Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika/Hoofstuk 3

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika  (1996) 
Hoofstuk 3: Regering van Samewerking

40. Regering van die Republiek
1. Regering in die Republiek bestaan uit nasionale, provinsiale en plaaslike sfere van regering wat onderskeidend, onderling afhanklik en onderling verbonde is.
2. Alle regeringsfere moet die beginsels in hierdie Hoofstuk handhaaf en nakom en moet hul werksaamhede binne die perke wat deur die Hoofstuk bepaal word, verrig.

41. Beginsels van regering van samewerking en interregeringsbetrekkinge
1. Alle regeringsfere en alle staatsorgane binne elke sfeer moet–
a. die vrede, die nasionale eenheid en die onverdeelbaarheid van die Republiek bewaar;
b. die welsyn van die mense van die Republiek verseker;
doeltreffende, deursigtige, verantwoordingspligtige en samehangende regering vir die Republiek as geheel voorsien;
c. getrou wees aan die Grondwet, die Republiek en sy mense;
d. die grondwetlike status, instellings, bevoegdhede en funksies van regering in die ander sfere eerbiedig;
e. hulself geen bevoegdheid of funksies toe-eien behalwe dié wat ingevolge die Grondwet aan hulle opgedra is nie;
hul bevoegdhede uitoefen en hul funksies verrig op ʼn wyse wat nie inbreuk maak op die geografiese, funksionele of institusionele integriteit van regering in ʼn ander sfeer nie; en
f. in wedersydse vertroue en goeie trou met mekaar saamwerk deur–
i. vriendskaplike betrekkinge te bevorder;
ii. mekaar te help en te ondersteun;
iii. mekaar van inligting te voorsien, en met mekaar oorleg te pleeg, oor sake van gemeenskaplike belang;
iv. hul optrede en wetgewing met mekaar te koördineer;
v. by ooreengekome prosedures te hou; en
vi. regsverrigtinge teen mekaar te vermy.
2. ʼn Parlementswet moet–
a. strukture en instellings tot stand bring, of voorsiening maak vir strukture en instellings, om interregeringsbetrekkinge te bevorder en te vergemaklik; en
b. voorsiening maak vir gepaste meganismes en prosedures om die beslegting van interregeringsgeskille te vergemaklik.
3. ʼn Staatsorgaan wat in ʼn interregeringsgeskil betrokke is, moet alle redelike pogings aanwend om die geskil te besleg deur middel van meganismes en prosedures wat vir dié doel voorsien is, en moet alle ander middele uitput voordat hy ʼn hof nader om die geskil te besleg.
4. Indien ʼn hof nie tevrede is dat daar aan die voorskrifte van subartikel (3) voldoen is nie, kan hy ʼn geskil na die betrokke staatsorgane terugverwys.