Die Wonderpatroontjie/Na Parys toe getoor

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Tonnie en die gedaante Die Wonderpatroontjie
Na Parys toe getoor.
deur Tonnie
Hoe ons op krediet koop


Na Parys toe getoor.

Nadat ek die gedaante weggestuur het, gaan ek Danie opsoek, wat al op hete kole gesit het - in die duisendste nood, dat ek dalk vir die gedaante opdragte sou gegee het, wat hom kon affronteer.

« Wel, hoe het dit met julle onderhoud afgeloop ? »

« Eersteklas. Dié gedaante van jou is net 'n gesellige kêrel. »

« Ja, ek het gehoor. Is dit hy wat so lekker gelag het ? »

« Ja, ek het vir hom Engelse geskiedenis geleer. Maar hoor hier, ou kêrel, nou moet ons hom darem 'n slaggie probeer, om te kyk wat hy kan doen. »

« Goed. Maar wat sal ons hom laat doen ? »

« A kyk, laat hy vir ons iets bring, of vir ons ergens heen toor. »

« Ja, ek dink dit is 'n plan, laat hy ons na Suid-Afrika toe toor. »

« Danie, droom jy nou, kêrel ? Na Suid-Afrika toe, voordat ons nog eers bietjie die wêreld gesien het ? Nee, ek stel voor, dat ons ons eers na al die vernaamste lande toe laat toor. »

« Ook goed. Waarheen dan eerste ? »

« Parys, natuurlik ! Die stad van die modes. Daar sal ons mos baie dinge sien om oor te lag. »

« Nou ja, wanneer sal ons begin? »

« Net sodra as jou vakansie 'n aanvang neem. Wanneer kry jy vakansie? »

« Woensdag. »

« Nou ja, somar dieselfde aand. Jou vakansie duur mos drie maande, het jy gesê. Dan kan ons omtrent ál die lande besoek en dan nog in Suid-Afrika ook 'n paar weke kuier, voor jy weer moet hier wees. »

Ons het toe so besluit. Die Woensdag het hy vir Jasper laat kom. Ek het hom opgedra om vir ons 'n agtermekaar uitrusting te bring, 'n norring van klere, voorlaaier, agterlaaier, swaelstert, « smoker », sinkplaathemp en ek onthou nie meer wat alles nie. Ons klim toe elkeen in 'n splinternuwe snyerspak van die ingekeepte, perdeby-styl. Die baadjies het buite-borssakke gehad, waaruit die punt van so'n gespikkelde groen sakdoekie hang. Toe nog 'n sakdoek in die onderste buitesak van die baadjie, een in die broeksak en een in die mou van die borshemp, soos dit hoort ; vervolgens 'n paar donkiehaarkamaste oor die skoene, wat jou laat lyk soos 'n veerpoot-hoender of 'n perd met aankap-ringe ; 'n kastrolletjie op die kop en 'n fluitjiesriet-wandelstokkie in die hand en ....

« Toe nou maar, Jasper, ons is gereed. Die deftigste hotel in Parys! »

Soos jy sê knipmes, staan ons in die portaal van 'n hotel, waar dit wemel om ons van lakeie, kruiers en ander gedienstige geeste, wat ons pakkies vashou, 'n boek onder ons neus skuif waar ons ons naam in moet teken en op Frans vir ons sê dis 'n mooi dag, of ander onsin, wat ons nie verstaan nie.

Toe laai hulle ons in die lugskippie en laat ons opsjiert tot die ek weet nie hoeveelste verdieping nie, waar ons elkeen 'n stel kamers kry, wat so deftig gemeubeleer is, dat 'n mens amper nie weet waar om te trap nie. Nou staan hy vir ons en uitvra (vir my dan - want soos ek sê, het ons elkeen 'n afsonderlike stel kamers gekry - so wil ek sê die vent staan vir my en uitvra wat ek wil hê, of ek weet ook self nie, maar ek kon darem uitmaak, dat dit vrae is wat hy stel en 'n ander staan vir Danie in sy kamers en uitvra).

'n Paar maal het ek al vir hom te verstaan gegee, dat ek nie Frans praat nie, maar hy hou maar aan met neul, totdat ek naderhand vir hom vra : « Maar kan julle dan hier niks anders praat as parlewoe fransy nie ? » « Oui, oui, monsieur » (ja, ja, meneer). Toe val dit my by, dat ek alweer vir die ding gevra het of hy Frans praat, wat gladnie my bedoeling was nie.

« Jy kan maar loop », beduie ek toe vir hom. Maar net toe hy die deur oopmaak, hoor ek Danie se stem (sy kamers was net regoor myne). « Sorrie ai kaant spiek frensj », hoor ek hom net nog sê, toe ek in die deur van my sitkamer verskyn. Ek dog so, wag ek wil die oudjie darem bietjie verras. So hou ek toe die Franse lakei bietjie terug en vra half saggies vir hom hoe laat ons eet (in Afrikaans, natuurlik). Hy pluk net sy skouers op en sê iets, wat glo beteken : ek verstaan jou nie. Ek dog so in my enigheid, ek verstaan jou ook nie, maar nou gaan ek iets sê, wat my maat nog minder sal verstaan. « Sessa, bon ! » antwoord ek en wys weer vir hom hy kan maar loop. Maar ek wens die leser kon Danie se verbasing gesien het.

« En wat het jy vir daardie ding gesê? » vra hy, toe ons lakeie albei verdwyn het.

« Niks, ek het somar vir hom gesê, dis reg, hy moet maar so maak. »

« Hoe maak? »

« Nee, hy het somar vir my gestaan en uitlê, dat hy vir my sal kom sê in watter teater hulle vanaand die mooiste stuk speel. »

« En kan jy dan die goed verstaan? »

« Ag ja wat, maklik. »

« Waar het jy dan Frans geleer? »

« By Jasper. »

Hy het niks daarop geantwoord nie.

Die aand het ons na 'n teater toe gegaan, waar hulle 'n Franse stuk gespeel het, waar nie een van ons iets van verstaan het nie. Maar ek het ewenwel vir Danie haarfyn gesit en tolk ; want ek verstaan mos kastig Frans. Maar dit het met my tolkery ook maar omtrent gegaan soos ek vanmelewe vir Dirk du Plooy geleer lees het, voordat ek nog self die a b c geken het.

Toe ons uit die teater kom, was dit al laat en ons was baie moeg, sodat ons die nag soos klippe geslaap het. Toe ek wakker skrik, sou die son al geskyn het, as dit in Suid-Afrika was. Maar in Europa skyn die son mos nie - in Frankryk tog darem so nou en dan, maar in die noordelike lande gladnie. So gaap-gaap steek ek my hand uit na my horlosie toe. Nee, maar hoe kan ek dan nie die ellendige horlosie raakvat nie? Ek lig my so effentjies op, om te kyk waar hy dan lê. Maar glo my, leser, op die tafeltjie voor mij bed was net so min 'n horlosie as wat daar nou 'n goue pond in u broeksak is.

Ek spring toe maar uit die bed uit, om my onderbaadjiesak by te kom, ofskoon ek so vas oortuig was, dat ek die vorige aand my horlosie op die tafeltjie neergelê het.

Hoe sou die leser gevoel het, as hy in my plek was en toe gladnie 'n onderbaadjie, ook nie 'n broek in die kamer kon sien nie ? Nou ja, dan weet u nou hoe ek gevoel het, toe ek merk, dat nie net my horlosie nie, maar al my klere en my portemente en al wat ek besit weg is, sodat ek net bloot my slaapklere oorhou. O nee, ek het tog nog iets oorgehad, my geldbeursie, dié was onder my kussing.

Nou sal die leser dink, dat ek met voorbedagte rade 'n plan gehad het om my te laat besteel ; want hoekom het ek dan voorsorg gemaak met my beursie, as ek nie 'n dief verwag het nie. Tenminste as die leser weet, dat sekere eienaars van verassureerde winkels lank voor die tyd al weet dat hulle winkel op 'n sekere nag sal afbrand, dan sal hy my verdink, dat ek in 'n maatskappy gewees het met die persoon, wat my die nag besteel het.

Maar dis nie iets om grappe oor te maak nie. Waarom ek met my beursie onder my kussing slaap, het só gekom : Ek het een nag op die trein my beursie kwytgeraak. Daar was dan 'n sekere japsnoet in dieselfde kompartement, wat voorgee, dat hy glad nog baie verder reis as ek. So was ek natuurlik nie onrustig, dat hy in die nag my geld sou steel nie, omdat ek dit dan tog weer die volgende more kon afneem - hy was baie ligter as ek, sodat ek heeltemal vir hom kans gesien het. Maar dit was 'n leuen, hy hét glo somar kort agter die bultjie afgeklim met my beursie en nog die paar los sielings in my broeksak ook. Daarvandaan af - dis 'n diepe geheim, wat ek nou gaan uitbring, maar ek hoop maar, dat nie een van my lesers ooit met my saam in dieselfde kompartement sal reis nie en daarom sal ek dit maar sê - daarvandaan af maak ek soos ek die aand in die hotel in Parys gemaak het. Die leser moet ook so maak, dis te sê as daar geld in sy beursie is - want in die meeste gevalle is 'n geldbeurs mos in die laaste tyd nie meer 'n geldbeurs nie, omdat daar omtrent nooit geld in is nie.

Daar staan ek toe met my slaapklere en my, geldbeursie en my mond vol tande (gelukkig, dat dit my eie tande is, anders sou ek dit ook altemit nie eens behou het nie). Wat nou gemaak ?

Ek dadelik met my geldbeursie en al na Danie se kamer toe.

« Danie, vryf jou patroontjie, jong ! »

« Hoem ? » kreun hy, soos 'n os wat bietou geëet het.

« Vryf jou patroontjie, dat Jasper kan kom, kêrel, my klere is gesteel. »

Ewe op sy gemak steek hy sy arm uit en voel-voel op die tafeltjie voor sy bed na sy horlosie, waar die ketting met die patroontjie aan sit. Wel, leser, hierdie verhaal is nie 'n storie nie, maar 'n werklike voorval (as u dit wil glo) en daarom sal ek nie met letterkundige omslagtigheid al die stadiums van ons twee se verbasing beskryf nie, maar somar dadelik in pront Hollands sê, dat Danie net so kaal gesteel was as ek (en nóg kaler, want hy het nie eens 'n beursie oorgehad nie - 'n mens sou sê iemand wat so baie gereis het soos hy moes tog minstens al daardie triek geleer het !)

« Nou, kerel, wat kan 'n mens nou met jou aanvang ? Waarom slaap jy dan so vas soos 'n renoster, dat jy jou laat besteel? » vra ek ongeduldig. Maar dit was ' n lompe berisping, so lomp, dat selfs Danie dit kon raaksien ; want hy troef my onmiddellik met: « En jy dan ? »

Ek was vas en moes 'n ander verwyt soek. Daarom sê ek: « Ja, maar jou patroontjie ! Jy kon dit tog opgepas het ! »

« Hoe kon ek dit opgepas het as ek slaap? »

« Jy kon dit onder jou kussing gesit het, soos jy met jou beursie gedoen het ! »

« Met my beursie gedoen het? » vra hy onnosel.

« Wat ! Wil jy tog nie vir my vertel jy het jou beursie ook laat steel nie ? Reg, dis waar, kêrel, as ons nie so lank al vriende was nie, dan het ek jou nou gerus 'n pak sla gegee. Die beursie is nog nie so'n groot skade nie, want gelukkig was ek nie so' n aap soos jy nie en het ek myne behou. Maar die patroontjie, ons ganse leeftog, om dít te laat steel! Dié ding moes jy mos om jou nek gedra het ! Jy kon mos geweet het, dat mense dit sal wil steel ! »

« Hoe kon ek dit geweet het ? »

« Hoe kon jy dit nie geweet het nie ? Ken jy dan jou eie geskiedenis nie ? Weet jy dan nie, dat hulle oorlede Aladdin se lamp ook een skoot gesteel het nie ? Maar staan nou op, kêrel, en gaan die saak by die poliesie aangee en gaan koop vir ons klere. »

« Hoe kan ek na die poliesie toe gaan sonder klere ? Stuur een van die hotel se lakeie. »

« Is jy dan nou laf, Danie ? Dan loop die vent kepaal nog met ons enigste ou bietjie geld ook weg. »

Om 'n lang storie kort te maak, ek het naderhand een van die lakeie se klere geleen en het toe by 'n twedehandswinkel vir ons ou klere gaan koop en toe het ons die saak gaan aangee by die poliesie. Maar hier was ons eers in die ongeleentheid.

Nou moet ek eers sê, dat ons darem eintlik meer oorgehad het as ons slaapklere en ons tande en my beursie. Die diewe was slim genoeg om nie ons dokumente saam te neem nie, so het hulle ons paspoort en ander papiere onder die bed ingegooi.

Maar wat het nou gebeur? Ons paspoort is uitgemaak op die 11de Julie en dieselfde aand het ons in Parys aangekom, wat vir natuurlike mense sonder inkarnasies 'n onmoontlikheid is ; want die trein vertrek uit Antwerpe om sewe-uur en die kantore gaan om nege-uur eers oop. So het hulle toe gedwing om ons nie te glo nie. Gelukkig neem hulle tog darem naderhand aan, dat die klerk miskien 'n fout gemaak het met die datum op die paspoort.