Oom Gert vertel en ander gedigte/In ou Booi se Pondok

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Op die Kerkhof Oom Gert vertel en ander gedigte
In ou Booi se Pondok
deur C. Louis Leipoldt
Die Verkleurmannetjie


In ou Booi se Pondok.
[edit]

Outa Booi, die wind speel dapper,
                      en dis bitter, bitter koud;
Kyk, daarbuite spoel die bliksem
                      al die wolke geel met goud;
En jy bibber in jou bene,
                      want jy is al baie oud.

Is daar plek, hier by jou vuurherd,
                      waar 'n Kristenmens kan sit?
Gooi nog hout daar op die kole,
                      want jou as is amper wit:
En die kou die gee jou sinkings,
                      en dit trek jou been uit lid.

So! nou is ons lekker warm hier,
                      Gee 'n kommetjie vir my
Vol met koffie uit die kan daar,
                      outa, aan jou regtersy:
Ek hou baie van goei koffie—
                      as ek dit maar nog kan kry.

Kom, vertel my uit die verte,
                      toe jy nog 'n slafie was,
Toe die oubaas jou verkoop het
                      vir twee perde en 'n kas—
Net soos jy nou self aan oubaas,
                      vir sy looi, jou sakkie bas.

Was die mense toe so vroom al,
                      as die mense is vandag?
Het die boere toe die swartvolk,
                      soos 'n boerplaas maar verpag?
Het ons toe, soos nou, oor alles,
                      wat belangryk is, gelag?

Was dit lekker in die dae?
                      Was dit beter in die tyd?
Was die ounooi regtig ounooi
                      vir haar jong en vir haar meid?
En die oubaas regtig oubaas?
                      Was die wêreld al so wyd?

In die Kaap, daar lê 'n ketting—
                      ja, dis oud, maar dis nog heel—
In 'n kamer, swart en donker,
                      van die aaklig ou Kasteel,
Met 'n ring, wat vasgemaak was
                      eertyds om 'n slaaf se keel.

Daar's 'n kats daar, en die plek nog,
                      waar die galg gestaan het: ja,
Onse ouers het geweet, hoe
                      om te martel en te pla,
Maar miskien ook baie beter,
                      hoe om pyn en smart te dra.

Daar was reuse in die dae—
                      ook al was die wêreld vaal,
En al het ook daar die duiwel
                      in die donker rondgedwaal,
En so baie van die harte
                      met sy nukkies opgesaal.

Daar was liefde toe, kennis—
                      skoon ons nou daarmee so spot—
Elke man was groot genoeg toe
                      vir sy eie siel en lot,
En ek glo nie, as 'n nasie
                      was ons mense toe so vrot!

Ja, ek weet ons het gely toe—
                      daar is altyd rou en pyn!
Laat jou grootste vat maar ope,
                      met jou beste, soetste wyn:
Proe dit oor 'n maand, en waarlik,
                      dit is amper nes asyn!

Kom daar ooit 'n kind ter wêreld,
                      groei hy op en word hy droog,
Sonder dat hy ooit sy trane
                      het moet wegveeg uit sy oog?
Ja, jy maak ook nie rosyntjies,
                      wat sal goed bly sonder loog.

As 'n mens met vuur en vlamme
                      tot sy gorrel volgeprop,
Met 'n hoop op seker uitkoms,
                      waar sy hart van helder klop,
By die vuurherd sit te luister,
                      op wat omgaan in sy kop,

Sonder bang te worde, sonder
                      op sy hoop te struikel—staan
Penorent, kordaat en wakker,
                      as die wêreld ook vergaan,
En die son word donker, duister,
                      en nog donkerder die maan—

As 'n mens met ideale
                      elke keer sy ideaal
Sien verbygaan voor sy oë,
                      nes 'n ster, wat skiet en straal
Vir 'n oomblik in die hemel
                      en dan in die see verdwaal,

Sonder vrees, vir wat sal worde,
                      as die nag nog langer duur,
As die wind nog kouer warrel,
                      en die naglug trek so guur,
As die lewe skyn so bitter,
                      en die toekoms lyk so suur,

Sien hy nooit nie in die vuurherd,
                      wat is groot en wat is klein—
Nooit tevrede met die toekoms,
                      nooit versadig met die wyn,
Want die suiker is te suinig,
                      en die drank smaak soos asyn.

Tog—daar is 'n toekoms altyd:
                      waar vandag is opgeslaan,
Daar op Golgotha, die kruise,
                      sal die mense môre staan
Rond die heiligdom van helde,
                      wat alléén is voorgegaan.

Waar ons nou net bitter trane,
                      klagte, sugte, smart gewaar—
Waar die koringvelde kaal staan,
                      en die droogte druk so swaar,
Wys die toekoms diamante
                      en die koring in die aar.

Jy was ketter nog eergister,
                      en vanmôre is jy vroom!—
Laat vanaand se melk maar stil staan,
                      môre kry jy tog die room!
Slaap gerus maar, slaap gerus maar,
                      ja, hoe swaar ook is jou droom!

Jy was sondaar in jou sede—
                      elke woord het jou gekwets:
Vir die een was jy te nuut al,
                      vir die ander ouderwets!
Op jou siel is al jou smarte
                      met jou lewenssuur geëts.

Jy was vyand vir jou vrinde:
                      elke kêrel op die straat
Het 'n broederlik berisping
                      op jou wandel afgepraat.
En die aakligste van almal,
                      en die kwaaiste was—jou maat!

Ja, jou vader was 'n Boesman:
                      en die volkies is nie mooi,
Met 'n agterste, wat uitloop
                      as 'n afgesakte kooi;
En jyself is nie te ekstra
                      as 'n spoghings, outa Booi!

Het hy ook 'n hart besit toe
                      soos 'n witmens, en 'n stem?
Was dit koddig, as hy sanik
                      soos 'n strandmol in die klem,
Of 'n wawiel op die hoogte,
                      wat geskraap word deur die rem?

Hy was mens—miskien 'n reus ook,
                      want 'n siel is nie so klein
As 'n vlees-en-bene liggaam,
                      ook al is dit nog so fyn:
Ag, 'n liggaam dra maar laste,
                      en 'n siel die dra mos pyn!

Wat is van jou pa geworde?
                      As hy reus was, is hy nog;
As hy dwergie was—soos ons nou—
                      ja, dan was hy maar 'n bog.
Hy was Boesman, skelm en deugniet—
                      ja, maar mens dit was hy tog!

Maar wat lol ons met die Boesmans,
                      wat tog almal heidens was?
Hulle moet vir hulle toekoms
                      selwers maar het opgepas.
Is dit onse skuld, die volkies
                      is vergaan soos droë gras?

Vra jouselwe, as jy moeg word,
                      en die wêreld is so stil,
Wat jou lot is, wat jou toekoms:
                      is dit God die Heer se wil,
Dat 'n nasie uit sal sterwe,
                      of maar die Natuur se gril?

Weet jy seker, wat beslis is?
                      of daar ooit beslissing is?
Wie vertel jou, as jy raak skiet?
                      Wie vermaan jou, as jy mis?
Sal jy alles weet, of niks nie,
                      as jy lyk is in 'n kis?

Arrie, outa, dit word koud hier,
                      en jou stories maak my vaak.
Jou goei koffie is verbrand, glo,
                      want dit het 'n bitter smaak.
Dit word tyd dat ons goeien-nag sê,
                      eer jy van jou draad afraak.

Kleiner, kleiner, en nog kleiner—
                      dis verdrietig, maar dis waar—
Word ons as die jare omgaan;
                      en ons het maar nog een snaar,
Om ons deuntjie op te speel, en
                      ag, die een is amper klaar!

Maak die deur maar toe, en sê maar,
                      soos ek sê vir jou, goeien-nag!
Gaan maar slaap nou, net soos ek ook,
                      outa! Slaap, en droom, en wag
Tot die skemer in die ooste
                      sê, dis weer 'n nuwe dag.