Oom Gert vertel en ander gedigte/In die Boesmanland

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
In Amsterdam Oom Gert vertel en ander gedigte
In die Boesmanland
deur C. Louis Leipoldt
Op die Kerkhof


In die Boesmanland.
[edit]

Vaal rotse rondom, met vaal sand en klei,
     En boesmangras en varings, geel en groen—
     Wat 'n mooi wêreld hierdie! mooi geboen
Deur die Natuur, en mooi ook deurgebrei
Met bossies en met blomme! Dis vir my,
     Asof die son die wêreld self wil soen,
     En ook die sterre daaraan mee wil doen
By nagtyd, as die veld sy sluier kry:
Hier was my tuiste in my woeste jaar,
     Toe ek nog kind was, sonder pyn of vrees,
            Want ou Paaiboelie self was toe te klein!
Al die rooi klippies het ek ingegaar,
     En al die varings was vir my gewees
             Maters, wat elke somer het verdwyn.