte meer as literêre kuns dan as wetenskap beskou, en sy nege boeke is genoem na die name van die Muse. Hy het ver rondgereis in Griekeland, in Egipte en in Klein-Asië, en orals het hy met kinderlike bewondering en onversaadbare nuuskierigheid vrae gevra, deurgesnuffel (44) en ondersoek. In 'n styl wat soos 'n helder stroompie vloei, gee hy eerlik sy ondervindinge weer, - soms naïef, soms met verbasende deursig en noukeurigheid, altyd met 'n onontleedbare bekoorlikheid. Hy hou daarvan om blommetjies langs die pad te pluk - alles wat menslik is interesseer hom - en sy werk is vol uiters interessante verhaaltjies waarvan hier slegs 'n paar uitgesoek kan word.


Die volgende Koning wat na Proteus regeer (so het die Egiptiese priesters my vertel) was Rhampsinitus. Hy het as aandenking agtergelaat die ingangspoort van die tempel van Hephaistos, wat na die Weste kyk, en voor die poort het hy twee standbeelde geplaas, vyf-en-twintig el hoog.. Hulle vertel my dat hierdie Koning 'n mag van silwer besit het, sodat nie een van die latere Konings dit oortref het nie: hulle het daar nie eens naby gekom nie. Om sy skatte te beveilig, het hy 'n kamer van klipsteen gebou só dat een van die mure daarvan aan die buitenste gedeelte van die paleis grens. Maar die boumeester het 'n plan gehad en het dit so prakseer dat een van die stene maklik deur twee manne of selfs deur een, uitgehaal kon word. Toe die kamer nou klaar was, het die koning sy skatte daarin gebêre. Maar na 'n sekere tyd het die boumeester, toe hy nou aan die end van sy lewe was, sy seuns geroep (hy het (45) twee gehad) en gesê dat hy voorsiening vir 'n oorvloedige leeftog vir hulle gemaak het deur die slim plan waarmee hy die Koning se skatkamer gebou het. Hy het hulle duidelike aanwysings gegee hoe om die steen uit te haal en hulle die afmetinge gegee om dit te kry; en hy sê dat as hulle dit onthou, hulle die opsigters van die Koning se skatte sou word. Hy het gesterf, en sy seuns het gou-gou die werk aangepak. Snags het hulle na die paleis gekom, maklik die steen gevind en gehanteer en baie van die skatte weggedra.

Toe die Koning die skathuis oopmaak, was hy verbaas om te sien dat die kiste van hul skatte kortkom; en hy het nie geweet wie om te beskuldig nie, want die seëls was onverbreek en die deure dig toegemaak. Maar toe hy 'n tweede en 'n derde keer die kamer oopmaak en die skatte steeds minder en minder sien word, want die diewe het nie opgehou met plunder nie, maak hy die volgende plan. Hy het valle laat maak en hulle laat stel rondom die kiste waarin die skatte was. Die diewe het soos tevore gekom. Een van hulle kruip in, en toe hy naby 'n vat kom, vang die val hom en hou hom vas. En toe hy sien in watter lelike posisie hy was, roep hy dadelik sy broer en wys hom hoe die saak staan en „Kruip jy gou in", sê hy, „en kap my kop af, sodat ek nie gesien (46) en herken word en jou ook in die verknorsing bring nie." Sy broer dink toe dat die raad goed is en stem in en doen wat van hom verlang is. Daarop het hy die steen in sy plek gesit en huistoe gegaan met die kop van sy broer. Toe dit môre word, kom die Koning na die kamer toe en was verbaas om die dief se onthoofde liggaam in die val te sien, maar die kamer onbeskadig, sonder enige uitgang of ingang; en hy het nie geweet wat om te doen nie.

Maar aanstons het hy die liggaam van die dief op die stadsmuur gehang, en 'n wag daarby gesit met die bevel om te arresteer en voor hom te bring enigeen wat hul daar sien ween of rouklag maak.

Dog die moeder van die dief, nadat die liggaam opgehang is, was vreeslik onthuts. Sy het met haar oorgeblewe seun gaan praat en hom gesê hy moet 'n plan maak hoe hy sy broer se lyk kan los en na haar toe bring; met die dreigement dat as hy nie hoor nie, sy na die Koning sal gaan en informasie gee dat hy die skatte het. Sy het woes met hom te kere gegaan; en toe hy, na baie te pleit, haar nie kon oortuig nie, het hy die volgende plan gemaak. Hy het 'n klompie esels gekry en nadat hy enige velsakke vol wyn op hulle gelaai het, drywe hy hulle totdat hy naby die wagters van die hangende lyk kom. Toe trek hy twee of (47) drie voete van die dierevelle wat as sakke dien, uit en maak hulle los; en toe die wyn uitloop, slaan hy teen sy kop en roep hardop, asof hy nie weet na watter van die esels hy hom die eerste moet wend nie. Maar die wagters, toe hulle die wyn volop sien wegvloei, storm na die pad toe met bekers en vang die wyn wat daar verspil word en dink hulle is gelukkig. En die man met nagemaakte woede, skel hulle almal bitter uit.

Maar hulle het mooi met hom gepraat en aanstons maak hy of hy bevredig is en afsien van sy woede; en eindelik drywe hy sy esels van die wa-pad af en bring hulle weer in orde. So begin hulle toe te gesels, en een van hulle maak 'n grap en laat hom lag; waarop hy hulle nog 'n wynsak aanbied. En hulle, net soos hulle was, gaan lê en begin te drink, en maak hom een van die party en nooi hom uit om te bly en saam te drink; en hy stem saam, voorwaar, en bly. En toe hulle ewe vriendelik hom verwelkom en met hom saam drink, gee hy hulle nog 'n velsak, totdat die wagters, deur oorvloed van wyn, geweldig dronk geword het, en, oormeester deur die drank, aan slaap geval het op die plek waar hulle gedrink het. En daar die nag al vergevorderd was, maak hy die lyk van sy broer los, en by wyse van belediging, skeer hy die regterwang van al die wagters. Toe sit hy die lyk op die esels en dryf hulle huis-toe, (48) want hy het die bevele van sy moeder vervul.

Toe hulle vir die Koning vertel hoe die dief se lyk weggesteel is, was hy verskriklik kwaad en besluit om alle kragte in te span om uit te vind wie die plan gemaak het. Hy het dus sy dogter (so is die storie, maar ekself glo dit nie) beveel om in 'n kamer te sit en almal wat kom, te ontvang; maar voordat sy met hulle omgaan, moes sy hulle laat vertel wat die slimste streek is wat hulle gedoen het in hul lewe en wat die grootste misdaad; en as iemand haar die geskiedenis van die dief vertel, moes sy hom gryp en nie toelaat om uit te gaan nie. Die meisie het gedoen soos haar vader haar gesê het. Maar die dief besef die doel van die Koning en kry die begeerte om hom te uitoorlê. Toe sny hy die arm van 'n nuwe lyk by die skouer af, en sit dit onder sy mantel en gaan na die Koning se dogter. Sy vra hom dieselfde vraag as die ander en hy sê toe dat sy grootste misdaad was toe hy sy broer se kop afgekap het nadat die in die val gevang is, en sy slimste plan, die bevryding van sy broer se lyk nadat hy die wagters dronkgemaak het. Toe sy dit hoor, wou die prinses hom sommer pak; maar die dief gee haar in die donker die lyk se arm en sy gryp dit, dinkende dat sy die dief se arm het; en hy laat los en ontsnap by die deur uit.

Toe die Koning dit te hore kom, was hy verbaas (49) oor die vindingrykheid en die waaghalserigheid van die man; en eindelik het hy 'n proklamasie aan al die stede gestuur, belowende aan die dief kwytskelding en 'n groot beloning as hy in die Koning se teenwoordigheid wou kom. Die dief het die Koning vertrou en voor hom verskyn. Daarop het Rhampsinitus hom grootliks bewonder en hom sy dogter tot vrou gegee, omdat hy die slimste van al die Egiptenare was; want, sê hy, die Egiptenare oortref alle ander volke in skranderheid, maar hy oortref die Egiptenare.

Kroisos en Solon[edit]

(Herodotus I, 29 vgg., en I, 86.)

Solon die Athener het wette vir sy volk gemaak op hul versoek, en weggeseil om sy land vir tien jaar te verlaat en verskillende streke te besoek; want hy wou vermy dat hulle hom sou dwing om van die wette wat hy ingestel het, te herroep. Self kon die Atheners dit nie doen nie, want hulle het 'n plegtige eed geneem dat hulle tien jaar lank onderdanig sou wees aan die wette wat Solon sou voorstel. Hierom dan, het Solon sy land verlaat, en eers by Amais in Egipte en later by Kroisos in (50) Sardis[1] gekom. By sy aankoms is hy as 'n gas in die Koning se paleis onthaal; en later, op die derde of die vierde dag, het Kroisos se bediendes, op bevel van hul meester, Solon rondgelei om die skatkamers te sien. Hulle het hom alles gewys - hoe groot en pragtig alles was; en nadat hy alles gesien en ondersoek het soos hy geleentheid had om te doen, stel Kroisos hom die volgende vraag: „Atheense gas, baie het ons van u gehoor, beide wat betref u wysheid en u reise, hoe u in die opdoen van kennis ver gereis het om die wêreld te sien. Nou wil ek u graag vra: het u al iemand gesien wat u die gelukkigste van alle mense ag?"

Dit het Kroisos gevra, menende dat hyself die gelukkigste was; Solon, egter, het g'n vleitaal gebruik nie, maar alleen die waarheid gepraat en gesê: „So iemand het ek wel gesien, O Koning, - Tellos van Athene."

En Kroisos is verwonderd en vra ewe skerp: „Hoe oordeel u dat Tellos die gelukkigste was?"

En hy antwoord: „Tellos, in die eerste plek, het in sy staat gewoon toe dit welvarend was; hy was die vader van edele seuns, en hulle het almal kinders gehad wat almal by hul ouers grootgeword het; en, in die tweede plek het hy middele besit wat onder ons vir ryk- dom deurgaan, en sy lewe op roemryke wyse (51) geëindig. Want toe die Atheners by Eleusis teen 'n naburige stam geveg het, het hy met hulptroepe opgekom en die vyand verslaan en deur 'n daad van skitterende dapperheid sy lewe opgeoffer. En die Atheners het hom 'n staatsbegrafnis gegee waar hy geval het en hom groot eer bewys."

Toe Solon, deur hom te vertel in hoeveel opsigte Tellos gelukkig was, vir Kroisos aangespoor het om verder uit te vra, het die Koning verneem wie dan die tweede was nà hom, menende dat hy sekerlik minstens daardie plek sou kry. Maar Solon antwoord:

„Kleobis en Biton: want hulle, van Argos afkomstig, het genoegsame lewensmiddele gehad en buitendien liggaamlike krag, soos ek sal verklaar. Albei het atletiese pryse gewen, en hierdie storie word van hulle vertel. Daar was 'n fees van Hera in Argos, en dit was volstrek noodsaaklik dat hul moeder deur 'n span osse na die tempel toe gebring moes word. Maar die osse het nie betyds van die land teruggekom nie. En die jongelinge, - weens die kortheid van die tyd, kon hul niks anders doen nie - neem toe self die juk op hul skouers en trek die wa met hul moeder daarop tempel-toe. Byna ses myl ver het hulle dit getrek tot by die tempel.

Nadat hulle dit gedoen het voor die oë van die skare, het hulle 'n pragtige lewenseinde te beurt (52) geval, en deur hulle het die god getoon hoeveel beter dit is vir 'n mens om te sterwe as om te lewe. Want die manne van Argos staan rondom en wens die jongelinge geluk met hul liggaamskrag, en die vroue wens die moeder geluk met haar seuns. En sy was verheug oor dit alles en staan voor die standbeeld van die godin en bid dat haar seuns, Kleobis en Biton, wat die godin so vereer het, die grootste seën mag ontvang wat vir 'n mens moontlik is. Na die gebed het die jongelinge offerande geoffer en aan die feesmaal deelgeneem. Toe gaan hul slaap in die tempel self, en hulle het nooit weer ontwaak nie, maar daar hul lewe geëindig. Daarna het die mense van Argos standbeelde van hulle gemaak ter ere van hul kranige gedrag, en die standbeelde is in Delphi opgerig."

So het Solon dan aan hulle die tweede plek toegeken. En Kroisos het hom vererg en gesê: „Gas van Athene! Dink jy dan so vreeslik min van ons welvarendheid, dat jy ons nie eens met gewone mense vergelyk nie?" En hy antwoord: „Kroisos, u vra my omtrent die lot van die mens: goed weet ek hoe naywerig die godheid is en hoe graag hy ons lewe verwar. In die loop van 'n lang lewe kan 'n mens baie sien wat jy liewer nie wil sien nie, baie dinge verduur wat jy liewer nie wil verduur nie. Die lengte van 'n man se lewe stel ek vas (53) op sewentig jaar dit wil sê, ses-en-twintig-duisend, tweehonderd-en-vyftig dae[2] en jy kan sê dat nie een van al hierdie dae soos 'n ander dag is nie in wat hy vir ons bring. So dan, Kroisos, is die mens heeltemal 'n skepsel van die toeval.

Wat u betref, ek sien dat u 'n man van groot rykdom is en 'n koning oor baie mense, maar gelukkig kan ek u nog nie noem nie, totdat ek hoor dat u lewe 'n voorspoedige einde gevind het."

Toe die Perse Sardis inneem, het hulle Kroisos self 'n gevangene gemaak; en dit, nadat hy veertien jaar geregeer het en die stad veertien dae beleër is. So is die orakel vervul deurdat hy sy eie groot ryk tot 'n val gebring het.[3]

Die Perse het hom dan gevang en voor Cyrus gebring. En Cyrus het 'n groot brandstapel laat maak en Kroisos daarop laat sit, en veertien Lydiese knape naas hom...

En terwyl Kroisos op die brandstapel staan, kom daar tot hom, in sy ellende, die gedagte aan wat Solon met goddelike ingewing gesê het, dat niemand gedurende sy leeftyd gelukkig genoem kan word nie. Toe hy dit onthou, sê hulle, het hy (54) diep gesug en hardop gekreun, na 'n lang stilte, en driemaal die naam van Solon uitgeroep.

Toe Cyrus dit hoor, vra hy die tolke om van Kroisos te verneem wie die persoon was wat hy aanroep. Vir 'n tyd het Kroisos, sê hulle, stil gebly; maar naderhand, toe Cyrus daarop aandring, antwoord hy:

„Iemand wat ek graag met alle konings wil laat praat: daarvoor sou ek baie rykdom wil gee."

Nou was dit vir hulle 'n duistere rede, en weer vra hulle hom wat hy in gedagte het; en daar hulle ernstig geword het en hom lastig geval het, vertel hy hulle hoe Solon van Athene eenmaal gekom het en al sy rykdom deurgekyk het, en dit toe liggeag het, en só gesê het, en toe weer só. En hy vertel hoe alles gebeur het soos Solon gesê het; ofskoon Solon nie spesiaal met betrekking tot Kroisos gepraat het nie, maar met betrekking tot die mensdom in die algemeen en veral tot diegene wat gelukkig in hul eie oë is.

En terwyl Kroisos dit vertel was die brandstapel reeds aangesteek en die buitenste dele al aan die brand. Maar toe Cyrus van die tolke verneem wat Kroisos sê, kry hy spyt. Hy word indagtig dat hy ook maar 'n mens is en dat hy 'n ander man, wat nie minder as hy in welvarendheid was nie, lewendig aan die vuur oorhandig. En buitendien begin hy bang word vir 'n vergelding en dink (55) daaraan dat die hele menslike lot wisselvallig is. Daarom, sê hulle, het hy beveel dat hulle die vuur so gou as moontlik moet blus en Kroisos en die wat saam met hom was, afbring van die brandstapel; maar ten spyte van hul pogings kon hulle die vlamme nie baas raak nie.

En toe (so vertel die Lydiërs) sien Kroisos dat Cyrus spyt gekry het dat almal die vuur probeer blus maar tevergeefs; en hy bid hardop tot Apollo dat as enige offergawe van hom ooit die god behaag het, hy nou moes kom help en hom red van die ramp wat hom bedreig. Wenende roep hy die god aan: en skielik in 'n helder en windelose lug pak wolke saam en 'n geweldige reënstorm bars los, sodat die brandstapel geblus is.

Die vryers van Agariste[edit]

(Herodotus VI, 125-130.)

Nou was die familie van die Alkmaiondai van die vroegste tye af reeds beroemd, maar van die tyd van Alkmaion en later van Megakles het hulle nog meer beroemd geword. Want toe die Lydiërs deur Kroisos van Sardis na die Delphiese orakel gestuur is, het Alkmaion hulle gehelp en ywerig dienste aan hulle bewys. Dus het Kroisos, toe hy (56) van die Lydiërs verneem hoe Alkmaion hom begunstig het, die man na Sardis laat kom, en hom as present gegee soveel goud as hy op een keer op sy persoon kon wegdra.

Met die oog op so 'n soort geskenk, het Alkmaion hom voorberei en plan gemaak as volg. Hy het 'n wye onderkleed aangetrek met 'n diep vou wat voor hom afhang, en die grootste kapstewels wat hy kon kry, aangetrek; en so het hy na die skatkamer gegaan waarheen hulle hom gelei het. Daar val hy plat op 'n hoop goud-stof en pak eers aan die kant van sy bene soveel goud as sy stewels kon bevat; en toe vul hy die hele vou met die goud, en sprinkel van die goud-stof op sy hare en stop 'n klompie in sy mond: en so sukkel hy by die skatkamer uit, sy stewels met moeite slepende - 'n gesig wat jou laat dink aan alles in die wêreld behalwe aan 'n mens! Sy mond was vol geprop, en elke deel van hom was uitgeswel. Kroisos skaterlag toe hy hom sien, en hy gee hom nie alleen alles wat hy dra nie, maar nog net soveel daarby. So het hierdie familie baie ryk geword, en so het die Alkmaion, waarvan ek praat, daartoe gekom om reisiesperde aan te hou en 'n Olympiese oorwinnaar te word. In die volgende geslag het Kleisthenes, die alleenheerser van Sikyon,[4] die familie verhoog, sodat (57) dit nog vernamer onder die Hellene geword het as ooit tevore.

Want Kleisthenes het 'n dogter gehad met die naam van Agariste: en hy was begerig om die beste man in die hele Hellas uit te soek om met haar te trou. Gedurende die Olympiese spele, toe Kleisthenes oorwinnaar was met 'n vierspan-wa, het hy laat afkondig dat wie ook al onder die Hellene homself waardig ag om skoonseun van Kleisthenes te word, op die sestigste dag - of vroeër as hy wil - na Sikyon toe moes kom; want hy was van plan om die huwelik binne 'n jaar van die sestigste dag af, tot stand te bring.

Toe vergader al die Hellene wat hoogmoedig was op hulself en hul afkoms, om die dame se hand te vra; en vir hulle het Kleisthenes 'n renbaan en 'n stoei-plek laat maak, wat hy net vir hierdie doel in orde gehou het.

Van Italië het gekom Smyndyrides, die seun van Hippokratus van Sybaris (en Sybaris het nou juis die toppunt van haar welvaart bereik) en Damasos van Siris, die seun van die Amyris wat die Wyse genoem is: hulle het van Italië gekom... Van Athene het daar gekom Megakles, die seun van die Alkmaion wat na Kroisos toe gegaan het, en ook nog Hippokleides, seun van Tisandros, die voorste onder die Atheners in rykdom en skoonheid van persoon... (58)

Dit was die lys van die vryers. Toe hierdie jongelinge op die vasgestelde dag verskyn het, vra Kleisthenes eers uit omtrent die land en afkoms van elk. Daarna onderhou hy hulle een jaar lank en toets gedurig hul manlikheid, hul opleiding, hul karakter, terwyl hy met elkeen afsonderlik omgaan, en met almal saam. En hy het hulle getoets deur die jongeres onder hulle op die renbaan te bring om in liggaamsoefeninge te wedywer, en veral het hy hul gedrag by die gesamentlike maaltyd gadegeslaan. So lank as hulle sy gaste was, het hy alles vir hul gedoen en hul rojaal behandel.

Nou was die jongelinge in wie hy die meeste sin had, die van Athene; en van hulle het hy die voorkeur aan Hippokleides, seun van Tisandros gegee, sowel weens sy manlikheid as omdat hy verwant was aan die Kypselidae van Korinthe. Toe die dag wat vasgestel was vir die bruilof, aanbreek en Kleisthenes sy keuse moes afkondig, het hy honderd osse geoffer en aan die vryers en die hele Sikyon 'n feesmaal aangebied. Na die feesmaal het die vryers met mekaar gewedywer in musiek en in die voer van maatskaplike gesprekke.

Terwyl hul daar sit en aan die drink gaan, het Hippokleides, wat ver bokant die ander uitgeblink het, 'n fluit-speler gevra om musiek te maak; (59) en toe hy dit doen, het Hippokleides begin dans. En dit het so gebeur dat hy wonderlik in sy skik was met sy dansery; maar Kleisthenes het die hele affêre begin wantrou.

Na 'n rukkie het Hippokleides 'n tafel laat kom; en toe dit gebring word, dans hy daarop, eers in die Spartaanse en toe in die Attiese styl. Eindelik het hy, kop-na-onder op die tafel gaan staan en met sy bene in die lug gedans.

By die eerste en die tweede dans het Kleisthenes al 'n walging gekry aan die idee dat Hippokleides nou sy skoonseun sou word, weens sy skaamtelose dansery, maar tog het hy homself bedwing, onwillig om teen Hippokleides uit te bars. Maar toe hy hom met sy bene in die lug sien dans, kon hy nie langer stil bly nie en roep:

„Seun van Tisandros, jy het jou bruilof weggedans!"

En Hippokleides antwoord ewe snipperig: „Hippokleides gee nie om nie!" - 'n gesegde wat van daardie tyd af spreekwoordelik geword het.

Toe die babetjie geglimlag het[edit]

(Herodotus V, 92.)

Die Bacchiadae, regeerders van Korinthe, het van 'n orakel gehoor wat sê dat die kind van Labda, 'n dame uit hul eie familie, en Eëtion, 'n man van (60) laer stand, die huis van die Bacchiadae sou verdelg. Hulle het dus manne gestuur om die kind kort na sy geboorte van kant te maak.

So kom die manne na die huis van Eëtion en vra of hulle die kind mag sien. Nou het Labda niks geweet van hul doel nie en gedink dat hulle uit vriendelikheid teenoor die kind se vader gekom het. Sy bring toe die kind en sit hom in die arms van een van hulle.

Dit word vertel dat die manne ooreengekom het onderweg dat die een wat die kind die eerste ontvang, dit teen die grond sou smyt.

Toe Labda nou die kind bring, glimlag hy, deur 'n goddelike voorsienigheid, vir die man wat hom neem. Die man sien dit en voel jammer, en uit jammerte oorhandig hy hom aan die tweede, en hy weer aan die derde. En so het hy van hand tot hand gegaan van elkeen van die tien, want niemand wou hom doodmaak nie.

Hulle het hom dus aan sy moeder teruggegee. En voor die deur staan hulle mekaar verwyt en slegsê, en veral vir die man wat die kind die eerste ontvang het, want hy het nie volgens hul afspraak gehandel nie. En eindelik, na 'n rukkie, besluit hulle om weer in te gaan en almal deel te neem aan die moord.

Maar die orakel het gesê dat die kind van Eëtion 'n bron van euwels vir Korinthe sou wees. Want (61) Labda staan al die tyd naby die deur en hoor alles. En sy word bang dat hulle regtig van plan sou verander en die kind kon neem en van kant maak. Sy gryp hom dus en steek hom weg waar hy die moeilikste gevind sou word, in 'n kas. Want sy het geweet dat as hulle terugkom en begin soek, hulle oral sal rondsnuffel: en dit het hulle ook gedoen. Hulle kom en soek en kry niks nie; en besluit om weg te gaan en aan die gesaghebbendes te sê dat hulle die bevel uitgevoer het. Hulle gaan toe, en sê dit; maar mettertyd word Eëtion se seun groot, en weens sy ontkoming is hy Kypselus genoem, want Kypsele in die Griekse taal beteken „kas".

Die Groot Trek van die tienduisend[edit]

1. Tissaphernes speel Dingaan[edit]

(Xenophon, Anabasis II, 5.)

Cyrus - afstammeling van die groot Cyrus of Kores, soos ons Afrikaanse Bybel hom noem, wat vir Kroisos oorwin het en wat deur Jesaja geprys word om sy gulheid teenoor Israel - is teleurgestel geword in sy verwagtings om die troon te bestyg. Hy het dus 'n komplot gesmee om dit deur geweld te verower en sy broer Artaxerxes daarvan te beroof. Met dié (62) doel het hy 'n leër bymekaar gemaak en agente in Griekeland rondgestuur om huursoldate te versamel. Tienduisend Grieke het aangesluit. Die doel van hul tog is hulle nie gesê nie; dit het egter avontuurlik geklink, en die betaling was goed. Die meeste was Spartane; maar Xenophon van Athene en sy vriend Proxenos van Bocotia was ook daar.

Van Sardis, in Klein-Asië, het hulle in die lente van die jaar 401 v. Chr. weggetrek en verder en verder in die binneland ingedring, totdat die geheim eindelik uitgekom het: dis die Groot Koning van Persië self vir wie hulle gaan aanval. Daarop het sommige gevlug; maar die meeste het aangegaan. By Cunaxa, digby Babylon, het hulle teen Artaxerxes geveg: die Grieke het gewen in hulle deel van die slagveld, maar hul oorwinning is verydel deur die dood van Cyrus.

Wat nou? Daar was hulle in 'n vreemde land, 'n duisend myl van die see af, omring deur vyande wat hulle trapsgewyse isoleer en omsingel. Daar was Ariaios, die vriend van Cyrus, maar dit begin lyk of hy sy eie veiligheid wil verseker by Artaxerxes. Daar is Tissaphernes, die Goewerneur en Generaal van die Koning - miskien sal hy help; hy het altans gretig gelyk om hul veiligheid op die huiswaartse trek te verseker. Hul streng ou Spartaanse generaal, Clearchos, dink dat hy betroubuar is: en dit is bemoedigend. (63)

Die woorde van Tissaphernes lyk vir Clearchos opreg, en hy antwoord: „Verdien diegene, wat van ons deur valse beskuldigings vyande wil maak, terwyl ons sulke goeie redes vir vriendskap het, dan nie die strengste straf nie?"

„Ja," sê Tissaphernes, „wat my betref, as julle generaals en kapteins na my toe wil kom, sal ek openlik vir julle die name gee van dié wat sê dat julle 'n sameswering teen my en my leër smee."

„En ek," sê Clearchos, „sal hulle almal meebring, en aan jou verklaar waar die gerugte vandaan kom wat ek omtrent jou hoor."

Na die gesprek was Tissaphernes eg vriendelik, en hy het Clearchos toe sommer genooi om by hom te bly en hy het hom as sy gas by die maaltyd laat aansit.

Die volgende dag, toe Clearchos na die Griekse kamp teruggaan, was dit duidelik dat hy homself op baie goeie voet met Tissaphernes ag. Hy vertel wat Tissaphernes gesê het, en gee bevele dat dié wat Tissaphernes genooi het na hom toe moet gaan. En hy voeg daarby dat die Grieke wat skuldig bevind word daarvan dat hulle valse beskuldigings maak, gestraf moet word as verraaiers en vyande van die Grieke.

Nou het party van die soldate beswaar gemaak teen Clearchos se voorstel en gesê dat die generaals en die kapteins nie almal moes gaan nie en dat (64) hulle Tissaphernes nie moet vertrou nie. Maar Clearchos het geweldig daarop aangedring, totdat hy dit bewerk het dat vyf generaals en twintig kapteins sou gaan; en omtrent tweehonderd soldate het hulle vergesèl, met die voorneme om die mark te besoek.

Toe hulle Tissaphernes se paleis bereik, is die generaals binnegenooi, Proxenos en Menon en Sokrates en Clearchos - terwyl die kapteins by die deure gewag het. Kort daarna, op een en dieselfde sein, is dié wat binne was gegryp en dié wat buite was neergevel.

Toe het party van die Persiese ruiters op die vlakte rondgery en elke Griek wat hulle teë-gekom het - sowel slaaf as vrye - doodgemaak.

En die Grieke het hulle verwonder oor hierdie rondryery wat hulle van die kamp af gesien het, en was onseker omtrent die doel van die ruiters, totdat Nikarchos van Arkadië vlugtend die kamp bereik het, swaar in die maag gewond, en hulle alles vertel. Daarop het die Grieke, soos een man, verskrik na hulle wapens toe gestorm, want hul dag dat die vyand dadelik teen die kamp sou optrek.

Slegs sommige, egter, van die Perse het gekom Ariaios, Artaozos en Mithradates, wat die getrouste aan Cyrus gewees het; en die tolk van die Grieke sê dat hy ook die broer van Tissaphernes (65) onder hulle sien en herken. Saam met hulle was ook ander Perse, met borsplate gewapen, nie minder as driehonderd nie. Toe hulle nader kom, het hulle beveel dat die Griekse leier - as daar een is - vorentoe moes kom, sodat hulle 'n boodskap van die koning kon gee. Daarop het twee generaals uit die Griekse geledere, met 'n lyfwag, vorentoe gegaan, Kleanor en Sophaene- tos, asook Xenophon van Athene, wat wou uitvind hoe sy vriend Proxenos gevaar het.

Toe die Grieke binne gehoorsafstand was, sê Ariaios:

„Manne van Hellas, Clearchos het sy verdiende loon gekry en is gedood, want dit is bewys dat hy meinedig was en die verdrag verbreek het; maar Proxenos en Menon het informasie omtrent sy komplot verskaf en word hoog geeër. Wat julle betref, die Koning eis julle wapens, want hy sê dat hulle aan hom behoort, aangesien hulle behoort het aan Cyrus, sy slaaf."

Hierop het die Grieke, by monde van Kleanor, as volg geantwoord:

„Ariaios, laagste van alle skepsels, en julle almal wat vriende was van Cyrus, skaam julle jul nie dat, na julle eed om dieselfde mense vriende en vyande te ag as wat ons doen, julle nou verraderlik met Tissaphernes heul, 'n goddelose skurk van die ergste graad? Skaam julle jul nie dat julle (66) nie alleen die manne aan wie julle 'n eed gesweer het, verdelg het nie, waar nou die res van ons verraai het en met ons vyande teen ons kom?"

Toe sê Ariaios: „Maar dit is bewys dat Clearchos tevore ook teen Tissaphernes en Orontas en almal van ons hier, 'n komplot gesmee het."

Waarop Xenophon antwoord:

„Wel, as Clearchos werklik meinedig die verdrag verbreek het, het hy die prys betaal: dit is reg dat 'n meinedige sterf. Maar wat Proxenos en Menon betref - hulle is weldoeners van julle en generaals van ons; stuur hulle hiernatoe. Want dit is duidelik dat hulle, as vriende van beide partye, die beste raad aan albei sal probeer te gee."

Hierop het die Perse nie geantwoord nie; maar, na 'n lang gesprek onder mekaar, het hulle weggegaan.

So is die generaals dan in hegtenis geneem; en hulle is voor die Koning gebring en onthoof.

2. „Die See! Die See!"[edit]

(Anabasis IV, 7.)

So is die Grieke dan sonder leiers in 'n vreemde land, omring deur vyande. Xenophon het hulle gered. Daardie nag het hy 'n krygsraad byeengeroep en nuwe generaals laat kies; hy self was die leidende (67) gees. Van toe al was daar byna nie 'n dag of 'n nag sonder nuwe avonture nie, op die groot terugreis na die Noorde. Eindelik, op die heuglike middag van die 27ste Jan. 400 v. Chr. het hulle die see gesien. Wat dit beteken het vir die Grieke wat van nature seevaarders was en byna 'n jaar lank ontberinge gely het in die binneland, kan makliker verbeel as beskrywe word.

Uit die stad Gymnias het die goewerneur 'n gids vir die Grieke gestuur, om hulle deur 'n streek te lei wat vyandig teenoor hom was. Op die vyfde dag het hulle die berg bereik: die naam daarvan was Theches. Sodra die voorhoede op die top van die berg was, het 'n geweldige rumoer ontstaan. En toe Xenophon en die agterhoede dit hoor, het hulle gedink dat die voorstes deur ander vyande aangeval word. Want uit die distrik wat in vlamme gestaan het, was die vyand besig om hulle te agtervolg, en die agterhoede het sommige van hulle gedood en ander in 'n hinderlaag gevang, asook omtrent twintig gevlegte skilde, oorgetrek met ongelooide langhaarvelle, buitgemaak.

Maar toe die rumoer gedurig harder en nader klink, en die geledere wat van tyd tot tyd opkom, begin hardloop in die rigting van die voorstes wat gedurig aan die uitroep bly, daar die geskreeu (68) geweldiger geword het namate die getal soldate toeneem, het Xenophon besef dat daar iets van buitengewone belang gebeur het. Daarom het hy 'n perd bestyg, en Lukios en die ruiters met hom saamgeneem om hulp te verleen.

Binnekort hoor hulle die soldate uitroep: „Die see! die see!" en een linie gee vir die ander die woord aan. Daarop sit die agterhoede ook op loop en drywe die pakdiere en die perde voor hulle uit. En toe almal die top bereik, toe, voorwaar, omhels hulle mekaar, selfs die generaals en die kapteins, met trane in hul oë. En skielik, op die wenk van een of ander persoon, begin die soldate klippe aandra om 'n gedenkstapel te maak. Bo-op het hulle as offerande 'n groot aantal ongelooide os-velle en stokke en die buitgemaakte, gevlegte skilde gelê.

Toe het die Grieke hul gids ontslaan met presente uit hulle gesamentlike voorraad - 'n perd, 'n silwer beker, 'n Persiese pak klere, en tien goue muntstukke. Wat hy egter die meeste begeer het, was hul ringe, waarvan die soldate hom 'n groot aantal gegee het. Toe wys hy hulle 'n dorpie aan waar hulle 'n kamp kon opslaan en die pad na die land van die Makroniërs, en, met die daling van die son, gaan hy voort op sy pad.

Dit was eers in Maart van die jaar 399 v. Chr., twee jaar na die begin van die tog, dat Xenophon sy (69) manskappe aan 'n Spartaanse generaal oorhandig het, by Pergamum in die noordelike deel van Klein-Asië; nie, egter, voordat hy, soos sy gewoonte was, 'n dankoffer aan die gode gewy het nie.

Voortrekker-Romeine.[edit]

Livius skrywe in die eerste eeu na Christus, in die Gulde Eeu van Augustus, toe die Westerse wêreld eindelik tot rus gekom het, en kuns en lettere tot volmaaktheid kon opbloei. Hy kyk terug na die verlede oor eeue heen, en as hy dink aan die mag en die rykdom van Rome, dink hy ook aan die boeredeugde wat 'n nasie grootgemaak het en verenig het uit die mees verskillende rasse; en wat eindelik eenheid en vrede in Italië gebring het.

Net soos ons terug kyk en aan die eenvoud en lewenserns van die Voortrekker hulde bring, so vereer Livius die „gravitas" - waarvoor die beste vertaling „lewenserns" is - en die ander deugde van die Romeinse boer in die 4de eeu voor Christus. En dit kan moontlik wees dat hy, soos ons, geneig is om daardie karakter 'n weinig te idealiseer: maar dis 'n vergeeflike idealisering.

Die besonderhede van die stories wat hy oor hierdie tyd vertel, kom tot ons dof en onseker uit 'n legendariese omgewing, maar hulle is verlig deur die (70) kunstenaarsverbeelding van Livius en berus op die vaste geloof van sy tydgenote omtrent die karakter van hul voorouers -'n karakter wat ons in Suid-Afrika op die veld ook leer ken het.[5]

1. Horatius[edit]

(Livius II, 10.)

Die Romeine het hul tirannieke konings uitgedryf om 'n republiek te stig. Een van hulle kom nou, met die hulp van die Etruskiese prinse om die stad Rome te herwin. (Vergelyk Macaulay se bekende „Lays of Ancient Rome".)

Toe die vyand verskyn, het elkeen veiligheid gesoek deur die plase te verlaat en stad-toe te vlug: die stad self het hulle rondom met wagte versterk. Sommige dele het veilig gelyk weens hul mure, ander deur die versperring wat die Tiber-rivier vorm. Maar die Paal-brug sou byna seker die vyand binnegelaat het, was dit nie dat een man dit verhinder het nie - Horatius Eenoog.[6] Hy was soos 'n vesting waarvan die lot van Rome op daardie dag afgehang het. Toevallig was hy op wag by die brug toe die (71) Janiculum-heuwel[7] deur 'n skielike aanval van die vyand ingeneem is. Hy het gesien hoe hulle van die Janiculum afstorm, terwyl die Romeine, in paniekerige wanorde, wapens en geledere verlaat. Hy het hulle een vir een beetgepak, hulle die pad versper, in die naam van gode en mense hulle plegtig verseker dat as hulle die pos verlaat, dit nie help om te vlug nie: as hulle 'n oorgang by die brug agter hulle ooplaat, sal daar netnou meer van die vyand, op die Palatyn en die Capitool in die hart van die stad wees, as op die Janiculum.

„Breek die brug af - met gereedskap, met vuur - enige ding wat julle kan kry! Ek sal die vyand terughou solank as een man se kragte dit kan volhou."

Toe stap hy na die voorpunt van die brug toe, en staan kop en skouers bokant die klomp vlugtelinge uit - jy kon sien hoe hulle besig was om hul rug na die vyand te draai. En hy staan sy man, wapens gereed, klaar om man teen man te veg; en die Etruskers was verstom oor sy stoutmoedigheid.

Tog was daar twee wat skaam was om hom so alleen te laat - Spurius Larcius en Titus Herminius, albei van hoë roem en geboorte. Met hulle het hy 'n rukkie die eerste aanstorming en die wildste (72) deel van die geveg verduur. Maar na 'n tydjie het hy ook hulle verplig om veiligheid te soek; want daar het nog maar min van die brug oorgebly, en die afbrekers het geroep dat hulle moet kom. Toe rol hy sy woeste oë dreigend rond en daag die Etruskiese prinse een vir een uit en roep hulle tartend toe:

„Slawe van hooghartige konings wat julle is! Julle vergeet jul eie vryheid en kom hier om die vryheid van ander aan te val!"

Hulle aarsel toe 'n oomblik, en elkeen kyk na sy buurman om te begin. Uit skaamte het hulle eindelik 'n geroep laat hoor en almal tegelyk hul spere teen hul enkele vyand gegooi. Maar hy vang hulle op sy skild, en, standvastig soos tevore, hou hy sy voete op die brug geplant. Nou probeer hulle hom stormloop, maar die gedruis van die ineenstortende brug en die toejuiging van die Romeine oor hul voldane taak, het hulle met 'n skielike verslaenheid in hul vaart gestuit.

En Horatius bid: „O Vader Tiber, O Heilige! U roep ek aan: ontvang in u goedgunstige stroom hierdie soldaat van u en hierdie wapens!"

Gewapend soos hy was, spring hy in die Tiber in, en, ten spyte van die hael van spere wat rondom val, swem hy veilig na sy eie mense toe; en die dapperheid van sy daad was bestemd om meer roem as geloof onder die nageslag te verwek. (73)

2. Gaius Mucius[edit]

(Livius II, 12.)

Horatius het Rome gered; maar die Etrusker Porsenna het nogtans die stad beleër. Gedurende die beleg het Gaius Mucius 'n bewys gegee van die natuurlike Stoïsisme van die Romein. Dit laat ons dink hoe, b.v. Paul Kruger sy eie duim met sy knipmes sonder enige verdowingsmiddel afgesny het.

Nogtans was daar 'n beleg. Die koring het skaars begin word en baie duur. En Porsenna het begin hoop dat hy die stad kon inneem deur stil te sit, toe Gaius Mucius, 'n jong edelman, besluit het op sy eie houtjie om deur te dring tot in die vyand se kamp. Hy het die Senaat genader en gesê: „Vaders van die volk, ek wil die Tiber oortrek en die kamp van die vyand binnegaan as ek kan: nie om te plunder of om weerwraak te neem vir die verwoesting van ons land nie; - ek het 'n groter daad in die oog, as die gode my help."

Die Senatore het ingestem; en hy gaan uit met 'n dolk onder sy kleed. Toe hy die kamp bereik staan hy waar die gedrang die digste is, naby die Koning se troon.

Nou het dit gebeur dat die soldate juis besig was om hul betaling te ontvang. Die klerk wat by die Koning sit, dra byna dieselfde soort klere; (74) hy was druk besig, en dit was tot hom wat die soldate hul meestal gewend het; Mucius was bang om homself te verraai deur te vra wie die Koning was; hy volg toe 'n blinde ingewing en maak die klerk in plaas van die Koning dood.

Deur die verskrikte gedrang baan hy 'n pad met sy swaard; die mense maak 'n rumoer; die Koning se lyfwag storm van alle kante toe; hulle gryp hom en sleep hom voor die troon. En toe hy daar alleen staan, te midde van 'n groot en dreigende gevaar, lyk dit amper of die mense meer bang is vir hom as hy vir hulle.

„Ek is 'n Romeinse burger," sê hy, „hulle noem my Gaius Mucius. Ek wou as 'n vyand my vyand doodmaak, en met dieselfde moed waarmee ek sy dood wou teweegbring, is ek bereid om my eie te ontmoet. In Rome is ons gewoond om dapper dade te doen en om dapper te ly. En ek is nie die enigste wat hierdie besluit geneem het nie. Agter my is 'n lang ry van jongelinge wat dieselfde glorie begeer. Dus, as u dink dis die moeite werd, omgord u lendene vir 'n geveg om u lewe van uur tot uur, met 'n gewapende vyand altyd voor u deur. Dit is die oorlog, wat ons, die jeug van Rome, teen u verklaar."

Verskrik en verwoed oor die gevaar waarvoor hy staan, het die Koning vir Mucius bedreig dat hy hom lewendig sou laat verbrand, indien hy nie (75) gou die komplot verklaar waarop hy so duister sinspeel nie.

Maar Mucius sê: „Kyk hier! En verstaan hoe goedkoop hulle hul liggame skat wat die oog op verreikende roem gevestig hou!"

Daarop hou hy sy hand in die vuur wat vir die brandoffer aangesteek was.

Toe hy sy hand deur die vlamme laat verteer asof hy van gevoel ontbloot was, spring die Koning byna sinneloos van verbasing uit sy troon op, en beveel dat hulle die jongeling van die altaar moet verwyder.

„Loop," sê hy, „jou moed het jouself meer as my beskadig. Ek sou jou dapperheid toejuig as dit aan my kant was. Daar dit nie kan wees nie, stuur ek jou terug, vry van die gevolge van oorlog, onbeskadigd en ongedeerd."

Toe antwoord Mucius, 'n beloning as 't ware vir die Koning se gulhartigheid: „Weet dan, daar u aan dapperheid eer betoon, dat u vriendelikheid vir u verkry het, wat u deur dreigemente nie vermag het nie. Daar is driehonderd van ons, die voorste jongelinge in Rome, wat saamgesweer het om u op hierdie manier aan te val. Ek het die eerste lot getrek: die res volgens die lot op hulle val, sal elk op sy beurt kom, totdat die fortuin u in ons hande oorgee."

So is Mucius weggestuur, en later het hy die (76) bynaam Scaevola of „Linkspoot" gekry, aangesien hy sy regterhand verloor het. Gesante van Porsenna het hom na Rome toe gevolg; want die Koning was so onthuts by die gedagte aan die gevaar van hierdie eerste aanval (dit was slegs deur die fout van die aanvaller dat hy ontsnap het) en aan die vooruitsig van die aanvalle van al die ander wat 'n eed geneem het om hom vankant te maak, dat hy, uit homself, vredesvoorstelle aan die Romeine gemaak het.

3. Die Galliërs oorrompel Rome[edit]

(Livius V, 39 en 47.)

Die „pietas" - getrouheid aan familie, vaderland en vaderlandse gode - en die „gravitas", wat by die begrip van „lewenserns" die idee van waardigheid en deftigheid insluit - blyk uit die volgende verhaal; asook die ou Romeinse deug van „virtus" of manlikheid. Elf myl van Rome af, waar die Allia-rivier in die Tiber invloei, het die Galliërs die Romeine verslaan in die jaar 390 voor Christus.

Aangesien daar geen moontlikheid bestaan het om die stad met die handjievol manskappe wat oorgebly het, te verdedig nie, het hulle besluit dat die jongelinge van vegbare leeftyd en die weerbare senatore, terug moes trek na die Capitool en na (77) die Vesting[8] toe tesame met hul vroue en kinders. Daar moes hulle wapens en kos bymekaar maak en die plek as 'n versterkte uitgangspunt gebruik vir die verdediging van Rome, haar gode en haar inwoners. Die priesters en die priesteresse van Vesta,[9] en die heilige besittinge van die Staat, moes buite die bereik van vuur en swaard verwyder word, en die diens van die gode moes nie gestaak word solank as daar enige aanbidders oorbly nie. As die Vesting en die Capitool, waar die gode woon; as die Raad van die ou Manne, wat die bron van wysheid is; as die weerbare jongmanne die naderende verdelging van die stad sou oorleef; - dan kon die verlies van die ou manne wat agtergelaat is in die stad en wat in elk geval moes sterwe, maklik verdra word.

En, sodat die gros van die volk makliker met hierdie voorstel versoend sou wees, het die ou manne wat triomftogte en konsulskappe agter die rug had, openlik verklaar dat hulle met daardie ander ou manne sou sterwe en nie die skrale voorraad van die vegters belas nie met liggame wat nòg wapens kon dra, nòg die vaderland kon verdedig.

Só het die ou manne, voorbestem tot die dood, mekaar trooswoorde toegevoeg. (78)

In Rome is intussen die voorbereidsele wat in die omstandighede vir verdediging gemaak kon word, taamlik in orde gebring, en die ou manne het na hul huise teruggekeer, met harte vasberade vir die dood, om die aankoms van die vyand af te wag. Diegene wat die hoogste staatsampte beklee het, het hul staatsklere aangetrek wat hulle voorheen by triomfvierings en plegtige optogte gedra het, en in hul ivoor-stoele[10] gaan sit in die voorportale van hul huise, sodat hulle in die uiterlike tekens van hul voormalige fortuin en amp en waardigheid die dood tegemoet sou gaan. Die Galliërs was nou minder strydlustig weens die rus van die nag, en omdat hulle die geveg so maklik gewen het; en buitendien het hulle ook nie nodig gehad om die stad met geweld storm te loop nie. Dus het hulle Rome sonder woede of opgewondenheid binnegetrek op die volgende dag deur die Porta Collina, wat wa-wyd oopgestaan het, en deurgedring tot by die Forum, met starende oë op die tempels van die gode gerig, en op die Vesting - die enigste plek wat enigsins oorlogvaardig gelyk het.

Hulle het 'n klompie brandwagte agterlaat om 'n aanval vanuit die Vesting of die Capitool op hul verspreide geledere te voorkom, en toe in alle (79) rigtings deur die leë strate geloop, om buit te soek.

Party het die naaste huise stormgeloop, ander weer het die verste uitgesoek, want dié, so dink hulle, sal die enigste wees wat nog onaangeraak en vol buit is. Maar die verlatenheid en stilte het hulle bang gemaak; hulle vrees dat hul verspreide manskappe deur 'n hinderlaag sou afgesny word; en so het hulle groepies gevorm en na die omgewing van die Forum teruggekom.

Daar vind hulle die armoedige huise toegesluit, maar die voorhuise van die adel oopgesit; en hulle het eintlik meer geaarsel om die oop huise binne te gaan as die wat toe was. Want 'n soort van religieuse eerbied het hulle bevang, toe hulle mense in die voorportale sien sit wat nie alleen versier en gekleed was soos hulle nog nooit mense gekleed gesien het nie, maar wat soos gode gelyk het weens die majesteit en waardigheid van hul uitdrukking.

Daar staan hulle na die ou manne en kyk asof hul standbeelde is. En dit word vertel dat een van die Galliërs die baard van Marcus Papirius gestreel het - in daardie dae was hul almal langbaarde; waarop die ou man hom op die kop geslaan het met sy staf van ivoor en hom kwaad gemaak het. En dit was die teken vir 'n algemene slagting en brandstigting.

Intussen was die Vesting en die Capitool in groot (80) gevaar. Want die Galliërs het die voetspore van 'n boodskapper wat deurgekom het, opgemerk, of anders het hulle gewaar dat die helling minder steil by die Tempel van Carmenta was.

Op 'n sterverligte nag het hulle dus 'n verkenner ongewapend uitgestuur, om die padjie te toets. Toe gee hulle die wapens vir mekaar aan waar die pad moeilik is, en leun beurtelings op die man onder hulle en hys mekaar op waar die steilte van die grond dit vereis; en op die manier bereik hulle die top met so min geraas dat die brandwagte hulle nie gehoor het nie, en selfs nie die honde nie - diere wat in die nag maar alte gevoelig vir geluide is.

Hulle is egter gehoor deur die ganse, wat die garnisoen aan die lewe gehou het ten spyte van hul groot gebrek aan kos, omdat hul aan die godin Juno gewy was.

Dit was die redding van die Capitool. Want Marcus Manlius is deur hul geraas en geklapwiek wakkergemaak. (Hy was konsul drie jaar tevore en was 'n kranige soldaat.) Dadelik gryp hy sy wapens, skree vir sy maats om te volg, storm verby sy verwilderde soldate, en stamp die Galliër wat reeds op die top stilgestaan het met sy skild, dat hy aftuimel. Vallende stoot hy die soldate onder hom af, en die ander Galliërs, verskrik, laat hul wapens val, en word neergevel deur (81) Manlius terwyl hulle nog aan die rotse vasklou waarlangs hulle opgeklouter het. Nou kom ook ander Romeine aangehardloop en verdryf die vyand met spere en klippe, totdat die hele kommando begin gly en blindelings neerstort in die diepte.

Sophonisba[edit]

(Livius XXX, 12; enigsins verkort.)

Die Romeinse generaals Scipio en Laelius het vir Masinissa, koning van die Numidiërs in Noord-Afrika, kom help teen die aanvalle van Syphax, 'n naburige koning, en die Karthagers. Syphax is gevang en die oorwinnaars gaan nou na sy paleis in Cirta, waar hulle sy vrou, die skone Sophonisba, ontmoet. Sophonisba was vroeër verloof aan Masinissa, maar die verloofskap is deur haar vader om politieke redes verbreek ten gunste van Syphax.

Toe Masinissa by die portaal inkom, tree Sophonisba, die dogter van Hasdrubal, die Karthager, hom tegemoet, en sy val op haar knieë en spreek hom aan:

„Die gode, asmede u eie dapperheid en goeie geluk, het u die mag gegee om met ons te doen wat u wil. Maar as dit aan 'n gevangene vergun mag word om 'n smeekgebed uit te stort, bid ek u, by (82) die majesteit van koningskap, waarin ek ook nog kort gelede gedeel het, dat u nie gedoë dat ek in die mag gestel word van 'n hooghartige en ongenadige Romein nie. Liewer sou ek die eer van 'n Numidiër, 'n mede-Afrikaner beproef, as dié van 'n vreemdeling. U weet wat die dogter van Hasdrubal van 'n Romein te wagte is. As dit andersins onmoontlik is, red my dan deur die dood uit die mag van die Romeine."

Sophonisba was 'n vrou van verbasende skoonheid, en in die fleur van haar jeug. Terwyl sy dus sy hand druk, het sy 'n liefkosende toon aangeneem; en so het haar oorwinnaar nie alleen vir haar jammer gekry nie, maar die slaaf van die oorwonnene geword - want die Numidiërs is 'n besonder hartstogtelike ras.

Toe begin hy dink hoe hy sy belofte gestand kon doen; en daar hy nie 'n plan kon uitdink nie, het sy hartstog 'n stoutmoedige en ondeurdagte idee aan die hand gegee. Hy het beveel dat voorbereidsels dadelik gemaak moet word vir die huwelik nog daardie selfde dag: sodat dit onmoontlik sou wees vir Scipio of Laelius om iets te reël in sake Sophonisba: want sy sou dan reeds sy vrou wees.

Die huwelik was reeds voltrek, toe Laelius verskyn; en hy was openlik so ontevrede met die hele affêre, dat hy Sophonisba eers met geweld wou (83) wegsleep van haar man en met Syphax en die ander gevangenes na Scipio toe stuur. Maar later het hy aan Masinissa se smeekbedes gehoor gegee dat dit aan Scipio moes oorgelaat word om te besluit wie van die twee konings die voorreg sou hê om Sophonisba se geselskap te geniet. Daarna het hy Syphax en die prisoniers weggestuur, en met die hulp van Masinissa het hy die res van die Numidiese stede wat deur die Koning se troepe beset was, tot oorgawe gedwing.

So is Syphax na die tent van Scipio gebring; en Scipio is diep geraak by die gedagte aan die koning se vorige toestand en sy teenswoordige, en veral toe hy dink aan die bande van gasvryheid wat tussen hulle ontstaan het, en die publieke en private aangeleenthede wat hulle met mekaar verbind. Hierdeur het Syphax ook moed geskep om die oorwinnaar aan te spreek. Toe Scipio vra waarom hy sy bondgenootskap met die Romeine versaak het en 'n agressiewe oorlog teen hulle begin het, erken hy dat hy verkeerd gehandel het en hom soos 'n waansinnige gedra het. Maar sy waansin het vroeër begin - toe hy 'n Karthaagse vrou in sy huis ontvang het. Die vlamme van daardie huwelikstoortse het sy paleis afgebrand. Dit was daardie onheilige furie wat hom aangespoor het om die wapens op te neem teen sy gas en sy vriend. Dit was nogtans 'n troos vir hom (84) in sy rampsaligheid om te sien dat daardie pesagtige wese na die huis verwys is van sy aartsvyand Masinissa, wat nog voortvarender as hyself was, weens sy jeugdige jare: en deur haar te trou het hy nog groter dwaasheid en onbeteueldheid getoon as hyself.

So praat Syphax, aangespoor nie alleen deur haat van sy vyand nie, maar deur 'n rasende jaloesie om sy beminde in die besit van sy mededinger te sien. Scipio is geweldig deur sy woorde onthuts. Sy beskuldigings teen Masinissa het waarskynlik gelyk omdat die huwelik met sulke oorhaastige spoed, byna te midde van die oorlogsrumoer, plaasgevind het; en dit nog sonder dat Laelius geraadpleeg is, sonder dat hy eens vir hom gewag het.

Sulke gedrag het vir Scipio des te laakbaarder gelyk omdat hy homself nooit toegelaat het om deur die skoonheid van enige gevangene beïnvloed te word nie - ook nie toe hy as jeugdige generaal in Spanje oorlog gevoer het nie.

Terwyl hy oor hierdie sake nadink, verskyn Laelius en Masinissa. Hy het hulle albei opgeruimd ontvang en, sonder om enige onderskeid tussen hulle te maak, het hy hulle die hoogste lof toegeswaai voor 'n volle vergadering van offisiere. Daarna het hy Masinissa opsy geneem en hierdie woorde aan hom toegevoeg: (85)

„Ek meen dat dit was omdat jy sekere goeie hoedanighede in my bespeur het, Masinissa, dat jy in die eerste instansie na my in Spanje gekom het om 'n vriendskap aan te knoop, en dat jy later in Afrika jou persoon en al jou verwagtinge aan my beskerming toevertrou het. Maar van al die deugde wat my agtenswaardig in jou oë laat lyk het, was daar nie een wat ek so op prys gestel het nie as die beheersing van my hartstogte. Ek kon wens dat jy ook, Masinissa, hierdie deug aan jou ander uitstaande hoedanighede toegevoeg het. Wees versekerd daarvan dat daar vir mense van ons leeftyd nie soveel gevaar te dugte is van gewapende vyande nie as van die genietinge wat ons aan alle kante omring. Met genoeë het ek genoem, en met plesier onthou ek, die dapperheid en moed wat jy in my afwesigheid getoon het. Wat die ander sake betref, ek sou liewer sien dat jy privaat oor hulle nadink as dat ek jou sou beskaam deur hulle te noem. Syphax is verslaan en gevang in die naam van die Romeinse volk. Daarom behoort hy, sy vrou, sy ryk en al sy besittinge aan die volk van Rome. En dit was behoorlik dat die Koning en sy vrou, selfs al was sy nie 'n burgeres van Karthago nie, selfs al het ons nie haar vader aan die hoof van ons vyande se leërs gesien nie, na Rome gestuur sou word sodat die Senaat en die volk van Rome oor haar (86) kon oordeel; want dit word vertel dat jy 'n Koning wat ons bondgenoot was, van ons vervreemd het en in 'n oorlog teen ons gestort het. Beheers jou hartstogte. Pas op dat jy nie baie deugde deur een ondeug ontsier nie, en die roem van so baie verdienstelikhede bederf deur skuld wat oneweredig is aan die waarde van sy doel."

Masinissa bloos om hierdie woorde te hoor en bars in trane uit. Hy verklaar dat hy hom aan die wil van die generaal sal onderwerp, maar hy smeek hom, sover as sake dit gedoë, om die ondeurdagte belofte wat hy gemaak het, in ag te neem - die belofte, naamlik, om haar nie in die mag van enige persoon te stel nie. Daarna verlaat hy die hoofkwartier.

In sy eie tent aangekom, stuur hy die bediendes weg, en lank sug en kreun hy keer op keer, sodat die wat buitekant die tent staan hom kan hoor. Eindelik, na swaar gekreun, roep hy 'n bediende wat sy vertroueling was. Hierdie bediende het die gif in sy bewaring gehad wat konings gewoonlik aanhou teen onverwagte giere van die fortuin. Masinissa beveel hom om 'n beker daarvan te meng en dit aan Sophonisba oor te bring met hierdie boodskap:

„Graag sou Masinissa sy eerste verskuldiging aan haar as haar man wil vervul; maar aangesien die owerheid dit verbied, kom hy nou sy tweede (87) belofte na - dat sy nie lewendig in die hande van die Romeine sal val nie. Gedagtig aan haar vader, die generaal, aan haar land, aan die twee konings wat sy getrou het, moes sy sulke maatreëls neem as sy goeddink."

Toe die bediende by Sophonisba met die gif en die boodskap aankom, sê sy: „Ek neem hierdie huweliksgif aan! Nie onwelkom is dit nie, as my man my nie beter kan dien nie. Sê aan hom, egter, dat ek blymoediger sou gesterf het, indien my dood nie so kort op my huwelik gevolg het nie."

Standvastig van gees, het sy ook standvastig die beker geledig, kalm en sonder teken van ontsteltenis tot die einde toe. (88)

Voetnotas[edit]

  1. Hoofstad van Lydië, Klein-Asië.
  2. Dit was voor die hervorming van die kalender!
  3. Die orakel het gesê: As Kroisos die rivier Halys oortrek (om die Persiese Ryk aan te val) sal hy 'n groot ryk vernietig. Hy het gemeen dat dit die Persiese Ryk was: maar die orakel het sy eie bedoel!
  4. By die suidelike kus van die Korinthiese Golf.
  5. Vergelyk my studie „Vergil in the experience of South Africa" (Blackwell).
  6. Liggaamlike eienaardighede het dikwels in eiename oorgegaan by die Romeine, soos by ons; vgl. Piet Skeeloog en Publius Strabo, Swart Jan en Gaius Niger, ens.
  7. Aan die weste-kant van die Tiber-rivier waar die standbeeld van Garibaldi vandag staan.
  8. Die „arx" of akropolis.
  9. Vuurherd-godin. Die vuurherd is die simbool van die familie, en die stad is 'n familie op 'n groot skaal.
  10. Die sella curulis, wat met ivoor ingelê is, en alleen deur die hoogste beamptes van die tradisionele ererang gebruik is.