Loeloeraai/’n Hoë bod

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Belemmerings Loeloeraai
’n Hoë bod
deur C. J. Langenhoven
’n Smeekstem om hulp


’n Hoë bod[edit]

Toe sit ons dan daar, die laaste middag, onder die eikeboom. Die tremtog was skoon uit ons kop uit.

Engela sit en huil. ,,My kindjie,” sê haar mamma, ,,ek is net so hartseer . . . Loeloeraai, en dan is dit nou ons laaste dag bymekaar! Net maar veertien dae het ons kennis gemaak en ek voel of jy een van ons huisgesin was.”

,,Lenie,” sê Loeloeraai – die laaste een wat hy mee in aanraking gekom het, het hy op die voornaam genoem, net soos of almal hier op aarde teen hom gereken kindertjies was! – ,,Lenie, jy weet dis nie my begeerte nie. Maar daar is mos nou geen ander uitweg nie. Ek kan my nie aan geweld onderwerp nie; ek kan nie hier in die vreemde wêreld kom geweld pleeg nie: en ek het, ten regte of ten onregte, die gesag hier getrotseer. Ek gaan na my verre vaderland terug, en ek sal nie weer kom nie. As julle hier sit in die aande en julle sien die aandster die ondergegane son agternavolg; of ander tye, as julle vroeg opstaan en julle sien hom as môrester die koms van die son aankondig, wy ’n herinnerinkie aan Loeloeraai. Ek sal daarvandaan terugkyk. Ek sal julle nie vergeet nie.” ,,Neem ons saam, Loeloeraai,” sê Engela.

Loeloeraai sit sy hand op hare. ,,Engela,” sê hy met ’n droewige skelm-glimlaggie, ,,hoe lank sien jy kans om van Willem af weg te bly ? Jou pappa sal jou sê hoe vér dit is, soos julle hier afstande reken.”

,,My kindjie,” sê ek, ,,wanneer óns en Venus aan dieselfde kant van die son is en dus op ons naaste bymekaar, is dit omtrent ’n vyf-en-twintig miljoen myl.”

,,En ek reis nogal taamlik snel,” sê Loeloeraai. ,,Vinniger as wat ons met Herrie en die trem sou gegaan het. Duisend myl in ’n uur.”

,,’n Uur dus,” sê ek, ,,van die Kaap af Pretoria toe. En dan neem dit, laat ek sien” – ek maak ’n paar syfertjies met my potlood op die bank – ,,dan neem dit op die allerbeste drie jaar om by Venus te kom. Ses jaar heen-en-terug.”

,,En julle lewetjies hier is kort,” sê Loeloeraai.

,,Kort genoeg,” merk ou Stoffel op, ,,om hulle nie moedswillig te gaan korter maak nie.”

,,By my reise,” sê Loeloeraai, ,,is daar geen gevaar nie, Stoffel. By julle s’n ja. Julle rytuie kan stukkend stamp, hulle kan omslaan, hulle kan teen mekaar bots. Julle is aan winde en reëns en sware weer blootgestel. Maar daar waar my pad gaan, weg van die planete af, weg van die dunne lagie lug wat hulle omring, sonder gevoel van die swaartekrag wat van julle liggame hier ’n las maak, word jy veilig gedra op die wieg van die oneindigheid. Ja, as jy sou lus kry, kon jy maar val – en jy sou stil en ongemerk val deur die eeue heen, veilig van alle gevaar. En so trouens val ons almal maar al die tyd: so val die sterre wat sonne is, so val ons son wat ’n ster is, so val die planete en die mane. Komete en meteore en newelvlekke, uitgeleefde donker bolle: alles in die groot heelal is ewigdurend aan die val: en die val is die beweging en die lewe. Ook die stof van ons onmiddellike omgewing – die harde klip, die vaste yster, die roerende lewende vleis soos die drywende wolk, almal is maar heelalletjies van vallende deeltjies. Bang om te val, Stoffel ? Die val is al lewe wat daar is; as dit een oomblik sou ophou, sou die sigbare skepping tot ongesiene niks verdwyn. Daar in my wêreld het ons die wette daarvan ontdek, en daarom kon ek hierheen val en daarom kan ek nou terugval na my eie tuiste toe.”

,,Loeloeraai,” sê ek, ,,en jy gaan nou weg. Ons moet vir jou soos wilde barbare wees. Ons arme wêreld is vol droefheid en lyding en onreg, stryd en wreedheid en selfsug. En alles, alles deur onkunde. Kan jy ons nie van jou kennis nalaat nie ?”

Voordat Loeloeraai my antwoord, kom daar ’n kleintjie met ’n telegram. Die drade was die dag nie ledig nie. Deur die land het die nuus van die snaakse afloop van die hofsaak gedreun. Die regering had die amptelike meedeling van die magistraat.

Die telegram wat nou hier afgelewer is, was van die Eerste Minister aan my en het as volg gelui:

,,Versoek vreemdeling met alle beleefde vriendelikheid namens regering van Suid-Afrika om nie te vertrek nie Stop Stappe teen hom was veroorsaak deur ongelukkige misverstand en is op las teruggetrek Stop Ons waarborg hom volstrekte en onbelemmerde vryheid en nooi hom dringend om te bly as gas van die volk van die Unie Stop Verteenwoordiger van kabinet vertrek met spesiale vliegtuig om ons groete aan hom te bring.”

Toe ek die telegram voorgelees het, kyk ons almal na Loeloeraai.

,,Nou kan ek bly,” sê hy.

,,A, oom Stoffel,” sê Engela, half-histeries van die plotselinge reaksie, ,,die regering wat jy ondersteun, het darem nie verniet die naam dat hulle vreemdes begunstig nie!”

,,Hulle maak soos jy, Engela. Hulle soek nie – hulle verwelkom maar wat kom. Maar wat nou, Kerneels, van ons olifant-reis ? Ons kan mos nou die plan weer uitvoer.”

,,Wag, Oom, tot ons hoor wat jou regering wil hê. Bly maar vanaand hier. Loeloeraai het die vrykamer, maar ons sal wel die slaapplek kan reël.”

Die volgende voormiddag was die regeringsman daar – ene majoor sir Thomas Ietsofanders met ’n een-oog-glas en ’n peits-steel-rottang-kierietjie. Hy het sy vliegtuig onder die polisie se beskerming gelaat en met die magistraat saam deurgekom.
Hulle wou dan vir Loeloeraai alleen sien, sê die majoor op Engels.

,,Laat ons liewer Afrikaans praat,” sê Loeloeraai. ,,Dis ’n doeltreffender en verstandiger geleimiddel om jou gedagtes uit te druk. Ek is van plan om hom op Venus te gaan invoer vir internasionale omgangsgebruik. En ons hoef nie alleen te gaan nie – ek het nie geheime om mee te deel nie. Ook is Kerneels en Stoffel my vriende.”

,,Maar óns het geheime,” sê die majoor.

,,Hou hulle dan maar,” sê Loeloeraai, met sy soete glimlag.

Ek sien sommer die majoor was die verkeerde man om te stuur. Ek het dikwels in die koerante gesien dat hy die regering by deftige funksies soos gedenkdienste en hoë begrafnisse verteenwoordig – hy word daarvoor aangehou. En daar sal hy wel deug. Maar hier was militêre aksies misplaas.

,,Die regering is baie vriendelik,” sê Loeloeraai, ,,en namens die volke van Venus wat ek verteenwoordig sê ek hulle dank. Maar die volk van Suid-Afrika het my reeds verwelkom en tuisgemaak en met die grootste liefde behandel – deur die verteenwoordigers van hulle ou tradisies wat my hier ontvang het.”

,,Daar is baie gewigtige belange op die spel,” sê die majoor. ,,Dringende kabels is aan die Home Government – ek meen aan die Imperiale Regering – gestuur en antwoorde is ontvang. Ek het opdrag om jou énige aanbod te maak. As dit geld is – noem jou prys. As dit eer is – tot ’n hertogskroon toe.”

,,Ja ?” sê Loeloeraai, en ek merk in sy oog ’n glinster, koud en skerp soos van ’n diamant, wat ek nog nie daar gesien het nie.

,,Deel aan die Imperiale Regering die geheim mee van die wapen wat jy in die hof gebruik het toe jy die vuur ontsteek het op ’n afstand.”

,,Thomas,” sê Loeloeraai, ,,jou base vra nie veel nie. Dis by ons ’n verouderde wapen. Mag ek deur jou aan die Imperiale Regering ’n paar ander eenvoudige ontwikkelinkies van die wetenskap van die bewoners van Venus vermeld ? Julle gebruik julle kapitale voorrade van steenkool en olie wat nog in die aarde oorskiet op om elektriese krag te genereer om om te sit tot kunsmatige lig en hitte. Ons gebruik die natuurlike lig en hitte van die son om in elektriese krag om te sit. Ons span die oneindige bronne van energie van die atome in. Ons kon hierdie aardbol laat ontplof sodat sy deeltjies in die sterte van komete ronddwaal of as meteore die nagte van verre nageslagte op ander wêrelde verheerlik. Ons het die wette van die swaartekrag ontleed sodat ons die werking daarvan kan beheers. En die Imperiale Regering wil die geheim koop van ’n beuselagtige gogelspeletjie!”

,,Nou ja,” sê die majoor, gretig.

,,Thomas,” sê Loeloeraai, ,,watter waarde kan julle my aanbied ? Goud ? Ek het jou gesê ons breek die atome uitmekaar uit. Ons maak goud van lood soos julle staal van yster maak. Nee, nie so nie, want julle moet werk om die erts te grawe en ons werk nie – nie daardie soort werk nie. Goue standbeelde versier ons strate, die vloere van ons huise is van goud. Kan julle my goud aanpresenteer!”

,,Die Empaaier wil jou met sy hoogste eretitels onderskei,” sê die majoor.

,,Ek is baie jammer, Thomas. Ek is ’n vreemdeling en ’n gas hier in julle wêreld – dit pas my nie om uit die hoogte te kom vergelykings maak nie. Maar jy dwing my daartoe. In my land weet ons nie van range en stande nie. Die hoogste by ons is die wat die meeste diens en offers bring. Hoedat daar by julle ’n ambisie kan bestaan vir ’n ledige titel waardeur die aannemer verlaag word omdat sy aanname ’n erkentenis is dat die titel hoër is as hy, kan ek nie begryp nie. Maar as dit ook anders was, sou jy, Thomas, jou beskaafde adel verwerp en verraai om jou diens aan wilde barbare te verkoop vir skulpies en klippies wat hulle om jou nek kon hang ?”

,,Is daar niks wat ek kan terugneem nie ?” vra die majoor eindelik toe hy en die magistraat opstaan om te loop.

,,Ja, Thomas, daar is ’n kostelike ding wat ek jou sal gee om terug te neem. Kostelik, omdat dit die beste is wat ek het; kostelik, omdat hy onbetaald en onverdiend is. Neem vir diegene wat jou gestuur het my vergiffenis terug. Ek vergeef hulle die belediging dat hulle op die gedagte gekom het om ’n poging te maak om ’n verteenwoordiger van Venus óm te koop. Ek vergewe hulle omdat ek ’n verskoning vind in die vermoede dat hulle beroep hulle met ’n ongelukkige keuse van dienaars gewoond gemaak het.”

En daarop is die majoor en die magistraat weg.

Vroutjie en Engela – nee, ek meen Engela – was baie nuuskierig om die besonderhede van die interview te hoor.

,,Nou ja,” sê Engela die aand, ,,nou kan ons mos ry. En sommer môre-oggend.”

,,Ek sê ook so,” sê ou Stoffel. ,,Ons sal mekaar stadigaan hier begin te verveel.”

,,Ek vrees maar ons sal vir Loeloeraai verveel,” sê Vroutjie. ,,Hoe kan óns ou gedagtetjies hom interesseer ?”

,,Lenie,” sê Loeloeraai, ,,die hoogste wat ons op Venus het, het ek in hierdie aardse huisgesin aangetref. Liefde weet nie van verveling nie.”

,,Maar tog almiskie,” sê Engela.

Loeloeraai kyk haar met ’n tergende glimlaggie aan. ,,Engela, jy het mos kans gesien om met my saam te ry Venus toe. Al moet ons nou die plesier van Herrie en die trem ontbeer – daar is ’n nader plekkie waar ons kan gaan uitkamp vir ’n nuwe ondervinding. Kerneels – hoe vér volgens julle afstandrekening is die maan ? . . .”

,,Hoera,” bars Engela tussenin.

,,Gemiddeld omtrent tweehonderd-en-veertigduisend myl,” sê ek. ,,Teen duisend myl in die uur, tien dae . . .”

,,Drie weke op die uiterste van Willem af, uit en tuis,” sê Loeloeraai. ,,Stoffel, en jy wat nie wil glo dat die aarde draai nie . . .”

,,As ’n mens weet, hoef jy nie te glo nie,” sê ou Stoffel. ,,Ek sal saamgaan.”