Die Kortverhaal van die Grieke en Romeine I/Die kortverhaal in die epos

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Inleiding Die Kortverhaal van die Grieke en Romeine I
Die kortverhaal in die epos
deur T.J. Haarhoff
Die epyllion of klein-epos


Die kortverhaal in die epos

Odysseus vertel.[edit]

(Homerus: Odyssee IX.)

In die ou dae, toe musiek en sang nog 'n deel van die digter se werk gevorm het, was daar baie wat die heldedade van die dertiende eeu v. Chr. tot 'n melodie saamgeweef het om die konings en die adel van hul tyd 'n artistieke vermaak te verskaf. Soos die scop, of skepper, wat in die hawe van die Angel-Saksiese prinse die roem van helde besing het, so het die Sanger, wat later die Poietes, die Maker, genoem is, verhale gedig in die Griekse wêreld. Daar het 'n menigte van sulke verhale ontstaan; en later in Ionië was daar Rhapsodoi, beroep-sangers, wat voorgedra het uit die oorlewering en begin het by 'n sekere punt in die storie deur die gehoor verlang en sekere wysiginge aangebring het op eie houtjie. Hulle was „saamwewers" en het dele van die saga aanmekaar gelas. Hulle het gesing van Herakles, wat die mense bevry het, van die veldtog teen Thebae, (10) van al die avonture wat die helde moes te beurt val op hul pad huis-toe, en van baie ander beroemde gebeurtenisse. Maar die geliefdste van al hul onderwerpe was die geskiedenis van Troje en van die wederwaardighede van Odysseus op sy swerftog na sy koninkryk van Ithaka.

Hier volg 'n verhaal wat hy vertel aan die koning Alkinous, op wie se eiland hy skipbreuk gely het deur die onophoudelike haat van Poseidon.


Hom het die slim Odysseus geantwoord en gesê:

„Heer Alkinous, uitstaande bo al die volk, waarlik is dit 'n goeie ding om te luister na 'n Sanger soos hierdie, met 'n stem gelyk aan dié van die gode. Vir myself wil ek sê dat daar geen bekoorliker bevrediging is nie as wanneer vreugde die hele volk aangegryp het, en die feesvierendes in hul rye in die saal luister na 'n Sanger, en langs hul is tafels vol brood en vlees, en die skenker skep wyn uit die mengvat en hy dra dit om en skink dit in die bekers. Dit lyk vir my in my hart die skoonste te wees van alles. Maar u hart is geneig om my uit te vra oor my bittere rampe, sodat ek nog meer sal kla en kreun. Wat, dan, sal ek u eerste vertel en wat later? Veelvuldig die leed wat die hemelgode my gegee het. Nou sal ek eers my naam vertel, sodat u ook dan weet en sodat ek u, wanneer ek die onverbiddelike noodlotsdag (11) ontsnap het, gasvryheid mag betoon, al is my tuiste so ver van hier. Ek is Odysseus, seun van Laertes, wat onder al die mense bekend is vir my uitoorlê-planne, en my roem reik tot die hemel. En ek woon in Ithaka, duidelik sigbaar, en daar is 'n berg, Neriton, vol bosse met blare wat bewe, en van veraf sigbaar....

Van Ilios[1] af het die wind my gebring na die Kikones, na Ismarus toe. Daar het ek die stad verdelg en die inwoners gedood; en uit die stad het ons hul vroue en 'n groot voorraad skatte geneem en verdeel, sodat niemand op sy weg sou gaan beroof van sy regte aandeel nie. En toe het ek, wat my betref, bevel gegee dat ons snelvoet sou vlug, maar die ander in hul groot onnoselheid wou nie luister nie. En daar is baie wyn gedrink en baie skape het hulle op die strand geslag en swaaivoetige krulhoringbeeste. Intussen het die Kikones gegaan met geroep na rasgenote in die buurt, meer in getal as hulle en dapperder, mense van die binneland, wat verstaan het om uit oorlogswaens met vyande te veg en ook, indien nodig, te voet. En hulle kom toe in die môre, dik soos die blare of die blomme uitspruit met die jaargety; en toe was dit dat 'n rampspoedige lot van Zeus op ons, armsaliges, gedaal het, sodat ons lyding vermenigvuldig sou word. En hulle het hul (12) leër opgestel en geveg langs die snel skepe, en aan albei kante het ons bronspunt-spere na mekaar gewerp. En solank as dit oggend was en die heilige dag aan die groei was, solank het ons ons man gestaan en hulle teruggedryf, ofskoon hulle meer was as ons. Maar toe die son oorgaan tot die osse-losmaak-tyd, toe het die Kikones die Achaiers verdryf en oorwin. Ses van my maats met hul sterk skeenplate het uit elke skip omgekom; maar die res van ons het dood en noodlot vermy.

Daarvandaan het ons voortgeseil, met leed in ons harte, bly om die dood te ontsnap, al het ons ook vriende verloor. En ek het nie my gekromde skepe laat seil nie voordat ons drie keer daardie ongelukkige vriende van ons aangeroep[2] het wat op die vlakte geval het, deur die Kikones verdelg. Maar Zeus, die wolkeversamelaar, het die noordewind teen ons skepe gewek met 'n wonderbaarlike storm en tegelyk met sy wolke die land en die see verhul, en uit die hemel het die nag kom aansnel. En die skepe is blindelings gedryf en hul seile flenters geskeur deur die mag van die wind. En ons het hulle in die ruim gebêre, bang vir die dood, en die skepe het ons haastig land-toe geroei. Daar het ons twee nagte en twee dae aanmekaar gelê en ons harte verteer met vermoeidheid (13) en verdriet. Maar toe die skoongelokte Dae- raad die derde dag te voorskyn bring, het ons die maste opgesit en wit seile gehys en ons sitplekke ingeneem, en wind en stuurman het ons koers gegee. En ongedeerd sou ek nou my vaderland bereik het, maar stroom en golf en noordewind, terwyl ek Maleia[3] omseil, het my teruggeslaan en my verby Kythera uit my koers gedryf.

Daarvandaan het rampspoedige winde my nege dae lank gedra oor die visryke dieptes; maar op die tiende dag stap ons aan wal in die land van die Lotos-eters, - soos 'n blom is die kos wat hulle eet. Daar het ons geland en water gehaal, en dadelik het my maats hul maaltyd gebruik by die snel skepe. Maar toe ons voedsel geproe het en drank, stuur ek my maats uit om te gaan vra watter mense dit is wat hier brood eet op die aarde; twee het ek gekies en 'n derde saamgestuur as heraut. En hulle loop reguit onder die Lotos-eters in, en die Lotos-eters het geen plan gemaak om my maats te verdelg nie, maar hulle van die lotos gegee om te proe. En dié van hulle wat die heuningsoet vrug van die lotos geproe het, wou nie meer 'n boodskap terug bring of terugkeer na hul land nie, maar hulle wou daar bly met die Lotos-etende mense, met die lotos vir hul voedsel, (14) en het hul terugkeer vergeet.[4] Hulle het ek met geweld na die skepe gebring, ten spyte van hul klagtes, en onder die banke in die hol bote het ek hulle gesleep en vasgemaak. En die res van my troue maats het ek beveel om haastig die snel skepe te beman, sodat niemand van die lotos sou eet en sy terugkeer sou vergeet nie. En hulle het dadelik aan boord gegaan en hulle plekke op die banke ingeneem, en in orde sittende het hulle die grys see met hul roeiers geslaan.

Daarvandaan het ons weggeseil, met treurigheid in ons harte, en gekom by die land van die Kyklopes,[5] 'n hooghartige en wettelose volk, wat vertrou op die onsterflike gode en nooit iets met hul hande plant en nooit ploeg nie. Maar al hierdie dinge groei vir hulle sonder saai of ploeg - koring en gars en wingerdstokke, wat groot trosse wynsap dra, en Zeus voeg wasdom aan hulle toe. Geen volksvergaderings het hulle nie, een wet nie, maar hulle woon op die kruin van hoë berge in hol spelonke, en elkeen maak die wette vir sy kinders en sy vroue en niks gee hulle vir mekaar om nie.

Nou is daar 'n diepgrond-eiland wat uitgestrek lê voor die bek van die hawe, nie te naby nie en ook nie te ver van die land van die Kyklopes nie, (15) 'n bosryke eiland. Daarin woon wildebokke sonder tal; want die voetstappe van mense verskrik hulle nie en daarheen kom geen jagters nie, jagters wat swaarkry in die woude as hulle so oor die bergtoppe rondswerf. En kuddes is daar nie, nòg geploegde lande, maar onbesaai en onbewerk al sy dae ken dit die mensdom nie, maar voed die blêrende bokke. Want die Kyklopes besit geen skepe met rooigeskilderde wange nie, en by hulle is geen ambagsmanne wat vir hulle goedgebankte bote kan bou nie, bote wat in hul verskillende behoeftes kon voorsien deur die stede van mense te besoek, soos mense dikwels oor die see gaan seil om mekaar te sien; ambagsmense wat ook vir hierdie eiland 'n goeie bevolking kon besorg het. Want die eiland is glad nie sleg nie en kan alles op sy tyd voortbring. Daarin is weivelde by die oewers van die grys see, goedbewaterde weivelde en sag, waar die wingerde aldeur kan bloei, en vlaktes om te ploeg; en daar kon hulle mooi oeste op hul tyd insamel, diep en ryk, want onder is die grond geweldig vet. Daarin is ook 'n veilige hawe waar daar geen behoefte is nie aan vasmaaktoue of anker-klippe waarmee die agterstewe vasgebind word en wat uitgegooi word in die see, maar jy kan jou skip aan wal bring en wag totdat die hart van die matrose hulle aanspoor en die windjies begin asem. (16)

By die hawehoof vloei daar uit 'n spelonk 'n fontein van glansende water: en rondom groei populiere. Daar het ons ingeseil, en 'n god het ons deur die donker nag gelei, want daar was geen lig om by te sien nie; want 'n digte mis het rondom die skepe gelê, en die maan het geen lig uit die hemel verskaf nie, want die wolke het hom toegedek. Toe het geen mens daardie eiland gesien nie, en ons het nie die lang golwe strand-toe sien rol totdat ons die goedgebankte skepe aan wal laat loop het nie. En toe ons die skepe op die strand laat loop het, het ons die seile laat sak en self het ons op die oewer van die see uitgestap, en daar het ons ingesluimer en die glansende daeraad afgewag. So gou as die vroeë Dagbreek verskyn het met haar rosige vingers, het ons op die eiland rondgeswerf, vol verwondering. En die Nimfe, dogters van Zeus wat die Aigis-skild dra, het die bergbokkies gewek, sodat my maats vir hulself voedsel kon kry. Dadelik het ons uit die skepe ons krom boë en lang spere uitgehaal, en in drie klompe verdeel het ons geskiet; en die god het terstond vir ons wild gegee wat ons harte kon bevredig. Twaalf was die skepe wat saam met my was, en aan elkeen het die lot nege bokke gegee, maar vir my alleen het hulle tien opsy gesit.

So het ons toe heeldag lank tot die ondergaan van die son ons vergas op oorvloedige vlees en (17) soet wyn: want nog was die rooi wyn van ons skepe nie gedaan nie, en daar was nog oor; want toe ons die sterkte van die Kikones ingeneem het, het elke bemanning 'n oorvloed van wyn in kruike afgetap. En ons het gekyk na die land van die Kyklopes, wat digby gewoon het, en die rook van hulle gemerk en die stemme van mense en skape en bokke. Maar toe die son ondergaan en die donker kom, toe het ons gaan slaap op die strand van die see. En so gou as die vroeë môrestond verskyn, met haar rosige vingers, roep ek my manskappe byeen en spreek in die midde van hulle almal:

„Bly nou hier die res van julle, my troue maats; maar ek met my skip en my manskappe sal gaan om die manne daar te toets om te sien wie hulle is, of hulle wreed is of wild of onregverdig, of hulle vir vreemdelinge vriendelik is en godvresend in hul gedagtes."

Met hierdie woorde het ek aan boord gestap en my maats gesê om self in te klim en die agtertoue los te maak. So het hulle dadelik aan boord gegaan en op die banke gaan sit, en in orde sittende het hulle die grys see met hul roeiers geslaan. Maar toe ons die plek bereik het (en dit was naby), sien ons daar op die strand digby die see 'n hoë spelonk, oordak met lourierbome; en daar was dit die gewoonte van baie kuddes, skape en bokke (18) ook, om te slaap. Rondom was 'n hoë binneplaas gebou van klippe, diep in die grond ingegrawe, met hoë dennebome en hooggetakte eike. Daar het 'n reus van 'n man gewoonlik geslaap; sy skape het hy alleen en ver daarvandaan versorg; en met ander het hy nie omgegaan nie, maar alleen het hy gewoon, en wetteloosheid was in sy hart. 'n Wonderlike monster was hy en nie soos 'n man wat van brood lewe nie, maar soos 'n bosryke kop in die hoë berge wat alleen gesien word, apart van die ander.

Toe het ek die res van my troue maats beveel om by die skip te bly en dit op te pas; maar twaalf van my beste reisgeselle het ek uitgesoek en op my pad gegaan. En met my het ek 'n bokvel vol van die donker, soet wyn geneem, wat Maron, seun van Euanthes, my gegee het....

En spoedig kom ons by die spelonk, en die Kyklops was nie daar nie, maar besig om sy vet kuddes in die veld te laat wei. Ons het toe die grot binnegegaan en met verwondering alles daarin aanskou. Die kase het die matte vol gelê, en die krale was stampvol van lammetjies en bokkies......

Toe het ons vuurgemaak en 'n offerande geoffer, en self het ons ook van die kase geneem en geëet, en so het ons in die spelonk gesit en wag totdat hy teruggekom het agter sy kuddes aan. 'n Swaar drag droë hout het hy gedra vir (19) die klaarmaak van sy aandete, en hy het dit laat neerkraak in die spelonk, en ons, skrikbevange, het teruggedeins in 'n hoekie van die grot. Sy vet kuddes het hy in die wye spelonk ingedrywe - almal wat hy gemelk het; maar die ramme het hy buitekant laat bly in die diep binneplaas. Toe het hy die groot deurklip opgetel en in sy plek gesit - 'n magtige steen: twee-en-twintig vier-wiel-waens kan dit nie van die grond lig nie, so 'n toringagtige massa het hy in die deur geplaas. Daarop het hy gaan sit en sy blêrende bokooie op hul beurt gemelk, en onder elke moeder het hy die kleintjie gesit. Daarna het hy die helfte van die wit melk laat dik word en dit in biesiesmandjies geplaas en weggepak en die ander helfte het hy in komme geskink, sodat hy dit kon neem en drink en sodat dit vir sy aandete kon dien. Maar toe hy sy werkies ewe besig verrig het, steek hy die vuur weer aan en sien ons en vra:

„Vreemdelinge, wie is julle en waarvandaan seil julle die water-weë? Op besigheid? Of dwaal julle blindelings oor die see soos rowers wat ronddwaal en hul lewens waag en rampspoed aan mense van ander lande bring?"

So praat hy: en in ons is ons gees gebreek uit vrees vir sy diepe stem en sy skrikwekkendheid. Maar selfs só het ek geantwoord en gesê:

„U moet weet dat ons van Troje kom; Achaiers (20) is ons, deur allerhande winde swerwend gedryf oor die groot diepte van die see. Ons haas ons huis-toe, maar langs ander weë en 'n ander pad kom ons: so was seker die plan wat God wou hê. En ons sê dat ons die manskappe van Agamemnon is, seun van Atreus, van wie die roem nou die magtigste onder die hemel is, so groot is die stad wat hy verdelg het, en baie mense het hy gedood. Maar wat ons betref, ons kom u so besoek as smekelinge aan u knieë[6] in die hoop dat u ons sal onthaal of anders 'n present sal gee, soos dit betaamlik is om aan vreemdelinge te doen. Toon eerbied, magtigste, aan die gode: u smekelinge is ons: en Zeus is die wreker van smekelinge en vreemdelinge - die vreemdelinge se god is hy, wat altyd hulp gee aan eerwaardige vreemdelinge."

So praat ek, en hy antwoord dadelik met meedoënlose hart: „'n Gek is jy, vreemdeling, of van vèr kom jy, aangesien jy my sê om die gode te vrees of te ontwyk. Want die Kyklopes gee niks vir Zeus met sy aigis om nie, en niks vir die salige gode nie, want ons is beter as hulle. En ek sal nie, om die woede van Zeus te ontsnap, òf jou òf jou maters spaar nie, tensy my eie hart my aanspoor. Maar sê my, waar het jy jou goedgeboude (21) skip laat anker toe jy gekom het? Was dit miskien vèr of naby? Ek wil weet."

So praat hy met 'n probeerslag; maar uitoorlê het hy my nie, want ek is baie slim; en ek antwoord met listige woorde:

„My skip het Poseidon, aardbewing-bewerker, stukkend gesmyt op die rotse aan die grense van u land. Naby 'n rotspunt het hy hom gebring, en die wind het hom ingedryf van die see. Maar ek, met hierdie manskappe, het aan die uiterste verdelging ontsnap."

So praat ek, maar in die hardheid van sy hart antwoord hy niks nie, maar spring op en gryp na my maats. Twee vat hy tegelyk en smyt hulle op die grond soos hondjies, en die brein vloei uit en benat die bodem. Toe sny hy hulle lid vir lid uitmekaar, maak klaar vir sy aandete en vreet hulle op soos 'n bergleeu, sonder om iets oor te laat, vreet ingewande en vlees en murgbene. En ons hef rouklag aan en strek ons hande uit na Zeus, toe ons sy vreeslike dade aanskou; en hulpeloosheid hou ons gevange.

Maar toe die Kyklops sy groot maag gevul het deur mensevlees te vreet en suiwere melk daarna te drink, gaan hy lê in die grot, onder die skape uitgestrek. En ek het 'n plan gemaak in my groot gees om nader te sluip en my skerp swaard te trek en sy bors te deursteek, waar die midderif (22) die lewer hou; en ek sou voel na die plek met my hand. Maar 'n tweede gedagte het my gekeer; want daar sou ons ook die uiterste verdelging ontmoet het, want ons sou onmagtig gewees het om met ons hande die geweldige steen wat hy daar geplaas het, van die deur weg te rol. Dus het ons wenende die helder môre afgewag.

Sodra die vroeë Daeraad met haar rosige vingers te voorskyn gekom het, maak hy die vuur weer op en melk sy pragtige kuddes op hul beurt, en onder elke moeder het hy die kleintjie gesit. Maar toe hy sy werkies ewe besig verrig het, gryp hy weer twee van my maats tegelyk en maak klaar vir sy ete. En toe hy geëet het, dryf hy sy vet kuddes uit van die spelonk, nadat hy die deursteen maklik verskuif het; en hy sit dit terug, ligtelik, soos 'n mens die deksel van 'n pylkoker toemaak. En met baie gefluit keer die Kyklops sy skape aan berg-toe; en ek word agtergelaat en bedink kwaad in die diepte van my hart, hoe ek kan weerwraak neem en hoe Athene aan my glorie kan skenk.

En hierdie plan lyk my die beste. Daar lê langs die kraal 'n groot, groen olyfhout-knuppel van die Kyklops wat hy gekap het om met hom saam te dra as dit droog is. En toe ons daarna kyk, oordeel ons dat dit so groot is soos die mas van 'n swart twintig-roeier, 'n breë vragskip wat die (23) groot diepte oorseil: so groot was dit in lengte en in breedte om aan te sien. Hierheen stap ek en sny daarvan af 'n lengte van omtrent 'n vaam en gee dit aan my maats en sê hulle om dit glad te maak. En hulle maak dit gelyk, en ek staan daarby en maak die punt skerp en neem dit snel en maak dit hard in die gloeiende vuur. Toe steek ek dit mooi weg en bedek dit onder die mis wat in groot hope oor die hele spelonk lê. En ek het my maats gesê om lootjies te trek om te sien wie die waagstuk met my sal onderneem om die paal op te lig en dit in sy oog te maal as die soete slaap hom bevang het. En die lot het op hulle geval wat ek self sou gekies het, vier van hulle, en ek was die vyfde met hulle saam. En in die aand kom hy agter sy mooi-gevliesde skape aan, en snel dryf hy al sy kuddes in die breë spelonk, en nie een laat hy buitekant nie: òf omdat hy 'n voorgevoel gehad het, òf omdat 'n god hom die gedagte gegee het. Toe lig hy die groot deursteen op en sit dit in sy plek en gaan sit en melk die ooie en die blêrende bokooie almal op hul beurt, en onder elke moeder sit hy die kleintjie. En toe hy ewe besig sy werkies gedoen het, gryp hy weer twee kêrels tegelyk en maak sy aandete klaar. Toe kom ek nader en spreek die Kyklops aan en hou in my hande 'n beker van eiloofhout vol donker wyn: (24)

„Kyklops, neem en drink wyn na u maal van mensevlees, sodat u mag weet watter soort drank dit is wat ons skip bevat het. Aan u het ek dit gebring as 'n drankoffer in die hoop dat u my sou jammer kry en my huis-toe stuur: maar u woed sodat dit skaars verduur kan word. Wreed is u! Hoe sal een van die menigte mense ooit weer hierheen na u kan kom, aangesien u wetteloos gehandel het?"

So praat ek, en hy neem die beker en drink. En hy skep 'n wonderlike behae in die soet drank en vra my daarvan 'n tweede keer:

„Gee my dit weer met goeie wil, en sê my gou jou naam, sodat ek jou 'n vreemdeling-gawe kan gee waarin jy kan behae skep. Want onder die Kyklopes dra die aarde, gewer van graan, ryk druiwetrosse, en Zeus gee groeikrag; maar hierdie is 'n straaltjie ambrosia en nektar."

So praat hy, en weer gee ek hom die gloeiende wyn. Driemaal het ek dit gebring en aan hom gegee, en driemaal in sy sotheid het hy dit gedrink. Maar toe die wyn begin insluip in sy verstand, toe spreek ek hom met sagte woorde aan:

„Kyklops, u vra na my roemryke naam en ek sal u vertel; en gee u my die vreemdeling-gawe soos u belowe het. Niemand is my naam, Niemand noem hulle my, my moeder en my vader en al my maters ook." (25)

So praat ek: en hy antwoord met meedoënlose hart: „Niemand sal ek laaste opvreet onder sy maats: die ander eers: dit sal jou vreemdeling- gawe wees!"

So was sy woorde; hy waggel en val op sy rug, en toe lê hy met sy dik nek eenkant-toe; en slaap, wat alles oorwin, kry hom beet.

Toe stoot ek die paal onder die diep as totdat dit sou gloeiend word en versterk al my vriende met bemoedigende woorde, sodat ek niemand sou hê wat uit vrees padgee nie. Maar toe die olyfhoutpaal aanstons begin vuur vat, groen soos dit was, en vreeslik te gloei, toe bring ek dit nader uit die vuur en my maats staan rondom. En 'n god het groot moed in ons ingeblaas. En hulle neem die olyfhoutpaal, skerppuntig, en stoot dit in sy oog in, en ek leun daarop van bo en draai dit rond, net soos 'n man 'n skeepsplank boor, en dié wat onder staan, draai dit aanhoudend met 'n riem wat hulle aan elke kant vashou, en die boor draai rond aanmekaar. So het ons die vuurpuntpaal geneem en in sy oog rondgedraai en rondom die warm voorent het die bloed gevloei......

Soos 'n smid 'n groot byl of 'n timmermansbyltjie in koue water doop met 'n vreeslike gesis om dit te temper (want daarvandaan kom die sterkte van yster), so het ook sy oog gesis rondom die olyfhoutpaal. Verskriklik was toe sy geskreeu (26) en die rots het weergalm daarvan; en ons, skrikbevange, het teruggedeins terwyl hy die paal uit sy oog uit pluk, vol van baie bloed, en dit weggooi en wilde gebare maak. Toe roep hy die Kyklopes wat rondom in spelonke gewoon het langs die winddeurwaaide hoogtes, en hulle hoor sy geroep en kom van alle kante en staan rondom die spelonk en vra hom wat makeer.[7]

„Wat kwel jou so vreeslik, Polyphemus, dat jy so skree deur die onverganklike nag en ons van slaap beroof? Kan dit wees dat 'n sterfling teen jou wil jou skape wegdryf? Of maak iemand jou dood deur lis of geweld?" Uit die grot antwoord die sterk Polyphemus toe:

„Nee, vriende, Niemand maak my dood, deur lis en nie deur geweld nie?"

En hulle antwoord en spreek hom met gevleuelde woorde aan: „As niemand jou dan in jou eensaamheid geweld aandoen nie, is dit seker 'n siek- te wat van magtige Zeus kom en wat 'n mens nie kan vermy nie; jy moet maar die heer Poseidon om redding bid."

So praat hulle en loop weg, en my hart lag in my binneste dat my naam en my slim plan hulle uitoorlê het.

Maar die Kyklops kreun en steun van die pyn (27) en voel met sy hande en neem die klip weg van die deur en self gaan hy in die deur sit met uitgestrekte arms, in die, hoop om enigeen te vang wat probeer uitsluip met die skape - so onnosel dink hy in sy hart dat ek is. Maar ek weet allerhande listighede en planne, soos 'n mens maak in 'n saak van lewe en dood; want groot was die ramp wat ons bedreig. En dit skyn my toe die beste plan. Daar was ramme, vol gevoer en dik van vlies, mooi, groot diere, met donker wol. Drie van hulle het ek vasgemaak met gevlegte biesiesgoed waarop die Kyklops, monsteragtig en met wetteloosheid in sy hart, gewoond was om te slaap: drie tegelyk het ek gevat. Die middelste het 'n man gedra en die ander twee het een aan elke kant geloop en my maat beveilig. So het drie skape 'n man gedra. Wat my betref, was daardie ram, verreweg die beste van die kudde; hom gryp ek aan sy rug en krul my onder sy harige maag en klou daar vas, gesig na bo, met vasberade hart. So steun ons dan in afwagting van die helder môrestond.

So gou as die vroeë Daeraad kom met haar rosige vingers, sit die ramme op loop na die veld en die ooie blêr ongemelk rondom die kraal met vol uiers. En hul baas, gekwel deur vreeslike pyn, voel langs die rugge van al die skape wat voor hom staan, maar onnosel genoeg, bemerk hy nie (28) dat my maats onder die borste van sy dikvliesskape vasgebind is nie. Laaste van almal kom die ram te voorskyn, belas met die gelig van sy vlies en my listige self. En sterk Polyphemus voel langs sy rug en praat met hom en sê:

„Ou ram, waarom gaan jy dan so deur die spelonk, die laaste van die kudde? Voorheen was dit nie jou gewoonte om by die skape agter te bly nie, maar altyd was jy die eerste om die sagte loof van die gras te pluk.... maar nou is jy die laaste van almal. Jy treur seker oor die oog van jou baas wat 'n slegte man verblind het, met sy maats, nadat hy my gees makgemaak het met wyn - Niemand was sy naam; maar ek sê jou hy het nog nie aan verdelging ontsnap nie. As jy kon voel soos ek en spraak kon kry om my te sê waar hy wegkoes uit vrees vir my woede, dan sou sy brein hier en daar deur die grot verspil lê soos ek hom moker, en my hart sou verligting kry van die kwelling wat Niemand my gebring het."

So sê hy, en hy stuur die ram uit na buite. En nadat ons 'n entjie van die spelonk en die binneplaas gegaan het, maak ek eers myself los van onder die ram en bevry toe my maters. Snel dryf ons toe daardie langbeen-skape, ryk aan vet, met ons weg en elke maal kyk ons om, totdat ons die skip bereik. En bly was ons maats om ons te sien, ons wat die dood ontsnap het, maar oor die (29) ander het hulle 'n rouklag aangehef; maar ek het hulle nie toegelaat nie, en fronsend het ek elkeen verbied. My bevel was om snel die baie dikwolskape in die skip te gooi en oor die sout see te seil. Hulle gaan toe dadelik aan boord en neem plek op die banke, en, in orde sittende, slaan hulle die grys see met hul roeiers. Maar toe ek sover weg was as wat 'n man hom hoorbaar kan maak as hy roep, spreek ek die Kyklops met spottende woorde aan:

„Kyklops, daardie man, soos dit lyk, was nie 'n swakkeling nie, wie se maats jy[8] van plan was om te verslind met mag en geweld in jou hol spelonk. Sekerlik moes jou misdade op jou kop terugkom, wreedaard - jy wat nie geaarsel het om jou gaste in jou eie huis op te vreet nie. Daarom het Zeus en die ander gode ook 'n straf op jou gebring."

So praat ek, en hy word des te kwaaier in sy hart en breek die top van 'n hoë berg af en gooi dit na ons toe en laat dit voor die donker voorpunt van die skip val. En die see golf waar die klip val, en die terugvloei van die water, soos 'n vloed van die diepte, sleep die skip snel na die land toe en voer hom na die strand. Maar ek gryp 'n lang paal in my hande en stoot die skip af langs die strand en ek wink met my hoof en spoor my (30) maters aan om weg te val met hul roeiers, sodat ons uit ons haglike toestand kan ontsnap. En hulle val vorentoe en roei. Maar toe ons, in ons pad oor die see, tweemaal sover weg was, toe kon ek nie nalaat om die Kyklops toe te roep nie, ofskoon my maats rondom, een na die ander, probeer om my terug te hou met pleitende woorde:

„Roekelose, waarom wil u 'n wilde man kwaad maak?...."

So praat hulle, maar hulle kon nie my grootse gees oorreed nie; en in die woede van my hart spreek ek hom weer aan:

„Kyklops, as enigeen jou sal vra aangaande die skandelike verblinding van jou oog, sê maar dat Odysseus, stad-verdelger, dit blind gemaak het, ja, die seun van Laertes, wat in Ithaka woon!"

So praat ek, en hy kreun en antwoord: „Kyk nou, waaragtig, 'n profesie van lank gelede het op my afgekom maar kom hier, Odysseus, sodat ek vreemdeling-gawe voor jou uitsprei en die vermaarde Aardbewing-bewerker[9] bid om jou 'n voorspoedige heenreis te gee...."

So sê hy, en ek antwoord hom: „Ek wens ek kon jou van siel en lewe beroof en na die Huis van Hades stuur...."

So praat ek, en hy bid die Heer Poseidon, met (31) albei hande uitgestrek na die sterbesaaide hemel:

„Hoor my, Poseidon, Aarde-omhelser, God van die donker hare.... gee dat Odysseus, stadverdelger, nooit sy huis mag bereik nie.... maar as dit sy lot is om sy vriende te sien en sy goedgeboude huis in sy vaderland te bereik, laat mag hy aankom en in haglike toestand, nadat hy sy maats verloor het in 'n skip van 'n ander; en mag hy rampe in sy huis aantref."

So spreek hy al biddend, en die god van die donker hare hoor hom. Maar die Kyklops lig weer 'n baie groter klip omhoog en swaai dit en gooi, met gebruik van onbegrensde krag. Hy gooi dit 'n entjie agter die donker-gepunte skip en mis net die ent van die stuur-roeier. En die see waar die klip val en die vloed lig die skip vorentoe en voer hom na die strand.

Toe kom ons eindelik by die eiland waar ons ander goedgebankte skepe almal te same lê, en rondom is ons vriende wat ons steeds verwag en ons sit te beween; toe laat ons die skip in die sand loop, en self gaan ons aan wal op die strand van die see. Toe neem ons uit die hol skip die kuddes van die Kyklopes en verdeel hulle so dat niemand (kon ek dit verhoed) sonder sy gelyke aandeel sou wees nie. Maar die ram het my maats van die goeie skeenplate aan my alleen gegee, na die verdeling van die kuddes, as 'n aparte geskenk. (32)

En op die kus het ek hom geoffer aan Zeus, seun van Kronos, god van die donker wolke, heer van die Heelal, en van die dy-bene het ek 'n brandoffer gebrand. Dog Hy het my offer nie gadegeslaan nie, maar was besig om 'n plan te maak dat al my goedgebankte skepe en my troue maats sou omkom.

So, dan, heeldag lank tot sonsondergang sit ons en feesvier met volop vlees en soet wyn; maar toe die son sak en die donker kom, toe gaan ons lê op die seestrand om te slaap. En sodra die vroeë Daeraad van die rosige vingers verskyn, wek ek my maats en sê hulle om self in te klim en die agtertoue los te maak. So gaan hulle snel aan boord en neem plek op die banke en, in orde sittende, slaan hulle die grys see met hul roeiers.

Daarvandaan seil ons voort, treurig van hart, maar bly dat ons die dood ontsnap het, al het ons ons dierbare maats verloor. (33)

Hoe Troje geval het.[edit]

(Vergilius: Aeneïs II.)

Emil Ludwig het in sy onlangse boek op briljante wyse vir ons vertel hoe Heinrich Schliemann groot geword het met die droom dat die stad Troje werklik bestaan het; hoe die geleerde wêreld hom uitgelag het; hoe hy van armoede tot 'n magtige rykdom bevorder is; en hoe hy die Homeriese stad ontdek het.

Maar vir Vergilius was die verhaal van Troje ryk alleen aan romantiese goud; die ag-duisend-sewehonderd goue voorwerpe wat Schliemann onder die Homeriese stad gevind het, moes wag tot die laaste dertig jaar van die neëntiende eeu om die lig te sien.

Aenéas, die legendariese voorvader van die Romeine, ontsnap uit die brandende Troje met sy bende. Hul bring die winter in die berge deur en bou 'n vloot. Daarmee seil hul die see in, om, onder leiding van die gode, 'n tuiste te soek. Maar die weë van die Voorsienigheid is duister. Eers dink hulle dat hulle (34) in Kreta 'n rusplek sal kry, en dan weer in Sicilië; maar altyd kom daar 'n teken om hulle verder te dryf. En nou is dit al die sewende somer, en nog altyd swerf hulle rond. Die moeders word al ongeduldig en die manskappe murmureer. Van Thrakië het hulle afgeseil na Delos, en toe na Kreta; toe is hulle weswaarts anderkant Griekeland, en langs die weskus van Griekeland op na Leucas en Buthrotum. Daarvandaan steek hul oor na Italië toe, maar is verbied om op die ooskus te land. Hulle seil dus verby Etna rondom Sicilië na die westelike punt Drepanum, waar Aeneas se vader sterf. Daarvandaan maak hulle plan om Italië-toe te seil, maar hul ou vyand Juno praat Aeolus, Koning van die winde om, en hy veroorsaak 'n geweldige storm waarin die skepe van Aeneas op die kus van Afrika verpletter word - almal behalwe sewe.

In Afrika is Koningin Dido, wat vir haar verraderlike skoonbroer uit Tyrus moes wegvlug, besig om haar nuwe stad Karthago te bou. Sy is eensaam te midde van barbare: lanklaas het sy 'n prins uit haar eie wêreld gesien: haar man Sychaeus is reeds jare gelede vermoor.

By haar hof kom Aeneas aan. Hy is net so eensaam; meer as ses jaar het hy swaar gely; hy het pas uit die storm ontsnap en gehoor dat 'n deel van sy skepe gered is. Hy is in die fleur van manlike skoonheid en sterkte. (35)

Is dit 'n wonder dat hulle op mekaar verlief raak? Wat Vergilius vertel van Venus en Cupido is slegs 'n simbool van die psigologiese noodsaaklikheid; en sy gebruik van die tradisionele epiese masjinerie van Olympus, moet ons nie verblind vir die natuurlikheid van die gebeurtenis nie.

Dido het 'n groot feesmaal laat voorberei. En toe daar 'n pouse kom, staan die Koningin op om die heildronk op die Trojane in te stel. Die hofsanger, Iopas, sing sy lied omtrent die dwalende maan en hoe die son swaar kry; waar die mens vandaan kom en die diere en reën en vuur; van Arcturus en die reën-bringende Hyades en die tweeling-Bere... die Tyriërs en die Trojane laat die saal weergalm van toejuiging. En ongelukkige Dido, met afwisselende gesprek, rek die nag lank uit en diep drink sy van die liefde. Baie vra sy Aeneas omtrent Priamus uit, baie omtrent Hector; nou omtrent die wapenrusting van die seun van Aurora, nou omtrent die wonderlike perde van Diomedes, en nou hoe groot Achilles was.

„Maar kom," roep sy, „vertel ons, vreemdelinggas, hoe die verraad van die Grieke begin het, van u vriende se wederwaardighede, van u eie omswerwinge. Want dis nou die sewende somer wat u 'n swerweling voer oor elke see en elke land."

So begin Aeneas dan die verhaal van Troje. Dit is 'n studie van lig en skaduwee - eers die blydskap (36) van bevryding in die velde buitekant Troje oor die wegtrek van die Grieke; dan die rumoer en verwarring van oorlog; en eindelik die stilte van die nag en die uittog van Aeneas en sy bende. Ons kan John Masefield se moderne gedig A Tale of Troy en Gijsbrecht van Aemstel, Vondel se verdietsing van die stof, vergelyk.


'n Stilte daal skielik op almal neer; gespanne is elke oog op hom gerig. Toe begin Vader Aeneas van sy rusbank op die verhoog:

„Dieper dan woorde, o Koningin, is die leed wat u sig laat hernu - hoe die Grieke die mag van Troje en haar ramp-bedeelde koninkryk ontwortel het, die diep-treurige gesigte wat ek self gesien het en waarin ek g'n onbelangrike rol gespeel het nie. Wie kon sy trane bedwing wanneer hy hierdie verhaal vertel - selfs 'n Griekse soldaat van Achilles of die wrede Ulysses?[10] Kyk, die dounatte nag haas reeds deur die lug, en die sinkende sterre sê saggies: „Slaap!" Maar as u verlange so groot is om ons ongelukkige lotgevalle te verneem en kortliks die laaste worstelstryd van Troje te hoor, sal ek begin; maar my gemoed sidder om te onthou en deins in treurigheid terug.

Gebreek in die oorlog en gedwarsboom deur die (37) Noodlot, het die Griekse leiers gesien hoe die jare een vir een verby snel. Toe bou hulle deur die wonderlike kuns van Pallas 'n Perd, groot soos 'n berg, en voeg denneplanke in die sye daarvan saam. Hulle maak asof dit 'n offer is vir hul veilige heenreis; dit is die gerug wat versprei word. In die donker sye kerker hulle stilletjies uitgesogte helde in - helde wat gekies is uit dié op wie die lot geval het, en hulle vul die dieptes van die magtige holte met gewapende soldate.

Van die Trojaanse vlakte kan hulle 'n eiland sien, Tenedos, beroemd in die geskiedenis, ryk en voorspoedig in die dae van Priamus se mag, maar nou slegs 'n baai en 'n verraderlike ankerplek vir skepe. Hierheen seil die Grieke en verberg hulle op die verlate kus, terwyl ons dink dat hulle weggetrek het en voor die wind Mycenae-toe gevaar het. Daarom het die hele land van Troje haar lang treurjare van haar afgeskud. Ons gooi die poorte oop; juigend gaan ons die plek van die Griekse kamp bekyk, die verlate poste, die strand waar hul voorheen was. Hier was die tente van die Dolopes,[11] daar die tent van wrede Achilles. Hier het hul vloot gelê: daar het hul geledere altyd teen ons geveg.

Party staan verwonderd oor die dodelike gawe aan Minerva, die Maagd, en verbaas hul oor (38) die reuse-perd. En Thymoëtes was die eerste om aan te dring dat dit binnekant die mure gesleep en op die Burg geplaas moet word; moontlik was dit verraad, of moontlik het die Noodlot reeds hierdie koers begin neem. Maar Copys en die wat wyser was, sê ons moet die strik van die Grieke, hul agterdog-wekkende gawe in die see insmyt, òf 'n vuur daaronder maak en dit verbrand; of anders die holle skuilplek deurboor en sien wat daarin is. Die mense twyfel : party wil dít doen en ander dat.

Dan voor almal en met 'n groot gedrang agter hom, kom Laocoön in gloeiende haas van die Burg se hoogte afgehardloop en roep van vèr:

„Ongelukkige mede-burgers, watter waansin is dit? Dink julle dat die vyand weggeseil het? Of dink julle dat Griekse gawes ooit anders as verraderlik is? Is dit so dat julle Ulysses ken? Dis een van twee dinge: òf daar is Grieke in hierdie ding weggesteek òf dis 'n oorlogswerktuig teen ons stad, om op ons huise te spioen en om op ons mure af te kom van bo; die saak is in elk geval nie pluis nie. Glo nie in die Perd nie, o Trojane: wat dit ook is, ek vrees die Grieke, al bring hulle ook geskenke."

So sê hy, en met kragtige geweld gooi hy sy groot speer teen die sy van die Dier en die gekromde raamwerk van sy maag vas. Die speer staan sidderend daar: 'n rilling loop deur die deel (39) wat hy tref; die klank is hol, en uit die dieptes kom daar 'n gekreun. En as die Noodlot nie teen ons was nie en ons gees nie verblind het nie, sou hy ons toe beweeg het om die Grieke se skuilplek met ons swaarde te skend, en Troje sou nou nog gestaan het en, jy, hoogliggende Burg van Priamus,[12] sou nog altyd daar gewees het.

Maar, kyk, intussen sleep Trojaanse herders met luide geroep 'n jongeling, met hande agter die rug geboei, voor die Koning. Uit eie wil het hy hom laat bind en, ofskoon 'n vreemdeling, hom in die pad van die herders geplaas, juis met die doel om Troje vir die Grieke oop te maak. Vol selfvertroue was hy en klaar om òf 'n seker dood te ontmoet, òf sy slim streke uit te voer.

Van alle kante stroom die Trojaanse jongelinge toe, gretig om te sien, en wedywer met mekaar in die bespotting van die gevangene. Maar verneem u nou die verraad van die Grieke en leer uit een voorbeeld die ondeug van die ras. Want toe hy so te midde van die starende menigte staan, verward en ongewapend, en sy oë oor die Trojaanse bendes laat rondgaan, „Helaas," sê hy, „watter land, watter see kan my nou ontvang? Of wat bly my oor in my ellendigheid? Onder die Grieke het ek g'n plek meer nie (40) en die Trojane hier is my vyande en verg die doodstraf vir my."

Toe hy so kreun, verander ons gevoelens, en ons aanval op hom word gestuit. Ons spoor hom aan om te sê wat sy afkoms is, watter nuus hy bring en op watter verdediging hy as gevangene steun. Eindelik oorwin hy sy vrees en sê:

„Sekerlik, O Koning, wat ook al gebeur, sal ek u die waarheid in alles vertel, en my Griekse geboorte sal ek nie ontken nie. Dit in die eerste plek; en as die Fortuin Sinan vir ellende gevorm het, sal sy hom nie ook in haar kwaadwilligheid tot 'n valsaard en 'n leuenaar vervorm nie.

Moontlik het hulle u al vertel van Palamedes,[13] die seun van Belus, en die grootheid van sy roem. Op valse getuienis en goddelose informasie het die Grieke hom onskuldig tot sy dood gebring, omdat hy die oorlog verbied het, en noudat hy van die lig beroof is, beween hulle hom. Dit was in sy geselskap, omdat hy familie van ons was, dat my vader, ten spyte van sy armoede, my hierheen as soldaat in my vroegste jeug gestuur het. Terwyl Palamedes veilig was in sy koninklike mag en sterk was in die raad van prinse, het ons ook naam en faam besit. Maar toe kom die kwaadwilligheid van slim Ulysses (nie onbekend is die storie nie) en Palamedes verloor die lewenslig; (41) terwyl ek, in duisterheid en treurigheid, my gebroke lewe verleng, woedend in my hart oor die lot van my onskuldige vriend. In my waansin het ek nie stil gebly nie: ek het 'n eed geneem dat as ek ooit as oorwinnaar na my vaderland Argos sou terugkeer, ek sy dood sou wreek: en deur my woorde het ek 'n bittere haat in die lewe geroep.

Dit was die eerste teken van besmetting: altyd het Ulysses my met nuwe beskuldigings verskrik, daarom het hy dubbelsinnige praatjies onder die menigte versprei en, bewus van sy skuld, na wapens gegryp. Nee, hy het nie gerus nie, totdat, met Calchas om te help - maar waarom vertel ek tevergeefs hierdie onwelkome verhaal? Waarom vertraag ek julle? As julle alle Grieke gelyk skat en as net die naam vir julle genoeg is, neem maar sommer dadelik jul wraak: dit sou presies wees wat Ulysses begeer - hiervoor sou die seuns van Atreus[14] geld betaal!"

Toe was dit dat ons brand om uit te vra en die oorsake te weet, onbekend nog met misdade so groot as die listigheid van die Griek. Vreesbevange vertel hy toe verder met geveinsde gevoelens:

„Dikwels het die Grieke verlang om Troje te verlaat en te vlug, moeg van die langdurige oorlog. Hoe wens ek dat hulle dit gedoen het! (42) Dikwels het 'n woeste storm hul onderskep en die suidewind hul afgeskrik. En veral toe die Perd daar staan met sy saamgevoegde planke, het die hele lug weerklink met onweer. In ons angs stuur ons Eurypylus om die orakel van Phoebus te raadpleeg, en van die heiligdom bring hy hierdie treurige woorde terug:

JUL HET MET BLOED VAN 'N MAAGD[15]
DIE WINDE BEVREDIG, O GRIEKE,
DESTYDS TOE JUL GEKOM HET
NA TROJE EN TROJE SE KUSTE:
NOU MET DIE BLOED VAN 'N GRIEK
MOET JUL HUISWAARTSE HEENREIS VERDIEN WORD.

Toe die menigte hierdie antwoord verneem, was hulle verslae van gees en 'n ys-koue siddering loop deur hul murg en been. Vir wie maak die Noodlot klaar? Vir wie wil Apollo hê?

Hier sleep Ulysses met groot rumoer die siener Calchas in hul midde en vra wat daardie orakelspreuk beteken. Baie mense het toe vir my die wrede misdaad van listige Ulysses voor oë gehou en in stilte ingesien wat sou kom. Tweemaal vyf dae bly die siener stil in sy tent en weier om te veroordeel of aan die dood oor te gee. Maar eindelik word hy verplig deur die lawaai van (43) Ulysses om, volgens afspraak, los te bars in woorde en my tot die altaar te verdoem. Almal stem saam: en die lot wat elkeen vir homself vrees, dra hy met geduld wanneer dit op 'n ander val.

En nou kom die afgryslike dag aan. Die plegtigheid word vir my voorberei en die gesoute meel en die band om die hoof. Ek ontsnap - ek beken dit - uit die kloue van die dood en breek my boeie en lê weggesteek die hele nag lank in 'n moerassige vlei, verberg in die biesies, totdat hulle sou wegseil - as hulle maar net wou! Alle hoop is nou weg dat ek my voormalige vaderland weer sal sien of my geliefde kinders of die vader na wie ek verlang. Hulle sal nog miskien gestraf word vir my vlug en, ongelukkiges! deur hul dood vir my misdaad boet. Maar ek smeek u, by die gode daarbo, by die gode wat die waarheid weet, by al die trou wat nog onbesoedeld onder mensekinders gevind mag word, bejammer my ellende; bejammer 'n siel wat leed onverdiend verduur!"

Sy trane verkry hom 'n gespaarde lewe en ons jammergevoel. Priamus self is die eerste om te beveel dat sy boeie en styfgebonde bande losgemaak moet word, en hy spreek hom vriendelik aan:

„Wie jy ook al is, vergeet voortaan die Grieke wat jy verloor het: een van ons sal jy wees. En verklaar my nou die waarheid as ek vra: waarom het hulle hierdie berg van 'n perd opgerig? Wie (44) het die plan gemaak? Wat is die doel? Watter godsdienstige betekenis het dit? Is dit een of ander oorlogswerktuig?"

So praat hy; en Sinon, geskoold in Griekse lis, strek sy ontboeide hande na die sterre en roep:

„O, onsterflike vuurpunte in jul onskendbare majesteit, wees my getuies! Altare en vervloekte swaarde wat ek ontkom het en offerbande[16] van die gode wat ek as offer gedra het, met reg kan ek my plegtige verpligtinge aan die Grieke verbreek, met reg hulle haat en alles aan die lig bring wat hulle verberg: g'n wette van enige land bind my nie. Laat die Trojane maar hul geloftes gestand doen, en, soos hulleself bewaar gebly het, laat hulle hul woord bewaar, as my boodskap eg is, as ek 'n ryke beloning bring vir beskerming wat hul my gee.

Al die hoop van die Grieke en hul selfvertroue toe hulle die oorlog begin het, was altyd afhanklik van die hulp van Pallas. Maar vandat Diomedes en Ulysses, uitvinder van misdade, gewaag het om die noodlottige beeld van Pallas[17] uit sy heiligdom uit te sleep, en die brandwagte op die Burg gedood het; vandat hulle die heilige beeld gegryp het en met bloedige hande die offerbande (45) van die goddelike Maagd durf aanraak het, - van daardie tyd af, het die hoop van die Grieke gestadig meer en meer agteruit gegaan; hul krag was gebreek; die aangesig van die godin was afkerig van hulle. En dit het sy op g'n dubbelsinnige manier gewys nie. Want skaars is die beeld in die kamp neergesit of daar flikker vlamme uit die wydgesperde oë, sout sweet loop langs die lede af, en, - dis wonderlik om te vertel - driemaal verskyn die godin soos blits uit die grond, met haar skild en haar sidderende speer.

Dadelik voorspel Calchas dat hulle heen moet vlug oor die see en dat Pergamus[18] nie deur Griekse wapens ontwortel kan word nie tensy hulle nuwe voortekens in Argos gaan soek[19] en die godin, wat hulle oor die see in hul gekromde skepe gebring het, terug begelei na haar tuiste in Troje. Dat hulle nou voor die wind na hul vaderland seil, beteken net dat hulle wapens gaan haal, en goddelike guns om met hulle mee te gaan; dan seil hulle terug en kom skielik hier aan. So vertolk Calchas die tekens. Hierdie Perd het hulle, deur hom gewaarsku, opgerig as 'n soenoffer vir die geskonde beeld van Pallas, om goed te maak die (46) rampspoedige misdaad. Maar Calchas sê hulle om hierdie gewig van geweefde planke so hoog uit te bou hemelwaarts, dat dit nie by die poorte kan ingaan of binnekant die mure gesleep kan word nie of die Trojane met sy aloude goddelike krag kan beskerm nie. Want as jul hande Minerva se offer sou skend, dan, sê hy, sal 'n magtige uitdelging op die ryk en die volk van Priamus val; - mag die gode die voorspelling eerder teen die voorspeller wend! Maar as dit deur julle binnekant die stad gesleep word, sou Troje selfs in magtige oorlog teen die Grieke optrek, en dit sou die lot wees wat ons afstammelinge wag."

So was die lis en die kuns van meinedige Sinon; en ons glo sy verhaal, bedrieg deur sy slimmigheid en sy gemaakte trane - ons vir wie nòg Diomedes nòg Achilles van Larissa kon tem, - nee, nòg die tienjarige beleg of die vloot van 'n duisend skepe.

Hier word ons geskok in ons ellende deur 'n nog groter en baie vreesliker voorteken, wat ons blinde harte verbyster. Laocoön, die priester van Neptunus volgens lot, was besig om 'n groot bul by die gewone altare te offer. En kyk, van Tenedos, oor die kalm seevlakte (ek sidder om dit te vertel) kom daar twee see-slange in geweldige bogte gekronkel; hulle lê op die see en swem gelyk landwaarts-toe. Hul borste rys op in die branders, (47) en hul bloed-bevlekte kamme steek bokant die golwe uit; die agterlywe gly oor die water, en hul reuserugge kronkel in 'n menigte voue; ons hoor hoe die see onder hulle deur skuim.

En nou bereik hulle die velde met vlammende oë deurloop van bloed en vuur, en lek hul sissende bekke met tonge wat tril. Bleek van skrik vlug ons weg. Reguit pyl hul na Laocoön toe; eers omvou elke slang sy jong seuns en verskeur jammerlik hul lede. Daar kom die vader met wapens om te help: hul gryp hom vas in hul magtige voue; en nou kronkel hulle tweemaal rondom sy middel, tweemaal draai hulle hul skubbige rugge om sy keel en toring hoog bokant hom uit. Hy span al sy kragte in om die bogte te verbreek en sy priesterband word in bloed en swart gif gedrenk; en vreeslik is die geroep wat hy ophef na die sterre, soos die gebulk van 'n gewonde bul wat van die altaar wegvlug en die sleg gehanteerde byl van sy nek losgeskud het. Maar die twee slange ontsnap en gly weg na die tempel op die hoogte en soek die Burg van oorlogliewende Pallas, waar hulle skuiling vind onder die voete van die godin en die ronding van haar skild.

Toe was dit dat 'n vreemde vrees deur die sidderende harte van almal vaar, en dit word gesê dat Laocoön tereg vir sy misdaad geboet het; (48) want het hy nie die heilige Perd geskend nie en teen hom sy vervloekte speer gegooi nie? „Tempel-toe met die Beeld," roep almal, „en aanbid die godheid van Pallas!"

Ons maak 'n gat in die muur en lê die verskansing van die stad bloot. Almal omgord hul vir die werk. Onder die voete stel hulle voortglyende wiele, en om die nek trek hul toue vas. Die noodlottige uitvindsel beklim ons mure, swanger van wapens. Rondom sing seuns en ongetroude meisies heilige liedere, en dis vir hulle mooi om 'n handjie saam te help aan die sleeptou. Opwaarts gaan dit en gly dreigend in die middel van die stad af. O Vaderland! O Troje, tuiste van ons gode, O Trojaanse mure, oorlog-beroemd! Viermaal selfs by die drumpel van die poorte staan hy stil, en viermaal hoor ons die wapens binnekant ratel. Maar ons is verblind met waansin, ons onthou nie, ons dring vorentoe. Juis toe het Cassandra haar lippe oopgemaak om die naderende verdoemenis te voorspel - lippe op die god[20] se bevel nimmer deur die Trojane geglo nie. En ons, ongelukkiges, vir wie ons laaste dag gekom het, behang die tempels deur die hele stad met feestelike takke. Intussen verskuiwe die hemel, en die nag styg snel uit die Oseaan op; die magtige skaduwee omhul aarde en lug en die lis van die Grieke. Daar (49) is stilte deur die stad waar die Trojane lê en slaap: slaap omhels hul vermoeide lede...

En nou kom die Griekse vloot, in opgestelde slagorde, van Tenedos af in die vriendelike stilte van die vredevolle maan, en soek die kuste op wat hulle ken. Die koninklike skip gee 'n vlammesein, en Sinon, beskerm deur die gode se nydige noodlot, laat stilletjies die Grieke uit hul tronk van planke uitkom. Die perd word oopgemaak, hul asem weer die hemel-luggies in en voel maar te bly om uit die holte uit te kom..... Hulle bestorm die stad, begrawe in wyn en in slaap. Hulle dood die brandwagte en verwelkom al hul maats by die geopende poorte en sluit aan by die troepe volgens plan.

Dit was die uur[21] wanneer die eerste rustyd vir vermoeide mensekinders aanbreek en die lieflikste deur die genade van die gode oor hulle aansluip. In my slaap, kyk, skyn Hector voor my oë te staan diep-treurig en vol trane. Deur die strydwa, soos van oudsher,[22] verskeur en swart met bebloede stof, sy geswelde voete deurgroef van die rieme. Ai my, hoe het hy tog gelyk! Hoe veranderd van daardie vroeëre Hector wat terugkom nadat hy die buitgemaakte wapenrusting (50) van Achilles aangetrek het of Trojaanse vuur op die Griekse skepe geslinger het. Woes was sy baard, sy hare dik met bloed, en op hom was al die baie wonde wat hy rondom die mure van sy vaderland ontvang het. Dit skyn my of ek self trane stort en hom aanspreek met weemoedige woorde:

„O Lig van Troje, sekerste hoop van die Trojane, watter lang vertraging het jou van ons afgehou? Van watter geweste, O langverwagte, kom jy nou? Met watter blydskap nadat so baie van jou bloedverwante gesneuwel het, na die veelvuldige leed van jou volk en stad, aanskou ons jou met vermoeide oë!..." Hy gee g'n antwoord nie, aan my ydele vrae gee hy g'n gehoor nie, maar sug uit die diepte van sy hart en roep:

„Ai, godin-geborene,[23] vlug! Red jouself uit hierdie vlamme. Die vyand besit ons mure: Troje stort van haar verhewe hoogte in. Genoeg het ek gegee aan koning en aan vaderland: as die Burg deur my hand kon verdedig word, deur hierdie hand sou dit verdedig gewees het. Aan jou vertrou Troje haar heilighede en haar stadsgode toe.[24] Neem hul om in jou toekoms te deel: soek vir hulle die stad, die magtige stad wat jy sal stig na lang omswerwinge op die oseaan." (51)

So praat hy, en uit die binneste heiligdom bring hy in sy hande die hoofsnoere en magtige Vesta en die vuur wat nimmer sterf nie.

Intussen is die stad vol verwarring, vol velerlei krete van smart; en, meer en meer, ofskoon die huis van my vader Anchises afgeleë was en deur bome beskerm, hoor ons duidelik die geraas; die oorlogsrumoer neem toe. Ek skud myself wakker; ek klim tot bo op die dak en luister met gespitste ore. Só is dit wanneer vuur op 'n koringveld val as die suidewind waai, of wanneer 'n bergstroom in stortvloed die velde verdelg en die weliggroeiende gesaaides, waarvoor die osse gewerk het, asook die bosse blindelings saamsleep: soos in 'n droom staan die herder onwetend op 'n hoë rots se kruin en hoor die gedruis aan. Toe, ja, toe gaan daar 'n lig vir ons op - die lis van die Grieke! Reeds val die ruime huis van Deiphobus, terwyl die vlamme bokant sy dak opskiet; nou brand sy buurman, Ucalegon; die breë seestraat van Sigéum weerkaats die vuur. Ons hoor die geroep van manne, die geskal van trompette. Waansinnig gryp ek na my wapens; dit help nie, maar my hart brand om 'n kommando vir die stryd byeen te bring en met my maats na die Burg te haas. 'n Dolle woede drywe my blindelings; ek dink net aan 'n roemryke krygsmansdood.

Maar kyk, daar is Panthus wat die swaarde van (52) die Grieke ontsnap, Panthus, die seun van Othrys, priester van Apollo op die Burg. In sy eie hande dra hy die heilighede en die beeldjies van die gode wat oorwin is; self sleep hy sy jeugdige kleinkind met hom en hardloop waansinnig na my huis toe.

„Hoe staan dit met die Staat, Panthus? Watter veiligheidsoord moet ons gryp?" Skaars sê ek dit, of hy antwoord met 'n sug:[25] „Ons laaste dag het gekom en die onontworstelbare noodlot van Troje. Ons Trojane bestaan nie meer nie, nog Troje, nog die groot glorie van die Teucri.[26] Na Argos[27] het Zeus in sy woede alles verplaas; ons stad staan in ligtelaaie en die Grieke is baas daarvan. Die Perd staan hoog in die middel, en gewapende manskappe stroom uit sy binneste, en Sinon oorwin en stig oral brutaal sy brand. Sommige staan by die wydgeopende poorte, soveel duisende as ooit van magtige Mycenae af gekom het; ander, met gevelde wapens versper die engtes van die strate; daar staan die linie van staal met ontblote flikker-punte, klaar om te dood, skaars probeer die eerste brandwagte om weerstand te bied en hulle veg maar blindelings voort."

Deur hierdie woorde en deur die wil van die (53) gode, word ek tussen vlamme en wapens ingedryf, waarheen die felle Furie, waarheen die rumoer en die geroep wat opstyg na die hemel, my roep. Maats sluit by my aan... Toe ek hulle saamgedring sien en moedig vir die stryd, begin ek hulle daarop aanspreek: „Jongelinge, harte dapper tevergeefs, as jul besluit vasstaan om my in my laaste poging te volg, sal julle wel besef hoe dit met ons staan. Al die gode wat die steun van hierdie ryk was, het uitgevaar en tempel en altaar verlaat. Die stad wat julle wil red, gaan in vlamme op. Laat ons sterf, laat ons te midde van die wapens instorm. Vir die oorwonnene is daar net een veiligheid - om vir g'n veiligheid te hoop nie."

So word hul jeugdige gemoed tot woede aangespoor. Dan, soos rower-wolwe in 'n swart mis as die maag se wettelose woede hul blindelings uitgedryf het en die welpe tuis hulle afwag, droog en dors, deur wapens, deur die vyand baan ons 'n weg tot 'n seker dood en pyl na die middel van die stad toe: swart nag fladder om ons met beskermende skaduwee.

Wie kon in woorde die rampe van daardie nag ontvou? Wie die bloedvergieting? Wie kon ons worsteling met trane meet? Die eerwaardige stad stort in: soveel jare lank was sy koningin. In hope lê lewelose liggame versprei deur die strate, in die huise, binnekant die heilige poorte van die (54) gode. Nie net Trojaanse bloed word vergiet nie: daar is tye wanneer dapperheid tot die harte van die oorwonnene terugkeer, en dan val die oorwinnaars. Orals is wrede smart, orals vrees en veelvuldige vorme van die dood.

Androgeos is die eerste Griek wat ons ontmoet. 'n Groot bende vergesel hom. In sy onkunde dink hy dat ons sy bondgenote is en roep ons vriendelike woorde toe:

„Haastig, kêrels! Hoe draal julle dan so lank? Ander verniel en beplunder die brandende Burg: kom julle nou eers van die hoë skepe?"

So praat hy en dadelik - want g'n antwoord wat hy genoegsaam kan vertrou, word gegee nie - besef hy dat hy in die middel van vyande te lande gekom het. Hy was verslae: hy swyg en deins terug. Soos 'n man wat tussen die ruie braambosse met al sy gewig op 'n slang trap wat hy nie gesien het nie en in skielike skrik wegvlug van die groen, opgeblase kop, woedend omhoog gerig, - so was Androgeos verskrik en op die punt om weg te vlug.

Ons storm met digte wapens toe en omsingel hulle. Onbekend soos hulle is met die plek, en oorrompel deur skrik, vel ons hulle aan alle kante neer. Ons eerste taak is deur die Fortuin begunstig. En hier roep Coroebus, uitgelate van sukses en dapperheid: „Maats, waar die Fortuin ons die eerste 'n weg van veiligheid wys en haarself (55) gunstig toon, daar laat ons volg. Kom ons ruil skilde om en trek die Griekse wapenrustings aan: of dit bedrog of dapperheid is - wie sal in tyd van oorlog vra? Ons vyande sal self ons wapens verskaf."

Met hierdie woorde sit hy die gepluimde helm van Androgeos op en neem die skild op met sy mooi wapen en heg die Griekse swaard aan sy heup vas. So maak Ripheus en Dymas en die hele jeugdige bende, vol blydskap: elkeen wapen homself met sy nuwe buit. So gaan ons verder onder die Grieke in, onder gode wat nie ons s'n is nie, en in die blinde nag raak ons handgemeen in 'n menigte gevegte en menige Griek stuur ons na Hades af. Sommige vlug langs verskillende weë skepe-toe, en verdwyn vinnig na die veilige strand; sommige, vol lae vrees, beklim weer die geweldige Perd en steek hulself in die bekende holte weg.

Helaas! As die gode teen jou is, vertrou jy hulle verniet. Kyk, die maagd Cassandra, dogter van Priamus, word uit die tempel en die heiligdom van Pallas gesleep; haar hare waai los; haar brandende oë is tevergeefs hemelwaarts gerig; haar teer hande is in boeie vasgeknel.

Waansinnig, verdra Coroebus hierdie gesig nie; hy gooi homself in die middel van die bende en word neergevel. Ons volg almal en storm met digte wapens toe. Hier word ons eers van die hoë (56) tempel-dak oorweldig deur die wapens van ons eie mense; 'n jammerlike slagting vind plaas deur die verwarring van ons skynbaar-Griekse wapens en Griekse helmbosse veroorsaak. Ons red die maagd; die Grieke kreun, en woedend stroom hulle aan alle kante toe en val ons aan: Ajax die felste, en die tweelingseuns van Atreus[28] en die hele Griekse leer. Só is dit as die stormwind soms losbars en die winde van weerskante saambots, die Weste en die Suide en die Ooste wat hom verheug in die perde van die daeraad; die bosse kreun, en Nereus, skuim-bevlek, woed met sy drie-tand en karring die see van die laagste dieptes op.... En nou word ons deur die rumoer na die paleis van Priamus geroep. Hier is 'n magtige geveg aan die gang: in vergelyking is die res van die gevegte en die mense wat deur die hele stad neergevel word, soos niks nie. Ons sien die oorlogsgod ongetem, Grieke wat na die dak toe stroom en die ingang beleër deur 'n skutdak van skilde.[29] Lere klou teen die mure vas; eintlik onder die deurstyle forseer die vyand 'n pad langs die lere op. Met hul linkerhande hou hulle die skilde teen die werptuie op, met hul regterhande gryp hulle die kantele op die muur aan. (57)

Die Trojane weer, ruk die torings en dak van die paleis los: met hierdie wapens - want hulle sien die end nader - maak hulle klaar om hulself te verdedig selfs op die grenslyn van die dood. Vergulde balke, die sierade van die voorvaders, rol hulle op die vyand af. Ander het met ontblote swaarde die deur by die ingang beset en is besig om hulle in digte geledere te bewaak. Ons moed word hernu om die koning se paleis te red, om die manskappe te help en af te los en die teruggedrewenes met nuwe krag te besiel.

Daar was 'n ingang met geheime deure en 'n gang wat van saal tot saal deur Priamus se paleis loop. Dit was 'n afgesonderde agter-poortjie: hier was die arme Andromache gewoond om dikwels, toe Troje nog gestaan het, alleen na haar man se ouers deur te gaan en die klein Astyanax na sy grootvader te bring. Ek klim tot die boonste dakpunt uit waar die ongelukkige Trojane vrugteloos hul spere afwerp. Daar staan 'n toring op 'n steilte wat hoog oprys na die sterre toe, waarvandaan jy die hele Troje kan sien en die kamp van die Grieke. Hierdie toring bestook ons met staal rondom, waar die boonste verdiepings swak plekke vertoon, en skeur hom los van sy verhewe plek en stoot hom oor. Skielik stort hy inmekaar met 'n nasleep van dreunende donder, en val wyd oor die geledere van die Grieke. Maar meer stroom (58) toe, en intussen verslap die reën van klippe en werptuie nie.

Net voor die voorhof en juis by die ingang is Pyrrhus.[30] Opgetoë hanteer hy sy wapens en glans met 'n lig van brons - soos 'n slang wat in die lig verskyn, gevoer op giftige kruie, nadat die koue winter hom opgeswel ondergrond gehou het; nou, in sy nuwe vel, in sy fris en glinsterende jeug, met bors omhoog, rol-gly hy vorentoe; hy rig hom sonwaarts op en in sy bek flikker sy drie-ledige tong. Pyrrhus gryp die strydbyl en breek die hardnekkige deur in, en skeur die brons-gebonde deure van hul spille los.[31] Hy kap 'n balk uit en maak 'n groot, gapende gat in die sterk eikehout. Die binnekant van die paleis lê nou oop, en jy kan die lang sale sien. Die binnekamers van Priamus en die outydse konings en die gewapende manskappe op die drumpel word geopenbaar.

Maar binnekant is die paleis verward met gekreun en jammerlike rumoer, en in die middel weerklink die gewelfde sale met vrouegeskreeu, en die geroep tref die gulde sterre. Deur die geweldige sale dwaal toe verskrikte moeders rond en omhels en soen die deurstyle. Met sy vader se krag dring Pyrrhus vorentoe: g'n grendels, g'n (59) wagte kan hom in sy vaart stuit nie. Die deur gee pad voor die herhaalde slae van die stormram, deure word uit hul spille geskeur en val vorentoe. Geweld baan 'n weg. Die Grieke storm binne en breek deur die ingang, vel die eerstes neer en vervul die plek orals met soldate. Nie met soveel woede nie breek 'n skuimende rivier deur sy walle heen en oorwin met sy vloed alles wat hom keer, en storm opgehoop, waansinnig op die lande los en voer oor die vlaktes vee en stal te same...

Miskien sal u ook vra wat die lot van Priamus was. Toe hy sy stad gevalle en ingeneem sien, die deure van sy paleis afgeruk en die vyand in die middel van sy tuiste, trek hy, oud soos hy is, tevergeefs sy lang-ongebruikte harnas oor sy skouers, bewende van ouderdom, en omgord sy nuttelose swaard en hardloop in 'n digte drom van vyande in om te sterwe.

In die middel van die paleis en onder die ope gewelf van die lug was daar 'n groot altaar, en daar naby 'n stok-oue lourierboom wat oor die altaar leun en die beelde van die huisgode in sy skaduwee omvat. Hier was Hecuba en haar dogters tevergeefs rondom die altaar, blindelings gedrywe soos duiwe in 'n donker storm; daar sit hulle, saamgedring, en omhels die beelde van die gode.[32] Maar toe sy selfs Priamus in die (60) harnas van sy jeug sien, roep Hecuba: „Foei tog, my man, watter waansin het jou gedrywe om hierdie wapens te omgord? Of waarheen wil jy? Nie sulke hulp of helpers van dié aard vereis die tyd nie, - nee, nie al was my seun Hector hier nie. Kom tog maar hier: hierdie altaar sal ons almal beskerm of op sy ergste sal hy saam met ons sterf." So spreek sy en trek die grysaard tot haar en stel hom in die heilige plek.

Maar kyk, Polites, een van die seuns van Priamus, ontsnap aan die slagting van Pyrrhus, en gewond vlug hy deur spere, deur vyande, langs die uitgestrekte suilegange en die leë sale. Pyrrhus is warm op sy spoor en dreig met sy wapen, en nou, nou vat hy hom byna raak: die speer bedreig hom van naby. Toe Polites eindelik voor die oë van sy ouers verby kom, val hy en giet sy lewe in 'n stroom van bloed uit.

Daarop het Priamus, ofskoon die dood hom reeds in sy kloue het, nie ontsien om woedend uit te roep nie: „Nee, vir hierdie misdaad so gruwelik, - as daar in die hemel enige getrouheid is wat sulke dinge gadeslaan - mag die gode aan jou gee die dank wat jou toekom en jou verdiende loon - aan jou wat my gedwing het om my eie seun se dood te aanskou en 'n vader se oë met moord geskend het! Nee, nie só is Priamus behandel deur daardie Achilles, wie se seun jy (61) valslik beweer te wees nie! Hy het 'n smekeling se reg en vertroue ontsien; hy het Hector se bloedlose lyk aan my teruggegee[33] en my teruggestuur na my koninkryk."

So spreek die ou man en werp sy swak en skadelose speer wat dadelik terugspring van die klinkende brons en vrugteloos afhang van die boonste deel van die skild se knop.

En Pyrrhus antwoord: „Dan sal jy met hierdie boodskap na my vader, die seun van Peleus, afdaal. Moenie vergeet om aan hom te vertel nie van my treurige dade en van sy ontaarde seun. En nou kan jy sterwe." Met hierdie woorde sleep hy hom eintlik tot by die altaar, terwyl hy nog gly in die strome van sy seun se bloed. Hy draai sy linkerhand in sy hare vas en met sy regterhand hef hy die blinkende swaard omhoog en steek dit tot by die handvatsel in die ou man se sy.

Só was die end van Priamus se lot: só die dood wat hom beskore was - om Troje in vlamme te sien en haar Burg 'n puinhoop - hy wat eens hoogmoedig geregeer het oor so baie rasse en landstreke, 'n koning van Klein-Asië. Daar lê hy, 'n magtige liggaam op die strand, die hoof van die skouers geskeur, 'n naamlose lyk.

Toe, vir die eerste keer, het 'n vreeslike siddering (62) my bevang. Ek staan verskrik, en voor my rys die beeld van my geliefde vader op toe ek so die koning aanskou, van gelyke ouderdom, wat daar sy lewe weghyg onder die wrede wond. Daar rys voor my op my verlate vrou Creüsa, die geplunderde huis, die lot van my seuntjie Iülus. Ek kyk om, en skat my manskappe. Almal, doodmoeg, het my verlaat en hul liggame op die grond neergewerp of hulpeloos in die vlamme geval. Ek was alleen.

Toe sien ek naby die tempel van Vesta hoe Helena[34] haar in die heilige plek stilletjies wegsteek. Voorgelig deur die helder vuur, loop ek orals en kyk. Hier dan was sy, - die bose gees van Troje en haar eie land: nou vrees sy die woede van die Trojane weens die vernieling van die Burg, die wraak van die Grieke en die toorn van haar man wat sy verlaat het. Vuur skiet in my gemoed op: woede laat my wens om my vallende land te wreek en die straf vir haar misdaad te eis....

Waansinnig storm ek op haar af toe my goedertiere moeder[35] voor my verskyn. Nog nooit het ek haar so helder-glansend gesien nie; in reine lig straal sy deur die donker heen; kenlik 'n godin, (63) so groot en so wonderlik soos sy gewoond is om voor die hemelbewoners te kom. Sy gryp my hand en keer my, en só is die woorde van haar rosige lippe:

„Seun, watter wrok gee aanleiding tot hierdie ontembare woede, hierdie waansin? Gee jy dan nie meer vir my om nie? Sal jy nie eers sien waar jy jou vader, afgemat van die ouderdom, agtergelaat het nie en of jou vrou Creüsa en jou seun Iülus nog lewe nie? Omsingel is hulle deur die Griekse magte: het ek hulle nie beskerm nie, sou die vlamme hulle lankal weggevoer het en die vyand se swaard hul bloed gedrink het.

„Weet dat dit nie die gehate gesig van Spartaanse Helena is nie, nie Paris, wat die skuld moet dra nie; dis die gode, die gode se onguns wat hierdie ryk omver gewerp het en Troje in die as laat neerstort het.[36] Aanskou, - want die wrok wat nou soos 'n sluier jou menslike gesig verdof en jou soos 'n mis benewel, sal ek heeltemal wegruim; vrees g'n bevel wat van jou moeder kom nie, weier nie om haar te gehoorsaam nie; - hier waar jy gebroke puinhope sien en rotse van rotse losgeskeur en golwe rook met stof gemeng, is dit Neptunus wat mure en fondamente laat bewe en met sy drie-tand ophef en die hele stad ontwortel. (64)

„Hier is dit Juno, wreedste van almal, wat die Scaeiese poort bewaak; omgord met staal roep sy woedend van die skepe haar bondgenote op. Kyk om: Pallas het reeds die hoogste torings ingeneem, glansend met haar storm-wolk en die wrede Gorgo.[37] Die Al-vader self gee die Grieke moed en geluk-bringende sterkte; self rui hy die gode op teen die Trojaanse wapens. Versnel jou vlug, my kind, en maak 'n end aan jou taak. Steeds sal ek jou bystaan en jou veilig op jou vader se drumpel plaas."

Met hierdie woorde verdwyn sy in die donker skaduwees van die nag. En nou sien ek vreeslike gedaantes - magtige gode wat teen Troje stry.

Toe was dit[38] dat ek die hele Troje in vlamme sien wegsak en die stad van Neptunus van haar fondament ontwortel. Só is dit wanneer op die bergtoppe houthakkers dringend wedywer om 'n bejaarde es-boom te vel, reeds deur die staal en blitsende byle gekap; hy dreig-dreig om te val, sy blare bewe, sy kop skud en knik; totdat hy, trapsgewyse oorweldig, met 'n laaste kreun wegskeur van die helling en donderend neerdreun.

Ek gaan af - 'n god is my gids - en vleg 'n (65) pad deur vlamme en vyande: wapens gee voor my pad en vlamme trek terug.

En nou bereik ek die deur van my vader se huis, die geliefde ou tuiste. Ek soek my vader die eerste, want dit was my plan om hom na die hoë berge te dra; maar hy weier om sy dae te verleng of om ballingskap te verduur, noudat Troje geval het.

„Julle", sê hy, „ja, julle wat die frisheid van jeug in jul bloed het, en wat sterk met natuurlike krag is, julle kan vlug. Wat my betref, as dit die wil van die hemelbewoners was dat ek langer sou lewe, sou julle my tuisplek hier bewaar het.... Lank reeds gehaat deur die gode en nutteloos, vertraag ek die jare..."

So gaan hy aan en bevestig sy besluit. En ons beween ons lot - my vrou Creüsa, Ascanius en ons hele huis; ons smeek dat ons vader nie alles saam met homself te gronde sal laat gaan of die las van die noodlot nog swaarder maak nie. Maar hy weier en bly onbeweeglik en onveranderd.... Weer omgord ek my met die swaard en steek my linkerarm in die skild en pas dit aan. Ek gaan uit: maar kyk, op die drumpel omhels Creüsa my voete en strek die klein Iülus na my uit.

„As jy dan weggaan om te sterwe, neem ons ook met jou saam: enige lot sal ons verduur. Maar as jou ondervinding jou raai om hoop in wapens te sien, beveilig dan hierdie huis in die eerste plek. (66)

Aan wie word die klein Iülus oorgelaat, aan wie jou vader en ek wat eens jou vrou genoem is?"

So roep sy en vervul die huis met kreuning; en toe verskyn daar skielik 'n voorteken, wonderlik om te vertel. Want tussen die hande en gesigte van sy treurende ouers, lyk dit of daar van die kop van Iülus 'n ligte vuurtong sy skynsel werp en onskadelik die sagte lokke lek en rondom sy slape speel. Ons bewe van vrees, skud die vlammende lokke uit en blus met water die heilige vuur. Maar my vader Anchises kyk dankbaar na die sterre en verhef na die hemel sy hande en sy stem:

„Almagtige Juppiter, as u deur enige gebede beweeg word, sien op ons neer, - dis al wat ek vra, - en as ons getrouheid dit verdien, gee 'n teken, O vader, en bevestig hierdie voorteken!"

Skaars het die ou man so gebid, of daar kom 'n skielike gedruis van donder op die linkerhand en 'n vallende ster in die hemel wat deur die donker voortgly en, helder skynend, 'n vurige spoor agterlaat. Ons sien dit oor die dak-toppe heengly en helder in die woud van Ida wegsink, met sy pad nog sigbaar: die ver-uitgestrekte ligvoor skitter en blink, en oral rondom is swaweldampe.

Eindelik hierdeur oorreed, staan my vader op en spreek die gode aan en aanbid die heilige ster. (67)

„Nou, ja nou, mag ons nie draal nie: ek volg, en waar u lei, daar is ek. Gode van my vaders, red my huis, my kleinkind. Van u kom hierdie teken en onder u mag staan Troje. Ja, ek gee in, en weier nie meer, my seun, om saam met jou te gaan nie."

So was sy woorde. En nou word die vuur duideliker deur die stad gehoor: nader en nader rol die vlamme-vloed. „Kom, liewe vader, bestyg my skouers: so sal ek u dra - 'n taak wat my nie sal vermoei nie. Wat ook al gebeur, dieselfde gevaar, dieselfde veiligheid sal ons twee deel. Laat die klein Iülus my vergesel en laat my vrou op 'n afstand volg. Julle, bediendes, hoor wat ek sê! As 'n mens die stad verlaat, sien jy op 'n heuweltjie die tempel van eensame Ceres en digteby 'n ou sipresboom, wat ons vaders deur baie jare eerbiedig bewaar het. Van verskillende kante sal ons op hierdie middelpunt saamkom. Vader, neem in u hand die heilighede en die gode van ons land; vir my, vars uit so 'n woeste geveg en onlangse bloedvergieting,[39] sou dit sonde wees om hulle aan te raak, totdat ek my in die lopende water was."

Met hierdie woorde sprei ek 'n geel leeu-vel oor my breë skouers en geboë nek uit en tel my vader op. Klein Iülus vat my hand en volg my met (68) ongelyke stappies. Agter loop my vrou. Ons gaan deur die skaduwees heen; en ek, wat lank reeds kalm gebly het onder 'n duisternis van werpspere, onder Grieke wat in digte dromme teen my kom, word nou verskrik deur elke windjie en verontrus deur elke geluid; angstig oor die uitkoms, vrees ek tegelyk vir my seuntjie en my vader.

En nou was ek naby die poorte en het ons byna ontvlug, toe ek skielik soos 'n gedrang om my ore, voetstappe skyn te hoor. My vader loer deur die donker en roep: „Vlug, my kind, vlug; hier kom hulle! Ek sien hul vurige skilde en blinkende brons." Ek was onthuts; en toe was dit dat 'n onvriendelike gees my ontroof het van my verwarde verstand. Haastig slaan ek sy-paadjies in - verlaat die strate wat ek ken - my vrou Creüsa, weggeraap deur 'n ongelukkige lot - het sy stilgestaan? of verdwaal? of uitgeput inmekaar gesak?

Ek weet nie. Nooit het ons haar weer gesien nie; en ek het nie omgekyk om haar te soek of aandag aan haar gewy voordat ons outydse Ceres se heilige tempel op die heuwel bereik nie. Hier, eindelik, toe almal vergader het, vind ons - die geselskap, haar man, haar kind - dat sy alleen ontbreek. Watter mens, watter god het ek nie in my waansin verwyt nie? Wat was daar wreder in die hele vernieling van die stad? Iülus, my vader, die stadsgode van Troje vertrou ek aan my helpers (69) toe en verberg hulle in 'n kronkelende vallei. Self gaan ek weer na die stad terug en omgord my vonkelende wapenrusting. Ek is vasberade om elke gevaar te hernu en terug deur die hele Troje my pad te vind en my lewe weer in die weegskaal te stel.

Eers nader ek weer die mure en die donker poort waar ek uitgegaan het; ek soek en volg en ondersoek my spoor agterwaarts deur die nag. Alles laat my sidder: die stilte self verskrik my. Dan gaan ek na my huis - miskien, wie weet? het sy haar daarheen gewend. Die Grieke het binnegekom en die hele plek oormeester. Dadelik rol die vernielende vlam na die daktoppe voor die wind; die vlamme is woes; die hittegolf styg hemelwaarts. Ek gaan verder en sien nog eenmaal die paleis van Priamus en die Burg. Nou, in die leë suilegange van Juno se heiligdom, hou Phoenix en die vreeslike Ulysses, gekose wagte, die buit veilig. Hier word die skatte van Troje, van alle oorde uit die afgebrande heiligdomme geplunder, opgehoop - tafels van die gode, mengvate van massiewe goud, buitgemaakte klede. Seuns en verskrikte moeders in 'n lang ry, staan rondom.

Ek het dit selfs gewaag om my stem deur die donker te verhef, ek het die strate met krete vervul, ek het Creüsa oor en oor geroep in my ellende, tevergeefs die naam herhaal. (70)

En toe, terwyl ek soek en waansinnig eindeloos ronddwaal tussen die huise van die stad, verskyn daar voor my die ongelukkige gees en gelykenis van Creüsa self, groter in gestalte as wat sy gewoonlik was. Van skrik rys my hare te berge en my tong kleef aan my verhemelte. Maar sy spreek my aldus aan en lenig my sorge met haar woorde:

„Wat baat dit om so aan waansinnige treurigheid toe te gee, geliefde man? Nie sonder die wil van die Hemel geskied hierdie dinge nie. Die gode laat nie toe dat jy my hier wegneem nie: dit is nie die wil van die Heerser van hoë Olympus nie. Vir jou wag daar 'n lang ballingskap, 'n geweldige see om deur te ploeg. Die land Hesperia sal jy bereik, waar die Lydiese Tiber sag-stromend deur ryk landerye van boere-helde vloei. Daar wag jou voorspoed en 'n koninkryk en 'n koninklike eggenote. Vergeet jou trane vir jou geliefde Creüsa. My lot sal dit nie wees om die hoë huise van die Myrmidones[40] of die Dolopes[41] te aanskou nie of om as slavin na huisvroue van die Grieke te vaar nie - ek, 'n dame van Troje en vrou van Venus se seun; nee, die magtige Moeder van die Gode[42] hou my op hierdie kuste. Vaarwel! bewaar die liefde vir die kind van ons twee." (71)

So spreek sy en verlaat my terwyl ek ween, smagtend om menige woord tot haar te sê; weg vlug sy in die dun lug terug. Driemaal daar het ek probeer om haar te omhels; driemaal vrugteloos aangegryp, het die verskyning my ontwyk, net soos die ligte winde en meeste soos gevleuelde slaap.

So, eindelik, toe die nag verby was, soek ek my vriende weer op.

Tot my verbasing, vind ek dat 'n menigte nuwe maats bygestroom het, moeders en mans, jongelinge vergader vir ballingskap, 'n jammerlike bende. Van alle kante het hulle saamgevloei, met gees en goedere gereed om te volg na enige land waarheen ek hulle oor die see sou lei.

En nou was die Môre-ster besig om te rys oor die hoogste kranse van Ida, besig om die Daeraad in te lei. Die Grieke is baas van die poorte wat hulle beset: hoop vir hulp was uitgeslote.

Ek stem in en lig my vader op en baan my pad na die berge. (72)

Voetnotas[edit]

  1. Troje.
  2. 'n Rituele gebruik.
  3. Suidelike punt van Griekeland.
  4. Vgl. Tennyson se bekende gedig.
  5. Kyklops: Ronde-Oog, Een-Oog.
  6. Die smekeling het die knieë omvat van hom tot wie hy sy gebed rig.
  7. Daar is altyd iets komiekliks in die Kyklopsfigure. Vgl. Euripides se Kyklops.
  8. Odysseus betoon nou minder respek as tevore.
  9. Poseidon, god van die see, vader van Polyphemus en vyand van Odysseus.
  10. Odysseus (Ulysses) dra 'n ander karakter in Vergilius en die Attiese drama as in Homerus: wreder en listiger.
  11. Thessaliese stam.
  12. Die Koning van Troje.
  13. Vgl. Vondel se drama van die naam.
  14. Agamemnon en Menelaos, aanvoerders van die Grieke.
  15. Iphigeneia, wat geoffer moes word, volgens die orakel, sodat die Griekse vloot kon wegseil na Troje toe.
  16. Hulle word om die hoofde van priesters en offerdiere gebind.
  17. Pallas Athena, die goddelike Maagd, wat ook in Troje aanbid is.
  18. Die Burg van Troje.
  19. Dit was die gewoonte van Romeinse generaals, as iets van ongunstige religieuse betekenis op kommando gebeur, om na Rome terug te keer om nuwe leiding of voortekens (auspicia) van die gode te ontvang.
  20. Apollo, god van profesieë.
  21. Vir 'n hexameter-vertaling, sien Tria Corda, bls. 35.
  22. Hector is deur Achilles om die mure van Troje gesleep, toe Achilles waansinnig van leed was oor die dood van sy vriend Patroklos.
  23. Aeneas was die seun van Venus.
  24. Dit was die gewoonte om die klein beeldjies wat die stadsgode voorstel, saam te dra as 'n stad vergoed verlaat word: anders verloor jy hul beskerming.
  25. Vir 'n versvertaling, sien Tria Corda, bls. 60.
  26. 'n Ander naam vir die Trojane.
  27. In S.O.-Griekeland, die stad van Agamemnon, opperbevelhebber van die Grieke.
  28. Agamemnon en Menelaos, aanvoerders van die Griekse leër.
  29. Die soldate het hul skilde in digte geledere bokant hul koppe gehou om hulself teen die verdedigers op die mure te beskerm.
  30. Seun van Achilles.
  31. Antieke deure is nie op skarniere gehang nie, maar het om 'n spil, bo en onder, gedraai.
  32. Dié houding verskaf gewoonlik vrystelling van geweld.
  33. Die hoogtepunt in die ontwikkeling van Achilles se karakter, Ilias XXIV.
  34. Die skaak van Helena na Troje deur Paris, seun van Troje, was een van die oorsake van die Trojaanse oorlog.
  35. Venus, godin van die Liefde - Liefde wat hier deur Vergilius ook in geestelike sin vertolk word.
  36. Sy wys op die oorsake wat dieper lê as wat die stoflike kan raaksien.
  37. Die kop van Medusa, een van die monsteragtige Gorgones, op haar skild.
  38. Vir 'n versvertaling, sien Tria Corda, bls. 61.
  39. Vgl. Dawid en die bou van die tempel.
  40. Griekse stamme.
  41. Griekse stamme.
  42. Cybele, die godin van Klein-Asië, wat later ook deur die Romeine, die afstammelinge, volgens die verhaal, van die Trojane, erken is