Die Kortverhaal van die Grieke en Romeine II/Die kortverhaal in die mitologie

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Inleiding Die Kortverhaal van die Grieke en Romeine II
Die kortverhaal in die mitologie
deur T.J. Haarhoff
Die kortverhaal in die geskiedenis


Die kortverhaal in die mitologie

Die verhaal van Scylla en Minos[edit]

(Ovidius, Metamorphoses VIII, I vgg.).

Uit die lewendig-ryke verbeelding van die Grieke en die Romeine, wat die wette van die natuur, die ondervindinge van die gees, die verlangens van die hart in die gestalte van mense uitgebeeld het, kom daar 'n mag van fabels en stories wat die wêreld nog altyd bekoor het en wat selfs vandag die bittere vooroordeel teen die Grieks-Romeinse wêreld af en toe oorwin. Die kunstigste van al die vertellers van hierdie stories is 'n Romein, Ovidius Naso, wat, net soos die Engelse digter Pope, daarop aanspraak maak dat hy in verse gepraat het omdat verse hom natuurlik van die lippe gevloei het. Die vlotheid en vloeiendheid van Ovidius se hexameters is inderdaad ongelooflik: geen vertaling kan dit weergee nie; die werk van die vyl en die skaal is tot op die uiterste toegepas, en tog kry die leser die indruk van spontaneïteit. (10) Hoe hy die afgod van modekringe in Rome was, in die onguns van keiser Augustus geval het, en na Tomi, 'n verlate, barbaarse stadjie aan die Swartsee, verban is, hoef nie hier herhaal te word nie; ewemin as dit nodig is om sy sedelike lewe hier te bespreek.

Intussen was koning Minos besig om die kus van Megara, net suid van Athene, te verwoes, waar Nisus regeer; Nisus, wat in die middel van sy hoof, tussen die eerwaardige grys van sy hare, 'n lok van helder purper gehad het. Op hierdie lok het die veiligheid van sy uitgebreide koninkryk berus.

Sesmaal het die nuwe maan haar horings opgelig en nog was die einde van die oorlog onbeslis, en lank het Oorwinning op onsekere vleuels tussen die twee gefladder.

Daar was 'n koninklike toring waarheen die dogter van koning Nisus dikwels opgeklim het om daarvandaan klippies af te gooi en sodoende die rotse te laat weerklink, in die dae toe daar nog vrede was. En nou, in oorlogstyd, het sy dikwels die gevegte van onsagte Mars aanskou; en deur die langdurigheid van die stryd het sy reeds die name van die leiers leer ken, hul wapens, hul perde, hul kleding, hul Kretiese pylkokers. En, bo almal, het sy die gesig van die Koning, die (11) seun van Europa, leer ken, ja, beter as wat nodig was. As hy sy kop weggesteek het in 'n helm versier met 'n verebos, was Minos in sy helm vir haar wonderskoon; as hy sy goudblinkende skild dra, het dit tog alte goed gepas. Werp hy sy buigsame speer met volle krag, sy prys die kunsvolle krag wat hy vertoon, plaas hy die rietpyl op sy wyd-gespanne boog, só, sweer sy, staan Apollo met sy pyle klaar. Maar as hy sy helm verwyder en sy gesig vertoon en in sy purper mantel op sy wit perd sit, pragtig met borduurwerk-kleed, en sy skuimende bek beheer, dan is die dogter van Nisus skaars meesteres van haar goeie verstand: gelukkig, dink sy, is die speer wat deur hom aangeraak word, gelukkig die leisels wat deur sy hand getrek word! Sy smag (was dit slegs veroorloof!) om deur die vyandelike leër haar maagdelike stappe te rig, sy smag om van haar toring af te spring in die Kretiese kamp of om die brons-poorte vir die vyand oop te maak - enige ding wat Minos mag verlang.

En terwyl sy die blink-wit tente van die Kretiese koning sit en aanstaar, „moet ek nou bly wees," sê sy, „of treurig oor hierdie jammerlike oorlog? Ek treur omdat Minos die vyand is van my wat hom bemin; maar was daar geen oorlog nie, sou hy my onbekend gebly het. O, driemaal gelukkig sou ek wees as ek deur die lug kon vlieg (12) en in die kamp van die Kretiese koning staan. Hy moet net nie die vesting van my vaderland vra nie! Liewer gee ek my liefde driemaal op, as om dit deur verraad te wen. Tog is die oorlog wat hy voer, regverdig - om die dood van sy seun te wreek.[1] Ons sal sekerlik die onderspit delf. En as daardie lot die stad wag, waarom sal sy soldate-hand die stadspoorte ontsluit en nie my liefde nie. Laat dit dan liewer sonder bloedvergieting geskied!"

So besluit sy om 'n end aan die oorlog te maak en haarself oor te gee, met haar land as bruidskat.

Maar sy dink: „My vader hou die sleutels van die poorte: hy alleen vertraag die wens van my hart. Ek wens ek het geen vader gehad nie! Deur vuur en swaard sou ek waag om te gaan; en tog, daar is geen noodsaaklikheid vir swaard en vuur nie: al wat ek nodig het, is my vader se lok hare: daardie purper lok sal my gelukkig maak, sal my die wens van my hart laat kry."

Terwyl sy nog so praat, kom nag tussenbei - nag, wat die magtigste verpleegster van ons sorge is. Sag bly die dogter in haar vader se kamer en beroof hom van die noodlottige lok - vreeslike daad! En met hierdie vervloekte buit (so seker is sy van haar saak) glip sy deur die geledere van (13) die vyand en bereik die Koning. Toe hy opskrik om haar te sien, sê sy: „Liefde het my beweeg tot hierdie daad. Ek, Scylla, koninklike dogter van Nisus, gee hier aan U oor my huis en my vaderland. Ek vra geen beloning nie, behalwe u liefde. Neem as waarborg hierdie lok, en weet dat ek aan U nie net 'n lok oorhandig nie, maar my vader se lewe."

Maar Minos deins terug vir die geskenk wat sy aanbied, en, onthuts om so 'n ongehoorde ding te aanskou, antwoord hy: „Mag die gode jou uit hul wêreld verban, skande van ons tyd! Mag nòg see, nòg aarde jou ontvang! Sekerlik sal ek dit nie gedoog dat so 'n onding soos jy ooit in Kreta, my wêreld, aanland nie, - Kreta, geboorteplek van Juppiter."

So spreek hy, en nadat hy, wetgewer van die strengste regverdigheid, wette vir sy oorwonne vyande gemaak het, beveel hy dat die toue losgemaak moet word en die brons-beslane skepe met roeiers beman word.

Toe Scylla sien dat die skepe van stapel geloop het en op die water drywe, en dat die Koning die loon van haar sonde weier, het sy eers gesmeek en gesoebat so al wat sy kon, en toe in woeste woede verval, haar hande uitgestrek, en, waansinnig, met ontbonde hare, uitgeroep: „Waarheen vlug jy, hardvogtige, wie se oorwinning my skande (14) is, maar ook my verdienste! Ek is verban deur my daad uit die hele wêreld, sodat Kreta my tuiste sou word; en as jy dit ook weier... Ek sal jou volg, selfs teen jou sin en die geboë agterdeel van die skip omhels, sodat ek gesleep word oor die vertes van die see."

Skaars het sy dié woorde geuit, of sy spring in die water in, swem agter die skip aan, en met krag deur hartstog verskaf, klou sy vas aan die Kretiese boot - gehate geselskap vir Minos.

Toe haar vader haar sien (want hy fladder in die lug rond, pas verander in 'n see-arend, met sy bronskleurige vlerke), kom hy aan om haar met sy krom bek te verskeur terwyl sy daar klou. En sy laat los uit vrees en, toe sy val, lyk dit of die ligte lug haar ondersteun, sodat sy nie die water sou aanraak nie. Soos 'n veer word sy: verander in 'n geveerde voël, word sy Ciris[2] genoem, 'n naam wat sy kry van die lok wat afgesny is.

Engele onverwags....: die verhaal van Baucis en Philémon.[edit]

(Ovidius, Metamorphoses VIII, 616 vgg.)[3]

Die verhaal van die wonderwerk wat pas vertel is, het almal se harte geroer. Maar daar was een, (15) 'n seun van Ixion, 'n veragter van die gode en woes van hart, wat met hulle gespot het oor hul liggelowigheid. „Dis kinderstories wat jy vertel, Acheloüs," sê hy, „en jy skrywe te veel mag aan die gode toe as jy sê dat hulle gedaante-verwisselinge kan bewerk."

Almal was geskok en verontwaardig oor sy woorde, veral Lelex, ryp in jare en van gees, wat geantwoord het:

„Die mag van die gode is onmeetlik en grenseloos, en wat die gode besluit, geskied. Ek gaan jou iets vertel, sodat jou twyfel minder mag word. Daar staan in die koppies van Phrygië 'n eikeboom naby 'n lindeboom, omring deur 'n lae muur. Ek het self die plek gesien, want Pittheus[4] het my na Phrygië toe gestuur, waar sy vader eenmaal koning was.

Nie ver van die plek waarvan ek praat nie, is 'n vlei, eenmaal bewoonbare land, maar nou water, die tuiste van duikervoëls en waterhoenders. Hierheen kom Juppiter in die gedaante van 'n mens, en saam met hom Mercurius,[5] met sy staf in sy hande, maar sonder vlerke. 'n Duisend huise het hulle genader om 'n rusplekkie te soek: 'n duisend huise is vir hulle gesluit. Een het hulle egter ontvang: klein, voorwaar, met strooi gedek (16) en met gras uit die vlei; maar godvresende ou Baucis en Philémon, van gelyke jare, is getroud in daardie huisie toe hulle nog jonk was, en daar het hulle saam oud geword. Daar het hulle hul armoede verlig deur dit te erken en blymoedig te dra. Jy moes nie daar na baas en bediende verneem nie: daar was net die twee, en saam was hulle baas en bediende tegelyk.

Toe die hemelbewoners die nederige huisie bereik en hul hoofde moes buig om by die lae deur in te kom, het die ou man 'n stoel gebring en hulle genooi om uit te rus. Ewe besig het Baucis 'n growwe kleed daaroor gegooi en in die vuurherd het sy die half warm as geroer en gister se vuur laat opflikker, met blare en droë bas gevoed en dit tot 'n vlam aangewakker met die asem van haar verouderde liggaam. Toe haal sy van die solder fyn-gekloofde hout en droë takkies, breek dit en sit dit onder die koper keteltjie. Toe neem sy die groente wat haar man van die goedbewaterde tuin gebring het en kap die blare af. Met 'n tweetandvurk lig die ou man 'n gerookte varkrug af, wat aan 'n swart balk hang, en van die langbewaarde varkvlees sny hy 'n klein stukkie af en maak dit in die kokende water gaar.

Intussen vul hulle die verbygaande ure met aangename gesels, en laat nie toe dat die tyd hul gaste verveel nie. Daar was 'n vat van beukehout (17) wat met sy harde handvatsel aan 'n spyker hang.

Die ou man vul dit met lou water en ontvang die voete van sy gaste om hulle te was. 'n Matras van sagte vlei-gras word toe op die wilgehout-rusbank geplaas. Hierop het hulle 'n kleed gegooi wat hulle gewoonlik alleen op feesdae te voorskyn gebring het, en selfs dit was goedkoop en verslete, 'n goeie maat vir die wilgehout-bank.

Die gode neem plaas. Met bewende hande en haar rok opgeskort, dek die ou vrou die tafel. Die derde poot daarvan was te kort, dus het sy dit met 'n stuk erdewerk gestut en gelyk gemaak. Daarna vee sy die tafel met groen kruisement skoon. Toe sit sy daarop olywe, die groen en die swart soort, herfsbessies in afsaksel van wyn gepekel, wilde slaai en radysies, roomkaas en eiers, lig-gekook in die half-warm as - almal op erdewerk-skottels. Daarna word 'n gegraveerde mengvat[6] van dieselfde materiaal opgesit en beukehout-bekers, van binne met was besmeer. Nog 'n oomblikkie, en die vuurherd stuur sy warm ete op, en wyn van jeugdige ouderdom verskyn en word weggeskuiwe om plek te maak vir die tweede gereg. Hier was daar neute en vye, gerimpelde dadels, pruime en geurige appels in breë mandjies, en purper druiwe, pas gepluk. In die middel van (18) die tafel was 'n helder wit heuningkoek. Bo alles was daar opgeruimde gesigte en oorvloedige en lewendige goeie wil.

Intussen sien hulle dat in die mengvat, so gou soos dit leeg raak, die wyn sommer vanself weer telkens begin aangroei. Die ou mense is verbaas en bevrees oor hierdie vreemde voorval, en, met hande omhoog gehef, stoot Baucis en die bewende Philémon 'n gebed uit en vra verskoning vir hul onthaal, so arm en sonder voorbereiding. Hulle het een gans besit, wat hul geringe huisie bewaak het, en vir hul goddelike gaste wou hulle hom nou gaan slag. Maar die gans was vlug van vlerk en maak die stadige oumense moeg. Lank ontsnap hy hulle en vlug eindelik, soos dit lyk, na die gode self; en deur hul verbod word hy gered.

,Ons is hemelinge,' sê hulle, ,en hierdie goddelose buurt sal sy verdiende straf ontvang; maar julle sal uitgesonder word. Verlaat nou jul huis en kom saam met ons na gindse hoë berg.'

Hulle gehoorsaam albei, en deur hul stokke gesteun, sukkel hulle die lang helling op.

Toe hulle sover van die top weg was as jy met 'n boog kan skiet, kyk hulle om en sien die hele omgewing onder water: net hul huisie bly staan.

En terwyl hul verwondering toeneem en hulle die lot van hul bure bekla, word daardie ou huisie van hulle, wat selfs vir twee te klein was, in 'n (19) tempel verander. In die plek van die gevurkte hout-stutte, kom marmer-suile; die strooi word geel en verander in 'n goue dak; daar was poorte, fyn gegraveer, en op die grond marmer-plaveisel. Kalm spreek toe die Seun van Saturnus: ,Godvrugtige ou man, en vrou wat so 'n man waardig is, vra ons nou wat julle wil.'

Nadat hy 'n paar woordjies met Baucis gewissel het, verklaar Philémon aan die gode hul besluit:

,Ons vra dat ons u priesters mag wees en u tempel bewaak; en, daar ons ons lewe eensgesind deurgebring het, vra ons dat ons op een oomblik mag sterf, en dat nòg ek my vrou se graf aanskou, nòg sy myne."

Hul versoek is toegestaan. Hulle het gedurende hul leeftyd die tempel opgepas. En eindelik, toe hulle, uitgeput deur lengte van dae, toevallig voor die heilige trappies staan en die wederwaardighede van die plek herdenk, sien Baucis vir Philémon en Philémon sien vir Baucis, in 'n groen, geblaarde boom verander. En toe die boomtoppe oor hul gesigte uitgroei, roep hulle gelyk, terwyl hulle dit nog kon: „Vaarwel, my maat!" en dadelik vorm die bas oor hulle lippe.

Selfs vandag wys die bewoners van daardie streek twee bome wat uit 'n tweeling-stam groei. Dit is my vertel deur waardige ou manne (en daar was geen rede, waarom hulle my sou bedrieg nie), (20) en ek het self offerkranse aan die takke sien hang, en self het ek vars kranse aan hulle gehang met dié woorde: „Hulle vir wie die gode gesorg het, is self nou gode: laat hulle wat aanbid het, ook nou aanbid word."

Atalanta[edit]

(Ovidius, Metamorphoses X, 638 vgg.)

In die skaduwee van 'n populier, vertel Venus aan Adonis die verhaal van Atalanta die maagd aan wie 'n orakel gesê het dat sy die hu- welik moet vermy. Sy was geweldig vlug van voet en uiters skoon, en het baie vryers gehad. En dit was die voorwaarde waarop sy sou trou: as sy oorwin word in die wedloop; maar diegene wat sy oorwin, moet hul lewe daarby inskiet. Ten spyte van hierdie wrede voorwaarde, was haar skoonheid so aantreklik dat tal van jongelinge hul lewe gewaag en verloor het. Eindelik verskyn Hippómenes, op wie sy heimlik verlief is, ofskoon sy dit nie weet nie.

„Intussen het die volk en haar vader die gewone wedloop geëis. Toe roep Hippómenes my aan op smekende toon:

,Mag Venus, Vrou van Cythera, naby wees,' bid hy, ,en my stoutmoedigheid begunstig en die hartstog wat sy geskep het, aanhelp.' (21)

'n Gunstige wind het die sagte smeekwoorde tot my gebring, en ek beken dat dit my hart geroer het. Kort is die tyd om hulp te verleen.

Daar is 'n akker wat die inwoners die veld van Jamasus noem, die rykste deel van Cyprus, wat die ou manne in die ou tyd aan my gewy het en beveel het dat dit as erfporsie by my tempels gevoeg word. In hierdie akker staan 'n boom wat skitter met geel blare en sy takke ritsel van blinkende goud.

Nou het ek pas die plek besoek en toevallig het ek in my hand drie goue appels gehad wat ek gepluk het. Ek gaan na Hippómenes toe (vir hom alleen sigbaar) en wys hom hoe om die appels te gebruik.

Die trompette het die sein laat weerklink: die twee blits uit hul hokkies en raak skaars die sanderige baan met vlieënde voete. Jy sou dink dat hulle oor die see met onbenatte voete heenskeer, of oor die ryp are van die staande koring.

Die jongeling word aangespoor deur die krete en die applous en die mense wat skree: ,Nou - nou's die tyd - loop! Loop laat dit gons! Gou! Jy gaan wen!' Dis twyfelagtig wie van Atalanta of Hippómenes die meeste behae in hierdie woorde geskep het. Hoe dikwels, toe sy hom kon verbygegaan het, het sy haar spoed vertraag, hom lank aangestaar en onwillig agtergelaat. (22)

En nou is hy moeg, sy keel droog en sy asem kort, en die eindpaal ver weg. Toe eindelik laat hy een van die drie goue appels val. Die maagd is verwonderd en vervul met begeerte om die glinsterende vrug te besit. Sy draai uit om die wegrollende goud op te raap. Daar skiet Hippómenes haar verby: die toeskouers dreun hul toejuiging. Maar sy haal die tyd wat sy verloor het in, deur snel vooruit te spring en laat weer die jongeling agter haar; en weer, deur die tweede appel vertraag, het sy hom ingehaal en verbygegaan.

Die laaste deel van die baan bly oor.

,Nou,' bid hy, ,help my, godin, geefster van hierdie gawe!' En sterk gooi hy die blinkende goud skeef na die kant van die veld: sy sou baie tyd verloor om daarvandaan terug te keer. Dit lyk of die maagd twyfel of sy dit sou gaan haal: ek dwing haar om dit op te tel, en sit gewig by die appel wat sy opgeraap het en hinder haar met die las wat sy dra sowel as met die verlies van tyd.

En, - om my storie nie langer as die wedloop self te maak nie - die jongeling snel haar verby; hy oorwin, en lei sy swaar verdiende prys van die baan af." (23)

Proserpina[edit]

(Ovidius, Metamorphoses V, 384 vgg.)
"Where Proserpine gathering flowers
Herself a fairer flower by gloomy Dis
Was gathered."

Nie ver van die mure van Henna[7] is daar 'n diep meer, Pergus genaamd. Selfs nie die Kaystros[8] hoor op sy voortglydende stroom meer swaansange as hierdie meer nie. 'n Bos bekroon die water aan alle kante en weer die sonstrale af met sy loof, asof daar 'n seil gespan was. Die takke verskaf koelte, die klam grond skitterende blomme, onverganklik is die lente daar.

Hier speel Proserpina en pluk violette of wit lelies. Met die jeugdige meisies-gretigheid vul sy haar mandjie en haar skoot en wedywer met haar maats om meer te pluk as hulle. Soos 'n donderslag het Dis[9] haar gesien - liefgekry - weggeraap: so haastig was sy hartstog.

Verskrik roep die meisie haar moeder en haar speelmaats aan, maar veral haar moeder. Sy het haar rok se boonste soom geskeur en die blomme wat sy versamel het, val uit haar losgerukte (24) onderkleed. So eenvoudig was sy nog op haar jeugdige leeftyd, dat hierdie verlies selfs toe haar laat treur het. Haar skaker drywe sy vierspan en moedig sy perde aan, elkeen by naam, en skud die donker roes-kleurige leisels oor die maanhare op hul nekke uit. Deur diep mere galoppeer hy, deur die damme van die Palici wat swawel asem...

Intussen soek die verskrikte moeder haar dogter tevergeefs in elke land oor elke see. Nie die Daeraad, wat oprys met dou-nat lokke, nòg die Aand-ster sien haar verslap in haar soek nie. Sy steek twee denne-fakkels by die vuur van Etna aan, en dwaal sonder rus deur die ys-kille nagskaduwees rond; en weer, toe die goedige dag die sterre uitgedoof het, soek sy steeds haar dogter - van die son se ondergang tot sy opkoms. Uiteindelik uitgeput en dors (g'n fontein het haar lippe gelawe nie), sien sy toevallig 'n strooi-huisie en klop aan die nederige deur. 'n Ou vrou[10] verskyn en sien haar, en op haar versoek gee sy haar drinkwater, waarop sy eers geroosterde gars gestrooi het.

Terwyl sy drink, staan 'n lelike, astrante knapie haar en aankyk; hy lag haar uit en roep ,,Uitgevreet!" Die godin neem aanstoot: sy gooi oor hom die gars en water wat sy nog nie uitgedrink (25) het nie. Dadelik kom daar stippeltjies op sy gesig, sy arms word pote, 'n stert word gevoeg by sy veranderde gedaante; en, sodat hy nie baie kwaad sal aanrig nie, verkrimp hy tot iets kleins, hy word 'n akkedissie, maar kleiner as die kleinste van hulle.

Oor watter streke die godin oor land en see rondgedwaal het, sou te lank wees om te vertel. Toe daar g'n ander plek was om te deursoek nie, het sy na Sicilië teruggekeer.... Toe sê Arethusa,[11] dogter van Aphéus vir haar:

„Terwyl ek deur die geeste-wêreld onder die aarde voortgly, het ek Proserpina met my eie oë gesien. Sy was, weliswaar, treurig, en haar gesig het nog die spore van vrees gedra; maar sy was 'n Koningin, ja, die grootste in die skaduwee-ryk, magtige vrou van die alleenheerser van die onderwêreld."

Toe sy die woorde hoor, staan die moeder asof verstom, en lank was sy soos een wat sinneloos is. Maar toe haar diepe waansin verdrywe word deur skerpe pyn, reis sy weg in haar wa na die hemelse geweste toe. Daar, met gelaat bewolk, met los hare, vol haat teen die verleider, staan sy voor (26) Juppiter en sê: „Ek kom as smekeling vir my kind en joue. As die moeder dan geen invloed by u het nie, laat die dogter u vaderhart beweeg. Kyk, my langgesoekte dogter is oplaas gevind, as jy dit ,vind' kan noem, wanneer jy haar des te sekerder verloor, of as dit ,vind' is, om net te weet waar sy is. Dat hy haar weggeskaak het, sal ek verdra, op voorwaarde dat hy haar terugbring. Want Juppiter se dogter, gesteld dat sy nie meer myne is nie, verdien nie 'n rower as man nie!"

En Juppiter antwoord: „Sy is werklik ons dogter, 'n pand en 'n sorg van ons twee. Laat ons net gewillig wees om dinge by hul regte naam te noem. Dit is nie onreg nie: dis liefde. En hy sal nie as skoonseun vir ons 'n skande wees nie: gee jy net jou toestemming, godin. Tog, as jy so graag die twee wil skei, Proserpina sal terugkom na bo, maar op een vaste voorwaarde: as in die geeste-wêreld g'n voedsel haar lippe aangeraak het nie. Want dit is deur die Noodlot vasgestel."

So spreek hy, maar Ceres was vasbeslote om haar dogter terug te bring. Die Noodlot, egter, beskik anders. Want reeds het die maagd haar vas gebreek: in haar eenvoudigheid loop sy in die mooi-bewerkte tuine rond, pluk 'n purper granaat van 'n oorbuigende tak, neem sewe korrels uit die bleek-geel vel en eet hulle op. Net een het haar (27) gesien - die knaap Ascalaphus; en deur dit rond te vertel, neem hy wreed haar kans van terugkeer weg.

Maar Juppiter, halfweg tussen sy broer Dis en sy suster Demeter, verdeel die wentelende jaar in twee gelyke dele. En nou bring Proserpina, godin van twee ryke tegelyk, die helfte van die maande by haar moeder deur, en die helfte by haar man. Dadelik vertoon sy haar 'n ander mens; haar uitdrukking is anders en anders haar gemoed. Sy, wat 'n tydjie gelede selfs vir Dis treurig gelyk het, is nou opgeruimd van houding: soos die son wat, netnou weggeskuil agter donker mis en wolke, nou triomfantelik te voorskyn tree.

Phaeton[edit]

Die simbool van hoogvlieënde eersug.
(Ovidius, Metamorphoses XI, 100 vgg.)

Die Paleis van die Son troon op hoë suile, helder met glansende goud en brons wat blink soos vuur. Glimmende ivoor bekroon die gewel-toppe: twee vou-deure skitter met die lig van silwer. En mooier nog as die boustof was die kunsrykheid van die werk. Want daar het Vulcanus die see (28) uitgegraveer wat die aarde in sy middel omring,[12] die kring van die lande en die hemel wat daaroor hang. In die see is die blou-groen gode-Triton, die melodieuse, veranderlike Protius, en Aegaeon met sy arms oor groot walvisse. Op die land is daar mense en stede, woude en wilde diere, riviere, nimfe, landelike gode. Oor dit alles is die helderglansende hemel voorgestel, ses sterre van die Diereriem op die regter-deur, en ses op die linker.

Toe die seun van Clymene[13] nou die steil pad na die hemel beklim en die paleis bereik het van hom wie se vaderskap betwyfel word, keer hy hom dadelik na sy vader se aangesig, maar bly 'n entjie van hom af staan: die glansende lig het hom verblind.

Daar sit Apollo op sy troon, wat skitter van helder smarag, in 'n purper kleed gehul. Aan die regter- en aan die linkerkant staan Dag en Maand en Jaar en Eeu en die Ure op reëlmatige afstande. Fris Lente was daar, en Somer, ongekleed, met 'n kroon van ryp graan; en Herfs was daar, bevlek met die uitgetrapte druiwetros, en ysige Winter met wit en stekelige baard. (29)

In die middel sit die Son, met die oë wat alles deurskou, en spreek die jongeling aan, vir wie die vreemdheid van die omgewing vrees-aanjagend is: „Waarom het jy gekom? Wat soek jy op hierdie hoogtepunt, Phaeton -- en, werklik, geen vader hoef skaam oor jou te voel nie!"

Die jongeling antwoord: „O Lig wat op almal skyn in die onmeetlike Heelal, Phoebus, my vader, as ek dié naam mag gebruik en as Clymene nie haar skande onder 'n valse voorwendsel bedek nie, gee my 'n teken waardeur almal kan glo dat ek u seun is, en verwyder hierdie onbestendigheid van my hart."

So spreek hy; en sy vader haal die skitterende kroon van ligstrale af en vra die jongeling om nader te kom. Hy omhels hom en sê: „Waardig is jy om my seun genoem te word, en Clymene het jou nie bedrieg nie. En, sodat jy my woord nie mag betwyfel nie, vra wat jy wil, sodat jy dit van my hand ontvang. En, mag die Stygiese vlei, wat ek nog nooit gesien het nie en waarby die gode sweer, getuie van hierdie belofte wees!"

Skaars het hy geëindig of die jongeling vra dat hy mag toegelaat word om vir een dag die gevleuelde perde van sy vader se wa te drywe.

Die vader kry spyt oor sy eed. Driemaal, viermaal skud hy sy glansende hoof en sê: „Jy bewys deur jou woorde dat ek onversigtig gepraat het. (30) Kon ek maar my belofte terugtrek! Dit is die een ding, glo my, wat ek nie aan jou sou wou toestaan nie. Maar ek kan probeer om jou te oorreed: onveilig is jou wens, Phaeton, en jy vra 'n guns wat nòg jou kragte nòg jou jare pas. Menslik is jou lot: nie vir mense bestem is die ding wat jy vra nie."

Maar hy verset hom teen die waarskuwing en bly by sy versoek, ene vuur en vlam om die sonnewa te drywe. So lei die vader dan, met soveel vertraging as hy kan, sy seun na die hooggeboude wa, die gif van Vulcanus. Van goud was die as, van goud die disselboom; die wielbande was van goud, die reeks speke van silwer. Langs die juk is fyngerangskikte topaas-stene wat helder die lig van die son weerkaats.

Terwyl die hoogvlieënde Phaeton die tegniese volmaaktheid van die wa bewonder - kyk, Aurora, waaksaam van die rooidag af, maak haar purper deure oop en vervul haar portale met rosige lig: weg vlug die sterre, en die Morester vorm die agterhoede, terwyl hy, laaste van almal, sy wagtoring in die hemel verlaat.

Toe die Son-god sien dat hy ondergaan en dat die wêreld begin te bloos, en die skerp horings van die maan begin wegsmelt as 't ware, beveel hy die snel Ure om die perde in te span. Snel gehoorsaam die godinne en lei uit hul hemelse stalle die perde, (31) vuur-asemend en vol van die voedsel van die gode, en breidel hulle met klinkende gebit. Toe salf die vader sy seun se gesig met 'n heilige salf, om dit vuurproef te maak teen die verterende vlamme; en op sy hoof plaas hy die stralende kroon, met diepe gesug, met 'n voorgevoel van ramp. „As jy minstens jou vader se waarskuwing in ag kan neem," sê hy, „spaar die sweep, my kind, en gebruik die leisels des te sterker. Vanself is die perde haastig: die taak is om hul ywer te bedwing. Sodat die aarde en die lug gelyk hitte mag ontvang, moet jy nie te laag ry nie, en ook nie langs die rand van die hemel nie: as jy te hoog gaan, sal jy die lug verteer; te laag, die aarde. Veiligste is die middelpad. Terwyl ek praat, het dou-nat Nag haar eindpaal op die Westerse kus bereik. Langer mag ons nie vertoef nie: ons word geroep. Kyk, die daeraad gloei, die skaduwees het almal weggevlug. Gryp die leisels, of, as jou besluit nog verander kan word, gebruik my raad, nie my wa nie; en, terwyl jy nog kan, terwyl jy nog vastigheid onder jou voete het, eer jy die wa bestyg het wat jy in jou onkundige dwaasheid begeer het. Laat my toe om lig aan die wêreld te gee, lig wat jy in veiligheid kan aanskou."

Maar die jongeling het alreeds die snel wa met jeugdige houding bestyg. Daar staan hy en verheug (32) hom in die leisels wat hy ontvang, en bedank sy onwillige vader daarvoor.

Intussen vervul die snel perde van die son die lug met hul vurige gerunnik en kap teen die slagboom met hul pote. Toe Tethys oopmaak, onwetend omtrent haar kleinseun se lot, en die onbegrensdheid van die hemel ongehinderd voor hulle uitstrek, skiet hulle vooruit en galoppeer deur die lug. Opgebeur deur hul vlerke, skeur hulle die wolke in hul pad en vlieg verby die Oostewinde wat daar hul broeiplek het.

Maar die gewig was ligter as waaraan die perde van die Son gewoond was, en die juk mis sy gewone gewig. En net soos die gekromde skepe, sonder hul behoorlike ballas, in die golwe rondrol en ongestadig uit hul koers drywe omdat hulle te lig is, so maak die wa spronge in die lug, sonder sy gewone las, en word omhoog geskud soos 'n drywerlose kar.

Toe hulle dit voel, storm die vier perde los en verlaat die bekende baan in wanorde. Die drywer is verskrik en weet nie hoe om die leisels, aan hom toevertrou, te hanteer nie; en, al wis hy, sou hy nie in staat wees om die perde te beheer nie. Toe vir die eerste keer het die koue Bere warm geword van die son en probeer tevergeefs om in die verbode see in te duik.[14] En die Slang, wat (33) naaste aan die ysige Pool lê, altyd nog skadeloos, omdat hy verlam was deur die koue, word warm en woedend van die vuur. En hulle sê dat jy ook, Boötes,[15] verskrik gevlug het, al het jou stadigheid en jou wa jou belemmer.

Maar toe die ongelukkige Phaeton uit die hemel-hoogte neerkyk en die lande ver, ver onder hom sien lê, word hy bleek; sy knieë swig van skielike vrees, en sy oë word verblind van al die lig. Nou wens hy dat hy maar liewer sy pa se perde laat staan het, dat sy geboorte maar onseker gebly het, en sy versoek onvergun. Wat moet hy doen? Baie van die lug is nou agter hom, meer lê voor. In sy gedagte meet hy die afstande. Nou kyk hy na die Weste wat hy bestem is om nooit te bereik nie, en nou na die Ooste. Hy word duiselig: hy weet nie wat om te doen nie; hy laat die leisels nie los nie, en tog kan hy hulle nie hanteer nie: hy ken nie eens die perde se name nie.

Om sy vrees te vererger, sien hy ook in die verskeidenheid van die lug verspreid vreemde vorme van geweldige en wilde diere. Daar is een plek waar die Skerpioen sy arms in twee boë buig, en met stert en arms aan albei kante gekrom, vul hy die plek van twee sterre. Toe die jongeling sien (34) hoe hierdie gedierte, nat van 'n sweet van swart gif, hom bedreig met sy gekromde stert, beroof 'n ysige vrees hom van sy sinne en hy laat die leisels val.

Toe die perde die leisels op hul rug voel lê, breek hulle los uit die baan; niemand bedwing hulle nie, en hulle storm oor onbekende paaie van die lug. Die Maan sien in verbasing haar broer se perde onderkant haar eie voortren, en die wolke brand en rook. Die aarde vat vlam, eers in haar hoogste toppunte, en sy word deur diep barste gesplits en is dor deur die verlies van vogtigheid. Die weivelde word verteer, groen blare en al, en die ryp graan verskaf voedsel vir sy eie vernietiging.

En Phaeton sien die aarde oral vuur en vlam; hy kan die vreeslike hitte nie verdra nie, en die lug wat hy inasem, is soos die lug uit 'n diep fornuis. Hy voel dat die wa wit gloei van hitte hier onder hom. Langer kan hy die as en warrelende vonke nie verduur nie en word in 'n mantel van warm rook gehul. In die pikdonker kan hy nie uitmaak waar hy is of waarheen hy gaan nie, en die wil van die vlieënde perde voer hom voort.

Dit was toe, soos die mense glo, dat die rasse van Aethiopië swart van vel geword het, omdat die bloed deur die hitte tot die oppervlakte van hul huid opgetrek is. En toe het Noord-Afrika (35) 'n woestyn geword, haar vogtigheid deur die hitte opgedroog. Die Nyl het verskrik na die einde van die aarde gevlug en sy kop weggesteek - en weggesteek bly dit nog.[16] Sy sewe monde lê leeg en stoffig: sewe beddings, en geen druppel water nie. Dieselfde lot tref ook die ander riviere, die Hebrus en die Strymon, en die riviere van die Weste, die Ryn, die Po en die Tiber, aan wie belowe is heerskappy oor die aarde.

Berge wat voorheen deur die diep see bedek was, kom te voorskyn en vermeerder die getal van die verspreide Cyclades. Die visse duik tot in die laagste dieptes, en die dolfyne waag dit nie meer nie om 'n boog te spring oor die see in die lug wat hulle lief het. Dooie seeleeus drywe, maag na bo, op die water....

Maar Moeder-aarde, omring deur die see, te midde van strome en waters wat oral minder geword het, in die donker ingewande van hul moeder verberg, Moeder-aarde, met haar hele gesig dor en droog, lig haar rook-bewolkte oë omhoog. Sy hou haar hand voor haar voorhoof en laat alles skud, so geweldig bewe sy, en sak 'n bietjie weg, laer as gewoonlik, en spreek met heilige stem:

„Koning van die gode, as dit u wil is, en as ek dit verdien het, waarom talm u donderslae? As (36) ek deur vuur moet sterwe, laat dit deur 'n vuur wees en laat dit my 'n troos wees dat dit u is wat my laat ondergaan. Skaars kan ek my lippe vir hierdie woorde oopmaak (die hitte het haar laat stik).

Kyk - my verskroeide hare - my oë so vol - my gesig so vol van as. Is dit my beloning, is dit die eer wat u bewys vir my vrugbaarheid en pligsgevoel? Vir die wonde wat ek verdra van die gekromde ploeg en die skoffel-pik, vir lyding jaar in en jaar uit? Vir wat ek verskaf - sagte weiveld vir beeste, graan vir die mens, wierook vir julle hemelinge...?"

So spreek die Aarde... en die Grote Son klim op tot die hoogtepunt van die hemel van waar hy gewoond is om die wolke oor die breë lande uit te sprei; waar hy sy donder aan die gang sit en sy geslingerde bliksemstraal laat neerskiet. Maar nou het hy geen wolke om die aarde te bedek nie, of reën om uit die hemel te laat val nie. Hy donder, en balanseer die bliksemstraal langs sy oor en tref die menner en dryf hom tegelyk van sy wa en uit sy lewe uit en beteuel vuur met woedende vuur.

Maar Phaeton (vuur verwoes sy rossige hare) val, blindelings uitgegooi, 'n lang streep deur die lug, soos soms 'n ster deur die helder hemel, al val dit nie, tog skyn te val. En ver van sy vaderland, in 'n ander deel van die aardbol, ontvang hom (37) Eridanus[17] en laaf sy rokende aangesig. Waternimfe van die Weste begrawe sy liggaam, vol rook van die gekliefde bliksem, en merk die steen met hierdie verse:

Phaeton lê hier begrawe wat Phoebus se son-wa
wou drywe:
Groter die taak as sy kragte, maar groot ook die durf
van die dader.

Die verhaal van Midas[edit]

(Ovidius, Metamorphoses XI, 100 vgg.)

Bacchus het eenmaal in Klein-Asië, te midde van sy pretmakery, vir oubaas Silenus sy satiropvoeder, verloor. Maar die koning van die streek, Midas, het hom onthaal en aan Bacchus terug besorg.

Toe het die god, in sy skik met die terugkeer van Silenus, vir Midas laat kies wat hy wou hê - 'n verblydende maar onvrugbare gawe.

Voorbestem om 'n slegte gebruik van sy kans te maak, het Midas gesê:

„Vergun my dat alles wat ek met my liggaam aanraak, in blinkende goud verander!" (38)

Die god gee wat hy vra en reik aan hom die skadelike gawe uit, jammer dat hy nie beter gebid het nie.

Vrolik gaan die Asiatiese koning op sy pad en verheug hom in die onheilspellende gawe, en toets die egtheid van die belofte deur hier en daar iets aan te raak. Skaars waag hy om te glo. Van 'n eikeboom breek hy 'n laaggroeiende takkie af; die takkie word verander in goud. Hy tel 'n klip van die grond op; die klip verbleek tot goud. Hy raak 'n kluit aan: onder die toormag van sy hand word dit massiewe goud. Hy pluk ryp koringare; daar het hy 'n goue oogs. Sit hy sy vingers op die hoë deurposte, hy sien die deurposte blink en straal. Skaars kon sy gees sy eie verwagtinge bevat toe hy droom hoe alles in goud verander is.

Te midde van sy blydskap, bring sy slawe 'n tafel opgehoop met 'n feesmaal; ook brood was daar. En toe, ja, toe! - hy neem die gawe van Ceres[18] in sy hand; styf in sy hand word die gawe van Ceres. Hy probeer (nou word hy honger) om die ete met sy tande te byt; met sy tande byt hy ete wat goue plate geword het. Hy meng die wyn van Bacchus, wat hom die gawe geskenk het, met rein water; deur sy kakebene kon jy die goue drank sien vloei.

Verslae deur hierdie vreemde vloek, ryk en (39) ellendig tegelyk, verlang hy om aan sy rykdom te ontsnap en haat waar hy netnou om gebid het. Volop die voedsel; dit help sy honger nie. Droë dors brand sy keel. Hy word gefolter deur die gehate goud, en dis sy eie skuld. Hy lig sy tande en blinkende arms omhoog en bid:

„Vergifnis, vader Bacchus! Ek het gesondig. Wees my tog genadig en red my van 'n vloek wat die skyn van 'n seën het."

Die gode is goed. Toe hy skuld bely, het Bacchus hom herstel en bevry van die geskenk wat hy moes gee om sy belofte na te kom. „En sodat jy nie oorgetrek bly met die goud wat jy in 'n dwase oomblik begeer het nie, loop na die stroom wat buurman is van die magtige stad Sardis, reis langs die Lydiese rantjies stroom-op totdat jy by die bron uitkom, waar die water die sterkste uitborrel; steek jou kop en liggaam in en was meteens jou sonde af."

Die Koning het na die rivier gegaan soos hy beveel is. Die goue mag besmet die water en vloei van die man se liggaam in die stroom in. En tot vandag toe pluk die landerye aldaar die vrug van die oorspronklike bron en word styf van die goud en bleek van die deurweekte kluite.[19]

En nou haat Midas rykdom en woon in bosse (40) en velde, 'n dienaar van Pan wat altyd in die berg-grotte te vinde is.

Maar dom bly hy steeds, en sy onnosele brein was bestemd om weer soos tevore, sy baas skade aan te doen.

Want die Tmolus-berg, wat ver oor die see uitkyk, staan styf en hoog en steil, en aan die een kant loop sy helling tot by Sardis en aan die anderkant tot by klein Hypaepae. Dit was daar dat Pan besig was om voor die jeugdige nimfe met sy liedere te spog en om musiek op sy rietfluit, met was saamgevoeg, vir sy ligte lied te maak; en daar het hy die vermetelheid gehad om Apollo se liedere in vergelyking met sy eie te verag. Dus moes hy tot 'n ongelyke wedstryd met Apollo kom, en Tmolus sou skeidsregter wees.

Die ou regter[20] neem sy plek op sy eie berg in, en skud sy ore los van die bome. Sy groen lokke is bekroon met 'n eikekrans alleen, en akkers hang oor sy hol tempels. Hy kyk na die god van die kuddes en sê: „Vir die regter hoef julle nie te wag nie!"

Toe maak Pan musiek op sy landelike fluit, en met sy ongeskoolde lied bekoor hy Midas, wat toevallig teenwoordig was. Nadat Pan klaar was, (41) wend die eerwaardige Tmolus sy gesig na Phoebus toe en met hom draai die bergwoud.

Phoebus se goue hoof was met lourier van Parnassus bekroon, en sy mantel, geverf met Tiriese purper, sleep op die grond. In sy linkerhand hou hy die lier, rondom ingelê met juwele en Indiese ivoor, en in sy regterhand die plectrum.[21] Met geskoolde duim pluk hy die snare: Tmolus is bekoor deur sy soete sang: hy beveel dat Pan se riet-fluit moet wyk vir die lier.

Die uitspraak van die eerwaardige berggod vind algemene byval: maar Midas se stem alleen is weerspannig en noem dit onregverdig. Toe het die god van Delos[22] nie gedoog dat ore so dom hul menslike vorm behou nie, maar maak hul lank en vol van witterige hare, onseker van fondament en beweeglik. Sy ander lede is die van 'n mens, maar in hierdie een deel word hy gestraf en dra die ore van 'n langsaambewegende esel.

En Midas, onteer deur die skandelike verandering, probeer om sy slape te verberg onder 'n purper tulband. Maar die slaaf wat gewoond was om sy lang hare te knip, kom sy geheim agter; en, daar hy nie gedurf het om die skande wat hy gesien het, te verkondig nie, en tog begerig was om dit mee te deel (dit was tog te swaar om stil te (42) bly!) gaan hy opsy en grawe 'n gat in die grond en met 'n sagte stemmetjie fluister hy in die gat watter soort ore hy op sy baas gesien het. Toe dra hy die grond terug en maak die gat weer vol en begrawe die spore van sy stem; so sluip hy dan stilletjies weg.

Maar 'n digte bos van ruisende riete begin daar groei; en toe hul in die volheid van die jaar tot rypheid kom, verraai hulle die man wat die gat gemaak het, want, deur die sagte windjie aangeroer, het hul die begrawe woorde herhaal en aan sy baas verkondig, fluisterend in die wind: „Midas het eselsore!" (43)

Voetnotas[edit]

  1. Androgeos, wat deur lis vermoor is, nadat hy al sy mededingers in die stoeiwedstryd oorwin het.
  2. Asof dit van Gr. keiro, sny, kom.
  3. Vgl. die geskiedenis van Abram en Lot, Gen. 18 en 19.
  4. 'n Griekse koning, grootvader van Theseus.
  5. Boodskapper van die gode.
  6. Die Grieke en Romeine het altyd hul wyn met water gemeng: barbare was gewoond om hul wyn puur te gebruik!
  7. In Sicilië.
  8. In Klein-Asië. Homerus noem sy swane.
  9. Pluto, god van die Doderyk.
  10. Demeter, die aarde-moeder, die mater dolorosa van die antieke wêreld.
  11. Fontein by Syracuse aan die Ooskus van Sicilië. Deur Aephéus vervolg, het sy onder aarde van Griekeland gevloei en in Sicilië weer opgekom.
  12. Die Homeriese konsepsie van Okeanos wat soos 'n rivier rondom die wêreld vloei.
  13. Phaeton, die seun van Clymene, dogter van die Egiptiese koning Merops en Apollo, vind dat sy afstamming van Phoebus-Apollo, in twyfel getrek word; ontsteld gaan hy nou sy vader om bewyse vra.
  14. Die Beer (Ursa Major), die tipiese ster van die Noorde, wat, soos Homerus sê, g'n aandeel het aan die baaie van Okeanos nie, d.w.s. nooit ondergaan nie.
  15. „Die Osse-drywer", of die Beerhoeder, in die nabyheid van die Sewe Osse, wat ook die Beer genoem word en soms gesien word as 'n wa („Charles' wain").
  16. Slaan op die soek na die bron van die Nyl.
  17. Die Po-rivier.
  18. D.i. Brood; Ceres is die godin van graan.
  19. 'n Toespeling op die goudstof wat in die riviere van Klein-Asië dikwels gevind is, b.v. in die Hermus „turbidus auro".
  20. D.i. die gees van die berg, wat skeibaar van die berg self is en die lewe daarvan voorstel.
  21. Lierpen waarmee die snare getokkel word.
  22. Apollo.