Die liefde is lankmoedig/Hoofstuk X

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Hoofstuk IX Die liefde is lankmoedig
Hoofstuk X
deur T. C. Pienaar
Hoofstuk XI


X.

Dit reën. Dit reën naderhand 'n week aaneen. Die boere is verheug oor die lieflike, deurdringende lentereëns, maar by Esme kan dit geen blydskap wek nie. Dis asof die natterige, grys hemel haar afsluit van die hele wêreld.

Bedags slenter sy in 'n lang kamerjapon in die huis rond, wanneer Ludie en Meneer in die skool is. Ludie is nog maar vyf jaar maar sy kan hom nie weghou uit die skool nie. Sy maak haar baie dae nie eens moeg om aan te trek nie. Waarom sal sy? Daar kom geen sterfling gedurende die week by hulle nie, en al sou sy ook in 'n sak rondloop, Luderitz sal dit nie opmerk nie. Hy sien háár nie eens meer raak nie, laat staan nog haar klere.

Lank staan sy bedags in die voordeur en uitkyk oor die droewige vlaktes. In die afgelope tyd verlang sy onbeskryflik na haar pa. Sou hy net so eensaam gevoel het hier, toe hy sy ma in die steek gelaat, en die wye wêreld gekies het? Was dit nie vir Juffrou nie dan het sy van eensaamheid gesterf in daardie huis. Sy bly dikwels na skool daar agter tot die aand. Dan kom daar so 'n bietjie lewe in die huis.

Meneer laat staan sy werk in die studeerkamer, wat hom so gedurig besig hou, en kom sit by hulle en gesels. Wanneer Juffrou nie daar is nie, is dit net asof hy nooit iets kan vind om oor te praat nie.

Dat haar skatte geen indruk maak op haar man nie, is vir Esme te veel, en sy troos haar dat hy jaloers is op haar omdat dit sy manlike ydelheid gevlei het, dat sy so afhanklik was van hom.

Hy het die onmoontlikste mens geword om mee saam te lewe. Eers het sy haar griewe teen hom gelug in gedurige rusies, maar hy het haar geen antwoord gegee nie, en sy kon geen bevrediging daaruit kry nie. Dikwels het sy hom voor aan die baadjie gegryp, en in sy gesig geskree dat hy moes antwoord; of sy het haar vuiste seer geslaan op sy skouers. Maar hy was soos 'n klip. Eenmaal het sy 'n koperkandelaar gegryp om hom te gooi, en toe het die herinnering aan die aaklige storie wat hy haar vertel het, haar belet. Die volgende dag het hy vir haar 'n lang, dik kweperlat gebring, en haar gevra om liewer dit te gebruik wanneer sy haar drif nie kan bedwing nie. Altyd het hy koel-vriendelik gebly, soos 'n mondvol lou water wanneer jy mislik is.

So het hy haar ingebreek. Nou kan sy nie eens meer kwaad word vir hom nie. Dis asof alles morsdood is in haar.

Saans na ete gaan hy in sy studeerkamer sit en werk, en sy gaan kamer toe. Lank sit sy op die rand van die bed in die flou lig van die kersie. Dan dink sy terug aan haar jong dae, aan die onbesorgde, plesiervolle lewe saam met haar pa. Arme pa van haar; hy was altyd so seker van haar toekoms, dat sy 'n skatryk man sou trou, en dat hy op sy ou dag sorgeloos by hulle kon lewe. Sy verlang dan onuithoudbaar na hom, veral as sy Ben die dag gesien het, wat al hoe meer na hom begin lyk nou dat die spanning en haas hom rus gee.

Daar in die skemer kamer vlug haar gedagtes weg uit die werklikheid, en neem haar terug na die helder verligte stede, waar motors met groot lampe aanhoudend vleg deur die strate; waar elke huis skitter van lig daarbinne. Sy sien die skare wat vol verwagting saampak voor die bioskope en danssale waar fraai geklede meisies swierig swaai op die maat van musiek. Sy is terug in die hotels waar vrolike groepies mense gesellig saam 'n "ietsie" drink, terwyl sy en haar pa 'n entjie van hulle af sit; sy, met dromerige oë vol liefdesverlange, en hy reeds ontnugter. Daarom kon hy vir haar sê: "Esme, as jy dit kan help, moet jy liewer nooit trou nie. As ek net 'n groot geluk kan raakloop...." of: "My ou dogtertjie, as jy ooit trou moet jy nooit so laag sink om jou man in die steek te laat nie". Wanneer sy aan daardie woorde dink, dan stroom die trane oor haar wange. Dis die woorde wat haar nou al maande lank in 'n stryd hou, vandat sy haar finansiële onafhanklikheid verkry het. Sou dit werklik laag wees om jou man in die steek te laat, of hang dit net van omstandighede af? Sy en Luderitz was darem baie gelukkig saam in die begin. Hy het haar eers aanbid, en dis heerlik om so bewonder te word. Dis net vandat sy nie meer alles vir hom hoef te vra wat sy nodig het nie, dat hy so jaloers geword het op haar geld. Jaloesie is 'n verskriklike ding. Haar oorlede pa het gesê jaloesie is die duiweltjie wat spesiale opdrag ontvang het om huwelike te vernietig. Haar pa en ma was ook seker gelukkig in die begin. Sy wonder waarom hulle uitmekaar is. Hy het haar nooit vertel nie. Hy het nooit van haar ma gepraat nie, net kort voor sy heengaan het hy gesê dat sy kompleet soos haar ma lyk. Terwyl hy geleef het, het sy nooit aan haar ma gedink nie, en later ook nie; maar nou dat sy so eensaam is wonder sy dikwels oor haar ma. Sy kan nie te oud wees nie - omtrent vyfveertig, en sy het vroue van vyf-en-veertig in die stede gesien wat bloedjonk lyk. Sal sy haar erken as sy haar miskien per toeval raakloop?

Gedurende die reën week trek die eensaamheid haar vaster en vaster, totdat sy naderhand geen verset meer kan bied nie. As die weer mooi en die pad droog is, vlug sy soms dorp toe met die motor. Dan gaan sy die oggend, en kom die aand weer terug. Maar as dit so reën kan sy dit nie alleen waag op 'n lang pad nie.

Die agste dag klaar die weer op. Die oggend breek die son deur agter yl vlieswolkies, en die hemel word helder skoon met lokkende, diep-blou vertes.

Spelerig baljaar klein Ludie met sy kaal voetjies in die waterplassies buite, en Meneer stap vrolik-fluitend op die werf rond.

Ook Esme is vroeg op. Toe Klaas die koffie bring, het sy by die venster uitgekyk, en gesien dat dit mooi weer is. Gou het sy haar netjies geklee en met "rosies op die wangetjies, en krulletjies in die haartjies", neem sy plek aan die ontbyttafel.

Besorgd let sy op dat Ludie genoeg eet. Sy gaan die koffie self in die kombuis haal, en skink vir haar man in met baie kookmelk, soos hy daarvan hou.

Toe hy loop skool toe keer sy hom voor op die stoep, vat inkruiperig aan sy baadjie en vra: "Mannie, kan ons nie probeer om weer so vir mekaar te wees soos eers nie?"

"Met genoeë", antwoord hy effens verspot, sonder erns. En toe Juffrou verbyry skool toe sien sy dat die twee weer net soos eers afskeid neem op die stoep met soenery en handjiewaaiery, en sy dink dat die wêreld nie net om die son draai nie, maar ook om die mense.

Maar dit was die laaste wat sy en Meneer van Esme gesien het.

Elfuur toe hulle by die huis kom tee drink, is daar niemand nie, nie eens ou Klaas nie, en die vuur is morsdood.

Esme is seker weer dorp toe vir die dag, dink hulle, want die motor is weg. Gou kook Meneer teewater met die lampoliestafie en Juffrou was koppies en maak toebroodjies. Terwyl hulle teedrink kom ou Klaas terug van die Bosmans af. Esme het hom daarheen gestuur om 'n spitvurk te gaan leen om die blomtuin om te spit, vertel hy, en sy het seker vertrek terwyl hy weg was.

"Sy sal die drif nooit deurkom na hierdie reën nie", sê Meneer. As hy net 'n idee gehad het dat sy wou dorp toe gaan kon hy haar gewaarsku het.

"Miskien is sy net stasie toe om die pos te kry", meen Juffrou.

Die middag toe die skool uitkom, is Esme nog nie terug nie.

Toe die son ondergaan en sy nog nie opdaag nie, word Meneer baie onrustig. Hy ry met die fiets oor na Ben toe, en vra hom dat hulle met sy kar en perde moet ry na die drif om te sien of die motor nie miskien daar vassit nie. Maar Ben meen dat dit 'n pad is wat baie gery word, en as die motor daar vasgeval het, sou daar wel verbygangers gekom het wat haar sou help, want motoriste is behulpsaam vir mekaar. Daarby is die drif byna agtien myl van hulle af, en hy voel nie lus om die afstand blindelings in die nag te ry nie. Sy het maar seker besluit om die nag in die dorp oor te bly sodat sy kon bioskoop toe gaan. Esme is nie soos ander vroue nie; sy het tevore ook al snaakse dinge gedoen.

"Maar sy kon my tog net gesê het!" kla Meneer.

"As sy jou gesê het, sou jy haar miskien terug gehou het."

"Nee, sy het geweet ek sou nie", antwoord Meneer beslis.

Hy ry weer terug met Ludie voor op die fiets, om te sien of sy nie intussen gekom het nie.

Die volgende dag toe die skool uitkom, het sy nog nie opgedaag nie. Hy wil nie weer met Ben gaan praat oor die saak nie, en hy kon ook nie gedurende 'n middag met 'n fiets dorp toe ry om haar te soek nie. Hy vra Juffrou om vir Ludie saam met haar huis toe te neem. en hy ry dadelik ná skool stasie toe.

Sy plan is om die polisiekantoor van die dorp te bel, en hulle te vra of daar enige motorongelukke die vorige dag was. So nie, wou hy hulle vra om in die dorp rond te kyk of hulle 'n motor met sy nommer gewaar, en dan kon hulle hom laat weet net voor die poskantoor sluit.

Terwyl hy die pos oor die toonbank ontvang, en nog eer hy die polisie kon bel, slaan een van die stasie-amptenare hom op die skouer.

"Jy is 'n ander een om jou motor dwarsdeur die nag op die stasieplein te laat staan", sê hy. "Jou laaste gereedskap is gesteel, en jy kan dankbaar wees dat die motor nog daar is."

Vir 'n oomblik weet Meneer nie wat om te sê nie. Hy kyk die man verslae aan, en kry so 'n snaakse malmens-laggie op sy gesig.

"Esme se motor op die stasieplein, sê jy?"

"Ja, weet jy nie daarvan nie?" vra die man verwonderd.

Toe word dit vir hom duidelik dat Esme seker met die trein weg is, Waarheen, kom vir die oomblik nie daarop aan nie. Sy het die motor natuurlik daar laat bly om weer mee terug te kom huis toe, en nie daaraan gedink dat dit gesteel kon word nie. Dis presies so sorgeloos as wat sy is. Dat sy sulke dinge sonder sy wete doen, maak hom baie seer, en hy wil die vreemdes dit nie laat agterkom nie.

Asof hy van alles bewus is antwoord hy gemaak-vererg:

"Het my vrou tog nie die motor op die stasie laat bly nie? Sy sou dit in die garage gelaat het totdat sy terugkom. Sien.... sy was nie seker wanneer sy sou terug kom, sodat ek haar kon kom haal nie, toe het ons maar gedink dat dit die beste sou wees om die motor te laat bly vir haar as sy terug kom."

Die kêrel sluk die storie, en gesels toe nog so 'n bietjie oor ander dinge.

Daarop ry Meneer stasie toe en neem die motor na die garage. Dit moes daar bly vir 'n onbepaalde tyd, sê hy, en intussen kon hulle die dinge olie gee, en al die los moertjies en skroefies vas draai wat so rammel as hulle ry.

Aan die vriend op die stasie het hy gevra om Esme te sê waar die motor is wanneer sy terug kom.

Daar is 'n paar briewe van Ben-hulle ook by die pos en hy ry daar om, om dit af te gee. Hy kan hulle dan ook vertel van Esme se nuwe streke.

Ben is op die lande aan die ploeë, en Juffrou en Hester sit op die agterstoep. Hulle is net besig om koffie te drink.

"Net op tyd", sê Hester met 'n breë glimlag toe hy voor die deur van sy fiets afklim, en sy gaan sommer kombuis toe om vir hom koffie te skink.

Ludie sit daar op die vloer met dolosse en speel, wat oom Ben vir hom bymekaar gemaak het, en spoggerig wys hy hulle vir sy pa, watter Blesman, Swartkop, en Witvoet is.

Ben haal 'n kardoesie lekkers uit sy sak en gee dit vir hom, om eers vir Juffrou en tant Hester aan te bied eer hy self daarvan neem,

"Nog niks van Esme gehoor nie?" vra Hester toe sy die koffie vir hom gee.

Hy vertel hulle.

Hester bly stil en kyk aandagtig voor haar op die grond.

Dat sy binnekort sou terug wees, twyfel Meneer nie.

"Maar waarheen sou sy gegaan het?" vra Hester.

"Seker Johannesburg toe."

"Maar na wie toe? Sy is al ses jaar daar weg, en het tog seker nie sulke danige vriende om by te gaan kuier nie. Waarom het sy ook nie vroeër gaan kuier nie?" meen Hester.

So het Meneer nie oor die saak gedink nie.

Juffrou raai hom aan om te gaan kyk watter en hoeveel klere Esme saam het. Daaraan kon hulle vastel waarheen sy is, en hoe lank sy van plan is om weg te bly.

Maar Meneer kan hom glad nie herinner hoeveel en wat se klere sy het nie.

Die twee vroumense besluit om saam met hom terug te ry met hul fietse. Hulle onthou Esme se klere, en weet presies wat sy gehad het.

Dis lekker om in die koel middag met 'n fiets te ry, en die drie ry vrolik-geselsend oor die bult - Juffrou voor, en Meneer en Hester langs mekaar. Hester het maar onlangs haar fiets gekry en ry onseker.

Meneer vertel hulle hoe hy een oggend op pad stasie toe neergeslaan het met sy fiets, en hulle lag. Ook Ludie lag, en sê dat hy nooit sal val as hy 'n fiets het nie.

Meneer belowe hom 'n fiets.

Toe hulle daar kom, gaan Hester en Juffrou reguit kamer toe.

Daar is geen rafel van Esme te vind nie. Die kaste, laaie, alles is leeg. Alleen die ou kamerjapon waarmee sy bedags in die huis rond geslof het hang agter die deur.

Juffrou dink aan die groetery die oggend op die stoep, en sy vertel Hester daarvan.

"Dié Esme. Dis net soos sy is", sê Hester. "Sy wou hom vir oulaas nog oorrompel, sodat hy na haar moes verlang", en voeg verontwaardig by: "Ek twyfel of sy die kind gegroet het".

"'n Mens kan haar nir kwalik neem dat sy Ludie nie lief het nie", meen Juffrou, "want ons het haar nie kans gegee om veel vir hom te doen nie".

"Sy kon nie, en sy wou nie. Dis al. Niemand het haar voorgespring om die kind se klere heel te maak nie. Ons was naderhand verplig om dit te doen wanneer hy hier kom, omdat ons die ellende nie kon aansien nie", praat Hester sonder genade.

"Jy moet vir hom sê", fluister Juffrou toe hulle terug gaan eetkamer toe.

"Sy is vort", sê Hester.

"Vort? Wat?.... Vort? Waarheen?" vra hy ontsteld, want hy het reeds die ergste begin vermoed.

"Dis die beste vir jou", troos Hester.

Juffrou sê niks. Sy dink aan die week toe hulle die meubels uitgepak het in daardie huis.

"Beste?.... Beste?.... Ek 'n ou skoen wat opgedra is en weggegooi word?.... Beste?" smaal hy verward. Plotseling kyk hy Juffrou aan met oë vol pyn, en vra skerp: "Sê jy dit ook?"

"Ja", antwoord sy. "Omdat ek glo dat dit deel is van Gods plan met jou. Hy het haar nie sommer wispelturig na jou toe gestuur nie, en Hy neem haar nou ook nie weg net vir die grap nie. Lank het die Here jou met rus gelaat, en nou begin Hy eindelik klop aan jou deur. As jy Hom net maar wil binne laat!"

Intussen het hy onverskillig sy rug op haar gedraai. "Jou preek, Juffrou.... is onvanpas.... op hierdie.... oomblik", sê hy stotterend toe sy swyg.

"Goed", antwoord sy, "Ons sal sien." So ry sy en Hester lerug.

Nadat hulle weg is, gaan hy self die leë kaste en laaie besien. Die japon wat agter die deur hang neem hy. Hy hanteer dit soos 'n mens met 'n vuil kledingstuk van 'n Kaffer sou werk. Voor die agterdeur gooi hy dit op 'n hopie, en steek dit aan die brand.

"Wat maak pappie nou?" vra Ludie wat by staan.

"Pappie brand die rok", verduidelik hy bedaard.

"Hoekom brand pappa ons mammie se rok?"

"Mammie wil hom nie meer hê nie."

"Hoekom wil mammie hom nie meer hê nie?"

"Omdat sy weg is, en nooit weer sal terugkom nie."

"Hoekom sal sy nie weer terugkom nie?"

"Omdat sy nie by pappie en Ludie wil bly nie."

"Hoekom wil sy nie by ons bly nie?"

"Dis nie vir haar lekker by ons nie."

"Waarnatoe het sy gegaan?"

"Sy het baie ver gegaan, na 'n groot dorp toe."

"Sal sy daar lekker bly?"

"Pappie hoop so."

Dit was die laaste gesprek wat Meneer met die kind oor sy ma gevoer het.

Toe die japon uitgebrand is, tel hy die swartsel met 'n graaf op, en gooi dit in die asblik.