Die Kortverhaal van die Grieke en Romeine I/Die epyllion of klein-epos

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Die kortverhaal in die epos Die Kortverhaal van die Grieke en Romeine I
Die epyllion of klein-epos
deur T. J. Haarhoff
Die kortverhaal as spookstorie


Die epyllion of klein-epos.

Dit word vertel dat Kallimachos, die hoof van die wêreld-biblioteek van Alexandrië in die derde eeu voor Christus, die opinie uitgespreek het: mega biblion, mega kakon - 'n groot boek is 'n groot euwel. Dit was miskien gedeeltelik die sienswyse van 'n bibliotekaris, maar gedeeltelik, altans, was dit toe te skrywe aan die feit dat boeke nie meer hoofsaaklik bedoel was om uit voorgelees te word nie, maar wel om gelees te word: en vir die leser is tallose papirus-rolle 'n lastigheid.

Dit het dus gewoonte geword - Kallimachos het dit definitief ontmoedig - om nie vir Homerus na te boots nie, maar om die klein-epos te skrywe. Hiervan het ons etlike voorbeelde wat oor 'n lang tydperk uitgestrek is - van Theokritos, Kallimachos en Apollonios, die Alexandryne in die derde eeu voor Christus, tot by Musaios in die vyfde eeu na Christus.

Die definisie van die klein-epos is nie altyd (73) maklik nie; en 'n stuk soos Die Muskiet (Culex) wat aan Vergilius toegeskrywe word, is deur sommige skrywers onder hierdie hoof gebring. So word ook die stories in Ovidius se Metamorphoses somtyds as epyllia beskou.

Die verhaal uit Horatius omtrent die veldmuis (wat eintlik van Aesopus afkomstig is) word onder hierdie rubriek aangehaal, weens die kastig-epiese trant van die vertelling. Die storie van Orpheus en Eurydice kan ook aangesien word as die klein-epos van Aristaeus en volg die Alexandrynse tegniek, ofskoon die gees suiwer Vergiliaans is.

Horatius is die welgeklede, deftige heer van die stad wat ons in sy Sermones bekoor met sy goedgehumeurde kommentaar op die sosiale lewe. „As jy hom eenmaal binnelaat," sê die digter Persius, „win hy jou hart." Sy verhaal word hier onder die Epyllion gereken omdat dit in kastige heroïese trant vertel is.

Vergilius, die betekenisvolste figuur uit die antieke wêreld vir ons in Suid-Afrika, voel in sy Georgica die diep-geestelike boodskap wat die Natuur vir die mens kan bring. In die laaste boek van hierdie gedig handel hy oor bye en vertel hoe 'n bye-boer sy swerm teruggekry het. Soos baie profete, praat hy langs 'n omweg, maar die moeder-nimf van die boer is daarby, en sy verstaan uit die verhaal van Orpheus en Eurydice wat gedoen moet word. (74)

Min mense wat bekend is met die jongste geskrifte oor die onderwerp, sal nog die ou versinsel glo dat Vergilius hierdie deel van die gedig geskrywe het as 'n substituut vir die lofdig oor sy vrind Cornelius Gallus, wat in die onguns van Augustus verval het.

Die veldmuisie.[edit]

(Horatius: Sermones II, 6, 80.)

Weleer, so vertel hulle, het 'n veldmuis 'n stadsmuis in sy nes ontvang, - gas en gasheer albei ou vriende. Die gasheer was maar primitief en suinig, maar tog kon sy inhalige siel tot gasvryheid ontdooi. Kortom, hy het sy voorraad wilde-ertjies en lang hawer, terwille van die vriendskap, nie aan sy gas misgun nie; in sy bek het hy 'n gedroogde rosyntjie en afgekoude stukkies spek aangebring en voorgelê, want hy wou graag die geregte afwissel en die aptyt verskerp van sy vriend, wat, ewe kieskeurig, skaars 'n stukkie wou aanraak.

Intussen, uitgestrek op vars strooi, het die baas van die huis self growwe graan en onkruid geëet en die beste geregte aan sy vriend oorgelaat.

Eindelik roep die stadsmuis hom toe: „Watter plesier kan jy geniet, my vriend, as jy so geduldig op die rug van 'n steil bos woon? Sou jy dan nie (75) die samelewing en die stad bo hierdie barbaarse bosse verkies nie? Glo my, jy moet met my saam op reis gaan. Aangesien[1] alle aardse kreature met sterflike siele bedeeld is, en niemand, klein of groot, die dood kan ontwyk nie, daarom, my liewe vriend, leef gelukkig solank as jy kan, omring van aardse genietinge: wees steeds bewus van die kortstondigheid van jou ondermaanse bestaan!"

Hierdie woorde raak die veldmuis, en rats spring hy uit sy nessie uit. Albei onderneem die voorgestelde reis, begerig om nog by die daling van die dag die stadsmure binne te sluip.

En nou het Nag die middelpunt van die hemelruim bereik,[2] toe die twee 'n ryk man se stadshuis betree, waar klede van karmosyn glansend lê op elpebeen-rusbanke en baie geregte nog oorgebly het van die vorige dag se dinee, in opgehoopte mandjies digby.

Die stadsmuis laat sy landelike vriend hom uitstrek op die klede van karmosyn, en hyself woel ewe bedrywig soos 'n tafelbediende rond, en bring een gereg na die ander in; - presies soos 'n slafie wat in sy baas se huis gebore is, gee hy eers 'n lek aan alles wat hy bedien.

Sy maat lê daar en verheug hom in sy veranderde lot, en te midde van al die feestelikheid speel (76) hy die rol van die gelukkige gas. Maar skielik kom daar 'n geweldige geklap van deure wat albei van hulle rusbanke laat aftuimel. Verskrik hardloop hulle deur die hele kamer rond; maar toe die hoë huis weerklink met die geblaf van Molossiese jaghonde, was hulle so amper morsdood van vrees.

Toe sê die boer-muis: „Vaarwel, ou vriend! Nie vir my is hierdie soort lewe nie. Ek sal maar my troos in my nessie in die bos gaan soek, veilig teen gevaar, met my armoedige wilde-ertjies."

Die storie van Orpheus en Eurydice.[edit]

(Vergilius: Georgica IV, 453-527.)

Aristaeus, 'n heuningboer, het sy bye deur 'n skielike siekte verloor. Die nimf Cyrene, moeder van Aristaeus, help haar seun om profetiese raad oor die saak in te win van Proteus, „die ou man van die see". Om dit te doen moet hy Proteus vang en vashou, ten spyte van sy gedaanteverandering. Proteus vertel hom uiteindelik dat hy (Aristaeus) verantwoordelik was vir die dood van Eurydice, die vrou van Orpheus: aan die weerwraak van Orpheus, die goddelike sanger, is sy verlies te wyte.

Daar is 'n geweldige grot, in die bergkant uitgehol, waarheen die wind baie golfies aandryf en (77) in verskillende geheime hoekies laat opstoot. Van oudsher was dit vir matrose, wat die storm gevang het, 'n allerveiligste ankerplek: daarin skuil Proteus, verskans agter 'n magtige rots. Hier verberg die nimf haar seun, in die skaduwees, en self staan sy op 'n afstand, in 'n mantel van mistigheid gehul.

En nou brand Sirius[3] in die lug en skroei die dorstige Indiër met felle strale, en die son het reeds die helfte van sy kringloop verteer. Droog is die gras, en die son verhit en bak tot modder die hol riviere met hul uitgedroogde monde. Toe kom Proteus uit die branders te voorskyn en soek sy bekende spelonk op: rondom die profeet jakker die drup-nat gras van die groot see, en die soutwater vlieg om hul heen. Hier en daar op die strand plof 'n seeleeu neer in slaap; en Proteus is soos 'n herder soms is op die berge, wat, as die kalwers saans van die weiveld tuiskom en die geblêr van die lam die wolf se honger verskerp, op 'n rots in hul midde gaan sit om hulle te tel.

En nou dat hy sy kans kry, laat Aristaeus skaars toe dat die ou man sy vermoeide lede in rus uitstrek: met 'n triomfkreet storm hy op hom los en boei hom soos hy daar lê. En hy, weer, onthou sy besondere kuns, en verander homself in gedaantes veelvuldig en wonderbaarlik - 'n vuur of 'n vreeslike (78) gedierte of 'n vloeiende rivier. Maar toe alles hom niks baat nie, gee hy in. Hy keer tot sy eie gedaante terug en praat eindelik met menslike stem:

„Astrante en brutale jongkêrel, wie het jou gesê om my tuiste te nader? Wat verlang jy van my?"

En Aristaeus antwoord: „Jy weet, Proteus; in jou hart weet jy. Bedrieg sal jy my nie - hou maar op om soiets te wil probeer! Volgens die bevel van die gode, kom ek hier om profetiese raad te soek vir die ramp wat my getref het."

Sover praat hy. Daarop, eindelik, onder magtige geweld, verklaar Proteus die noodlot: sy oë rol rond soos groen-flikkerende vlamme: vreeslik knars hy op sy tande:

„Dis die toorn van 'n god, voorwaar, wat jou agtervolg. Groot is die sonde waarvoor jy boet. Orpheus, die ongelukkige, bring hierdie wraak op jou af (en dis minder as jy verdien), maar die gode beskerm jou nog. Waansinnig is hy oor die gade wat hy verloor het. Sy het blindelings langs die rivier gevlug om jou te vermy en was onbevrees (arme kind, tot die dood gedoem!) vir die geweldige waterslang wat in die lang gras voor haar voete die wal bewaak.

Sy sterf: en die boomnimfe, haar speelmaats, laat die bergtoppe met hul klaagtoon weerklink; (79) die kranse van Rhodope weergalm en hoë Pangaeus en die oorlogliewende land van Thracè....

En Orpheus lenig sy verterende liefde met die lied van die holle lier: U, sy teer geliefde, besing hy op die eensame strand alleen, U, as die dag kom aanbreek, en U, as die dag weer wegsink. Selfs die ingang van die Hel, die diep-begrawe poorte van Pluto, en die bos, triestig van donker vrees, het hy betree. Die magte van die Doderyk besoek hy, en die harte wat nooit geleer het om aan gebede gehoor te gee nie.

Maar die geeste tril van sy lied. Uit die dieptes van die skimme-wêreld kom yl spookgestaltes op, en gedaantes wat die lig van die lewe verloor het: soveel soos die duisende voëls wat skuiling soek in die bome, as die aand of die winterreën hulle afdryf van die berge - moeders en gemale en groothartige helde wat hul rol reeds gespeel het op aarde, knape en ongehude meisies, en jongelinge wat voor die oë van hul ouers op die brandhoop uitgestrek is.

Ingekerker word hulle rondom deur die swart modder en onlieflike riete van Cocytus[4] en die onskone vlei van doodse water, en Styx met sy nege versperrende strome hou hul gevange. Ja, (80) selfs die huis van Hades, die binneste hel van die Dood, staan verbaas, en die Furieë[5] wat groen slange in hul hare invleg. Cerberus[6] het sy drie bekke gapend oopgehou, en die wind het gaan lê en Ixíon[7] se wiel het stilgestaan.

En nou op sy huiswaartse reis het hy alle gevare ontwyk; Eurydice is teruggegee en volg agter hom aan, - want dit was die voorwaarde deur Proserpina vasgestel, dat hy haar nie moet aankyk nie. Maar 'n skielike waansin oorweldig die onversigtige minnaar - vergeeflik, voorwaar; wis die magte van die Hel maar hoe om te vergewe. Hy staan stil: onbedagsaam, helaas, gee hy aan sy verlange toe: hy kyk om: hy sien Eurydice.

En toe is al sy moeite verniet, verbreek die verdrag met die meedoënlose tiran, en driemaal oor die mere van Avernus weerklink die donder. En - „Watter wilde waansin, Orpheus," roep sy, „is tans jou ondergang en myne, O ongelukkige! Kyk, 'n tweede keer roep die wrede noodlot my terug en slaap verseël my onsekere oë. En nou, vaarwel. In oneindige nag gehul, word ek heengesleep, en ek strek my kragtelose hande na jou uit, joue, helaas! nie meer nie!" (81)

So spreek sy, en skielik soos rook wat wegsmelt in die yl lug, verdwyn sy en sien hom nie meer nie. Vrugteloos staan hy nog die skaduwees aan te gryp, begerig om menige woord te sê. Nie weer het die skipper van Hades[8] gedoog dat hy die versperrende water oorvaar nie.

Wat kon hy doen, waarheen gaan, - tweemaal nou van sy gade beroof? Met watter trane die magte van die Hel beweeg, watter gode met sy stem? Sy, intussen, vaar reeds oor in die Stygiese boot, dood en kil.

Sewe maande lank, sewe lang maande, so vertel hulle, bekla hy sy lot onder 'n stygende rots by die water van die eensame Strymon[9] en ontvou sy verhaal onder die yskil sterre: tiere streel hy met sy lied, en eikebome volg agter hom aan.[10]

So treur die nagtegaal in die skaduwee van die populier en kla oor die kroos wat sy verloor het. Die ruwe ploeër het hulle gesien - nog jonk en donserig - en van die nessie uitgeruk. Maar sy - die hele nag - beween hulle, en gedurig in die boom hernu sy haar hartroerende lied en vervul die omgewing met haar triestige klagte.

Alle Liefde, alle huwelik het hy uit sy hart (82) verban. Alleen dwaal hy rond oor die noordelike ysvelde en die sneeu-bedekte Tanaïs-landstreke wat steeds getroud is met die ryp van die Noorde. Altyd deur beween hy die verlies van sy Eurydice en die vergeefsheid van Pluto se gawe.

En die vroue van die omgewing het aanstoot geneem aan 'n toewyding so diep. By hul wilde nagfees van Bacchus te midde van hul offerandes aan die gode, verskeur hul die jongeling in hul waansin en verstrooi sy lede oor die velde. Selfs toe die Hebrus, sy vader se rivier, die kop, afgeskeur van die marmerwit liggaam, in sy stroom voortrol,[11] selfs toe het die blote stem en die doodkille tong met wegvlugtende asem uitgeroep: „Eurydice, helaas ! ongelukkige Eurydice !", en „Eurydice!" het die oewers oor die hele stroom weergalm.

Hoe Herakles die leeu gedood het.[edit]

(Theokritos XXV[12]) - verkort.)
(Herakles is die Sterk Man van die Grieke, soos Simson van die Hebreërs.)

En die ou ploeër wat ook die veewagter was, laat die werk waarmee hy besig was, staan, en sê: (83)

„Alles wat u my vra sal ek u graag vertel, meneer, want, glo my, ek is bang vir die wraak van Hermes van die Weë: hulle sê hy is die kwaaiste god van almal as jy vir 'n reisiger wat werklik raad nodig het, sou ,nee' sê.

Die wollige kuddes van Koning Augeias, meneer, wei nie almal in een veld of op een plek nie. Sommige van hulle loop by die Heilisson-rivier, ander langs die heilige stroom van goddelike Alpheios, ander weer by die mooi wingerde van Bouprasion, en ander hier rondom; en vir elke kudde is 'n aparte kraal gebou. En daar is ruim kamers vir ons wagters wat oor die koning se groot en wonderlike voorspoed behoorlik waak. Die hele vlakte behoort aan wyse Augeias, die vrugbare graanlande en groen wingerde, totdat jy by die grens kom waar die baie fonteine is. Hier arbei ons die hele liewe dag, op en af, soos die gewoonte is van knegte wat hul lewe op die land deurbring.

Hier woon Augeias en sy sterk en edel seun, Phyleus. Net gister het hy van die dorp af gekom - en hy was nogal lank weg - om sy eindelose besittinge op die land te aanskou. Want ek dink konings is maar soos ander mense in hul harte: hulle dink hul besittinge is veiliger as hulle self 'n oog daarop hou. Maar genoeg: laat ons na hom gaan." (84)

Met hierdie woorde wys hy hom die pad....

En later het Phyleus en sterk Herakles die ryk landerye verlaat en dorp-toe gegaan. En snel het hulle die end van die paadjie bereik wat deur die wingerd van die plaashuis effens onduidelik deur die middel van fris-groen blare loop, en hulle kom net by die grootpad, toe Phyleus aan Herakles vra om te vertel hoe hy die groot leeu van Neméa doodgemaak het.

En Herakles vertel: „Die tiran Eurysteus[13] het dit my eerste taak gemaak: ek moes die vreeslike monster dood. En ek het my soepele boog en 'n koker vol pyle geneem, en my sterk staf, met die bas nog onafgeskil, van 'n skaduryke olyfboom wat ek self onder heilige Helikon gevind het en met wortel en tak uitgepluk het. So het ek na die leeu se wêreld gegaan.

Dit was al die middel van die dag, en nog kon ek nie sy spoor sien of hom hoor brul nie. En daar was g'n ploeër wat ek kon vra nie: bleek van vrees het almal in die plaashuis weggeskuil. Nogtans het ek sonder ophou die lommerryke heuwels deurgesoek totdat ek hom sou sien en spoedig my krag beproef. Wel, teen die aand kom hy na sy hol aangestap, (85) dik gevreet aan vlees en bloed, en bloed was op sy verwarde maanhare, sy woeste gesig en sy hele bors; en sy tong lek so om sy lippe. Ek steek myself gou in bossies langs die digbegroeide paadjie weg, en toe hy naby kom skiet ek op sy linker sy. Verniet: die angel-pyl kon nie deurdring nie, maar gly af en val op die lig-groen gras. Verbaasd, lig die dier sy bloedige kop omhoog en toon sy onversadigbare tande. Weer skiet ek, en tref hom vol in die middel van sy bors. Maar selfs toe kon die pyl nie deurdring nie: tevergeefs val dit by sy voete neer.

Woedend maak ek klaar om my boog 'n derde keer te span, toe die briesende dier sy oë rondrol en my sien. Hy swaai sy stert en begin my dadelik aanval. Sy hele nek spreek van kwaadaardigheid, sy bruin maanhare staan orent, sy ruggraat is soos 'n boog gekrom. Toe was dit soos 'n kunstige wa-maker wat die wilde vye-takke droogmaak in die vuur en hulle ombuig om wiele vir 'n ren-wa te vervaardig; en die dun-bas-vyehout vlieg by sy hande uit en spring meteens ver weg; so het die vreeslike leeu van ver op my afgespring smagtend na my bloed.

Toe draai ek die mantel van my skouer om my pyle en stoot dit voor my uit, en met my ander hand lig ek my sterk staf op en tref hom in die middel van sy kop, sodat die harde olyfhout-staf (86) skoon middeldeur breek. En voor hy my kon bereik, val hy en lê daar op bewende voorpote; sy kop waggel, sy oë verdonker, want die slag het sy brein getref.

Ek sien dat hy deur pyn oormeester is en, voordat hy kon herstel, gooi ek my boog en my pylkoker weg en gryp sy nek. Sodat sy kloue my nie sou vang nie, kry ek sy keel van agter beet. Ek trap sy agterpote in die grond vas en hou hom teen my met al my krag totdat ek hom agteroor kon oplig en hom styf uitgetrek, verwurg soos hy daar regop teen my staan: só het sy gees na die geestewêreld gevlug.

Toe maak ek plan om die ruie vel van die dier af te slag: 'n geweldige taak: hout of klip of yster vermag dit nie. Toe kry ek 'n ingéwing van een van die gode: met sy eie kloue sou ek hom afslag. Dit het ek gou gedoen en die vel het ek later gedra as 'n beskerming teen verskeurende oorlog.

Só, my vriend, het ek die leeu van Neméa baasgeraak: die dier wat so dikwels en so vreeslik mense en kuddes gekwel het."

Hero en Leandros.[edit]

Dit word nou deur die beste geleerdes aangeneem dat Musaeus (nie met die legendariese maat van Orpheus te verwar nie) in die middel van die 6de eeu (87) na Chr. geleef het, moontlik in Byzantium (Constantinopel). Hy was 'n digter van buitengewone talent, en ofskoon verskeie Romeinse skrywers die geskiedenis van Hero en Leandros behandel het, kon hy 'n eie stempel op die stof afdruk. Vergilius (Georgica III, 255) was die eerste om van die verhaal melding te maak, en na hom vind ons toespelinge daarop in Ovidius en in Statius.

Ofskoon baie bekend in die sewentiende en in die agtiende eeu, het die gedig gestadig in die vergetelheid weggeraak. Dit verdien meer aandag as wat daaraan gewy is in die laaste tyd. Dit is die swanesang van die Griekse poësie wat 1500 jaar tevore met Homerus in Klein-Asië begin het, en in sy styl is daar iets van die sagte strale van die wegsinkende son.

Van sy driehonderd-en-veertig hexameters kan hier, ongelukkig, slegs 'n verkorte navertelling gegee word.

Oorkant Abydos staan die stad Sestos, en tussenin stroom die water van die Hellespont.[14] Die skoonste sterre van die twee stede woon daar, Hero in haar toring by Sestos en Leandros in die stad Abydos. Van hoë geboorte was Hero en bekoorlik van aansien: 'n ander Aphrodite wat uit die golwe opstyg was sy; en sy woon kalm en (88) kuis in haar afgeleë toring waar sy die priesteres van Aphrodite was. Tevrede in haar afgesonderdheid, het sy die kortstondige genietinge van gewone maagde vermy: aan die daelikse besoeke, aan die nagtelike danse, het sy g'n deel gehad nie: om die skoonheidsprys in die samelewing het sy nie meegeding nie. Aan Aphrodite het sy offerandes gebring om haar van rampe te bewaar, maar tevergeefs was haar bede.

Eendag was daar 'n feestelike aanbidding van Aphrodite, waarby die hele bevolking van Sestos wierook op die altaar van die godin geoffer het. Van al die see-omringde eilande kom daar mense aangestroom om deel te neem aan die fees: van Cyprus kom hulle, van Cythera, van Thessalië; van Syrië en Phrygië stroom hulle toe. Al die jongelinge van Abydos, wat die liefde vereer, was daar, vol van begeerte en van vreugde: nie soseer was dit die gode wat hulle vereer nie, want hul offerande was min en hul gebede kort, maar dis die skone maagde wat daar hul toewyding uitlok.

Daar kom die maagd van Sestos uit die tempel uit: sagte waardigheid straal uit haar gelaat, soos wanneer die maan die hemel verbly met haar lig: lieflik soos rose was haar gesig. Die ou mense het gesê dat daar net drie Grasieë is: maar wanneer Hero lag, dans daar 'n duisend Grasieë op haar (89) lippe, in haar oë. Waardig is sy, voorwaar, om priesteres van die Liefde-koningin te wees: in haar het aardse skoonheid die hemelse naby gekom. Waar sy ook gaan, volg die mense haar met verlangende oë en die jongelinge vertel mekaar hoe ver sy in skoonheid die beroemde maagde van Sparta oortref.

Maar toe Leandros haar sien, het liefde sy siel oorrompel, en hy soek vuriglik na geleentheid om sy hartstog te verklaar. 'n Skoonheid so helder stralend, vervul hom met 'n vreemde gloed en deurboor hom met pyle van pyn. Hoop en vrees, selfvertroue en skaamtegevoel, heers beurtelings in sy hart. So nader die jongeling die maagd - en die teenstrydige gevoelens wat in sy binneste worstel, bring hom in dolle verwarring.

Hero verberg haar blose in haar sluier, maar tevergeefs probeer sy om haar hartstog te vermom: haar liefde-beamende oë verklaar die geheim. Vreugde spring in die jongeling se boesem op.

En nou kom die dou-benatte uur van die helder skynende Aandster en lei die nag in te midde van die skaduryke stilte. Leandros gaan om Hero in die tempel te ontmoet. Saggies druk hy haar rosige vingers en sug uit die diepte van sy hart. Maar sy trek haar hand weg asof sy vir hom kwaad is. Sy berisp hom, soos meisies gewoond is om te doen - en toon haar liefde des te duideliker (90) Nou soen hy haar sneeu-wit nek, haar geurige bors, en vertel haar al sy liefde.

So win hy haar geleidelik met sy woorde, en sy ook ontvang nou in haar hart die bitter-soet prikkel van die liefde. Stil staan sy, met oë op die grond gerig, met haar blosende wange verberg, terwyl sy haar mantel oor lelie-wit skouers trek. Op die vloer, ryk met Pariese marmer, gaan haar voet op en af. Haar stilte gee toestemming, en met 'n bekoorlike verwarring spreek sy hom toe:

„Vreemdeling, daar is 'n towerkrag in u woorde wat rotse sou beweeg. Hoe het u dan my eensame woonplek uitgevind? Hoe kan 'n vreemdeling ooit met Hero trou? As ek openlik my hand aan u skenk, sou my ouers die huwelik verbied. En as u hier bly, sal ons hartstog ontdek word: skinderpraatjies word gou genoeg versprei. Maar vertel my u naam en waar u vandaan kom: my naam en stad is u reeds goed bekend. In daardie hoë toring wat naby Sestos staan en oor die briesende Hellespont uitkyk, woon ek as Priesteres van Aphrodite met een bediende alleen: so het my ouers en die Noodlot besluit. G'n vriendinne het ek om my te vermaak nie: net die storm-winde, wat die dieptes deurbulk, hou my geselskap."

So spreek die priesteres van Aphrodite, en met sedige bekoorlikheid verberg sy haar nuut-gebore skoonheid van gelaat. (91)

En Leandros antwoord haar: „Deur stormvloed, deur vlamme sou ek gaan om u, my liefling, te bereik. Sodra die Nag daar is, sal ek oorswem van my vaderstad, Abydos, na Hero toe. Laat my liefling slegs van haar toring 'n vriendelike fakkel vertoon om my gids te wees: dan gly ek veilig, soos 'n skip van Aphrodite, deur die branders heen - Hero is my hawe en haar fakkel is my loods. Al swemmende sal ek dan op die sterre g'n ag gee nie, - op Boötes of Orion of die Beer wat ondeelagtig is aan die Oseaan se baaie: want u ster is die helderste van almal. Sorg goed vir die toorts se vlam, sodat u minnaar nie in die donker van die storm verlore raak nie - u minnaar, u, Leandros, want dit is my naam."

So gaan hulle uit mekaar. En toe almal reeds aan die slaap is, loop Leandros op en neer langs die kronkelende strand - die liefde laat hom nie toe om te slaap nie. Diep bulder die branders op die rotse, en oor die skuimende vloed soek hy angstig na die toorts se lig.

En nou, met die aankoms van die donker, stel Hero die fakkel hoog op haar toring se top: die vlamme steek liefde-vlamme in Leandros se hart aan. Maar toe hy die briesende branders hoor, deins hy terug van skrik. Tog moedig hy homself aan en vou sy klere om sy kop en spring in die bruisende stroom in. Sy arms dring die voortstuwende (92) water terug: sy oë is op die vlammende teken gerig. Intussen wag Hero hom op haar toring af; dikwels beskut sy die fakkel met haar kleed, want die wind waai dit in alle rigtings uit; totdat die jongeling eindelik op die Sestiese kus aanland, uitgeput deur die rollende golwe.

Nou sien sy hom en loop gretig en bring hom by haar toring in; met ope arms verwelkom sy Leandros en druk hom, nog hygende, aan haar boesem vas. Sy vrywe hom af en bring geurige olyfolie om sy liggaam in te smeer en spreek hom liefkosend toe:

„My lewe, my geliefde, meer het jy gely as enige bruidegom tevore: laat vreugde nou die lyding vervang."

So het hulle getrou, sonder huweliksdans, sonder lied, sonder die gebruiklike toorts en begeleiding: alleen die fakkel van die liefde het hulle voorgelig....

Maar nou kom starre winter aan en vervorm die woud met ys en die see met stormwinde. Hees skree die orkaan oor die golwe, en die donker spelonke van die oseaan word een en al rumoer en verwarring. Bewend hoor die matroos die geluid en sleep sy boot hoog op langs die strand en bly ver van die see af weg.

Leandros, egter, laat g'n gevare toe om hom te stuit nie. Toe hy die fakkel sien opvlam kon die (93) wildste storm sy hartstog nie bedwing nie. En Hero, ten spyte van die onweer en teen haar beter wete, steek die fakkel van die dood weer aan; die liefde brand in haar; die Noodlot weef sy web.

Dis nag, en woeste Aeolus[15] laat sy winde oor die waterwêreld los. Briesend van woede smyt hulle die branders skuimend op die strand neer. Maar selfs dan onthou die jongeling sy bruid en gloei met herinnering aan haar liefde. Te midde van die loeiende orkaan swem hy deur die siltige branding heen. Golf word berg-hoog op golf gestapel; troosteloos fluit die wind en sweep die vlakte van die see omhoog. Oral donder skrikgeluide; die legioene van die lug bots stormende tesame: donder weergalm op strand en rots.

Oorstroom deur die stormvloed, begrawe tussen water-mure, stort Leandros 'n gebed uit tot Aphrodite, die golf-geborene, en tot die Heerser van die See. Maar vrugteloos is sy versoek: die liefde is in die net van die Noodlot gevang. Die branders smyt hom heen en weer, die draaikolk suig hom in; willoos is nou sy lede, uitgeput en slap. Hy drink die sout branding in, hy drink die dood. Daar brand ook die fakkel op die toring uit: sy vlam word tesame met die liefde-vuur geblus. (94)

Maar nog altyd wag Hero vir hom en sug omdat hy so lank vertoef; hoe langer sy wag hoe onrustiger word sy, hoe meer word haar hart met angs beklem.

Rooskleurig rys nou die daeraad, en nog altyd sien sy haar minnaar nie. Oor die lengte van die strand tuur sy angstig rond: moontlik het hy die lig gemis, moontlik het hy verdwaal. Toe sien sy hom. Daar lê hy op die strand uitgestrek, bleek in die kloue van die onverbiddelike Dood. Ver weerklink haar gil. Sy skeur haar kleed; en van die hoë toring spring sy haar minnaar tegemoet en op sy lyk blaas sy haar laaste asem uit.

Die Noodlot kon hulle nie skei nie: verenig in hul lewe, was hulle verenig ook in hul dood. (95)

Voetnotas[edit]

  1. Let op die humor van die kastig-heroïese toon.
  2. Kastig epies-deftig.
  3. Die Hondster, wat in die warmste tyd van die jaar opkom.
  4. Cocytus en Styx (Roukrag en Haat) is riviere in die onderwêreld, Hades, die Ryk van die skimme, wat die begrip van Hemel sowel as Hel insluit.
  5. Geeste wat die misdadiger vervolg en pynig.
  6. Drie-koppige hond wat die ingang tot Hades, die Doderyk, bewaak.
  7. Sy straf in die Doderyk was om vasgebind te wees aan 'n wiel wat altyd ronddraai.
  8. Charon - „that grim ferryman that poets write of"
  9. Vandag die Struma.
  10. Vgl. Shakespeare: Orpheus with his lute made trees
    And the mountain-tops that freeze
    Follow him where he did sing.
  11. Milton: His gory visage down the stream was sent,
    Down the swift Hebrus to the Lesbian shore.
  12. Die toeskrywing aan Theokritos word in twyfel getrek.
  13. Herakles moes, op bevel van die orakel, twaalf jaar in die diens van Eurysteus deurbring, as versoening vir die moord van sy kinders wat hy in 'n vlaag van kranksinnigheid begaan het.
  14. Die Dardanelle.
  15. God van die winde.