Die Kortverhaal van die Grieke en Romeine I/Die kortverhaal as spookstorie

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Die epyllion of klein-epos Die Kortverhaal van die Grieke en Romeine I
Die kortverhaal as spookstorie
deur T.J. Haarhoff
Die kortverhaal as fabel


Die kortverhaal as spookstorie

Inleidende oorsig.[edit]

Van die vroegste tye af het die mense aan die onsterflikheid van die siel geglo, en in die mag van die siel om tot die aarde terug te keer.

Eers was die gedagte aan die siel suiwer materialisties. Die voorhistoriese urne wat die as van die afgestorwene bevat het, was in die vorm van 'n hut; en die idee was dat die gees van die dooie 'n huis moet hê om in te woon: dikwels het die graf ook die vorm van 'n huis aangeneem. In daardie huis het die gees dan dieselfde behoeftes wat die mens op aarde gehad het: hy kry honger en word dors en verwag om deur die agtergeblewenes gevoed te word. So, in die moderne Indië, het 'n generaal se bediende 'n offer van whisky en sigare op sy baas se graf geplaas: dit was in sy opinie die generaal se diepste behoeftes! Sulke offerandes in die antieke wêreld is die gevolg van (96) vrees, meer as van liefde. Hulle moes die geeste paai sodat hulle nie by die mense sal kom spook nie; want die dooies was magtig. Hulle kon op die aarde verskyn: daaraan het min in die Griekse en Romeinse wêreld ooit getwyfel - 'n uitsondering was die mense wat 'n oplossing deur redenering alleen wou vind.

Die eerste gedagte was dus dat die siel in die graf van die afgestorwene voortleef: daarna het die idee ontwikkel dat die geeste almal vergader êrens onder die aarde: dit is die Hebreeuse Sheol, die Griekse Hades (of die Huis van Hades, die Ongesiene God, soos by Homerus) en die plek van die Latynse Inferi. Verskillende plekke is aangewys as die ingang tot die onderaardse geeste-ryk, soos Cumae in Italië en Toenarum in Sparta: en elke Italiaanse stad het 'n diep sloot (mundus) laat grawe naby die stadsmuur, wat beskou is as die ingang vir die geeste van daardie stad. Oor die sloot is 'n soort gewelf gebou, waarin 'n gat gelaat is. Hierdie gat is met die steen van die afgestorwenes (lapis manalis) bedek. Op drie plegtige dae in die jaar - 25 Augustus, 5 Oktober en 8 November - is die klip verwyder, en aan die dooies vry toegang tot die aarde verleen, waar offerandes aan hulle geoffer is.

Oral was daar spesiale feeste om die dwalende geeste tot rus te bring. Hulle moes met bloed (97) versoen word: Vandaar die gladiatore in die arena, 'n voorbeeld van hoe die Holy Day ontwikkel in die holiday. (Vgl. Dingaansdag by ons.) In Athene was die tyd vir hierdie soen-offers Februarie-Maart: in Rome vind hulle plaas in Mei. Dan kry jy geen geluk met enige onderneming nie: alle besigheid word gestaak. Daarom word Mei nog vandag so ongelukkig beskou vir huwelike: en mense wat in Mei gebore is, word deur sekere spiritiste as ongelukkig in die liefde beskou.

Die dooies wat onbegrawe lê en die gebruiklike handvol aarde op hul beendere mis, kan nie die Doderyk binnegaan nie: Charon wil hul nie in sy boot neem nie. Dan moet hulle 'n honderd jaar (volgens Vergilius) wag en verskyn dikwels aan na-bestaandes om om 'n begrafnis te smeek. 'n Ander soort dwalende geeste is die wat voor hul tyd dood is, en wat, soos die kerkvader Tertullianus sê, moet ronddwaal totdat hul natuurlike leeftyd om is, en eindelik is daar diegene wat deur geweld gesterf het - veral dié wat vermoor is.

Hierdie geeste spook by die plekke waar hul liggame gesterf het. Meestal word hulle beskou as bose geeste; en in verband met hierdie geeste is daar 'n interessante gebruik wat die Romeine met die woord defixio aangedui het. 'n Vloek teen iemand word op 'n loodplaat van regs na links geskrywe, dikwels in letters wat moedswillig onleesbaar (98) is, en dan vasgespyker aan 'n ander tablet - iets moet aandui hoe die vloek sal deurdring en die slagoffer sal vashou. Die uitvoer van so 'n defixio word dan aan die bose gees toevertrou.

By die Homeriese helde en die vroeë Romeine vind ons nie die idee van straf of vergelding in die geeste-wêreld nie; ofskoon Homerus wel gewag maak van die velde van Elysium wat afgesonder is vir die geluksaliges. Dit is die Etruskers en die latere Grieke van die „klassieke" tydperk wat die begrip van foltering en pyniging in die Romeinse godsdiens ingevoer het. Vandaar sulke figure soos Charon, Cerberus en die woedende Furieë wat so dikwels in hul letterkunde voorkom.

Maar Griekeland het nie net letterkundige begrippe ingevoer nie. Van daar het ook filosofiese stelsels gekom wat ontbindend ingewerk het nie alleen op die ou Romein se boere-konsepsies van landelike gode en die hiernamaals nie, maar ook op die religieuse idee wat van Hellas afkomstig was. Dit is die ontwaking van die lewensaanskouing gebaseer op die Rede, wat die tipiese Griekse bydrae tot ons Westerse beskawing is. Hulle was die eerste wat ons leer dink het; en ná hulle is onder opgevoede mense die neiging gewees om byna alles wat nie op logiese rede gebaseer is nie, met agterdog te beskou. Tog is daar meer dinge in die hemel en op die aarde.... (99)

So het daar in Griekeland gekom eerst Demokritus, die voorloper van Epicurus, wat in die 5de eeu voor Chr. beweer het dat die siel stoflik is en opgelos word in sy bestanddele, net soos die liggaam, wanneer die dood intree. Hierdie lering het lynreg gestaan teenoor Plato (4de eeu) met sy hartstogtelike bewering van onsterflikheid. Maar in die tyd van die geleerde Alexandryne (3de-1ste eeu v. Chr.) -'n tyd wat, soos ons eie, klem gelê het op tegniese vaardigheid, en uit- vindsels soos die penny-in-the-slot machine en die taxi-meter te voorskyn gebring het, iets wat ons geneig is om te vergeet, - was die oorwegende beskouing materialisties en wetenskaplik. Dan is daar die Skeptici, die Peripatetiese skool van Aristoteles, Epicurus self en, twee eeue later, sy groot profeet onder die Romeine, Lucretius, wat spoke verklaar as die uitstroming van atome uit die lyk. Deur al hierdie filosowe word die idee van onsterflikheid in twyfel getrek; en toe die Oosterse misterie-godsdienste, met hul belofte van 'n lewe hiernamaals, in die 2de eeu v. Chr. Rome binnetrek, het die intellektualiste Epicurus gebruik om hulle te bestry. Ook onder laer sosiale kringe is sy invloed gevoel, soos ons kan sien uit 'n menigte graf-inskrifte: dikwels van slawe of gladiatore wat g'n rede gehad het om hul lewe baie lief te hê nie. Somtyds is hierdie inskrifte van (100) 'n naakte eenvoud en direktheid. Hier is een van hulle:

non fui, fui; non sum, non curo.

Ek was nie, ek was; ek is nie meer nie, ek gee nie om nie; - en somtyds neem hulle die vorm van 'n punt-dig aan:

Baaie en liefde en wyn - hul versleg ons die lewe
op aarde:
Lewe wat tog maar net is - baaie en liefde en wyn.

Die Stoïcyne, aan die ander kant, wat in die voorsienigheid en die voorbestemming geglo het, wou 'n poging aanwend om 'n plek vir die lewe hiernamaals in hul teorieë in te sluit. Maar in hul poging om 'n allegoriese of redelike verklaring van die ou religieuse mite te gee, het die Stoïcyne ook bygedra tot die ontbinding van die outydse geloof. Panaetius, wat die eerste profeet van die Stoïcisme onder die Romeine was, het ontken dat die individuele siel 'n aparte bestaan ná die dood het. Ander Stoïcyne, soos Seneca, skyn weer die teenoorgestelde te glo. Die meeste het beweer dat die siel ná die dood opvaar in die lug ('n ontkenning van die ou afdaal na Hades toe), waar dit vir 'n tyd voortleef om uiteindelik in die wêreldgees (anima mundi) opgeneem te word.

So het die stryd op en af gegaan tussen die (101) rasionaliste en diegene wat die mistiese waarheid kon vat. Selfs Aristoteles, die kampvegter van die suiwere rede, het gesê: „Die student moet geloof hê"; maar van sy tyd af, deur die eeue van die Alexandrynse geleerdes, deur die latere dae van die Romeinse republiek vind ons betreklik min stemme wat die onsterflikheid van die siel en die verskyning van afgestorwenes op die aarde voorstaan. Die filosowe het veld gewin. Selfs die graf-inskrifte neem meestal 'n twyfelagtige kleur aan: „...as daar enige gevoel na die dood is... as daar 'n beloning vir die deug onder die aarde is." En namate die latere voortbestaan twyfelagtig word, word ook die roem in hierdie lewe van waarde: vandaar die geweldige beklemtoning van aardse faam wat ons by die Romeine van die latere republiek vind.

Maar daar was een Stoïcyn wat, in die 2de eeu v. Chr., 'n sterk kampvegter vir die idee van onsterflikheid geword het - Posidonius. Cicero het op die eiland Rhodos sy lesings bygewoon en het waarskynlik 'n geestesverwantskap gevind met die samevattende beskouinge van Posidonius, wat idees uit die leer van Pythagoras en uit Oosterse godsdienste in die Stoïcisme ingevoer het. Eeue tevore (in die 6de eeu v. Chr.) het Pythagoras die leer van die verhuising van siele na ander liggame, wat natuurlik die voortbestaan van die siel veronderstel, verkondig; en in die eerste eeu v. Chr. (102) het die senator Nigidius Figulus die Pythagorisme in Rome laat herlewe. En die nuwe rigting van Posidonius in die Stoïcisme het 'n bondgenoot in daardie leer gevind. In die mens, het hulle geleer, is daar 'n goddelike vonkie wat onsterflik is - wat ook die Kwakerleer van die „Inner Light" is.

Wie kon die hemel leer ken tensy met die hulp
van die hemel
Wie kan die Godheid ontdek, tensy hy 'n deel van
God self is?

- So sing die Stoïcynse digter Manilius.

Al die misterie-godsdienste wat in die latere Republiek Rome oorstroom het, het natuurlik die onsterflikheid beklemtoon. Vroeg reeds is die diens van Cybele, die Moeder van die Gode, ingevoer, daarna die diens van die Thrakiese gode Dionysos en Sabazios, asook die Egiptiese misteries van Isis, en later die diens van die Persiese son-god Mithras, van wie ons ons Sondag, in plaas van die Joodse Sabbat, oorgeneem het, asook die 25ste Desember vir ons Kersfees-dag. Mithraïsme was 'n ernstige mededinger van die Christendom in die vroeë Romeinse Ryk.

Geleidelik het die stemme van dié wat twyfel, afgeneem. Lucianus mag spot en Marcus Aurelius die saak slegs as 'n skone hoop beskou, maar vanaf die 2de eeu na Chr. het die geloof in die onsterflikheid (103) gestadig gegroei. Die Christendom word nou onder die laer stande versprei (ons besit 'n karikatuur van die Kruisiging selfs uit die eerste eeu, en nogal onder die soldate van Augustus), en die Platonisme, wat 'n nuwe lewe ontvang het in die vertolking van Philo in die eerste eeu, word geweldig vooruitgestoot in die wêreld-figuur van Plotinus, wat in die 3de eeu na Chr. in Rome geleer het. Onder hom word die verhuising van siele na ander liggame opnuut beklemtoon.

So het ons dan die twee elemente van suiwere rede en mistieke geloof; nou word die een beklemtoon en dan die ander: maar nooit laat die mens sy geloof in die onsterflikheid heeltemal vaar nie. In ons eie tyd het die nasionalisme en die tegniese materialisme geweldig vooruitgegaan, en daar was 'n neiging om hulle uitsluitend te beklemtoon. Maar nou is daar tekens dat 'n reaksie begin. Miskien sal die tyd kom wanneer die twee elemente mekaar sal help en 'n eenheid vorm: intussen heers daar groot verwarring. Want van die onsterflikheid en die terugkom van geeste is geen logiese bewys moontlik nie: al wat ons het, is individuele ondervinding.

Die antieke spook-verhaal word selde aangetref in 'n vorm wat van tegniek en kuns getuig: dit is meestal 'n eenvoudige verslag van iets wat gebeur het of waarvan mense gehoor het. (104)

Die muskiet.[edit]

Die gedig waaruit hierdie storie geneem is, die Culex, was waarskynlik 'n jeuggeskrif van Vergilius; en ofskoon dit baie onrypheid vertoon en vol oordrewe retoriek is, kan ons nie alleen die Vergiliaanse woordwendinge, maar ook die teerheid en die humor van die Georgica daarin bespeur.

So gou soos die herder hom uitstrek om te rus in die diep skaduwee, raak hy sag aan die slaap. Ongekwel deur enige verraad en op sy gemak in die gras, rus hy onbesorgd uit nà sy sware arbeid. Soet is die slaap wat hy daar op die grond geniet: maar die noodlot bedeel hom met wisselende lotgevalle.

Want 'n slang - geweldig, en bont gespikkeld - kom op sy gewone tyd en wyse aangeseil om die vreeslike hitte kwyt te raak in die modder. Hy kyk rond en sien die herder in sy pad. Woester rol sy oë: hy kom vinniger vorentoe. Hy woed, hy sis; in kringe krul hy boontoe.

Maar 'n klein ou diertjie van die vlei waarsku betyds deur sy steek die bedreigde man. Daarop, vol woede, spring hy op en slaan die muskiet dood. Toe, naby hom, sien hy die slang wat hom woes en stip aankyk. Vinnig deins hy terug en skeur 'n sterk tak van 'n boom af. Watter toeval hom (105) gehelp het of watter goddelike gees, sou swaar gaan om te sê, maar hy het dit reggekry om die vreeslik-wringende liggaam van die skubbige slang te verslaan. Half dof van die slaap waaruit hy ontwaak het, het hy sy bejaarde liggaam nie deur vrees laat verlam en sy gees nie alte seer laat verskrik nie; maar toe hy die dier sien doodgaan, is hy genoodsaak om eers uit te rus.

Nou verrys die Nag in haar tweeperde-wa, toe die herder, nadat sy skape gekraal was, deur die aandonkerende skaduwees stap en moeg hom klaarmaak vir sy rus. So gou soos sagte slaap oor hom aansweef en sy onbewuste ledemate wegsak, in sluimer gedrenk, kom daar die Spook van die Muskiet op hom af en sing verwytend, treurig oor die dood wat hom te beurt geval het.

„Waaraan het ek verdien," vra hy, „om tot hierdie bittere lot uitgedryf te word? Jou lewe was my dierbaarder as my eie: tog waai die winde my deur die onderaardse Ryk van Hades. Op jou gemak rus jy in soete slaap uit, van 'n vreeslike dood gered: maar my liggaam word deur die Geeste gedwing om oor die rivier van die Vergetelheid te vaar. Prooi van Charon, word ek voortgedryf; pale het ek gesien wat vlam met fakkels: in die onderaardse streke is alles helder verlig van die vuur.... Wees tenminste dankbaar vir die diens wat ek bewys het." (106)

Toe die herder onrustig wakker word, begin hy ywerig 'n plekkie omspit naby 'n stroompie wat wegskuil onder die groen lommer. In 'n kring grawe hy en gebruik vlytig sy ystergraaf om sooie uit die groen turf uit te spit. Hy hoop die grond hoog op en rondom, in 'n kring, plaas hy gladde marmerblokke.

Hier plant hy akanthus en die rooi-blosende roos en violette van alle soorte; hier, Spartaanse mirte en hiacinte en die krokus-blom wat groei in die velde van Kilikië, en die stygende lourier, glorie van Apollo. En watter blomme ook die lente-seisoen tot nuwe lewe bring, word bo op die heuwel gekweek.

Voor word 'n opskrif geplaas wat aldus met stille stem getuig:

„Nederige muskiet, wat so baie verdien, die herder van die kudde doen hierdie dode-diens vir jou uit dankbaarheid vir die lewe wat jy gered het."

Plinius vertel.[edit]

Hier gee Plinius die jongere (2de eeu na Chr.) 'n storie wat die prototipe van die ortodokse spookverhaal vorm. (Soos b.v. in Dickens se Christmas Carol.) Dit kom voor in 'n brief aan sy vriend Sura. (Ep. VII, 27.) (107)

Beste Sura, - Noudat die vakansie daar is, het jy weer geleentheid om inligting te gee, en ek om dit van jou te ontvang. Ek wil baie graag weet of jy glo dat spoke bestaan en of hulle hul eie vorme besit en 'n mate van goddelikheid; of sou hulle 'n pure valse gestalte aanneem as gevolg van ons vrees.

Wat my besonder geneig maak om aan hul bestaan geloof te slaan, is die ondervinding (soos ek hoor) van Curtius Rufus. Toe hy nog arm en onbekend was, het hy op die staf van 'n nuwe goewerneur na Afrika gegaan. So teen die aand loop hy eendag in 'n suilegang, toe 'n vrou van meer as menslike grootte en skoonheid hom tegemoet kom. Aan die verskrikte man verklaar sy dat sy die Gees van Afrika is en 'n profetes van die toekoms. Hy sou na Rome teruggaan, staatsampte beklee, as goewerneur na dieselfde provinsie terugkeer en daar sterwe. Alles het so uitgekom.

Dit word ook vertel dat toe hy Karthago bereik en aan wal stap, dieselfde gestalte hom op die strand ontmoet het. In elk geval, toe hy siek word, het hy meteens alle hoop opgegee, ofskoon sy staf nog geen gevaar gesien het nie; hy het geoordeel dat die laaste deel van die profesie nou bewaarheid word omdat die eerste deel vervul is.

En hier is 'n storie, net so wonderlik, maar meer (108) skrikwekkend, wat ek sal vertel net soos ek dit gehoor het.

In Athene was daar 'n groot, ruim huis, wat 'n besonder slegte naam gehad het. In die stilte van die nag, as jy mooi luister, kan jy die geraas van yster en die geklink van kettings hoor, eers op 'n afstand, maar later van naby. En dan kom die spook, in die gedaante van 'n ou langbaard-takhaar, so maer en vuil as kan kom. Om sy bene en sy hande dra hy kettings wat hy rondskud. Gevolglik het die inwoners in die nag vol vrees en skrik opgesit. Deur gebrek aan slaap het hulle dikwels siek geword en, namate hul ontsteltenis toegeneem het, eindelik doodgegaan. Want selfs oordag, ofskoon die spook nie verskyn het nie, het sy gedaante hulle voor die oë gesweef, en hul vrees het gebly selfs nadat die oorsaak verby was. So het hulle die huis verlaat en dit daardeur in 'n slegte reuk gebring en dit geheelenal aan die gees oorgegee. Maar in geval daar iemand mog wees wat van hierdie gewigtige ongeluk onbewus was, het hulle 'n kennisgewing opgesit: Te Koop of Te Huur.

Toe kom die filosoof Athenodorus na Athene toe, lees die kennisgewing, verneem wat die prys is, verdink die plek omdat dit so goedkoop is, vra uit, hoor alles, en huur die plek desnieteenstaande, of liewer, des te gretiger. (109)

Teen die aand beveel hy dat sy bed in die voorste deel van die huis moet opgemaak word, en, nadat hy sy wastablette, pen en lig laat kom het, stuur hy al die huismense na binne. Om te verhinder dat sy gemoed, deur ledig te wees, geluide of gedaantes en valse vrees in die lewe sou roep, het hy brein, oë en hand met skryfwerk besig gehou.

In die begin is daar die gewone nagtelike stilte. Toe kom die geklink van yster, die geratel van kettings. Maar hy lig nie sy oë op nie en hou aan met skrywe: hy sluit sy ore deur sterk te konsentreer. Die geraas word erger, kom nader; dis nou op die drumpel, nou's dit oor die drumpel. Hy kyk om en herken die spook soos hulle dit aan hom beskrywe het.

Daar staan dit en wink met sy vinger, soos iemand wat roep. Die filosoof wink terug dat die spook 'n bietjie moet wag, en wend hom weer tot sy skryfwerk. Daarop ratel die gedaante die kettings oor sy kop; en toe hy omkyk, sien hy dat die spook nog steeds wink; hy neem sonder versuim die lig op en volg, terwyl die gees stadig aanstap asof die las van die ketting hom terughou; maar toe hy in die agterplaas kom, verdwyn hy skielik.

Toe hy op dié manier alleen gelaat is, pluk die filosoof gras en blare en maak 'n hopie om die plek te merk. (110)

Die volgende dag gaan hy na die beamptes van die stad toe en raai hulle aan om die plek te laat opgrawe. Daar het hulle toe beendere gekry, deurmekaar en vasgedraai met kettings. Die lyk is deur tyd en grond verrot; die geraamte het oorgebly, kaal en weggevreet deur die kettings; en daaraan is 'n begrafnis op staatskoste gegee.

Nadat die plegtigheid oor was, is die huis van spoke bevry.

Ek vra jou om jou geleerdheid op hierdie vraagstuk te rig. En ofskoon jy, soos jou gewoonte is, aan albei kante argumenteer, hoop ek jy sal die skaal beslis aan een kant laat afweeg, sodat jy my nie in algehele onsekerheid laat nie; want my doel was om deur jou raad van my twyfel ontslae te raak.

Groete.
Jou vriend,
PLINIUS.

Die bruid van Amphipolis.[edit]

Phlegon van Tralles in Klein-Asië was 'n vrygelatene van die Keiser Hadrianus in die 2de eeu na Christus. Van hom is die volgende storie afkomstig. Dit was oorspronklik in die vorm van 'n brief en het verskyn in een van die twee werke wat van (111) hom oorbly Oor Wondere. Die eerste gedeelte van die verhaal word vermis, maar die bekende vorser Erwin Rohde het 'n waarskynlike rekonstruksie daarvan gegee (Rhein. Mns. XXXII). Die storie vorm die basis van Goethe se Braut von Korinth, waarin die meisie 'n Christin is en haar man 'n heiden.

Philinnion was die dogter van Demostratus en Charito. Sy was met Krateros, die generaal van Alexander die Grote, getroud; maar ses maande nà haar huwelik is sy dood: 'n huwelik wat teen haar sin deur haar ouers bewerkstellig is. Want al die tyd was sy innig verlief op Machates, wat eenmaal die gas van haar vader was; en nà haar dood het sy na die aarde teruggekom en met Machates, wat weer by haar vader op besoek was, enige dae saamgewoon.

Eendag gaan die ou kindermeid in die vrykamer in en sien 'n lig brand en 'n vrou wat by Machates sit. Onthuts hierdeur, hardloop sy om die meisie se moeder te roep. „Want," sê sy, „met die grasie van die gode het die nonnie lewendig verskyn, en sit by die vreemdeling in die vrykamer."

Toe sy hierdie verbasende storie hoor, is Charito eers onthuts daardeur en deur die opwinding van die kindermeid; maar na 'n rukkie kom sy tot haarself, beween die lot van haar dogter en sê aan die ou vrou: (112)

„Ag wat, jy's mal; maak dat jy wegkom."

Die ou kindermeid was vererg om so behandel te word, en sê dat sy glad nie mal is nie, maar dat Charito haar dogter nie wou sien nie omdat sy bang was.

Eindelik het Charito ingestem om na die deur van die vrykamer te gaan, maar aangesien dit nou ruim twee uur was sedert sy die nuus gehoor het, was sy te laat. Hulle het al gaan slaap. Die moeder buk oor die vrou neer en meen dat sy haar dogter se gelaatstrekke en haar klere herken. Maar omdat sy onseker was in die donker, het sy besluit om vir die oomblik niks te doen nie, maar om vroeg op te staan en die vrou te vang. As dit nie geluk nie, sou sy 'n volle verklaring van Machates vra: hy sou haar nooit in so 'n belangrike saak bedrieg nie. Sy verlaat dus die kamer sonder om iets te sê.

Vroeg die volgende more, òf omdat die gode dit so gewil het, òf omdat sy 'n goddelike ingéwing gekry het, gaan die vrou ongesien weg. En Charito, toe sy te laat kom, vererg haar eers vir die jongman. Maar later strek sy haar hande na sy knieë uit, soos smekelinge altyd gedoen het as hulle iemand iets in die naam van die gode vra, en besweer hom om haar alles onomwonde te vertel.

Eers het hy hom dit vreeslik aangetrek en kon hy skaars sover kom om te erken dat die meisie (113) se naam Philinnion was. Toe beskrywe hy hoe sy die eerste keer na hom gekom het en hom hartstogtelik liefgehad het en hoe sy gesê het dat sy sonder die medewete van haar ouers na hom kom. As bewys maak hy 'n koffer oop en haal die dinge uit wat sy agtergelaat het, - 'n goue ring wat sy aan hom gegee het, en 'n gordel wat sy die vorige nag daar laat staan het. Toe Charito hierdie oortuigende bewyse sien, gee sy 'n gil en skeur haar onderklere en haar mantel, trek haar hare deurmekaar en begin weer haar dogter beween te midde van haar vriende.

Machates was diep ontroerd oor wat gebeur het en onthuts om te sien hoe hulle haar beween, asof dit die dag van haar begrafnis was. Hy het hulle gesoebat om hulle te laat troos, en belowe dat hulle haar sou sien as sy weer verskyn.

Die nag nader en die uur wanneer Philinnion gewoonlik verskyn het; en hulle sit vir haar en wag. Sy kom, en soos haar gewoonte was, gaan sit sy op die bed. Machates het sy woord gehou, want hy was opreg gretig om die saak grondig uit te pluis, en stuur stilletjies enige slawe om haar ouers te roep.

Demostratus en Charito kom haastig, en toe hulle haar sien, was hulle eers sprakeloos van verbasing. Toe, met 'n geroep van blydskap, omhels hulle hul dogter; maar sy weer hulle af. „Vader en (114) moeder," sê sy, „werklik wreed was julle dat julle my drie dae met die vreemdeling in my vader se huis misgun, - dit het niemand kwaad gedoen nie. Nou sal dit julle berou: want ek moet terug na my voorbestemde plek. Nie sonder die wil van die gode het ek hierheen gekom nie."

Hiermee val sy dood, en haar lyk lê op die bed uitgestrek. Haar ouers omhels haar, en die sware slag vervul die huis met verwarring en droefnis. So was die vreemde voorval wat gou-gou deur die stad versprei is en eindelik my ore bereik het.

Gedurende die nag het ek die gedrang wat rondom die huis vergader het, teruggehou, en gereël dat geen wanordelikheid met die versprei van die nuus plaasvind nie.

Vroeg in die more was al die burgers in die teater, die gewone vergaderplek vir bespreking. Nà 'n lang bespreking is besluit dat ons die graf sou oopmaak om te sien of die lyk nog daar was, want die jonkvrou was skaars ses maande dood.

Toe ons die familie-kelder oopmaak, sien ons al die ander lyke daar lê, maar waar Philinnion gewees het, kry ons net die ysterring wat aan haar minnaar behoort het en die vergulde beker wat Machates haar op die eerste dag gegee het. Vol verbasing loop ons reguit na die huis van Demostratus om te sien of die lyk nog daar was, en daar sien ons haar op die grond lê. Toe gaan (115) ons na die volksvergadering, want die saak was belangrik en vreemd, voorwaar.

Groot was die verwarring en niemand kon sê wat ons moes doen nie, maar Hyllus, wat die naam gehad het van die beste waarsêer onder ons te wees en ook met gesag kon oordeel oor die vlug van voëls, staan op en sê dat die vrou buitekant die stadsmuur begrawe moes word: om binnekant te rus is aan haar verbied. Verder moet Hermes, Begeleier van Geeste en die Furieë versoen word, en op dié manier sou alle besmetting verwyder word. Die tempels moet ook opnuut ingewy en die gewone offers aan die gode van Hades gebring word.

In verband hiermee het die koning my privaat gesê om offerandes te bring nie alleen aan Hermes nie, maar ook aan Zeus, die God van Vreemdelinge, en aan Ares, met die grootste sorgvuldigheid. En dit is ook gedoen. Die vreemdeling Machates wat deur die gees besoek is, het wanhopig sy hand aan sy lewe geslaan.

Die storie van Thrasyllus.[edit]

Verkort uit Apuleius (Metamorphoses Bk. VIII): DIE ESEL VERTEL.

Apuleius (2de eeu na Chr.) was ons mede-Afrikaner uit die Noorde (116) wat in die Metamorphoses beskrywe het hoe Lucius per ongeluk in 'n esel verander is en hoe hy eindelik sy menslike gedaante herwin het.


Toe die hane begin kraai, kom daar 'n jongman uit die naburige stad, wat blykbaar tot die familie van Charite, ons baas se dogter, behoort het, - sy wat net soveel ellende soos ek onder die struikrowers gely het. Hy gaan by die vuur sit en vertel die vreeslike dinge wat Charite en haar huis deurgemaak het.

„Daar was 'n jong edelman in die naaste stad, beroemd en ryk genoeg, maar weelderig en onbeteueld. Hy het in slegte geselskap verval en met diewe omgegaan en selfs sy hande met mensebloed bevlek. Sy naam was Thrasyllus.

Toe Charite van hubare leeftyd was, het hierdie jong man een van haar vurigste aanbidders geword; maar ofskoon hy bo al die ander uitgemunt het en met ryk presente die toestemming van die ouers kon verkry het hy 'n bloutjie geloop omdat sy karakter beklad was. So het ons baas se dogter dan met Tleptolemus getrou.

Maar Thrasyllus het voortdurend sy vernedering met woede verkrop. En toe Charite deur die vernuf en dapperheid van haar man uit die diewe se hande gered is, het hy hom in die gedrang gemeng en laat voorkom dat hy uitermate bly is (117) oor haar onlangse huwelik. So is hy as gas in hul huis ontvang, en het hy voorgekom as een van hul vernaamste vriende. Met verloop van tyd, het hy meer en meer in hul guns ingekruip; en meer en meer het die wellus in hom gegroei. Natuurlik ook; want eers is die vuur van die wrede liefde klein en verskaf genot deur sy warmte, daarna vlam dit op en met die uiterste hitte brand dit die mens totaal op.

Thrasyllus het lank oor die saak gepeins; met Charite kon hy nie in die geheim praat nie, want die aantal van haar bediendes en die liefde tussen haar en haar man het hom gekeer. Tog por 'n hardnekkige waansin hom aan. Kyk net waarheen sy wilde hartstog gevoer het. Eendag gaan Tleptolemus jag, en Thrasyllus saam met hom. Hulle sou net bokke jag, want Tleptolemus se vrou het hom gesmeek om sy lewe tog nie teen gevaarlike diere bloot te stel nie. Toe hulle op 'n bosryke heuwel te lande kom, oorskadu deur digte takke, het hulle die bokke omsingel wat die jaghonde opgespoor het; die sein is gegee om die honde, wat goed geteeld was, los te laat om die diere in hul skuilplekke aan te val. En hulle, gedagtig aan hul vernuftige opleiding, sprei uit en omsingel elke uitgang. Eers het hulle nie geblaf nie, maar toe die sein skielik kom, was alles 'n warboel soos hulle opgewonde en luidrugtig blaf. (118)

En uit spring, nie 'n bok of 'n skugtere hinde of 'n hert (sagste van alle diere) nie, maar 'n vreeslike wildevark, soos niemand nog ooit gesien het nie, dik van spiere onder sy harde vel, met 'n vuil en harige huid, die hare penorent langs sy rug, skuimbekkend en tandeknersend, met oë wat dreigemente uitvlam, bliksemsnel soos hy wreed snorkend stormloop. Die honde wat die moed gehad het om hom aan te val, het hy met sy tande uitmekaar geskeur en aan alle kante verbrysel. Eers het die net hom gekeer; maar dit het hy gou vertrap en dwarsdeur geloop.

Ons was almal vreeslik verskrik om die dier se woede te sien. Toe sê Thrasyllus (want nou sien hy kans om sy slinkse plan uit te voer): „Wat staan ons hier so verwese en bang? Laat ons op ons perde spring en hom agtervolg. Vat jou speer, Tleptolemus. Ek gryp hierdie spies." En hulle spring op hul perde en sit die dier ywerig agterna. En hý vergeet nie sy natuurlike krag nie, maar draai om en kom op hulle af, vuur en vlam van woestheid, en met knersende tande gaan hy staan en soek rond wie hy die eerste sal aanval.

En Tleptolemus gooi hom eerste raak op die rug met sy speer; maar Thrasyllus val nie die dier aan nie maar gooi die knie-sening van Tleptolemus se perd met sy spies mors af. Die perd stort neer en, teen sy sin, gooi hy sy baas op die grond neer; (119) en sommer gou kom die wildevark woedend op hom af, en skeur sy klere en beseer hom verskeie keer toe hy probeer opstaan.

Maar sy goeie vriend was nie spyt van sy goddelose plan nie, en sy wrede natuur was nie tevrede om net die gevaar van sy maat te aanskou nie: maar toe hy daar deurboor lê en sy vars wonde probeer beskerm en jammerlik om hulp smeek, gooi Thrasyllus sy speer deur sy regter-dy, des te stoutmoediger omdat hy reken dat die wond nie onderskei sal kan word nie van die beserings deur die wildevark agtergelaat. En toe het hy maklik ook die dier gedood.

Maar ofskoon Thrasyllus hom verheug het oor die dood van Tleptolemus, het hy hom voorgedoen asof hy rou en treur, en die liggaam hartstogtelik omhels wat hy self gedood het.

Toe die ongelukkige Charite die nuus verneem, het sy soos 'n mal mens deur die strate en die velde geloop en waansinnig na haar man geroep en gesoek. Al die burgers het saamgestroom en simpatiek met haar na die jagveld gegaan om die lyk te sien, sodat die hele stad naderhand leeg was. Daar het Charite haar neergegooi op die lyk en sy sou haar eie lewe daar geëindig het, was dit nie dat haar ouers en haar vriende met moeite daarin geslaag het om haar weg te ruk nie. Toe het hulle die lyk opgeneem en met 'n plegtigheid waaraan (120) die hele bevolking deelgeneem het, na die graf gebring.

Intussen het Thrasyllus voortgegaan met sy vermeende rou oor die dood van sy vriend; en om deur vriendelikheid sy leed te bewys, het hy gedurig na Charite gegaan en haar getroos en haar hande geneem sodat sy nie haar bors kan slaan in haar rouklag nie, en met sagte woorde het hy die skerpte van haar pyn verdof.

Maar Charite was nà die begrafnis van haar man dadelik begerig om na hom te gaan en het alle maniere geprobeer; en veral die sagte manier wat g'n wapens nodig het nie - om haarself te verhonger en so haar lewe te eindig. Thrasyllus het egter onvermoeid aangedring, en so het hy dit reggekry oplaas, deur middel van bloedverwante en vriende, asook deur die ouers self van Charite, dat sy haar liggaam enigsins verfris het met bad en voedsel. Geleidelik het sy kalmer geword, maar nog nie opgeruimd nie, en sy het haar daaglikse pligte vervul, ofskoon sy in haar hart haarself met verdriet gekwel het. Haar dae en haar nagte het sy in jammerlike verlange deurgebring.

Terwyl Charite nog treur, het Thrasyllus oormoedig, soos sy naam aandui[1] nie geaarsel om haar te vra om met hom te trou nie. Maar sy het die versoek verafsku en die uiterste verbasing en (121) ontsteltenis getoon. Eindelik het sy tyd gevra om die saak te oorweeg.

Intussen het die gedaante van Tleptolemus wat so jammerlik vermoor is, voor Charite in haar slaap verskyn met 'n bleek en bebloede gesig.

„My dierbare vrou," sê hy, „as die herinnering aan my in jou hart sou dof word, trou dan gelukkig met enige ander persoon, maar nie met die goddelose Thrasyllus nie. Luister nie na sy voorstelle nie. Hierdie wonde, waarvan jou trane die bloed afgewas het, is nie almal die wonde van die wildevark nie, dit is die speer van die skurk Thrasyllus wat my van jou geskei het." So praat Tleptolemus en vertel haar die ander besonderhede.

Maar Charite lê met haar gesig in die kussing vasgedruk, haar gesig vol trane en haar hart vol verdriet.

Haar ondervinding het sy aan niemand vertel nie maar dit in haar hart weggesteek, en stilswygend het sy planne beraam hoe om weerwraak teen die goddelose moordenaar te neem en self uit die kwelling van die lewe uit te wyk.

Weer het Thrasyllus gekom en die geslote ore van Charite met sy huweliksversoek moeg gemaak. Sy het haar gevoelens slim vermom, en sagmoedig het sy die voorstel geweier. „Jy moet verstaan, Thrasyllus," sê sy, „dat die bekoorlike gesig van jou vriend, my man, nog altyd voor my oë sweef; (122) hy lewe in my hart. Jy sal goed doen om my tot die end van die jaar tyd te gee om oor hom te rou; anders word sy gees moontlik kwaad en dan bewerk hy jou ondergang."

Maar selfs hierdie belofte het Thrasyllus nie uit sy waansin gebring nie: hy het haar meer en meer lastig geval totdat hy haar tot die skyn van oorgawe gedwing het. Sy het hom gesê om vermom en alleen teen middernag na haar te kom. As hy by die deur fluit, sal die ou kindermeid hom laat inkom; sonder 'n lig, om nie agterdog te wek nie. Met hierdie voorstel van 'n huwelik wat noodlottig sou wees, was Thrasyllus wonderlik in sy skik. Die dag kon vir hom nie gou genoeg verbygaan nie. Maar toe die nag eindelik kom, het hy verkleed, na Charite se kamer gegaan, vol hoop, en die kindermeid gevind wat op hom wag. En sy, volgens die bevele van haar meesteres, het hom met vleitaal ontvang en op bekers wyn getrakteer waarmee 'n slaapdrankie gemeng is. Vir die afwesigheid van haar meesteres het sy ekskuus gemaak: sy moes haar siek vader gaan besoek.

So het sy hom aan die slaap gekry, en toe hy op die grond lê, het sy vir Charite gaan roep. „Kyk," sê Charite, terwyl sy oor hom staan, „die troue vriend van my man, die dappere jagter, my geliefde bruidegom! Slaap gerus! Ek sal toesien (123) dat jy die dood van jou vyand soeter ag as jou lewe!"

Daarmee neem sy 'n lang naald uit haar hare en steek sy oë uit; toe trek sy die swaard wat haar man Tleptolemus gewoonlik gedra het, en hardloop waansinnig deur die stad na haar man se graf. En ons laat ons huise leegstaan en loop almal gretig agter haar aan, en spoor mekaar aan om die swaard uit haar hande te gryp. Maar sy gaan by die graf van Tleptolemus staan en weer ons een vir een af met die blink swaard, en toe sy sien dat ons almal in trane is en op verskillende maniere oor haar rouklag bedryf, sê sy: „Vriende, weg met ongevraagde trane! Weg met verdriet en met rouklag wat my moed onwaardig is. Ek het my man se dood gewreek en die man gestraf wat ons van ons huwelik geroof het. Nou is dit tyd om met hierdie swaard 'n pad te soek na my Tleptolemus in die Doderyk."

Toe vertel sy ons wat die verskyning aan haar verklaar het, en steek die swaard onder haar regterbors in; sy stamel 'n paar onseker woorde en blaas met manlike moed haar asem uit. Die vriende van die arme Charite het haar lyk gewas en in dieselfde kelder as haar man s'n begrawe, om sy bruid te wees vir altyd. En Thrasyllus nadat hy alles gehoor het, besef dat sy swaard nie genoegsaam kan vergeld vir so 'n misdaad nie; (124) vrywillig gaan hy toe na dieselfde grafkelder en roep hardop: „Geeste van die Doderyk, wat ek vyandig teen my gemaak het, kyk, hier is die soenoffer!"

So roep hy meer as eenmaal en sluit die deure van die grafkelder sorgvuldig oor hom toe, vasbeslote om homself te verhonger en so sy vervloekte gees uit sy bewussyn te verban."

Hierdie dinge het die jong man, met baie sugte en af en toe met trane aan die boere-mense vertel, en ook hulle het hy diep ontroer. En so het hulle, met groot jammerte vir die huis van hul baas, klaargemaak om verder te trek. (125)

Voetnota[edit]

  1. Grieks Thrasys: oormoedig, voorbarig.