Die Wonderpatroontjie/Tonnie en die gedaante

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Danie se verhoogde status Die Wonderpatroontjie
Tonnie en die gedaante.
deur Tonnie
Na Parys toe getoor


Tonnie en die gedaante.
[edit]

TONEEL

(As die skerm opgaan sit Tonnie by 'n tafel. Die gedaante staan een kant. Kyk ook slot van vorige hoofstuk.)

DIE GEDAANTE (maak 'n diepe buiging):

Wat kan ek vir meneer doen ?

TONNIE:

Nie so haastig nie ! Laat ons eers kennis maak. Wat is jou naam?

DIE GEDAANTE:

Mustafa Kavyaprakasha.

TONNIE:

Hoeveel ? ? ? ? ? ? ? ? ?

DIE GEDAANTE:

Mus-ta-fa Ka-vy-a-pra-ka-sha.

TONNIE:

Is jy dan nou verspot ? Watter kristenmens kan daardie naam uitspreek ? Wil jy dan hê elke maal wat ek jou roep moet my kakebeen uit die potjie glip?
Tonnie en die gedaante.

DIE GEDAANTE:

Hoe sê meneer ? (Die Gedaante maak elke maal wat hy praat 'n diepe buiging.)

TONNIE:

Ek sê ek is al te oud om nog voor my dood daardie naam van jou in my kop te kry. Ons moet 'n ander plan maak.

DIE GEDAANTE (buig):

Hoe 'n plan, meneer.

TONNIE:

Ons moet vir jou 'n fatsoenlike naam gee, in die plek van daardie afgryslike naam, wat jy alleen kan uitspreek.

DIE GEDAANTE (buig):

Ook goed, meneer.

TONNIE :

Ons sal jou naam gee « Jasper » !

DIE GEDAANTE (buig):

Ook goed meneer.

TONNIE :

Nou ja, Jasper, wat se landsman is jy?

JASPER: (buig) :

Turk, meneer.

TONNIE:

'n Turk? !s jy famielie van Konstantinopel ?

JASPER (buig):

Hoe bedoel meneer ?

TONNIE:

Ek bedoel wat ek sê. Is jy famielie van Konstantinopel ?

JASPER:

Maar Konstantinopel is mos nie 'n mens nie, meneer !

TONNIE:

Hoe so? Is hy dan nie die koning van die Turke nie ?

JASPER (lag):

A nee a, meneer. Konstantinopel is dan die hoofstad van Turkye.

TONNIE:

O ? Sorrie, mai mistyk.

JASPER:

Hoe sê meneer ?

TONNIE :

Ai sy, ai em sorrie, iet ies mai mistyk.

JASPER

(sy mond hang oop van verbasing, asof hy wil sê: dit is bokant my keelafsnyplek).

TONNIE:

En toe? Wat is verkeerd, hoekom word jy naar?

JASPER:

Daardie taal wat meneer nou gepraat het is anderkant my.

TONNIE:

Jy bedoel jy verstaan dit nie ? Dis dan Engels ! Watter mens is daar in die hele wêreld wat nie Engels verstaan nie ?

JASPER:

Ek verstaan dit nie, meneer.

TONNIE:

Hoe is dit moontlik?

JASPER:

Ek was nog nooit in daardie land nie, meneer.

TONNIE:

En was jy dan altemit al in Suid-Afrika, dat jy so goed Afrikaans kan praat? Ja nee wag, dit is wat ek jou nog wou gevra het. Vertel bietjie vir my mooi waar jy Afrikaans geleer het?

JASPER (lag):

Ek het dit nie geleer nie, meneer. Dit het somar vanself gekom. Ek ken altyd somar vanself die taal van die mense wat ek moet dien.

TONNIE:

So? En watter tale ken jy nog?

JASPER:

Italiaans, Duits, Portugees, Russies,.....

TONNIE (verskrik, val hom in die rede):

So nou maar! En jy sê dan jy ken net die tale van die mense wat jy dien. Was oorlede baas Aladdin dan nie jou enigste baas nie en nou weer baas Danie?

(In die opvoering moet hierdie laaste vyf woorde weggelaat word, ook op ander plekke waar daar sprake is van Danie of Tonnie.)

JASPER:

A nee, a, meneer, ek het al 'n trop base gehad.

TONNIE:

Dis 'n mooi grap! En ek dog dan jy dien net die mense wat 'n stuk van jou oorlede baas se ou lamp besit.

JASPER:

Juis, meneer. 'n Italiaanse vrou het 'n oorgeblaaste ou borsspeld gehad, wat van die ou lamp gemaak is ; 'n Duitser het 'n studs gehad; 'n Portugees het 'n ou penknip gehad en.....

TONNIE:

So nou maar. ('n oomblikkie stilte) En jy sê jy ken nie Engels nie? Dis 'n fout, Jasper, jy sal dit moet leer. Ons wil hê jy moet ons na Engeland toe toor en ook in Suid-Afrika sal jy nie sonder Engels kan klaarkom nie. Buitendien, die Engelse nasie is die grootste, die rykste, die magtigste en die oudste nasie van die hele wêreld ; geen mens is welopgevoed, as hy nie Engels ken nie.

JASPER:

Die oudste nasie, meneer ? !

TONNIE:

Natuurlik, weet jy dan nie, dat die Engelse voor al die ander goed gemaak is nie?

JASPER (verstom):

Hoe so, meneer, is hulle dan nie ook maar saam met oorlede meneer Adam en miesies Ewa gemaak nie?

TONNIE:

Nee, Jasper, wat praat jy nou ? Toe die wêreld geskape is, was Engeland al 'n uitgegroeide land ! Kyk, daar is vier goed wat voor die wêreld geskape is : dis boetebosse, muskiete, Engelse en liddorings.

(In die opvoering moet alles na «  Kyk » weggelaat word).

JASPER (krap sy kop):

Nou verstaan ek die ding gladnie, meneer.

TONNIE:

Wat verstaan jy nie ?

JASPER:

Dat die Engelse nasie al kan so oud wees, meneer, en hulle sê dan die Engelse taal is nou kort maar eers uitgevind.

TONNIE:

Jasper, laat dit nie vir jou wys maak nie. Dis stories van mense wat afgunstig is omdat hulle nie ook Engelse is nie.

JASPER:

Dan meen meneer die Engelse taal is ook al 'n uitgegroeide taal ?

TONNIE:

Maar alte seker, Jasper! Die Engelse taal is saam met al die ander tale uitgevind.

JASPER:

Maar, meneer, hulle sê dan die Engelse taal is somar net sulke stukkies van al die ander tale?

TONNIE:

Daar is jy volkome reg, Jasper ; maar die skinderbekke het vergeet om jou te vertel hoe die ding gebeur het. Die ding het só gekom : Toe die tale uitgedeel is by die Toring van Babel, toe was die Engelse nie by nie.....

JASPER (val hom in die rede):

Waar was hulle dan, meneer?

TONNIE:

'n Paar uur te perd regs van die Toring was daar 'n klein nasie, wat goud en diamante en ander minerale en edelgesteentes in hulle land gehad het en so het die Engelse hulle land gaan beskerm. Hulle het toe 'n sendeling gestuur om op te let as die ander nasies by die Toring onder mekaar begin rusie maak, dan moes hy hulle gou kom roep, dat hulle kan die Toring kom beskerm en dit dan naderhand vir die oppas-loon oorneem. Onder die wyl word die tale uitgedeel. Toe die Engelse by die Toring kom was al die tale al uitgedeel en al die lood was gedaan. Ja, nou moet ek jou eers vertel hoe die tale gemaak is. Jy was tog al in 'n drukkery ?

TASPER:

O ja, meneer.

TONNIE:

Nou ja, dan het jy al gesien hoe die boeke en koerante gedruk word ? Elke reël word afsonderlik in 'n strokie lood gegiet. (Dit sal goed Wees as Tannie so' n plaatjie lood kan kry om hier te vertoon, enige groot koerant se drukkery sal dit vir hom stuur). Maar nou in daardie dae was hulle setmasiene nog nie so agtermekaar soos ons s'n vandag nie. Toe het hulle elke woord afsonderlik gegiet. Nou ja, jy weet, dan maak die drukkers mos so, elke reël waar 'n fout in is, word oorgeset en die verknoeide loodjies met die drukfoute word in 'n kas onder die perstafel gegooi om later weer opgesmelt te word. Nou, soos ek sê, toe die Engelse daar kom, was al die tale uitgedeel en die lood gedaan. Toe staan daar net nog die kas vol loodjies met die ander tale se drukfoute. Toe het hulle somar die kas loodjies gevat en daarvan die Engelse taal gemaak.

JASPER (lag dat hy so kanniemeer nie):

En dan maak hulle of hulle so'n hoë taal het ?

TONNIE(kry ook lag, maar hou hom taai):

Ja, maar nou moet jy mooi onthou, hoe die ding gekom het, dat jy die skinderbekke kan op hulle plek sit, as hulle weer die Engelse of hulle taal wil verkleineer. Ek wil nou hoor of jy goed geluister het. Sê vir my waaruit bestaan die Engelse taal ?

JASPER:

Dit is ..

TONNIE:

Jasper, gee 'n behoorlike antwoord. Sê, Die Engelse taal......

JASPER:

Die Engelse taal is 'n kasvol verknoeide loodjies.

TONNIE:

Jasper, nee, jy sê dit reg, maar jy bedoel dit verkeerd. Ek sal dit weer sê en dan onthou jy dit goed. Die Engelse taal is saamgestel uit die drukfoute van al die ander tale.

JASPER:

(kry weer lag en draai sy kop weg).

TONNIE:

Jasper, en dan is daar nog iets waar ek jou opmerksaam op wil maak. Soos jy gehoor het, het baas Danie dit aan my oorgelaat om jou altyd opdragte te gee, omdat hy nie eintlik te wel ter tale is nie. Of nee, ek sê dit verkeerd, hy kan sy woord goed doen, maar hy is nie eintlik baie spraaksaam nie, hy kan in sewe tale swyg. Nou ja, en nou wil ek hê ons moet mekaar goed verstaan. Jy noem my « meneer ». Jy hoef nie vir jou so te moor nie. sê maar « baas ». Ons ken in Suid-Afrika nie onderskeid van stand nie. Ek en jou baas Danie is dus ook somar baas, net soos die gewone mense. Verstaan jy ?

JASPER (verspreek hom):

Ja, meneer. Ag, ekskuus, ja baas.

TONNJE:

Ja. maar nou moet jy begin Engels praat. Sê: jees, baas.

JASPER:

Jus, baas.

TONNIE:

Nie jus, baas nie. Jees, baas!

JASPER (met nadruk):

Jees, baas.

TONNIE:

Dis reg. En laat ek nou nie weer « meneer » van jou hoor nie, dis 'n teken van aanstellerigheid.

JASPER (staan onnosel voor hom en kyk).

TONNIE:

Het jy gehoor ? Baas. Nie meer meneer nie.

JASPER :

C'est ça. (spreek uit: Sessá).

TONNIE (vererg):

Jasper ! Jy moet asseblief nie jou maniere vergeet nie !

JASPER:

Hoe so, baas ?

TONNIE:

Wie is jou sies a ?

JASPER:

Nie sies a nie, baas. Sessá.

TONNIE:

Ja, maar wat se gebrou is dit?

JASPER:

Dis Frans, meneer, ag ek meen, baas. Dit beteken, dit is so.

TONNIE:

O, soos ons sal sê, ditsit?

JASPER:

Hoe sê baas?

TONNIE:

Ek sê daardie sissa van jou wil soveel beteken soos ons sal sê, ditsit.

JASPER (dronkgeslaan):

Wat se taal is dit weer, baas?

TONNIE:

Wel, om jou die waarheid te sê, ek dink amper dis Engels: that's it ; of Hollands: dat is 't. Maar ons sê maar ditsit.

JASPER (lag):

Ja, maar ek dink ek sal dit nie kan sê nie, baas.

TONNIE:

Probeer maar.

JASPER:

Detsit.

TONNIE:

Nie dessit nie ! Dessit is 'n vloekwoord, dit sê 'n mens as die sop op jou uitval of as iemand op jou liddoring trap. Jy hoor, dis ditsit en nie dessit nie.

JASPER:

Bon.

TONNIE (kyk hom verwonderd aan):

Wat vir' n barbaarse geluid is dit nou weer daardie ?

JASPER:

Wat, bon, baas? Dis Frans, dit beteken (( goed)).

TONNIE:

Hoe spel jy dit ?

JASPER:

B-o-n, baas.

TONNIE:

Maar b-o-n is mos bon en jy sê dan bong.

JASPER (lag):

Ja, hulle sê hom maar so, baas. Daardie n word mos half deur die neus gesê, net soos pardon.

TONNIE:

Ja? Nou verstaan ek waar kom daardie n in ons taal vandaan. Ons sê mos in Afrikaans ook: ons, mens, kans. Net die aanstellerige mense sê: onns, menns, kanns. Dan is dit àl die tyd 'n uitvindsel van die Franse taal, wat ons oorgeërwe het. Ja, nou verstaan ek, Jasper. Sitsa, bon.

JASPER (lag):

Baas sê hom ook maar amper net so krom soos ek jus baas sê.

TONNIE:

So nou, Jasper, laat ons nou aangaan met ons les.

JASPER (buig):

Goed, baas.

TONNIE:

Jy moet nou 'n bietjie Engelse geskiedenis leer. Ons sal vandag net 'n paar dyts en iewents leer.

JASPER (krap sy kop):

Wat se goed is dit, baas ?

TONNIE:

Dyts en iewents ? Weet jy dit nie ? Dis jaartalle en gebeurtenisse. Sê nou vir my na : Ten siekstie sieks, de bettel of Hystiengs.

JASPER:

Ten siestie siefs, de bittel of huistiems.

TONNIE:

Nee, Jasper, jou Engelse uitspraak is abominabel !

JASPER:

Ja, maar sê eers vir my wat beteken daardie kapittel, baas. Dan sal ek dit dalk kan sê.

TONNIE:

Dit beteken die slag van Hystiengs in die jaar duisend ses en sestig, toe Woeljam die Konkerrer die Engelse op hulle baadjie gespeel het.

JASPER (verbaas):

Au, baas ! Het die Engelse dan ook al een skoot geverloor? Ek dog dan hulle wen altyd !

TONNIE:

A nee a, Jasper, hulle het al baie keer aan die kortste end getrek. Waar is Bronkhorstspruit en Amajuba en soveel ander ? Maar net in hulle eie land alleen is hulle al 'n hele paar maal kafgeloop. Maar dis darem ook nie eintlik dat hulle verloor nie. Hulle wen maar altyd, want daardie nasie wat vir Engeland afneem, word dan somar weer die nuwe Engelse nasie.

JASPER:

En dan bly hulle somar in die land, baas ?

TONNIE:

Party bly daar, ander gaan weer terug.

JASPER:

Seker al die rykes bly daar en die armes gaan weer terug, nè baas?

TONNIE:

Nee, ek dink dis andersom. Waarom sal die rykes daar bly ? Hulle het mos hulle plase en winkels in hulle eie land.

JASPER (lag):

Baas, dan lyk die ding mos maar kroes in Engeland. Hulle is dan maar altyd aan die kortste end. Dan is dit nie net hulle taal wat van die drukfoute van die ander tale gemaak is nie, maar dan is die hele nasie mos ook maar pure krummels.

TONNIE:

Ja, maar dan moet jy darem weet, Jasper, al die krummels wat nie deug nie het hulle weggestuur.

JASPER:

Ja, baas?

TONNIE:

Ja, hulle het al die skelm mense weggevoer na 'n groot eiland toe. Nou is daar 'n gerug - maar ek dink dis ook maar weer 'n storie van afgunstige japsnoete - dat daardieselfde skelm mense op die nuwe eiland 'n ryk nasie geword het - vandat hulle uit die slegte geselskap is, sê hulle. 'n Mens sou dan moet sê, dat dit reeds die skelms is, wat agtergebly het, maar dit is nie so nie. Die enigste skelms wat nog in Engeland is, is die parlementslede.

JASPER:

En die konings, baas? Ek hoor mos hulle sê 'n koning is so'n skelm soort ding ?

TONNIE:

A nee, Jasper, vandag se konings is darem anderster as vanmelewe s'n.

JASPER:

Was hulle vanmelewe skelm, baas ?

TONNIE:

Nie net skelm nie, Jasper. Somar sleg !

JASPER:

Sleg, baas ?

TONNIE:

Ja, sleg, Jasper. Jy moet hoor waarvan hulle daardie dae doodgegaan het. Daardieselfde Woeljam die Konkerrer kon nie eens perdry nie. Sy perd het net op 'n spyker of 'n warm klip of iets getrap toe verongeluk hy somar. 'n Ander het hulle met 'n tennisbol sy wind uitgeslaan. 'n Derde het 'n dadelpit in sy verkeerde keel gekry en die het in sy blindederm dwars gedraai. 'n Vierde, ek glo dit was Woeljam Rooikop, het in 'n ander se veld wild gesteel, toe skiet die kêrel hom met 'n pyl en boog deur sy sluk. Maar natuurlik, daardie dae se konings was nog maar halwe Engelse. Vandag se konings is mos uitsoek konings, wat al geslagte der geslagte net juis vir konings studeer. Maar ek dink ons sal nou maar uitskei. More sal ek vir jou Engelse Jokriffie leer.

JASPER:

Wat se ding is Jokrivier, baas ?

TONNIE:

Somar al die dorpe en riviere en berge en watter soort winkels hulle in al die dorpe het en met watter soort goed hulle in die verskillende distrikte boer en....

JASPER (verbaas):

Au, baas, maar hoe kan 'n mens dan al sulke dinge onthou ?

TONNIE:

Ag kom, Jasper. Watter kuns is daar nou aan? Jy moet sê dankie, dat jy nie in my tyd Engelse skool gehad het nie. Toe ek vanmelewe skoolgegaan het, het ons nie net die berge en riviere se name geleer nie, maar ook die paaie en die name van die hotelle en die burgemeesters.

JASPER:

Au, baas!

TONNIE:

A ja, en wat vandag al opgeskote riviere is, was daardie dae somar nog sandslootjies, maar ons moes hulle name maar mooitjies ken.

JASPER(bly maar nog staan).

TONNIE:

So, nou kan jy maar gaan. jasper.
JASPER:
Baas, ek wil nog iets vra, asseblief.

TONNIE:

Ja? Wat is dit?

JASPER:

Baas het gesê in Suid-Afrika sal ek nie sonder Engels klaarkom nie. Is daar dan ook Engelse ?

TONNIE:

A ja, Jasper, die land is oortrek van hulle !

JASPER: Ja, baas ? ('n oomblikkie stilte) Baas, en die Engelse wat daar is, is hulle ook skelm ?

TONNIE:

O nee, Jasper, die Engelse wat in ons land is, is net uitsoek Engelse. Die wat nie deug nie, hou dit nie lank daar uit nie, hulle gaan somar weer terug Engeland-toe.

JASPER (dik van die lag):

Baas en hulle sê dan na Amerika toe het ook 'n klomp van die goeie Engelse gevlug ? Dan lyk dit mos nou vir my (hy begin lag).

TONNIE:

Wat is nou verkeerd ? Dan lyk dit vir jou wat ?

JASPER (lag):

Baas, dan lyk dit vir my of dié wat agtergebly het, ook somar net die drukfoute is ? (Hy lag al lekkerder.)

TONNIE (kry ook lag):

Jy kan maar gaan, Jasper.

JASPER (af).

(Skerm.)