Wet op basiese diensvoorwaardes 75 van 1997/Hoofstuk twee

From Wikisource
Jump to: navigation, search
template error: please do not remove empty parameters (see the style guide and template documentation).
Wet op basiese diensvoorwaardes 75 van 1997 by Regering van Suid-Afrika

Hoofstuk twee: Reëling van werktyd
{{{notes}}}

HOOFSTUK TWEE
REËLING VAN WERKTYD (aa 6-18)

 

6 Toepassing van hierdie Hoofstuk

 

(1) Hierdie Hoofstuk, behalwe artikel 7, is nie van toepassing nie op-

 

(a) senior bestuurswerknemers;

 

(b) werknemers in diens as verkoopspersoneel wat reis na die persele van klante en wat hulle eie werkure reël;

 

(c) werknemers wat minder as 24 uur 'n maand vir 'n werkgewer werk.

 

(2) Artikels 9, 10 (1), 14 (1), 15 (1), 17 (2) en 18 (1) is nie van toepassing nie op werk wat sonder versuim gedoen moet word as gevolg van omstandighede waarvoor daar nie redelikerwys van die werkgewer verwag kon word om voorsiening te maak nie en wat nie gedurende hulle gewone werkure deur werknemers verrig kan word nie.

 

(3) Die Minister moet, op advies van die Kommissie, 'n vasstelling<a href="#_edn3" name="_ednref3" title="">[iii]</a>* doen om die toepassing van hierdie Hoofstuk of enige bepaling daarvan op enige kategorie werknemers wat meer verdien as 'n bedrag in daardie vasstelling vermeld, uit te sluit.

 

[Datum van inwerkingtreding van sub-a. (3): 21 Maart 1998.]

 

(4) Alvorens die Minister 'n kennisgewing ingevolge subartikel (3) uitreik, moet die Minister-

 

(a) 'n konsep van die beoogde kennisgewing in die Staatskoerant publiseer; en

 

(b) belanghebbende persone uitnooi om binne 'n redelike tydperk skriftelike vertoë oor die beoogde kennisgewing voor te lê.

 

[Datum van inwerkingtreding van sub-a. (4): 21 Maart 1998.]

 

7 Reëling van werktyd

 

Elke werkgewer moet die werktyd van elke werknemer reël-

 

(a) ooreenkomstig die bepalings van enige Wet wat beroepsgesondheid en -veiligheid reël;

 

(b) met behoorlike inagneming van die gesondheid en veiligheid van werknemers;

 

(c) met behoorlike inagneming van die Goeie Praktykkode oor die Reëling van Werktyd<a href="#_edn4" name="_ednref4" title="">[iv]</a>* ingevolge artikel 87 (1) (a) uitgereik; en

 

(d) met behoorlike inagneming van werknemers se gesinsverantwoordelikhede.

 

8 Uitleg van dag

 

Vir die doeleindes van artikels 9 tot 16 beteken 'dag' 'n tydperk van 24 uur bereken vanaf die tyd wanneer die werknemer gewoonlik begin werk, en het 'daagliks' 'n ooreenstemmende betekenis.

 

[A. 8 vervang by a. 2 van Wet 11 van 2002.]

 

9 Gewone werkure

 

(1) Behoudens hierdie Hoofstuk mag 'n werkgewer nie van 'n werknemer vereis of hom of haar toelaat om meer as-

 

(a) 45 uur in 'n week te werk nie; en

 

(b) nege uur op 'n dag te werk nie indien die werknemer op vyf dae of minder in 'n week werk; of

 

(c) agt uur op 'n dag te werk nie indien die werknemer op meer as vyf dae in 'n week werk.

 

(2) 'n Werknemer se gewone werkure ingevolge subartikel (1) kan by ooreenkoms verleng word met tot 15 minute op 'n dag maar met hoogstens 60 minute in 'n week, ten einde 'n werknemer wie se pligte insluit om lede van die publiek te bedien, in staat te stel om na die voltooiing van gewone werkure voort te gaan om daardie pligte te verrig.

 

(3) Bylae 1 stel prosedures in vir die progressiewe vermindering van die maksimum gewone werkure tot 'n maksimum van 40 gewone werkure per week en agt gewone werkure per dag.

 

10 Oortyd

 

(1) Behoudens hierdie Hoofstuk mag 'n werkgewer nie van 'n werknemer vereis of hom of haar toelaat om-

 

(a) oortyd te werk nie, behalwe ooreenkomstig 'n ooreenkoms;

 

(b) meer oortyd te werk nie as tien uur in 'n week.

 

[Sub-a. (1) vervang by a. 3 (a) van Wet 11 van 2002.]

 

(1A) 'n Ooreenkoms ingevolge subartikel (1) mag nie van 'n werknemer vereis of hom of haar toelaat om meer as 12 uur op enige dag te werk nie.

 

[Sub-a. (1A) ingevoeg by a. 3 (b) van Wet 11 van 2002.]

 

(2) 'n Werkgewer moet aan 'n werknemer vir enige oortyd gewerk een en 'n half maal die werknemer se loon betaal.

 

(3) Ondanks subartikel (2) kan 'n ooreenkoms bepaal dat 'n werkgewer aan-

 

(a) 'n werknemer nie minder as die werknemer se gewone loon betaal vir oortyd wat gewerk is en die werknemer minstens 30 minute tyd vry met betaling gee vir elke uur oortyd gewerk; of

 

(b) 'n werknemer minstens 90 minute tyd vry met betaling gee vir elke uur oortyd gewerk.

 

(4) (a) 'n Werkgewer moet tyd vry met betaling ingevolge subartikel (3) gee binne een maand nadat die werknemer daarop geregtig geword het.

 

(b) 'n Skriftelike ooreenkoms kan die tydperk beoog deur paragraaf (a) tot 12 maande verleng.

 

(5) 'n Ooreenkoms wat ingevolge subartikel (1) met 'n werknemer aangegaan word wanneer die werknemer begin werk, of gedurende die eerste drie maande van diens, verstryk na een jaar.

 

(6) (a) 'n Kollektiewe ooreenkoms kan die maksimum toegelate oortyd tot 15 uur per week verleng.

 

(b) 'n Kollektiewe ooreenkoms beoog in paragraaf (a) kan vir hoogstens twee maande in enige tydperk van 12 maande van toepassing wees.

 

[Sub-a. (6) bygevoeg by a. 3 (c) van Wet 11 van 2002.]

 

11 Saamgeperste werkweek

 

(1) 'n Skriftelike ooreenkoms kan van 'n werknemer vereis of hom of haar toelaat om tot 12 uur op 'n dag, met inbegrip van die etenspouses wat ingevolge artikel 14 vereis word, te werk sonder om betaling vir oortyd te ontvang.

 

(2) 'n Ooreenkoms ingevolge subartikel (1) mag nie van 'n werknemer vereis of hom of haar toelaat om-

 

(a) meer as 45 gewone werkure in 'n week te werk nie;

 

(b) meer as 10 uur oortyd in 'n week te werk nie; of

 

(c) op meer as vyf dae in 'n week te werk nie.

 

12 Berekening van gemiddelde werkure

 

(1) Ondanks artikels 9 (1) en (2) en 10 (1) (b) kan die gewone werkure en oortyd van 'n werknemer ingevolge 'n kollektiewe ooreenkoms as 'n gemiddelde bereken word oor 'n tydperk van tot vier maande.

 

(2) 'n Werkgewer mag nie van 'n werknemer wat deur 'n kollektiewe ooreenkoms ingevolge subartikel (1) gebind word, vereis of hom of haar toelaat om meer as-

 

(a) 'n gemiddelde van 45 gewone werkure per week oor die ooreengekome tydperk te werk nie;

 

(b) 'n gemiddelde van vyf uur oortyd per week oor die ooreengekome tydperk te werk nie.

 

(3) 'n Kollektiewe ooreenkoms ingevolge subartikel (1) verstryk na 12 maande.

 

(4) Subartikel (3) is slegs van toepassing op die eerste twee kollektiewe ooreenkomste wat ingevolge subartikel (1) aangegaan word.

 

13 Vasstelling van werkure deur Minister

 

(1) Ondanks hierdie Hoofstuk kan die Minister op grond van gesondheid en veiligheid, by regulasie die maksimum toegelate werkure, met inbegrip van oortyd, voorskryf wat enige kategorie werknemer-

 

(a) daagliks, weekliks of gedurende enige ander tydperk in die regulasie vermeld mag werk; en

 

(b) gedurende 'n aaneenlopende tydperk sonder onderbreking mag werk.

 

(2) 'n Regulasie ingevolge subartikel (1) mag nie maksimum ure voorskryf wat dié in artikels 9 en 10 toegelaat, te bowe gaan nie.

 

(3) 'n Regulasie ingevolge subartikel (1) kan uitgevaardig word slegs-

 

(a) op advies van die hoofinspekteur aangestel ingevolge artikel 27 van die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid, 1993 (Wet 85 van 1993), of die hoofinspekteur aangestel ingevolge artikel 48 van die Wet op Gesondheid en Veiligheid in Myne, 1996 (Wet 29 van 1996); en

 

(b) na oorleg met die Kommissie.

 

14 Etenspouses

 

(1) 'n Werkgewer moet 'n werknemer wat meer as vyf uur lank aaneenlopend werk, 'n etenspouse van minstens een aaneenlopende uur gee.

 

(2) Gedurende 'n etenspouse kan daar van die werknemer vereis word of kan hy of sy toegelaat word om slegs die pligte te verrig wat nie kan oorstaan nie en nie deur 'n ander werknemer verrig kan word nie.

 

(3) 'n Werknemer moet besoldig word-

 

(a) vir 'n etenspouse waartydens daar van die werknemer vereis word óf om te werk óf om vir werk beskikbaar te wees; en

 

(b) vir enige deel van 'n etenspouse wat langer as 75 minute is, tensy die werknemer op die perseel waar die werkplek geleë is, woon.

 

(4) Vir die doeleindes van subartikel (1) is werk aaneenlopend indien dit nie deur 'n pouse van minstens 60 minute onderbreek word nie.

 

(5) 'n Skriftelike ooreenkoms kan-

 

(a) die etenspouse tot minstens 30 minute verkort;

 

(b) wegdoen met 'n etenspouse vir 'n werknemer wat minder as ses uur op 'n dag werk.

 

15 Daaglikse en weeklikse rustye

 

(1) 'n Werkgewer moet 'n werknemer-

 

(a) 'n daaglikse rustyd toelaat van minstens 12 opeenvolgende ure nadat werk beëindig is en voordat werk weer begin; en

 

(b) 'n weeklikse rustyd toelaat van minstens 36 opeenvolgende ure wat, tensy anders ooreengekom, 'n Sondag moet insluit.

 

(2) 'n Daaglikse rustyd ingevolge subartikel (1) (a) kan, deur skriftelike ooreenkoms, verminder word tot 10 uur vir 'n werknemer-

 

(a) wat op die perseel waarop die werkplek geleë is, woon; en

 

(b) wie se etenspouse minstens drie uur is.

 

(3) Ondanks subartikel (1) (b) kan 'n skriftelike ooreenkoms voorsiening maak vir-

 

(a) 'n rustyd van minstens 60 opeenvolgende ure elke twee weke; of

 

(b) die verkorting van 'n werknemer se weeklikse rustyd met tot agt uur in 'n week indien die rustyd in die daaropvolgende week in dieselfde mate verleng word.

 

16 Betaling vir werk op Sondae

 

(1) 'n Werkgewer moet 'n werknemer wat op 'n Sondag werk teen dubbel die werknemer se loon vir elke uur gewerk, betaal, tensy die werknemer gewoonlik op 'n Sondag werk, in welke geval die werkgewer die werknemer teen een en 'n half maal die werknemer se loon vir elke uur wat gewerk is, moet betaal.

 

(2) Indien 'n werknemer minder as die werknemer se gewone skof op 'n Sondag werk en die betaling waarop die werknemer ingevolge subartikel (1) geregtig is, minder is as die werknemer se gewone daaglikse loon, moet die werkgewer die werknemer die werknemer se gewone daaglikse loon betaal.

 

(3) Ondanks subartikels (1) en (2) kan 'n ooreenkoms 'n werkgewer toelaat om aan 'n werknemer wat op 'n Sondag werk, tyd vry met betaling toe te staan wat gelyk is aan die verskil in waarde tussen die betaling deur die werknemer ontvang vir werk op die Sondag verrig en die betaling waarop die werknemer ingevolge subartikels (1) en (2) geregtig is.

 

(4) Enige tyd wat op 'n Sondag gewerk word deur 'n werknemer wat nie gewoonlik op 'n Sondag werk nie, word by die berekening van 'n werknemer se gewone werkure ingevolge artikel 9 (1) en (2) nie in aanmerking geneem nie, maar word in aanmerking geneem by die berekening van die oortyd wat deur die werknemer ingevolge artikel 10 (1) (b) gewerk word.

 

(5) Indien 'n skof wat deur 'n werknemer gewerk is op 'n Sondag en 'n ander dag val, word die hele skof geag op die Sondag gewerk te wees, tensy die grootste deel van die skof op die ander dag gewerk is, in welke geval die hele skof geag word op die ander dag gewerk te wees.

 

(6) (a) 'n Werkgewer moet tyd vry met betaling ingevolge subartikel (3) toestaan binne een maand nadat die werknemer daarop geregtig geword het.

 

(b) 'n Skriftelike ooreenkoms kan die tydperk beoog in paragraaf (a) tot 12 maande verleng.

 

17 Nagwerk

 

(1) In hierdie artikel beteken "nagwerk" werk verrig na 18:00 en voor 06:00 die volgende dag.

 

(2) 'n Werkgewer kan van 'n werknemer vereis of hom of haar toelaat om nagwerk te verrig slegs indien aldus ooreengekom is, en indien-

 

(a) die werknemer vergoed word deur die betaling van 'n toelae, wat 'n skoftoelae kan wees, of deur 'n vermindering van werkure; en

 

(b) vervoer beskikbaar is tussen die werknemer se woonplek en die werkplek by die begin en einde van die werknemer se skof.

 

(3) 'n Werkgewer wat van 'n werknemer vereis om op 'n gereelde grondslag na 23:00 en voor 06:00 die volgende dag werk te verrig, moet-

 

(a) die werknemer skriftelik inlig, of indien die werknemer nie in staat is om 'n geskrewe kommunikering te verstaan nie, mondeling, in 'n taal wat die werknemer verstaan, omtrent-

 

(i) enige gesondheids- en veiligheidsgevare wat verbonde is aan die werk wat die werknemer moet verrig; en

 

(ii) die werknemer se reg om 'n mediese ondersoek ingevolge paragraaf (b) te ondergaan;

 

(b) die werknemer, op versoek van die werknemer en vir die rekening van die werkgewer, in staat stel om 'n mediese ondersoek te ondergaan betreffende daardie gevare-

 

(i) voordat die werknemer begin, of binne 'n redelike tydperk nadat die werknemer begin, met daardie werk; en

 

(ii) met gepaste tussenposes terwyl die werknemer voortgaan om daardie werk te verrig; en

 

(c) die werknemer binne 'n redelike tyd na geskikte dagwerk oorplaas indien-

 

(i) die werknemer aan 'n gesondheidstoestand ly wat met die verrigting van nagwerk verband hou; en

 

(ii) dit vir die werkgewer moontlik is om dit te doen;

 

(4) Vir die doeleindes van subartikel (3) werk 'n werknemer op 'n gereelde grondslag indien die werknemer vir 'n tydperk van langer as een uur na 23:00 en voor 06:00 vir minstens vyf keer per maand of 50 keer per jaar werk.

 

(5) Die Minister kan, na oorleg met die Kommissie, regulasies uitvaardig betreffende die doen van mediese ondersoeke vir werknemers wat nagwerk verrig.<a href="#_edn5" name="_ednref5" title="">[v]</a>*

 

18 Openbare vakansiedae<a href="#_edn6" name="_ednref6" title="">[vi]</a>*

 

(1) 'n Werkgewer mag nie van 'n werknemer vereis om op 'n openbare vakansiedag te werk nie, behalwe ooreenkomstig 'n ooreenkoms.

 

(2) Indien 'n openbare vakansiedag op 'n dag val waarop 'n werknemer gewoonlik werk, moet 'n werkgewer-

 

(a) aan 'n werknemer wat nie op die openbare vakansiedag werk nie, die loon betaal wat die werknemer gewoonlik sou ontvang het vir werk op daardie dag;

 

(b) aan 'n werknemer wat op die openbare vakansiedag werk-

 

(i) minstens dubbel die bedrag in paragraaf (a) bedoel, betaal; of

 

(ii) indien dit groter is, die bedrag in paragraaf (a) bedoel betaal plus die bedrag deur die werknemer verdien vir die tyd op daardie dag gewerk.

 

(3) Indien 'n werknemer op 'n openbare vakansiedag werk waarop die werknemer gewoonlik nie sou werk nie, moet die werkgewer aan daardie werknemer 'n bedrag betaal wat gelyk is aan-

 

(a) die werknemer se gewone daaglikse loon; plus

 

(b) die bedrag wat deur die werknemer verdien is vir werk verrig op daardie dag, hetsy bereken op grond van tyd gewerk of enige ander metode.

 

(4) 'n Werkgewer moet 'n werknemer vir 'n openbare vakansiedag op die werknemer se gebruiklike betaaldag betaal.

 

(5) Indien 'n skof deur 'n werknemer gewerk op 'n openbare vakansiedag en 'n ander dag val, word die hele skof geag op die openbare vakansiedag gewerk te wees, maar indien die grootste deel van die skof op die ander dag gewerk is, word die hele skof geag op die ander dag gewerk te wees.