Die liefde is lankmoedig/Hoofstuk VII

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Hoofstuk VI Die liefde is lankmoedig
Hoofstuk VII
deur T. C. Pienaar
Hoofstuk VIII


VII.

Nou het die einde van die kring se intieme saamwees finaal aangebreek. Van nou af sal daar twee huise wees.

Dis asof die klop die aand aan die deur die teenoorgestelde in elkeen bewerk het. Die ou vrou, wat altyd die meeste te sê gehad het, het stom geword, en Juffrou, wat so spraaksaam en onderhoudend kon gesels stil en ingetoë asof haar gedagtes altyd met ander dinge besig is. Ben en Hester, wat altyd soos twee kopsku donkies gehuiwer het om iets te doen of sê, handhaaf nou hulself; en mnr. die Swyger, soos Juffrou hom soms genoem het, se tong het weer los geraak; 'n nuwe lewe het in hom gekom - 'n mens kan byna sê 'n ander mens.

Nou is dit hy wat elfure gesels, en Juffrou wat luister, met gedagtes waarvan niemand ooit sal weet nie.

Ter wille van Esme gaan hulle nou soggens by die huis tee drink. Hoewel Juffrou in die begin sterk getwyfel het, lyk dit gou vir haar asof Esme die huwelik ernstig aanvaar, en hom werklik gelukkig sal maak. Elke dag is Juffrou die stil getuie van hul omhelsing. Wanneer sy en Meneer speeltyd daar kom, staan Esme op die stoep, en hulle groet so verspot soos Juffrou nooit sou kon doen nie. Sy stap dan sommer verby en gaan tee inskink. Partymaal is die tee nog nie gemaak nie, dan gaan sy agtertoe en sorg daarvoor. Later word dit gewoonte dat Esme op die stoep sit met 'n uitlandse tydskrif wanneer hulle speeltyd daar kom. Dan trek Meneer haar liefdevol op aan die handjie en wat dan gebeur, hoef Juffrou nie te aanskou nie, want sy moet haar haas om die vuil koppies in die kombuis te gaan was, en tee reg te maak. Esme weet natuurlik dat sy dit sal doen, daarom bly sy houtgerus op die stoep sit.

Meneer merk nie op dat dit nie so hoort nie. Juffrou het vir hom so vanselfsprekend geword dat alles wat sy doen vanselfsprekend is.

Die blomme wat sy op hul huweliksdag in die huis gesit het, het droog geword in die potte. Twee weke lank het sy daarteen vasgekyk, totdat dit vir haar soos 'n verdorde krans op 'n graf gelyk het. Toe kon sy dit nie meer verdra nie. In albei se teenwoordigheid staan sy plotseling op en maak die potte leeg en skoon.

"'n Tipiese bokwagter. Dis jammer dat bokke so skaars is hier", hoor sy Esme sê toe sy uitstap. Maar sy gee nie om nie. Wat Esme of enige mens van haar dink, maak nie saak nie.

"Die blomme is aakliger as dooi mense", sê sy toe sy terug kom. "As julle geen neus het om die aas te ruik nie, myne is fyn." Soos sy 'n skoolkind kortvat, voeg sy by: "Jy kan gerus jou luiheid laat staan, Esme, en sorg dat hier altyd vars blomme in die huis is. Daar is genoeg in die skooltuin."

Die volgende dag is daar blomme in die huis en mooi gerangskik ook.

So praat Juffrou ook reguit oor die mooi meubels wat so toe lê onder die stof, die vloer wat 'n borsel nodig het en die kombuis wat na 'n varkhok lyk. "Jy is nie meer 'n pop in 'n glaskas nie; jy is nou 'n huisvrou en dit word tyd dat jy dit besef", spreek sy haar hard aan.

Esme wonder of sy met Meneer of Juffrou of albei getroud is. En Meneer wys haar daarop dat dit reg is as Juffrou haar leer, want sy is nie opgevoed soos ander meisies by wie die huishouding natuurlik is nie. So skik sy haar en leer 'n bietjie huistrots en verantwoordelikheid aan, sodat Meneer Sondae spog wanneer Hester hulle daar kom eet.

Hester se voorspelling word gouer waar as wat hulle verwag het. In die najaar begin sy en Juffrou al kleertjies maak en doeke soom. Hester doen die masjienwerk en Juffrou brei oulike pakkies klere vir klein Ludie. Wanneer Meneer toevallig op 'n middag daar kom, steek hulle die goedjies weg, want mansmense het niks met sulke dinge te doen nie. In sy teenwoordigheid word daar nooit van gepraat nie, Juffrou het Esme dadelik wysgemaak dat dit so hoort, en hoewel sy anders oor die saak dink, dans sy gedwee na die ou siel se pype. "Sy doen vir my so baie dat ek nie anders kan nie", verduidelik Esme agteraf aan Meneer. "As sy gaan kwaad word, is ek verlore."

Lekker geamuseerd skik Meneer hom ook na Juffrou se wense. Die wegstekery van kleertjies en agteraf-pratery in die kamer is vir hom kostelik grappig. As Esme vir Juffrou gedurende teetyd kamer toe roep, weet hy dat hy hom alleen soos 'n fatsoenlike man kan gedra as hy sy pyp stop, en op die skoolgrond gaan klaar rook. Anders verdink hulle hom dalk van afluister. Die vermaak vergoed dan ook taamlik vir die genot wat hom ontsê is om saam te praat.

Dat die outjie uit die staanspoor vir sy pa gaan kant kies, het sy koms bewys. Die eerste eienskap wat Meneer van sy seun kon vasstel, was dan ook dat hy 'n uitstekende sin vir humor het, omdat hy die vroumense so 'n poets gebak het.

Daar is afgespreek dat Esme en hy die Julievakansie op die dorp moes deurbring om bepaalde redes, en Juffrou sou Strand toe gaan net na die dorsery. Aan die einde van die vakansie kom mnr. en mev. Luderitz dan ewe fatsoenlik terug met die baba van die dorp af, en as Juffrou van die Strand af kom, is sy van haar kant ewe verras om die dingetjie te sien. Juffrou en Hester was besonder dankbaar dat alles so oulik gereël kon word, en Esme omdat hy dan vry sou wees om al sy aandag aan haar te gee.

Dat alles só sou gebeur, het Meneer en Ben sterk aan getwyfel. "As die outjie 'n "sport" is, gaan hy met'n groot lawaai kom voor die skool sluit", het die twee dikwels saamgepraat. Hulle het so gehoop, net om te sien wat Juffrou sou doen. Maar die laaste week het aangebreek, en ook die more van die laaste skooldag sonder dat iets gebeur.

Toe Juffrou Meneer die more van die 30ste Junie by die skool sien, gee sy eintlik 'n sug van verligting. Sy het dit vir Esme baie ernstig op die hart gedruk dat hulle tog dieselfde middag wat die skool sluit, moes vertrek dorp toe, en sy voel nou gerus want sy het self alles ingepak die dag tevore.

Om negeuur _ dit was presies om negeuur want sy wou net met die grade se leesles begin - skrik sy haar lam. Ou Klaas verskyn in die deur en sê: "Die miesies sê die baas en die nonna moet altwee baie gou daar kom".

"Meneer nou laat huis toe gaan? Nooit!" dink sy. Hy moet nie eens agterkom dat sy soontoe is nie.

Vir 'n oomblik laat sy haar gedagte gaan, en toe het sy 'n plan. Sy stuur vir Meneer 'n briefie: Tant Bet is ernstig siek en Hester het my laat roep. Waarskynlik kom ek nie vandag terug nie. Dan skraap sy haar fiets en verdwyn na die skoolhuis.

Volgens haar en Esme se onervare oordeel is daar toe geen kans meer om die dorp te haal nie, en sy laat ou Klaas na tant Malie toe jaag met 'n briefie.

Gelukkig was Meneer so besig om die twee klasse aan die gang te hou en daarby ook die registers en ander state in te vul, dat hy ou tant Malie nie sien kom het nie. Juffrou het die kar gou weer teruggestuur met die versekering dat Meneer haar later met die motor sou terug neem.

Tot halfelf bly Juffrou in 'n "onbeskryflike spanning" soos sy later aan Hester vertel het. Toe kom daar 'n briefie van Meneer, en hy vra of Esme nie sy tee skool toe sal stuur nie daar Juffrou huis toe is en hy die registers en state wil klaarmaak voor die middag.

Dis wat Juffrou gehoop het. Die briefie kry Esme nie eens te sien nie. En toe Klaas die tee skool toe neem, word hy ten strengste verbied om iets van haar of tant Malie se teenwoordigheid in die huis te sê.

Haar angs was egter nog nie verby nie. Sy is dan in die kombuis om te sorg vir die middagete, en dan in die kamer om tant Malie te help en Esme stil te maak, en elke maal loer sy na die horlosie, of deur die venster om te sien of daar niemand van die skool af aankom nie.

Toe sy die nuweling se eerste liedjie hoor, omstreeks twaalfuur, stroom die trane van verligting oor haar wanqe en van toe af kry sy haar gewone kalmte terug. Selfs toe die skoolklok om eenuur lui, bly sy nog kalm.

Dis doodstil in die huis, wat die hele oggend so vol storms was, toe Meneer inkom.

Die tafel is vir drie persone gedek, en hy neem aan dat Juffrou daar eet.

"En toe, ek dag jy is huis toe?" sê-vra hy.

"Ek het nou net teruggekom", antwoord sy. "En toe hou Esme aan ek moet eers eet, want dit sal miskien laat duur eer ek alles weggepak het in die skool."

"Maar jy weet mos dat ek dit sou doen", antwoord hy half vererg, en vra toe hoe dit gaan met ou tant Bet.

"Baie, ek sal jou later vertel. Laat ons maar eers klaar eet.

Ek wonder waar Esme nou weer is; sy was nou hier", antwoord sy.

Soos Juffrou verwag het, gaan Meneer kamer toe om haar te gaan soek.

Waarom sy so verspot was, weet sy self nie, maar sy vlug uit na die stoep, en gaan staan daar en huil van loutere blydskap. Sy kon nouliks meer verheug gewees het oor 'n eie kind. Die liewe Here is wonderlik goed vir Meneer om hom op hierdie leeftyd só te seën. Vyftien jaar lank bid sy al vir ander seëninge vir hom, en nou ontvang hy dit.

Voetstappe in die eetkamer laat haar gou om die huis hardloop, agter na die kombuis toe, terwyl sy haastig haar oë afvee. Daar hou sy haar besig met kos opskep,

"Waar was jy?" vra tant Malie, wat net daarna in die kombuis kom.

"Ek was maar hier rond", antwoord sy. Die liewe Vader moet haar maar al die leuentjies die dag vergewe, sy kan nie anders nie; dis 'n vreeslike dag.

"Nee, ek het hier ingeloer, en oral, en ek kry jou nêrens nie."

"Ek was maar seker net vir 'n oomblik uit toe tante hier ingeloer het. Maar wat sê hy? Wat het hy gedoen?" vra sy.

Tant Malie lag dat haar ou vet liggaam so skud. "So 'n pa het ek nog nooit gesien nie". vertel sy. "Haai, mens, hy was nou behoorlik asvaal geskrik! Toe hy agterkom wat plaasgevind het, het hy vasgesteek met 'n verdroogde glimlaggie om sy mond, en spierwit geword. Ek het byna geskrik en gedink hy kom iets oor. Toe gryp ek die klein meestertjie en lê dit in sy arms, en sê vir hom dis 'n seun."

"Haai, tant Malie! Sê nou hy het die kind laat val?" roep Juffrou uit, en die ou vrou lag toe eers.

"Dit sal die eerste pa wees wat 'n kind laat val, en as ek een gesien het dan het ek honderd gesien; of hy moet besope wees", sê tant Malie lag-lag. "Maar 'n dronk pa laat ek nooit aan 'n kind vat nie."

"En wat het hy gesê?" wil Juffrou weer weet.

"Nee, wat, sommer allerhande nonsens. Maar Mevrou het gelag! Ek moes haar behoorlik keer of sy maak haar seer."

Nadat hulle uitgesels het roep hulle Meneer om te kom eet.

Verleë en verlep kom hy uit die kamer. Die droogste pa wat tant Malie nog gesien het.

"Hoe lyk jy dan so vaal, Meneer? 'n Mens sou sweer jy wou nie die kind gehad het nie", terg tant Malie hom.

"Julle kan maklik praat", antwoord hy nors. "Ek het my byna doodgeskrik. Ek het nie die flouste gedagte gehad van so iets nie!"

"Maar, Meneer....!" roep tant Malie uit.

"Regtig, tant Malie. Juffrop en Esme het die hele ding vir my weggesteek. Dis nou die eerste woord wat ek daarvan hoor", verklaar hy so sedig asof hy getuienis in die hof aflê. En tant Malie lag soos sy nog nooit by 'n bevalling gelag het nie.

Juffrou word rooi tot agter hare ore.

"As tant Malie die waarheid wil weet, is dit Juffrou en Esme se kind daardie; nie myne nie."

Juffrou glimlag. "Kom, die kos word koud", sê sy bedaard. Sy hou haar hand voor haar oë, buig haar hoof en vra die seën.

"Dis 'n pragstuk van 'n seun, is dit nie, Meneer?" vra tant Malie terwyl hulle eet.

"Ek sal hom eers moet uitbring in die lig om te sien na wie hy lyk, voor ek iets sê", antwoord hy kastig vies.

"Dit sal moeilik gaan waar die pa en ma albei lig is met blou oë. en die peet-tante ook", meen tant Malie.

"Het julle al vir Hester laat weet?" vra Meneer later.

Daar was nog nie kans voor nie.

"Ek wonder wat sal Ben sê", gesels Meneer verder, en hy vertel ewe ernstig aan tant Malie dat Ben ook hoegenaamd niks weet van die saak nie. Meneer en Esme was nogal van plan om weg te gaan vir die vakansie, en Juffrou ook, maar hoe sal hulle dit nou met so 'n kleinding kan doen?

Na ete neem hy tant Malie terug huis toe, en gaan sommer vir Hester en Ben haal om te kom kyk.

Ben kapittel Esme danig oor al die geheimsinnigheid, en hy wil toe net van Juffrou weet of sy iets vermoed het van wat sou kom.

Blosend verklaar Juffrou dat dit vir haar net so 'n groot verrassing is, en Ben knik vir Meneer. As Juffrou die dag so ver kom dat sy 'n leuen vertel, moet sy erg in die hoek gedryf wees.

Ses maande later is Ludie eers gedoop. Dit het geblyk dat nie een van sy ouers lidmaat is nie, en ook nie begerig is om dit te word nie. Dat die kindjie daarom nie gedoop kon word nie, het vir Juffrou diep ongelukkig gemaak. Die dag toe die predikant kom huisbesoek doen, praat sy met hom daaroor. Tot haar verbasing deel hy mee dat die kindjie in so'n geval deur iemand anders voor doop gehou kon word, mits die ouers toestem, en ook dat die kind in die huis gedoop kon word.

Die gedagte en begeerte kom dadelik in haar op, maar lyk byna te onmoontlik. "Mag ék hom voor doop hou, dominee?" vra sy toe skaars hoorbaar. Die predikant stem toe en is bereid om die sakrament dadelik te bedien.

Gou laat Juffrou hulle roep. Die predikant verduidelik wat sy verlang, en daar sy tog die peet-tante was, en self baie nagte met die kind moes op en neer stap in die kamer, kon hulle nie weier nie. 'n Doopsertifikaat kon hom nie benadeel nie, waarom sou hulle haar die plesier ontsê, het hulle geredeneer.

Die predikant maak die plegtigheid so kort moontlik. Sy mensekennis en ervaring laat hom weet dat die ouers nie vatbaar sal wees vir sy woorde nie, en die Here gaan nie waar Hy onwelkom is nie. Daarom rig hy net 'n paar plegtige woorde tot die vrou wat bereid is om so 'n groot verantwoordelikheid vir 'n ander te dra. Dat sy haar belofte in heilige erns sal probeer nakom, betwyfel hy nie. Juffrou se gesiggie is stralend van geluk. So deel die Here Sy seëninge uit wanneer 'n mens dit die minste verwag.

Hester huil. Sy kan dit nie help nie, En ook Ben voel 'n knop van aandoening in sy keel. Net Esme en Meneer sit ongeroerd, soos vreemdelinge en toekyk, want hulle kan nie begryp wat daar gebeur nie.