Die Kortverhaal van die Grieke en Romeine I/Die kortverhaal as fabel

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Die kortverhaal as spookstorie Die Kortverhaal van die Grieke en Romeine I
Die kortverhaal as fabel
deur T.J. Haarhoff
Die kortverhaal in die retoriek


Die kortverhaal as fabel

Die eerste definitiewe naam wat ons met die dierfabel kan verbind is die van Aisópos - om die naam sy oorspronklike vorm te gee -'n Griekse slaaf van die eiland Samos uit die 6de eeu voor Christus. Vir ons is dit 'n half-legendariese naam, en 'n aantal fabels, waarvan die wortels nog teruggaan tot in die oer-eeue van die Noordelike rasse, is mettertyd onder die naam versamel.

Hierdie versameling is dikwels deur verskillende skrywers gebruik: ons vind dele daarvan in Ennius, Lucilius en Horatius. Na die tyd van Augustus is Indiese dierverhale, met moraliserende toepassings, deur 'n gesantskap wat uit Ceylon na Rome gestuur was, bekend geword. 'n Versameling van Aesopiese fabels wat omstreeks die jaar 300 voor Christus deur Demetrius Phaleron, een van die stigters van die groot Alexandrynse Biblioteek, bymekaar gebring is, is vyfhonderd jaar later in een corpus saamgevoeg met die Oosterse fabels; en hieruit weer het Babrius (126) die stof vir sy Griekse verse geput, wat miskien in die 3de eeu na Christus die lig gesien het. In die 4de eeu na Christus het Avianus sy twee-en-veertig fabels in onbesielde Latynse verse geskrywe. En so gaan die dierfabel 'n briljante loopbaan tydens die Middeleeue tegemoet.

Maar die man wat die Aesopiese fabel met die meeste humor en behendigheid gebruik het, - 'n behendigheid wat nie in 'n prosa-vertaling tot sy reg kom nie, - was Phaedrus; oorspronklik 'n slaaf uit die Noorde van Griekeland, het hy in die eerste gedeelte van die eerste eeu na Christus geleef en 'n vrygelatene in die paleis van die Keiser Augustus geword.

Hy was egter nie 'n slaafse navolger van Aesopus nie: soos die meeste Latynse skrywers, het hy 'n Romeinse stempel afgedruk op wat hy geleen het. Oorspronklik 'n slaaf soos Aesopus self, is dit sy begeerte om die eer te verwerf wat die Atheners aan Aesopus vergun het. Sy satire het hom egter meer vyande as vriende besorg, en ons hoor dat Sejanus, die berugte Minister van Keiser Tiberius, 'n hofsaak teen Phaedrus ingestel het. Baie egte lewenswysheid, en lewenswaarneming skuil in die eenvoudige uitbeelding van dieregedrag. Dog nie al Phaedrus se fabels het met diere te doen nie, soos onderstaande bewys.

Hulle is meestal op die versameling van Demetrius gebaseer. (127)

O, die liewe Dokters! (Phaedrus I, 14.)[edit]

'n Lomp skoenmaker wat tot die bedelstaf gedwing is, begin dokter speel in 'n onbekende plek. Onder 'n valse naam verkoop hy medisyne wat alle gif sou teenwerk, en sy slimpraatjies maak hom naderhand heeltemal beroemd.

Die koning van die stad lê ernstig siek en vra 'n beker van sy medisyne aan, as 'n proefneming. Hy skink water daarby in en gee voor dat hy gif met die medisyne meng. Dit gee hy aan die skoenmaker om te drink, en belowe 'n beloning, as die antidoot die gif teenwerk.

In doodsangs beken die skoenmaker toe dat dit nie deur enige bekwaamheid in die mediese kuns was dat hy beroemd geword het nie, maar deur die domheid van die volk.

Daarop roep die koning sy raad byeen en sê: „Wat dink julle nou van julle eie malligheid! Julle aarsel nie om julle koppe[1] aan 'n man toe te vertrou nie, aan wie niemand selfs die skoei van sy voete wil oorlaat nie!"

Politieke Veranderinge en die Volk. (Phaedrus I, 16.)[edit]

As daar 'n verandering van regering kom, is die enigste verandering vir die arm mense - die (128) naam van hul meesters. Dit is die les van hierdie fabel.

'n Bangerige ou man was besig om 'n esel in 'n weiland te voer. Verskrik deur 'n skielike rumoer van die vyand, probeer hy die esel ompraat om te vlug en nie gevang te word nie.

Maar dié antwoord ewe tydsgenoeg: „Ek vra jou nou - sal die oorwinnaar 'n dubbele paksaal op my vasmaak?"

„Nee," antwoord die ou man. „Nou ja, wat skeel dit my dan wie ek dien, - solank as ek maar my enkele paksaal behou?"

Skielike Goedhartigheid. (Phaedrus I, 23.)[edit]

Die man wat alte skielik gulhartig word, is populêr by die dwase, maar vir die ervarenes sprei hy vergeefs sy net uit.

'n Nag-dief gooi eenmaal 'n stuk brood vir 'n hond, om te sien of hy hom só kan vang.

„Hoor hier," sê die hond, „dink jy dat jy my stem kan smoor, sodat ek nie vir die veiligheid van my baas se besittinge sal blaf nie? Moenie glo nie! Daardie vriendelikheid van jou is alte skielik! Dit waarsku my om waaksaam te wees, sodat jy nie deur my nalatigheid wins maak nie."

Die Man altyd die Prooi. (Phaedrus II, 2.)[edit]

Dat die man in alle gevalle die prooi van vroue word, of hy nou minnaar en of hy beminde is, (129) kan ons waarlik uit die lewe rondom ons leer.

'n Elegante dame het 'n sekere man van middelbare leeftyd bemin, - 'n dame wat haar jare kunsmatig verberg het. Tegelykertyd het 'n mooi jong dame ook die hart van die man gesteel. Daar albei graag as van gelyke ouderdom met hom wou voorkom, begin hulle beurtelings sy hare uittrek.

Toe hy nog dink dat hy sorgvuldig opgeknap word, vind hy skielik dat hy kaalkop is. Want die jong dame het alleen die grys hare uitgetrek, en die oue die swartes.

Vryheid is maar soet. (Phaedrus III, 7.)[edit]

'n Wolf, gedaan van die honger, ontmoet toevallig 'n welgevoede hond. Hulle staan stil en groet mekaar:

„Vriend," sê die wolf, „hoe kom dit dat jy so blink-vet daar uitsien? Wat vreet jy om jou so 'n gewig te gee? Ek, wat baie sterker is, vergaan van honger."

Die hond antwoord eenvoudig: „Jy kan op dieselfde voet lewe, as jy 'n gelyke diens aan die baas bewys."

„En wat is dit?" vra die wolf.

„Om sy huis te bewaak en teen nagtelike diewe te beskerm. Ek, byvoorbeeld, kry my kos aangedra, omdat ek die gewoonte het om die naderende misdadiger aan te kondig. Die baas gee my 'n been (130) van sy tafel, die slawe gooi vir my stukkies en brokkies en die lekkernye wat die gaste laat oorbly. So kry ek my maag sonder moeite vol."

„Nou ja," sê die wolf, „daartoe is ek bereid. Nou verduur ek sneeu en reën en dit gaan maar ellendig met my in die bosse. Hoeveel makliker om onder dak te lê en op my gemak my dik te vreet aan oorvloedige kos!"

„Wel, kom maar saam," sê die hond.

Op pad merk die wolf hoe die hond se nek deurgeslyt is van die ketting.

„Hoekom so, my vriend?" vra hy.

„Ag, dis niks nie."

„Nee, maar vertel my asseblief."

„Wel, hulle maak my vas oordag omdat ek so kwaai lyk, sodat ek in die dag kan slaap en in die nag waaksaam wees. As dit donker word, maak hulle my los, en dan dwaal ek rond waar ek wil."

„Maar sê my, as jy lus het om êrens te gaan, word jy toegelaat?"

„Nee, sekerlik nie," sê die hond.

„Wel, ou hond, geniet dan maar die lewe wat jy aanprys: 'n koning wil ek nie wees nie, as ek my vryheid daarby moet inskiet."

Ken uself. (Phaedrus III, 8.)[edit]

'n Man het 'n baie lelike dogter gehad en 'n seun van uitstaande skoonheid. (131) Die twee speel soos kinders saam en kry toevallig 'n spieël in die hande wat hul moeder op 'n stoel neergesit het, en kyk daarin.

Die seun spog oor sy skoonheid: die meisie word kwaad en verdra nie die spot van haar grootprater-broer nie: want sy neem, nie onnatuurlik nie, aanstoot aan sy woorde. Sy hardloop dus na haar vader toe om wraak te neem, en met groot haatlikheid beskuldig sy die seun daarvan dat hy met 'n voorwerp van die vrouekamer gespeel het, - iets wat verbode was.

Maar die vader omhels albei, soen hulle en wys hulle hoe lief hy hul het.

„Ek wil hê," sê hy, „dat julle elke dag in die spieël kyk: jy, my seun, sodat jy jou skoonheid nie deur die vloek van ondeug ontsier nie; en jy, my dogter, sodat jy deur jou deug sal goedmaak wat aan jou voorkome ontbreek."

Hy soek 'n Mens. (Phaedrus III, 19.)[edit]

Toe Aesopus die enigste slaaf van sy baas was, is hy beveel om die dinee vroeër as gewoonlik klaar te maak. Hy gaan toe van huis tot huis om vuur[2] te soek en vind eindelik 'n huis waar hy sy lantern kon aansteek. (132)

Hy het 'n taamlike lang pad omgeloop, en op sy terugreis het hy 'n kort pad gekies - reguit deur die forum. Toe roep 'n kekkelbek hom uit die menigte toe: „Aesopus, hoekom dan 'n lig so helder oordag, hè?"

„Vriend," sê die ou baas, „ek soek 'n Mens!"

Wraaksug betaal nie. (Phaedrus IV, 4.)[edit]

Op die plek waar Perd gewoond was om te drink, het Wildevark rondgevroetel en die water modderig gemaak. Toe stry die twee. Klink-hoef, vererg oor die wilde dier, vra Mens om hulp; hy neem hom op sy rug, en keer na die vyand terug, vreeslik in sy skik. Die ruiter maak vir Wildevark met sy wapens dood en praat toe as volg, soos hulle vertel:

„Dit verheug my dat ek, in antwoord op jou smeking, jou kon help: want in jou het ek 'n buit gewen en geleer hoe nuttig jy vir my is." En so dwing hy hom teen heug en meug, om 'n toom te dra. Perd word treurig en sê:

„Wat 'n dwaas is ek tog; ek soek weerwraak vir 'n beuselagtigheid en vind - slawerny."

Om onsself te sien... (Phaedrus IV, 10.)[edit]

Die koning van die Hemel het twee sakke op elk van ons gelaai: die een, vol van ons eie foute, is op ons rug: die ander, 'n swaar sak, vol van die foute van ons bure, het hy voor ons bors gehang. (133)

Daarom is dit dat ons ons eie gebreke nie kan raaksien nie, maar klaar staan met ons kritiek sodra ander mense mistrap.

Kultuur-skreeuers: ridiculus mus (Phaedrus IV, 23.)[edit]

Die berg is in barensnood en kreun geweldig. Deur die hele wêreld was daar die hoogste verwagtinge. Maar sy baar 'n muis. Dit is vir jou gemeen, wat dinge dreig maar niks tot stand bring nie.[3]

Simonides. (Phaedrus IV, 22.)[edit]

'n Geleerde man dra sy rykdom in homself rond.

Simonides, wat die pragtigste liriese poësie geskrywe het, begin rondreis deur die beroemde stede van Klein-Asië, - want hy was brandarm - en vir 'n beloning maak hy gedigte ter ere van oorwinnaars. Op hierdie manier word hy ryk en wil terug seil na sy vaderland, die eiland van Ceos, soos hulle vertel.

Hy gaan aan boord; maar 'n vreeslike storm en die lamlendigheid van die planke laat die skip in die middel van die see vergaan. Hier gryp mense na die beurse, daar na die skatte waarvan hulle moet lewe. (134)

'n Nuuskierige vent vra: „Simonides, gaan jy dan niks uit jou besittinge red nie?" „Al my besittinge," antwoord hy, „is by my."[4]

Die gevolg was dat net 'n paar mense uitgeswem het: Toe kom daar nog rowers wat die ontkomelinge almal kaal uitskud.

Toevallig was hulle naby die historiese stad Clazomenae, en daarheen vlug die skipbreukelinge. Hier was 'n literêre man wat dikwels die verse van Simonides gelees het en die digter, al het hy hom nooit gesien nie, erg bewonder het, en hy ken sommer vir Simonides aan sy taal en ontvang hom met gretigheid in sy huis. Hy gee hom klere, geld, bediendes.

Die ander dra hul prentjies rond en bedel.[5] Simonides ontmoet hulle toevallig, en toe hy hulle sien, merk hy op:

„Ek het julle mos gesê dat ek al my besittinge by my dra: wat julle uit die skip gegryp het, het julle verloor."

Nog iets omtrent Simonides. (Phaedrus IV, 25.)[edit]

Ek het reeds gesê watter invloed geleerdheid onder die mense uitoefen: nou sal ek vertel watter eer die gode daaraan gee. (135)

Dieselfde Simonides wat ek genoem het, het toegestem om vir 'n vasgestelde som die lof van 'n sekere vuisvegter te besing, en daarom soek hy 'n afgesonderde plekkie. Die powere onderwerp beperk sy verbeeldingsvlug, en hy gebruik toe die gewone poëtiese vryheid en bring Castor en Pollux[6] in sy gedig in, as voorbeelde van dergelike lof. Hy het sy kontrak vervul: maar slegs een-derde van die beloofde prys ontvang. Toe hy die res eis, sê die man: „Vra maar vir hulle wat in die ander twee-derdes van die gedig geprys word. Maar, sodat hulle nie sal dink dat ek jou uit kwaadaardigheid weggestuur het nie, belowe tog om by my te kom eet: ek wil 'n paar bloedverwante uitnooi, en ek reken jou onder hulle."

Ofskoon hy bedrieg was en gekrenk gevoel het, het hy tog belowe, sodat hy nie deur onhoflikheid alle vriendelikheid sou bederwe nie.

Op die vasgestelde tyd, kom hy weer en neem sy plek in. Vrolik blink die bekers op die feesmaal: die huis weerklink van blydskap: die voorbereidsele is weelderig en deftig.

Skielik verskyn twee jongelinge vol stof en sweet, maar van meer as menslike gedaante, en sê vir 'n (136) slafie dat hy Simonides moet gaan roep: hy moet hom sê dat dit in sy belang is om dadelik te kom. Verskrik, roep die slaaf vir Simonides; en skaars was hy buitekant die eetsaal, toe dit ineenstort en die ander mense verbrysel. En by die deur was daar g'n jongelinge te sien nie.

Die Here Critici. (Phaedrus V, 5.)[edit]

'n Sekere ryk man wat die volk op 'n groot skaal wou vermaak, nooi almal uit om elkeen die vindingrykste nuwigheid wat hy kan, te vertoon. Daarvoor word 'n prys uitgeloof. Die hansworste vergader om roem te verwerf, en onder hulle was 'n nar, goed bekend vir sy vindingrykheid. Hy sê dat hy 'n vermaaklikheid het wat nog in g'n enkele teater vertoon is nie.

Toe hierdie gerug bekend word, kom die hele stad kyk: waar dit voorheen leeg was, stroom dit nou oor van mense.

So gou soos hy op die verhoog verskyn, alleen, sonder helpers, sonder apparaat, was daar so 'n gespanne verwagting, dat jy 'n speld kon hoor val. Skielik laat hy sy kop op sy bors sak en maak 'n otjie se stem so goed na, dat die mense dink: „Die vent het wragtie 'n vark onder sy mantel!" en sê hy moet uitgeskud word. Dit doen hulle, hul kry niks nie; hulle oorlaai die kêrel met uitnodigings en begelei hom met die hoogste loftuitinge. (137)

Nou sien 'n boerseun dit. „Wragtie," sê hy, „ek sal hom uitstof!" en belowe sommer dat hy die ding beter op die volgende dag sal doen.

Nog groter is die toestroming. Reeds bevooroordeeld, - dit moet jy weet - kom hulle nou om te spot, nie om toeskouers te wees nie.

Albei kom vorentoe. Die nar maak sy varkgeluidjies eerste: hulle juig hom toe en skree hul goedkeuring.

Toe kom die boerseun. Hy maak of hy 'n vark onder sy mantel wegsteek - dit doen hy ook: maar hulle verdink hom nie, omdat hulle niks by die ander kêrel gekry het nie -, pluk aan die oor van die dier en maak hom seer, sodat hy sy natuurlike geluid uit.

Soos een man, skree die mense dat die nar 'n baie natuurliker nabootsing gegee het, en drywe die boerseun met geweld uit.

Daarop bring hy die werklike varkie uit die voue van sy mantel te voorskyn, bewys hulle duidelik hulle laakbare dwaling en sê:

„Aha, nou sien ons watter soort beoordelaars julle is!" (138)

Voetnotas[edit]

  1. D.i. „lewe": „caput" in die oorspronklike het albei betekenisse.
  2. Arm mense het die vuur onder die as laat smoor of anders van 'n buurman geleen. Plautus sê dat dit die gewoonte was om selfs nie vir 'n vyand vuur te weier nie. (Trinumnus II, 2.)
  3. Ridiculus mus, belaglike muisie. Horatius het die fabel in een reël opgesom: Die berge gaan swanger; daar sal gebore word - ridiculus mus.
  4. Dit laat dink aan die leuse van 'n Boere-kommando. „Omnia mea mecum porto": al my besittinge dra ek by my.
  5. Dit was die gewoonte van skipbreukelinge om 'n skildery wat hul ongeluk voorstel, te vervaardig, en daarmee rond te loop en bedel. Vgl. Horatius Carm. I, 5.
  6. Castor was 'n beskermgod van perde, Pollux van vuisvegters. Hulle het ook matrose beskerm. Hulle word voorgestel as jongelinge.