Die liefde is lankmoedig/Hoofstuk VI

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Hoofstuk V Die liefde is lankmoedig
Hoofstuk VI
deur T. C. Pienaar
Hoofstuk VII


VI.

Mnr. Luderitz slaap graag laat op 'n Saterdagmôre, maar een Saterdag gedurende daardie tyd is hy baie vroeg op. Hy het onrustig wakker geskrik, vol van gedagtes en herinnerings aan Esme. Of hy van haar gedroom het, weet hy nie, maar dit was asof hy deurtrek was van haar, soos die grond van die week se lentereën. Soos die reën die saad laat ontkiem, wek sy die vreemdste gedagtes en begeertes in hom op. Sy lok hom na die lentetuine van die lewe waar blomme rooi en blou en pers die groen van die aarde skilder. In die Wes-Transvaalse grasvlaktes laat sy hom wasige blou berge sien wat met die reënboogkleure van die son geverf is.

Die onrus dryf hom uit die bed, en hy staan op om koffie te maak. 'n Koppie sterk koffie laat 'n mens gou nugter voel na so 'n droomvolle nag. Terwyl die water kook, gaan hy in die deur staan om te sien hoe die wêreld die heerlikheid van 'n lentedag ontvang. Vir die wat dit kan raaksien, soos Meneer, is die geboorte van elke dag die mooiste skouspel van die natuur. Elke more kom daar nuwe lig uit 'n ondeurdringbare duisternis. Lig, so rein en weldadig. Uit alle oorde van die hemel stroom dit in volheid neer, en syfer deur tot in die donkerste hoekie van elke huis. Ja, dit dring ook deur tot elke donker, swaarmoedige hart. Dit sier die vaal wolke met glansende goud en reënboogskerwe! Dit skitter mooier as silwer op die dou van die groen grasvlaktes!

Hy sien hoe die ou haan hom uitrek op die stellasie om dan uit volle bors sy jubelende wekroep van die môre te laat hoor. Netnou pronk hy op die werf rond met die voorrang van sy manlikheid, en die spul henne trippel agterna om te sien wat daar te vind is. Die kalwers bulk in die kraal, en die klank, so vol ongeduld. galm weg oor die veraf bulte. Dan kom die vrolike geblêr van die bure se skape wat losgelaat word uit die kraal. En by die Kaffers se stroois begin die kleingoed al te skree en baljaar. Daar sien hy ou Klaas aangestap kom huis toe, en toe eers hoor hy die ketel se deksel ronddans - seker ook vol van die lente se ongeduld.

Die ketel is al byna drooggekook, en hy maak sy koffie. Op so 'n oggend kan hy nie tuisbly nie. Hy sal maar stasie toe ry met die fiets, en die pos gaan haal - sommer dadelik, want dan kan hy tuis wees eer die son so warm word.

In die wye sandpad word die fiets se handvatsels gelos, soos hy in sy jong dae gedoen het. Hy sit pen-regop en trap vir sy plesier. Dis heerlik om so deurtrek te raak van die koel, vars lug van die more. So jaag hy totdat hy by 'n middelman kom wat hy nie raakgesien het nie, dan slaan die fiets om. Maar dit is niks nie. Hy laat dit net so lê, slaan net die stof van sy klere af. en gaan sit op die uitgespoelde wal die wêreld en beskou. Dis regtig asof hy nog 'n kind is, daar in die Noord-weste waar hy soggens vroeg agter die skape geluister het na die lewerik, wat die lente verwelkom met sy lied. Hy hoor dit nou trillend hoër en hoër gaan totdat dit in die duiselingwekkende moogtes van die ylblou lug wegraak. En dan tel hy, soos agter die skape, een, twee, drie.... tot twintig. Daar's dit terug, jubelend en voller, suiwer en lieflik! Dan kom die lied van die maatjie. Oorkant die pad is 'n meerkatkolonie, en hy sit lank en kyk watter nuuskierige agies die meerkatte is. Pen-regop sit hulle op hul sterte en kyk hoe dit gereën het, en of daar iemand aankom. Ewe, net soos mense gaan kuier hulle, en liefkoos mekaar met eienaardige vry-geluidiies.

Hy spring op die fiets en ry. Hy lê plat soos een wat reisies jaag. Nou kyk hy goed voor hom in die pad, en hy trap dat sy asem kort word.

Vorentoe by 'n hek staan 'n wa uitgespan. Dis ou Piet van der Merwe wat mielies meul toe neem om te laat maal. Hy stap op en neer in die pad terwyl die volk die osse aankeer om in te span. Die rookdampe wolk om sy gesig.

"Ai! Meester is mos vroeg vanmóre!" roep hy al van ver af, en kom hek toe, hongerig vir 'n praatjie.

"Goeiemore! Goeiemore!" groet hy.

"Het ons nie lieflike reën gehad nie?" sê-vra Meneer.

"Lieflik", bevestig oom Piet. "Die Heer is wonderlik goed vir ons."

"As Hy maar so wil aanhou, en nie met die ecn hand wegneem wat Hy met die ander hand gee nie", spreek Meneer sy mening onverhoeds uit, en skrik toe hy sien hoe die ouderling hom aankyk.

"Skaam jy jou nie, Meester", maan hy hom. "Wanneer die Heer weer wegneem wat Hy gegee het, is dit om die sondes van ondankbares soos jy." Verontwaardig blaas hy deur sy neus en voeg by: "Dat 'n mens só kan praat na so 'n reën!"

Meneer voel waarlik soos 'n groot oortreder. "Ek is maar 'n pessimis, oom Piet", maak hy verskoning. "Dis seker daarom dat ek 'n meester geword het en nie 'n boer nie. Want die boerdery is in my bloed."

"Of jy nou al soos perdemis of donkiemis is, dis 'n gruwelike skande om só te praat", bestraf die ou man hom, en Meneer lag.

"Jy kan gerus lag", voeg die ander ernstig by. "Maar ek weet dat die Vader niks van Sy kinders neem nie, tensy Hy iets beters het om te gee - soos 'n ouer sy kind tug om hom die groter gawe van gehoorsaamheid te laat kry,"

"Nee, dis waar, oom", beaam Meneer om los te kom, "'n Mens praat sommer partymaal ligsinnig."

"Ja, so 'n môre laat selfs 'n ou man spelerig voel", gesels die ou nou saam.

Toe groet Meneer, wip op sy fiets en ry weg, met 'n glimlag op sy gesig. Gelukkig dat die Here hom niks gegee het waaraan hy vas is nie, dink hy na. Nou hoef hy nie bang te wees dat daar weer met die ander hand geneem sal word nie.

Wanneer die Bosmans pos toe gaan dan bring hulle sy briewe saam, en andersom. Daar is die oggend pos vir hulle en ook 'n brief vir Esme. Die adres is getik en die brief kom van Johannesburg af. Hy wonder wie dit kan wees.

Met die terugreis gaan hy by die Bosmans langs om die briewe af te lewer. Esme is in die voorhuis toe hy die brief vir haar gee. In sy teenwoordigheid skeur sy dit verwagtend oop en lees. Dis van haar prokureur; die afrekening van haar pa se boedel wat gekom het, en die oortuigende bewys dat sy niks meer as 'n motor besit of sal ontvang nie. Sy lees en herlees die inhoud terwyl hy nuuskierig toekyk. Dis eers of sy dit nie kan begryp nie. Dit kan nie waar wees niel Sy verstaan nie reg nie! Maar sê nou dit is waar?.... Die gedagte aan so 'n moontlikheid laat haar sommer lighoofdig voel. Dis of sy vir 'n lang ruk heeltemal onbewus is van haar omgewing. Dis net die brief en sy en die verskriklike ontnugtering!

Meneer sien dat sy bleek word; haar groot blou oë is vaal van ontsteltenis.

"Wat is dit?" vra hy.

Dit lyk asof sy stem haar bybring uit 'n floute, so verward kyk sy hom aan. "Ek weet nie.... Ek verstaan nie.... Kyk hier", sê sy bewerig en gee hom die brief om te lees.

Hy lees dit vlugtig en fluit. Sy vererg haar vir die ongepaste fluitery en haar wange verkleur.

"Ben het jou mos gewaarsku", sê hy koel, asof dit glad nie so ernstig is nie, en tog bevestig sy woorde wat sy verstaan het van die inhoud.

Eindelik begin sy dit te glo.... stadigaan. Ontsettend is die gedagte vir haar dat sy haar lewe in daardie huis sal moet voortsit en in daardie omstandighede! Die vaste grond waarop sy altyd so sorgeloos gewandel het, voel sy onder haar skeur. Die gaping word wyer en wyer en sy sien die stad, wat haar nou sterker as ooit roep, verdwyn in die verte. Vir die eerste maal in haar lewe begewe haar selfvertroue haar, voel sy die totale verydeling van haar toekomsdrome. Op Groenvlei sal sy nooit getroud kom nie; daar sal sy net so oud en benerig word soos Juffrou en Meneer. Die gedagte is verskriklik. Dan liewer dood, gou dood as om so 'n stadige marteldood te sterf; ja, jare lank feitlik doodlewend te wees.

Maar sy wou so graag nog die lewe geniet het - weelde, mooi klere en juwele, die bewondering van mans.... plesier! Daarvan was haar gedagtes altyd so vol. Sy het gedink dat die beste daarvan nog voor lê, hoe kan dit nou die einde wees!

Selfs die dag toe haar pa dood is, toe sy hom sien wegsak het onder die grond, het sy nie so totaal verlore gevoel nie. Heeltemal ontdaan kyk sy Meneer aan. Sy wil nie nou al doodgaan nie. Sy wil nie langer in daardie huis bly nie. Maar sonder geld in die stad sal nog die ergste wees van alles.

Meneer stel hom so 'n ietsie van haar gevoel voor. Hy sien haar oë blink word. Die trane kom stadig en drup-drup ewe fatsoenlik een vir een op haar wange, asof hulle weet dat dit onbeskof is om mekaar te verdring. Hoewel hy innig jammer voel vir haar laat die gedagte hom glimlag.

"Jy kun nog lag!" verwyt sy.

Toe breek haar verbittering los. Sy storm hom en moker wild met haar sagte vuisies op sy bors. Laggend vat hy altwee haar handjies saam in een van hom, druk haar vas teen hom aan en soen die fatsoenlike trane weg.

Elkeen weet dat hartstog soos water is - as dit opgedam was en die wal breek, is daar geen keer aan nie. Daarom dat Meneer haar toe al vaster en vaster teen hom aandruk en vuriger soen. Dis heerlik om eindelik na hartelus van die sagte lippe te geniet.

Dis waar dat Esme 'n fynproewer is in die afdeling van lewensgenot, en die wonderlike vermoë om bevrediging en troos te gee wat sy so in hom ontdek, gee dadelik 'n ander kleur aan haar beskouing van hom. Moeg van die spanning van die oomblik gee sy haar oor aan sy hartstog, vind sy daarin 'n hawe teen die storm was pas oor haar begin woed het.

"Is ek nie ryk genoeg nie?" vra hy naderhand, toe hulle tot verhaal kom. Hy weet dat 'n mens 'n yster moet smee terwyl dit heet is. As hy ooit 'n vrou waarlik begeer het, dan is dit vir Esme. Op daardie oomblik begeer hy haar meer as ooit, nou dat sy so afhanklik geword het van sy beskerming. Stel hy uit dan mag hy miskien na verstandige oorweging tot ander insigte kom en so nooit tot troue kom nie. Om jou ou dag eensaam, sonder vrou en kinders te slyt, is 'n bedreiging, selfs vir die gehardste vrygesel.

Smekend kyk hy haar aan. "Ek sal altyd goed wees vir jou, Esme, jou alles gee wat jou hart begeer.... ", pleit hy.

Toe hy tevore in dié rigting gepraat het, het Esme selfs die gedagte aan 'n huwelik met hom belaglik gevind. Nou lyk dit waarlik vir haar soos 'n moontlike verlossing uit die posisie waarin sy haar bevind. Daarby is hy nie die simpele ou houtpop waarvoor sy hom aangesien het nie. Maar dis vir haar moeilik om 'n antwoord te gee omdat sy tevore nooit enige oorweging aan die moontlikheid wou skenk nie. Aan die ander kant het sy nie die moed om langer die afhanklike, bedrukte lewe by die Bosmans voort te sit nie.

"Is ek regtig so simpel dat ... " gaan hy voort, en sy skud haar kop. "Of te arm?" vra hy weer.

"Jy is 'n miljoenêr", antwoord sy eindelik met die volle oorgawe van een wat op vlug vir 'n ondier in 'n bruisende stroom gespring het. Haar gesig, wat pas so bleek was, is gloeiend. So 'n vuur het hy nog nie in sulke mooi oë sien brand nie. Die gloed daarvan is wonderlik, dit deurtrek hom, dit breek deur die kors van sy lang veryste bloed, sodat dit sy liggaam met nuwe lewe deurstroom. Toe eers raak hy volkome bewus van die groot begeertes wat hom al maande lank kwel.

"Wanneer gaan ons trou, Esme?" vra hy byna ademloos.

"Enige tyd. Wat my betref, hoe eerder hoe beter."

"Môre?" vra hy.

"Dis more Sondag", lag sy. "Dan is die magistraat nie tuis nie,"

"In die week hou ek skool", redeneer hy. "Dan maak ons dit volgende Saterdag?"

Daarmee stem sy saam. Hulle trou sommer stil met 'n spesiale lisensie. Juffrou kan by ouma bly, en Ben en Hester kan saamgaan as getuies. So word alles sommer staan-staan om elfuur in die more in die voorhuis afgespreek.

"Sal ons met die motor gaan?" vra hy.

"Op voorwaarde dat jy leer bestuur voor Saterdag, want dit sal die bruidegom beter pas om die bruidskar te bestuur."

Hulle gaan die ander vertel.

Eers kom hulle by Hester waar sy by die kombuistafel besig is om wortels te raspe vir slaai - 'n gereggie waarvan Juffrou so baie hou.

"Ons kom net ouers vra, tant Hester", begin Esme verspot met trane skaars droog op haar wange. Sy is nou nie meer so danig gesteld op die poeiery nie, en haar vel is ook nie meer so fluweelagtig nie.

"Ou nuus!" antwoord Hester met 'n breë glimlag. "Volgende Saterdag met spesiale lisensie, want die magistraat sal nie Sondag tuis wees nie. Ons ry met die motor en Meneer gaan bestuur...." vertel Hester daarop terwyl die twee al hoe meer verleë word.

Die middeldeur tussen die kombuis en die voorhuis het half oop gestaan.

"Julle is ander soort mense wat sulke besluite helderoordag voor oop deure neem", gaan sy voort. "Toe ek en Ben verloof geraak was dit twaalfuur in die nag, en ons het voor die stoof gesit, en saggies gepraat."

Meneer se gesig kry rooi-pers vlamme. "Sweer met jou vinger in jou mond dat jy nie ook geloer het nie", smeek hy.

"Dit was nie nodig om te loer nie", lag sy, "Ek kon maar net opkyk. Kom staan hier waar ek staan dan sal ek gaan staan waar julle was, en dan sal jy glo, Ek het nie geweet dat 'n verharde oujongkêrel so...."

Eer sy meer kon sê druk Meneer sy hand wanhopig voor haar mond, Toe begin die stoeiery, en elke maal kom daar 'n paar terg woorde uit.

Ben kom van buite af in. Hy is kaalvoet en sy broek is hoog opgerol want hy is besig om die dam reg te maak.

"Toe.... toe.... toe! Wat is dit nou met julle? Nou sien ek waarom ons nie tee kry vanmôre nie", roep hy.

Meneer los haar met 'n ernstige pleidooi. "Asseblief, Hester."

"Toe maar, ek sal julle dit nooit so kan nadoen om vir die ander te wys nie", stel sy hom gerus, "En woorde skiet kort by sulke dinge."

Danig nuuskierig wil Ben alles weet.

Meneer stoot Esme voor om te vertel maar laasgenoemde meen dat tant Hester dit beter kan doen.

Daar was lanklaas sulke vrolike stemme in die kombuis en Juffrou kom kyk wat daar gebeur. Sy het op die agterste stoep by ou tant Bet gesit. Hoewel sy al herstel is, voel sy nog nie sterk genoeg om die afstand skool toe met die fiets te ry nie.

Net toe sy binnekom, kom daar stilte.

Hester en Ben weet dat dit 'n vreugde is waarin sy nie kan deel nie, en die ander voel ook half skuldig teenoor haar oor sulke geluk.

Sy kyk van die een na die ander en sê koel: "Dit lyk asof ons eindelik gaan bruilof kry. Ek het dit lankal verwag."

Verligting kom op elke gesig. Natuurlik sal sy nie sleg voel daaroor nie. Juffrou is nie die soort wat 'n ander sy lewensbrood beny nie. As daar enige gevoel was tussen haar en Meneer, soos die Bosmans eers gemeen het, dan sou hulle lankal tot troue gekom het, of een van hulle sou padgegee het.

"Sal ek maar tee maak?" vra sy omdat algar plotseling sprakeloos geraak het. "Of sal ek Esme 'n kans gee om te leer? Dit sal mnr. Luderitz nie veel help as hy 'n vrou kry wat nie kan koskook nie."

"Jou kat!" dink Esme, en haar blik sê dit ook.

"Gelukkig is ou Klaas 'n goeie kok", kom Meneer tussenbei. "Al kook hy nie so lekker soos Hester nie, sal Esme wel gou leer om sy konkoksies te geniet."

"Ek wil nie ou Klaas se kos eet as ek vir julle kom kuier nie", trotseer Ben.

"En ons kom elke Sondag by julle eet", voeg Hester by. Esme neem 'n vadoek en sit die koppies reg, en Juffrou en Bcn klap spottend hande.

Toe gaan hulle om die tafel sit en tee drink.

"Dat 'n man twintig jaar lank kon koes vir die strop en dit dan sommer binne 'n week laat vastrek", wonder Ben, nadat hy gehoor het wat die planne is.

Hester dreig elke maal om te vertel wat sy gesien het, en Juffrou hou aan dat sy en Ben moet gaan demonstreer hoe dit geskied het.

"Nee, ek kry dit nooit reg nie", giggel Hester blosend. "Al gaan ek ook eers in Johannesburg leer." Dit was darem regtig iets om te sien, iets waaroor enige plaasvrou sal bloos.

"Sulke dinge leer 'n mens in die bioskoop", meen Juffrou, en Ben dreig sterk om Hester nou gereeld bioskoop toe te neem, sodat hy ook Meneer se wonderlike ondervinding kan ervaar.

Esme sê niks. Sy kyk voor haar uit en drink haar tee met 'n gesig so sonder uitdrukking dat selfs Meneer nie eens kan raai wat in haar omgaan nie. 'n Vreemdeling wat op die toneel afgekom het, sou nie kon glo dat dit van háár is wat so gepraat word nie.

Die middag kry Meneer sy eerste les om 'n motor te bestuur. Die ander drie word uitgenooi om saam te ry. Maar Ben is te lief vir sy lewe, en Hester vir haar oë, om agter in so 'n motor te gaan sit. En Juffrou meen dat daar darem een moet oorbly om Maandag skool te hou. So ry die twee alleen.

"Is julle lewens verassureer?" wil Ben weet toe Meneer agter die stuurwiel plek neem.

"Maak my gerus erfgenaam. Ek het geen familie nie", roep Juffrou van die stoep af.

Hester meen dat hulle liewer eers die motor moet verassureer, want as die ding omval en iets breek, kos dit nie net 'n sikspens om dit weer reg te kry nie.

"Is daar genoeg petrol, water, olie en al die nodige dinge in, en is die wiele hard genoeg?" wil Ben nou ernstig weet. Hy maak die enjin oop soos hy hulle in die garage sien doen het, en toets die olie. Dan gooi hy water in. Alles word getoets, en toe begin die les.

Ben gaan die hek oopmaak en Esme neem die wiel totdat hulle deur is. Dan begin die motor slinger-slinger soos 'n dronk man stadig die pad af waggel.

Die drie staan op die stoep dit agterna en kyk totdat dit oor die bult verdwyn. Ook die ou vrou sit op die stoep en toekyk, en hulle wonder wat in haar gemoed omgaan wanneer sy al die dinge sien en hoor.

"Wie het dit nou ooit kon dink!" sê Hester vir Juffrou toe hulle alleen is.

Juffrou kan maar net wonder wat God daarmee bedoel om vir 'n man soos Meneer so 'n vrou te gee. Die twee pas tog hoegenaamd nie by mekaar nie. Daarby kon hy haar vader gewees het. Dis 'n swaar beproewing vir haar geloof, want dat dit nie sou gebeur het sonder Sy wil nie, dit glo sy vas. Maar die weë van die Here is wonderlik, en dit pas die mens net om te wag en te sien wanneer hy dit nie verstaan nie. Die een mens word deur groot geluk nader getrek aan Hom en aan die ander openbaar Hy homself in beproewing. Nou dat daar 'n verandering in sy aardse lewe gekom het, is dit 'n duidelike teken dat God voortaan aan hom sal arbei.

Hoe die gebeurtenis haar persoonlik raak, sal niemand ooit weet nie. Sy kan die Here nie eens daarvan vertel in haar binnekamer nie. Maar Hy weet alle dinge.

Maandagmôre kan Juffrou nie langer weggehou word van die skool nie. Haar verloftyd is nog nie om nie, maar sy voel sterk genoeg om te begin. Waarom moet Meneer alleen aansukkel as dit anders kan?

Hy is dankbaar daaroor, want hy het haar raad nodig. Daar is baie dingetjies wat hy van haar wil weet, en elfuur neem hy haar huis toe om hom te sê wat gedoen kan word om die ou nes 'n bietjie op te knap voor Saterdag.

Juffrou vind die week baie kort, want die mure is smerig vuil. Hulle sal 'n man moet kry wat die hele huis sal afwit. Sy weet van iemand wat sulke werk doen, en Meneer moet hom dieselfde middag gaan vra, anders kom dit nie klaar nie. Die ruite moet gewas en die vloere deeglik geskrop en poleer word; die spensrak en bad moet onder hande geneem word. En as hy Dinsdagmiddag sommer met die motor dorp toe gaan, kan Esme ander gordyne koop want die wat aan die vensters hang, is al kleurloos en voos. 'n Tapyt wat daarby pas sal ook 'n groot verbetering wees.

Saam bereken hulle die hoeveelheid wat nodig sal wees en die pryse daarvan.

Dinsdagmiddag bestuur Meneer al die motor dorp toe, maar Esme gaan saam, natuurlik. Hulle kom terug met 'n wavrag goed - lakens, slope, handdoeke, gordyne, breek goed.... en die volgende dag sal 'n vragmotor die meubels uitbring. Esme vertel van alles asof dit vanselfsprekend is dat al die dinge gekoop moes word, en sy verstaan nie hoe haar spandabelheid die ander verstom nie. Juffrou het getwyfel of daar 'n tapyt vir die voorkamer nodig was, en sy koop tapyte en stelle van voor tot agter.

"As daar één ding is wat Esme goed kan doen, dan is dit koop", sê Hester toe sy en Juffrou sit en gordyne maak en lakens omsoom.

Dis 'n groot werk om in een week klaar te kry, en hulle werk tot saans laat. Hulle vind albei plesier in die werk want 'n vrou spog graag, en dis vir hulle ou vriend wat hulle dit doen. Meneer is daar gesteld op, en hulle wil graag die huis Saterdag agtermekaar afgee aan hom.

Esme probeer help, maar sy kan werklik nie eens 'n soom reguit vou nie.

"Hoor nou wat ek vir jou sê", praat Hester, "ons sal aanstaande jaar weer net so moet sit en luiers omsoom, want dit sal sy ook nie kan doen nie",

Toe die meubels kom, bly Juffrou die middag na skool agter en help regpak en afstof. Elke ding se plek wys sy aan asof dit háár huis is. Sy vra die pryse vir Meneer en reken uit wat alles saam gekos het. Sou hy soveel kontant gehad het?

"Van nou af sal ek alleen vir die kinders betaal", sê sy vir hom. "Jou uitgaaf het so groot geword. "

Hy kyk haar verwonderd aan. Dié Juffrou. Natuurlik bekommer sy haar oor hom. Sy en Hester het seker veel te sê oor al die spandabelheid. Maar as 'n man nie kans sien om sy vrou tevrede te stel nie, moet hy liewer nie trou nie. Esme is 'n weelde-lewe gewoon, sy is gebore daarvoor, en dis sy plig om dit vir haar te gee.

"Ben en Sannie, ons peetkinders? Ek het hulle totaal vergeet. Dit sal miskien die beste wees.... As jy kans sien. Ben het gepraat om die seun maar op die plaas te gebruik", antwoord hy twyfelagtig.

"Nooit!" sê Juffrou beslis. "Ben gaan leer, al kos dit my laaste spaargeld."

Meneer swyg verder oor die saak, en skuif sy boekrak na die voorste stoepkamer, wat volgens Esme in 'n studeerkamer vir hom gemeubileer moes word.

Die volgende dag word die gordyne opgehang, en al die meubels weer 'n keer blink gevryf. Vir één enkele week is sy huis in Juffrou se hande, en sy wil alles doen wat gedoen kan word.

Die Saterdag terwyl hulle dorp toe is, neem sy 'n mandjie blomme uit Hester se tuin en gaan dit rangskik in die skoolhuis. God het blomme geskape as sieraad van die natuur, en 'n huis sonder blomme is afgeskeep, dit glo sy.

Dis 'n week waarin sy nie moeg geword het nie. Toe hulle die aand sononder terug kom van die dorp af, het sy n heerlike ete gereed. 'n Bruingebakte hoender en beetslaai, heerlik gestoomde rosynepoeding met wynsous daarby, en le tafel is voor gedek met blomme daarop.

"'n Egte bruidstafel", sê Hester toe hulle aansit. Meneer voeg by: "Ja, die man wat eendag met Juffrou trou, kry 'n vrou duisend", en Esme glimlag.

Toe is Juffrou se taak afgedaan, en sy voel asof haar hele lewe leeggeloop het. Eensaam en arm, sonder familie het sy op Groenvlei aangekom. Daar het haar lewe vol geword. Sy het werk en genoeg geld vir haar lewensbehoeftes ontvang. Sy het vriende gekry.... en toe het hy gekom. Om elke dag saam met hom te wees, en te weet dat haar geselskap hom tevrede stel, was vir haar genoeg. Nou het dit gebeur. Sy het nie baie verwag van die lewe nie. Met die bietjie wat sy ontvang het, was sy tevrede. Tog het God dit van haar weggeneem, en Hy handel nie wispelturig nie. Hy weet waarom.

Verskriklik moeg gaan sy die aand slaap. Van toe af sou sy altyd moeg wees, want wanneer die aardse lewe sy inhoud verloor, gaan die gewig daarvan na jou hart. Hoe groter die verlies, hoe swaarder die hart word, en hoe moeër jy voel. Niemand kon dit egter opmerk nie want God het haar ook die balsem gegee vir die groot lewenspyn. Hy gee dit vir almal wat aan Hom glo en Hom volg, en dis alleen die wat soos die Meester homself verloor in die diens van ander wat behoue bly in die groot gedrang van die lewe.