Oom Gert vertel en ander gedigte/Op die Kerkhof

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
In die Boesmanland Oom Gert vertel en ander gedigte
Op die Kerkhof
deur C. Louis Leipoldt
In ou Booi se Pondok


Op die Kerkhof.
[edit]

Eergister het ek na die plek gegaan,
     Daar waar die aalwyn en die varkblom bloei,
     Daar waar die doringboom nooit word gesnoei;
Waar elke leiklip as 'n grafsteen staan.
Dit was al laat, en om my het die maan
     'n Silwerlig versprei, soos, as jy roei,
     Die lang, blink sterre in die water groei.
Die kerkklok het strak agter my geslaan,
Ses, sewe, ag en neënuur, en nou
     Was alles weer heel stil. Ek dag, ek hoor
         Die aandgebed van elke mug en mot,
Wat in die maanlig kom vergaadring hou:
     Hul sing en maak gegons, net soos 'n koor,
         As lofsang aan 'n onbekende God.

As ek nou eenmaal sterwe, as ek is
     'n Lyk, waarin geen asem en geen krag,
     Met hande sonder voelte, sonder mag,
En met 'n oog, wat al sy glinstring mis—
As ek so lê, en self niks kan beslis,
     Moet julle my nie uit die helder dag
     Wegslinger in 'n eindelose nag,
Wat niks as my verwording vergewis;
Want ek wil nie tot duister kerkers keer,
     Die noue graf vir ewig om my voel!
         Verbrand my liewers, dat ek boontoe rys,
In vuur en vlam kan opklim tot die Heer,
     Deur al die wêreld se rumoer en woel,
         Tot oor die drimpel van die Paradys.