Loeloeraai/Afskeidstoesprake
← Twee verowerings nodig | Loeloeraai Afskeidstoesprake deur C. J. Langenhoven |
Takhaar-opleiding→ |
Afskeidstoesprake
[edit]Van die Woensdag af het die toestroming van besoekers al begin. Tien twaalf spesiale treine op ’n dag was gepak met mense wat vas teen mekaar staan op die brûe, in die gange, wáár daar maar ’n staanplekkie was. Van alle kante – uit die Groot Karoo deur Meiringspoort en oor die Swartbergpas, van Calitzdorp en Ladismith, uit die Grasveld, uit die Oostelike Provinsie, verder noordwaarts uit Namakwaland en Duitswes, uit Kimberley en Rhodesië, Vrystaat, Transvaal, Natal, Zoeloeland, die Portugese gebied, die Belgiese Kongo, en verder, verder, verder vandaan – uit Noord-Afrika, Europa, Amerika, Asië, Australië, die eilande-wêreld van die Stille Oseaan, met lugskepe, vliegtuie, motors, het hulle gekom. Aarde en hemel was swart van die menigte – almal gekom omdat al die ander gekom het. Want mense doen wat hulle nie sou doen nie omdat ander mense doen wat hulle nie sou doen nie as húlle nie sou doen wat hulle nie sou doen nie.
Oudtshoorn is in daardie paar dae kafgetrap. Die winkeliers het hulle pryse verhonderddubbel en toe was hulle rakke die tweede dag dolleeg. Van dertig kante het ek voldane kwitansies gekry met ’n mooi briefie: ,,Neelsie, ons skeld jou die skuld kwyt. Jy’t ons ryk gemaak.” Net een ondankbare vervlakste kind met die seldsame naam van Brown, wat ’n wrok teen my had omdat hy my nie kon verdra nie, het aansoek gaan doen by die Hoë Geregshof onder die voorsienings van die wet op gyseling, om ’n bevelskrif vir my inhegtenisneming omdat ek van plan was om uit die jurisdiksie te ontvlug. (Ekself sou nooit by hom gekoop het nie – ek kan hom nog minder verdra, die ellendeling, as hy vir my, hoewel ek nie ’n wrok teen hom het nie – maar hy het dan kastig ’n spesiale soort sykouse uitgepak en Engela s’n was te dig van stefasie.) Volstruisvere – die mense wou almal ’n memento van Oudtshoorn saamneem – is verkoop, eers twaalf vir ’n sjieling, en toe op en op tot eindelik vir tien pond stuk. (Die boere was naderhand verplig om die voëls met komberse toe te maak om hulle nie te danig modern daar te laat uitsien nie.)
’n Klompie bevoorregtes is op my erf toegelaat – verteenwoordigers van verskillende moondhede en Vroutjie se familie, waaronder ou Watwo. Ek het ’n paar tente laat opslaan en Kiewiet papkuilskerms laat opsit, en my waenhuis en my stal beskikbaar gestel, en ook die trem – maar almal kon ek nie huisvesting gee nie. Die gesant van elke moondheid had ’n staf wat sterker moes wees as die ander, en Vroutjie se familie is talryker as wat ek aanvanklik bedagsaam was om mee rekening te hou. Dit was in die bloedige somer en die beste wat ek kon doen – sodawater en lemos was lank al drooggedrink om nie van onskuldiger dranke te praat nie – al wat ek kon doen, was om Herrie die arme mense te laat natspuit tot my dam ook droog was.
Praat van bure! ,,Is daar nou genoeg na jou sin, Vroutjie ?” vra ek haar die Vrydagmiddag. Toe staan die mensdom een blok aanmekaar sovér as jy kan sien tot oor die heuwels oorkant en deeskant, teen die rante van Schoemanshoek uit en dwars oor die rooikranse van Bakenskraal.
Ons was voor op die stoep – sy en ek en ou Watwo en ’n duisternis van verwante wat ek elke slag die naam en die graad weer van moes verneem. Loeloeraai was in die huis. Ek kon verstaan dat hy skuilte gesoek het om die baie soorte vrae te ontduik. Engela was in haar kamer. ,,Ek weet nie hoe’t ek ooit vandag klaarkom nie,” het ek haar al vroeg die oggend aan haar ma hoor sê .
,,Ja, Vroutjie,” sug ek, ,,praat van bure! Waar is tog die dae toe ons weg van die wêreld se gewemel ons geluk gevind het in die eensaamheid van Meiringspoort!”
,,Is ek ook vir jou ’n oorlas Kerneels ?” vra ou Watwo. Die ou is baie kort gebonde.
,,Ag, ou swaer Gideon,” sê ek, ,,ek praat nie van familie nie. ’n Mens het hulle juis te meer nodig omdat ander mense almal teen jou is en jou gedurig vervolg. Hier wou ek nou net van die aangename geleentheid van jou vriendelike besoek gebruik maak om ’n behoeftetjie onder jou aandag te bring. Waarvoor is ons dan ook familie as ons nie mekaar help nie ?
,,Help ?” sê die ou: ,,Watwo. Ek moet maar self sorg om nie verleë te raak nie. My familie sal nie na my omkyk nie.”
Toe praat een van die ander. ,,Jy na ons ook nie, neef Gideon.”
,,En jy ? Watwo. Help jy vir Kerneels en laat ek sien hoe vurig jou familiegeesdrif is. Watwo.”
,,Ou Watwo,” sê ek en ek hoes die benaming gou dood; ,,ou swaer Gideon – dis nie eintlik hulp wat ek nodig het nie: net maar ’n kleine voorskotjie. Ek is uit my moeilikheid los. My krediteure het soveel miljoene ponde uit my gemaak deur die toestroming van die menigtes dat hulle my kwytgeskel het. Op twee na. Die een is ou oom Stoffel Gieljam. Hy gaan mos saam,
maan toe . . .”
,,Maan toe ? Watwo . . .”
,,Die ander een is daardie blikemmer van ’n Brown. Hy wil my laat arresteer om my hier te hou. En dis maar ’n bog sommetjie van agtien pond – opewerk-kouse wat byna niks moes gekos het nie want daar’s net ’n paar draadjies sy in elk – met ’n paar in die sewentig pond prokureurskoste. Dié sal ek dadelik kan aansuiwer as ek terugkom . . .”
,,Terugkom ? Watwo.”
,,Ek gaan mos maan toe as spesiale korrespondent van ,Die Burger’. Die ander koerante is so nydig dat hulle wil doodgaan – hulle kan wragtig nie daarheen korrespondente stuur nie. ,Die Burger’ sal my baie goed betaal.”
,,Goed betaal ? Watwo. Laat hulle Brown se vordering oorneem.”
,,Swaer,” sê ek, ,, ,Die Burger’ se mense is baie baie goeie mense. Amper te buitensporig weelderig baldadig liefdadig – anders sou hulle ook honderd-duisende persente dividende aan hulle aandeelhouers kon uitbetaal soos die Engelse koerante maak.”
,,Nou ja, Kerneels, as hulle dan so liefdadig is . . .”
,,Swaer Gideon, hulle het ook hulle behoeftige familie. As hulle díe sou verwaarloos om na joue om te kyk, sou jy mos bitter aanstoot daaruit neem.”
,,Aanstoot ? Watwo.”
En verder as dit kon ek nie kom nie.
,,Ouman,” sê Vroutjie, ,,hoe is dit dan met oom Stoffel ? Of sou Soetlief hom verbie het om saam te gaan ?”
,,Daardie jong vrou ?” merk ou Gideon op. ,,Hom verbie om saam te gaan ? Watwo.”
,,Vroutjie,” sê ek, ,,die ou sal hom nie van ’n vrou laat keer nie. Hy is nie so onderdanig soos ek nie. Maar hy moes gesorg het om eerder by der hand te wees. Ek sien nie kans hoe’t hy nou deur hierdie miljoene-gedrang sal kom nie.”
En toe sien ons ’n vliegtuig wat wil afkom, maar hy draai al om die huis. Daar was geen sitplek op die werf nie.
,,Kerneels, Kerneels!” hoor ek ou Stoffel se stem uit die lug uit, ,,sê vir jou olifant om skoonveld te maak. Ek wil nie langer hier in die lug rondry met die verbrande Engelsman nie.”
Eindelik het die vliegmasjien dan darem geland.
,,Dag Kerneels, dag Lenie,” sê ou Stoffel. ,,Ek betaal hierdie verditendatste Engelsman dertig pond net om my van Stolsvlakte af hierheen te bring. Om op die grond langes deur te kom was omgodsenonmoontlik. Maar ek wou jou nie in die steek laat nie. En ek wou nie daardie vreemde aandster-kêrel . . .”
,,Aandster ? Watwo,” brom ou swaer Gideon van die stoep af . . .
,,Ek wou hom nie met die indruk hier laat weggaan dat ’n Sap gewillig is om allerhande dinge te glo wat hy nie self gesien het nie.”
,,Oom Stoffel,” vra Vroutjie, ,,wat sê Soetlief van die reis wat jy wil onderneem ?”
,,Soetlief? Sy is eintlik so in haar knoppies. By ou miesies Wenderbaail en ou miesies Makpaatrie en al daardie spul sosaaitie-vroumense is ons mos bekvelders en takhare wat nie eens van ’n trein af weet of hoe’t ’n mens jou rokke kort dra nie. Nou is ons hulle almal hopeloos vooruit. As ek weer terug is . . .”
,,Terug ? Watwo,” hoor ek van die stoep af...
,,Sal ek náár van my home gesels daar op die maan.”
So het ons onsself opgebeur met ligsinnigheid – ek en oom Stoffel. Intussen was die son aan’t sak; die tydjie van ons vertrek kom nader en nader. Laat ek nou maar bely dat die ou kêrel senuweeagtig was. Vroutjie en Engela glad nie – ’n vroumens het mos ’n baie groter hart as ’n man. Ekself – ek was seker nie so bang soos ou Stoffel nie: ek weet mos darem meer as hy van die sonnestelsel en sulke dinge en familiarity breeds contempt. Maar tog – as ek nie onwillig was om ,,Die Burger” teleur te stel nie . . . hoe meer dit na die aand se kant toe draai, hoe meer het ek begin te wonder of daar tog nie iets sou gebeur om die vertrek te verhinder nie.
En net toe die son sy kop wegtrek, sê ek: ,,Goddank.” Weer kom ’n vliegtuig met kurktrekkerdraaie af. Toe ons plek gemaak het vir die ding om te gaan sit, klim die onderbalju uit en hy stap op my af.
,,Ek het ’n lasbrief van die Hoë Geregshof,” sê hy, ,,om jou in hegtenis te neem op die eis van John Brown vir £18 7s. 5d. en £95 19s. 11d. onkoste.”
,,Vat my,” sê ek, ,,ek het nie geld nie.”
,,Skeur daardie man uitmekaar uit,” skree die skare. ,,Ons laat nie die reis nou verhinder nie.” ’n Mens sou sweer dit was hulle reis.
,,Nee, vriende,” sê ek, ,,dis ’n wetsamptenaar die. Ons moet wetsgehoorsamig wees.”
En toe tree ou swaer Gideon nader. ,,Sal jy my tjek neem ?” vra hy die balju.
,,O ja, met die grootste plesier.”
,,Swaer,” sê ek, ,,ons is nou familie, maar ek wil nie Vroutjie se bloedverwante tekort doen nie. Brown is niks van my nie. Laat hom liewer die skade ly. Hoe sal ek jou ooit kan terugbetaal ?”
,,Terugbetaal ? Watwo. Ek kry nie al dae die kans om een slag so te help dat ek nooit weer sal hoef te help nie.”
En hy haal sy tjekboek uit. Daar was niks aan te doen nie.
Om halfnege die aand was alles dan in gereedheid. Toe Loeloeraai by die sydeur uitkom, bars daar ’n juigkreet los en hy sprei soos die rollende donder verder en verder uit tot na die buitenste uiteindes van die mensemassa. Loeloeraai hou sy hand omhoog, weer met ’n dingetjie nes ’n verkyker, en aanstons kom daar ’n blink stippeltjie in die lug; hy word al groter en groter totdat die sfeer stadig afsak en weer op sy ou plek kom rus nes die vorige maal toe ons hom sien neerdaal het.
,,Spiets, spiets, Loeloeraai,” skree die mense.
,,Kerneels,” sê Loeloeraai, ,,ons moet darem ’n paar woorde sê by ons afskeid. Waar sal ons staan om so vér as moontlik gehoor te word ?”
,,Kom ons klim op die trem op,” sê Engela. En tot verdriet van die besitters is daar vir ons plek gemaak. En daar het ons op ’n ry gaan staan, Loeloeraai en Vroutjie en Engela en oom Stoffel en ek.
,,Julle eers,” sê Loeloeraai.
,,Toe, Kerneels,” sê oom Stoffel.
,,Nee, oom Stoffel, begin Oom. Ek voel nog half bewerig van die klim. Oom weet my hart pla my.”
,,Ek wonder waar hy op die oomblik sit,” sê die ou. ,,Maar ek sal begin.”
,,Vriende,” sê die ou, ,,julle kom uit alle dele van die wêreld en julle het van die dopper-takhaar-boere van Suid-Afrika gehoor. Ek is een van hulle. Ons laat ons nie deur vreemdelinge vermaak of bangmaak of wysmaak nie. Kaalmaak ja – maar wag. Ons is langsamerhand besig om ook skelmstreke te leer, en waar óns eers in die skool kom, klop ons altyd ons mededingers uit. Ons het nog nooit julle stories geglo dat die aarde draai nie. Die mense, ja, nou in die laaste tyd, en veral die wat die vinnigste besig is om die skelmstukke te leer in die uitlanderskool – hulle draai nes blinde skape, afgrond toe. Of die aarde draai en of hy stilstaan, kan ’n mens nie sien as jy saam draai of saam stilstaan nie. Nou ja, ek het nou die geleentheid om van hom weg te kom om te sien. En as hy draai, hoop ek om oor ’n maand terug te wees en maar saam te draai. En as hy stilstaan, sal ek saam kom stilstaan. Die gevare van die reis vrees ek nie – ek was onder die Kaapse dokters se hande deur en ek het anderkant uitgekom. Hoe dit met ons gaan, sal Neelsie rapporteer, en lieg sal hy nie. Ek sal daarvoor sorg, want hy sal sy boodskappe met sy mond moet afstuur waar ek by is. En kom ons nie terug nie – moenie alte gerus wees nie, vriende. Daar sal een takhaar minder wees, maar julle is nog deur die laaste honderd jaar aan ’t minder maak onder ons en ons doodkry is min. Sê maar vir Jannie Smuts hy moet reghou. Hy moenie ’n papbroek wees en die volk tevrede stel nie. Hy regeer nog altyd met sukses oor ontevredenheid en net so gou as ’n ding beter gaan as goed gaan hy sleg. En julle vreemde nasies daar in Europa julle moet basta oorlog maak. Dit sal ons naderhand verveel om te kom deursien en dan sal julle nie klaarkry voor julle almal dood is nie. Al die beste, vriende, en tot weersiens dié van julle wat nog sal lewe as ek terugkom. Ek sal daar van gunter of oplet hoe julle julle gedra. Dag, vriende.”
,,Hoera vir meneer Gieljam!” kom uit duisend-duisend keelgate. Nie een uit die honderd kon hom hoor nie – nie een uit die tienduisend kon hom verstaan nie. Ons taal is nie ’n wêreldtaal nie.
My spiets was nie ’n sukses nie. Vereers het my hart my maar gepla die dag. En dan het ek daar ’n klomp koerant-rapporteurs gesien. Hulle kan ’n mens nooit verstaan nie – hulle is mos deskundige luisteraars – en dan verdraai hulle jou en hulle lieg oor wat jy gesê het. As ek wil lieg, wil ek self lieg – ek wil nie laat gelieg word nie. Toe het ek die mense maar namens Vroutjie en Engela bedank vir hulle belangstelling en gesê dat ek nie nodig had om vooruit te praat nie – ek sou mos van die reis af gereelde verslae stuur.
Loeloeraai se beeld is nog voor my soos hy vorentoe gestaan het en sy hand opgelig het om aan die oorverdowende applous ’n end te maak sodat hy kon begin. Die son was net agter die berg in, die rooi naskyn betower die wêreld met heerlikheid, en die glorie daarvan was op Loeloeraai – op sy glansende hare en baard en sy goudskynende toga.
,,Mense van die aarde,” sê hy met ’n stem wat soos klokkies klink en in helder galme wegruis oor die menigte tot daar ver op die uiterste heuwels onder ’n stilte wat doods was, ,,mense van die aarde! Sien julle daar ?”
En almal se oë draai na die weste waar die aandster blinkend te voorskyn gekom het.
,,Daar,” gaan Loeloeraai voort, ,,is my tuiste. Julle nageslag sal ons kom besoek soos ek julle kom besoek het; en aan die kinders van my kindskinders sal ek die opdrag laat om hulle met baie liefde te verwelkom, want ek het baie liefde hier ontvang. Maar nou sê ek vaarwel. Ek kom weer om julle aardgenote wat so vriendelik is om my te vergesel op hierdie korte uitstappie, terug te bring. Maar ek sal nie dan vertoef nie. Ek is meer as drie jaar van die huis af; dit sal my meer as drie jaar neem om weer tuis te kom. Wat ek hier gekom het om te sien het ek gesien: my diens en my plig wag vir my in my eie gebied. En daarom sê ek vaarwel, my vriende; ek neem van julle afskeid met tere herinnerings; met medelye om die baie leed wat nog hier onnodig kwel; met hoop want ek sien julle hoofde is na die berge gerig al is julle voete nog in die modder.
,,Vat moed, aardbewoners! Julle bestemming is van ouds aan julle aangekondig; heerskappy, heerskappy, heerskappy. Dit is wat my voorreg beteken dat ek vandag julle aarde kan betree; dit is wat my vriende se voorreg beteken dat hulle hom vanaand kan verlaat. Lees Genesis een vers 28: dis ’n gebod en ’n voorspelling. Die siel moet heers oor die stof – die stof van sy eie liggaam en daarna die stof van sy omgewing. So sal julle regeer soos ons geleer het om te regeer; maar die amp van ’n regeerder is verantwoordelik, sy opleiding moet deeglik wees, deeglik al is dit ook pynlik. Deur die modder na die berge toe, deur harde kastyding na die sterre. En dan bly daar, wat ? Nie meer ’n stoflike heelal met geeste wat sy slawe is nie, maar ’n heelal wat dien en geeste wat in geestelike diens hulle liefde en hulle geluk vind.
,,Die stof is heerlik, my vriende, heerlik en wonderlik, oneindig wonderlik soos ons in my wêreld nou eers begin te besef. Heerlik en wonderlik; maar dis maar die kleed van sy inwoners. Julle sal aanstons opkyk na die glorie van die sterrehemel waarin ons onsigbaar sal verdwyn het. Maar wat is die glorie van die juwele teen die skoonheid wat werd is om hulle te dra; die prag, van die kroon teen die majesteit wat hom verdien ? Die heelal, my vriende, met sy skitterende sonne, is ’n woonplek: hy is daar ter wille van sy inwoners. Maar ek sê dit weer – die inwoners moet heerskappy voer en dis alleen moontlik deur hulle eie oorwinning. Word veroweraars, my vriende! Loeloeraai sê julle vaarwel.”
Met ’n trapleertjie het ons ingeklim. Binne was ’n ronde vertrek, met ’n vloer en ’n plafon waaragter die bergplek was van toestelle en voorrade. In die rondte om was sofas teen die muur; en in die middel deur die kompartement ’n gordyn sodat die vroumense hulle by slapenstyd kon afsonder.
,,Sit, vriende,” sê Loeloeraai. ,,En gespe tog die rieme wat teen die muur hang om julle lyf vas.”
Ek en oom Stoffel kyk vir mekaar. Loeloeraai sien die vraag in ons blik.
,,Dit help nie om nou kleingelowig te word nie,” sê hy. ,,Julle sal die rede vir die spantoue aanstons ontdek.”
Toe draai hy die ronde skyf vas, en hy slaan die lig aan.
,,Ons sal vensters hê om deur te kyk,” sê hy, ,,so gou as ons onder die lug uit is. Anders slaan hulle aan van die waterdamp. Is julle klaar ? Nou!”
En hy druk op ’n knoppie.