Die Kortverhaal van die Grieke en Romeine II/Die kortverhaal as geestige anekdote

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Die kortverhaal in die filosofie Die Kortverhaal van die Grieke en Romeine II
Die kortverhaal as geestige anekdote
deur T.J. Haarhoff
Die kortverhaal as satire


Die kortverhaal as geestige anekdote

Humor is 'n tere plant: uit sy natuurlike omgewing gedy dit dikwels nie. Die fynere humor soos dié van Vergilius, en let daarop dat humor in die diepere sin wel in die Grieks-Romeinse wêreld bestaan het, kan jy glad nie uit sy omgewing uithaal nie; dit is slegs die grappige stories wat hul daartoe leen; en van hulle word enige hier aangehaal.

Daarom is baie van die kwinkslae van Cicero vir ons maar laf vandag: ons kan nie vir ons genoegsaam in die oorspronklike verband en atmosfeer inlewe nie. Hier is 'n paar voorbeelde, en hulle kon maklik vermenigvuldig word, wat miskien meer afskeidbaar van hul verband as ander is, en wat bewys dat geestigheid 'n deel van „humanitas" was. Trouens baie van ons moderne grappe - b.v. die skoonmoeder - kom uit die antieke wêreld. Plutarchus skrywe: „Soos die man gesê het wat 'n hond met 'n klip gegooi het en per ongeluk sy skoonmoeder getref het. Nou, dit kon erger gewees het!" Diogenes Laertius gee 'n logiese (115) argumentering wat baie moderne kinders volg: „Wat jy nie verloor het nie, het jy. Jy het horings nie verloor nie. Daarom het jy horings." En Phokytides was maar een van verskeie skrywers onder die Grieke wat hierdie soort van punt-grap in die lewe geroep het: „Die mense van Leros is almal sleg, nie net een hier en daar nie, maar almal soos een man; almal behalwe Prokles, en Prokles kom van Leros." Daarvandaan kom o.a. Porson se puntdig omtrent die Duitse geleerdes, wat eindig:

Except only Hermann
And Hermann's a German.

Net soos die epigram van Martialis: „Ek hou nie van jou nie, Sabidius: waarom weet ek nie: net een ding weet ek, van jou hou ek nie," oorgegaan het in wat dikwels as 'n „nursery rhyme" beskou word:

I do not like thee, Dr. Fell
The reason why I cannot tell;
But this I know, and know full well,
I do not like thee, Dr. Fell.

Die kwinkslag van Dienekes.[edit]

(Herodotus VII, 226.)

(Toe die Grieke die bergpad van Thermopylae teen 'n oorweldigende meerderheid van Perse verdedig het, hoor ons dat Dienekes met wrange humor hierdie (116) woorde geuit het. As ons aan die tragiese agtergrond dink, kan ons wel van „humor" praat.)

Die dapperste van almal, so vertel hulle, was die Spartaan Dienekes. En aan hom skrywe hulle 'n sekere gesegde toe, voor die geveg teen die Perse begin het. 'n Man van Trachis het aan Dienekes gesê dat die Persiese troepe so groot was, dat as hul boë afgeskiet word, jy nie die son weens die duisternis van pyle sou kan sien nie.

Maar hy was glad nie verslae nie en het die menigte van die Perse lig geag: „Ons vriend van Trachis," sê hy, „bring ons besonder goeie nuus: want as die Perse die son verduister, dan veg ons in die skaduwee...."

Kuns-entoesiasme.[edit]

(Oorvertel uit die Moralia van Plutarchus.)

Die professor van musiek besoek die stad. Sy lesings is beroemd, en baie mense kom na hom luister. Die gehoor gee hom hul volle aandag en hy is op die punt om hulle geluk te wens met hul toewyding aan die Muse, toe daar skielik buitekant 'n klok gelui word. Weg is hul aandag: hulle spring op en stroom na buite toe. Net een ou man in die voorste bank bly sit. (117)

„A, my vriend," sê die professor, „ek wens jou geluk met jou goeie smaak. Ek sien dat jy tenminste, soos ek, die kuns vereer. Die ander word sommer van stryk gebring deur 'n klokgelui."

„Wat," sê die oubaas, 'n bietjie doof, „was dit die visklok? Nou ja, tot siens!"

Arrius, die Romeinse „Cockney".[edit]

(Catullus 84.)

„Vhoordele" het Arrius altyd gesê vir „voordele" en „haanvalle" as hy „aanvalle" bedoel: en hy het gedink dat hy dan eers regtig fyn praat as hy met al sy asem „haanvalle" sê.

So, ongetwyfeld, het sy ma gepraat en Meneer Vrygemaak, sy oom, asook sy oupa en sy ouma, aan moederskant.

Wel, hy is na Syrië toe gestuur, en ons ore het vakansie gehou: lig en sag het hierdie lettergrepe geklink, en vrees vir Arrius-woorde is verban.

En toe, skielik, kom daar die vreeslike nuus aangewaai; nà Arrius se aankoms is die Ioniese golwe nie meer Ionies nie: nou moet jy praat van die Hioniese Hoseaan. (118)

Geloof.[edit]

(Cicero, De Oratore II, 68.)

Nasica gaan eendag die digter Ennius besoek.

Toe hy by die deur aanklop, sê die meidjie vir hom dat die baas nie tuis is nie, maar só, dat Nasica sommer besef dat haar baas haar gesê het om die antwoord te gee.

'n Paar dae later gaan Ennius vir Nasica 'n besoek bring: en toe hy by die deur aanklop, roep Nasica hardop dat hy nie tuis is nie. „Wat!" sê Ennius, „sal ek dan nie jou stem ken nie?"

Daarop antwoord Nasica: „So 'n onbeskaamde kêrel! Toe ek vra om jou te sien, glo ek jou meidjie toe sy sê dat jy nie tuis was nie: en jy glo nie eers vir my as ek jou dit self sê nie!"

Themistokles en die eilander.[edit]

(Cicero, De Senectute 3.)

Dit word vertel dat 'n man van Seriphus ('n onbeduidende eilandjie in die Cyclades-groep) eenmaal met Themistokles, die bekende Atheense staatsman, getwis het.

„Ag wat," sê hy, „jou wonderlike naam is aan jou land te danke, nie aan jou self nie." (119)

„Ja, waarlik," sê Themistokles, „ek sou nooit beroemd geword het as ek in Seriphus gebore was nie, en jy sou nooit beroemd wees nie, al was jy in Athene gebore!"

Besigheid.[edit]

(Cicero, De Officiis III, 58.)

Gaius Canius was 'n Romeinse ridder, welopgevoed en nie sonder humor nie. Hy gaan eenmaal na Syracuse toe, om te rus, soos hy self gewoond was om te sê, en nie om besigheid te doen nie, en daar spreek hy gedurig die begeerte uit om tuine aan te koop waarheen hy sy vriende kan uitnooi en die lewe sonder onderbreking geniet.

Toe dit bekend word, sê 'n Syracusiese bankier, Pythius, aan Canius, dat hy geskikte tuine het maar nie om te verkoop nie, en dat Canius hul soos sy eie kan gebruik, as hy wil.

Tegelykertyd nooi hy hom na 'n dinee in daardie tuine vir die volgende dag.

Canius neem aan; en Pythius wat, as hul bankier, by alle seksies van die samelewing invloed gehad het, roep 'n klomp vissers bymekaar en vra hulle om die volgende dag voor sy tuine te kom visvang en gee hulle sy instruksies. (120)

Canius kom betyds vir die dinee - dit was 'n pragtige affêre. Voor sy oë is 'n menigte skuite, en die vissers bring elkeen sy vangs en gooi dit voor die voete van Pythius neer.

„En wat," sê Canius, „as ek mag vra, beteken dit nou alles? So 'n menigte vis, so baie bote?" En hy antwoord: „Dis niks om oor verbaas te wees nie. Al die vis van Syracuse is hier; hier moet die vissers kom water kry; sonder hierdie huis kan hulle nie klaarkom nie."

Dadelik ontvlam Canius se gierigheid. Hy staan daarop dat Pythius aan hom die plek moet verkoop. Pythius maak eers beswaar, maar eindelik stem hy in.

Die ryk gierigaard koop en gee Pythius sy prys, en hy koop ook al die meubels daarby. Die skuld word ingeboek, die saak is afgedaan.

Die volgende dag nooi Canius sy vriende, kom self al vroeg-vroeg, sien g'n enkele skuit nie. Hy vra 'n buurman of dit 'n vissersvakansie is, dat hy hulle glad nie sien nie.

„Nee," sê hy, „sover ek weet nie. Maar gewoonlik vang niemand hier vis nie. Ek het juis gister gewonder wat vir 'n gedoente dit hier is." (121)

Voetnotas[edit]