Page:Prince Edward Islands Act 1948.djvu/2

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
This page has been proofread.
353
Prince Edward-eilande.

Wet No. 43 van 1948.

Wet


Om voorsiening te maak vir die bevestiging van die anneksasie aan die Unie van Suid-Afrika van die Prince Edward-eilande, en vir die bestuur en regering van en die beheer oor genoemde eilande.



(Afrikaanse teks deur die Goewerneur-generaal geteken.)
(Goedgekeur op 1 Oktober 1948.)


Nademaal effektiewe besetting en bestuur van Marion-eiland en Prince Edward-eiland onderskeidelik op die negen-en-twintigste dag van Desember 1947 en die vierde dag van Januarie 1948 tot stand gebring is, en sodanige besetting en bestuur blywend sal voortduur:

En nademaal by proklamasie uitgevaardig deur Sy Eksellensie die Goewerneur-generaal, gedagteken die twaalfde dag van Januarie 1948, verklaar is dat die soewereiniteit van Sy Majesteit oor genoemde eilande voortaan deur Sy Majesteit se Regering in die Unie van Suid-Afrika uitgeoefen word:

En nademaal dit raadsaam is om formeel te verklaar dat genoemde eilande geannekseer is aan en deel uitmaak van die Unie van Suid-Afrika, en om behoorlik en deeglik voorsiening te maak vir die bestuur en regering van en die beheer oor genoemde eilande:


So word dit derhalwe bepaal deur Sy Majesteit die Koning, die Senaat en die Volksraad van die Unie van Suid-Afrika as volg:—


Anneksasie van Marion-eiland en Prince Edward-eiland.

1. (1) Hiermee word verklaar dat die gebied bekend as die Prince Edward-eilande, wat bestaan uit Marion-eiland, geleë op breedtegraad 46° 53′ S., lengtegraad 37° 45′ O., en Prince Edward-eiland, geleë op breedtegraad 46° 36′ S., lengtegraad 37° 57′ O. (hieronder die Gebied genoem) geannekseer is aan en deel uitmaak van die Unie van Suid-Afrika.

(2) Vir die doeleindes van die regsbedeling, en by die toepassing van die wette van die Unie in die algemeen, word geag dat die Gebied geleë is binne die magistraatsdistrik wat die stad Kaapstad insluit, en deel uitmaak van die kiesafdeling wat die hawe van die stad Kaapstad insluit.


Toepassing van gemenereg.

2. Die Romeins-Hollandse Reg, soos dit in die Provinsie die Kaap die Goeie Hoop bestaan en toegepas word, hetsy by wyse van regterlike vertolking of soos gewysig deur wetsbepalings, is in die Gebied van krag as die gemenereg van die Gebied.


Toepassing van wettereg.

3. (1) Die wette in die Bylae van hierdie Wet gemeld, asook enige wysigings daarvan wat van tyd tot tyd aangebring mag word, is in die Gebied van toepassing vir sover hulle toepaslik is.