Ruiters van die Nag

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Ruiters van die Nag

deur A.G. Visser


RUITERS VAN DIE NAG.

Op die berge troon die Vryheid
Met haar reine sneeuseintuur,
Met haar diadeem van blyheid
En haar mantel van asuur.

Voorspoed, vrede, bring sy alle,
Vreugde aan elke kreatuur;
Heldemoed woon in haar halle,
In haar hart die heil'ge vuur.

Kuns en kennis, lig en lewe
Bloei en blink waar haar banier
Wuif en wapper, swaai en swewe,
Bande-brekend segevier!

Nie alleen op berge troon sy;
Op die onafsienb're veld,
Vlaktes van die Vrystaat, woon sy;
En die boerseun word 'n held.

Word 'n held van Godsgenade,
Met 'n wêreldroem en faam —
Onvergetelik sy dade
En onsterfelik sy naam!

En hy leer aan Groot-Brittanje,
Wat, in dae van weleer,
Die grandees en dons van Spanje
Tagtig jare lank moes leer: —

Dat die stryd nooit is verlore,
Want die vryheidsideaal
Word steeds uit haar as herbore,
Tot sy glansryk segepraal.

Op ons vlaktes, op ons velde,
Leef ons grote Generaal
Sweef beskermend met sy helde
Tussen Grootrivier en Vaal!

Nimmer gaan ons nasie onder
As ons in gedagt'nis hou
Al die adel al die wonder
Van sy mannemoed en trou.

Nagt'liks hef sy wagkommande,
Kondom die oranjevaan
Met die mousers in die hande,
die aloude krygslied aan:

Vegters vir vryheid dis opsaal en ry!
Mouser's die boerraad teen dwingelandy:
Ryperd en ruiter in duister gedrang,
Saalkraak en staalklank van stiebeul en stang!
Reg vir ons eie land!
Veg vir ons vrye land;
Wie kan ons stormende eskadrons keer?
Bom nog kartetse,
Kom by De Wet se
Donder van hoefslag en blits van geweer.

Tienmaal tienduisend ruk op teen De Wet
Boerridder, held, sonder blaam sonder smet,
Vas is hy weer vir die soveelste maal,
Vas in 'n dreigende ringmuur van staal,
Longtom en lugballon —
Pompom en snelkanon, —
Helios sein: „Elke weg is versper;
„Meld aan Brittanje,
„Held van Oranje
„Christiaan de Wet het geval soos 'n ster."

Middernag klink die kommando: Saal op!
Stadig — nou vinnig — dan wilde galop,
Net soos die miswolk verdwyn voor die son
Wyk voor De Wet die vyand'lik' kordon.
Voornag nog ingesluit,
Voordag 'n trein gebuit,
Hoor dis die Boer se pompom wat daar skreeu;
Veg — nie meer vlug nou
Reg in sy rug nou
Storm die verwonde en woedende Leeu.

Swart is ons land deur nog swarter verraad;
Ligtelaai styg met ons smart ook ons haat,
Maar by ons brandende huise se gloed
Staal word ons arm en onwrikbaar ons moed.
Eng'land se wandaders,
Dwing'land se skanddaders,
Mag uit die hel, wat van „Witdoeke" wemel.
Moederverraaiers,
Broedertwissaaiers,
Skou uit hul rampspoed die Helde se hemel.

Hoog met ons vaandel, die moed hoog gehou!
Eenmaal word Vrystaat sy naam weer getrou.
Altaar van Vryheid ons offer ons goed —
Al wat ons lief het. ons kosbaarste bloed!
Wapper Oranjevaan
Dapper teen stormwind aan:
Bloedbevlek, stukgeskeur, waai oor ons vry!
Merk, Heer, ons lyde
Sterk weer ten stryde.
Vegters vir vryheid — dis opsaal en ry!