Die liefde is lankmoedig/Hoofstuk XII

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Hoofstuk XI Die liefde is lankmoedig
Hoofstuk XII
deur T. C. Pienaar
Woordenlijst


XII.

Dit het vir die Bosmans en Juffrou gelyk asof Esme se vertrek haar man nie veel leed besorg het nie. Hy het nooit weer van haar gepraat nie, en hulle het ook haar naam en herinnerings aan haar in sy teenwoordigheid vermy.

Dis of Meneer toe eers ware belangstelling in die lewe vind, toe eers besef dat die kind werklik aan hom behoort.

Dat Ludie 'n buitengewone kind is, word vir hom ál duideliker. Hy stel sy pa soms vrae oor dinge waaraan die gewone grootmens nooit sou dink nie.

Omtrent altyd is die twee bymekaar. Hulle maak saam waentjies en karretjies wat hulle in pragtige kleure verf. Hy koop prenteboeke waarvan hulle die prentjies inkleur, en gou teken Ludie self prente wat die grootmense verbaas. Op sesjarige leeftyd is hy so ver soos 'n standerd-twee-kind gevorder in die skoolvakke. Juffrou meen dat dit is omdat hy so baie opvoedkundige aandag geniet, maar Meneer is seker dat sy seun buitengewone gawes en talente besit. Op daardie tekens bou hy voort vir die toekoms. Hulle sal altyd saam wees. Waar die kind moet gaan, sal hy ook gaan. As Ludie dorp toe moet gaan na 'n hoërskool, sal hy 'n betrekking daar kry en saam gaan, al moet hy dan weer op sy ou dag saam met die seun in 'n skoolkoshuis gaan woon - miskien as huisvader. Wanneer Ludie na die universiteit moet gaan, kan hy maar weereens van betrekking verwissel en hom stad toe vergesel. En as die tyd aanbreek vir oorsese studie sal hy moet aftree op pensioen, en dit sal hom ook goed doen om dan 'n paar jaar oor see te gaan. Sy assuransiepolis en pensioengelde behoort uit te kom totdat Ludie kan verdien, en dan sal hy weer vir sy pappa sorg. Oor die troudag van die seun kwel hy hom glad nie, want hy weet dat hy nie ou bene sal maak nie, en dan hoop hy om onder die grond toegegooi te wees.

In alles wat hy doen hou hy rekening met Ludie, en saam met die groei van die kind bloei sy lewenskrag opnuut. Sy lewe is nie meer enkel 'n bestaan wat met sy dood sal eindig nie, dit het perspektief gevind in 'n nageslag. Sy arbeid en dade, ja, selfs sy karakter en persoonlikheid word onsterflik deurdat die kind dit sal oordra van geslag tot geslag.

So gesels hy saans met sy vriende, wanneer die outjie al in die bed is, want die vriendskap het nou hegter geword as ooit, en as hy nie saans by hulle is nie, is hulle by hom.

Dis vir Ben en Hester baie gaaf dat Meneer so 'n groot troos vind in die kind, en hulle moedig hom sterk aan in sy verwagtings. Maar Juffrou swyg onrustig wanneer hy so begin praat asof hy die kind se siel en liggaam in sy eie hande het, asof dit aan hom alleen te danke is dat die kind so skrander en volmaak is, en asof hy sy toekoms kan bepaal. 'n Mens moet nooit jou ganse lewensloop op aardse dinge stel en jou so vasmaak aan die dinge van die wêreld nie. Sy het die kind net so lief soos hy, maar jy moet 'n mens nooit verafgood soos hy met Ludie doen nie; dit kan nie goed wees in die oë van die Here nie.

Sy lewe saam met die kind word vir Meneer 'n aaneenskakeling van dae vol van vreugde en ryk aan arbeid, want nou word sy salaris elke maand met 'n bepaalde doel gebank. Elke dag word 'n openbaring van groter moontlikhede, meer vooruitsigte....

Saam met Ludie besoek hy die ouers van die skoolkinders, en dis vir die mense te goed om te sien hoe manierlik en verstandig Meneer se seuntjie is. As hulle by mense kom, groet hy sonder skroom met die hand, sê ewe "Dag, oom; dag. tante", en vra "Hoe gaan dit nog", net soos 'n groot-mens, voordat hy gaan sit. Hy gaan nie speelmaats buite soek soos ander kinders nie, maar bly in die grootmense se geselskap, praat saam, vertel wat hy gesien en gelees het en stel vrae wanneer hy nie volg wat daar gepraat word nie.

"Die kind is klaar groot", sê hulle dan. En as Meneer weg is praat hulle bekommerd oor wat miskien vir hom in die toekoms wag; want die bygeloof is dat 'n kind wat voor sy tyd groot is, nooit opgroei nie.

Selde kom Meneer en Ludie terug van so 'n besoek af sonder beskuit, biltong, droëperskes, of selfs 'n paar eiers voor op die fietse. Dit word kastig net aan Ludie alleen gegee, maar Meneer eet net so lekker saam.

Een middag ná skool terwyl hulle aan tafel sit, sê Ludie: Pappie, Kosie en Annie Roets was nie vandag in die skool nie".

"So? Die stouterds. Ek sal hulle more voor stok kry", antwoord Meneer,

"Ek dink hulle is siek", deel die kind verder mee.

"Siek? Waarom dink jy so?"

"Gister het Kosie vir my gesê sy kop is baie seer. En Annie was heeldag so rooi in haar gesig dat Juffrou haar gevra het of sy siek voel."

"Dis jammer", sê Meneer net, en gaan aan met sy maaltyd.

"Gaan ons nie vir hulle kuier as hulle siek is nie?" vra Ludie later, en Meneer glimlag.

"O, nou sien ek waarheen jy mik. Jy wil hê ons twee moet gaan rondry vanmiddag. Is dit jou plan?"

"As pappie wil", sê hy, bly dat sy pa so gou verstaan.

Nadat hulle 'n bietjie gerus het, ry hulle. Ludie neem vir die siek kinders van sy prenteboeke en pastelle saam, soos Juffrou gewoonlik doen wanneer sy 'n siek kind besoek.

Die middag daar is hy nie in die grootmense se geselskap nie, maar hy speel by die kinders in die kamer op die bed totdat hulle weer ry.

Die mense meen dat dit sommer swaar verkoue is wat hulle het.

Die volgende dag is die Roetse se bywoners se drie kinders ook afwesig.

Meneer en Juffrou vermoed dadelik dat hulle ook siek is. "Dis waarskynlyk 'n aansteeklike siekte, masels of so iets", meen Meneer.

Om homself te oortuig, ry hy daardie middag weer oor, maar nou stuur hy Ludie eers weg na die Bosmans toe.

Dit blyk dat die Roets-kinders baie erger is as die dag tevore. Hulle koors is besonder hoog, en soos hy kan vasstel volgens hulle kla, en wat die ouers sê, lyk dit soos masels. Die bywoners se kinders toon dieselfde simptome, maar hulle het al masels gehad, daarom twyfel die mense of dit masels kan wees.

Meneer raai aan dat hulle 'n dokter moet laat uitkom, maar mnr. Roets het nie tien pond om te mors op 'n gewone kindersiekte nie.

Daarby laat hulle dit bly. Is daar meer kinders al aangesteek, dan is dit tot daarnatoe. Dié siektes kry 'n mens tog eenmaal in die loop van jou lewe, en dis 'n bate vir 'n kind om daar vroeg aan gesout te wees. Kinkhoes, masels, pampoentjies - al die siektes is deel van 'n mens se laerskoolloopbaan.

Gedurende die eerste week kom daar geen verdere gevalle voor nie. Maar Juffrou is bekommerd want die toestand van die Roets-kinders is baie ernstig. Elke middag ry sy oor met ligte kossies vir hulle en die bywoner kinders. Sy gaan nie in die kamers in nie, omdat sy dan die siekte kan versprei. Sy is van mening dat dit skarlakenkoors is, maar niemand wil haar glo nie.

Selfs Meneer kan die saak nie ernstig beskou nie.

"Die wat gesout is, is daar deur", sê hy, "al is dit wat se siekte".

"En die wat nie deurkom nie?"

"Word engeltjies", antwoord hy ligsinnig. Hy kan tog nie 'n dokter gaan inroep vir ander se kinders nie, en Juffrou word vervelig. Sy kan omtrent van niks anders praat nie. Wanneer 'n mens met jouself tevrede en gelukkig is, wil jy nie elke dag daaraan herinner word dat ander in nood verkeer nie. Dis erg genoeg dat Ludie hom die saak aantrek, en soms lank, stil, diep ingedagte sit.

Omtrent die agste dag was hulle pas by die skool, toe Ludie verskrik na hom toe kom.

Hy is besig om werk op die bord te skryf, en hoor die kind langs hom saggies roep: "Pa! Pappie!"

Daar is soveel angs en verslaenheid in sy stem dat Meneer verbaas omkyk.

Ludie is spierwit, en sy oë vol trane. Sy mondjie bewe so dat hy nie kan praat nie.

"Pappie...."

Meneer gaan sit, en neem die verbouereerde kind in sy arms.

"Wat is dit, my seun? Kom, sê my mooi; wat is dit?" paai hy hom.

"Kosie.... Pappie...."

Meneer skrik geweldig.

"Wat van Kosie...."

Hy skud net sy kop, en verberg sy gesig teen sy pa se bors. Dié hou hom styf en beskermend in sy arms.

Dis of 'n verskriklike bedreiging plotseling oor hulle gekom het, en hulle oorweldig met angs.

Meneer kyk op, en sien Juffrou in die deur staan. Dis of sy daar staan om 'n oordeel, 'n vonnis uit te spreek. Of sy wil sê: "Sien jy nou. Jy wou my mos nie glo nie!" Maar wat kon hy daaraan doen? Dit was nie sy saak nie. Dit is nie sy skuld nie. Hy het daar waaragtig niks mee te doen nie.

"Wat is dit, Juffrou?" vra hy bars, met aanval en verset in sy oë.

"Nee, niks. Ek sien jy weet al", antwoord sy koel, en stap weg.

Waarom stap sy weg?

Waarom kon sy nie iets vir hom sê nie? Kyk hoe beef sy kind. Kon sy dit nie sien nie! Koud draai sy haar rug op hulle in hulle nood. Sy het dit nog nooit gedoen nie. Waarom nou?

Hy sit daar. Hy sit met die kind vas in sy arms. Veraf is daar die geluid van kinderstemme wat speel en baljaar op die gronde, net soos ander dae, en iewers is een wat stil is.... dood. 'n Kind wat verlede week in een van die banke gesit het, is dood!

Dood! Dood! Die besef van die woord is ontsettend.

'n Lewe vir ewig stil.

'n Liggaam wat terug gaan na die aarde.

"Mnr. Luderitz, gaan die klok nog lui vanoggend?" vra Juffrou in die deur.

Hy kyk op.

Sy het terug gekom.

Haar stem is nie nou so hard en koud nie.

"Dis al 'n halfuur oor die tyd", sê sy.

Hy skud sy kop.

"Sal ek lui, en algar net sê?"

"Asseblief."

Juffrou lui die klok.

Ludie maak hom los uit sy vader se arms en gaan neem sy plek in.

"Bly liewers by pappie", sê Meneer, bang dat hy weer ontstel sal raak.

"Nee, ek wil hoor wat Juffrou sê."

Hy is uit.

Juffrou praat met die kinders in die kamer langsaan.

Daar is 'n groot stilte. Sy bid. Hulle sing.

Later word dit stil op die gronde want al die kinders is huis toe.

Dis of alles wat gebeur, elke oomblik, onuitwisbaar gegrif word in sy geheue.

Waarom? Waarom die ontsettende verslaenheid? Dis tog nie sy kind wat dood is nie? Ludie is nog daar. Hy makeer niks. Hy is 'n slim kind, en sal ver leer, een van die geleerdes van die wêreld word wat lig sal bring in hierdie duisternis van onwetendheid. Hy sal dokter word, 'n vegter teen die dood, 'n stryder vir die lewe. Hy sal verhoed dat kinders doodgaan. Kinders mag nie sterf nie. Dis 'n paradoks, 'n nodelose verkwisting van materie en energie. Waarom moes hulle sukkel om vir Kosie te leer lees en skryf? Waarom moes sy ouers hom tien jaar lank versorg? - Verniet.... verkwisting.... verkeerd. Hy moet dit aan Juffrou sê. Hy moet haar nou daarop wys. Sy weet mos altyd beter.

Hy gaan huis toe, maar sy en Ludie is nie daar nie.

Sou sy tog nie so dwaas gewees het om die kind na die sterfhuis te neem nie?

Eers gaan kyk hy by die Bosmans.

Toe hy naby kom, sien hy haar en Ludie by die kraal - eintlik by die varkhok.

Die kind kom hom verheug tegemoet gehardloop en skree: "Pappa, tant Hester se vark het kleintjies gekry! Kom kyk net."

Die kind se kleur is weer natuurlik. Hy makeer niks. Dankbaar glimlag Meneer in Juffrou se oë. Só het sy hom gou oor die skok gehelp.

Meneer vang 'n varkie, en Ludie gil van plesier om so 'n klein diertjie te hoor skree.

Sy handjie streel die nuwe lewetjie. "Is dit nie mooi nie. "Siestog!" sê hy.

Daar is nie weer van Kosie of die begrafnis in sy teenwoordigheid gepraat nie.

Meneer is dadelik stasie toe om die distriksgeneesheer van die dorp af per telefoon te ontbied.

Hy kom en verklaar dat die kinders skarlakenkoors het.

Dis net soos Juffrou gesê het. Sy is altyd reg. Sy is 'n wonderlike verstandige mens. In geval die siekte by meer kinders uitbreek, moet die skool gesluit word, beveel die dokter.

Die volgende middag gaan Juffrou en die Bosmans begrafnis toe.

Meneer wil Ludie liewer nie daarheen neem nie, en die twee ry veld toe. Eers gaan hulle af na die vlei waar die wilgerbome so lokkend groen hang. Ludie ry voor in die voepaadjie. Met 'n wit syhempie en vaal broekie lyk hy tog te oulik en netjies. Sommer vanself het Juffrou die sorg vir sy kleertjies op haar geneem, en sy sê hom ook wanneer die kind iets kortkom wat hy moet koop.

Ewe regop sit die outjie, en sy lede beweeg met atletiese grasie. Dis of die vader elke oomblik trotser op hom word en vanaf die vorige dag met 'n ontsettende, steeds aangroeiende angs aan hom vasklem. Tevore was dit vir hom vanse1fprekend dat hy die kind altyd sou behou, maar nou het die dood so naby gekom dat dit hom met vrees vervul vir wat moontlik is. Die lieflike groen vlei voor hom en die outjie wat so rats met die kronkelings van die voetpad saam beweeg, is 'n prentjie wat hy nie weer sou vergeet nie.

Langs die spruit is daar baie vinkneste in die palmiete, en die twee trek hulle skoene uit om eiertjies uit te haal. Meneer trap tot oor die enkels in die moeras om die neste by te kom; dan sny hy die palmietstinge1 met sy knipmes af en gee dit vir die outjie aan, wat nader aan die wal staan.

"Sal die voëltjies nie huil as ons hul eiertjies vat nie?" vra Ludie.

"Nee wat. Voëltjies huil nie", antwoord sy pa, en dink dat dit seker weer Juffrou is wat die gedagte gewek het. Hy sal moet oppas. Dis waarskynlik deur haar invloed dat die kind so oorgevoelig is. Hy wil hom liewer hard en onverskillig grootmaak. want mense wat gevoelig is, kry te swaar in die lewe.

"Huil tant Hester se henne as sy die eiers uithaal?" vra hy effens spottend terug.

"Ja, maar tant Hester gee vir hulle baie kos daarvoor", antwoord hy ewe raak.

"Ons gee ook die voëltjies kos. Kyk, hulle eet hul trommeldik in oom Ben se koringlande", stry Meneer.

"Oom Ben jaag hulle darem partymaal uit", verdedig die outjie skalks.

So gesels hulle die hele dag. Dis vir Meneer asof hy elke woord moet onthou wat die kind sê, en of hy nie genoeg met hom kan praat nie.

Later lê hulle in die skaduwee van die wilgerbome op die gras en uitrus. Die lug is diep-blou met groot, wit wolke, en hulle lê en kyk hoe die wolke gedurig van vorm verander en stadig inmekaarskuif of weer uitmekaar trek, net soos mense wat kom en gaan.

"Waar is die hemel, pappie?' vra die kind onverwags terwyl hulle oor die wolke gesels.

Meneer skrik. Dis natuurlik Juffrou wat die kind die dinge vertel. En hy durf hom daardie illusies nie nou ontneem nie. Dit prikkel 'n kind se verbeelding op 'n gesonde wyse om hom aan feë en kabouters te laat glo, en as hy sy lewe Jank aan 'n Opperwese en die verhale van die Bybel kan glo, soos Juffrou, sal dit hom seker geen kwaad doen nie. Dis vir haar 'n baie sterk stukrag, iets om aan vas te hou wanneer die aardse dinge wankel.

"Baie ver", antwoord hy egter ontwykend.

"Maar wáár?"

"Iewers in daardie blou lug", probeer hy loskom, maar die kind se oë eis 'n meer bepaalde antwoord, en hy bedink gou een.

"Daar is baie hemels", sê hy. "Ek het jou die ander dag vertel van die sterre, dat hulle baie groter is as die aarde. Nou reken ek party van daardie sterre is hemels."

"En is Kosie nou op een van daardie mooi blink sterre?" wil die kind verder weet.

"Ons dink so."

"Hoe het hy daar gekom?"

"Het Juffrou julle dan nie vertel nie?"

"Nee. pappie:'

Dit sal die kind se vertroue in hom teleurstel, en hom miskien meer bewondering gee vir Juffrou as vir sy pa as hy hom nou na Juffrou toe stuur om 'n antwoord, redeneer hy. Al glo hy dit self nie, hy sal die dinge maar oorvertel soos hy dit self as kind gehoor het, en hy antwoord: "Die engeltjies het hom kom haal".

Die verwondering en blydskap waarmee die kind dit aanhoor, grief die vader, en hy voel dadelik spyt dat hy dit gesê het.

"Sal die engeltjies my ook kom haal as ek doodgaan?" vra hy vol verwagting.

Meneer skrik. Maar die gedagte durf nie posvat nie; nie by hom of die kind nie! Mens durf nie aan die dood dink terwyl jy nog leef nie. Ewe laf begin hy speels die outjie kielie en rondrol en sê: "Sulke springlewendige kêreltjies soos jy gaan nie dood nie."

"Maar ek sál doodgaan. Pappie ook. Juffrou sê al die mense gaan dood, en party gaan voor hulle groot is:'

"Ja, éêndag eers, en ons moet liewers nie nou al daaraan dink nie."

"Hoekom nie?"

"Dis nie mooi nie."

"Hoekom is dit nie mooi nie?'

Die gesprek word nou erg hinderlik vir die vader, en tog kan hy die kind nie botweg stilmaak nie; dis te onopvoedkundig; dit mag gevaarlike komplekse in hom veroorsaak. Hy kan ook aan niks hoegenaamd dink om die kind se gedagtes in 'n ander rigting gestuur te kry nie.

"Hoekom is dit nie mooi nie?" hou Ludie aan.

"Omdat pappie jou nie kan laat weggaan van hom nie", antwoord hy eerlik. "Dit sal te vreeslik alleen wees as my... ou seuntjie.... so.... ver van my af is." Hy kan nie aan Ludie se dood dink soos hy altyd oor die saak gedink het nie. Net soos hy eers nie kon glo dat jy kan voortlewe nadat jou liggaam dood en terug in die grond is nie, kan hy hom dit nou nie voorstel dat 'n wese soos Ludie kan vergaan in die aarde nie. Hy is nie net blote materie in die voortdurende skeppingsproses nie.

"Haai, jy huil!" roep die kind verwonderd en ontsteld, toe hy trane in sy pa se oë sien.

Dis vir die vader asof hy reeds wegsink in daardie donker afgrond van eensaamheid, terwyl die kind opstyg, hoër en hoër.... al verder van hom af, en vir ewig uit sy bereik. Hy wil hom vasklem, maar hy durf nie, uit vrees dat hy sy angs sal oordra.

Hy kan nie praat nie. Tog voel die kind sy stryd en vrees aan, en troos: "Toe maar, pappie, moenie huil nie. As ek doodgaan, sal ek 'n engeltjie word, en gou vir jou kom haal voordat jy kan verlang na my. Ek sal sommer so vinnig kom soos die voëls, en jou vat na Liewe Jesus toe. Dan maak Hy van jou ook 'n engeltjie, en dan kan ons lekker saam vlie net soos ons nou met die fietse ry...."

Jakob het in die nag by die rivier Jabbok die Here as 'n persoon ontmoet en met Hom geworstel. Hermanus Luderitz het op 'n helder somermiddag onder die wilgerbome van Groenvlei die God aan wie hy nooit kón glo nie, hoor praat met die stem van sy kind. In die eenvoudige woorde van sy kind het God hom die heerlike belofte van 'n ewige lewe aangebied.

Wat verder gebeur het, kan nie logies neergeskryf word nie. behalwe dat Hermanus Luderitz daar opgestaan het met die seker wete in sy hart dat daar 'n God is wat Hom wel bemoei met die lewens van mense.

Toe sy pa so snaaks gelyk en stilgebly het, het Ludie met die eiertjies begin speel. Later het hy moeg geword en blommetjies gepluk langs die spruit af, totdat sy pa hom geroep het.

Hulle het by die lande langs gery en groen mielies gepluk vir die aandete. Ben het hulle genooi om te pluk net wanneer hulle wou hê.

Hoewel Ludie baie van groenmielies hou, wil hy die aand nie eet nie. Hy kla ook dat hy hoofpyn het. Sy pa gee hom 'n aspirien toe hy bed toe gaan, en meen dat die warm son en die vermoeienis van die middag die oorsaak daarvan is.

Dié nag maak Ludie hom wakker en vra water om te drink, en hy voel dat die kind gloeiend is van koors.

Ludie sluimer sommer weer weg, maar hyself slaap nie weer nie. Hy sit daar hulpeloos met sy hoof in sy hande in die dowwe lig van die flikkerende kers. Die vinnige asemhaling van die kind is ontstellend hard in die nagstilte. Nou en dan raak hy die gloeiende gesiggie saggies aan, of hy gee hom 'n bietjie water as hy wakker word.

Dis skarlakenkoors. Hy weet dit al. As Kosie daaraan beswyk het, mag dit ook Ludie se lot wees. Maar die ander kinders word al beter. Vier uit elke vyf word gesond, waarom nie ook Ludie nie? Die angs wat hom kwel, mag geen voorgevoel wees nie. Dis sielkundig heeltemal verklaarbaar ná wat so onverwags met Kosie gebeur het.

Hy verwyt hom omdat hy die kind by die siek kinders in die kamer laat speel het; maar niemand het toe vermoed dat die siekte ernstig kon wees nie. Hy sal nou maar moet wag.... wag tot die agste dag om te sien wat gebeur. Die mense se geloof is dat 'n ernstige siekte op die agste dag draai, of....

Die nag gaan verby. Die kersie het uitgebrand in die blaker en is dood. Dit het lig geword: die son het uitgekom en hy sit nog net so op die stoel voor die bed. Van al die dinge weet hy nie. Hy let net op wanneer die kind roer om by te wees met die drinkwater.

Klaas bring vir hom koffie. Hy drink net, maar staan nie op en trek aan nie.

Later hoor hy bekende voetstappe in die gang en kyk op. Dis of hy die hele nag net gesit en wag het vir daardie voetstappe, so verlig voel hy dadelik.

Juffrou steek in die kamerdeur vas. Toe sy by die skool gekom het, en hy en Ludie nie daar was nie, het sy sommer vermoed wat verkeerd is en kom kyk. Sy verslaenheid en die kind wat so stil in die bed lê, së haar dadelik alles.

"Van wanneer af?" vra sy.

Hy vertel haar, ook hoe hulle die middag uitgery het vlei toe, en hoe plesierig hy toe was.

"Snaaks dat hy skielik so ernstig word", meen sy. Sy het nader gekom en lyk dadelik so bekommerd dat sy angs ook sommer weer oploop. Nooit sou sy 'n kamer binnegegaan het waar 'n man in sy slaappak is nie, maar nou sien sy dit nie eens raak nie. Hy is ook nie eens bewus daarvan nie, so bekommerd dink hulle albei net aan die kind

Sou dit miskien wees omdat hy gister met sy kaal voete in die vlei rondgeloop het? Of was die grond miskien klam waarop hulle onder die bome gelê het? Hulle het al dikwels daar in die skaduwee gaan lê en niks oorgekom nie. Maar toe het hy nie koors onder lede gehad nie. Het hulle maar liewer begrafnis toe gegaan dan was dit miskien nie so erg nie. En hy het juis daar weggebly ter wille van die kind. So fluister-praat hy en Juffrou saam, en sy probeer hom gerusstel met die gedagte dat hy onder alle omstandighede so siek sou geword het, want 'n mens kan 'n besluit van God nie ontvlug nie.

"Wat kan God tog daarmee voorhê om my kind siek te maak?" vra hy skynbaar minagtend, en tog beangs. want die ondervinding onder die wilgerbome is soos 'n pyn wat al skerper word.

Juffrou gee hom geen antwoord nie, So swaar word hy beproef dat sy nie nou die hart het om hom seer te maak nie.

"Sal ek die kinders huis toe stuur?" vra sy na 'n rukkie stilte.

"Kinders?"

"Die skoolkinders", verduidelik sy. "Dis al negeuur. Die skool moes lankal begin het,"

Hy het sy werk heeltemal vergeet. Vir hom het die buitewêreld plotseling gaan staan. Al wat nou van belang is, is sy kind.

"O, die skool, natuurlik. Ja, maak maar soos jy beste dink", antwoord hy effens ongeduldig. Hoe kan sy onder sulke omstandighede nog aan die skool dink.

"Ons sal die skool nou vir die bepaalde tydperk moet sluit, soos die dokter gesê het", meen Juffrou.

Hy laat alles net so in haar hande. Hulle kan tog nie van hom verwag dat hy nog aan werk kan dink nie.

"Ek sal Ben vra om die dokter te gaan bel. Hy kan hom sê dat hy sommer die regte middels saambring. Skarlakenkoors is glad nie so gevaarlik as die pasiënt net van die begin af reg behandel word nie", probeer sy hom nou gerusstel. Sy sien dat hy tot die uiterste bekommerd is, en so 'n geestestoestand mag 'n baie nadelige uitwerking op die pasiënt hê.

So moes sy lankal gepraat het. Waarom het sy dit nie dadelik gesê nie! Nou het hy sommer weer moed.

Toe sy uit is, gaan hy hom was en aantrek.

Voor Juffrou die klok lui om die kinders bymekaar te roep en hulle te sê, stuur sy eers die briefie na Ben toe met die versoek dat hy sonder versuim moet gaan.

Net soos die oggend toe die tyding van Kasie se heengaan gekom het, hou sy 'n kort diens, en sy vra al die kinders om tuis baie ernstig en gedurig vir Meneer en vir Ludie se herstel te bid.

Nadat die kinders vort is gaan sy self vir Meneer ete maak in die kombuis. Sy dek die tafel, roep hom uit die kamer en soebat hom om te eet.

Om haar nie te affronteer nie, peusel hy aan die kos. Intussen spons sy die sieke af, trek die bedjie skoon oor, en maak die kamer aan die kant.

Wat vir haar so snaaks is, is dat die kind haar net nou en dan aankyk met oë wat lyk asof hy haar 'n groot geheim wil vertel. As sy hom vra of hy baie sleg voel dan skud hy sy kop; en as sy probeer gesels dan sê hy sy moet stil bly hy wil slaap.

So het die eerste dag van die siekte begin, en die dae het die een soos die ander verby gegaan. Die dokter het gekom, medisyne gebring, en voorgeskryf hoe die pasiënt behandel moes word. Dit het hy aan Juffrou gesê want dit het nie vir hom gelyk asof die vader kon volg wat hy sê nie. Meneer het voor die bed bly sit, vooroor, met sy hoof in sy hande, radeloos. So het al die mense wat na die sieke kom kyk het, hom gekry. Hy het nie eens opgekyk na hulle of dankie gesê nie, en hy is een wat beleefd en vriendelik teenoor elkeen was.

Die besoekers het net in die kamerdeur bly staan. Daar het Juffrou met hulle gefluister-praat, en hulle eetkamer toe geneem waar sy vir hulle koffie gegee het. Dis eintlik of dit Juffrou se huis en háár kind is; dis eintlik of sy en Meneer so saamhoort, want niemand wat daar kom, vind dit vreemd dat sy altyd daar is en alle verantwoordelikheid dra nie. Wat die mense wel verwonder, is haar kalmte; dat sy in die omstandighede soms nog kan glimlag, want hulle weet hoe erg sy oor die kind is. As hulle haar verwagtings en gevoel kon lees, sou hulle nog meer verwonderd gewees het, Hoewel sy die erns van die siekte besef, voel sy nie erg bekommerd nie, vrees sy nie dat die kind sal sterf nie. Sy het die eerste nag van sy siekte met die krag van haar hele wese gebid, en God gesmeek om hom te spaar; en elke maal wanneer sy alleen kom, bid sy nog daarvoor. Sy onthou hoe wonderlik die Here haar gebede vir haar ander vriende, in hul donker dae, verhoor het, en sy glo dat Hy dit weer sal doen. Daarby verskaf dit haar innige genot om die twee mense wat vir haar so dierbaar is, so met algehele oorgawe, nag en dag te dien soos nou.

Saans kom Ben en Hester by die sieke sit tot middernag. Gedurende daardie tyd slaap Juffrou en Meneer 'n bietjie, en middae gaan Juffrou ook rus.

Vir die vader is die een uur soos die ander. Dis of die hele wêreld plotseling stilstaan; of die mense om hom skimme is wat doelloos beweeg; of die geluide wat sy oor bereik daar in die stil kamer van 'n ander oord kom. Hy lewe nie, maar bestaan net tussen hoë mure wat hom afsluit van alles, die verlange dat sy kind moet leef en die angs dat hy sal sterf.

Al wat hy soms aan Juffrou vra is: "Hoeveelste dag is dit nou?"

Eerder as wat hy verwag het, kom die kering. Dis nog maar die aand van die vyfde dag en dit lyk asof die koors gebreek het. Toe Hester en Ben soos gewoonlik daar kom, maak Ludie sy oë oop, sê hulle naand en vra: "Hoe gaan dit?" Hy vra uit na die varkies, hoe groot hulle al is, asof hy lank weg was. Hy wil weet waar hulle sy fiets gebêre het, en hy vra die eiertjies wat hulle in die vlei uitgehaal het om vir tant Hester hulle te wys. Hy pak dit van die een nessie oor na die ander en tel hoeveel daar is, dan gee hy dit vir Hester om te bêre,. Vir Juffrou vra hy kos en sy voer hom. Met groot blydskap kyk Meneer toe hoe hy elke mondvol gretig weg sluk. Verheug sit hulle by hom en gesels. Later lyk hy moeg. Hy sê hulle een vir een by name nag, draai hom om en raak rustig aan die slaap.

"Hy sal nou dwarsdeur die nag slaap want die siekte het hom afgemat", sê Hester.

Goddank, die krisis is verby, dink elkeen.

Hulle gaan in die eetkamer koffie drink, Meneer ook. Daar gesels hulle met verligting asof die herstel nou seker is. Juffrou gaan saam huis toe. Die outjie sal tog nie wakker word gedurende die nag nie.

Meneer voel nou eers hoe afgemat hy is. Nadat hy gebad het, gaan hy ook lê. Hy is darem nie van plan om te slaap nie, en laat die lamp aan die ander kant van die bed brand sodat daar 'n skemerlig in die kamer is, en hy nog kan sien wanneer die outjie miskien roer en iets nodig het.

Ondanks sy voorneme raak hy vas aan die slaap. Teen dagbreek skrik hy plotseling wakker met 'n geweldige onrus. Hy luister, en dit gaan asof die outjie nog rustig slaap. Nou dat hy nie meer so hygend asemhaal nie, is dit vreeslik stil in die kamer. Dit is só stil dat Meneer bang word. Nêrens is 'n geluid nie; dis net sy eie asemhaling wat hy hoor. Maar dit spreek vanself dat dit sal stil wees. Dis nag en behalwe hom is daar niemand in die huis nie. Tog was dit voorheen nie so stil toe hy heeltemal alleen in die huis was nie.

Hy word bang, glip van sy bed af, neem die lamp en gaan kyk na die kind. Hy lê effens op sy sy, nog net soos hy hom die aand omgedraai het, en hy slaap nog rustig.

Meneer gaan terug na sy bed, maar sy angs en onrus neem toe. Nou gaan kniel hy by die bedjie en luister na die asemhaling. Hy luister en luister, maar kan niks hoor nie. Miskien slaap hy so sag omdat hy so swak is. Hy wil hom nie steur nie want hy het die rus nodig.

Hy bly gekniel by die bedjie, en beskou die kind, hoe wondermooi, hoe volmaak die gesiggie gevorm is. Hy is bepaald baie beter wnnt daar is geen trek van pyn meer op nie; hy lyk so rustig en kalm dat die vaderhart vol vreugde word.

Hoe meer hy na hom kyk, hoe mooier die kind vir hom word. Hy sien ook nou die groot vreugde op die gesiggie raak, net soos die dag toe hy die fietsie gekry het.

Sy bewondering neem toe. Ludie is die volmaakste wese wat bestaan, dink hy. Hy sal nie sterf nie, want iets so wonerlik kan nie ophou om te bestaan nie.

So ingenome is hy dat hy die voetstappe in die huis nie eens hoor nie.

Dis Juffrou. Sy het kort voor hom wakker geskrik met dieselfde onrustige gevoel. Haastig het sy haar aangeklee en kom kyk. Dis asof sy alles geweet het net toe sy wakker geskrik het, en op weg het sy haar voorberei vir die ergste. Sy het gedink aan wat sy vir hom sou sê, hoe sy hom sou troos. Maar toe sy in die deur kom, steek sy plotseling vas. Sy het verwag om hom verslae op die rand van die bed te vind, met sy hoof radeloos in sy hande, en sy sien hom op sy knieë. Sy dink dat hy bid, en bly roerloos staan. Sou hy tot inkeer gekom het en God dank vir die herstel van die kind? Maar dis so stil, so angswekkend stil in die huis, en dis al dagbreek.

Die stilte dwing die vader om die kind se polsies te voel, en die aanraking oortuig hom plotseling van die wrede waarheid. Die liggaam is yskoud en styf. Die kind moes die aand al gesterf het toe hy hulle nag gesê en hom omgedraai het. En hulle het dit nie eens geweet nie! Die hele nag het hy geslaap en nie geweet dat sy kind dood is nie! Hulle was bly en verlig omdat hulle gedink het hy gaan lewe. Wreed het God hom vir die gek gehou, en dis asof hy al die duiwels in die hel hoor lag vir hom!

Maar dis onmoontlik. Dit kan nie waar wees nie. Radeloos skud hy die liggaam, en roep die kind. Luid galm sy stem deur die stilte.

Toe daar geen antwoord kom nie, steek hy sy hande omhoog en roep: "God, kom kyk, my kind is dood!.... Dis U!.... U alleen kan lewe en dood gee.... Gee hom.... hom terug aan my! Dis al wat ek ooit op hierdie aarde besit het wat die moeite werd was om te hê, en nou skeur U dit van my. Waarvoor moet ek nou lewe? Vat my ook. Maak 'n einde aan my. O God, dis al wat U nog vir my kan doen, dis al wat U nog van my kan neem. Vat dit.... Vat dit. Die armsalige lewe wat U my gegee het, beteken nou niks meer vir my nie. Waarvoor het ek eintlik gelewe? Wat het ek hier gedoen? Wat sal ek nalaat? - Niks!.... Niks!.... Niks! Alles was so doelloos. Alles is 'n chaos. En so het ek by die einde gekom, die diep, donker afgrond waar alles eindig...."

"Nee, Meneer. Dis nie die einde vir jou nie. Dis die begin", sê 'n koel, besliste stem agter hom.

Hy kyk op.

Dis Juffrou.

"Hy is dood. My kind is dood!" roep hy smartvol uit, en sak gebroke vooroor op die bedjie met sy hoof op sy hande.

Eindelik het God hom op sy knieë gekry en deur sy ongeloof gebreek. Eindelik erken hy dat God Hom wel bemoei met die mense, is Juffrou se eerste gedagtes. Meer as twintig jaar het sy gebid daarvoor, en nou dat hierdie groot lewensgebed van haar verhoor is, vul dit haar met skrik en smart, gee dit haar geen vreugde nie,. "Ek het dit nie só bedoel nie, O Here, nie só nie", snik dit in haar asof sy die oorsaak is van al sy smarte. Tog het sy altyd gebid: "Op u eie wyse en tyd", en sy onthou dit ook nou. Hoe dikwels het sy nie die vreugde van gebedsverhoring gesmaak nie, en nou moet sy die pyn ervaar. Tevergeefs het sy vir die lewe van die kind gebid omdat die versoek in stryd was met haar vorige wense. God weet altyd die beste, en as dit die enigste manier was waarop Hy die ongeloof kon breek, dan moet hulle nou die smarte daarvan dra.

Sy sak op haar knieë langs hom en bid. Haar stem bewe van pyn en ontroering; tog is daar 'n helder, oortuigende klank in, wat dit soos musiek deur die stil huis laat gaan.

Haar woorde is 'n getuigenis van haar gebede van twintig jaar lank. Sy praat met die Here soos met iemand wat sy baie goed ken, met wie sy baie noue omgang gehad het. Sy vertel Hom hoe sy nou al twintig jaar lank bid vir die gawe van geloof vir hierdie man, en nou dat hy God eindelik sien en erken, moet die Here tog nie by hom verbygaan nie. Nou moet die Here hom ontferm en genade skenk, en die groot leegheid wat in sy lewe ontstaan het, vul met die volheid van die liefde en vreugde wat ewig is, en die mens nie weer soos die dinge van die wêreld ontneem kan word nie. Sy wys daarop hoe sy vir haar ander vriende gebid het toe hulle in groot nood was, en hoe die Here haar gebed verhoor het en hulle berusting, vrede en geluk gegee het. Nou vra sy dit weer vir hierdie man, vir wie God so hard moes slaan om hom te wek.

Uiteindelik is sy klaar. Sy hoor hom opstaan, en staan ook op.

"Trek jou aan dan gaan ons liewer anderkant toe", sê sy, en wag vir hom buite.

Toe hulle aanstap, kom die son net op. Dis 'n groot, rooi, bol vuur wat stadig uitstyg bo die lower van die mielielande. Dit verander die grysheid van die nag in eindelose vertes van blou, en kleur die wolke met die sagte tinte van lenteblomme.

By die hekkie van die Bosmans sê hy haar dat hy liewer 'n entjie wil gaan loop.

Hulle sien hom afstap na die vlei toe. Onder die wilgerboom waar hy en Ludie die middag gesels het gaan hy sit.