Die liefde is lankmoedig/Hoofstuk IX

From Wikisource
Jump to: navigation, search
Hoofstuk VIII Die liefde is lankmoedig
Hoofstuk IX
deur T. C. Pienaar
Hoofstuk X


IX.

Ben het in die begin geen woord met Esme of Meneer oor die erflating gepraat nie, en hulle het ook niks gesê nie. Hy het dikwels dorp toe gegaan om sy prokureur te spreek. Hy wou die boedel afsluit so gou moontlik, en dan van vooraf begin, het hy vir Hester gesê. Daar dit 'n uitgestorwe boedel was, en daar geen krediteure, skuldenaars of onmondige kinders was nie, kon dit binne 'n paar maande gebeur, so gou die oes af is.

Hy reël dat daar vendusie gehou sal word van alles. Die plaas, vee, gereedskap en huisraad - alles sal sonder reserwe verkoop word. Dit sal verkoop word vir die hoogste bod, of dit nou onder die waarde is of nie, vir hom sal dit nie saak maak nie. Wat te goedkoop gaan koop hy self, en as iets 'n groeie prys behaal kan dit net so wel gaan. Die plaas sou in twee dele verkoop word om dit makliker van die hand te sit.

Die wintervakansie gaan die Luderitze Strand toe, en Ben reël die vendusie vir die eerste Saterdag na die vakansie.

Sodra hulle terug is, ry Ben te perd oor om hulle te gaan vertel hoe hy gereël het, en wat hulle te doen staan.

Meneer kom uit, groet hartlik, vra hoe dit gaan, en nooi Ben in sy studeerkamer. Ben vra uit na die vakansie, en Meneer deel mee dat dit baie aangenaam en rustig was. Met die terugreis het hulle so 'n bietjie teenspoed gehad daar die ou motor al mankoliekig is, maar te erg was dit nie.

Ben vra toe waar Esme is, en Meneer antwoord: "Sy is maar hier agter".

Vanaf die begrafnis het die Bosmans haar nog nie weer gesien nie, hoewel Meneer dikwels met Ludie voor op sy fiets kom kuier het. 'n Mens kan nie sê kom gesels het nie, want hy het sommer net 'n ruk daar kom sit, en dan weer gery, sonder om veel te sê. Dit was of Esme kopsku was vir hulle, en hulle het haar tog niks gedoen nie.

Een Sondagmiddag net voor die Luderitze sou weggaan het die Bosmans en Juffrou gaan kuier en toe het Meneer alleen uitgekom, en self vir hulle koffie gemaak. Hy het gesê dat Esme se kop seer was, en dat sy slaap, en hy haar liewer nie wou wakker maak nie.

"Sa] jy haar asseblief gaan roep?" vra Ben nou. "Of sal ek maar met jou....?"

"Nee, nee! Ek sal haar gaan roep", keer Meneer vinnig net asof hy seer kry.

Dit duur lank eer Esme uitkom, en toe is sy gepoeier en gegrimeer soos een wat bruilof toe gaan. Ben wonder wat die motiewe van die aantrekkery is, of dit nou is om hom onder die indruk te bring dat sy "vreeslik wonderlik" is, en of sy hom met sy gryskop wil afvry van Hester.

Met dié gedagte glimlag hy toe hy haar groet. Dis maar goed dat Esme nooit geleer het om haar familie te soen-groet nie, want dan sou sy nou darem baie ongemaklik gevoel het.

"Ons het jou lanklaas gesien", sê hy. "Hoe gaan dit nog, Esme?"

"Uitstekend, dankie", antwoord sy stroef. "Ons het 'n heerlike vakansie gehad." Toe bly sy stil.

"Met tant Hester gaan dit ook nog goed, dankie", sê Ben daarop goedig-sarkasties, en Meneer glimlag,

"Bly om te hoor", antwoord Esme, nou ook met 'n skyn van 'n glimlag, en voeg sarkasties by: "Mag ek vra hoe dit gesteld is met die gesondheid van juffrou Boyer?"

"Uitstekend, dankie", antwoord Ben. "Sy was vir 'n week na vriende in Pretoria, en het gister eers teruggekom."

"Dit sal haar goed doen", sê Meneer daarop.

"Kyk, Esme", begin Ben toe ernstig, "ek het jou net kom sê dat die hele boedel van oorlede ma nou Saterdag uitverkoop word. Die vendusie sal by ons huis gehou word."

"Ons het die advertensie in die koerant gesien. Ek dink jy kon my darem geraadpleeg het eer jy alles sommer sonder reserwe gaan verkoop. Al is jy eksekuteur, ek het darem ook belang in die saak", begin sy sommer skerp.

Meneer haal sy py uit en steek dit aan. "Wil jy my tabak probeer, Ben?" vra hy.

Esme gee hom 'n vermanende kyk. Hy weet sy kan die stink plaastabak nie verdra nie, en hy rook dit nou opsetlik om haar te vererg.

Ben lees haar gedagtes, en sê: "As jou neusie te fyn is vir ons skerp tabak, Esme, kan jy gerus maar bokant die wind kom sit. 'n Man kan nie besigheid praat as hy nie rook nie, en daardie laventel-tabakkies is nou eenmaal te flou vir ons twee."

Meneer maak die venster bo oop, want dis te koud om dit heeltemal op te skuif.

"Dis juis oor die "sonder reserwe" waaroor ek met jou kom praat het", vervat Ben. "As ons 'n vasgestelde prys op die goed gaan sit mag dit maande duur eer die boedel afgesluit word. Ek is haastig om te weet waar ek aan of af is, voor saaityd kom, anders kry ek miskien geen oes volgende jaar nie. En wat jóu betref, ek het gereken jy sal hoe eerder hoe beter jou eie tjekboek wil hê."

"Ek is glad nie so danig haastig dat die goed vir 'n appel en ei moet weggegee word nie", antwoord sy.

"Dis nie nodig om dit weg te gee nie", gaan Ben ewe kalm verder. "As iets te goedkoop gaan na jou sin, kan jy dit self koop, en dan later vir jou eie prys weer verkoop. Dit sal in jou voordeel wees, want aan daardie wins sal ek dan geen deel hê nie."

"Maar jy sal mos dieselfde kan doen?"

"Ek hoop so", sê Ben, "en dis ook my plan om deel van die plaas terug te koop as dit nie te duur gaan nie".

"O so? Ek het gedink daar sit iets agter!" sê Esme wantrouig.

Meneer staan op en wil uitstap, maar Ben keer hom. "Toe maar, Meneer", sê hy gerustellend. "Esme is my bloedfamilie, al is sy jou vrou."

Esme kan nie verstaan wat hy daarmee bedoel nie, maar Meneer begryp. Hy kan die verandering in Ben nie kleinkry nie. Sedert daardie verskriklike aand is hy 'n ander mens. Hulle het hom nie weer 'n woord uit die weer en hemel hoor vloek nie: vir Hester behandel hy met toewyding en besorgdheid, en teenoor die volk is hy wonderlik verdraagsaam - hy was dit selfs tydens die drukte van dorstyd. Bo alles is daar nou dikwels 'n glimlag op sy gesig waar 'n mens dit eers selde gesien het. Meneer weet wat die plaas en boerdery vir hom beteken het, en nou kan hy ewe kalm en besadig praat oor die verkoop daarvan, ondanks die prikkeling van die persoon wat hom die dinge wat hom dierbaar is, gaan ontneem. 'n Mens sou verwag het dat hy nou juis verbitter en hardvogtig sou wees. Meneer het verwag dat die selfverwyt wat die man in een nag grys gemaak het, hom sou onderkry, maar dit het verdwyn en Ben het bo uitgekom, gelouter en gesterk. Wat sou daar met hom gebeur het? Waar kry hy nou daardie krag en lewensmoed vandaan? Hy sal tog met Juffrou daaroor praat. Sy sal wel weet wat die oorsaak is.

"Dit lyk nie of jy luister nie, Meneer", sê Ben.

Dis waar. Sy gedagtes het heeltemal weggedwaal, soos so dikwels in die afgelope tyd.

"Ek sê vir Esme jy moet iemand kry wat die grond takseer, en as dit minder as die waarde gaan op die vendusie, sal ek bie tot op die taksasie vir die deel wat ek wil koop", verduidelik hy. "Dis billik genoeg, is dit nie?"

Plotseling spring Meneer op, en hy gaan staan met sy hande in sy baadjiesakke geklem. Ben verwag dat daar 'n storm gaan losbreek, maar hy sê net: "Dit kan sy self doen", en stap uit.

Nadat Ben al die besonderhede met Esme klaar bespreek het, sê hy haar dat hy lus voel vir 'n koppie tee, en dat hy Meneer sal gaan inhaal terwyl sy dit maak.

Ben is vir Esme daardie môre baie soos haar oorlede vader was. Noudat hy so grys is, net soos haalr vader, kan sy die ooreenkoms duidelik sien. Dit laat haar verlang na haar goedmoedige pappa wat sy laaste sjieling met 'n glimlag kon uitgee, en die gedagte neem baie weg van die hardvogtigheid en wantroue wat daar sedert die begrafnis in haar getier het.


------------------


Van heinde en verre kom die mense die dag vendusie toe.

Omdat daar "sonder reserwe" op die advertensie was, is daar baie kopers.

Presies om tienuur, toe dit sou begin, kom Esme alleen daar aangery. Sy is deftig geklee, nog in swart, en neem haar plek langs die afslaer in.

Eers word die huisraad, potte, panne, en breekgoed opgeveil. Sekuur teken sy die verkoopprys van elke artikel aan, terwyl Ben ewe op sy gemak met die bure staan en lag en praat sodat die mense onder mekaar sê dat dit lyk asof hy dankbaar is om van die goed ontslae te raak.

Hester en Juffrou, albei in bont huisrokkies, met voorskote aan, is druk besig om die besoekers op koffie en koek te trakteer. Daar is baie bekendes wat van ver kom, en hulle gesels met elkeen asof dit 'n onthaal is.

"Nou word die plaas opgeveil. Die plaas, mnr. Bosman!" skree die afslaer.

Daar kom 'n krampagtige trek op Ben se gesig, en hy stap nader.

Eers kom die duisend morge met die opstal.

Een van die bure maak 'n bod van twee duisend pond. Iemand sit tweehonderd-en-vyftig by.

Die bieëry styg stadig, elke maal met 'n kwart duisend, totdat vier duisend vyfhonderd bereik word. Toe staan dit stil. Dis 'n Jood uit die dorp wat die hoogste bod gegee het.

"Vier duisend vyfhonderd!.... Vier duisend vyfhonderd!.... Spotkoop vir 'n ryk mielieplaas met 'n woonhuis, skure, windpomp, dam, krale, dip, kampe.... Alles vir vier duisend vyfhonderd! Wie sê meer? Kom?" roep die afslaer onder die grootste stilte.

"Vier duisend vyfhonderd vir die eerste.... tweede.... en .... laaste maal!"

Die Jood wryf sy hande. Die grond is minstens ses pond per morg werd.

Esme se wange is gloeiend en haar oë fonkelend. Vier duisend vyfhonderd is vir haar 'n geweldige som geld. Niemand het haar gesê dat grond soveel geld werd is nie.

"Tevrede?" vra die afslaer haar.

Sy knik.

Hy glimlag.

Die afslaer kyk vir Ben. Dié knik vir hom dat dit goed is. Die afslaer kan dit nie glo nie, en hy gaan praat met Ben.

"Sonder reserwe", sê Ben. "Jy weet tog wat dit beteken?"

Die koop gaan deur.

Die vrouens kyk Hester nuuskierig aan. Dis haar huis wat onder haar uitverkoop word. Die bure weet hoe sy en Ben gewerk en vir alles gesorg het; hoe almal gedink het dis alles hulle s'n. Die verwagting was dat Ben die opstal en lande waaraan hy die beste van sy jare gegee het, sou terug koop. En hy laat ewe kalm toe dat 'n Jood dit spotkoop kry. Hulle kan dit nie verstaan nie, want Ben was altyd 'n harde en inhalige buurman wat op 'n mieliestronk en graspol gesien het.

Die tweede stuk van die plaas word opgeveil - die duisend morge wat die groen vlei insluit, en aan die skoolgrond grens.

Die verwagting is dat Meneer dit sal koop, en die oë kyk rond vir hom. Maar hy is nie daar nie. Miskien gaan sy vrou dit koop. Dis seker al klaar gereël, want sy vrou het eendag gesê dat hy sal moet boer wanneer hy aftree. Nie een voel lus om Meneer op te jaag nie want hy is oral gewild, bemin om sy sagte geaardheid.

Die hoogste bod is twee duisend vyfhonderd.

"Twee duisend vyfhonderd!" skree die afslaer. "Twee duisend vyfhonderd vir die eerste.... tweede.... en...."

"Drie duisend", skree Ben wat dusver nog geen bod gegee het nie.

Die afslaer slaan toe, en fluister vir Esme; "Jou swaer is 'n dwaas of filantroop. Net 'n honderd pond meer sou hom die grond gegee het, en hy sit vyfhonderd op!"

Esme slaan daar geen ag op nie, en skryf op £3,000. Nou bereik sy 'n totaal van £7,650. Die helfte daarvan is £3,825! En die vee en plaasgereedskap is nog daar!

Ben maak ook 'n sommetjie in die gouigheid. Hy trek £3,000 van £4,500 af en kry £1,500. Die helfte daarvan is £750. Daarvoor kan hy sy vee en plaasgereedskap terugkoop. Toe begin hy bie. Dis snaaks, die bure wat eintlik net vir die vee en plaasgereedskap gekom het, jaag hom nie op nie; dis net die vreemdes van ver wat saam met hom bie, en hulle is min.

Net 'n paar dinge gaan te hoog na sy sin. Die res koop hy alles terug.

Nadat alles afgeloop en hulle alleen is, sê hy aan Hester en Juffrou dat hulle omtrent driehonderd pond aan kontant sou uitkry. Daarmee kan hy timmerasie koop om 'n ordentlike nuwe huis oorkant die vlei teen die bult te bou. Die volk kon dadelik begin met die steenmakery, en hy sou dit self bak. Die messelwerk kan hy ook self doen, en hy kan Giel van oom Piet Botha vra om die houtwerk te doen, en die dak op te sit. Giel het goeie kennis daarvan want hy het lank by 'n bouer op die dorp gewerk.

Die feit dat sy haar lewe in die ouderwetse familiehuis met die aaklige herinnerings moes slyt, het lank swaar gedruk op Hester, en dis nou 'n groot vooruitsig dat sy 'n nuwe huis kan kry - 'n gerieflike huis wat sy self kan plan. Terwyl hulle die aandete klaarmaak, gesels hulle opgewek oor die toekoms. Hester voel lus om Ben om sy nek te neem en te soen uit louter dankbaarheid. Maar hulle sal dalk dink sy is verspot, want ou getroude mense doen nie meer sulke dinge nie.


------------------


Toe Esme die aand by die huis kom, gaan sit sy by die tafel, alles noukeurig weer en opreken, en sy kry 'n groottotaal van £8,250. Die helfte daarvan is £4,125. Laat die honderd-vyf-en-twintig maar gaan vir die belasting en onkoste, dink sy, en roep verheug uit: "Mannie! Mannie! Ek gaan minstens vier duisend pond skoon uitkry!"

Hy kom van die kombuis af in en kyk haar op en neer. Arme ding, sy kan dit nie help nie, dink hy. Dis in haar bloed en opvoeding, en natuurlik voel sy nie so teenoor Ben-hulle soos hy nie. Vier duisend? Dan het sy Ben minstens ses duisend ontneem van sy suurverdiende erfenis. Die plaas moes spotkoop gegaan het, as sy maar net sóveel uitgekry het. Was dit nie om haar inhaligheid nie, sou Ben nooit op so 'n gekke uitverkoping besluit het nie. Sulke sake kan anders ook gereël word, wanneer die erfgename mekaar vertrou en tegemoet kom.

"En as jy my nou só staan en bekyk?" vra sy teleurgesteld omdat hy hoegenaamd geen kommentaar maak nie.

"Soos 'n honger bok na 'n vrot blaar!" antwoord hy, en lag bitter soos 'n hond wat sukkel om te blaf.

"Luderitz, jy is gemeen!" skree sy, en gryp na die leë blompot op die tafel.

Hy koes, en die blompot breek in skerwe teen die muur. Die slag bring haar tot bedaring.

"Jy moet oppas, kindjie", vermaan hy haar daarna gemaak-ernstig. "'n Vrou het eendag haar man so doodgegooi met 'n strykyster, en toe het die Here haar gestraf met lewenslange stomheid."

Verskrik spring sy op, en gryp hom voor aan die baadjie. "Wie is dit? Sê my wie is dit?" skree sy.

"Dit hoef jy nie te weet nie. Ek waarsku jou maar net om dit nie weer te doen nie. Nie dat dit vir my soveel saak sal maak as jy my tref nie."

"Wat bedoel jy? Man, wat bedoel jy!" huil sy byna van angs. "Dit was nie Ouma nie! Sê my jy lieg; dit was nie Ouma nie!"

Hy maak haar handjies los van sy baadjie af, en hou hulle styf vas voor hy sê: "Dit was nooit my plan dat jy dit moes hoor nie, maar nou dink ek dat dit my plig is om jou dit te vertel - jou hele familiegeskiedenis."

Hy trek haar na die bank toe, en gaan sit langs haar. Onrustig hou hy haar dop terwyl hy dit vertel. Dis sy plig om haar tot in die diepste te leer ken, en haar by te staan en te veg teen die siekte in haar bloed. Dit sal makliker gaan as sy alles weet.

Sy luister aandagtig met 'n minagtende vertrekking van die mond, nou en dan.

Toe hy stil bly, maak sy haar vol afsku los van hom, en staan op.

Nou kyk sy hom weer op en neer.

"Is dit al?" vra sy.

"Dis die hele storie, en genoeg ook", antwoord hy.

"Genoeg ook, durf jy sê. Genoeg van jou leuens. Dis die laagste storie wat 'n mens kon bedink! Dis wat in jou gedagtes omgaan as jy heeldag soos 'n skaap sit sonder om te praat. Stille waters.... Ja!"

"Maar, Esme! Dis die waarheid. Die heilige waarheid", bevestig hy.

"Dis 'n verdigsel van jou halfgek verstand", snou sy hom toe. "Die eerste aand het dit al vir my gelyk of jy in 'n gestig tuis hoort, en ek het dit nie mis gehad nie. Dit sien ek nou."

"Maar, mens, wat kan ek daarmee voorhê?" hou hy vol.

"Voorhê? Dis 'n storie wat jy lankal uit jaloesie bedink het om my te verneder op die dag wanneer ek onafhanklik word van jou. Jy kan die gedagte nie verdra dat dit nie meer langer vir my nodig sal wees om elke dosie poeier by jou te bedel nie. Ek sê jou dis jaloesie! Jy is jaloers op daardie geld; plaas dat jy dit liewer waardeer. Ek het tevergeefs gehoop om 'n ryk man te trou, nou is dit jy wat die geluk gekry het. "

Met sy hande geklem in die sakke van sy ou sportbaadjie staan hy die beskuldigings en aanhoor. Hy is doodsbleek. Sy oë is soos staal op haar gevestig, en sy gesig vertrek soos 'n kranksinnige s'n.

"GeJuk!.... Geluk!.... Geluk!" breek hy byna waansinnig los. "Noem jy dit geluk? As daar regtig 'n God in die hemel is wat Hom moeg maak oor ons hier op die aarde, sal Hy verhoed dat my vingers ooit 'n pennie van daardie vuil geld aanraak."

Daarop snel hy kaalkop by die voordeur uit, en sy skree agterna: "Nou dat jou kerk uit is, is my geld vuil, nè?!"

Hy gryp sy fiets, en ry weg. Hy dink nie waarheen hy ry nie. Dis asof die fiets outomaties koers neem na die Bosmans.

Hulle sit net aan tafel toe hy daar kom, en hy eet saam daar hy heeldag nog niks geniet het nie.

Dan gaan hy en Ben voor die stoof sit en rook. soos in die goeie ou dae, terwyl die vroumense die skottelgoed was.

Hy praat byna niks nie. Hulle voel dat hy diep ongelukkig is.

"Ben het toe die grond daar oorkant gekoop, en die hele vlei ook", vertel Juffrou hom terwyl sy heen en weer stap na die rak waar sy die afgedroogde skottelgoed bêre. "En hy het genoeg uitgekry om vir ons 'n nuwe huis te bou daar oorkant teen die bult, met 'n lieflike uitsig oor die groen vlei en die pragtige wilgerbome. Dink jy nie dis gaaf nie? Ek sal nader wees aan die skool, en Hester sal nie nodig hê om langer in hierdie ou huis met al die aaklige herinnerings te woon nie. Regtig, die Here het alles wonderlik goed bestier", besluit sy.

Meneer kyk na Hester en Ben, en sien die bevestiging van Juffrou se woorde op hul gesigte. Hulle is volkome gelukkig en tevrede. Daar het iets in daardie huis gebeur wat hy nie met sy rede en sielkunde kan verklaar nie. As hy terugdink aan die Ben wat aan elke sooi grond vasgeklem het, wat gesien het op elke draadpaal wat met sy hardverdiende oeste betaal is, dan kan hy nie begryp hoe die man nou sonder enige bitterheid, blymoedig afstand doen daarvan, en selfs getuig dat dit die beste so is nie. Sou daar werklik 'n God wees wat mense se harte en lewens kan verander? Wat Hom bemoei met die lewe van elke individu? Is daar waarheid in Juffrou se immer stralende geloof? Dit lyk tog so onmoontlik, waar daar miljoene siele is, en miljoene der miljoene gebore word en heengaan, dat God op 'n individu kan let. Hy neem aan dat daar 'n onverklaarbare krag in die heelal is, wat 'n mens die Oorsprong van alle dinge of God kan noem, en ageer deur natuurwette. Maar dat daardie krag 'n onderskeid maak tussen mens en dier en plant kan hy nie glo nie. Dan praat die gelowiges ook van uitverkorenes, mense wat voor hulle geboorte uitgekies is om gered te word vir ewige saligheid. Dis die onaanneembaarste van alles, en dit lyk ook onlogies.... Dis alles so ingewikkeld.... teenstrydig,

Hester raak aan sy skouer en sê: "Meneer, wat makeer jou? Dit lyk asof die honde jou kos afgeneem het,"

Hy glimlag onbeholpe.

Ben druk op sy knie en voeg simpatiek by: "Ou vriend, jy moet jou nie in die minste kwel oor óns nie. Ons is nou beter af as ooit."

"Wanneer gaan jy begin bou?" vra Meneer toe, effens opgewek, asof hy hom probeer reg skud.

"Ek gaan dadelik begin stene maak. Intussen kan ons hier bly, het die Jood gesê: ek moet net solank sy deel van die plaas vir hom bestuur - toesig hou oor die saaiery en so aan. Hy gaan voorlopig net 'n paar woonkaffers kry; en sodra ek kan oortrek sal hy adverteer vir 'n bestuurder."

"'n Bestuurder vir 'n Jood op sy eie plaas, en dit deur my vrou", dink Meneer bitter, en sak weer weg in sy swaarmoedigheid.

"Dit sal net vir omtrent ses maande wees", voeg Juffrou by, asof sy sy gedagtes lees.

Meneer kyk haar aan en hy dink: "Watter wonderlike sieltjie is in daardie onaantreklike klein mensie! Wat tel die meeste, die siel of die liggaam?" vra hy homself verder af....

Die ander sien dat hy weer verdiep is in sy gedagtes, en hulle swyg bedroef.

Teen elfuur staan hy met 'n sug op en verklaar dat hy "seker nou" moet huis toe gaan. Hy soek na sy hoed, en toe val dit hom by dat hy sonder hoed gekom het. Ben leen hom 'n hoed want sy kop is kaal, en die nagte is nog koud in Augustus.

Die aand toe Juffrou wil bid kan sy geen woorde vind nie, net trane. Lank lê sy op haar knieë en huil. Sy huil nie om wat daar met die Bosmans gebeur het nie; inteendeel het sy die Here elke dag daarvoor gedank. Nee, sy huil om iets anders wat haar baie nader aan die hart lê as haar vriende.