Die Wonderpatroontjie/Danie se verhoogde status

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Heimwee Die Wonderpatroontjie
Danie se verhoogde status.
deur Tonnie
Tonnie en die gedaante


Die Wonderpatroontjie.
[edit]

Danie se verhoogde status.
[edit]

Soos ek reeds tevore gesê het, begin ek en Danie se karakters hier langsamerhand al hoe meer ooreenkoms te vertoon. Maar net hy het nog nie sy stil en peinsende houding heeltemal afgesterf nie. Hy was dan weer op 'n keer so stil en afgetrokke. Nou, dit het my nie gehinder nie, want ek het so gereken, hy het seker maar weer ekstra lastigeoefeninge by die Konserwatorium gehad, wat sy kakebeen so uit fatsoen uit gerek het, dat dit vir hom moeilik val om te gesels.

Maar dit het naderhand darem bietjie te pynlik geword. Ek dog so by myself : « Hy praat maar gewoonlik niks, maar die laaste paar dae praat hy glad minder as niks ». Elke maal dwing ek om vir hom te vra wat dit is wat hom hinder. Dan laat ek maar weer staan.

Een aand nooi ek hom saam oor die Schelde. Aan die oorkant van die rivier is sulke sandvlaktes, wat 'n mens baie laat dink aan die sandduine in die buurt van Kaapstad. Ek dog, wie weet, dalk laat die duine hom aan Suid-Afrika dink, dan kan sy tong miskien losraak. En dit wás ook so. Ons het nie ver geloop nie of hy begin :

« Tonnie, glo jy in inkarnasie ? »
« Wat se landsman is hy ? » vra ek.
« Hoe so ? » vra hy.
« Ek bedoel maar so, wie of wat is hy ? » verduidelik ek. « Want ek het al omtrent die name van die ministers van al die vernaamste lande gehoor, maar van hierdie een het ek nog nooit gehoor nie. Hy moet seker so'n groen-afgeplukte, paddastoel-polietikus wees, wat maar nou die dag eers 'n naam begin maak het. »

«Ag, is jy nou verspot, Tonnie ? » bestraf hy my. «Dis g'n staatsman nie ! Het jy dan nog nooit van die woord inkarnasie gehoor nie ? »

« O, inkarnasie ! Ekskuus, ek het jou verkeerd verstaan. Inkarnasie, ja, daarvan het ek baie gehoor. Jy bedoel daardie soort geloof, wat sê dat die lui mense se gees ná hulle dood na 'n donkie toe verhuis en dié wat nooit bad nie gaan in 'n vark, ensovoorts? Ja, daarvan het baie gehoor. Maar 'n kristenmens glo mos nie sulke onsin nie. »

« Nee, ek bedoel daardie soort inkarnasie, wat sê, dat die een mens se gees in 'n ander mens oorgaan. »

« Ja, Danie, daarvan het ek ook gehoor, maar dit glo ek ook nie. Maar hulle vertel darem baie snaakse dinge van oorlede ou Toet-ank-amen - jy weet die ou Egiptiese koning, wat hulle nou ontdek het. Hulle het mos so'n snaakse borsspeld in die ou se doodskis gekry en toe 'n sekere vrou van 'n Engelse Lord van die borsspeld hoor, toe val dit haar skielik by, dat sy haar iets van so'n borsspeld herinner en dat sy dus moet die inkarnasie wees van oorlede ou miessies Toet-ank-amen.

Toe haar man dit hoor, was hy die hoenders in. Hy het maar alreeds net rede gesoek om van haar te skei en toe hy nou van die inkarnasieskap hoor, was dit water op sy meul. Hy het haar dadelik laat aanskrywe, dat sy hom onder valse voorwendsels getrou het, daar sy haar vir 'n jongmeisie uitgegee het, en nou beken sy self, dat sy al duisende der duisende jare gelede getroud was. A ja, dit het net 'n opskudding afgegee ! Maar wat laat jou dan nou aan inkarnasie dink ? »

« Tonnie, ek sal jou vertel, maar jy beloof my, jy gaan dit aan geen sterfling oorvertel nie. »

Ek het hom dit beloof en ek het woord gehou. Ek het dit nog aan niemand oorvertel nie. Die verhaal sien nou vir die eerste maal die lig. toe ek dan beloof het om dit dig te hou, begin Danie sy verhaal as volg (die leser kan dit glo as hy wil) :

« Nou wel,, Tonnie jy ken die verhaal van Aladdin ? »

« Wie daardie seun, wat die kaskenades uitgehaal het met die ou toor-koffiekan ? »

« Nee, nie 'n koffiekan nie, » verbeter hy. « Dit was 'n wonderlamp. »

« O ja, 'n lamp. Nou hoe was dit ook weer ? As hy op die lamp vrywe, dan kom daar 'n aardbewing ? »

« Nee, dan verskyn daar 'n gedaante en dan kan hy vir die gedaante alles vra wat hy wil hê en die gedaante besorg dit vir hom. »

« O ja, ja, ek herinner my nog so iets daarvan. En toe ? »

« Nou ja, Tonnie, tussen ons gesê, ek is die inkarnasie van Aladdin. »

« Danie! » bestraf ek hom, « skaam jou om so te laster! »

« Tonnie, dit lyk ongelooflik, maar sal ek jou oortuig? »

Nou, ek is nie 'n bygelowige mens nie, maar toe Danie so sê, het ek darem bietjie geskrik en het al begin rondkyk om rantjie se kant toe te staan; want ek dog so in my enigheid: « Sou die maat van my dan nou skielik 'n toorheks geword het? »

« Nee, toe maar, Danie, » sê ek. « Ek glo jou. Maar vertel verder, ou kêrel, jy maak my danig nuuskierig. »

Daarop wys hy met sy voorvinger na die mouserpatroontjie, wat aan sy horlosieketting hang en vra: « Sien jy hierdie patroontjie? »

« Ja, wat daarvan? » vra ek. « Ek ken mos daardie ou patroontjie van toeka af. »

« Nou ja, dis 'n wonderpatroontjie hierdie, » sê hy. « En weet jy waarvan is hy gemaak? »

« Nee, ek weet nie. Waarvan? »

« Hij is gemaak van oorlede Aladdin se lamp. »

« Droom jy nou, Danie, wie maak vir jou sulke onsin wys ?

« Wie maak dit vir my wys, vra jy? Sal ek vir jou wys wie? »

Daarop word my maat se oë so verwild, dat ek regtig dog ek kry nou met 'n toornaar te doen. Ek paai hom toe weer met : « Nee, toe maar, Danie, ek glo jou mos. Maar vertel verder. »

« Wel, die ding het só gekom: Toe ek op 'n goeie dag my horlosieketting opvrywe, toe verskyn daar so'n wonderlike gedaante voor my en hy sê : « Gebied maar, Grootbaas, hier is ek ! » Ek het my lam geskrik en het net my werk gehad om die gedaante weg te kry. Maar daarvandaan af durf ek nie aan die patroontjie raak nie of die spooksel se bakkies staan voor my, totdat ek hom een dag vra waarom hy my nie met rus kan laat nie. Toe sal hy vir my die hele ding vertel, dat ek dan die inkarnasie van Aladdin is. Dis darem ook nie eintlik dat ek sy gees geërwe het nie. Dis maar net omdat ek die erfgenaam is van 'n stuk van die ou lamp. »

« En waar is die ander stukke van die lamp? » vra ek ; want ek begin toe ook lus kry om so'n toorhoutjie te besit.

« Hy sê dié het hulle gebruik om soldaatknope van te maak. »

« Ja, maar dan sal die ding met jou maar net skeef afloop, Danie ; want sê nou daar kom naderhand so'n hele regiment van inkarnasies bymekaar, dan kan hulle jou dalk ontwapen. »

« Nee, daardie soldate moet glo almal met verroeste knope en al gesneuwel het, sê die gedaante, of hulle het nooit in Antwerpe gekom nie. Aladdin het laaste in Antwerpe sy wonders met die lamp verrig en dit was toe so beskik, dat die lamp of sy afstammelinge net hier sy toor-uitwerking sou hê. »

« Ja. maar dan is jy darem gekul, Danie: want as ons nou weer hier weggaan, dan hou jou inkarnasieskap ook op. »

« Nee, hy sê as jy hom eers hier aan die gang gesit het, dan kan hy oral werk. »

« A nee, maar dit word interessant. Vertel verder. »

« Nee, dit is àl. Hy sê hy is nou my slaaf en alles wat ek begeer sal hy vir my besorg. »

« En het jy hom toe al geprobeer? »

« Nee, ek het nog niks nodig gehad nie. »

« Nog niks nodig gehad nie? En hier sit ons àl dae met ons droë mond! Kon jy nie al dat die gedaante vir ons biltong gebring het nie? » « Tonnie, hoe kan 'n mens dan vir die ding sulke ou peuselwerkies gee om te doen? Ek sal hom mos affronteer daarmee? »

« Affronteer? Dis 'n mooi grap! Hoe kan hy dan wil so gou op sy perdjie wees? Hy sê immers hy is jou slaaf. Nee, laat hom kom, jong ! »

« Nee, wag eers tot ons in ons kamer is. Hy sê ek moenie vir hom roep waar vreemde mense hom kan sien nie. »

« En sal hy my ook vreemd noem ? »

« Nee, ek glo darem nie. Jy is mos een van die famielie. »

« En wat is sy naam? » « Ek weet nie. »

« Jy weet nie? En hoe spreek jy hom dan aan , as jy nie sy naam ken nie? »

« Ek spreek hom maar aan soos 'n mens gewoonlik 'n vreemde mens aanspreek. » « Somar « jy » en « jou » ? »

« Nee, « u » natuurlik ! »

« « U » ? ? ? ? ? Danie, hoe kan jy so onversigtig wees ? Dis mos nou om gelykstelling te bewerk! Sê nou die gedaante kry jou in die sak ? Nee, kêrel jy maak 'n groot fout. »

« Nou ja, maar hoe wou ek nou anders weet, dis dan eerste maal wat ek met sulke soort goeters in aanraking kom. »

« Ja, dis ook weer waar. Maar ek dink tog jy moet maar bietjie versigtig wees en hom op sy plek hou, anders kan ons dalk ergernis kry met hom. Hoe sou dit wees as jy my maar altyd toelaat om die gesprekke met hom te voer ? »

« Sal hy dit doen? »

« Natuurlik, hy is dan mos jou slaaf en moet doen wat jy sê ! »

« Nou ja, dis goed. »

« Nou, wanneer sal jy hom nou aan my voorstel ? »

« Net vanaand. »

« Goed. Jy kom net jou patroontjie in my kamer vrywe, dan kan jy maar padgee. »

« Ja maar , Tonnie, jy moenie vir die gedaante allerhande kinderagtige opdragte gee nie. Sê nou hij vererg hom, dan wil hy dalk naderhand nie meer kom nie. »

« Laat jy dit maar aan my oor, Danie. Ek sal vanaand net eers kennis maak met hom en sal hom geen opdrag gee, as ons nie tevore daaromtrent ooreengekom het nie. »

Ons is toe dadelik terug na ons pensioen toe. Danie het op die patroontjie gevrywe en die gedaante verskyn. Op sy vraag: « Wat kan ek vir die Grootbaas doen ? » sê Danie: « Hierdie meneer wil 'n onderhoud hê met jou. Ons twee is in 'n maatskappy en hy sal in vervolg vir jou al die opdragte gee, wat jy moet uitvoer. » Daarop verlaat Danie die vertrek en ons onderhoud vang aan. In die volgende hoofstuk word daardie onderhoud in die vorm van 'n tooneelstukkie weergegee. Dit kan in 'n konsert of vergadering van jongeliedevereniginge opgevoer word. Die gedaante kan verskyn in 'n Turkse drag of enige ander verspotte tooisel.