Wet op die Prince Edward-eilande, 1948

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Wet op die Prince Edward-eilande, 1948  (1948) 
by Parlement van die Unie van Suid-Afrika
[ 353 ]
Wet


Om voorsiening te maak vir die bevestiging van die anneksasie aan die Unie van Suid-Afrika van die Prince Edward-eilande, en vir die bestuur en regering van en die beheer oor genoemde eilande.



(Afrikaanse teks deur die Goewerneur-generaal geteken.)
(Goedgekeur op 1 Oktober 1948.)


Nademaal effektiewe besetting en bestuur van Marion-eiland en Prince Edward-eiland onderskeidelik op die negen-en-twintigste dag van Desember 1947 en die vierde dag van Januarie 1948 tot stand gebring is, en sodanige besetting en bestuur blywend sal voortduur:

En nademaal by proklamasie uitgevaardig deur Sy Eksellensie die Goewerneur-generaal, gedagteken die twaalfde dag van Januarie 1948, verklaar is dat die soewereiniteit van Sy Majesteit oor genoemde eilande voortaan deur Sy Majesteit se Regering in die Unie van Suid-Afrika uitgeoefen word:

En nademaal dit raadsaam is om formeel te verklaar dat genoemde eilande geannekseer is aan en deel uitmaak van die Unie van Suid-Afrika, en om behoorlik en deeglik voorsiening te maak vir die bestuur en regering van en die beheer oor genoemde eilande:


So word dit derhalwe bepaal deur Sy Majesteit die Koning, die Senaat en die Volksraad van die Unie van Suid-Afrika as volg:—


Anneksasie van Marion-eiland en Prince Edward-eiland.

1. (1) Hiermee word verklaar dat die gebied bekend as die Prince Edward-eilande, wat bestaan uit Marion-eiland, geleë op breedtegraad 46° 53′ S., lengtegraad 37° 45′ O., en Prince Edward-eiland, geleë op breedtegraad 46° 36′ S., lengtegraad 37° 57′ O. (hieronder die Gebied genoem) geannekseer is aan en deel uitmaak van die Unie van Suid-Afrika.

(2) Vir die doeleindes van die regsbedeling, en by die toepassing van die wette van die Unie in die algemeen, word geag dat die Gebied geleë is binne die magistraatsdistrik wat die stad Kaapstad insluit, en deel uitmaak van die kiesafdeling wat die hawe van die stad Kaapstad insluit.


Toepassing van gemenereg.

2. Die Romeins-Hollandse Reg, soos dit in die Provinsie die Kaap die Goeie Hoop bestaan en toegepas word, hetsy by wyse van regterlike vertolking of soos gewysig deur wetsbepalings, is in die Gebied van krag as die gemenereg van die Gebied.


Toepassing van wettereg.

3. (1) Die wette in die Bylae van hierdie Wet gemeld, asook enige wysigings daarvan wat van tyd tot tyd aangebring mag word, is in die Gebied van toepassing vir sover hulle toepaslik is.

[ 355 ](2) Die Goewerneur-generaal kan voorts, by proklamasie in die Staatskoerant, verklaar dat 'n Wet wat in die Provinsie die Kaap die Goeie Hoop van krag is, met sodanige wysigings as wat hy mag goeddink in die Gebied van krag is, en kan so 'n wet herroep, wysig of beperk, of nuwe wette op die Gebied toepas.

(3) (a) 'n Proklamasie wat ooreenkomstig sub-artikel (2) uitgevaardig word, word binne veertien dae na bekendmaking in beide Huise van die Parlement ter Tafel gelê indien die Parlement dan 'n gewone sitting hou, of indien hy nie dan 'n gewone sitting hou nie, binne veertien dae na die aanvang van sy eersvolgende gewone sitting, en bly dan op genoemde Tafels soos voormeld vir 'n tydperk van minstens agt-en-twintig agtereenvolgende dae. Indien die Parlement geprorogeer word voordat die nodige agt-en-twintig dae verloop het, word so 'n proklamasie weer soos voormeld binne veertien dae na die aanvang van die volgende gewone sitting ter Tafel gelê.

(b) Indien beide Huise van die Parlement by besluite wat gedurende dieselfde sitting geneem is (naamlik 'n sitting waarin 'n in paragraaf (a) bedoelde proklamasie behoorlik ter Tafel gelê is), so 'n proklamasie of 'n bepaling van so 'n proklamasie afgekeur het, is so 'n proklamasie daarna in die mate waarin dit aldus afgekeur word, nie meer van krag nie, maar sonder afbreuk te doen aan die geldigheid van enigiets wat ooreenkomstig so 'n proklamasie gedoen is tot die tydstip waarop dit aldus opbou om van krag te wees, of aan 'n reg, voorreg, verbintenis of verpligting wat op gemelde tydstip kragtens of ingevolge so 'n proklamasie verkry is, toegeval het of aangegaan is.


Beperking op toekomstige toepassing van wette.

4. Geen Wet van die Unie-Parlement wat na die datum van inwerkingtreding van hierdie Wet aangeneem word, is op die Gebied van toepassing nie, tensy so 'n Wet uitdruklik bepaal dat dit aldus van toepassing is, of tensy dit by proklamasie van die Goewerneur-generaal aldus van toepassing verklaar word.


Kort titel.

5. Hierdie Wet heet die Wet op die Prince Edward-eilande, 1948.




Bylae.

De Boedelwet, 1913.
De Wet op Vrederechters en Eden, 1914.
De Wet op de Kriminele Procedure en Bewijsievering, 1917.
De Wet op Spesiale Vrederechters, 1918.
De Wet op Lijkschouwingen, 1919.
Die Magistraatshowewet, 1944.
Die Wet tot Konsolidasie van die Kieswette, 1946.
This work was created and first published in South Africa and is in the public domain because it is an official text of a legislative, administrative or legal nature, or an official translation of such a text.

According to the Copyright Act, 1978, § 12 (8) (a), "No copyright shall subsist in official texts of a legislative, administrative or legal nature, or in official translations of such texts[.]"


As an edict of a government, it is also in the public domain in the United States.