Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika/Hoofstuk 12

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika  (1996) 
Hoofstuk 12: Tradisionele Leiers

211. Erkenning
1. Die instelling, status en rol van tradisionele leierskap, volgens die gewoontereg, word behoudens die Grondwet erken.
2. ‘n Tradisionele owerheid wat ʼn stelsel van gewoontereg naleef, kan funksioneer behoudens enige toepaslike wetgewing en gebruike, waarby ingesluit is enige wysiging of herroeping van daardie wetgewing of gebruike.
3. Die howe moet die gewoontereg toepas wanneer dié reg toepasbaar is, behoudens die Grondwet en enige wetgewing wat spesifiek oor gewoontereg handel.

212. Rol van tradisionele leiers
1. Nasionale wetgewing kan voorsiening maak vir ʼn rol vir tradisionele leierskap as ʼn instelling op plaaslike vlak betreffende aangeleenthede wat plaaslike gemeenskappe raak.
2. Ten einde te handel met aangeleenthede in verband met tradisionele leierskap, die rol van tradisionele leiers, die gewoontereg en die gewoontes van gemeenskappe wat ʼn stelsel van gewoontereg naleef, kan–
a. nasionale of provinsiale wetgewing voorsiening maak vir die instelling van huise van tradisionele leiers; en
b. nasionale wetgewing ʼn raad van tradisionele leiers instel.