Wet op basiese diensvoorwaardes 75 van 1997/Hoofstuk drie

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
please do not remove empty parameters (see the template documentation).
Wet op basiese diensvoorwaardes 75 van 1997 by Regering van Suid-Afrika

Hoofstuk drie: Verlof

HOOFSTUK DRIE
VERLOF (aa 19-27)

 

19 Toepassing van hierdie Hoofstuk

 

(1) Hierdie Hoofstuk is nie op 'n werknemer van toepassing wat minder as 24 uur per maand vir 'n werkgewer werk nie.

 

(2) Tensy 'n ooreenkoms anders bepaal, is hierdie Hoofstuk nie van toepassing nie op verlof toegestaan aan 'n werknemer wat meer is as die werknemer se geregtigdheid kragtens hierdie Hoofstuk.

 

20 Jaarlikse verlof

 

(1) In hierdie Hoofstuk beteken "jaarlikse verlofsiklus" die tydperk van 12 maande diens by dieselfde werkgewer wat onmiddellik volg op-

 

(a) die aanvang van 'n werknemer se diens; of

 

(b) die voltooiing van daardie werknemer se vorige verlofsiklus.

 

(2) 'n Werkgewer moet aan 'n werknemer minstens-

 

(a) 21 opeenvolgende dae jaarlikse verlof met volle besoldiging toestaan ten opsigte van elke jaarlikse verlofsiklus; of

 

(b) by ooreenkoms, een dag jaarlikse verlof met volle besoldiging toestaan vir elke 17 dae waarop die werknemer gewerk het of op betaling geregtig was;

 

(c) by ooreenkoms, een uur jaarlikse verlof met volle besoldiging toestaan vir elke 17 uur waarop die werknemer gewerk het of op betaling geregtig was.

 

(3) 'n Werknemer is geregtig om verlof wat ingevolge subartikel (2) in 'n jaarlikse verlofsiklus opgeloop het, op opeenvolgende dae te neem.

 

(4) 'n Werkgewer moet jaarlikse verlof toestaan binne ses maande na die einde van die jaarlikse verlofsiklus.

 

(5) 'n Werkgewer mag nie van 'n werknemer vereis of hom of haar toelaat om jaarlikse verlof te neem nie gedurende-

 

(a) enige ander verloftydperk waarop die werknemer ingevolge hierdie Hoofstuk geregtig is; of

 

(b) 'n tydperk van kennisgewing van diensbeëindiging.

 

(6) Ondanks subartikel (5) moet 'n werkgewer 'n werknemer op die werknemer se skriftelike versoek toelaat om verlof te neem gedurende 'n tydperk van verlof sonder betaling.

 

(7) 'n Werkgewer kan 'n werknemer se geregtigdheid op jaarlikse verlof verminder met die getal dae geleentheidsverlof met volle besoldiging wat in daardie verlofsiklus op versoek van die werknemer aan die werknemer toegestaan is.

 

(8) Indien 'n openbare vakansiedag op 'n dag gedurende 'n werknemer se jaarlikse verlof val waarop die werknemer gewoonlik sou gewerk het, moet die werkgewer aan die werknemer 'n bykomende dag verlof met betaling toestaan.

 

(9) 'n Werkgewer mag nie van 'n werknemer vereis of die werknemer toelaat om gedurende enige tydperk van jaarlikse verlof vir die werkgewer te werk nie.

 

(10) Jaarlikse verlof moet geneem word-

 

(a) ooreenkomstig 'n ooreenkoms tussen die werkgewer en die werknemer; of

 

(b) indien daar geen ooreenkoms ingevolge paragraaf (a) is nie, op 'n keer bepaal deur die werkgewer ooreenkomstig hierdie artikel.

 

(11) 'n Werkgewer mag nie 'n werknemer betaal in plaas van verlof met betaling ingevolge hierdie artikel toestaan nie, behalwe-

 

(a) by die beëindiging van diens; en

 

(b) ooreenkomstig artikel 40 (b) en (c).

 

21 Betaling vir jaarlikse verlof

 

(1) 'n Werkgewer moet aan 'n werknemer verlofbetaling betaal wat minstens gelyk is aan die besoldiging wat die werknemer sou ontvang het vir werk vir 'n tydperk wat gelyk is aan die tydperk van jaarlikse verlof, bereken-

 

(a) teen die werknemer se besoldigingskoers onmiddellik voor die begin van die tydperk van jaarlikse verlof; en

 

(b) ooreenkomstig artikel 35.

 

(2) 'n Werkgewer moet aan 'n werknemer verlofbetaling betaal-

 

(a) voor die begin van die verloftydperk; of

 

(b) volgens ooreenkoms, op die werknemer se gewone betaaldag.

 

22 Siekteverlof

 

(1) In hierdie Hoofstuk beteken "siekteverlofsiklus" die tydperk van 36 maande diens by dieselfde werkgewer wat onmiddellik volg op-

 

(a) die aanvang van 'n werknemer se diens; of

 

(b) die voltooiing van daardie werknemer se vorige siekteverlofsiklus.

 

(2) Gedurende elke siekteverlofsiklus is 'n werknemer geregtig op 'n hoeveelheid siekteverlof met betaling wat gelyk is aan die getal dae wat die werknemer gewoonlik sou gewerk het gedurende 'n tydperk van ses weke.

 

(3) Ondanks subartikel (2) is 'n werknemer, gedurende die eerste ses maande diens, geregtig op een dag siekteverlof met betaling vir elke 26 dae wat hy of sy gewerk het.

 

(4) Gedurende 'n werknemer se eerste siekteverlofsiklus kan die werkgewer 'n werknemer se geregtigdheid op siekteverlof ingevolge subartikel (2) verminder met die getal dae siekteverlof wat ingevolge subartikel (3) geneem is.

 

(5) Behoudens artikel 23 moet 'n werkgewer 'n werknemer vir 'n dag siekteverlof-

 

(a) die loon betaal wat die werknemer gewoonlik sou ontvang het vir werk op daardie dag; en

 

(b) op die werknemer se gewone betaaldag betaal.

 

(6) 'n Ooreenkoms kan die betaling verminder waarop 'n werknemer ingevolge hierdie artikel geregtig is ten opsigte van afwesigheid van enige dag indien-

 

(a) die getal dae betaalde siekteverlof minstens vergelykbaar vermeerder word met enige vermindering in die daaglikse bedrag siektebetaling; en

 

(b) die werknemer se geregtigdheid op betaling-

 

(i) vir enige dag se siekteverlof minstens 75 persent is van die loon wat aan die werknemer betaalbaar is die vir gewone ure wat die werknemer op daardie dag sou gewerk het; en

 

(ii) vir siekteverlof oor die siekteverlofsiklus ten minste gelyk is aan die werknemer se geregtigdheid ingevolge subartikel (2).

 

23 Bewys van ongeskiktheid

 

(1) 'n Werkgewer hoef 'n werknemer nie ingevolge artikel 22 te betaal nie indien die werknemer afwesig was van sy of haar werk vir meer as twee opeenvolgende dae of by meer as twee geleenthede gedurende 'n tydperk van agt weke en, op versoek van die werkgewer, nie 'n mediese sertifikaat voorlê wat verklaar dat die werknemer as gevolg van siekte of besering vir die duur van sy of haar afwesigheid nie in staat was om te werk nie.

 

(2) Die mediese sertifikaat moet uitgereik en onderteken wees deur 'n mediese praktisyn of 'n ander persoon wat gekwalifiseer is om pasiënte te diagnoseer en te behandel en wat geregistreer is by 'n beroepsraad wat by 'n Wet van die Parlement ingestel is.

 

(3) Indien dit nie redelikerwys uitvoerbaar is vir 'n werknemer wat op die werkgewer se perseel woon om 'n mediese sertifikaat te bekom nie, mag die werkgewer nie betaling ingevolge subartikel (1) weerhou nie tensy die werkgewer redelike bystand aan die werknemer verleen om die sertifikaat te bekom.

 

24 Toepassing op beroepsongelukke of -siektes

 

Artikels 22 en 23 is nie van toepassing nie op 'n ongeskiktheid vir werk wat veroorsaak is deur 'n ongeluk of beroepsiekte soos omskryf in die Wet op Vergoeding vir Beroepsbeserings en -siektes, 1993 (Wet 130 van 1993), of die Wet op Bedryfsiektes in Myne en Bedrywe, 1973 (Wet 78 van 1973), behalwe ten opsigte van enige tydperk waartydens daar geen vergoeding ingevolge daardie Wette betaalbaar is nie.

 

25 Kraamverlof<a href="#_edn7" name="_ednref7" title="">[vii]</a>*

 

(1) 'n Werknemer is geregtig op minstens vier opeenvolgende maande kraamverlof.

 

(2) 'n Werknemer kan met kraamverlof begin-

 

(a) te eniger tyd vanaf vier weke voor die verwagte datum van geboorte, tensy anders ooreengekom; of

 

(b) op 'n datum met ingang waarvan 'n mediese praktisyn of vroedvrou sertifiseer dat dit vir die gesondheid van die werknemer of van haar ongebore kind nodig is.

 

(3) Geen werknemer mag vir ses weke na die geboorte van haar kind werk nie, tensy 'n mediese praktisyn of vroedvrou sertifiseer dat sy geskik is om dit te doen.

 

(4) 'n Werknemer wat 'n miskraam gedurende die derde trimester van swangerskap het of 'n doodgebore kind baar, is geregtig op kraamverlof vir ses weke na die miskraam of doodgeboorte, ongeag of die werknemer ten tyde van die miskraam of doodgeboorte met kraamverlof begin het.

 

(5) Tensy 'n werknemer nie in staat is om dit te doen nie, moet die werknemer 'n werkgewer skriftelik in kennis stel van die datum waarop die werknemer van voorneme is om-

 

(a) met kraamverlof te begin; en

 

(b) na kraamverlof terug te keer werk toe.

 

(6) Kennisgewing ingevolge subartikel (5) moet gegee word-

 

(a) minstens vier weke voordat die werknemer van voorneme is om met kraamverlof te begin; of

 

(b) indien dit nie redelikerwys moontlik is om dit te doen nie, so gou as wat dit redelikerwys moontlik is.

 

(7) Die betaling van kraamvoordele sal deur die Minister behoudens die bepalings van die Werkloosheidversekeringswet, 1966 (Wet 30 van 1966), bepaal word.<a href="#_edn8" name="_ednref8" title="">[viii]</a>*

 

26 Beskerming van werknemers voor en na geboorte van 'n kind

 

(1) Geen werkgewer mag van 'n swanger werknemer of 'n werknemer wat haar kind borsvoed, vereis of haar toelaat om werk te verrig wat gevaarlik is vir haar gesondheid of vir die gesondheid van haar kind nie.<a href="#_edn9" name="_ednref9" title="">[ix]</a>*

 

(2) Gedurende 'n werknemer se swangerskap, en vir 'n tydperk van ses maande na haar kind se geboorte, moet haar werkgewer haar 'n geskikte alternatiewe werk aanbied op bedinge en voorwaardes wat nie minder gunstig as haar gewone bedinge en voorwaardes van diens is nie, indien-

 

(a) die werknemer nagwerk, soos in artikel 17 (1) omskryf, moet verrig of haar werk 'n gevaar vir haar of haar kind se gesondheid of veiligheid inhou; en

 

(b) dit vir die werkgewer moontlik is om dit te doen.

 

27 Verlof vir gesinsverantwoordelikheid

 

(1) Hierdie artikel is van toepassing op 'n werknemer-

 

(a) wat vir langer as vier maande in diens was van 'n werkgewer; en

 

(b) wat vir minstens vier dae per week vir daardie werkgewer werk.

 

(2) Gedurende elke jaarlikse verlofsiklus moet 'n werkgewer, op versoek van die werknemer, drie dae betaalde verlof aan die werknemer verleen, wat die werknemer geregtig is om te neem-

 

(a) wanneer die werknemer se kind gebore word;

 

(b) wanneer die werknemer se kind siek is; of

 

(c) in die geval van die dood van-

 

(i) die werknemer se gade of lewensmaat; of

 

(ii) die werknemer se ouer, aangenome ouer, grootouer, kind, aangenome kind, kleinkind of broer of suster.

 

(3) Behoudens subartikel (5) moet 'n werkgewer 'n werknemer vir 'n dag se verlof vir gesinsverantwoordelikheid-

 

(a) die loon betaal wat die werknemer gewoonlik sou ontvang het vir werk op daardie dag; en

 

(b) op die werknemer se gewone betaaldag betaal.

 

(4) 'n Werknemer kan verlof vir familieverantwoordelikheid neem ten opsigte van 'n hele of 'n gedeelte van 'n dag.

 

(5) Alvorens 'n werknemer vir verlof ingevolge hierdie artikel betaal word, kan 'n werkgewer redelike bewys vereis van 'n geval beoog in subartikel (2) waarvoor die verlof geneem is.

 

[Sub-a. (5) vervang by a. 4 van Wet 11 van 2002.]

 

(6) 'n Werknemer se ongebruikte geregtigdheid op verlof ingevolge hierdie artikel verstryk aan die einde van die jaarlikse verlofsiklus waarbinne dit toeval.

 

(7) 'n Kollektiewe ooreenkoms kan die getal dae en die omstandighede waaronder verlof ingevolge hierdie artikel verleen staan te word, wysig.