Wet op basiese diensvoorwaardes 75 van 1997/Hoofstuk vyf

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
please do not remove empty parameters (see the template documentation).
Wet op basiese diensvoorwaardes 75 van 1997 by Regering van Suid-Afrika

Hoofstuk vyf: Diensbeëindiging

HOOFSTUK VYF
DIENSBEËINDIGING (aa 36-42)

 

36 Toepassing van hierdie Hoofstuk

 

Hierdie Hoofstuk is nie van toepassing nie op 'n werknemer wat minder as 24 uur in 'n maand vir 'n werkgewer werk.

 

37 Kennisgewing van diensbeëindiging

 

(1) Behoudens artikel 38 kan 'n dienskontrak wat op versoek van 'n party by die kontrak opsegbaar is, beëindig word slegs by kennisgewing van minstens-

 

(a) een week, indien die werknemer ses maande of korter in diens was;

 

(b) twee weke, indien die werknemer langer as ses maande maar nie langer as 'n jaar nie in diens was;

 

(c) vier weke, indien die werknemer-

 

(i) 'n jaar of langer in diens was; of

 

(ii) 'n plaaswerker of huiswerker is wat langer as ses maande in diens was.

 

[Sub-a. (1) vervang by a. 8 van Wet 11 van 2002.]

 

(2) (a) 'n Kollektiewe ooreenkoms mag nie 'n tydperk van kennisgewing toelaat wat korter is as dié wat by subartikel (1) vereis word nie.

 

(b) Ondanks paragraaf (a) kan 'n kollektiewe ooreenkoms toelaat dat die tydperk van kennisgewing van vier weke wat by subartikel (1) (c) (i) vereis word, tot nie minder nie as twee weke verkort word.

 

[Sub-a. (2) vervang by a. 8 van Wet 11 van 2002.]

 

(3) Geen ooreenkoms kan van 'n werknemer vereis of 'n werknemer toelaat om 'n tydperk van kennisgewing te gee wat langer is as dié wat van die werkgewer vereis word nie.

 

(4) (a) Kennis van beëindiging van 'n dienskontrak moet skriftelik gegee word, behalwe wanneer dit deur 'n ongeletterde werknemer gegee word.

 

(b) Indien 'n werknemer wat kennisgewing van beëindiging ontvang nie in staat is om dit te verstaan nie, moet die kennisgewing mondeling, in 'n amptelike taal wat die werknemer redelikerwys verstaan, deur of namens die werkgewer aan die werknemer verduidelik word.

 

(5) Kennis van die beëindiging van 'n dienskontrak wat deur 'n werkgewer gegee word, mag-

 

(a) nie gegee word nie gedurende 'n verloftydperk waarop die werknemer ingevolge Hoofstuk Drie geregtig is;

 

(b) nie saamloop nie met 'n verloftydperk waarop die werknemer ingevolge Hoofstuk Drie geregtig is, behalwe siekteverlof.

 

(6) Geen bepaling in hierdie artikel raak die reg-

 

(a) van 'n ontslane werknemer om die geldigheid of billikheid van die ontslag ingevolge Hoofstuk VIII van die Wet op Arbeidsverhoudinge, 1995, of enige ander wet te betwis nie; en

 

(b) van 'n werkgewer of 'n werknemer om 'n dienskontrak sonder kennisgewing te beëindig om enige rede wat regtens erken word nie.

 

38 Betaling in plaas van kennisgewing

 

(1) In plaas daarvan om 'n werknemer kennis te gee ingevolge artikel 37, kan 'n werkgewer die werknemer die besoldiging betaal wat die werknemer sou ontvang het, bereken ooreenkomstig artikel 35, indien die werknemer gedurende die kennisgewingtydperk gewerk het.

 

(2) Indien 'n werknemer kennis gee van diensbeëindiging, en die werkgewer afstand doen van enige deel van die kennisgewing, moet die werkgewer die besoldiging bedoel in subartikel (1) betaal, tensy die werkgewer en die werknemer anders ooreenkom.

 

39 Werknemers in akkommodasie deur werkgewers verskaf

 

(1) Indien die werkgewer van 'n werknemer wat in akkommodasie woon wat geleë is op die perseel van die werkgewer of wat deur die werkgewer verskaf word, die dienskontrak van daardie werknemer beëindig-

 

(a) voor die datum waarop die werkgewer ingevolge artikel 37 geregtig was om dit te doen; of

 

(b) ingevolge artikel 38,

 

word van die werkgewer vereis om die werknemer van akkommodasie te voorsien vir 'n tydperk van een maand of, indien dit 'n langer tydperk is, totdat die dienskontrak regtens beëindig kon word.

 

(2) Indien 'n werknemer verkies om in akkommodasie aan te bly ingevolge subartikel (1) nadat die werkgewer die werknemer se dienskontrak ingevolge artikel 38 beëindig het, word die besoldiging wat die werkgewer ingevolge artikel 38 moet betaal, verminder met die deel van die besoldiging wat die ooreengekome waarde van die akkommodasie verteenwoordig vir die tydperk wat die werknemer in die akkommodasie aanbly.

 

40 Betalings by beëindiging

 

By diensbeëindiging moet 'n werkgewer 'n werknemer-

 

(a) betaal vir enige betaalde tyd vry waarop die werknemer ingevolge artikel 10 (3) of 16 (3) geregtig is, maar wat die werknemer nie geneem het nie;

 

(b) besoldiging bereken ooreenkomstig artikel 21 (1) betaal vir enige tydperk van jaarlikse verlof verskuldig ingevolge artikel 20 (2) wat die werknemer nie geneem het nie; en

 

(c) indien die werknemer langer as vier maande in diens was, ten opsigte van die werknemer se geregtigdheid op jaarlikse verlof gedurende 'n onvoltooide jaarlikse verlofsiklus soos in artikel 20 (1) omskryf-

 

(i) een dag se besoldiging betaal ten opsigte van elke 17 dae waarop die werknemer gewerk het of op betaling geregtig was; of

 

(ii) besoldiging betaal bereken op enige grondslag wat minstens net so gunstig vir die werknemer is as dié wat ingevolge subparagraaf (i) bereken word.

 

41 Skeidingsloon

 

(1) Vir die doeleindes van hierdie artikel beteken "bedryfsvereistes" vereistes gegrond op die ekonomiese, tegnologiese, strukturele of soortgelyke behoeftes van 'n werkgewer.

 

(2) 'n Werkgewer moet 'n werknemer wat ontslaan word weens redes gegrond op die werkgewer se bedryfsvereistes of wie se dienskontrak ten einde loop of beëindig word ingevolge artikel 38 van die Insolvensiewet, 1936 (Wet 24 van 1936), 'n skeidingsloon betaal gelyk aan minstens een week se besoldiging vir elke voltooide jaar aaneenlopende diens by daardie werkgewer, bereken ooreenkomstig artikel 35.

 

[Sub-a. (2) vervang by a. 9 van Wet 11 van 2002.]

 

(3) Die Minister kan die bedrag van die skeidingsloon ingevolge subartikel (2) by kennisgewing in die Staatskoerant verander. Hierdie verandering mag slegs gedoen word na oorleg met NEOAR en die Koördinerende Bedingingsraad vir die Staatsdiens ingestel kragtens Bylae 1 van die Wet op Arbeidsverhoudinge, 1995.

 

(4) 'n Werknemer wat onredelikerwys weier om die werkgewer se aanbod van alternatiewe diens by daardie werkgewer of 'n ander werkgewer te aanvaar, is nie op 'n skeidingsloon ingevolge subartikel (2) geregtig nie.

 

(5) Die betaling van 'n skeidingsloon ter nakoming van hierdie artikel raak nie 'n werknemer se reg op enige ander bedrag wat regtens betaalbaar is nie.

 

(6) Indien daar 'n geskil is wat net oor die geregtigdheid op 'n skeidingsloon ingevolge hierdie artikel handel, kan die werknemer die geskil skriftelik verwys na-

 

(a) 'n raad, indien die partye by die geskil binne die geregistreerde bestek van daardie raad val; of

 

(b) die KVBA, indien geen raad jurisdiksie het nie.

 

(7) Die werknemer wat die geskil na die raad of die KVBA verwys, moet hom oortuig dat 'n afskrif van die verwysing aan al die ander partye by die geskil beteken is.

 

(8) Die raad of die KVBA moet poog om die geskil deur versoening te besleg.

 

(9) Indien die geskil onbesleg bly, kan die werknemer dit na arbitrasie verwys.

 

(10) Indien die Arbeidshof 'n geskil oor 'n ontslag gegrond op die werkgewer se bedryfsvereistes bereg, kan die Hof die bedrag aan skeidingsloon waarop die ontslane werknemer geregtig mag wees, ondersoek en bepaal en kan die Hof 'n bevel uitreik wat die werkgewer gelas om daardie bedrag te betaal.

 

42 Dienssertifikaat

 

By diensbeëindiging is 'n werknemer geregtig op 'n dienssertifikaat wat die volgende vermeld:

 

(a) Die werknemer se volle naam;

 

(b) die naam en adres van die werkgewer;

 

(c) 'n beskrywing van 'n raad of sektorale diensstandaard waardeur die werkgewer se besigheid gedek word;

 

(d) die datum van die begin en die datum van beëindiging van diens;

 

(e) die titel van die werk of 'n bondige beskrywing van die werk waarvoor die werknemer in diens was op die datum van diensbeëindiging;

 

(f) die besoldiging op die datum van diensbeëindiging; en

 

(g) indien die werknemer dit versoek, die rede vir diensbeëindiging.