Wet op basiese diensvoorwaardes 75 van 1997/Hoofstuk ses

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
please do not remove empty parameters (see the template documentation).
Wet op basiese diensvoorwaardes 75 van 1997 by Regering van Suid-Afrika

Hoofstuk ses: Verbod op indiensneming van kinders en dwangarbeid

HOOFSTUK SES
VERBOD OP INDIENSNEMING VAN KINDERS EN DWANGARBEID (aa 43-48)

 

43 Verbod op indiensneming van kinders

 

(1) Niemand mag 'n kind in diens neem nie-

 

(a) wat onder die ouderdom van 15 jaar is; of

 

(b) onder die minimum skoolverlaatouderdom ingevolge enige wet is, indien dit 15 jaar of ouer is.<a href="#_edn11" name="_ednref11" title="">[xi]</a>*

 

(2) Niemand mag 'n kind in diens neem nie vir diens-

 

(a) wat ongeskik is vir 'n persoon van daardie ouderdom;

 

(b) wat die kind se welsyn, opvoeding, liggaamlike of geestesgesondheid of geestelike, morele of sosiale ontwikkeling in gevaar stel.

 

(3) Iemand wat 'n kind strydig met subartikels (1) of (2) in diens neem, begaan 'n misdryf.

 

[Datum van inwerkingtreding van a. 43: 21 Maart 1998.]

 

44 Indiensneming van kinders van 15 jaar of ouer

 

(1) Behoudens artikel 43 (2) kan die Minister, op advies van die Kommissie, regulasies uitvaardig ten einde 'n verbod te plaas op, of voorwaardes te stel met betrekking tot, die indiensneming van kinders wat minstens 15 jaar oud is en wat nie meer kragtens enige wet skoolpligtig is nie.

 

(2) Iemand wat 'n kind strydig met subartikel (1) in diens neem, begaan 'n misdryf.

 

[Datum van inwerkingtreding van a. 44: 21 Maart 1998.]

 

45 Mediese ondersoeke

 

Die Minister kan, na oorleg met die Kommissie, regulasies uitvaardig betreffende die doen van mediese ondersoeke van kinders wat in diens is<a href="#_edn12" name="_ednref12" title="">[xii]</a>*

 

[Datum van inwerkingtreding van a. 45: 21 Maart 1998.]

 

46 Verbiedinge

 

Dit is 'n misdryf om-

 

(a) 'n werkgewer te help om 'n kind in stryd met hierdie Wet in diens te neem; of

 

(b) te diskrimineer teen 'n persoon wat weier om 'n kind toe te laat om in diens te wees.

 

[Datum van inwerkingtreding van a. 46: 21 Maart 1998.]

 

47 Bewys van ouderdom

 

Indien die ouderdom van 'n werknemer by enige verrigtinge ingevolge hierdie Wet, 'n tersaaklike faktor is ten opsigte waarvan daar onvoldoende getuienis is, moet die party wat beweer dat die indiensneming voldoen aan die bepalings van hierdie Hoofstuk, bewys dat dit, nadat ondersoek ingestel is, redelik was om te vermoed dat die persoon nie onder die toelaatbare ouderdom ingevolge artikel 43 of 44 was nie.

 

[Datum van inwerkingtreding van a. 47: 21 Maart 1998.]

 

48 Verbod op dwangarbeid

 

(1) Behoudens die Grondwet is alle dwangarbeid verbode.

 

(2) Niemand mag vir eie gewin of vir die gewin van iemand anders dwangarbeid in stryd met subartikel (1) veroorsaak, eis of beveel nie.

 

(3) Iemand wat subartikel (1) of (2) oortree, begaan 'n misdryf.

 

[Datum van inwerkingtreding van a. 48: 21 Maart 1998.]