Die Kortverhaal van die Grieke en Romeine II/Die kortverhaal in die filosofie

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Die kortverhaal in die geskiedenis Die Kortverhaal van die Grieke en Romeine II
Die kortverhaal in die filosofie
deur T.J. Haarhoff
Die kortverhaal as geestige anekdote


Die kortverhaal in die filosofie.

Ten spyte van die feit dat Plato die digters in sy ideale staat nie wou toelaat nie, was hy by uitstek 'n digter en 'n kunstenaar. Dit kom veral uit in die gelykenisse en die fabels of mites wat hy in sy dialoë gebruik. Die mites dui waarhede aan wat nie deur rede of logika weergegee kan word nie.

Hier is 'n voorbeeld van 'n gelykenis uit die Sewende en van 'n fabel uit die Tiende Boek van Die Staat. Laasgenoemde is 'n sienersgesig van wat met die siel gebeur voor sy geboorte en wat aan hom nà die dood te beurt val. Hier voel die filosoof dat hy die oneindige raak en die grense van die intellektuele vermoë oorskry; as hy voor die oseaan van ewige waarheid staan, sou hy met Rossetti kon sê:

Still, leagues beyond those leagues there is more sea.

Plato het in die vierde eeu voor Christus geleef, na die ontnugterende skok van die Groot Oorlog, wat Euripides tot twyfel en satire gedryf het, wat ook (89) met mense in ons eie tyd gebeur het en wat sommige laat drome droom en Utopia-beelde skep, soos Sir Thomas More en Wells en William Morris en Samuel Butler. Voorloper van hierdie soort boek is Die Staat van Plato; Plato, die stigter van die eerste Wes-Europese Universiteit, wat 916 jaar bestaan het, langer as enige bestaande Universiteit; Plato, die profeet van humanisme en holisme, wat 'n sienersboodskap vir ons tyd het en wat nog altyd as kunstenaar sal bekoor en besiel.

Die gelykenis van die Skadu-skimme[edit]

(Plato, Die Staat VII, begin.)
(Sokrates praat met sy vriend Glaukon.)

„Nou ja," sê ek, „vergelyk nou ons natuurlike toestand, wat opvoedkunde en onkunde betref, met die volgende.

Aanskou in jou verbeelding 'n aantal mense wat 'n onderaardse spelonk bewoon, met 'n ingang na die ligkant toe langs die hele lengte van die grot. Daar is hulle al van kindsbeen af, met voete en nekke so vasgeketting, dat hulle gedwing is om stil te sit en vorentoe te kyk, omdat hul boeie hulle vashou sodat hulle nie kan omkyk nie. En daar is 'n vuur wat helder brand op 'n afstand bo hulle (90) en agter hulle, en 'n hoë pad tussen die vuur en die gevangenes en 'n lae muurtjie daarlangs, soos 'n skerm wat goëlaars voor hul gehoor oprig, en waarbo hul wonderwerke vertoon word."

„Ek kan my dit voorstel," sê hy.

„Stel dan ook vir jou voor dat 'n aantal mense agter hierdie muur loop, en met hulle saamdra mensebeelde, en dierebeelde, van hout of klip of wat ook al vervaardig, wat bokant die muur uitsteek; en dat sommige (soos natuurlik is) met mekaar gesels en ander nie."

„Vreemd," sê hy, „is die toneel wat jy beskrywe, en vreemd die gevangenes."

„Ja, net soos ons," antwoord ek. „Want laat my jou vra, in die eerste plek, of sulke mense iets van mekaar of van hulself kan gesien het, behalwe die skaduwees wat die vuur op die spelonkmuur voor hulle gooi?"

„Sekerlik nie, as jy veronderstel dat hulle gedwing is om dwarsdeur hul lewe stil te sit, sonder om hul koppe te verroer."

„En is hul kennis van die voorwerpe wat verby gedra word, nie net so beperk nie?"

„Ongetwyfeld."

„En as hulle met mekaar kon gesels, dink jy nie dat dit hulle gewoonte sou wees om name aan die voorwerpe wat hulle sien, te gee nie?"

„Ja, seker." (91)

„En dan weer, as een van die verbygangers iets sê en die gevangenes die weerklank van die stem hoor, sou hulle dan nie die stem met die verbygaande skaduwee verbind nie?"

„Dis wat hulle sou doen."

„Bedink nou wat sou gebeur as hulle deur 'n natuurlike ontwikkeling hul vryheid verkry en genesing van hul dwaasheid.

Laat ons dit so voorstel: een van hulle is bevry en gedwing om skielik op te staan en om te draai en met sy oop oë na die lig toe te loop. Dit alles doen hy pynlik-swaar en die verblindende lig maak dat hy nie in staat is om die voorwerpe te sien nie waarvan hy tevore die skaduwees gesien het. Wat sou hy antwoord, dink jy, as iemand hom sou sê dat hy voorheen dwase verskyninge gadegeslaan het, maar dat hy nou enigsins nader aan die werklikheid is?.... Sou jy nie verwag dat hy verward sou wees nie, en die ou gesigte as werk- liker beskou dan die voorwerpe wat hy nou gedwing is om te sien?"

„Ja, baie werkliker."

„En as jy hom met geweld langs die oneffe steilte van die spelonk sou afsleep, en hom nie loslaat voordat hy in die sonlig uitgebring is nie, dink jy nie dat hy hom daaroor sou vererg nie? En as hy die lig bereik, sou hy nie só-seer verblind wees deur die skerpte van die helderheid nie, dat (92) hy nie een van die voorwerpe sou kon sien wat hulle hom nou vra om as werklik te beskou nie?"

„Ja, om mee te begin."

„Daarom, dink ek, sal hy eers gewoond moet word om die voorwerpe in die bo-wêreld waar te neem. Eers sal hy skaduwees die beste kan uitmaak; dan sal hy die weerkaatsinge van mense en dinge in die water onderskei, en daarna die werklikhede; en dan sal hy sy oë ophef om die lig van die maan en die sterre te aanskou."

„Ja, so sal dit gaan."

„Laaste van alles, verbeel ek my, sal hy die wese van die son kan gadeslaan, nie soos dit voorkom in die water of op 'n vreemde terrein nie, maar soos dit is in sigself op sy eie terrein."

„Natuurlik."

„En wanneer hy aan sy vorige woonplek dink en die kennis wat daar heers en sy voormalige medegevangenes, dink jy nie dat hy bly sal wees oor die verandering en vir hulle jammer voel nie?"

„Alte seker."

„En as hulle in daardie dae gewoond was om mekaar te loof en te eer en diegene te beloon wat verbygaande gebeurtenisse die skerpste kon raaksien, en die beste onthou al wat daaraan voorafgegaan het, of daarmee saamgaan, of daarop volg, en dan hieruit die suiwerste opmaak wat in die toekoms sal gebeur, dink jy dat hy sulke beloninge (93) sal begeer of diegene beny wat onder hulle eer ontvang of gesag uitoefen?[1] Dink jy nie dat hy sal voel wat Homerus beskrywe nie, en vuriglik wens om:

Dienskneg te wees van 'n man wat arm is en só maar te lewe[2] en dat hy gereed sal wees om enige lot te verduur liewer as om só te dink en só te bestaan?"

„Ja, wat my betref, stem ek saam .. .. ."

„En bedink nou wat sou gebeur as so 'n man weer sou afdaal en sy ou plek inneem. Hy kom nou skielik uit die sonlig - sal hy nie vind dat sy oë deur die donker verblind is nie?"

„Ongetwyfeld."

„En as hy nou weer sy mening moes uitspreek omtrent die skaduwees teenoor diegene wat altyd gevangenes was, terwyl sy gesig nog dof was en sy oë onseker, sou hulle hom nie uitlag nie? Sou hulle nie sê dat hy net sy oë bederf het deur boontoe te gaan nie en dat die opwaartse reis nie die moeite werd was nie? En as iemand sou probeer om hulle te bevry en in die lig te bring, sou hulle hom nie selfs om die lewe bring nie,[3] as hulle hom net in hul mag kon kry?"

„O, ja, dit sou hulle sekerlik doen." (94)

Er, die seun van Armenios[edit]

(Plato, Die Staat X, 614 B. Enigsins verkort.)

Nou ja, ek sal jou 'n storie vertel: maar nie 'n verhaal soos Odysseus van Alkinoos vertel het nie. Dit gaan oor 'n held, Er, die seun van Armenios, 'n Pamphyliër van geboorte. Hy het in die oorlog gesneuwel, en, tien dae later, toe die lyke opgeneem word in 'n toestand van ontbinding, vind hulle dat sy lyk onaangetas is deur bederf en hulle dra hom huis-toe om begrawe te word. Op die twaalfde dag, toe hy op die brandstapel lê, herlewe hy en vertel hulle wat hy Daar Anderkant gesien het.

Hy sê dat toe hy uit sy liggaam uitvaar, hy op 'n reis gegaan het met 'n groot geselskap, en dat hulle 'n geheimsinnige plek bereik het waar daar twee skeure in die aarde was: hulle was naby mekaar en oorkant hulle was twee ander openinge in die hemel bo. In die middel-ruimte sit regters, wat die regverdiges beveel het om op te vaar langs die hemelse pad aan die regterkant, die tekens van hul oordeel op hulle vasgebind van voor. So is die onregverdiges dan ook beveel om links af te gaan, op die pad na onder; hulle het ook die tekens van hul dade gedra, op die rug vasgebind.

Hy kom nader, en hulle sê hom dat hy die boodskapper sou wees van die ander wêreld aan die (95) mensdom en dat hy moet hoor en sien alles wat gehoor en gesien kan word in daardie plek.

Toe kyk hy, en hy sien hoe die siele aan die een kant by albei openinge van hemel en aarde wegvaar sodra die oordeel uitgespreek is, en hoe by die ander twee openinge sommige siele uit die aarde stowwig en reis-besoedeld opkom, en ander uit die hemel neerdaal, rein en helder. Van tyd tot tyd kom hulle aan, blykbaar van 'n lang reis, en opgeruimd gaan hulle na die weivelde voort, waar hulle uitkamp soos mense by 'n feesviering. En dié wat mekaar ken, omhels mekaar en gesels, die siele wat van die aarde afkom vol vrae omtrent die dinge daarbo, en die siele wat van die hemel kom, omtrent die dinge daaronder. En hulle vertel mekaar wat onderweg gebeur het, en dié wat van onder af kom, treur met trane oor wat hulle gely en gesien het op hul reis onder die aarde (die reis het 'n duisend jaar geduur) terwyl dié wat van bo kom, besig was om die hemelse genot te beskrywe en gesigte van onbegryplike skoonheid.

Dié verhaal, Glaukon, is te lank om te vertel; maar dit het hierop neergekom: Er het gesê dat hulle elke onreg wat hulle aan iemand gedoen het, tienvoudig moes vergeld, eenmaal elke honderd jaar - want dit was die berekening vir die menslike leeftyd - sodat elke skuld tienmaal in die duisend jaar betaal word; en die beloning vir goeie dade (96) en regverdigheid en heiligheid was in dieselfde verhouding.

Hy sê dat hy teenwoordig was toe een van die geeste vir 'n ander vra: „Waar is Aridaios die Grote?" Jy moet weet dat hierdie Aridaios 'n duisend jaar voor die tyd van Er geleef het: hy was die alleenheerser van 'n stad in Pamphylië en het sy bejaarde vader en sy ouer broer vermoor en baie ander afskuwelike misdade op sy kerfstok gehad.

Die ander gees antwoord: „Hier kom hy nie en sal hy ook nooit kom nie." „En dit," sê hy, „was een van die vreeslikste gesigte wat ons gesien het. Ons was by die bek van die opening en wou net opvaar nà al ons ondervindinge, toe Aridaios en 'n aantal ander - meestal alleenheersers, asook private mense wat groot misdadigers was - verskyn. Ons dag dat hulle op die punt was om na die bokantse wêreld op te vaar, maar in plaas van hulle toe te laat, dreun die bek op 'n afgryslike manier, so gou soos een van hierdie ongeneeslike sondaars of iemand wat nie sy skuld ten volle betaal het nie, probeer om op te gaan. En toe kom wilde mense, vurig van gelaat, wat in die nabyheid was en die betekenis van die gedruis verstaan het, en gryp hulle en dra hulle weg. Aridaios en die ander het hulle hande en voete gebind en met gésels gefolter en aan die (97) verbygangers verkondig dat hierdie misdadigers op pad is om in die hel gegooi te word. En van al die verskrikkinge," sê hy, „wat ons verduur het, was daar nie een wat kon vergelyk word met die vrees wat elkeen van ons op daardie tydstip gevoel het nie dat ook ons die Stem sou hoor; en toe daar stilte was, het ons een vir een opgevaar vol van die uiterste vreugde."

(Na sewe dae en sewe nagte is die geeste na 'n plek gevoer waar hul toekomstige bestaan vasgestel word.)

Toe Er en die geeste daar aankom, moes hulle direk na Lachesis[4] toe gaan. Maar eers het daar 'n profeet gekom wat hulle in orde opgestel het. Toe neem hy van die knieë van Lachesis menselotgevalle en lewenstipes, en van 'n groot verhoog kondig hy die volgende af:

„Hoor die woorde van Lachesis, die dogter van die Noodlot! Sterflike siele, hier begin 'n nuwe kringloop van lewe en aardse bestaan. Jul Bewaargees[5] sal nie aan julle toegeken word nie: hom sal julle kies: laat diegene wat die eerste lot trek, die eerste keuse hê, en die lewe wat hy kies, sal sy noodlot word. (98) Die deug is vry, en namate 'n man haar eer of nie, sal hy meer of minder van haar besit. Die skuld lê by hom wat kies: God self is skuldeloos."

So spreek die profeet,[6] en hy strooi menselotgevalle onder almal van hulle uit, en elkeen tel die lewenslot op wat naby hom val (behalwe Er hy is nie toegelaat nie), en soos elkeen sy lewenslot optel sien hy die nommer wat hy gekry het.

Toe sit die profeet die tipes van lewe op die grond voor hulle neer: en daar was baie meer lewens as die geeste wat teenwoordig was allerhande soorte. Daar was lewens van elke soort dier en van die mens in alle toestande. Daar was lewens van alleenheersers, party wat tot die end van die despoot se lewe loop, party wat in die middel afbreek en in armoede, ballingskap of bedelary eindig. En daar was lewens van manne wat beroemd word, sommige om skoonheid en krag en atletiese sukses, sommige om hul afkoms en die hoedanigheid van hul voorouers; en ander, weer, was berug om die teenoorgestelde karaktertrekke. En die hoedanighede is almal met mekaar gemeng, en met rykdom en armoede, gesondheid en siekte: en daar was tussenstadiums ook.

En hier, geagte Glaukon, is die allergrootste gevaar van ons menslike bestaan; hier moet ons (99) dus die grootste sorg beoefen. Laat elkeen van ons al die ander vorme van kennis laat vaar en een ding soek en najaag: of hy moontlik bevoeg sal kan word om te onderskei, of iemand kry wat hom kennis en bevoegdheid sal gee om te onderskei, tussen Goed en Kwaad: sodat hy altyd en oral die beste lewe mag uitkies soos hy geleentheid daarvoor kry. Al die dinge wat genoem is, moet hy een vir een en almal te same oorweeg in hul verhouding tot die Deug. Hy moet weet wat die gevolge is as skoonheid verbind is met armoede of rykdom in hierdie of daardie siel, die gevolge, goed en sleg, van edele of nederige afkoms, van 'n private en publieke stand, van sterkte en swakheid, van slimheid en domheid, en van al die natuurlike of aangeleerde bekwaamhede van die siel, en hoe hulle op mekaar inwerk wanneer hulle in verbinding met mekaar is. Hy sal dan die aard van die siel in ag neem, en uit die oorweging van al hierdie hoedanighede sal hy kan opmaak watter een goed en watter een kwaad is. En so sal hy dan kies, en sleg noem die lewe wat sy siel onregverdiger sal maak, en goed, die lewe wat dit regverdiger sal laat word: die res sal hy verontagsaam. Want ons het gesien en ons weet dat dit die beste keuse is in lewe en in dood. 'n Man moet met hom na die onderwêreld 'n onwrikbare geloof in reg en waarheid saamneem, sodat hy ook dan (100) onverblind mag bly deur die sug na rykdom en die ander verleidinge; anders verval hy dalk in despotisme en 'n dergelike lewe en doen ongeneeslike kwaad aan ander en ly self nog 'n erger kwaad. Laat hom leer om die middeweg te kies en die uiterstes aan albei kante te vermy, sover as moontlik - nie alleen in hierdie lewe nie, maar ook in die toekomstige. Want dit is só dat die mens die gelukkigste lewe vind.

En volgens die boodskapper van Daar Anderkant, is dit wat die profeet toe gesê het: „Selfs vir hom wat laaste kom is daar 'n gelukkige lewe bestem, as sy keuse wys is en sy lewe versigtig. Laat diegene wat eerste kies, nie onversigtig wees nie: laat diegene wat laaste is, nie wanhoop nie."

Hierna kom hy wat die eerste keuse had, vorentoe en kies sommer die grootste despotisme: sy gees was verdonker deur dwaasheid en gierigheid, en sy keuse onbedagsaam, sodat hy by die eerste oogopslag nie gesien het nie dat hy voorbestem was om sy eie kinders te verslind en dergelike euwels meer. Maar toe hy tyd gehad het om na te dink, en besef wat sy lot inhou, het hy op sy bors geslaan en sy keuse betreur en die profeet se afkondiging vergeet. Want in plaas van homself die skuld te gee, het hy toeval en die gode - alles eerder as homself - geblameer.

Nou was hy een van diegene wat van die hemel (101) afgekom het en wat in 'n vorige lewe in 'n goedgeregeerde staat gewoon het; maar sy deug was slegs 'n saak van gewoonte en hy het geen innerlike werklikheid besit nie.

En dit was waar van ander wat 'n dergelike keuse gemaak het, dat hulle meestal van die hemel afgekom het, en dus nooit die beproewinge van die lewe ondervind het nie; terwyl diegene wat van die aarde af gekom het, daar hulle self gely het en ander sien ly het, nie so haastig was om te kies nie. En weens hierdie onervarenheid het baie siele 'n goeie lot vir 'n slegte verruil of 'n slegte vir 'n goeie. Want as 'n man, nà sy aankoms op aarde, homself aan 'n gesonde lewenswysheid gewy het, kon hy gewoonlik 'n gelukkige lewe hier lei; en sy reis na die ander lewe en sy terugkeer hierheen sou gemaklik en hemels wees in plaas van aards en ongelyk - so altans het die boodskapper berig.

Merkwaardig, het hy gesê, was die gesig - treurig en vermaaklik en vreemd; want die keuse is in die meeste gevalle op ondervinding van 'n vorige lewe gegrond. Daar het hy die siel wat eenmaal Orpheus was, die lewe van 'n swaan sien uitsoek, omdat hy die gedagte gehaat het dat 'n vrou sy moeder sou wees, aangesien dit vroue was wat hom verskeur het.[7] Dan was daar (102) Agamemnon, wat die lewe van 'n arend gekies het, omdat hy die menslike natuur, weens sy lyding,[8] gehaat het. In die middel kom die lot van Atalanta.[9] Sy sien 'n lewe raak wat groot atletiese roem belowe en kon nie nalaat om dit uit te kies nie. En vèr agter, onder die laastes, was die siel van die harlekyn Thersites,[10] besig om die gedaante van 'n aap aan te neem. Toe kom die siel van Odysseus, wat nog sy keuse moes maak, en toevallig was sy lot die laaste van almal. Die gedagte aan sy vorige swoeg-arbeid, het hom 'n hekel aan eersug gegee, en 'n lang tyd het hy rondgesoek na die lewe van 'n private indiwidu sonder sorg; nà heelwat moeite kry hy dit daar êrens rondlê, deur almal verwaarloos; en toe hy dit sien, sê hy dat hy hoog in sy skik was en dat hy dit sou uitgekies het al was sy lot die eerste in plaas van die laaste gewees.

Elkeen het nou sy lewe uitgekies, en, in die orde van hul keuse, gaan hulle nou na Lachesis toe. Sy stuur saam met hulle die Bewaargees wat elkeen gekies het om hulle deur die lewe te beskerm en hul keuse te vervul; en hierdie gees lei hulle eers na Klotho toe, onder haar hand en haar rondwarrelende spoel, en bekragtig aldus die lot (103) van elk. En nadat dit bevestig is, word hulle na Atropos gevoer, wat die lewensdrade spin en onveranderlik maak, en vandaar, sonder dat hulle omdraai, gaan hulle onder die troon van die Noodlot in. Toe hulle almal verby was, marsjeer hulle in skroeiende hitte na die vlakte van Vergetelheid - 'n onvrugbare woestyn sonder bome of groenigheid; en teen die aand laer hulle by die rivier van Sorgeloosheid: die water daarvan kan g'n vat inhou nie. Hiervan moes almal drink, en diegene wat nie deur wysheid gered is nie, het te veel gedrink; en elkeen, terwyl hy drink, vergeet alles.

Nadat hulle gaan slaap het, omtrent middernag, het daar 'n donderstorm en 'n aardbewing gekom; en toe, soos sterre wat deur die lug skiet, word hulle opgevoer tot hul geboorte, die een hier, die ander daar. Maar Er is nie toegelaat om te drink nie. En hoe of deur watter middel hy tot die liggaam teruggekeer het, kon hy nie sê nie; hy weet alleen dat hy skielik in die oggend ontwaak het en gevind het dat hy op die brandstapel lê.

En só, Glaukon, is die storie gered, en het dit nie vergaan nie; en ook ons sou daardeur gered kon word as ons gehoor daaraan gee, en dan sal ons veilig oor die rivier van Vergetelheid gaan en ons siel rein bewaar. Daarom is my raad dat ons altyd die hemelse pad vashou en altyd geregtigheid (104) en wysheid navolg, in die geloof dat die siel onsterflik is en by magte om alle soorte euwel en alle soorte goed te verduur.

So sal ons kan lewe in harmonie met mekaar en met die gode, beide hier op aarde en wanneer ons die beloning van ons deug verkry, soos atlete wat rondgaan en aan hul pryse toevoeg; en beide hier en in die duisendjarige pelgrimsreis wat ons beskryf het, sal dit ons dan goed gaan.

Atlantis[edit]

Die Timaios, een van Plato se diepsinnigste geskrifte, is bedoel as 'n vervolg op Die Staat. Dit skets in verhewe taal die skepping van die wêreld en van die mens. Aan die begin daarvan staan die storie van die verlore wêrelddeel, Atlantis, waaromtrent ons meer besonderhede in die fragmentariese dialoog, die Kritias besit. Dis onnodig om hier in te gaan op al die spekulasies omtrent die verlore vasteland, waaraan sommige mense vandag nog glo. Nog onlangs het 'n Duitser 'n boek oor Atlantis uitgegee waarin hy melding maak van sowat seshonderd geskrifte oor die beroemde legende.

(Kritias, die jongere, praat.) (105)

Luister dan, Sokrates, na 'n verhaal wat, ofskoon vreemd, heeltemal waar is, soos Solon, die grootste van die Sewe Wyse Manne eenmaal verklaar het. Dis 'n ou storie en dis 'n ou man van wie ek dit verneem het.

„In die Egiptiese Delta," vertel hy, „waar die Nyl hom by sy mond in twee strome splits, is daar 'n landstreek wat hulle die Saïtiese noem. Daarvan is die hoofstad Saïs, waar Koning Amasis[11] woon en waarvan die stigter 'n godin is wat die Egiptenare Neith noem en die Grieke, soos vertel word, Athena. Hierdie mense sê dat hulle groot beminnaars van Athene is en in sekere mate aan die Atheners verwant. En Solon vertel dat hy toe hy daar rondgereis het, groot eer van die mense ontvang het; en toe hy die priesters wat die ge- leerdste in die Egiptiese oudhede was, ondervra, vind hy uit dat nòg hy nòg enige ander Griek iets besonders van daardie sake afweet. Eenmaal toe hy 'n bespreking omtrent oudhede aan die gang wou sit, het hy probeer om hulle die oudste van ons oorleweringe te vertel - omtrent Phoroneus wat die eerste man sou gewees het, en Niobe. En hy het voortgegaan om te vertel hoe Deukalion en Pyrrha die sondvloed oorleef het, en 'n geslagsregister van hul afstammelinge gegee. (106)

Daarop het een van die priesters - hy was geweldig oud - vir hom gesê:

„O Solon, Solon, julle Hellene is altyd kinders: daar is nie so 'n ding soos 'n ou Helleen nie."

Toe vra Solon: „Wat is tog jou bedoeling?"

En die priester antwoord: „Julle is jonk van siel - julle almal. Want in julle siele besit jul nie een enkele geloof wat oud en van 'n ou tradisie afkomstig is, of enige wetenskap wat grys van die ouderdom is nie. En dit is die rede: Daar was, en daar sal wees, baie verskillende uitdelgings van die mensdom, waarvan die grootste geskied deur vuur en water en die kleinere op tallose ander maniere. Inderdaad, die storie wat onder julle, sowel as onder ons, vertel word - hoe Phaeton,[12] seun van die Son, sy vader se hemelwa ingespan het en nie in staat was om dit langs die pad van sy vader te dryf nie en alles op die aarde verskroei het en self deur 'n bliksemstraal gedood is - hierdie storie is in die vorm van 'n legende, maar daar sit waarheid in; want die hemelliggame wat rondom die aarde beweeg, verskuiwe van tyd tot tyd, en dan kom daar 'n uitdelging deur middel van 'n geweldige vuur van alles wat op die aarde is. Dit gebeur in lang tydskringe.

Dan is dit dat diegene wat op die berge in hoë en droë plekke woon, meer verwoes word as dié (107) wat by riviere of by die see is. En wat ons betref, die Nyl, wat andersins ook ons Redder is, red ons dan ook deur sy oorstrominge. Maar wanneer die gode die aarde reinig deur 'n watervloed, word die herders en die wagters op die berge gered, en diegene wat in jul stede woon, word seewaarts gespoel deur die riviere. By ons egter stroom die water nooit op die velde van bo-af nie: by ons is dit sy aard om van onder op te kom. Daarom is dit ook dat wat hier bewaar gebly het, as die oudste beskou word. Die waarheid is dit: in elke streek waar koue en hitte hulle nie deur uiterstes belemmer nie, is daar altyd mense, nou meer en dan weer minder in getal. En as daar iets gebeur het wat groot of edel of buitengewoon is, in jou land of in ons s'n of in enige wêrelddeel waarvan ons gehoor het, word dit van oudsher opgeteken en in ons tempels bewaar: terwyl jou volk en die ander maar onlangs van tyd tot tyd toegerus is met die skryfkuns en die behoeftes van 'n beskaafde stad. En as die Sondvloed, nà die gewone verloop van jare, soos 'n plaag op julle afkom uit die lug, laat dit niemand oor nie behalwe die ongeletterdes en onbeskaafdes, sodat julle weer van voor af aan jonk word, sonder kennis van die oudhede òf van Egipte òf van Hellas. Die geslagsregisters, Sokrates, van die Hellene, wat jy netnou genoem het, is maar eintlik kinderstories; want, (108) in die eerste plek onthou julle maar een Sondvloed, terwyl daar baie voorheen was; en, verder, is julle onkundig omtrent die feit dat in julle land gebore is die edelste en die beste menseras wat die voorouers was van julle self en van jul hele teenswoordige staat, want 'n bietjie saad het toevallig nog oorgebly. Maar hierdie waarheid het julle ontgaan, want gedurende baie geslagte het die wat oorgebly het nie die bekwaamheid gehad om te skrywe nie.

Toe Solon dit hoor, vra hy die priesters met die grootste gretigheid om alles in noukeurige volgorde omtrent die mense in die ou tyd te vertel.

En die priester antwoord toe: „Solon, ek misgun jou die storie nie: ek sal dit vertel om jou ontwil en terwille van jou stad, en veral terwille van die godin wat beide jou stad en ons s'n beskerm as haar beskore deel. Jou stad het sy 'n duisend jaar voor ons s'n oorgeneem, toe sy die stad van Gê en Hephaistos[13] ontvang het, waaruit julle gevorm is, en daarna ons stad. Nou vertel die Heilige Geskrifte ons dat ons beskawing agduisend jaar oud is. Van die mense, dus, wat negeduisend jaar gelede gelewe het, sal ek jou kortliks vertel - sekere wette van hulle en die edelste dade wat hulle verrig het. Die volledige beskrywing met al die fynheid van besonderhede (109) sal ons later[14] op ons gemak deurgaan volgens die geskrifte self.

Om 'n idee van hulle wette te kry, moet jy die wette hier in ag neem; want hier sal jy nog baie bestaande voorbeelde kry van wette wat destyds in julle stad bestaan het. Jy sien, eers, hoe die priesterstand afgesonderd is van die res. Dan die stand van die ambagsmense, waarvan elke klas apart werk sonder om hulle met die ander klasse te vermeng. Ook die klas van herders, jagters en boere is elk apart en afgesonderd. Verder word die militêre stand, soos jy seker opgemerk het, apart van al die ander stande gehou, gelas volgens wet om sy aandag aan oorlogsake alleen te gee. Dan weer, wat wysheid betref, sien jy seker wat die wet hier is - hoeveel tyd van die begin af aan aan die Kosmiese Skepping bestee word, deur uit te vind al die weë waarlangs hemelse oorsake die menslike lewe beïnvloed in al die vakke, selfs ook in die profetiese en in die mediese kuns, wat vir die gesondheid sorg; en deur 'n kennis op te doen van al die studies wat daarmee in verband staan.

So het die godin wat self 'n liefhebber beide van oorlog en van wysheid was, 'n plek uitgekies wat bestemd was om mense wat die meeste haar eie karakter gedra het, voort te bring. (110)

Baie, inderdaad, en groot is die dade van jul staat, maar daar is een wat groter is en edeler as al die ander. Want dit word in ons geskiedrolle vertel dat jul weleer 'n magtige leër in sy hooghartige vaart gestuit het, wat van die vertes van die Atlantiese Oseaan die hele Europa en Asië kom aanval het. Want die oseaan daar was toe beseilbaar: en voor die „Pilare van Herakles",[15] soos julle die plek noem, was daar 'n eiland groter as Afrika[16] en Asië tesame. En dit was moontlik vir reisigers destyds om oor te gaan na die ander eilande en van die eilande na die hele vasteland oorkant hulle wat daardie gedugte oseaan omring.

Want die see wat binnekant die Pilare lê,[17] is maar net 'n hawe met 'n nou openinkie. Maar die see daar anderkant is 'n ware oseaan, en die land wat dit omring, kan in die volste en waarste sin van die woord 'n Vasteland[18] genoem word. Wel, in hierdie eiland Atlantis het daar 'n groot en wonderbaarlike bond van konings ontstaan, wat oor die hele eiland geregeer het en oor baie ander eilande ook en dele van die Vasteland. En verder, van die lande binnekant die Pilare het (111) hulle ook oor Afrika geregeer tot aan Egipte, en oor Europa tot aan Tyrrhenia.[19]

Nou is hierdie leër bymekaar gebring en het dit eenmaal 'n poging aangewend om beide jul staat en ons s'n en die hele land binnekant die Pilare met een slag te verslaaf. En dit was toe, Solon, dat die manlikheid van jul staat voor die hele wêreld uitgeblink het weens sy dapperheid en krag. Want in moed en in oorlogskunste het hy al die ander oortref; en hy was die aanvoerder van die Hellene en het alleen gestaan toe almal hom verlaat het; maar ten spyte van uiterste gevare het hy die indringers verslaan en 'n oorwinningsteken opgerig. Daardeur het hy van slawerny gered diegene wat nog nie verslaaf was nie, en die res van ons wat binnekant die pilare woon, het hy gulhartig bevry.

Maar in die later tyd het daar wonderbaarlike aardbewinge en oorstrominge plaasgevind; en een vreeslike dag en nag het daar gekom toe jul hele vegmag tegelyk deur die aarde ingesluk is, en desgelyks het die eiland Atlantis in die see afgedaal en verdwyn. En daarom ook het die oseaan op daardie plek onoorgangbaar en ondeursoekbaar geword: want daar is 'n versperrende modderlaag gevorm toe die eiland weggesink en op die bodem afgesak het om in die diepte te verdwyn." (112)

En dit, Sokrates, is 'n kort begrip van wat die ouer Kritias van Solon verneem het en toe aan ons vertel het.

Gyges[edit]

(Cicero, De Officiis III, 9.)

Plato vertel 'n merkwaardige verhaal omtrent Gyges, die Lydiese herder. Daar was 'n geweldige reën, en die grond het weggespoel en 'n groot donga gevorm. Gyges gaan daarin af en kry 'n brons-perd, met 'n deur in die sy daarvan. Dit maak hy oop en ontdek 'n lyk van wonderbaarlike grootte, en op een van die vingers was 'n goue ring. Hy trek dit af en plaas dit op sy eie hand en sluit toe weer by die ander herders aan - hy was destyds in die diens van die Koning.

Toe vind hy uit dat as hy die voorste deel van die ring na die binnekant van sy hand draai, hy self onsigbaar word maar nog die mense rondom hom kan sien; en as hy dit weer na buite draai, word hy sigbaar soos tevore.

Hy maak toe gebruik van sy geluk en word die minnaar van die Koningin, vermoor sy heer, die Koning, met haar hulp, en ruim uit sy pad almal wat hom enigsins in die wiele kon ry. En niemand kon hom sien of hom in sy gruwelikhede ontdek (113) nie; sodat hy, heel spoedig, met die hulp van die ring die Koning van Lydië geword het.

Nou, as 'n waarlik wyse man hierdie ring besit het, sou hy nooit gedink het dat hy geregtig was om enige sondige of afskuwelike daad te doen nie. (114)

Voetnotas[edit]

  1. Plato dink met bitterheid aan die here politici van sy tyd.
  2. Die wens van Achilles in die Ryk van die Skimme.
  3. Plato dink aan die martelaarsdood van sy Meester, Sokrates.
  4. Een van die drie skikgodinne - „die een wat die lot uitdeel". Die ander twee was Klotho wat die lewensdraad spin, en Atropos, die onveranderlike, wat die lot onherroepbaar maak. Vgl. Milton: "Comes the blind Fury with the abhorred shears / And slits the thin-spun life."
  5. Die daimon of genius wat die geestelike gesèl van die mens dwarsdeur sy lewe word.
  6. d.w.s., Tolk.
  7. Vgl. die verhaal van Orpheus, Reeks l, bl. 77.
  8. Hy is deur sy vrou vermoor.
  9. Vgl. Ovidius se verhaal hierbo, bl. 21.
  10. In die begin van die Ilias, die astrante man van die volk wat die teenoorgestelde moet vorm van die held Achilles.
  11. Amasis het oor Egipte geregeer 569-525 v. Chr.
  12. Sien die verhaal van Ovidius, hierbo, bl. 28.
  13. d.i. die elemente van aarde en vuur.
  14. In die Kritias.
  15. Gibraltar.
  16. Die middelste en suidelike deel van Afrika was nog nie algemeen bekend nie.
  17. Die Middellandse See.
  18. In Gr. ,die oneindige'.
  19. Etrurië, bokant die Tiber-rivier.