Loeloeraai/Die aarde van uit die hemel

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Takhaar-opleiding Loeloeraai
Die aarde van uit die hemel
deur C. J. Langenhoven
Die afgronde in


Die aarde van uit die hemel[edit]

Nadat ek my verslag oor die telefoon afgelewer het, het Loeloeraai vir ons kos uitgehaal.

,,Dis nog maar pure lekkers,” sê ou Stoffel, ,,en dis ook goed, Loeloeraai, maar ons het honger.”

,,Ek vrees, Stoffel, solank as ons in die sfeer is moet ons ons maar met padkos behelp. Lenie het darem vir ons wors en biltong en ribbetjies ingesit, maar dié hou ons vir ’n spesiale lekkerny vir ons piekniek op die maan. Tog, ons het nie te veel voedsel hier nodig nie – daar is geen liggaamlike inspanning hier in die sfeer nie; selfs ons harte het min pompwerk om te doen.”

,,Dit sal goed wees hier vir my ouman se hartkwaal,” sê Vroutjie.

,,Al siekte wat die Kaapse dokters nie by my gekry het nie,” sê ou Stoffel. ,,Hulle was bang as hulle dáár sny dan sou ander snykanse verlore gaan.”

En toe het ons almal begin te eet aan Loeloeraai se lekkers: meeste geel deurskynende klontjies, joejoebes, en koekies.

,,Die rondetjies is vleis,” sê Loeloeraai; ,,die langwerpiges groente en die koekies vrugte.”

,,Loeloeraai,” sê ou Stoffel, ,,ek trek my woorde terug. Woon jy in die dorp daar op Venus of op ’n plaas ? Waarlikwaar jy moet my jou reseppies laat kry vir Soetlief. Dan sal ek nie meer hoef plaas toe te ry om my te gaan vól maak en Kaap toe om my te laat leeg maak nie.”

,,Ek is jammer dat ek nie die eer gehad het om Soetlief te ontmoet nie, Stoffel. Maar ek vrees ek sou darem nie vir haar ons kosmaakprosesse kon uitgelê het nie.”

,,Nog ’n stukkie vleis, asseblief, Loeloeraai,” sê Engela.

,,Nee, Engela, ek is jammer om onridderlik te wees, maar jy het genoeg gehad. Selfs nou sal jy nie in vier-en-twintig uur weer behoefte voel om te eet nie. Hierdie kos is in ’n uiters gekonsentreerde vorm. Jy weet ek moes genoeg saambring vir ’n sewe jaar.”

Na die ete het een vir een van ons begin te gaap. En Loeloeraai het die middelgordyne ingeskuif en Vroutjie en Engela het in die een vertrek geslaap en ons ander drie in die ander. Daar was geen nodigheid vir matras, kussing of kombers nie – die een het onderstebo gehang, die ander met sy arms uitgestrek, die derde weer op ’n ander onnatuurlike manier – almal los in die lug swewende; ja, op die lug slapende soos geen sagte rusplek op die aarde ooit sag is nie.

Dit was vir my of ek nog skaars aan die slaap was toe hoor ek Loeloeraai roep. ,,Opstaan, vriende. Julle het nou twaalf uur lank geslaap en as julle my die aanmerking sal vergewe – ek reken dis genoeg.”

Toe ek my oë oopmaak, kyk ek eenkant deur die venster in die donker nag van skitterende sterre in. Maar die elektriese lig was afgeslaan en binne was helder daglig. Aan die ander kant was swart gordyne voor die venster waardeur ek die sonlig sien sypel.

Loeloeraai volg my blik. ,,Ek moet daardie gordyne toehou,” sê hy. ,,Die son is hier in die luglose ruimte verblindend.”

,,My goeie genugtig,” sê ou Stoffel, ,,dag en nag gelyk! Eén kant skitter die sterre in die inkswarte nag en anderkant moet jy die sonnestrale met swart gordyne weghou om jou nie te verblind nie!”

,,Natuurlik,” sê Loeloeraai. ,,As julle aarde hol was en julle kon van binnekant af ook weerskante toe uitkyk sou julle ook altyd eenkant nag hê en die ander kant dag. In die sterreruim is daar nooit nag nie, want dis altyd dag; en nooit dag nie, want dis altyd nag. Dis maar ons ronddraaiende bolletjies wat vir ons verplig maak, solank as hulle ons aan hulle vasgeketting kan hou, om dag of nag te neem soos ons dit kry. Hier kan ons kies watter van die twee ons begeer.”

,,Wêreld,” sê Engela, ,,hoe heerlik! Watter miljoenêrs het nog ooit so ’n voorreg gehad as ons! – Dít is vir jou ’n manier om ’n plesieruitstappie te doen.”

,,Juis, Engela,” sê Loeloeraai ernstig. ,,As ek die geheim van hierdie sfeer aan die aarde sou bekend maak, sien jy die weelde en slawerny waarvoor hy sou gebruik word? Stem nou met my saam – die harte van die aardbewoners is nog nie vér genoeg ontwikkel om grote mag tot beskikking van hulle breine te plaas nie.”

,,Is die eter waarin ons sfeer sweef nie wonderlik nie, Vroutjie ? Hyself is donker en koud – donker soos die uiterste van die nooitgewese niks, koud tot op die graad van absolute nul. En so gou as ons hier is, word ons verwarm en verlig deur strale wat oor die feitlik oneindige afstande deur die donker en deur die koue met bliksemsnelheid gedra word.”

,,Jy is werklik opgenome, Ouman. In al die jare wat ons getroud is, is dit die eerste maal wat jy wakker geword het en jou koffie vergeet het.”

,,Vroutjie, noudat jy praat, en met alle eerbied vir Loeloeraai se heerlike voorsiening – ’n koppie koffie sou nou darem lekker gesmaak het.”

Vroutjie glimlag. ,,Ek en Loeloeraai het vir ’n verrassing vir jou gesorg, Ouman.”

En toe haal Loeloeraai ’n koffietrommel te voorskyn. Een kant uit ’n kraan tap hy kookwater. ,,Sal jy die koffie maak, Kerneels ? Dis mos jou werk by die huis.”

,,Waarin ?” vra ek.

Loeloeraai gee my ’n beker. Hy kan ook ’n grappie maak. Toe ek die water daar wil ingooi trek die water sommer alle koerse heen.

,,Magtig man,” sê ou Stoffel, ,,is jy ’n Kaapse dokter ? Jy sal ons blare brand. Is dit jou deskundige koffiemakery ?”

Natuurlik moes ons ’n toe-ding hê, en uit toe-bottels moes ons drink ook, nes babetjies. Die vloeistof was net so min aan die swaartekrag onderhewig as ons.

,,En nou,” sê Loeloeraai, nadat die teegoed weggesit was, ,,sal ek Stoffel die aarde wys – of soveel daarvan as hiervandaan sigbaar is, want ons is nog baie naby. Hy wou hom mos van ’n distansie af sien om sy gedaante en sy bewegings te kan beoordeel.”

En Loeloeraai trek ’n gordyn voor een van die vensters weg, skuins van die sonkant af. ,,Mensekinders,” sê hy, ,,daar is julle aarde!”

Toe ek uitkyk was dit asof ek ’n slag kry wat my byna flou slaan. ’n Drukking kom in my keel, my polse slaan soos hamerhoue; en gelukkig toe bars die trane uit my oë om my oorstelpende aandoening te verlig. Onwillekeurig gryp ek en Vroutjie en Engela mekaar se hande en ons druk mekaar soos in ’n skroef.

Oor tweederdes van die sigbare hemel aan daardie uitkyk-kant, en omring van vonkelende sterre, lê ’n goudblink sekel uitgesprei. Tussen sy twee horings in was ’n ronde duisternis – net soos by die agste maan, soos ’n eikel in sy steeldoppie. Ons kon maar die omtrek van die donker deel sien aan die vaste lyn waar die omringende gesterntes weer begin.

En op die blink sekel ’n bekende stuk van die landkaart: Japan, Oos-Asië, die Maleise Argipel en die helfte van Australië. Naby die uiteinde wat oor Australië strek, is daar ’n intens wit-skitterende deel, die pool van die suidelike somer.

,,Jy moet geduld gebruik, Stoffel,” sê Loeloeraai, ,,om hom te sien draai. Jy weet hy draai maar helfte so vinnig in die rondte as die uurwyster van ’n oorlosie, want hy neem vier-en-twintig uur om die sirkel óm te loop: hoewel ’n aardbewoner onder die ewenagslyn deur daardie omwentelingsbeweging alleen al vinniger ry as ons, want hy moet 25 duisend myl omloop in die 24 uur. Maar hou nou die blink sekel fyn dop. Oor ’n rukkie sal jy sien dat nuwe eilande en kuslyne aan die binnekant te voorskyn kom, en van die ander raak langsamerhand oor die buiterand weg. Gelukkig is dit daar skoon van wolke. Daar in Asië, in die weste van Sjina, kom die son vir die mense op. Oor ’n rukkie sal ons die toppe van die Himalajagebergte soos ligstippeltjies uit die duisternis sien oprys.”

Ons kon nie gesels nie. Dáár was ons ou aarde – ’n hemelliggaam, groter, groter as enigeen wat ons ooit daarvandaan gesien het. En hier deur ’n venstertjie van ’n nietige reisvertrek, verlore in die afgronde van die ruimte, sien ons die môre sy weg vervolg na die weste, van berg tot berg, oor die seë en vastelande.

,,Gee my jou hand, Loeloeraai,” sê ou Stoffel. ,,Ek hoef nie meer te glo nie, ek weet.”

,,Wanneer sal Suid-Afrika sigbaar wees, Loeloeraai ?” vra Engela.

,,Oor ’n uur of ses, Engela. Suid-Afrika lê nou byna in die middel van die donker deel van die bol. Maar terwyl ons kyk kom die daeraad nader, oor Asië en die Indiese Oseaan. Al julle mense in julle land slaap nou – waar daar nie pyn of liefde is om hulle wakker te hou nie. Want julle waak waar die dood aankom; en julle waak waar die lewe aankom.”

Toe lui ons telefoonklokkie. ,,A,” sê ek, ,,die mense is nog wakker by ,Die Burger’.”

,,Hello, hello – is dit Neelsie daar ?”

,,Ja, en jy ?”

,,Nag-editeur. Voor ek jou verslag afneem, Neelsie – hier is baie belangrike nuus uit Europa. Die Britse Parlement . . .”

,,Wag,” sê ek, ,,ek moet eers hier raadpleeg. Vroutjie en oom Stoffel en Engela – Loeloeraai hoef ek nie te vra nie – hulle het daar nuus by ,Die Burger’. Is julle nuuskierig ? Die Britse parlement. . .”

,,Beteken hier niks,” val oom Stoffel my in die rede. ,,Ek sal in Suid-Afrika weer ’n Sap wees eendag. Kyk daar sit hulle jou wragtig op daardie ou rondtollende balletjie en dan dink hulle hulle besluitjies sal ons hier interesseer.”

,,En tog, Stoffel,” sê Vroutjie, ,,kyk watter heerlike woonplek is ons ou aarde nie en die inwoners roei mekaar uit. Daardie besluite, wat hulle ook is, beteken seker oorlog ergens.”

,,Nou ja, Mamma,” sê Engela, ,,almiskie en al honderd-en-tien, ons kan daar niks aan doen nie.”

Toe praat ek weer deur die telefoon. ,,Nee, dankie,” sê ek, ,,ons wil nie weet wat daar op julle ou miershopie plaasvind nie. Laat weet met ons komplimente die mense moet mekaar maar daar in Europa uitdelg. Oom Stoffel sê self, hy draai nie hier om om geen stuk oorlog te gaan deursien nie. Bring maar die snelskrywer en vat my verslag.”

,,Neelsie,” hoor ek weer, ,,moet ek private telegramme ook maar hou tot jy kom ?”

,,Wat sê julle ?” praat ek weer binnekanttoe; ,,sal ons maar van die oorlas van persoonlike boodskappe ontslae bly!”

,,Van wie kom dit ?” vra Vroutjie en Engela gelyk.

Toe praat ek weer deur die telefoon, en nadat ek die informasie had, met my omgewing. ,, ,Die Burger’ sê ou Watwo telegrafeer om te vra waar ons geval het. Ek het hulle gesê om hom te antwoord: ,Geval het ? Watwo.’ En dan is daar ’n telegram van die burgemeester van Oudtshoorn. Hy kla dat Herrie in die dorpsloot gaan lê en rol het en dit stukkend gedam het en hy dreig om hom skut toe te stuur. Ek het laat antwoord hulle moet die tarief klaarhê by die tyd as ek terugkom en ek wil nie aanspreeklik gehou word vir ander skutgoed wat verongeluk nie. Verder is daar ’n telegram . . .”

,,Ag wat, Pappa, sê vir hulle ons kan nie sulke dinge hiervandaan regmaak nie. En ons wil ook nie daarmee belol word nie. Hulle moet maar hulle griewe en klagtes oorhou tot ons terug is . . .”

,,’n Verdere telegram,” gaan ek voort, ,,van Willem. Ek sal dan maar stilbly.”

Toe kom Engela deur die lug aangesweef en sy skud my en sy ruk die telefoon uit my hande uit.

,,Hy stuur groetnis aan Pappa en Mamma,” sê sy ,,en hy sê hy moet oor noodsaaklike besigheid Kaap toe kom ander week.”

,,Sê hy hoef nie ,Burger‘ toe te kom nie, my kind. Hy moet maar sy klagtes en griewe oorhou tot ons terug is.”

Toe Engela my die instrument teruggegee het, had ou Stoffel ’n kommissie. ,,Sê hulle moet tog asseblief aan Soetlief telegrafeer ek is perdfris en ek stuur liefdegroete en die vervlakste Engelse het gelyk: die aarde is rond en hy draai en sy moet vir Adoons sê hy laat nie my vleiland versuip van luiigheid nie en as ou Galbroek Hawerhaas daar kom steek hy hom onder die klippe en hy laat Steekbaard sy laaste draad van sy broek afskeur.”

Nadat ek my verslag klaar gedikteer het en nadat ons verder gesels het, kyk ons weer uit.
,,Alla wêreld,” sê ek, ,,die tyd gaan hier gou om. Kyk daar is Madagaskar en Arabië, en die hoekland daar by die Persiese Golf . . .”

,,Afrika, Pappa,” skree Engela.

,,Ja, my kind, ons eie land – maar nog die verre oostelikste punt daarvan.”

En toe word ons ongeduldig. ,,Dit lyk vir my hulle het nou briek aangedraai,” sê ou Stoffel.

Maar eindelik dan darem tog – dit moet die Drakensberge wees ... En kyk, daardie strepie stippels wat uit die skaduwees begin uit te kyk en oos en wes loop. ,,Vroutjie, Vroutjie – dis die kruine van die Swartberge en die witste kol is Toorkop. Die son kom op op Oudtshoorn!”

,,Ek hoor die toringklok lui,” sê Vroutjie. ,,En ek sien my ouman met die koppie koffie en met Jakhals die kamerdeur inkom.”

Ek kyk na Loeloeraai. Hy vee ’n traan uit sy oë.

,,Ek deel julle gevoelens, vriende. Kyk daar by die rand van die aarde verby – daardie blinkste van al die sterre. Ook op my tuisplekkie skyn die son.”