Die liefde is lankmoedig/Hoofstuk III

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Hoofstuk II Die liefde is lankmoedig
Hoofstuk III
deur T. C. Pienaar
Hoofstuk IV


III.

Die onrus wat die aand in die hart van elkeen gekom het, was soos 'n saadjie wat in vrugbare aarde geval het; dit het op die bepaalde tyd ontkiem, gegroei....

Ben is een wat geen kommer duld nie. Bedags werk hy en snags slaap hy, en so wil hy lewe. Die dinge soos droogte en skades wat hom soms gekwel het, het hy met 'n vaste wil verdruk en vernietig. Sy ma se toestand sou hom nou ook nie snags laat lê en omrol het nie, was daar maar net 'n gunstige testament. Nou is dit die twyfel, die spanning of sy weer gaan regkom. Was daar finaliteit dan sou hy hom onderwerp het. Daarby neul Hester gedurig dat hulle 'n dokter moet laat kom, maar hy weet dat dokters niks aan beroerte kan doen nie. Hy kén beroerte. Sy Oupa is in daardie selfde huis aan beroerte dood. Hy was 'n tyd lank lam in die een kant van sy lyf en is toe heen sonder dat hy reggekom het. Maar hulle het ook gehoor van mense wat weer vanself herstel en jare daarna geleef het. Dis net 'n kwessie van tyd om te sien wat gaan gebeur, en dit sal net verspilling van geld wees om 'n dokter te laat kom.

Omdat Ben nou teen 'n toestand bots waaroor hy geen beheer kan uitoefen nie, 'n kwelling wat hy nie kan afskud nie, wreek hy hom op die dinge en mense wat in sy bereik is, ook op homself. Hy wil hom waarlik doodwerk. Soggens vroeg is hy uit, en dan word Hester en die werkvolk wild en wakker geraas en gevloek. In hierdie dae vloek hy met heimlike bevrediging uit die weer en die hemel sodat Juffrou soms verbleek en Hester oorbluf raak. Dis oestyd, en sonop moet die volk op die land wees. Self is hy op die land en van vroeg tot skemer dryf hy die osse terwyl hulle vrag na vrag koppe van die lande na die dorsvloer ry. As die moeë osse durf bly staan in die los grond van die lande word hulle met die dubbele sweep geslaan totdat hulle bulk en kniel. Die touleier word geskop dat hy trek en die Kaffer wat sy mond durf oopmaak, kry 'n klap dat hy neerslaan. Wanneer 'n oesmeid gaan sit om haar kindjie te voed, word hy so kwaad dat hy die ander dubbel so hard aanjaag, want teenoor so 'n meid is hy magteloos.

Daagliks groei die groot wit hope op die dorsvloer aan soos hy vrag na vrag daar aflaai. en as hy dit so sien dan gee dit hom nie die genoeë van ander jare nie. Hy dink dan vol verbittering daaraan dat die helfte miskien nie eens na hom toe sal kom nie. Moet iemand wat geen vinger daarvoor verroer het nie, die helft daarvan erf? Hy moes lankal 'n ooreenkoms gemaak het met sy ma sodat hy jaarliks aparte vergoeding vir sy arbeid gekry het, dan was hy seker dat hy vir homself werk en van wat hy gaan behou. Nou is alles hare, alles op háár naam. Met hierdie oes se geld moet die lening gedelg word vir die omheining van die binnekampe en windpomp, en die dinge is op haar naam gekoop want die plaas wat moes dien as borg is háre. Toe het hy gedink dat dit nie saak maak nie, dat hy tog alles eendag sou erf. Nou is dit te laat om reëlings te maak. As sy net weer regkom....

Met die voorbereiding vir die dorsery raak Ben eers erg opgewonde. Daar moet steenkool gehaal word om die enjin te stook; hy moet kanne gaan leen om water aan te ry; die vark en bees wat jaarliks nodig is vir vet en biltong moet voor die dorsdae geslag word sodat die oormaat beenvleis wat nie lank bewaar kan word nie, dan verbruik kan word. Die dorsmasjien is intussen by hom verby na veraf plase omdat hy nie betyds klaar was nie, en nou moet hy dit 'n paar uur te perd ver gaan haal met maer osse wat afgewerk is. Daarby is dit 'n sanderige pad en 'n vlei deur die rivier waar die masjien elke jaar bly staan! Dis of al die dinge saampak net om Ben se drif al hoër te laat laai en die vuur aan te blaas wat hom van binne verteer. Hy voel asof al die dinge op één dag gedoen moet word, en asof hy, Ben, dit alles alleen moet doen.

Dat Hester al die dae van soggens vroeg tot saans laat op haar bene bly in die kombuis is iets wat vir hom so vanselfsprekend is dat hy dit nie raaksien nie. In die dae is sy vir hom net so 'n masjien soos die werkvolk wat op sy wil en wense moet reageer. Dan waag sy dit nie om haar mond oop te maak nie, want sy ken hom.

Die dag wanneer dit gedors word, is gewoonlik die tyd dat Ben tot bedaring kom. Wanneer die masjien egalig begin dreun en hy sak na sak vol graan wegsleep van die stortbak, totdat hy die rye in honderde kan tel, kom die rus terug in sy gemoed. Dan raak hy bewus daarvan dat Hester 'n goeie en rats vrou is, en hy kyk haar aan met welbehae as sy vir hom koffie gee waar hy daar by die stortende graan staan, en hulle saam kyk hoe die sakke graan ry na ry aangroei. Dáárvoor het hulle twee saam die hele jaar geswoeg; dis die vrug van hulle arbeid. Maar hulle weet ook dat dit weer moet teruggaan in die plaas, om dit op te bou vir hul ou dag en nageslag. Hester verwag niks van die oes vir haar persoonlik of vir huislike geriewe nie. Wat die plaas oplewer, is nodig om die boerdery op te bou en te verbeter; dit behoort nie aan haar en die huis nie. Dit hoort so. Sy is daar tevrede mee want sy is 'n kind van die plaas.

Wanneer Ben haar die lee koppie teruggee, hou hy gewoonlik sy hand onder die stroom stortende pitte en vang 'n handvol op vir haar om na te kyk. Dan se hy: "Mooi, nè", en sy staan lank daar by hom.

Maar hierdie jaar is daar nie die genot van vroeër wanneer hulle so saam is nie. Hulle staan wel lank na die stroom graan en kyk maar Ben steek nie sy hand voor om die pitte op te vang nie. Hy dink daaraan hoe hy ploegtyd geswoeg het, hoe hy homself geen uurtjie rus gegun het middae nie, en aan al die kommer wat hy tydens die droogte deurgemaak het. Nou moet die volle helfte gaan na een wat nag nooit 'n strooi daarvoor gebreek het, of 'n slapelose nag gehad het nie.

Hester staan en dink hoe sy jaar na jaar pal staan in die kombuis om te sorg vir die wat ploeg en oes, en hoe sy nie een maal 'n enkele sak mielies gekry het om vir haar 'n tafel mee te koop nie; hoe sy in die ure wat sy behoort te rus haar afswoeg aan naaldwerk waarmee sy die geldjies verdien om vir haar en die kinders iets te koop. Nooit het sy beswaar daarteen gevoel nie, maar nou.... Dit sal skreiend onregverdig wees as sy wat 'n kas vol rokke en alles van die duurste het die helfte, of 'n ietsie van daardie oes moet kry.

Die ergste is dat Esme self nie daarop reken nie. Volgens haar gaan sy skatte uit haar pa se boedel erf sodra sy mondig is. Dat haar pa 'n insolvente boedel het, wil sy nie glo nie, daarvan sal die prokureur haar moet oortuig wanneer hy die saak afhandel. Dat die erfenis waarvan haar pa gepraat het waarskynlik die van sy ouers was, weet sy nie; hulle wil dit ook nie onder haar aandag bring nie. Diederik moes onder die indruk gewees het dat sy ma al dood is en dat sy erfenis net wag vir Esme om te neem wanneer sy mondig word.

Hester is dankbaar dat dit gedurende die woelige tyd vakansie is, want Juffrou help haar elke jaar verbasend baie en dan is die twee kinders ook tuis om iets te doen. Hierdie jaar is sy veral dankbaar omdat Juffrou 'n wakende oog hou oor die ou vrou. Elke môre moet sy gewas en soos 'n babetjie versorg word. Sy wil geen mondvol kos uit 'n ander hand as Juffrou s'n eet nie. Met oë wat afgryslik is van sielefoltering en pyn kyk sy die aan wat in die kamer kom. Al kan sy nie praat nie, dis of hulle voel wat sy dink. Nou eers kan hulle die verterende gif in haar lewe raaksien - die verskriklike vrees waarin sy leef.

Veral Juffrou, wat die natuurlike gawe besit om te kan verstaan wat ander voel, al is dit gevoelens wat sy self nog nie ervaar het nie, vind die marteling van die ou mens verskriklik. Dit moes nie maklik vir haar gewees het om so lank onder die bedreiging van die vrees dat haar misdaad ontdek sal word, te lewe nie, om altyd die Kainsmerk te voel brand nie. Dis daardie vrees wat haar laat vlug, haar afgesonder het van haar medemens. Hulle begryp nou eers waarom sy so in haarself gekeer lewe en waarom haar hart so koud en hard is. Mense wat in hulself lewe, verleer om hul materiële en geestelike gawes met ander te deel, so word hulle noodwendig inhalig en skraapsugtig ten opsigte van alles. En die wat nie gee nie, ontvang ook nie. Dis daarom dat niemand haar kan liefhê of opreg jammer kan voel oor haar smart nie. Hulle vrees haar net. Selfs nou dat sy nie kan praat nie is hulle bang vir haar gedagtes, wat soos 'n giftige lug die hele huis ingeneem het en dit benouend maak. Waar haar kinders eers net haar wil, toom en oordeel gevrees het, is hulle nou ook vervul met angs vir haar dood, dat sy sal sterf eer die loon vir hulle verdraagsaamheid en opoffering verseker is.

Deur haar magteloosheid groei die vrees in die ou vrou ook sterker aan. Waar dit eers 'n onderdrukte invloed in haar lewe was, het dit nou onbeheers losgebreek en 'n dubbele angs geword. Sy vermoed dat Ben alles van Diederik gehoor het, wat daar tussen haar en haar oorlede man plaasgevind het en dat hy nou vergelding sal soek vir haar misdaad. Sy takseer haar kinders volgens haar eie

inhalige hart, en sy vrees dat hulle haar om die lewe sal bring, sal vergewe omdat sy nou magteloos en 'n las is, omdat haar dood, sover sy kan redeneer, net in hul voordeel sal wees. Soos elke mens vrees sy die dood bo alles; sy vrees dit in die ergste graad omdat haar lewe net in die tydelike gekonsentreer is, want al wat oorgebly het van die tradisionele geloof wat sy van die voorgeslag geerf het, is haar vrees vir 'n vergeldende God.

"God alleen weet wat in haar gedagtes omgaan", se Juffrou dikwels met 'n vermengde gevoel van afsku en bejammering agteraf aan Hester, wanneer ou tant Bet hulle met soveel foltering, angs, haat en magteloosheid aangekyk het. Dan oormeester die slaafse gevoel in Hester weer al haar verset en sy dink dat sy tog maar Hewer niks sal doen wat die ou vrou sal grief nie - al lê sy daar in die kamer en weet van niks nie.

Die dorsery duur twee en 'n half dae, en nadat dit alles afgeloop is, gaan Ben die middag in die kamer om, soos altyd, sy ma van alles te vertel. Sy klere en gesig en selfs sy winkbroue is vaal van die stof wat met so 'n werkery oor die dorsvloer hang. Nou dat die spanning verby is, besef hy eers hoe moeg hy is; 'n mens kan die vermoeidheid selfs op 'n afstand aan die tam houding van sy anders wakker voorkome raaksien.

Met 'n koppie koffie, wat Hester vir hom met sy binnekom gereed gehou het, in die hand, gaan staan hy by die voetenent van sy ma se bed. Hy het tot dusver nog niks met haar gepraat oor Diederik se dood of die testament nie. Die oë waarmee sy hom elke maal aangekyk het, wanneer hy wou, het hom steeds laat swyg. Hester en Juffrou het hom ook vermaan om die kamer liewer te vermy; dit sou genadiger wees vir die sieke se gemoedsrus. Nou dink hy sal dit haar miskien goed doen as hy soos elke jaar verslag gee van die oes. Sy het altyd 'n groot belangstelling in die boerdery getoon, haarself beskou as die hoof en besitster van alles, ook van Ben en Hester. "Julie is myne met al wat julle het", het sy hulle dikwels hardvogtig verwyt, en Ben voel gedwonge om haar nog, en veral nou, as sodanig te behandel. Maar hy doen dit vandag nie meer met die kinderlike vertroue en bereidwilligheid van vroeër nie. Hy doen dit met 'n wrok en bybedoeling - die mening dat dit sal help om haar so te herstel dat sy 'n testament sal kan teken.

"Dis klaar gedors, ma", sê hy op dieselfde onderdanige toon van altyd.

Dis of hy haar soes elke jaar hoor vra: "Hoeveel?" en hy voeg by "Veertienhonderd-vyf-en-sestig".

Dadelik merk hy die wrewel en ontevredenheid op haar gesig.

"Dis byna hondera sakke meer as verlede jaar", verdedig hy. Maar hy weet wat sy dink, waarom sy ontevrede voel. Die delwers wat met die grootpad oor die plaas ry, steel jaar vir jaar baie groenmielies uit die lande; veral die volk wat op die omliggende delwerye werk, dra baie koppe snags weg. Hulle vind dikwels spore in die lande en mieliekoppe wat die diewe verloor het, in die veld, Nou dink sy ma dat hulle miskien die mooi, ronde getal van vyftienhonderd kon behaal het as die diewe nie so baie weggedra het nie. Hy spreek die gedagte uit en sien dat sy saamstem en tevredenheid kry as hy dit sê.

"Ma sal darem maklik die lening vir die windpomp en omheining kan afbetaal vanjaar. En ek dink as dit goed gaan, moet ons volgende jaar 'n draad span langs die grootpad af, sodat hulle nie meer so baie kan steel nie", probeer hy soos altyd gesels.

Hy kan sien dat sy goedkeur wat hy se, en hy voel dat hy veld win in haar vertroue. Hy moes toe verder stilgebly en uitgegaan het, maar die ontevredenheid en vrees wat hom al weke lank kwel, dwing hom om verder te praat.

"Ons sal daarvoor weer 'n lening moet opneem", gaan hy voort. "Maar voor ek enige verdere verbeterings op hierdie plaas gaan aanbring, wil ek darem eers sekerheid he dat dit eendag myne en myne alleen sal wees. 'n Mens wil jou darem nie doodwerk vir ander nie, veral nie vir rondlopers en leegleêrs nie." Sonder dat hy hom kan bedwing, barrel die gevoelens waarvan hy so vol was oor. "Dis hoog tyd dat ek weet waarvoor ek jaar na jaar swoeg, dat ek weet wat myne en wat ma s'n is, dat ek met my goed kan maak soos ek wil", gaan hy opgewonde voort.

Soos hulle gewoond geraak het vanaf haar siekte, hou hy die uitdrukking op haar gesig noukeurig dop terwyl hy praat en hy sien hoe haar oë begin vlam van verontwaardiging. Dis of hy haar op die ou bitsige toon kan hoor skree: "Jy is myne met al wat jy het, en ék is die baas op hierdie plaas!" Dit jaag hom nou in groter opstand, in ope verset teen haar oorheersing, nou dat die loon van sy vlyt bedreig word, en hy sê al hoe meer. In sy opgewondenheid dink hy nie meer aan haar toestand nie; hy sien haar magtelose worsteling nie raak nie.

"Dis omdat hy nou alles van my weet, omdat Diederik hom alles vertel het, dat hy so astrant word en my dreig, my goed wil eien eer ek dood is", dink sy ma, want sy verstaan nie dat sy erfreg bedreig word en ook hy uit vrees handel nie. Sy meen dat hy so tekere gaan uit loutere hebsug omdat hy sien dat die oes elke jaar grater wond en onbeskaamd haar dood nie kan afwag om alleen baas te speel nie. Net so skaamteloos maak hy misbruik van haar onmag: vroeër sou hy dit nooit gewaag het om so met haar te praat nie. Dat Ben ook reg het op iets kan sy nie insien nie. As hy só begin, is dit klaar met haar. Maar God sal hom daarvoor straf. Die Bybel sê 'n mens moet jou ouer eer; die wat dit nie doen nie kry hulle loon! Sy sal hom wys! Solank as wat daar nog 'n sprankie lewe in haar is, sal hy geen stuiwer kry nie. En sy sal nie gou doodgaan nie. Sy sál nie - tensy hulle haar vergewe!

Sy word so beangs en woedend dat sy wil opspring, iets gryp en hom oor die kop slaan, maar haar liggaam is soos 'n swaar stuk lood wat haar vashou om te brand in die vuur van haar eie toorn. Dis of die vuurvlamme uit haar oe skiet; haar kakebeen begin roer en skuim kom uit haar mond.

Verskrik besef Ben wat by aangerig het toe dit te laat is. Hy hardloop uit en roep na Juffrou.

"Juffrou!.... Asseblief!.... Gou .... Ma!" skree hy verward.

Juffrou het in die kombuis voor die stoof gestaan en dit verwag toe sy hom die kamer sien ingaan het. Nie verniet het die danker wolke al vir weke oar die huis saamgepak nie. Sy kan ook die ou vrou se reaksie verstaan.

"Toe maar! Toe maar, tant Bet", paai sy gou. "Ben weet nie wat hy praat nie. Tant Bet moet vir tante nie aan hom steur nie. Hy is sommer net baie moeg vanmiddag .... die dorsery met al die werk. Môre het hy alles vergeet. Môre is alles weer reg. Tant Bet ken hom, hy sal anders nooit durf teëpraat nie. Hy is te bang vir tante...."

Met al sulke onsin paai sy die ou tante geleidelik. Sy streel die ou voorkop totdat die oë eindelik tot bedaring kom, en die onwillige ooglede die aakligheid daarvan bedek.

Lank hou sy aan met praat en praat, van die dorsery, van die mense wat daarmee gehelp het, wat die een gesê en die ander gedoen het. Sy vertel wat die bure se oeste was; wat die prys van mielies is. So praat sy van al die dinge waarin die ou siel belang stel. Sy praat van die dinge op só 'n wêreldse manier dat sy naar word vir haarself. Maar dis die enigste manier waarop sy die pasiënt se gedagtes kan weglei van die gevaarpunt, haar vrees vir die dinge wat haar bedreig.

Eindelik kom sy uit die kamer uit. Ben en Hester wag angsvol op haar.

"Dis gelukkig nie weer 'n beroerte-aanval nie", se sy bedaard. "Sy het gou reggekom. Ek sal haar netnou weer gaan voer."

Ben vat die melkemmers met 'n sug en gaan kraal toe. Hy het net op die uitslag gewag om te gaan. Vir die oomblik voel hy verlig, maar dis ook al. Só sal dit altyd wees, dink hy wanhopig. Soos in die verlede sal hy nooit sy mond durf oopmaak nie, want praat hy nou verhaas hy net die einde wat hy vrees, en praat hy nie is dit om 't ewe. Wat hy ook al doen, hy het geen kans nie. Maar hy sal dit waaragtig nie so laat bly nie. Hy sál iets doen; hy sweer dit. As hy nie sy volle erfdeel gaan kry nie dan moet hulle nie weer vir hom se dat daar 'n regverdige God in die hemel is nie!