Loeloeraai/Vaarwel

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Afgesonderde lewe Loeloeraai
Vaarwel
deur C. J. Langenhoven
Die Twee Susters


Vaarwel[edit]

Tussen die blombehange pilare deur, oor die waters van die binnemaanse see, het die sfeer ons gevoer. Hier deur ’n noue gang, daar weer in ’n onafsienbare grot met sy verwelf duisende voet oor ons kop, van toneel tot toneel, van skoonheid tot skoonheid.

,,’n Paradys,” sê Engela.

,,’n Gevangenis,” sê ou Stoffel. ,,Dit lyk my ons was slim genoeg om die één ingangetjie van die vuik te kry.”

,,Kyk daar voor, Stoffel,” sê Loeloeraai.

En ons kyk, en tussen ’n lange laan van pilare deur sien ons skyn ’n ander soort lig as wat ons tot nog toe hier in die grot gehad het.

,,Pappa,” sê Engela, ,,dis die son wat daar skyn! Kyk die lig op die watertjies.”

En dit was ook so. Weldra gly die sfeer onder die laaste boog deur, en oor ons kop was die bloue lug. Oor die gang waar ons uitgekom het rys die loodregte kranse derduisende voet – ja, honderde honderde myle. En van bo af skyn die son.

,,Praat van ’n fuik, oom Stoffel,” sê Engela, ,,hier is genoeg opening. Dit lyk vir my die helfte van die maan makeer aan die agterkant.”

,,Ja, Engela,” sê ek, ,,hier makeer ’n groot stuk. Die anderkantste kranse kan ons nie eens hiervandaan sien nie – hulle is agter die see-horison. En toevallig is hierdie opening aan die agterkant van die maan. Anders sou die sterrekundiges op die aarde nie vandag nog onder die indruk gewees het dat daar geen water op die maan is nie.”

,,Sou hulle dan die water daarvandaan kon beken het, Pappa?”

,,Hulle sou seker die weerkaatsing van die son in die water kon gesien het.”

,,Ons het dit dan nie van die sfeer af op die aardse oseane gesien nie ?”

,,Soos ons geplaas was het die son skuins op die oseane geval. Sy beeld kon dus nie na ons rigting teruggegooi word nie.”
,,Loeloeraai,” sê sy, ,,dan het jy daardie slag dwarsdeur die maan met ons gekom solank as ons geslaap het tussen die barste deur ?”

,,Nie deur die middel nie, Engela. Ons sal maar moet tevrede wees om nie te kan gaan rapporteer dat ons die senter van die maan besoek het nie. Maar soos jy nou sien – die gange het my om en om gebring tot aan die agterkant. Ook nie in die middel van die agter-halfrond nie – ons is maar net die hoekie om.”

,,Hoe weet jy dit, Loeloeraai ?” Engela is altyd parmantig.

,,Dis vier dae van nuwe maan af, Engela. En dan sal die son regaf skyn op die senter van die agterkant. Nou skyn hy hier regaf.”
,,En nou ?”

,,Wat sê jy, Kerneels ?”

,,Ek is nog nie moeg nie, Loeloeraai. En jy, Vroutjie ?”

,,Jy weet, Ouman, Loeloeraai gaan ons by die huis bring en dan vertrek hy na sy eie tuiste toe en ons sal hom nooit weer sien nie. Laat ons maar nog ’n paar dae hier oorbly. Hoe sal dit daar op die eiland wees daar ver op die rand van die see ?”

,,Nou ja, goed,” sê Loeloeraai. ,,Ons sal wag tot dit volle aarde is en dan sal ons die terugreis aanvaar.”

,,Kerneels,” sê ou Stoffel toe ons op die eiland tot rus gekom het, ,,praat tog met ,Die Burger’ en sê hulle moet vir Soetlief ’n telegram stuur om my oor veertien dae te verwag.”

,,Hello,” sê ek, ,,hello! Is dit Dawie daar ? Jong, kry tog ’n telegraafvorm in die hande voor ons verder gesels. Het jy hom? Nou ja, skryf. Oom Stoffel, sê voor: ,Van Stoffel aan mevrou Gieljam, Asdod. Al my liefde Soetlief ek is al dood van die verlange en jy ? Ons is almal fris en Neelsie het nog nie weer van die rentetjies gepraat nie ons sit hier op ’n eiland in die middel van ’n maansee met kranse om ons wat tot teen die hemel reik en ons kyk weg van jou af waar geen aarde ooit was nie want ons is op die rug van die maan laat hulle tog onthou om die veewagter se meel te stuur ek dink dis sy maand vir die velskoene ook en Engela is deur haar klere anderkant uit sy het vandag vir die eerste maal die tweede maal dieselfde rok aangehad en laat weet vir Smuts Engeland kan nou maar weer oorlog maak ek kom tot siens Soetliefie.’ ’’

Die laaste paar dae – maar dit was natuurlik een aanhoudende dag aanmekaar; die son het maar stadig, stadig verder oorgetrek sonder om onder te gaan – het soos ’n droom verbygevlieg totdat die uur van ons vertrek op hande was.

,,Neem ons niks van die maan af saam nie ?” vra Engela.

,,Nee, my kind,” sê ek. ,,Ons kon saad saamneem, maar wat hier op sy plek is, kan daar vervuil. Dit gaan dikwels met ingevoerde plante so. En wat die diere betref – ek kry dit nie oor my hart om ’n voëltjie se nek om te draai wat ewe vertrouelik op my skouer kom sit nie. Buitendien, as die aardse wetenskaplikes van hierdie spesimens sien, word hulle net meer woedend. Nou kan hulle vir hulle nog troos met te sê ons lieg dat ons hier lewe aangetref het. Maar ons moet darem ’n aantekening van ons besoek laat – al is dit vir ’n nageslag wat oor honderdduisend jaar eers die besoek sal kan herhaal.”

,,Waar sal jy so ’n onverganklike stuk materiaal kry om jou opskrif op te maak ?” vra ou Stoffel.

,,Daar is maar één ding wat nie roes of vergruis nie,” sê Loeloeraai en hy klim in die sfeer in en na ’n rukkie kom hy terug met ’n vierkantige blok wat hy nie op die aarde sou kon opgetel het nie, van dieselfde geel materiaal van die sfeer. ,,Krap jou opskrif op hierdie goudblok uit, Kerneels.”

,,Wat ?” sê ou Stoffel, ,,en dan laat jy die skat van goud hier bly?”

,,Ek het baie meer saamgebring in geval ek ’n ruilmiddel op die aarde sou nodig kry, Stoffel. Wat maak ek daarmee ? Terugneem Venus toe ? Dis niks meer werd as klippe daar nie. Ek kon dit op die aarde agterlaat maar julle het genoeg daar om mee kwaad te doen.”

,,Kerneels,” sê oom Stoffel, en die ou haal ’n sakboekbeursie uit, soek ’n klompie papiertjies deur en kry een in die hande wat hy wou hê. Hy skeur dit middeldeur en gee dit vir my. Dit was my bewys aan hom.

,,Nee, oom Stoffel,” sê ek, ,,hoe kan ek die kwytskelding van jou aanneem ?”

,,Omdat ek jou oom is,” sê die ou. ,,As dit nie vir Grietjie was nie – en dat sy daar is, is nie jou skuld nie – dan was jy my erfgenaam hoewel ek sou gesorg het vir ’n fideikommies want jy’s ’n gebore deurbringer. Maar al was dit ook nie so nie, ek dink die kwytskelding sal bitter min verskil maak aan die betaling. En Loeloeraai het my seer gemaak. Wragtig ek dink as ou Watwo hier was, het hy jou ook ontslaan. Maar dis beter so – jy sou alte ongelukkig wees sonder skuld.”

,,En nou vir die opskrif,” sê ek. ,,Die goud sal hou en die letters sal bly, maar daar is vandag opskrifte van die Kretense wat niemand kan ontsyfer nie. Watter taal sal ek gebruik wat oor honderdduisend jaar nog verstaan en gelees sal kan word?”

,,Ons s’n is die jongste, Pappa. Hy sal die langste leef.”

En toe het ek met my sakmes op die goud uitgesny:

HIERDIE GEDENKTEKEN

is hier gelaat deur

LOELOERAAI van VENUS

en deur

STOFFEL en KERNEELS en LENIE

en ENGELA van die AARDE

in die 23ste jaar van die 20ste eeu

van die Christelike Jaartelling


,,Kerneels,” sê Loeloeraai, ,,al is dit uit ’n buitensporige oormaat van versigtigheid, ek sal ’n ander aanduiding laat wat hulle dadelik sal kan lees.” En toe teken hy agter op die blok die sonnestelsel met ’n tittelstrepie van Venus met een mensefiguurtjie tot by die Aarde, en daarvandaan met nog vier figuurtjies tot by die maan.

,,En die datum, Loeloeraai ? Hoe sal hulle weet wanneer ons hier was ?”

,,Maklik genoeg,” sê Loeloeraai. ,,Ek het die jare tot op tien duisende bepaal, en die maand en dag tot op die oomblik, deur die maan en die planete in die verhoudingsposisies te plaas wat hulle nou inneem. En waar dit op honderdduisende jare aankom, hoef ek maar net een gesternte so af te beeld soos hy nou vertoon. By daardie tyd sal die aardse sterrekundiges die eie bewegings van die sterre goed genoeg ken om te kan agteruit reken. Kyk, daar teken ek die Suiderkruis.”


Soos die aarde vir ons kleiner en kleiner geword het op die heenreis, so het hy natuurlik groter en groter geword op die terugreis totdat hy die hele helfte van die sterre-omwelf bedek het. En nou was hy ten volle lig. En ons het reguit op hom af gery. Die eerste maal het ons ’n punt op die omdraaiende velling gesoek; hierdie slag was die naaf ons bestemming. Agter ons, naby die son, was Venus. Loeloeraai moes eers wegry van sy tuiste af om ons tuis te bring.

,,My vriende, ek gaan met ’n bedroefde hart, want ons sal mekaar nooit weer sien nie. Maar dit kan nie anders nie – julle roeping is op een plek, myne is op ’n ander. Laat ons dankbaar wees vir die voorreg dat ons kon kennis maak; ons lewe sal soeter wees om die herinnering soos wanneer die jare oor die graf van ’n dierbare verlorene gegaan het. Ek is baie hartseer dat ek niks vir die geluk van die arme lydende aardbewoners kon doen nie: as ek iets gedoen het, sou ek kwaad gedoen het.

,,Stoffel, ek het nie jou vrou en jou dogter ontmoet nie, maar ek het jou ontmoet, en dit gee my moed vir jou nasie. Geleerdheid is ’n saak van een menselewe: die dinge wat van dieper betekenis is, is ’n erfenis van geslag tot geslag. Laat Soetlief en Margarita my vergewe vir my vrypostigheid maar ek gee jou ’n kleine aandenking vir hulle. Soetlief sal dit na haar dood aan Margarita laat.

,,En ook één vir jou Lenie, en ná jou dood vir Engela. Vir julle hoef ek nie om verskoning te vra nie.”

En toe haal hy twee goue kissies te voorskyn. In elk was ’n snoer van diamante soos op aarde nog nooit gesien was nie.

,,Ons is al terug in die aardse lug,” gaan Loeloeraai voort. ,,Maar ons sal stadig daal, en as ons laag genoeg is, sal ek die ruite maar oopmaak.”

,,Pappa – ek dink ek ken die berge. Watter vaal plek is dit daardie ?”

,,Oudtshoorn, my kind.”


Nader, nader . . . ons kan die huise beken.


,,Pappa, daar staan Jakhals en Herrie en opkyk by die somerhuis!”


Net soos ons tot rus kom, soen Loeloeraai elkeen van ons en hy tel ons uit.

,,Vaarwel, my vriende,” sê hy; die deksels skroef toe; die sfeer styg vinniger en vinniger tot die laaste blink glanse in die hoogte verlore gaan.