Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika/Hoofstuk 6

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika  (1996) 
Hoofstuk 6: Provinsies

103. Provinsies
1. Die Republiek het die volgende provinsies:
a. Oos-Kaap;
b. Vrystaat;
c. Gauteng;
d. KwaZulu-Natal;
e. Limpopo;
f. Mpumalanga;
g. Noord-Kaap;
h. Noordwes;
i. Wes-Kaap.

[Sub-a. (1) gewysig by a. 3 van die Elfde Wysigingswet op die Grondwet van 2003 en vervang by a. 1 van die Twaalfde Wysigingswet op die Grondwet van 2005.]

2. Die geografiese gebiede van die onderskeie provinsies bestaan uit die som van die aangeduide geografiese gebiede weergegee in die verskeie kaarte bedoel in die Kennisgewing in Bylae 1A gelys.

[Sub-a. (2) vervang by a. 1 van die Twaalfde Wysigingswet op die Grondwet van 2005.]

3. a. Wanneer die geografiese gebied van ʼn provinsie deur ʼn wysiging aan die Grondwet herbepaal word, kan ʼn Parlementswet voorsiening maak vir maatreëls om, binne ʼn redelike tyd, die regs-, praktiese en enige ander gevolge van die herbepaling te reël.
b. ʼn Parlementswet beoog in paragraaf (a) kan verorden en geïmplementeer word voor sodanige wysiging aan die Grondwet in werkingtree, maar enige provinsiale funksies, bates, regte, verpligtinge, pligte of laste kan slegs ingevolge daardie Wet oorgedra word nadat daardie wysiging aan die Grondwet in werking tree.

[A. 103 vervang by a. 1 van die Twaalfde Wysigingswet op die Grondwet van 2005.] [Datum van inwerkingtreding van a. 103(3): 23 Desember 2005.]

Provinsiale Wetgewers

104. Wetgewende gesag van provinsies
1. Die wetgewende gesag van ʼn provinsie berus by sy provinsiale wetgewer, en verleen aan die provinsiale wetgewer die bevoegdheid–
a. om ingevolge artikels 142 en 143 ʼn grondwet vir sy provinsie aan te neem of enige grondwet wat deur hom aangeneem is, te wysig;
b. om vir sy provinsie wetgewing aan te neem met betrekking tot–
i. enige aangeleentheid binne ʼn funksionele gebied in Bylae 4 vermeld;
ii. enige aangeleentheid binne ʼn funksionele gebied in Bylae 5 vermeld;
iii. enige aangeleentheid buite daardie funksionele gebiede en wat deur nasionale wetgewing uitdruklik aan die provinsie opgedra is; en
iv. enige aangeleentheid waarvoor ʼn bepaling van die Grondwet die verordening van provinsiale wetgewing beoog; en
c. om enige van sy wetgewende bevoegdhede aan ʼn Munisipale Raad in daardie provinsie op te dra.
2. Die wetgewer van ʼn provinsie kan by ʼn besluit aangeneem met ʼn ondersteunende stem van minstens twee derdes van sy lede, die Parlement versoek om die naam van daardie provinsie te verander.
3. ʼn Provinsiale wetgewer word slegs deur die Grondwet en, indien hy ʼn grondwet vir sy provinsie aangeneem het, ook deur daardie grondwet gebind, en moet in ooreenstemming met en binne die perke van die Grondwet en daardie provinsiale grondwet optree.
4. Provinsiale wetgewing met betrekking tot ʼn aangeleentheid wat redelikerwys nodig is vir, of verband hou met, die doeltreffende uitoefening van ʼn bevoegdheid betreffende enige aangeleentheid in Bylae 4 vermeld, is vir alle doeleindes wetgewing met betrekking tot ʼn aangeleentheid in Bylae 4 vermeld.
5. ʼn Provinsiale wetgewer kan by die Nasionale Vergadering wetgewing aanbeveel betreffende enige aangeleentheid buite die gesag van daardie wetgewer, of ten opsigte waarvan ʼn Parlementswet voorrang bo ʼn provinsiale Wet geniet.

105. Samestelling en verkiesing van provinsiale wetgewers
1. ʼn Provinsiale wetgewer bestaan uit vroue en mans wat as lede verkies is ingevolge ʼn kiesstelsel wat–
a. deur nasionale wetgewing voorgeskryf word;
b. op daardie provinsie se segment van die nasionale gemeenskaplike kieserslys gebaseer is;
c. vir ʼn minimum stemouderdom van 18 jaar voorsiening maak; en
d. in die algemeen, proporsionele verteenwoordiging tot gevolg het.

[Sub-a. (1) gewysig by a. 3 van die Tiende Wysigingswet op die Grondwet van 2003 en by a. 3 van die Veertiende Wysigingswet op die Grondwet van 2008.]

2. ʼn Provinsiale wetgewer bestaan uit tussen 30 en 80 lede. Die getal lede wat van provinsie tot provinsie kan verskil, moet bepaal word ooreenkomstig ʼn formule wat deur nasionale wetgewing voorgeskryf word.

106. Lidmaatskap
1. Elke burger wat bevoeg is om vir die Nasionale Vergadering te stem, is bevoeg om ʼn lid van ʼn provinsiale wetgewer te wees, uitgesonderd–
a. iemand wat aangestel is deur, of in die diens is van, die staat en vergoeding vir dié aanstelling of diens ontvang, behalwe–
i. die Premier en ander lede van die Uitvoerende Raad van ʼn provinsie; en
ii. ander ampsdraers wie se funksies met die funksies van ʼn lid van ʼn provinsiale wetgewer bestaanbaar is en deur nasionale wetgewing verklaar is met dié funksies bestaanbaar te wees;
b. lede van die Nasionale Vergadering, vaste afgevaardigdes na die Nasionale Raad van Provinsies of lede van ʼn Munisipale Raad;
c. ongerehabiliteerde insolvente;
d. iemand wat deur ʼn hof van die Republiek as geestelik gekrenk verklaar is; of
e. iemand wat, na die inwerkingtreding van hierdie artikel, binne die Republiek aan ʼn misdryf skuldig bevind word, of buite die Republiek aldus skuldig bevind word indien die optrede wat die misdryf uitmaak binne die Republiek ʼn misdryf sou uitgemaak het, en tot meer as 12 maande gevangenisstraf sonder die keuse van ʼn boete gevonnis is, maar niemand word beskou as gevonnis te wees voordat ʼn appèl teen die skuldigbevinding of vonnis beslis is, of voordat die tyd om appèl aan te teken, verstryk het nie. ʼn Onbevoegdheid ingevolge hierdie paragraaf verstryk vyf jaar nadat die vonnis voltooi is.
2. Iemand wat ingevolge subartikel (1)(a) of (b) onbevoeg is om ʼn lid van ʼn provinsiale wetgewer te wees, kan ʼn kandidaat vir die wetgewer wees behoudens enige beperkings of voorwaardes wat deur nasionale wetgewing voorgeskryf word.
3. Iemand verloor lidmaatskap van ʼn provinsiale wetgewer indien so iemand–
a. ophou om bevoeg te wees;
b. sonder toestemming afwesig is van die wetgewer in omstandighede waarvoor die reëls en orders van die wetgewer verlies van lidmaatskap voorskryf; of
c. ophou om ʼn lid van die party te wees wat so iemand as ʼn lid van die wetgewer benoem het.

[Sub-a. (3) vervang by a. 4 van die Tiende Wysigingswet op die Grondwet van 2003 en by a. 4 van die Veertiende Wysigingswet op die Grondwet van 2008.]

4. Vakatures in ʼn provinsiale wetgewer moet ooreenkomstig nasionale wetgewing gevul word.

107. Eed of plegtige verklaring
Voordat lede van ʼn provinsiale wetgewer begin om hul funksies in die wetgewer te verrig, moet hulle ooreenkomstig Bylae 2 ʼn eed of plegtige verklaring van getrouheid aan die Republiek en gehoorsaamheid aan die Grondwet aflê.

108. Duur van provinsiale wetgewers
1. ʼn Provinsiale wetgewer word vir ʼn termyn van vyf jaar verkies.
2. Indien ʼn provinsiale wetgewer ingevolge artikel 109 ontbind word, of wanneer sy termyn verstryk, moet die Premier van die provinsie by proklamasie ʼn verkiesing uitskryf en datums daarvoor bepaal, en dié verkiesing moet gehou word binne 90 dae vanaf die datum waarop die wetgewer ontbind is of sy termyn verstryk het. ʼn Proklamasie wat ʼn verkiesing uitskryf en datums daarvoor bepaal, kan uitgereik word voor of na die verstryking van die termyn van ʼn provinsiale wetgewer.

[Sub-a. (2) vervang by a. 1 van die Vierde Wysigingswet op die Grondwet van 1999.]

3. Indien die uitslag van ʼn verkiesing van ʼn provinsiale wetgewer nie binne die tydperk in artikel 190 genoem, bekend gemaak word nie, of indien ʼn verkiesing deur ʼn hof tersyde gestel word, moet die President by proklamasie ʼn ander verkiesing uitskryf en datums daarvoor bepaal, en dié verkiesing moet gehou word binne 90 dae vanaf die verstryking van daardie tydperk of vanaf die datum waarop die verkiesing tersyde gestel is.
4. ʼn Provinsiale wetgewer bly bevoeg om te funksioneer vanaf sy ontbinding of die verstryking van sy termyn tot op die dag voor die eerste dag waarop die stemming vir die volgende wetgewer plaasvind.

109. Ontbinding van provinsiale wetgewers voor verstryking van termyn
1. Die Premier van ʼn provinsie moet die provinsiale wetgewer ontbind indien–
a. die wetgewer ʼn besluit om te ontbind met ʼn ondersteunende stem van ʼn meerderheid van sy lede aangeneem het; en
b. drie jaar verstryk het sedert die wetgewer verkies is.
2. ʼn Waarnemende Premier moet die provinsiale wetgewer ontbind indien–
a. daar ʼn vakature in die amp van Premier is; en
b. die wetgewer in gebreke bly om binne 30 dae nadat die vakature ontstaan het ʼn nuwe Premier te kies.

110. Sittings en resesse
1. Die eerste sitting van ʼn provinsiale wetgewer na ʼn verkiesing vind plaas op ʼn tyd en datum wat bepaal word deur ʼn regter wat deur die Hoofregter aangewys word, maar nie later nie as 14 dae nadat die uitslag van die verkiesing bekend gemaak is. ʼn Provinsiale wetgewer kan die tyd en duur van sy ander sittings en sy resesse bepaal.

[Sub-a. (1) vervang by a. 8 van die Sesde Wysigingswet op die Grondwet van 2001.]

2. Die Premier van ʼn provinsie kan die provinsiale wetgewer te eniger tyd vir ʼn buitengewone sitting byeenroep om spesiale werksaamhede te verrig.
3. ʼn Provinsiale wetgewer kan bepaal waar hy normaalweg sy sittings sal hou.

111. Speakers en Adjunkspeakers
1. By die eerste sitting na sy verkiesing, of wanneer dit nodig is om ʼn vakature te vul, moet ʼn provinsiale wetgewer uit sy geledere ʼn Speaker en ʼn Adjunkspeaker kies.
ʼn Regter deur die Hoofregter aangewys, moet by die verkiesing van ʼn Speaker voorsit. Die Speaker sit by die verkiesing van ʼn Adjunkspeaker voor.

[Sub-a. (2) vervang by a. 9 van die Sesde Wysigingswet op die Grondwet van 2001.]

2. Die prosedure in Deel A van Bylae 3 uiteengesit, is op die verkiesing van Speakers en Adjunkspeakers van toepassing.
3. ʼn Provinsiale wetgewer kan sy Speaker of Adjunkspeaker by besluit van die amp onthef. ʼn Meerderheid van die lede van die wetgewer moet teenwoordig wees wanneer dié besluit aangeneem word.
4. ʼn Provinsiale wetgewer kan ingevolge sy reëls en orders uit sy geledere ander voorsittende beamptes kies om die Speaker en Adjunkspeaker behulpsaam te wees.

112. Besluite
1. Behalwe waar die Grondwet anders bepaal–
a. moet ʼn meerderheid van die lede van ʼn provinsiale wetgewer teenwoordig wees voordat ʼn stemming oor ʼn Wetsontwerp of ʼn wysiging van ʼn Wetsontwerp gehou kan word;
b. moet minstens een derde van die lede teenwoordig wees voordat ʼn stemming oor enige ander vraag wat voor die wetgewer dien, gehou kan word; en
c. word alle vrae wat voor ʼn provinsiale wetgewer dien, beslis deur ʼn meerderheid van die stemme wat uitgebring word.
2. Die lid wat by ʼn vergadering van ʼn provinsiale wetgewer voorsit, het nie ʼn beraadslagende stem nie, maar–
a. moet ʼn beslissende stem uitbring wanneer daar ʼn staking van stemme oor ʼn vraag is; en
b. kan ʼn beraadslagende stem uitbring wanneer ʼn vraag beslis moet word met ʼn ondersteunende stem van minstens twee derdes van die lede van die wetgewer.

113. Vaste afgevaardigdes se regte in provinsiale wetgewers
ʼn Provinsie se vaste afgevaardigdes na die Nasionale Raad van Provinsies kan in hulle provinsiale wetgewer en sy komitees sitting neem en daarin praat, maar mag nie stem nie. Die wetgewer kan van ʼn vaste afgevaardigde vereis om in die wetgewer of sy komitees sitting te neem.

114. Bevoegdhede van provinsiale wetgewers
1. In die uitoefening van sy wetgewende bevoegdheid kan ʼn provinsiale wetgewer–
a. enige Wetsontwerp wat voor die wetgewer dien, oorweeg, aanneem, wysig of verwerp; en
b. wetgewing, behalwe Geldwetsontwerpe, inisieer of opstel.
2. ʼn Provinsiale wetgewer moet voorsiening maak vir meganismes om–
a. te verseker dat alle provinsiale uitvoerende staatsorgane in die provinsie aan hom verantwoording doen; en
b. toesig te hou oor–
i. die uitoefening van provinsiale uitvoerende gesag in die provinsie, met inbegrip van die uitvoering van wetgewing; en
ii. enige provinsiale staatsorgaan.

115. Getuienis of inligting voor provinsiale wetgewers
1. ʼn Provinsiale wetgewer of enige van sy komitees kan–
a. enige persoon dagvaar om voor hom te verskyn om onder eed of plegtige verklaring getuienis af te lê, of om dokumente voor te lê;
b. van enige persoon of provinsiale instelling vereis om aan hom verslag te doen;
c. ingevolge provinsiale wetgewing of die reëls en orders enige persoon of instelling verplig om aan ʼn dagvaarding of vereiste ingevolge paragraaf (a) of (b) te voldoen; en
d. van enige belanghebbende persone of instellings petisies, vertoë of voorleggings ontvang.

116. Interne reëlings, verrigtinge en prosedures van provinsiale wetgewers
1. ʼn Provinsiale wetgewer kan–
a. sy interne reëlings, verrigtinge en prosedures bepaal en beheer; en
b. reëls en orders betreffende sy werksaamhede maak, met behoorlike inagneming van verteenwoordigende en deelnemende demokrasie, verantwoordingspligtigheid, deursigtigheid en publieke betrokkenheid.
2. Die reëls en orders van ʼn provinsiale wetgewer moet voorsiening maak vir–
a. die instelling, samestelling, bevoegdhede, funksies, prosedures en duur van sy komitees;
b. die deelname van minderheidspartye wat in die wetgewer verteenwoordig is, aan die verrigtinge van die wetgewer en sy komitees op ʼn wyse wat met die demokrasie bestaanbaar is;
c. finansiële en administratiewe hulp aan elke party wat in die wetgewer verteenwoordig is, in verhouding tot sy verteenwoordiging, ten einde die party en sy leier in staat te stel om hul funksies in die wetgewer doeltreffend te verrig; en
d. die erkenning van die leier van die grootste opposisieparty in die wetgewer as die Leier van die Opposisie.

117. Voorreg
1. Lede van ʼn provinsiale wetgewer en die provinsie se vaste afgevaardigdes na die Nasionale Raad van Provinsies–
a. het behoudens die wetgewer se reëls en orders vryheid van spraak in die wetgewer en in sy komitees; en
b. is nie blootgestel aan siviele of strafregtelike verrigtinge, inhegtenisneming, gevangesetting of skadevergoeding weens–
i. enigiets wat hulle in of voor of aan die wetgewer of enige van sy komitees gesê, blootgelê of voorgelê het nie; of
ii. enigiets wat aan die lig gebring is as gevolg van enigiets wat hulle in of voor of aan die wetgewer of enige van sy komitees gesê, blootgelê of voorgelê het nie.
2. Ander voorregte en immuniteite van ʼn provinsiale wetgewer en sy lede kan deur nasionale wetgewing voorgeskryf word.
3. Salarisse, toelaes en voordele wat aan lede van ʼn provinsiale wetgewer betaalbaar is, is ʼn regstreekse las teen die Provinsiale Inkomstefonds.

118. Publieke toegang tot en betrokkenheid in provinsiale wetgewers
1. ʼn Provinsiale wetgewer moet–
a. publieke betrokkenheid in die wetgewende en ander prosesse van die wetgewer en sy komitees vergemaklik; en
b. sy werksaamhede op ʼn oop wyse verrig, en sy sittings en dié van sy komitees in die openbaar hou, maar redelike maatreëls kan getref word om–
i. publieke toegang, met inbegrip van toegang aan die media, tot die wetgewer en sy komitees te reguleer; en
2. voorsiening te maak vir die deursoeking van en, waar dit gepas is, die weiering van toegang aan of die verwydering van enige persoon.
2. ʼn Provinsiale wetgewer mag nie die publiek, met inbegrip van die media, van ʼn sitting van ‘n komitee uitsluit nie tensy dit in ʼn oop en demokratiese gemeenskap redelik en regverdigbaar is om dit te doen.

119. Indiening van Wetsontwerpe
Slegs lede van die Uitvoerende Raad van ʼn provinsie of ʼn komitee of lid van ʼn provinsiale wetgewer kan ʼn Wetsontwerp by die wetgewer indien; maar slegs die lid van die Uitvoerende Raad wat vir finansiële sake in die provinsie verantwoordelik is, kan ʼn Geldwetsontwerp by die wetgewer indien.

120. Geldwetsontwerpe
1. ʼn Wetsontwerp is ʼn Geldwetsontwerp indien dit–
a. geld bewillig;
b. provinsiale belastings, heffings, regte of bobelastings oplê;
c. enige provinsiale belastings, heffings, regte of bobelastings afskaf of verminder, of vrystelling daarvan verleen; of
d. ʼn regstreekse las teen ʼn Provinsiale Inkomstefonds magtig.
2. ʼn Geldwetsontwerp mag met geen ander aangeleentheid handel nie, behalwe–
a. ʼn ondergeskikte aangeleentheid wat verband hou met die bewilliging van geld;
b. die oplegging, afskaffing of vermindering van provinsiale belastings, heffings, regte of bobelastings;
c. die verlening van vrystelling van provinsiale belastings, heffings, regte of bobelastings; of
d. die magtiging van ʼn regstreekse las teen ʼn Provinsiale Inkomstefonds.
3. ʼn Provinsiale Wet moet voorsiening maak vir ʼn prosedure waarvolgens die provinsie se wetgewer ʼn Geldwetsontwerp kan wysig.

[A. 120 vervang by a. 3 van die Sewende Wysigingswet op die Grondwet van 2001.]

121. Bekragtiging van Wetsontwerpe
1. Die Premier van ʼn provinsie moet ʼn Wetsontwerp wat ingevolge hierdie Hoofstuk deur die provinsiale wetgewer aangeneem is óf bekragtig en onderteken óf, indien die Premier voorbehoude omtrent die grondwetlikheid van die Wetsontwerp het, dit na die wetgewer vir heroorweging terugverwys.
2. Indien ʼn Wetsontwerp, na heroorweging, ten volle aan die Premier se voorbehoude voldoen, moet die Premier die Wetsontwerp bekragtig en onderteken; indien nie, moet die Premier–
a. óf die Wetsontwerp bekragtig en onderteken;
b, óf dit na die Konstitusionele Hof vir ʼn beslissing oor die grondwetlikheid daarvan verwys.
3. Indien die Konstitusionele Hof beslis dat die Wetsontwerp grondwetlik is, moet die Premier dit bekragtig en onderteken.

122. Aansoek by Konstitusionele Hof deur lede
1. Lede van ʼn provinsiale wetgewer kan by die Konstitusionele Hof aansoek doen om ʼn bevel wat verklaar dat ʼn provinsiale Wet in die geheel of ten dele ongrondwetlik is.
2. ʼn Aansoek–
a. moet deur minstens 20 persent van die lede van die wetgewer gesteun word; en
b. moet gedoen word binne 30 dae vanaf die datum waarop die Premier die Wet bekragtig en onderteken het.
2. Die Konstitusionele Hof kan gelas dat ʼn Wet, of ʼn gedeelte daarvan, wat die onderwerp van ʼn aansoek ingevolge subartikel (1) uitmaak, geen regskrag het nie totdat die Hof oor die aansoek beslis het, indien–
a. dit in die belang van geregtigheid is; en
b. die aansoek ʼn redelike vooruitsig het om te slaag.
3. Indien ʼn aansoek nie slaag nie, en nie ʼn redelike vooruitsig gehad het om te slaag nie, kan die Konstitusionele Hof die aansoekers gelas om die koste te betaal.

123. Publikasie van provinsiale Wette
ʼn Wetsontwerp wat deur die Premier van ʼn provinsie bekragtig en onderteken is, word ʼn provinsiale Wet, moet onverwyld gepubliseer word en tree in werking by die publikasie daarvan of op ʼn datum ingevolge die Wet bepaal.

124. Veilige bewaring van provinsiale Wette
Die ondertekende eksemplaar van ʼn provinsiale Wet is afdoende bewys van die bepalings van daardie Wet en moet na die publikasie daarvan vir veilige bewaring aan die Konstitusionele Hof toevertrou word.

Provinsiale Uitvoerende Gesag

125. Uitvoerende gesag van provinsies
1. Die uitvoerende gesag van ʼn provinsie berus by die Premier van daardie provinsie.
2. Die Premier oefen die uitvoerende gesag gesamentlik met die ander lede van die Uitvoerende Raad uit deur–
a. in die provinsie provinsiale wetgewing uit te voer;
4. alle nasionale wetgewing binne die funksionele gebiede in Bylae 4 of 5 vermeld, uit te voer, behalwe waar die Grondwet of ʼn Parlementswet anders bepaal;
c. in die provinsie nasionale wetgewing te administreer wat buite die funksionele gebiede vermeld in Bylaes 4 en 5 val en waarvan die administrasie ingevolge ʼn Parlementswet aan die provinsiale uitvoerende gesag opgedra is;
d. provinsiale beleid te ontwikkel en uit te voer;
e. die funksies van die provinsiale administrasie en sy departemente te koördineer;
f. provinsiale wetgewing op te stel en te inisieer; en
g. enige ander funksie te verrig wat ingevolge die Grondwet of ʼn Parlementswet aan die provinsiale uitvoerende gesag opgedra is.
3. ʼn Provinsie het ingevolge subartikel (2)(b) uitvoerende gesag slegs in die mate waarin die provinsie die administratiewe vermoë het om doeltreffende verantwoordelikheid te aanvaar. Die nasionale regering moet deur middel van wetgewende en ander maatreëls provinsies help om die administratiewe vermoë te ontwikkel wat nodig is vir die doeltreffende uitoefening van hul bevoegdhede en verrigting aan hul funksies in subartikel (2) genoem.
4. ʼn Geskil betreffende die administratiewe vermoë van ʼn provinsie met betrekking tot enige funksie moet verwys word na die Nasionale Raad van Provinsies vir beslegting binne 30 dae vanaf die datum van die verwysing na die Raad.
5. Behoudens artikel 100 is die uitvoering van provinsiale wetgewing in ʼn provinsie ʼn eksklusiewe provinsiale uitvoerende bevoegdheid.
6. Die provinsiale uitvoerende gesag moet optree ooreenkomstig–
a. die Grondwet; en
b. die provinsiale grondwet, indien ʼn grondwet vir die provinsie aangeneem is.

126. Opdra van werksaamhede
1. ʼn Lid van die Uitvoerende Raad van ʼn provinsie kan enige bevoegdheid of funksie wat ingevolge ʼn Parlementswet of ʼn provinsiale Wet uitgeoefen of verrig moet word, aan ʼn Munisipale Raad opdra. ʼn Opdrag–
a. geskied ingevolge ʼn ooreenkoms tussen die betrokke lid van die Uitvoerende Raad en die Munisipale Raad;
b. moet bestaanbaar wees met die Wet ingevolge waarvan die betrokke bevoegdheid of funksie uitgeoefen of verrig word; en
c. tree by proklamering deur die Premier in werking.

127. Bevoegdhede en funksies van Premiers
1. Die Premier van ʼn provinsie het die bevoegdhede en funksies wat deur die Grondwet en enige wetgewing aan dié amp opgedra word.
2. Die Premier van ʼn provinsie is verantwoordelik vir–
a. die bekragtiging en ondertekening van Wetsontwerpe;
b. die terugverwysing van ʼn Wetsontwerp na die provinsiale wetgewer vir heroorweging van die grondwetlikheid van die Wetsontwerp;
c. die verwysing van ʼn Wetsontwerp na die Konstitusionele Hof vir ʼn beslissing oor die grondwetlikheid van die Wetsontwerp;
d. die byeenroeping van die wetgewer vir ʼn buitengewone sitting om spesiale werksaamhede te verrig;
e. die aanstelling van kommissies van ondersoek; en
f. die uitroep van ʼn referendum in die provinsie ooreenkomstig nasionale wetgewing.

128. Verkiesing van Premiers
1. By sy eerste sitting na sy verkiesing, en wanneer dit ook al nodig is om ʼn vakature te vul, moet ʼn provinsiale wetgewer ʼn vrou of ʼn man uit sy geledere as die Premier van die provinsie verkies.
2. ʼn Regter wat deur die Hoofregter aangewys is, moet by die verkiesing van die Premier voorsit. Die prosedure in Deel A van Bylae 3 uiteengesit, is op die verkiesing van die Premier van toepassing.

[Sub-a. (2) vervang by a. 10 van die Sesde Wysigingswet op die Grondwet van 2001.]

3. ʼn Verkiesing om ʼn vakature in die amp van Premier te vul, moet gehou word op ʼn tyd en datum deur die Hoofregter bepaal, maar nie later nie as 30 dae nadat die vakature ontstaan.

[Sub-a. (3) vervang by a. 10 van die Sesde Wysigingswet op die Grondwet van 2001.]

129. Aanvaarding van amp deur Premiers
ʼn Aangewese Premier aanvaar die amp binne vyf dae na die Premiersverkiesing, deur ooreenkomstig Bylae 2 ʼn eed of plegtige verklaring van getrouheid aan die Republiek en gehoorsaamheid aan die Grondwet af te lê.

130. Ampstermyn en ontheffing van Premiers
1. ʼn Premier se ampstermyn begin wanneer die Premier die amp aanvaar en eindig wanneer ʼn vakature ontstaan of wanneer die persoon wat volgende as Premier verkies word die amp aanvaar.
2. Niemand mag die amp van Premier vir meer as twee ampstermyne beklee nie, maar wanneer iemand verkies word om ʼn vakature in die amp van Premier te vul, word die tydperk tussen daardie verkiesing en die volgende verkiesing van ʼn Premier nie as ʼn ampstermyn beskou nie.
3. Die wetgewer van ʼn provinsie kan, by ʼn besluit aangeneem met ʼn ondersteunende stem van minstens twee derdes van sy lede, die Premier van die amp van Premier onthef slegs op grond van–
a. ʼn ernstige skending van die Grondwet of die reg;
b. ernstige wangedrag; of
c. onvermoë om die funksies van die amp te verrig.
4. Iemand wat ingevolge subartikel (3)(a) of (b) van die amp van Premier onthef is, mag geen voordele van daardie amp ontvang nie, en mag in geen openbare amp dien nie.

131. Waarnemende Premiers
1. Wanneer die Premier afwesig is of andersins nie in staat is om die pligte van die amp van Premier te vervul nie, of gedurende ʼn vakature in die amp van Premier, neem ʼn ampsdraer in die onderstaande rangorde as Premier waar:
a. ʼn Lid van die Uitvoerende Raad deur die Premier aangewys.
b. ʼn Lid van die Uitvoerende Raad deur die ander lede van die Uitvoerende Raad aangewys.
c. Die Speaker, totdat die wetgewer een van sy ander lede aanwys.
2. ʼn Waarnemende Premier het die verantwoordelikhede, bevoegdhede en funksies van die Premier.
3. Voordat die Waarnemende Premier die verantwoordelikhede, bevoegdhede en funksies van die Premier aanvaar, moet die Waarnemende Premier ooreenkomstig Bylae 2 ʼn eed of plegtige verklaring van getrouheid aan die Republiek en gehoorsaamheid aan die Grondwet aflê.

132. Uitvoerende Rade
1 Die Uitvoerende Raad van ʼn provinsie bestaan uit die Premier, as hoof van die Raad, en minstens vyf en hoogstens tien lede deur die Premier uit die geledere van die provinsiale wetgewer aangestel.
2. Die Premier van ʼn provinsie stel die lede van die Uitvoerende Raad aan, dra hulle bevoegdhede en funksies aan hulle op, en kan hulle ontslaan.

133. Aanspreeklikheid en verantwoordelikhede
1. Die lede van die Uitvoerende Raad van ʼn provinsie is verantwoordelik vir die funksies van die uitvoerende gesag wat deur die Premier aan hulle opgedra word.
2. Lede van die Uitvoerende Raad van ʼn provinsie is gesamentlik en afsonderlik teenoor die wetgewer aanspreeklik vir die uitoefening van hul bevoegdhede en die verrigting van hul funksies.
3. Lede van die Uitvoerende Raad van ʼn provinsie moet–
a. ooreenkomstig die Grondwet en, indien ʼn provinsiale grondwet vir die provinsie aangeneem is, ook daardie grondwet optree; en
b. die wetgewer voorsien van volledige en gereelde verslae oor aangeleenthede onder hulle beheer.

134. Voortbestaan van Uitvoerende Rade na verkiesings
Wanneer ʼn verkiesing van ʼn provinsiale wetgewer gehou word, bly die Uitvoerende Raad en sy lede bevoeg om te funksioneer totdat die persoon wat deur die volgende wetgewer as Premier verkies word die amp aanvaar.

135. Eed of plegtige verklaring
Voordat lede van die Uitvoerende Raad van ʼn provinsie begin om hul funksies te verrig, moet hulle ooreenkomstig Bylae 2 ʼn eed of plegtige verklaring van getrouheid aan die Republiek en gehoorsaamheid aan die Grondwet aflê.

136. Gedrag van lede van Uitvoerende Rade
1. Lede van die Uitvoerende Raad van ʼn provinsie moet optree ooreenkomstig ʼn etiese kode deur nasionale wetgewing voorgeskryf.
2. Lede van die Uitvoerende Raad van ʼn provinsie mag nie–
a. enige ander betaalde werk onderneem nie;
b. optree op enige wyse wat met hul amp onbestaanbaar is, of hulself blootstel aan enige omstandigheid wat die risiko inhou van ʼn botsing tussen hul amptelike verantwoordelikhede en hul private belange nie; of
c. hul posisie of enige inligting aan hulle toevertrou, gebruik om hulself te verryk of enige ander persoon onbehoorlik te bevoordeel nie.

137. Oordrag van werksaamhede
1. Die Premier kan by proklamasie aan ʼn lid van die Uitvoerende Raad–
a. die administrasie oordra van enige wetgewing wat aan ʼn ander lid opgedra is; of
b. enige bevoegdheid of funksie oordra wat by wetgewing aan ʼn ander lid opgedra is.

138. Tydelike opdra van werksaamhede
Die Premier van ʼn provinsie kan aan ʼn lid van die Uitvoerende Raad enige bevoegdheid of funksie van ʼn ander lid wat uit die amp afwesig is of nie in staat is om daardie bevoegdheid uit te oefen of daardie funksie te verrig nie, opdra.

139. Provinsiale ingryping in plaaslike regering
1. Wanneer ʼn munisipaliteit ʼn uitvoerende verpligting ingevolge die Grondwet of wetgewing nie kan nakom nie of dit nie nakom nie, kan die betrokke provinsiale uitvoerende gesag ingryp deur enige gepaste stappe te doen om te verseker dat daardie verpligting nagekom word, met inbegrip van–
a. die uitreiking van ʼn lasgewing aan die Munisipale Raad waarin die mate van die versuim om sy verpligtinge na te kom, beskryf word en stappe wat nodig is om sy verpligtinge na te kom, vermeld word;
b. die aanvaarding van verantwoordelikheid vir die betrokke verpligting in daardie munisipaliteit in die mate wat nodig is om–
i. noodsaaklike nasionale standaarde te handhaaf of aan gevestigde minimum standaarde vir die lewering van ʼn diens te voldoen;
ii, te voorkom dat daardie Munisipale Raad onredelike stappe doen wat nadelig is vir die belange van ʼn ander munisipaliteit of van die provinsie as geheel; of
iii. ekonomiese eenheid te handhaaf; of
c. die ontbinding van die Munisipale Raad en die aanstelling van ʼn administrateur totdat ʼn pas verkose Munisipale Raad verkose verklaar is, indien buitengewone omstandighede so ʼn stap regverdig.
2. Indien ʼn provinsiale uitvoerende gesag ingevolge subartikel (1)(b) in ʼn munisipaliteit ingryp, moet–
a. hy ʼn skriftelike kennisgewing van die ingryping aan–
i. die Kabinetslid wat vir plaaslike regeringsaangeleenthede verantwoordelik is; en
ii. die betrokke provinsiale wetgewer en die Nasionale Raad van Provinsies, voorlê binne 14 dae nadat die ingryping ʼn aanvang geneem het;
b. die ingryping beëindig word indien–
i. die Kabinetslid wat vir plaaslike regeringsaangeleenthede verantwoordelik is die ingryping afkeur binne 28 dae nadat die ingryping ʼn aanvang geneem het of by die einde van daardie tydperk die ingryping nie goedgekeur het nie; of
ii. die Raad die ingryping afkeur binne 180 dae nadat die ingryping ʼn aanvang geneem het of by die einde van daardie tydperk die ingryping nie goedgekeur het nie; en
c. die Raad, terwyl die ingryping voortduur, die ingryping gereeld in hersiening neem en enige gepaste aanbevelings aan die provinsiale uitvoerende gesag doen.
3. Indien ʼn Munisipale Raad ingevolge subartikel (1)(c) ontbind is–
a. moet die provinsiale uitvoerende gesag onmiddellik ʼn skriftelike kennisgewing van die ontbinding voorlê aan–
die Kabinetslid wat vir plaaslike regeringsaangeleenthede verantwoordelik is; en
b. die betrokke provinsiale wetgewer en die Nasionale Raad van Provinsies; en
c. neem die ontbinding ʼn aanvang 14 dae vanaf die datum van ontvangs van die kennisgewing deur die Raad tensy tersyde gestel deur daardie Kabinetslid of die Raad voor die verstryking van daardie 14 dae.
4. Indien ʼn munisipaliteit ʼn verpligting ingevolge die Grondwet of wetgewing om ʼn begroting of inkomste genererende maatreëls goed te keur wat nodig is om aan die begroting gevolg te gee nie kan nakom nie of dit nie nakom nie, moet die betrokke provinsiale uitvoerende gesag ingryp deur enige gepaste stappe te doen om te verseker dat die begroting of daardie inkomste genererende maatreëls goedgekeur word, met inbegrip van die ontbinding van die Munisipale Raad en–
a. die aanstelling van ʼn administrateur totdat ʼn pas verkose Munisipale Raad verkose verklaar is; en
b. die goedkeuring van ʼn voorlopige begroting of inkomste genererende maatreëls om vir die voortgesette funksionering van die munisipaliteit voorsiening te maak.
5. Indien ʼn munisipaliteit, as gevolg van ʼn krisis in sy finansiële sake, in ernstige of volgehoue wesenlike versuim is van sy verpligtinge om basiese dienste te verskaf of om sy finansiële ondernemings na te kom, of erken dat hy nie in staat is om sy verpligtinge of finansiële ondernemings na te kom nie, moet die betrokke provinsiale uitvoerende gesag–
a. ʼn herstelplan voorskryf wat daarop gerig is om die munisipaliteit se vermoë om sy verpligtinge om basiese dienste te verskaf of sy finansiële ondernemings na te kom, te verseker, wat–
i. voorberei moet word ooreenkomstig nasionale wetgewing; en
ii. die munisipaliteit in die uitoefening van sy wetgewende en uitvoerende gesag bind maar slegs in die mate wat nodig is om die krisis in sy finansiële sake op te los; en
b. die Munisipale Raad ontbind, indien die munisipaliteit wetgewende maatreëls, met inbegrip van ʼn begroting of enige inkomste genererende maatreëls, wat nodig is om aan die herstelplan gevolg te gee nie kan goedkeur nie of dit nie goedkeur nie, en–
i. ʼn administrateur aanstel totdat ʼn pas verkose Munisipale Raad verkose verklaar is; en
ii. ʼn voorlopige begroting of inkomste genererende maatreëls of enige ander maatreëls wat aan die herstelplan gevolg gee, goedkeur om vir die voortgesette funksionering van die munisipaliteit voorsiening te maak; of
c. indien die Munisipale Raad nie ingevolge paragraaf (b) ontbind is nie, verantwoordelikheid aanvaar vir die uitvoer van die herstelplan in die mate wat die munisipaliteit die herstelplan nie andersins kan uitvoer nie of dit nie uitvoer nie.
6. Indien ʼn provinsiale uitvoerende gesag ingevolge subartikel (4) of (5) in ʼn munisipaliteit ingryp, moet hy ʼn skriftelike kennisgewing van die ingryping voorlê aan–
a. die Kabinetslid wat vir plaaslike regeringsaangeleenthede verantwoordelik is; en
b. die betrokke provinsiale wetgewer en die Nasionale Raad van Provinsies, binne sewe dae nadat die ingryping ʼn aanvang geneem het.
7. Indien ʼn provinsiale uitvoerende gesag die bevoegdhede of werksaamhede bedoel in subartikel (4) of (5) nie kan uitoefen of verrig nie of dit nie uitoefen of verrig nie of dit nie voldoende uitoefen of verrig nie, moet die nasionale uitvoerende gesag in die plek van die betrokke provinsiale uitvoerende gesag ingevolge subartikel (4) of (5) ingryp.
8. Nasionale wetgewing kan die toepassing van hierdie artikel, met inbegrip van die prosesse ingestel deur hierdie artikel, reguleer.

[A. 139 vervang by a. 4 van die Elfde Wysigingswet op die Grondwet van 2003.]

140. Uitvoerende besluite
1. ʼn Besluit van die Premier van ʼn provinsie moet op skrif wees indien dit–
a. ingevolge wetgewing geneem word; of
b. regsgevolge het.
2. ʼn Skriftelike besluit van die Premier moet deur ʼn ander lid van die Uitvoerende Raad medeonderteken word indien daardie besluit ʼn funksie raak wat aan daardie ander lid opgedra is.
3. Proklamasies, regulasies en ander instrumente van ondergeskikte wetgewing van ʼn provinsie moet vir die publiek toeganklik wees.
4. Provinsiale wetgewing kan die wyse waarop en die mate waarin instrumente in subartikel (3) genoem–
a. in die provinsiale wetgewer ter tafel gelê moet word, spesifiseer; en
b. deur die provinsiale wetgewer goedgekeur moet word, spesifiseer.

141. Voorstelle van wantroue
1. Indien ʼn provinsiale wetgewer by ʼn besluit ten gunste waarvan ʼn meerderheid van sy lede stem ʼn voorstel van wantroue in die Uitvoerende Raad van die provinsie, uitgesonderd die Premier, aanneem, moet die Premier die Raad hersaamstel.
2. Indien ʼn provinsiale wetgewer by ʼn besluit ten gunste waarvan ʼn meerderheid van sy lede stem ʼn voorstel van wantroue in die Premier aanneem, moet die Premier en die ander lede van die Uitvoerende Raad bedank.

Provinsiale Grondwette

142. Aanname van provinsiale grondwette
ʼn Provinsiale wetgewer kan ʼn grondwet vir die provinsie aanneem of, waar toepaslik, sy grondwet wysig, indien minstens twee derdes van sy lede ten gunste van die Wetsontwerp stem.

143. Inhoud van provinsiale grondwette
1. ʼn Provinsiale grondwet of grondwetwysiging mag nie met hierdie Grondwet onbestaanbaar wees nie, maar kan voorsiening maak vir–
a. provinsiale wetgewende of uitvoerende strukture en prosedures wat verskil van dié waarvoor in hierdie Hoofstuk voorsiening gemaak word; of
b. die instelling, rol, gesag en status van ʼn tradisionele monarg waar dit gepas is.
2. Bepalings wat ingevolge paragraaf (a) of (b)van subartikel (1) in ʼn provinsiale grondwet of grondwetwysiging ingesluit word–
a. moet aan die waardes in artikel 1 en aan Hoofstuk 3 voldoen; en
b. mag nie aan die provinsie enige bevoegdheid of funksie opdra wat–
i. buite die bestek van provinsiale bevoegdheid ingevolge Bylaes 4 en 5 val nie; of
ii. buite die bevoegdhede en funksies val wat deur ander artikels van die Grondwet aan die provinsie opgedra word nie.

144. Sertifisering van provinsiale grondwette
1. Indien ʼn provinsiale wetgewer ʼn grondwet aangeneem of gewysig het, moet die Speaker van die wetgewer die teks van die grondwet of grondwetwysiging aan die Konstitusionele Hof vir sertifisering voorlê.
2. Geen teks van ʼn provinsiale grondwet of grondwetwysiging word wet voordat die Konstitusionele Hof gesertifiseer het dat die teks–
a. ooreenkomstig artikel 142 aangeneem is; en
b. in sy geheel aan artikel 143 voldoen nie.

145. Ondertekening, publikasie en veilige bewaring van provinsiale grondwette
1. Die Premier van ʼn provinsie moet ʼn provinsiale grondwet of grondwetwysiging wat deur die Konstitusionele Hof gesertifiseer is, bekragtig en onderteken.
2. Die teks wat die Premier bekragtig en onderteken het, moet in die nasionale Staatskoerant gepubliseer word en tree in werking by die publikasie daarvan of op ʼn latere datum ingevolge daardie grondwet of wysiging bepaal.
3. Die ondertekende teks van ʼn provinsiale grondwet of grondwetwysiging is afdoende bewys van die bepalings daarvan en moet na die publikasie daarvan aan die Konstitusionele Hof vir veilige bewaring toevertrou word.

Wetsteenstrydighede

146. Teenstrydighede tussen nasionale en provinsiale wetgewing
1. Hierdie artikel is van toepassing op ʼn teenstrydigheid tussen nasionale wetgewing en provinsiale wetgewing wat binne ʼn funksionele gebied vermeld in Bylae 4 val.
2. Nasionale wetgewing wat eenvormig met betrekking tot die land as geheel geld, geniet voorrang bo provinsiale wetgewing indien daar aan enige van die volgende voorwaardes voldoen word:
a. Die nasionale wetgewing handel met ʼn aangeleentheid wat nie doeltreffend gereël kan word deur wetgewing wat deur die onderskeie provinsies afsonderlik verorden word nie.
b. Die nasionale wetgewing handel met ʼn aangeleentheid waarvoor eenvormigheid regoor die land vereis word ten einde doeltreffend daarmee te handel, en die nasionale wetgewing voorsien daardie eenvormigheid deur–
i. norme en standaarde te bepaal;
ii. raamwerke te bepaal; of
iii. nasionale beleid te bepaal.
c. Die nasionale wetgewing is nodig vir–
i. die handhawing van nasionale veiligheid;
ii. die handhawing van ekonomiese eenheid;
iii. die beskerming van die gemeenskaplike mark ten opsigte van die beweeglikheid van goedere, dienste, kapitaal en arbeid;
iv. die bevordering van ekonomiese bedrywighede oor provinsiale grense heen;
v. die bevordering van gelyke geleenthede of gelyke toegang tot regeringsdienste; of
vi. die beskerming van die omgewing.
3. Nasionale wetgewing geniet voorrang bo provinsiale wetgewing indien die nasionale wetgewing gemik is op die voorkoming van onredelike optrede deur ʼn provinsie wat–
a. nadelig is vir die ekonomiese, gesondheids- of veiligheidsbelange van ʼn ander provinsie of die land as geheel; of
b. die uitvoering van nasionale ekonomiese beleid belemmer.
4. Wanneer daar ʼn geskil is oor die vraag of nasionale wetgewing nodig is vir ʼn doel in subartikel (2)(c) uiteengesit en daardie geskil voor ʼn hof kom om besleg te word, moet die hof die goedkeuring of die verwerping van die wetgewing deur die Nasionale Raad van Provinsies behoorlik in aanmerking neem.
5. Provinsiale wetgewing geniet voorrang bo nasionale wetgewing indien subartikel (2)of (3) nie van toepassing is nie.
6. ʼn Wet wat ingevolge ʼn Parlementswet of ʼn provinsiale Wet gemaak is, kan voorrang geniet slegs indien daardie wet deur die Nasionale Raad van Provinsies goedgekeur is.
7. Indien die Nasionale Raad van Provinsies nie binne 30 dae vanaf sy eerste sitting nadat ʼn wet na die Raad verwys is, tot ʼn besluit kom nie, word daardie wet vir alle doeleindes beskou as deur die Raad goedgekeur te wees.
8. Indien die Nasionale Raad van Provinsies ʼn wet bedoel in subartikel (6) nie goedkeur nie, moet die Raad binne 30 dae vanaf sy besluit die redes waarom hy die wet nie goedgekeur het nie, stuur aan die gesag wat die wet na die Raad verwys het.

147. Ander wetsteenstrydighede
1. Indien daar ʼn teenstrydigheid is tussen nasionale wetgewing en ʼn bepaling van ʼn provinsiale grondwet met betrekking tot–
a. ʼn aangeleentheid ten opsigte waarvan hierdie Grondwet spesifiek die verordening van nasionale wetgewing vereis of beoog, geniet die nasionale wetgewing voorrang bo die betrokke bepaling van die provinsiale grondwet;
b. enige nasionale wetgewende ingryping ingevolge artikel 44(2), geniet die nasionale wetgewing voorrang bo die bepaling van die provinsiale grondwet; of
c. ʼn aangeleentheid wat val binne ʼn funksionele gebied in Bylae 4 vermeld, is artikel 146 van toepassing asof die betrokke bepaling van die provinsiale grondwet provinsiale wetgewing is wat in daardie artikel genoem word.
2. Nasionale wetgewing in artikel 44(2) genoem, geniet voorrang bo provinsiale wetgewing ten opsigte van aangeleenthede binne die funksionele gebiede wat in Bylae 5 vermeld word.

148. Wetsteenstrydighede wat nie opgelos kan word nie
Indien ʼn geskil oor ʼn wetsteenstrydigheid nie deur ʼn hof besleg kan word nie, geniet die nasionale wetgewing voorrang bo die provinsiale wetgewing of provinsiale grondwet.

149. Status van wetgewing wat nie voorrang geniet nie
ʼn Beslissing deur ʼn hof dat wetgewing voorrang bo ander wetgewing geniet, maak nie daardie ander wetgewing ongeldig nie, maar daardie ander wetgewing is nie van krag solank die teenstrydigheid voortduur nie.

150. Uitleg van wetsteenstrydighede
By die oorweging van ʼn skynbare teenstrydigheid tussen nasionale en provinsiale wetgewing, of tussen nasionale wetgewing en ʼn provinsiale grondwet, moet elke hof voorkeur gee aan enige redelike uitleg van die wetgewing of grondwet wat ʼn teenstrydigheid uitskakel, bo enige alternatiewe uitleg wat ʼn teenstrydigheid tot gevolg het.