Loeloeraai/Die afgronde in

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Die aarde van uit die hemel Loeloeraai
Die afgronde in
deur C. J. Langenhoven
Afgesonderde lewe


Die afgronde in[edit]

En so het Afrika gekom en deur die lig verby gedraai tot om die rand, en vervolgens die Atlantiese Oseaan, Amerika, die Stille Oseaan en, vier-en-twintig uur ná ons eerste waarneming, weer Oos-Asië en Australië. Soos ’n ontsaglike skildery is die aarde vir ons om en om gedraai totdat alle kante onder ons oog gekom het. En as ons geneig sou gewees het om die aardrykskunde te vergeet – die les is maar oor en oor herhaal.

Maar die ligte kressent het hoe langer hoe kleiner geword en die donker rondte tussen die horings het al minder en minder van die omringende sterre verberg. Ook het die ligte rand betreklik smaller en smaller geword. Dag vir dag – soos die aarde as ’n groot uurwerk vir ons die dae sekuur afgemeet het, want waar ons was, was mos geen afwisseling van dag en nag nie – het ek my verslae teruggestuur na die aardbewoners vir wie ons ’n weggeraakte, verlore stippeltjie was ergens in die onmeetlike ruimte sodat hulle maar die stem hoor et praeterea nihil.

Die eerste dae was die maan waar ons bestemming heen was nergens te sien nie.

,,Maar hoe is dit dan moontlik, Loeloeraai ?” vra Engela. ,,Ons sien die laaste hemelliggaam soos ons hulle nog nooit vantevore gesien het nie, en die een waarheen ons op weg is, is verdwyn.”

,,Die aarde is nog tussenin, Engela,” was sy antwoord. ,,Ons ry mos soos ek gesê het byna na die teenoorgestelde koers van sy baan om gelyktydig met hom daar aan te kom. Maar dit sal nie nou lank duur voor hy agter die aarde uit te voorskyn kom nie.”

,,Maar ek wil hê ons moet die hele aarde verlig sien, Loeloeraai – nie net daardie afknipsel van ’n vingernael nie. En dié word al smaller en smaller.”

,,Hy sal nog heeltemal verdwyn,” sê Loeloeraai, ,,wanneer ons by die maan kom. Julle ou aarde sal vir julle ’n onsigbare donkere bol wees, ergens tussen die sterre verlore.”

,,En dan sal ons hom glad nie van die maan af sien nie ?”

,,O ja, maar ons sal moet wag. Wanneer dit vir die aarde volle maan is, is dit noodwendig vir die maan nuwe aarde en omgekeerd. Ons kon nie albei gelyk kry nie. Ons reisplan is opsetlik so ingerig om met volle maan aan te kom. Verbeel jou twee mense wat agter mekaar staan met hulle gesig na ’n lamp. Ons is nes vlieë – buiten nie so groot nie – wat op die agterste een se gesig gaan sit en die voorste se donker agterkop sien. Op die oomblik is ons eenkant skuins, daarom sien ons ’n strokie van sy verligte gesig – ’n stukkie wang.”

,,Nou ja, en hoe sien ons hom dan ooit vol ?”

,,Die agterste man draai in 27 dae om die voorste, maar hy hou altyd sy gesig na hom toe. Dus oor veertien dae is dit die agterste wat tussen die ander en die lamp kom. Dan is sy gesig weer in die donker maar hy sien sy maat se gesig ten volle verlig. Ons moet maar net veertien dae op die maan bly, dan sal dit nuwe maan en volle aarde wees.”

,,Nou dink ek daaroor,” sê Vroutjie, ,,dat die maan altyd dieselfde kant vir ons wys.”

,,Ja, Vroutjie,” sê ek, begaan om te laat sien dat ek darem ook iets weet, ,,geen mensekind het nog ooit die ander halfrond van die maan gesien nie. Hy draai om homself in presies dieselfde tyd wat hy neem om die aarde om te loop. So ’n reëling kan natuurlik nie toeval wees nie. En dit is ook nie. Toe daar nog seewaters op die maan was, of toe hyself nog in ’n gesmelte vloeibare toestand was, het die getye hom gebriek en sy omwenteling vertraag totdat hy in verhouding tot die aarde tot stilstand gekom het. So word die aarde nog altyd gedurig gebriek en sy dae word langer en langer totdat daar ’n tyd sal kom, as sy oseane nie eerder deur die koud word van die son bevries nie, wanneer sy dag ook 27 dae lank sal wees. Dan sal aarde en maan in verhouding tot mekaar stilstaan asof hulle met ’n ysterband aanmekaar gekoppel was. Maar oor daardie uiteindelike afloop van ons oorlosie hoef ons ons nie te bekommer nie – teen daardie lengte van tye is ons menslike geskiedenis ’n verbyvliegende oomblikkie.”

,,Neels,” sê oom Stoffel, ,,jy praat van toe daar nog water op die maan was. Hoe is dit dan nou ?”

,,Nou is daar geen water nie en geen lug nie. Daar is nooit ’n wolkie, nooit ’n windjie nie; jy kan ’n kanon daar afskiet, jy sal nie die minste geluidjie hoor nie. Al wat op die maan voorval, is die afwisseling tussen die bloedige sonnehitte en verblindende sonnelig, en die doodse duisternis met die koue van die ruimte.”

,,En wat sal ons dan daar maak ?” vra ou Stoffel. ,,Hoe sal ons dit daar hou ?”

,,Soos ons dit hier hou, Stoffel,” sê Loeloeraai. ,,Ons het mos ons lug en water saamgeneem. As dit al is, klim ons maar nie uit die sfeer uit nie.”

,,Foei tog,” sê Engela, ,,maar dit sal jammer wees. Dan sal ons nie as ons weer op die aarde terug is kan sê ons het ons voet op die maan gesit nie.”

,,Nee, Engela,” sê Loeloeraai, ,,ek terg maar. Hoe maak duikers onder die seewater ? Hulle steek hulle kop in ’n helm met pype waardeur hulle van lug voorsien word. Ek het die toestelle. Maar ons sal sien of hulle nodig is. Intussen, sien julle die ligskynsel om die donker rand van die aarde ? Die maan is aan ’t opkom vir ons.”

En oor nog ’n paar uur kom ’n skitterende blink snytjie te voorskyn. Maar hy het lank geneem – dit was nie hierdie slag die aarde se vinnige draai wat hom oor die gesigseinder laat oprys nie maar sy eie stadige loop.

,,O my tyd, Loeloeraai,” sê Engela, ,,en waarom is hy dan nou so klein ?”

,,Die aarde is na verhouding baie groot, Engela. Buitendien is ons ’n hele entjie verder van die maan af nou as wat ons op die aarde van hom af was.”

,,Snaakse reismaniere hierdie,” sê ou Stoffel, ,,’n Mens ry weg van die ding af wat hy soek.”

,,Ons is verder en baie nader,” sê Loeloeraai. ,,Ons is oor halfpad.”

En daarvandaan het die maan al groter gegroei en voller en voller geword, en nader getrek na die koers toe waar ons na die Desemberbeeld van die diereriem heenpeil. En die aarde het kleiner en kleiner geword en sy ligte kressent dunner en dunner tot daar net eenkant ’n ligte randjie oorbly. Toe díe ook wegraak, was die maan so te sê vol en ons kon hom by die uur sien groei tot hy byna aan die eenkant die volle hemel bedek.

Wat ’n woeste, afskrikkende toneel! Almal kringe van berge wat ronde gate vorm met ’n piek wat in die middel regop staan. Nie ’n teken van boom of bos, rivier of waterplas nie.

,,Dit lyk nes ’n heuningkoek,” sê Engela.

,,Almal uitgedoofde vuurspuwende berge se kraters,” sê ek. ,,Is dit nie ontsaglike hoë berge nie ?”

,,En kyk die swart inkvlekke,” sê Engela.

,,Dis die skaduwees, my kind. Daar is geen lug om die lig te breek en te sprei nie. Op die maan kan jy heen en weer uit die dag in die nag in loop.”

,,En nou sien ek daardie netwerk van strepe wat ons van vér af al opgemerk het is almal ontsaglike barste,” sê ou Stoffel.

,,Nes ’n bol modder wat hard geword het,” sê Engela.

,,Ja,” sê Loeloeraai, ,,en die barste het oopgegaan nadat die vulkane opgehou het om te werk. Want hulle loop dwarsdeur die kraters en die pieke in die middel en die omringende berge.”

Toe vat ek die telefoon.

,,Hello, hello . . . word tog eenmaal wakker daar op ,Die Burger’ julle, al is julle aan die ander kant van die aarde sodat ons met maan en al vir julle onder is. Hello . . .”

,,Ja.”

,,Neelsie hier. Môre Dawie. Ek hoop jy gedra jou nog, al is jy onder my oë uit. Skryf op, jong.

,,Is jy klaar? Nou ja. Ons is aan’t afdaal op die maan. Treurige dooi wêreld hierdie. Die Sahara is ’n paradys by hom. Pure ronde krale van ontsaglike rotsgebergtes met kranse wat duisende voet loodregaf val. Ons sak af in een van die krale. Loeloeraai peil na ’n afgrond toe wat daar van ver af na ’n barsie gelyk het. Dit loop met swaaie en kinkels en plekke is dit so swart soos pik. Maar hier waar ons wil afsak, skyn die son reg van bo in die diepte in. Nou gaan ons in die bars af. Maar Loeloeraai het ’n volkome beheer oor ons vaartuig. Ons sak soos ’n donsie. Ken jy vir Meiringspoort ? Dis net so ’n kloof hier maar honderdmaal dieper. En die kranse is kaal – dorre rotse met nie ’n groene blaartjie nie. En waar die skaduwees val is daar swart vlekke soos gate van die donkerste nag waar jy inkyk . . .

,,Toe nou maar, dit hou eners aan. As daar ’n verandering kom, sal ek jou weer oplui. Dag, Dawie.”