Die prosa van die twede Afrikaanse beweging/Hoofstuk VI

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Hoofstuk V Die prosa van die twede Afrikaanse beweging
Hoofstuk VI
deur Pieter Cornelis Schoonees
Hoofstuk VII



§ 1. Ds. Willem Postma | § 2. Reenen J. van Reenen | § 3. Adv. C.J. Langenhoven


HOOFSTUK VI.

Satieries-Humoristiese Prosa.

§ 1. Ds. Willem Postma. (1874-1920). (Dr. O'Kulis).

Ds. Willem Postma was 'n seun van Prof. Dirk Postma, die vader van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika. Hy is in 1874 in Burgersdorp gebore, waar hy hom vir die leraarsamp voorberei het onder Prof. Jan Lion Cachet, (Ou Oom Jan). Op Bethulie, Bloemfontein en Reddersburg was hy predikant. In die oorlogsjare (1899-1902) moes hy uitwyk na Middelburg, K.P., omdat hy geen eed van trou wou aflê nie. Daar het hy die kos vir sy gesin in 'n winkel en deur privaatlesse verdien.

Onder groot moeilikhede het hy die gemeente in Bloemfontein gestig. In Mei 1905 het hy onder die skuilnaam Jong Afrika in die Hollandse Friend begin te skryf oor die Afrikaanse taal, sonder dat hy iets van Preller se stukke afgeweet het. As gevolg van die groot byval het Ds. Postma toe gereeld bydraes onder die tietel Oogdruppels gelewer. Toe die setter verstaan, dat die ondertekening van die eerste stuk, nl. Okulis, oogdokter beteken, het hy daarvan Dr. O'Kulis gemaak en so het die naam gebly. "Deur dié stukke het hy hom as volksman geopenbaar, het hy hom 'n weg gebaan na die hart van die Vrystaatse volk ...," verklaar Totius.[1] In Bloemfontein was hy ook die stigter van wat tans bekend is as die "Voorbereidende Tegniese Skool".

[Pg 232] In die aangehaalde artiekel gee Totius 'n paar persoonlike herinneringe en sê o.a. dat hy "nie maar 'n merkwaardige figuur (was) nie, maar 'n heldeverskyning". Van hom het verskyn: Die Eselskakebeen,[2] Doppers (1918) en Die Boervrou (1919).

In Die Brandwag (1912) het hy 'n teorie oor die ontstaan van Afrikaans uitgewerk.[3] Sedert 1918 was hy lid van die Akademie. Van belang is nog dat sy vriende huiwerig was oor die uitgawe van die Eselskakebeen. In 1920 is hy oorlede.

Die Eselskakebeen.

In Die Brandwag[4] het die skrywer verklaar, dat die boek 'n "suiwere outobiografie" is met uitsondering van die laaste hoofstuk. Maar dit is veel meer; dit is ook die biografie van etlike Afrikaner geslagte, wat nog vir 'n tiental jare na die Anglo-Boere-oorlog gekreun het onder dieselfde treurige onderwysstelsel deur hom beskryf. Pas in die laaste jare het daar verbetering gekom en in sommige dele van ons land heers feitlik dieselfde misstande noù nog.

Eers beskryf Dr. O'Kulis sy geboorte, waarby Tant Antjie met haar medisynetrommeltjies gehelp 't. Spoedig begint die taalmoeilikhede en in 'n donker onweersnag doen hy die ontdekking, dat ons liewe Heer ook Afrikaans verstaan. Op skool is dit van die eerste dag af 'n gedurige stryd teen die step-by-step-denasionalisering, wat die doel was van 'n verpolitiekte stelsel, as so 'n onpedagogiese gedoente ten minste die naam stelsel ooit verdien het. Mooi word die wisselwerking tussen die skool- en huislike invloed beskryf. "Wel, die Boere het van al daardie Royal Reader gedoente niks geglo nie as ek hulle bietjie wou vertel. Al wat ek vir my moeite gekry het, was: "Jou Rooinek, glo jy al daardie leuns?"[5] Langsamerhand groei die verset van die aanvanklik deur skoolwysheid oorblufte seuntjie. Die omgang met Boerfamielies, wat vashou aan die ou Trap der Jeugd en die Bybel versterk die Boergees in hom, totdat hy die geleerde weefsel van bedrog wegvee en met volle selfkennis sy Engelse meester toevoeg: Ek is 'n Boer (p. 44). Hy wil nie langer "'n agterryer in sy eie land", 'n jingo of weeluis wees nie (p. 42). Wanneer die seun 'n man word, maak hy 'n eselskakebeen vogtig[6] met die trane van sy lang opgekropte spyt en dan dreun die mokerslae op "die Filistyn in die Afrikaner". Dit word 'n geweldige wapen in sy hand, waarmee hy seker meer as 'n "duisend man" verslaan het! In die begin is daar 'n bietjie goedaardige skerts o.a. oor die dominee se gesukkel met die Hollandse geslagte (p. 16), maar wanneer hy die toestande op die Engelse skool beskryf, word die toon kwaai-sarkasties en bitter. Die eensydige onderwys uit die Royal Reader, oor British en Cape History, Geography, ens. word met satieriese skerpsinnigheid aan die kaak gestel. Met 'n speelse vernuf word die oorsprong van die Engelse nasie uitgepluis. "Daar is van die geskiedskrywers, wat die oorsprong wil aflei uit die naam, nl. Angel (Engel) en dan wil meen dat hulle van 'n Engele-geslag is. Of dit van die gevalle engels is of van die ander is onmoontlik om uit te maak"! Op aanskoulike wyse word aangetoon dat die geïmporteerde eksamenstelsel geen rekening hou met die eise van ons samelewing nie. "Jannie het op skool net 'n bietjie algemene kennis en die School-Higher-sertifikaat opgetel. Vir die lewe moes hy daarna eers klaar maak." (p. 55.)

Selfs vandag het die boekie nog aktuele waarde, en dis 'n kultuur-historiese dokument, wat selfs die verre nageslag nog met belangstelling sal lees. Al sal dit hulle nie so heftig ontroer nie soos ons, wat al die ervarings self ondervind het, tog moet dit altyd treffend bly deur sy raak voorstelling en bytende spot. Daar is enkele uitweidings, wat die eenheid van die strydskrif verstoor, 'n paar anekdotes, wat die direktheid van die aanval verminder, maar omdat dit iets is wat werklik "uit (die) hart opgeborrel het"[7] sal dit altyd sy waarde behou.

§ 2. Reenen J. van Reenen.

Die Agterstevoortrekkers (1917).

Johan van Heemskerck het in sy Batavische Arcadia (1637) 'n paar Haagse here en dames 'n plesiertoggie laat doen met die doel om "onder 't soet van minnepraetjes al spelende (te) komen tot kennisse van de vaderlandtsche gelegentheden, daer niemandt een vreemdelingh in behoort te zijn." Van Reenen stuur 'n aantal Bloemfonteinse geleerdes en kunstenaars met hul famielies op die ou voortrekkerpad "om te probeer of daar nie, daar in die bosse en klowe, in die kranse of op die bulte nog van die heldemoed van die ou voortrekkers te bespeur is nie, en of daar op die wye ope veld nie 'n kans is om weer die helder eenvoudige duidelike uitsig op die lewensprobleme op te vang en in (hul) daaglikse omgang te gebruik nie" (p. 32). Die ooreenkoms is duidelik, ofskoon daar seker van bewuste navolging geen sprake kan wees nie. By Van Reenen is daar nie soveel "loofwerck van liefkooserijtjes", maar die minnende paartjie ontbreek tog ook nie. Die poging om pastorale en didaktiese motiewe te verenig is al merkbaar in die aangehaalde sin. Oom Jakob sê ook nog: "Dis die doel van die uittog ... om 'n veldwasempie op te vang uit die Afrikaanse Son en Veld" (p. 31). Nog duideliker straal die pastorale motief uit die volgende deur: "Daar in Bloemfontein in 'n atmosfeer van kunsmatigheid, val die klank (van die ossewa) weg, hier op die veld, ver van die besmetlike invloed van groot stede, mag die plof plof van die ossevoete nou en dan in die sand wegval, maar die skok van die wiele bly." (p. 110). Die didaktiese motief blyk ook nog hieruit: "Opgewonde gee ek antwoord dat dit 'n eerste klas plan was om die sienswyse van die voortrekkers te verstaan, en hulle geskiedenis met smaak te leer lees...." (p. 20). En die sewende trekreël lui: "Elke aand sal een van die trekkers ... 'n lesing gee oor die een of ander in die geskiedenis van die Voortrekkers" (p. 37).

Maar sterker nog dan die pastoraal-didaktiese motiewe [Pg 235] van die verhaal is die satieries-humoristiese element. Die meeste van die Bloemfonteinse deskundiges verbeel hulle wat wonders. In die "afskeidsbrief" heet dit: "Ons is beslote om ... ons diep kennis vir almal wyd en syd bekend te maak" (p. 40). Die Professor wil drie waens vol boeke laai "om aan die boere te verkoop"; Jan, die "goggadeskundige" wil die boere waarsku teen skadelike insekte, en Antoon, die musikus hoop dat deur sy musiek "nuwe ideale mag ingeboesem word in diegene wat binne die betowerde sirkel van ons skitterende strale inkom." (p. 31.) Oom Jakob egter voel dat die groot geleerdheid van sy maats eensydig is. "Op seker gebiede het ons ... vooruitgegaan, maar op ander ... is ons baie versleg" (p. 32). Hy is dan ook gewillig om aan die voete van die plattelander te sit en lesse van hom te leer. Ook Oom Kaas, die "diepgeleerde professor in geskiedenis" voel, dat die hele spul dalk sal verkeerd loop, dat die Agterna-trekkers bes moontlik Agterstevoor-trekkers sal word, en sy voorspelling kom uit.

Die vernaamste, doel van die skrywer is om die verwaandheid van die hooggeleerde akademiese here bespotlik voor te stel. Die heel eerste voorval gee al dadelik die toon aan. Die osse trek afdraand net so swaar as opdraand en terwyl hulle 'n geleerde dispuut hou oor dié raaiselagtige omstandigheid, kom 'n onnosele konstabel die moeilikheid oplos deur die styfaangedraaide briek los te draai! Dat klein Leon aan die ossewabriek dieselfde funksie as aan die van 'n outo se slinger toeskryf, is meer dan 'n gelukkige grappie; dit is meteens al 'n simboliese voorstelling van die groot afstand tussen die voortrekker- en die moderne beskawing.

Die trek is skaars aan die gang of die entomoloog vind uit, dat Oom Gert iets oor goggas weet, wat hy nog nooit in sy diepsinnige handboeke van gelees het nie, en met 'n ironiese laggie voeg die skrywer hom toe: "Neef Jan, ek het gemeen jy gaan vir die boere leer, nie hulle vir jou nie." (p. 54.) S.K., die professor in fiesika vind uit, dat al sy gekompliseerde instrumente en spitsvondige berekeninge minder vertroubaar is dan die kennis van die eerste die beste ou boertjie. En dan is dit nog boonop klein Botterkoppie wat hom tot die [Pg 236] erkentenis bring! Op die tuinfees slaan almal behalwe Oom Jakob 'n gek figuur. Die dorpelinge verskyn in trekkersdrag, maar die kastige trekkers in haastig bymekaar geskraapte Europese spektakels! Alles doen hulle agterstevoor! Die steekse motor van die dokter, wat deur die osse dorp toe moet gesleep word is weer 'n ironiese beeld—die moderne vernuf afhanklik van die ouderwetse trekkersmetode. Die professor kry in "'n hoekie van die Vrystaat" 'n resep vir heuning-bier, wat hy tevergeefs in sy geleerde foliante gesoek het, maar sy onbekendheid met die praktiese uitwerking daarvan besorg hom 'n wetenskaplike hallusinasie, wat tot 'n algemene bespotting aanleiding gee.

By die afgebrande huis loop die trekkers 'n gewone boer raak, met 'n ontwikkelde kunsgevoel en so 'n fyn beskawing dat dit hulle bewondering afdwing. Wanneer die trekkers by Kerkenberg kom, waar Piet Retief se naam op die rots staan, word die toon van die verhaal ernstiger. Die historiese gevoel ontwaak en Oom Kaas bevredig Emmie se weetgierigheid deur allerlei besonderhede oor die Voortrekkers se ossewaens mee te deel. Op die Natalse pad kom die piëteitsgevoel tot uiting in 'n humoristiese regsaak tussen ossewa en outo. "Ek het die Afrikaner Nasie gedra toe dit nog 'n suigeling was; en nou, op my ou dag, wil julle hê dat ek moet pad gee vir 'n bog kind, so jong dat hy self erken dat hy nog nie eers gebore is nie." "Grootgeraas" is 'n outo van "aanstaande jaar se model" en "Die Dromedaris" weier om pad te gee vir so 'n "aangewaaide, buitelandse ding—niemand weet eers wie sy ouers is nie!" (p. 210.) Hier is die soort humor aanwesig, wat volgens Schopenhauer is "der hinter den Scherz versteckter Ernst",[8] want uit so 'n toneel spreek die wil van 'n volk om die erfenis van sy voorvaders te bewaar "van vreemde smetten vrij".

Dirk vind nog 'n geleentheid om die "geleerde ape", S.K. en die Goggadoktor droog te sit. Hy verydel die grootskeepse opgrawingsoperasies van die twee deur die egte voortrekkervurk met sy pennemes uit te grawe, [Pg 237] terwyl 'n verroeste valse "versigtig in watte opgewoel" tereg kom in Jan se trommel. Dis 'n laaste verbluffende kopskoot op die dorre kamergeleerdes!

Die manier waarop die dansparty eindig is 'n bewys, dat die agternatrekkers tog onder die besielende invloed van hul voorvaders geraak het en hul onder al die malligheid goed ingeleef het in die gees van dié grootse tydperk met sy skrynende wee. As die maan wegraak, en die uile droewig skree, begint Antoon se viool "te huil soos 'n moeder oor haar kind se lykie.... Soos diegene wat pas 'n dierbare vriend in sy graf gelê het, uitmekaar gaan, so verdwyn nou stilletjies die gaste een vir een" (p. 235). Om 'n toneel van sulke roerende stemming in al sy innigheid uit te beeld—daarvoor was Van Reenen nie woordkunstenaar genoeg nie. Die oorgang van uitgelate malligheid kom te plotseling. Dirk se gulle lag oor sy welgeslaagde grap, sy "dis nou regtig 'n lekker bal" klink nog in ons ore as ons by die "stille snikke van sterk mans" kom. Maar ons voel tog iets van die stille plegtigheid van die oomblik en enkele dowwe dreunings van 'n verre dodemars kom uit die verte aansuis.... Verswak die skrywer nie die ernstige ondertoon van sy werk deur na so 'n toneel weer met minnepraatjies aan te kom nie? En smoor hy dit nie heeltemal deur die ragtime-klanke van die agterrede nie? Ek meen van wel.

Magteloos, totaal magteloos staan Van Reenen as woordkunstenaar teenoor die natuur. Die trekkers mag 'n "veldwasempie" opgevang 't—ons kry nie eers die ruik daarvan nie! "My hand het net gejeuk vir 'n kwas en verf om die pragtige kleure op doek of kaart te skilder, maar al had ek die gehad sou dit my darem onmolik gewees het om uit te druk wat ek gevoel het...." (p. 84). En met die pen kom hy ook nie verder as 'n gestamel oor die onbeskryflike kleure nie (p. 138). Dit is vir hom "'n soort heligskennis om die wonderwerke van die Natuur te veel in hulle teenwoordigheid te analiseer" (p. 152). Daarom moet ons tevrede wees met die kennis, dat hy 'n lekker pypie daar op die Nek gerook 't, en dat hy nooit moeg word van die Treurwilgers rondom die damme nie! (p. 85.)

[Pg 238] Beskouings oor bou- en skilderkuns, meubilering en musiek word in die verhaal ingevleg. "'n Mooi sandsteengebou gepleister met sement, soos klipwerk nagemaak" word die aanleiding om teen na-apery van vreemde kultuurvorme te waarsku (p. 86). Tussen die sekretaris en Antoon vind 'n kunsdebat plaas (p. 138 vlg.). As Van Reenen egter meen dat die doel van die kuns is om "die Natuur akkuraat ... weer (te) gee" (p. 141), dan is hy nog op 'n dwaalpad.

Met die taal sukkel hy ook nog baie. Sy woordskikking en voorsetsels is telkens verkeerd. "In Switserland[9], elke tien jaar voer hulle 'n toneel op wat gebeurtenisse in die lewe van die Here Jesus voorstel.... (p. 121); om aan die datum van die almanak te kyk (p. 102); wat ek voor strewe" (p. 141). Ook 'n hele paar anglisismes kom nog voor: "in herfs (p. 19); Harrismith Distrik" (p. 154) ens. Gebrekkige taalgevoel blyk o.a. uit die volgende: "Afrikaans het haar swak punte (p. 119); Basoetoeland wat haar berge vir ons wys (p. 138); die woede eienaar" (p. 42). Die juffrou M., op p. 153 moet blykbaar deurgaan vir 'n Hollandse, maar "dat berg" het sy tog seker nooit gesê nie! Hoe weinig "felicity in the flow of words" daar by Van Reenen is blyk uit kreupelsinne soos die volgende: "Dan kom die sonsondergang en asof 'n reuse skilder met 'n reuse rooi of rooskleur kwas die landskap skilder, neem die blou berge 'n rooskleur skynsel aan. Dan word die kleur meer en meer pers." (p. 138.) Ook die beeldspraak is weinig oorspronklik: "die deken van die grappe (p. 137); 'n lugkombers" (p. 237). Beets is ook versot op die banale deken- en mantelbeelde (vgl. XXI). Sou hy nou werklik gemeen het, dat sy erbarmlike gerymel in dieselfde hoofstuk vir poësie moet deurgaan?

Die dialoog word meestal gekenmerk deur 'n besonder losse natuurlikheid en tallose lewendige toneeltjies getuig van groot plastiese talent. Sommige daarvan is egter skadelik vir die eenheid van die werk en dit geld ook van enkele langer vertellings, wat die aandag op [Pg 239] storende wyse van die hooftema aflei. Dit is o.a. die geval met hoofstuk XXIV, wat "Herinneringe uit die Engelse oorlog" bevat. Daar is nog meer sulke uitweidings, wat die verhaal soms na 'n versameling van los anekdotes laat lyk.

§ 3. Adv. C.J. Langenhoven.

(Sagmoedige Neelsie).

Sonde met die Bure, (1921).

"Die ou wêreld is nou so treurig donker.... Om my dan self 'n bietjie op te beur—en as ek dit kan regkry, menige ander arme drommel ook wat altemit teen dieselfde versoeking moet stry om nie maar gedurig miesrabel te voel nie ... (het) ek hierdie noukeurige en onverbloemde verslaggie geskryf van 'n baie gelukkige vakansieplan...." (p. 1-2). Die ou wêreld het té treurig geword, en daarom sit Langenhoven die hele werskaf onderstebo neer. Sy bure het hom versondig en nou sê hy: Ek maak soos ek lekker kry en kom julle nog verder met my lol, dan koggel ek julle almal uit! Dit is so ongeveer die stemming waarin Neelsie geskryf het.

Sy vrou wou haar nie laat vermaak deur die weelderige leefwyse van haar bure nie—dit was in die dae van Oudtshoorn se volstruisgloria. Sy het aan hom gekarring en al sy besware "doodgealmiskie". Hy koop "'n afgeleefde tremwa" in die Kaap, en toe agtien osse die soort strandhuis nie kon trek nie, verower hy op 'n sirkusvendusie die olifant, Herrie. Dwars deur die dorp gaan die tog, Olifantsrivier op. Almal wat hom lastig val raak lelik gepier. Die burgemeester is eerste aan die pen en sy bemoeisug gee Neelsie 'n kans om sy ergernis oor belastingkwellings te lug. Op Stolsvlakte raak die pad versper deur die slingerende gevaarte en van weerskante word die verkeer opgedam. Maar Herrie verwilder die spul met sy gesnork deur 'n motorbeuel. So ver as Neelsie gaan versondig hy sy bure—maar hulle het mos eerste begin te lol! En hy slaan nog geld uit hulle ergernis ook om vir Engela, sy dogter se [Pg 240] numodiese klere te betaal! Dit word 'n wraakneming van 'n getergde man. Die magistraat, Afdelingsraad en geregtelike mag agtervolg hom, maar moet met hangende pootjies en skoongewaste koppe stamp-stamp huistoe ry oor 'n omgeploegde pad. In Meiringspoort vind hy eindelik rus—vir 'n tydlank ten minste. Daar raak hy aan filosofeer oor "al die nietige ou mensies op aarde" (p. 61) en die wondere van die skepping. Maar die lekker rooipit perskes, wat gedienstige jongkêrels vir Engela aandra, laat hom uitvaar teen die nuwe soorte, wat allerhande plae in die land gebring 't. En 'n stapel koerante maak hom briesend! Vroutjie peuter aan hom oor sy ongeselligheid en as gevolg praat hy die arme dominee skoon dronk van pure gasvryheid. Met 'n groot reent raak die kos skaars, maar die jongkêrels knoop al De Rust se kabeltoue aan mekaar om oor die kranse van dertienhonderd voet nuwe voorraad en ... Engela se beste vryer af te hys!

Een van die afdrifsels op die rivier is 'n dronk Hotnot, wat onder die sing van "God save the King" op 'n stomp afdryf! "Ons het later gehoor dat hy deur Oudtshoorn se distrik met Olifantsrivier af is, al singende "Rule Britannia". En die laaste berigte wat van hom bekend is, is dat hy onder Gouritzrivier se brug deur is see-toe met die laaste van sy drie liedere. Dit was "Home Fires" (p. 93). Kostelike ironie!

Oom Hendrik kom ook aangespoel om 'n goeie spook-storie te vertel. En met sy vasgereende bure kom Neelsie gelukkig so goed klaar, dat selfs die arm-blanke-vraagstuk aan sy geselligheid geen afbreuk doen nie. Engela is ook in die skik met haar uit die lug gevalle vryer en die hele wêreld kom so stadig aan weer reg.

Skaars is die pad egter rybaar of die "sondesoekery" begint weer. Twee deputasies kom Neelsie vra om hom verkiesbaar te stel, Prins Albert vir die volksraad en Oudtshoorn vir die stadsraad. Prins Albert hoop om op die manier sy paaie ongeploeg te hou en Oudtshoorn sê: "Ons wil hê jy moet so vas wees in die dorp dat jy nooit weer daar uitkom nie" (p. 118). Dit is die laaste, maar glad nie die enigste klap wat Sagmoedige Neelsie aan sy eieliefde gee nie. Die [Pg 241] "sagmoedigheid" van hom is sommer bossies. Juis die manier waarop hy daarmee omspring, sy koddige pogings om kastig eie vernaamheid te handhaaf en homself te rehabiliteer is een van die besgeslaagde humoristiese trekke. "Neelsie, ons bring jou De Rust se groete. Jy weet hoe lief ons jou het. Moenie laat daar iets tussen ons kom nie.... Bly op Oudtshoorn.... En die beswaar het ek gewaardeer.... En tot vandag toe het daardie mense my nog lief. Ek moet darem maar 'n goeie man wees" (p. 46).

Komieklike verdraaiings, woordspelings en paradokse, die eienaardige nuanse wat hy in geestige maar ook in die eenvoudigste opmerkings lê—dit is 'n paar middels wat gebruik word. "Soos die ou spreekwoord tog sê, as 'n mens dom is moet jy slim wees." (p. 6); tafelpote "moet glo op een of ander manier ongelyk wees om gelyk te wees." (p. 10); "Ek wil nie altyd wil nie, maar as ek darem nou wil, dan wil ek, of as ek nie wil nie, dan wil ek nie." (p. 23.) Met 'n paar woorde bereik hy soms 'n mooi effek. Nadat hy 'n opsomming gegee het van al die swaar goed wat op die tremwa is, voeg hy so ewe droog by: "En Engela se klere." (p. 48.) Anders kom hy weer met groot vertoon van erns die mees vanselfsprekende feit vertel: "Engela en Willem het hulle, met prysenswaardige bedagsaamheid jegens ons ouere smaak, onderwerp om maar besonders van ons geselskap te bly en met hulle eie tevrede te wees, by gebreke aan beter." (p. 110.)

"The sense of the Comic is much blunted by habits of punning and of using humouristic phrase: the trick of employing Johnsonian polysyllables to treat of the infinitely little. And it really may be humorous, of a kind, yet it will miss the point by going too much round about it."[10] Gelukkig kan dit nie van Langenhoven gesê word nie. Hy maak 'n spaarsame gebruik van al die foefies en om die bos loop hy ook nie. Mens kry by hom, wat Meredith noem "stout animal laughter", maar ook "spiritual laughter".

"Die geagte leser kan glo wat hy wil en as hy nie [Pg 242] wil nie kan hy laat staan," sê die skrywer in sy voorwoord. Maar die onwaarskynlikheid is in so 'n verhaal 'n deug. "There is nothing more powerfully humorous than what is called keeping in comic character ... (i.e.) consistency in absurdity; a determined and laudable attachment to the incongruous and singular. The regularity completes the contradiction; for the number of instances of deviation from the right line, branching out in all directions, shows the inveteracy of the original bias to any extravagance or folly, the natural improbability, as it were, increasing every time with the multiplication of chances for a return to common sense, and in the end mounting up to an incredible and unaccountably ridiculous height, when we find our expectations as invariably baffled. The most curious problem of all, is this truth of absurdity to itself. That reason and good sense should be consistent, is not wonderful: but that caprice, and whim, and fantastical prejudice, should be uniform and infallible in their results, is the surprising thing."[11]

Nou is daar nog 'n paar "muggies"[12], wat moet katswink geslaan word, vóórdat hulle ons slaapsiekte kan gee! In Die Brandwag (15 Mei 1912) het Langenhoven gepleit vir "sulke handige woorde as: mistyk, baaisikkel, drein, spiets, toast". In dieselfde artiekel kom voor: papier (krant), gedrop, hendikep, remnant, op te dres. As 'n takhaar, soos Oom Stoffel in Doppers en Filistyne praat van "die haai sosaaietie van die dorp", dan het ons daar vrede mee. Ons sien hom sy neus optrek vir die hele gedoente en hoor in die klank al sy veragting. Dit is dieselfde beginsel wat hom laat sê Broes Dekstrooi en Makpaatrie en dit tiepeer die man meteens. Maar die gereelde gebruik van die sogenaamde "handige woordjies" moet stellig afgekeur word en dit kan ons met Langenhoven se eie woorde doen: "Sal 'n groot Afrikaanse letterkunde ooit ontstaan, dan sal hy groot wees omdat hy Afrikaans is: Afrikaans in sinsbou, idioom, taalgenie, taalopvatting, taalgevoel, taalstandpunt." (t.a.p.). In Sonde met die Bure stuit ons taalgevoel [Pg 243] op: "bargain (p. 16), trieks (p. 18), sake in order bring (p. 22), kerrietse (p. 36), wybel (p. 98); ons dogter Engela had ook intussen teruggekom (p. 20); nie alleen dat Vroutjie haar daaraan sou moes versoen.... (p. 15); Vroutjie gee my weer 'n kyk" (p. 88). En is die vorm aan die gesels (p. 41) nie veel meer Afrikaans nie as aan 't afkom, aan 't uitspan, ens.?

Doppers en Filistyne, (1922).

"Nou ja, net soos Delila met Simson gemaak het—gekerm en gekarring tot sy haar sin gekry het—net so het Soetlief met my gewerk tot sy my oorgelewer het aan die dorpse Filistyne" (p. 7). Soetlief volg dieselfde taktiek as Vroutjie. Sy is moeg vir die rustige plaaslewe en dwing dorp toe om ook in die "adelkringe" te kom. Oom Stoffel, 'n opregte ou takhaar moet toegee en dan begint die sonde met die dorpse bure, en die dorpse gewoontes. Alles is "blink bedrog". In plaas van sy koele rietdakhuis trek hy in "'n moderne ongerieflike verspotterigheid ... wat jy kon omstoot buiten dat die uitgeknipte blikversierseltjies jou hande sou stukkend sny." (p. 18.) Van "sonde en ergernis en dorpse modes en dorpse vleis en brood" word hy dodelik siek. Neelsie jaag hom die stuipe op die lyf en as die dokter hom wil opereer, slaan hy die kêrel "dwars oor die wastafel" en vlug na die plaas.

By sy terugkoms begint die spokery met sy buurman Makpaatrie oor die waterlei-beurt. Steekbaard, die ou plaashond bevlieg die Skotsman, want hy reken: "'n Vroumens met 'n lang rooi snorbaard en rokkies bokant die kaal knieë—nee, soiets moenie wees nie" (p. 63), En hy veroorsaak nog meer moeilikheid deur 'n slagting onder die Skot se "uitheemse soorte bog-ongedierte".

Die anderkantse buurman was "Ja-mes Wénderbaail". Miesies Ja-mes gee Soetlief 'n kursus in dorpse beskaafdheid, maar Oom Stoffel hou sy lyf nog altyd takhaar. Die onderhoud tussen hom en Miesies Ja-mes is 'n meesterstuk van vlymende satiere. (p. 73-75.) Soos Langenhoven die verengelste Van der Byl-famielie [Pg 244] geteken 't sal hulle bly lewe in ons letterkunde. Hier is hy werklik 'n "virtuoos van het sarcasme".

Neelsie se joernalistieke ervaring kom Oom Stoffel te pas as hy die Taaims-vaatdoekie aan flenters skeur en die hele redaksie met sy karreekierie deurloop. Die Progressiewe Hollandse predikant word ook ongenadig geroskam. As Neelsie met 'n vernuftige varkeberekening bewys, dat Oom Stoffel koninklike bloed in sy are het skaam die ou hom bitterlik. "Ek het gedog my peddekrie was skoon"! (p. 113.) Dit is die ou Boeretrots wat met al sy veragting van uitheemse tietels hier opflikker.

Engela se klererekening bring vir Neelsie "in die verknorsing" en dit gee aanleiding tot 'n humoristiese hofsaak. Die gedig wat hy in die tronk maak, het egter onder sy verdrietige stemming gely.

"Die dorpse duiwels se naam is legio" en in die loop van die verhaal kry meer as een 'n goeie raps onder Oom Stoffel se kierie. Dit word 'n deurlopende veroordeling van alle nuwe boggedoentes, van die "met blink klatergoud-beslane doodkis", die "Mayoral Sunday", die ingevoerde Engelse honde tot die vrot perskes, pere en appels met fensie-name en fensie-wurms om maar 'n paar te noem. Oor alles moet hy sy takhaar-wysheid lug, en as hy nie te kwaad word nie, laat hy ons glimlag oorslaan in 'n onbedaarlike skaterlag. Al die nuwerwetse verspotterigheid word met die ou plaaskierie goed deurgeloop.

Dan kom egter "'n groot versoening ... my ou teëparty is almal bekeerd; wat my vyande was is vandag my vriende" (p. 136). "Soos met 'n towerslag is ons gevoelens teen mekaar verander en van onverdraagsaamheid tot liefde oorgegaan. Makpaatrie en Broes is nie meer uitlanders nie; hulle is Afrikaners.... Op die ent van vergaderings en konserte sing ek God save the King uit volle bors ... (p. 67). Die groot versoening het nie alleen van die Engelse Jingo's Afrikaners gemaak nie, maar ook die Afrikaner-Jingo's bekeer (p. 86). Voortaan werk Oom Stoffel saam met Miesies Ja-mes by die verkiesings.

Maar die kastige "versoening" is juis die toppunt van alle ironie! Oom Stoffel gee homself sy eie doodsteek! [Pg 245] Hy het die teëparty so ongenadig gekneus en gelooi, dat ons voel dat húlle nooit ofte nimmer met hom kán saamwerk nie. Hoe moet ons dan die psigologiese raaisel van die versoening verklaar? Delila-Soetlief het die ou takhaar se baard afgeskeer! Nie alles nie—hy het nog heelparty van sy ou swaap-nukke—maar Soetlief "knip elke oggend (s)y bokbaardjie vir (hom) met die skêr reg volgens die nuutste S.A.P.-mode" (p 142). En al die tyd verbeel hy hom, dat Soetlief en sy ou vyande "aan (s)y kant kom staan het en saam met (hom) voel vir die beginsels en ideale, wat (hom sy) lewe lank besiel het ..."! (p. 141.) So kom daar 'n vlymende politieke ironie in die boek. En dit is 'n raak hou, omdat Langenhoven dit reg gekry het om die ou takhaar homself te laat veroordeel.

"If you detect the ridicule, and your kindliness is chilled by it, you are slipping into the grasp of Satire. If instead of falling foul of the ridiculous person with a satiric rod, to make him writhe and shriek aloud, you prefer to sting him under a semi-caress, by which he shall in his anguish be rendered dubious whether indeed anything has hurt him, you are an engine of Irony."<ref.Meredith, t.a.p., p. 79.</ref> Die "satiric rod" was Oom Stoffel se kareekierie; die "semi-caress" het van Soetlief gekom.

"The foppish irony fretting to be seen, and the irony which leers, that you shall not mistake its intention, are failures in satiric effort pretending to be treasures of ambiguity"[13]. Omdat Langenhoven so goed daarin geslaag het om ook hierdie fout te vermy, daarom sal die satiere ook vir later tyd sy oorspronklike frisheid behou, wanneer die politieke koaliesie daarin gehekel al lank reeds tot die geskiedenis behoort. Hy het self die grootste gedeelte van Oom Stoffel se ervarings deurleef en kon die oubaas teken in 'n stemming van vergewende spot. Sy humor is soos Höffding sê "das Gefühl des Lächerlichen auf Grundlage der Sympathie". Al is hy vandag Oom Stoffel se politieke teenstander, hy het die ou bondgenoot nog lief. "Der Humor trägt die [Pg 246] Versöhnung im Gemüte. Er unterscheidet sich von dem Witze, dasz er an den Dingen mit denen er spielt einen innigen Herzenanteil nimmt, und das die Lust des Lachens ein inniges Mitgefühl der Rührung für das Verlachte begleitet und durchklingt."[14] Die simpatie behoort Langenhoven in staat te stel om ook die langsame groeiproses van die versoening in Oom Stoffel se gemoed uit te beeld.

Oom Stoffel word ons voorgestel as 'n ongeletterde takhaar. Sagmoedige Neelsie, sy neef skuld hom 'n klompie geld en die moet sy spelling en interpunksie verbeter. Dat Neelsie die Akademie-spelreëls op krietiese wyse toepas—daaroor sal weinig hom seker berisp; maar van die kommas het hy seker 'n goeie honderd vergeet. "Inhoud woordekeus en styl"—alles is van Oom Stoffel. Hoe goed Neelsie hom ingeleef het in die psiege van die ou takhaar blyk uit iedere pagina. Oom Stoffel word vir ons 'n lewende persoonlikheid. Hy redeneer met die egte boere-logika. "Soetlief het rooihare. Met 'n rooihaar-ding—of jy hom ruil of koop of aanteel of trou; hoé jy hom ook kry—steek jy jou in 'n waag." (p. 19.) Dié stelling bewys Oom Stoffel deur sy ervarings met vosperde. "Onder al ... die klomp was maar een goeie. Nou kan die leser by homself uitsyfer wat die kanse is wanneer 'n man 'n rooihaar-ding aanskaf." Dit is 'n raak psigologiese uitbeelding, wat ons direk tref deur sy egtheid. Ook Oom Stoffel se gesukkel om die hoe en die waarom van al die dorpse instellings en gewoontes te verstaan is goed weergegee. "Hoe dít uitwerk weet ek nie en Neelsie kan my dit ook nie uitlê nie.... Waarom kan die Engelse kerk my kerk vat en hom uit 'n blote dorp optel en in 'n city neersit?" (p. 29.) Dit is deur sulke trekke, dat Oom Stoffel lewendig voor ons kom staan. Hy bly nie in die boek nie. Die dorpelinge het straatlampe, "om hulle op hulle pad hel-toe te verlig" (p. 34). Die dokter "kap met die punte van sy vingers oral oor my bors en my maag rond nes 'n houtkapper aan 'n vrot wilgerboomstam" (p. 46). "Waarom sou ek daardie ou koeie uit die sloot opgrawe en aan hulle dooi [Pg 247] beendere kou en gallamsiekte kry?" (p. 136). "Ou Ja-mes wat anders so suinig is dat hy 'n vlooi sal afslag en dan die soutkorreltjie viermaal middeldeur maak om die vel in te pekel" (p. 84). Uit sulke en tallose ander voorbeelde blyk hoe diep Langenhoven ingedring het in Oom Stoffel se gedagtewêreld. Oom Stoffel is 'n afsonderlike persoonlikheid. Hy leef, en hy leef sy eie lewe. Hy praat ook sy eie taal, maar wanneer hy skryf, dan herken ons af en toe Neelsie se gladdigheid, regsgeleerdheid en humor. Opvallend is dit nie, maar ons voel dit tog in sinne soos die volgende: "Maar toe die ou weer met my oor die muur aan 't raas gaan, beskuldig ek hom dat hy met vrou en kinders en volk, en met die medepligtigheid en korrupsie en kollusie van ou Broes Dekstrooi, my stelselmatig van my water besteel." (p. 66.) Só kan 'n ou takhaar nie skryf nie.

Enkele minder gelukkige uitdrukkings kom voor: "gedryfde gelukjag (p. 17); dat ek aan 'n boek aan 't skrywe was"[15] (p. 1); ook 'n paar anglisismes, o.a. "die doem van die Adamskind (p. 26).

"Ek het geen rede om te dink dat Oom Stoffel Multatuli lees nie," sê Sagmoedige Neelsie (p. 83 voetnoot). Ons ook nie, maar vir Neelsie self moet Multatuli in baie opsigte 'n simpatieke skrywer wees. Fonkelende vernuf, bytende sarkasme, 'n voorliefde vir paradokse en soms ook vir oud-testamentiese wendings, dit en nog meer het Langenhoven met Multatuli gemeen. Ook sy spelling-opstandigheid en afkeer van "hooggeleerde akademiese here" en deskundiges herinner ons aan Multatuli. "Die geleerde mense is alleen geleerd—die verstandige mense is ongeleerd" (p. 135). "Die land wemel van skitterende deskundiges" (Die Burger, 14 Aug. 1922). En dat hulle self so weinig presteer en net "die verstandige mense" se werk wil kritiseer—dit steek Langenhoven in die krop. Is dit nie of ons Multatuli se uitdaging hoor aan die "hooggeleerde Muurling": "Laat zien wat gij voor den dag brengt, gij ... geen doctorandus meer, maar doctor, leeraar! Gij, geen doctor meer, geen [Pg 248] leeraar meer, maar hoog-doctor, hoog-leeraar, leeraar van doctoren, doctor van leeraren, opperleeraar, opperdoctor!" (Idee 279.) "Komäan, hoog-geleerden en zeer-geleerden, lever eens wat volkeren-wijsheid aan 't volk dat uwe wijsheid in huur heeft, en betaalt!" (Idee 281.) Sou Langenhoven hom nie met Multatuli vrolik maak nie oor "den armen speciaal-professor die gestruikeld is over 'n speciaal eigenschapje van 'n speciaal-atoom zijner specialiteit"? Ons gun hom die plesier, as hy maar onthou dat 'n kunstenaar nog iets anders is as 'n hooggeleerde.[16] En ons lag saam met hom oor "taal- en spelling-grille" as hy net nie in ernstige letterkundige werk daaroor peuter nie![17]

VOETNOTAS:

  1. In Die Huisgenoot, Jan. 1921, waaraan hierdie lewensskets ontleen is. Enkele feite kom uit Die Brandwag, Des. 1918.
  2. Twede druk 1909. Die datum van die eerste druk is my onbekend. Doppers en Die Boervrou word in hoofstuk X bespreek.
  3. Vgl. Boshoff: Volk en Taal van S.A., p. 76 vlg.
  4. Des. 1918.
  5. Derde druk, p. 31.
  6. Vgl. Richteren 15:15.
  7. Voorwoord by die 3de uitgaaf.
  8. Welt als Wille und Vorstellung II, p. 109.
  9. Bedoel word Oberammergau, wat tog nie in Switserland lê nie. Vollendam op p. 120 moet wees Volendam.
  10. An Essay on Comedy by George Meredith, p. 65.
  11. English Comic Writers: W. Hazlitt, p. 10. (Bohn's edition).
  12. Sien voorwoord, No. 4.
  13. id., p. 83.
  14. Backhaus: Das Wesen des Humors, p. 70.
  15. Vgl. Sonde met die Bure: "En toe gaan ek aan 't skiet aan die haan", p. 24.
  16. Oor die onvrugbaarheid van akademiese professore het Langenhoven hom herhaaldelik uitgelaat. In Die Banier, Julie 1921, beweer hy selfs, dat dit daarna lyk of 'n akademiese opleiding vir die vorming van 'n kunstenaar noodlottig is—wat seker 'n onjuiste bewering is. So 'n opleiding "het uitgeloop, nie op 'n mislukking nie, maar op 'n sukses: op die sukses van 'n beoogde mislukking, want hy was opsetlik bereken om te misluk"! Vir sulke spitsvondigheidjies is Langenhoven maar àl te lief!
  17. Vgl. b.v. Ons Weg deur die Wêreld2, p. 81: "gesteelde—nee, gestole moet ek sê—...." In Aan Stille Waters is daar ook spellinggrappies.